Deur die tonnel van twyfel: Waarom Kombuis hom nie as Christen beskou nie

  • 7

Links: Deur die tonnel van twyfel deur Koos Kombuis (Uitgewer: Naledi, 2023) Regs: Koos Kombuis in sy LitNet-videoreeks waar hy nuwe boeke resenseer (skermgreep: YouTube)

Titel: Deur die tonnel van twyfel
Uitgewer: Naledi

ISBN: 9781991256393

In sy jongste boek Deur die tonnel van twyfel neem Koos Kombuis die leser op ’n reis deur sy geloofslewe. Daar was ’n tyd dat hy vir ’n ruk lank baie kwaad vir die NG Kerk was oor wat hy beskou het as ’n verraad van hulle kant af.
Dit het verander. In plaas daarvan om woede te voel, het hy geleer om daardie periode van sy lewe te aanvaar as deel van sy geskiedenis.
In ’n openhartige onderhoud met Jean Oosthuizen vertel Koos Kombuis ook waarom hy nooit weer sy voet in ’n charismatiese kerk sal sit nie en hoekom hy homself nie as ’n Christen beskou nie.

In Deur die tonnel van twyfel besin jy oor jou geloof. Dit is soort van ’n joernaal van jou geloofsreis waar jy vandaan kom en waar jy nou is ten opsigte van jou geloof. Wat het jou gemotiveer om spesifiek hierdie boek te skryf?

Ek wou vir jare lank nie na die fliek Johnny is nie dood nie kyk nie, want ek was bang dit bring slegte assosiasies terug van my tyd in die dwelmkultuur. Toe, een aand alleen in ’n hotelkamer, wys dit op die TV. Ek was vasgenael en het dit enduit gekyk. Dit het my laat besef dat Afrikaanse mense vandag, veral die wat deur die Voëlvry-mallemeule gegaan het, in ’n geestelike vakuum leef; rigtingloos en sonder morele kompas.

Op wie is die boek gerig en wat hoop jy om daarmee te bereik? Wie beskou jy as jou lesersmark wat hierdie boek betref?

Aanvanklik wou ek slegs ’n boek skryf vir die “alternatiewes” van my eie generasie. Ek het vinnig besef dat talle jonger mense, dalk selfs die meeste jong mense, hierdie dilemma deel. Ons is die sogenaamde “post-kerk-generasie”. Ons het die luukse van geloofsekerheid verloor en ons kan nie teruggaan na ’n tyd van onskuld nie. Vir ons het die ou gode gesterf en daar is niks nuuts om hul plek in te neem nie.

Jy skryf in jou boek jy het nooit die kerk verlaat nie. Niemand wat jy ken, het die kerk verlaat nie. “Die kerk het ons verlaat.” Wat bedoel jy daarmee?

Vir ons is die tradisionele kerke en hulle krisisse ’n geslote boek. Die NG-dominees praat met mekaar en voer gesprekke in die sinode wat geen relevansie het tot die vraagstukke waarmee ons worstel of tot die dringende probleme van ons land en van die wêreld as geheel nie. Hulle is as’t ware op ’n ander planeet.

Soos baie van ons lê jou geloofswortels in die NG Kerk. En net soos vir baie van ons geslag was dit op ’n stadium ons almal se identiteit. Jy skryf dit beliggaam ’n denkwyse en ’n reeks metafore wat so diep in jou ingebed is dat jy dit nooit kan of wil vergeet nie. Tog het jy dit ontgroei. Ervaar jy dit vandag as ’n verlies of ’n bevryding dat jy die NG Kerk ontgroei het?

Aanvanklik was ek baie kwaad vir die kerk omdat hulle hulself uit ons leefwêreld verplaas het. Met verloop van tyd het ek besef dat die proses waarskynlik nie omkeerbaar is nie en dat ek moet probeer vrede maak met die feit dat my weë van die kerk se weë geskei het. Ek het besef dat dit ’n kruispad verteenwoordig in die evolusie van Afrikanerdenke. In die ou tyd, dekades gelede, was die kerk – of hulle boodskap waar was of te not – soos ’n baken en ’n lig voor in die wapad. Daar was ’n spits kerktoring in die middel van elke plattelandse dorp. Gesinne het huisgodsdiens gehou. Nagmaal op die dorp was ’n massa-saamtrek vanuit die hele omgewing. Natuurlik is dit hartseer dat daardie tye verby is. Maar ons kan nie teruggaan soontoe nie. Die nuwe realiteit vereis dat ons ons waardes elders soek.

........
In die breë dink ek dat tradisionele godsdiens met al sy hiërargieë en simboliek in ’n doodloopstraat is. Die moderne mens vind nie meer antwoorde binne daardie konteks nie.
........

Hoe sien jy die toekoms van die NG Kerk en die ander tradisionele Afrikaanse kerke in die nuwe Suid-Afrika? Veral gegewe hulle binnegevegte oor goed soos seksuele oriëntasie, seks voor die huwelik, saamwoon, die gesag van die Bybel en ’n hele rits ander goed. Dit voel vir my so vêr verwyderd van die werklikheid waarin ons leef. Ek wonder of jong mense hoegenaamd aanklank kan vind daarby? Is daar nog plek vir die soort godsdiens in ’n moderne samelewing wat al hoe meer sekulêr neig?

Ek het nog enkele vriende vir wie die kerk en Christenskap nog sinvol is. Ek veroordeel hulle nie. ’n Boom word aan sy vrugte geken. Maar in die breë dink ek dat tradisionele godsdiens met al sy hiërargieë en simboliek in ’n doodloopstraat is. Die moderne mens vind nie meer antwoorde binne daardie konteks nie.

Daar is egter vir jou iets ergers as die NG Kerk en dit is die charismatiese kerke. Waarom het jy so hekel aan charismatiese kerke en wat is die grootste skade wat hulle volgens jou aanrig?

As die tradisionele kerke hulself in ’n doodloopstraat bevind, is die charismatiese beweging op selfs ’n gevaarliker plek. Die doodloopstraat van die kerk is ten minste ’n grondpad met goeie herinneringe – enigiemand wat Dana se geloofsreis gevolg het, sal nie anders kan as om dit met ’n tikkie deernis te bejeën nie!

In teenstelling met die grondpad wat doodloop, ervaar ek egter die charismatiese beweging as ’n besige snelweg met baie lane. Dis ’n “highway to hell”, om Chris Rea buite konteks aan te haal! Hier het ons ’n industrie wat geweldig vinnig groei en alle kommensens-menslike waardes verswelg. Hulle het die kruis van Jesus in ’n plus-teken verander en is geweldig gerig op winsbejag. Die smal weg van die kerk lei weliswaar deesdae nêrens heen nie, maar die breë weg van TV-godsdiens is ’n monster wat dreig om talle mense se lewens te verwoes.

Ek is bewus daarvan dat mens seker nie alle charismatiese groepe oor dieselfde kam moet skeer nie, maar dis my persoonlike gevoel en ek voel sterk daaroor. Ek sal nooit weer my voet in daardie sirkus sit nie.

 

Redelik vroeg in jou boek skryf jy baie in die trant van die Duitse filosoof Nietzsche oor die dood van God. Jy skryf “vir ons is die gode inderdaad dood; ons het hulle doodgemaak, en ons sal nooit weer ons Kinderbybels kan oopmaak en troos daar vind nie. Selfs die van ons wat op ’n stadium geloofsekerheid gehad het, as jong kinders, of die wat jeugdige bekeringservarings in ons tienerjare ervaar het, is al lankal by die punt verby waar ons daardie ervarings kan versoen met ons volwasse verstand”. Vir Nietzsche was die dood van God ’n noodsaaklike stap in die proses van menslike ontwikkeling. Wat beteken dit vir jou?

Nietzsche was natuurlik ’n klein bietjie mal, maar hy het sy vinger op die pols van ’n tydsgees gehad en hy het die dilemmas van die moderne wêreld ervaar nog voor dit gebore is. Ek dink Thus Spoke Zarathustra het vir die wysbegeerte gedoen wat Allen Ginsberg se “Howl” vir poësie en vir Amerikaanse kultuur gedoen het. Dalk verstaan ek Nietzsche verkeerd, maar ek dink sy skrywes oor ’n gestorwe God was tegelyk ’n kreet van pyn as ’n delirium van nuutgevonde vryheid.

........
Dalk verstaan ek Nietzsche verkeerd, maar ek dink sy skrywes oor ’n gestorwe God was tegelyk ’n kreet van pyn as ’n delirium van nuutgevonde vryheid.
........

Die I Ching (of The book of changes) fassineer jou geweldig. Jy raadpleeg dit gereeld soggens om jou op die dag se gebeure voor te berei. Waar kom hierdie fassinasie met die I Ching of Oosterse godsdiens vandaan?

Die I Ching is nie in wese ’n godsdienstige teks nie, maar ’n teks wat baie praktiese raad bied. Dis so tydloos soos die boek van Spreuke in die Bybel en net so “down to earth”.

Is dit nie maar net nog ’n bygeloof nie en is enige geloof in die bonatuurlike nie in elk geval maar net bygeloof nie?

My studie van die I Ching is nie deel van my geloof nie en ek raai mense ten sterkste af om hierdie boek as ’n alternatief vir geloof of selfs ’n alternatief vir gesonde verstand of vrye wil te sien. Dit is wel ’n wonderlike hulpmiddel vir iemand wat praktiese insigte soek en lewensstrategieë wil uitwerk om hul daaglikse roetines meer sinvol te bedryf.

Sakkie Spangenberg het ’n baie interessante lesersindruk vir LitNet geskryf oor jou boek. Hy het ’n hele paar vrae aan jou gerig wat ek jou ook graag sal wil vra. Ek is seker LitNet se lesers ook. Hy skryf onder andere dit is vir hom duidelik dat jy jouself nog as ’n Christen-gelowige beleef, al woon jy nie kerklike eredienste by nie en al onderskryf jy nie meer die tradisionele kerklike leerstellings nie. Dit is nie vir my so duidelik nie. Trouens, ek kry nêrens in jou boek die indruk dat jy jouself nog as ’n Christen-gelowige beskou nie. Beskou jy jouself nog as ’n Christen-gelowige?

Dit mag paradoksaal klink, maar ten spyte van die feit dat ek as tiener ’n kragtige bekering of “Jesus-ervaring” gehad het, en later in my lewe hierdie ervaring ondersoek het en weer myne gemaak het tot so ’n mate dat ek weer leer bid het soos ’n kind, beskou ek myself nie as ’n Christen nie. Ek het baie meer gemeen met ateïste as met Christene. Mens kan amper sê ek is ’n “ateïs-+”! (Iets soos die Vryheidsfront Plus.) Ek is ’n ateïs wat verras is en onkant gevang is deur die skielike besef dat ek tog nie alleen in die heelal is nie en dat daar wel, teen alle verwagtinge in, ’n lig voor in die tonnel is.

Hoe sal jy dan jou geloof beskryf aan die einde van daardie tonnel waardeur jy gereis het?

Ek is deur die laaste deel van die tonnel terwyl ek geskryf het aan hierdie boek. In die openingshoofstukke was ek nog ’n ateïs. Iewers in die loop van my gedagtegang het iets wonderliks met my gebeur. Ek weet ek is nie ’n ateïs nie, maar as jy my vra wie of wat God is, het ek nie ’n clue nie. Al wat ek weet, is dat ek geweldig baie tyd gemors het in my lewe op allerhande onsin, dat ek onnodig kak gesoek het met te veel mense en dat ek gans te veel skuilname gehad het! Wel, liewer laat as nooit...

Sakkie vra ’n belangrike vraag in sy indrukke oor jou boek. Hy sê dit is onduidelik wie hierdie God is van wie jy praat. Vir seker nie meer die Drie-eenheid nie, want dan sou jy Hom so benaam het. Ek stem nogal saam met Sakkie wanneer hy sê om deesdae net van God te praat asof almal weet na wie mens verwys, is ’n probleem in ons multikulturele samelewing. Is dit nou byvoorbeeld die Christelike God, die God van die Judaïsme of die God van Islam? Volgens Sakkie is dit jammer dat jy nie hieroor besin het nie. Ek dink tog jy het wel daaroor besin, maar ek wonder self ook wat beteken die woord “God” vir jou?

Ek is nie slim genoeg om al Sakkie se vrae te beantwoord nie. Sorry, Sakkie! Maar ek sal in een sinnetjie probeer opsom hoe ek voel: Van nou af wil ek net ek wees, nie ’n Christen of ’n Moslem of ’n ateïs nie, net ’n mens weerloos en sonder maskers, deel van die groot en onverstaanbare kosmos.

Laaste vragie! En die dood? Wat beteken die dood vir jou? Dink jy daar lê iets anderkant die dood of is dit die einde van ons reis?

Die lewe is vir my belangriker as die dood, ek hoop nie dit eindig ooit nie. Net soos ek hoop Springbok-rugby eindig nooit nie! Alle grappies op ’n stokkie. Ek voel ’n bietjie oor hierdie vraag soos oor die vraag: “Is daar lewe op ander planete?” Mens moet dalk eerder vra: “Is daar lewe op hierdie planeet?”

Dalk is dit tyd dat ek die biografiese inligting onderaan my Netwerk24-rubrieke verander?

  • Deur die tonnel van twyfel word uitgegee deur Naledi en kan hier bestel word.

Lees ook:

Help! Koos Kombuis se kunstefees spiraal buite alle orde!

Om vooroordele eenkant toe te skuif

Oor Bybelvertalings, outisme en boemelaars

 

  • 7

Kommentaar

  • Uit die professor se bespreking van die boek, skyn dit dat die boek bewustelik of onbewustelik die idee skep dat Koos steeds 'n Christen is. Maar hier word dit weer ontken. Dit herinner mens nogal so bietjie aan die NG kerk se werkswyse. Glo aan die duiwel as jy wil, maar net as jy wil. Jy moet selfdegeslaghuwelikke aanvaar, maar net as jy wil. Neither here nor there. Vir die behoudende leser is daar die gerustellende wete dat Koos darem nog aan die Here (of so iets) glo, al is hy nou klaar met kerke. Vir die andersdenkende is daar Koos se afvalligheid van die gevestigde doktrine van erfsonde en soenoffer. So kry elkeen darem iets. Gelowiges hou nogals dikwels van sulke niksseggende vaaghede. Dit gee hulle hoop dat hierdie siel darem nog gered sal kan word. Preek na preek, Sondag na Sondag, is gewoonlik ook so vaag en gelaai met onduidelikhede. Dit hou darem die kollektebordjies vol.

  • Jean Oosthuizen

    Koos is baie duidelik dat hy homself nie meer as 'n Christen beskou nie. Daar hoef geen onduidelikheid daaroor te wees nie. Niks vaag daaromtrent nie.

  • Tog vreemd dat dit juis die gevolgtrekking was waartoe Izak Spangenberg gekom het. Spangenberg skryf: "Dis duidelik dat Koos homself nog as ’n Christen-gelowige beleef". Hy merk ook dat daar nie eintlik veel geskryf word oor enige 'waardes', soos wat die subtitel te kenne gee nie. Dit lyk my daar is dus 'n mate van diskrepansie tussen dit wat in die boek staan en wat in die onderhoud gesê word. En ook tussen die titel van die boek en die inhoud daarvan. Tensy Spangenberg homself misgis het, wat ek nie sommer maklik sal glo nie. Verder word die een deel van die boek geskryf as 'ateïs", terwyl die ander deel geskryf is as ongedefinieerde gelowige. Dit is tog dus op die oog af alles vir my bietjie vaag. Miskien maak dit alles sin as mens die boek lees, maar mens wonder of dit die geld werd gaan wees.

  • Jean Oosthuizen

    Barend, Sakkie was verkeerd gewees wat dit betref. Ek weet wat Sakkie geskryf het, daarom het ek Koos self daaroor uitgevra. Nêrens in sy boek sê Koos hy is nog 'n belydende Christen nie. Inteendel. Sakkie het intussen ook kennis daarvan geneem dat Koos homself nie meer as 'n Christen beskou nie. Hy het my onderhoud met Koos gelees. Ek dink mens kan maar Koos se woord aanvaar as hy sê hy beskou homself nie meer as 'n belydende Christen nie. Koos sê self in sy boek dit is nie vir almal bedoel nie. As mens wonder of dit die geld werd gaan wees, is dit miskien beter om die geld op iets anders uit te gee. Dit geld vir enige boek, fliek of toneelstuk.

  • Spangenberg besef nie dat hy maar, net soos Koos, nog steeds maar verknog is aan die Christelike moraal nie.

  • Nee ek stem nie saam met jou nie, Louise. Gaan kyk weer na Spangenberg se boeke en artikels. Lees sy boek "Jesus van Nasaret", wat die Jesus-figuur op 'n besondere wyse problematiseer, veral die kerk se weergawe van Jesus. Natuurlik is Spangenberg besonder bemoeid met die Bybel, maar dit is sy akademiese agtergrond.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top