Mariëtta Alberts praat met Naomi Meyer oor Mariëtta se artikel “Voorgestelde proses vir die hersiening en bywerking van vakwoordeboeke” wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het.
Mariëtta, ek vra jou graag uit oor jou onlangs verskene artikel in LitNet Akademies: “Voorgestelde proses vir die hersiening en bywerking van vakwoordeboeke”. Jy skryf in die inleiding van die artikel van die groot aantal woordeboeke wat in Afrikaans beskikbaar is (spesifiek vir vaktaal), maar dat baie hiervan oud en verouderd is. Ek wil ten eerste vra: Is daar nog soveel mense wat in Afrikaans hul beroepe beoefen en oor en weer met mekaar kommunikeer en die dienooreenkomstige vaktaal gebruik soos wat daar was toe die boeke gepubliseer is? Deesdae is dit asof mense in verskillende beroepe so gereeld Engels praat dat die Afrikaanse woorde heeltemal verdwyn. Waarom is vaktaal nog belangrik in ’n taal soos Afrikaans?
Baie mense beoefen nog hul beroepe in Afrikaans. Ongelukkig is ons werkwêreld tans by verstek Engels. Ek het dit self ervaar toe ek nog by PanSAT gewerk het – ’n mens dink nog in Afrikaans, maar as jy met jou kollegas gesels het (wat almal uit die aard van die saak anderstaliges was), moes dit in Engels wees. Daar was darem ’n paar van my kollegas wat daarvan gehou het om met my in Afrikaans te gesels en dan het hulle my sommer ook ’n paar van hulle eie moedertaal se woorde geleer – maar dit net terloops. Wanneer ’n mens tans in Suid-Afrika met die “buitewêreld” kommunikeer, is dit egter meestal dmv Engels. Dit neem egter nie die feit weg dat ’n mens nog steeds inligting die heel beste in jou eie taal kan ontsluit en jou eie maak nie. Terminologie in jou moedertaal bly dus belangrik. Leerders, studente en vaklui kan vakinligting makliker hul eie maak as dit in hul moedertaal is. Veral as die vakinligting wat beskikbaar is, ook deur definisies en verbandhoudende inligting in jou moedertaal aan jou verduidelik kan word. Vakwoordeboeke met Afrikaans as een van die behandelde tale bly dus van waarde – veral as daar bykomende vakinligting naas die betrokke terme verskaf word, soos verbandswoorde, voorbeeldmateriaal, verklarings en definisies. Dit is makliker om na ’n ander taal, byvoorbeeld Engels, oor te skakel indien die vakinligting reeds dmv jou moedertaal jou eie gemaak is.
.......
Baie termskeppings in die Afrikatale is ook geskoei op die Afrikaanse terme. Afrikaanse vaktaal het daartoe bygedra dat Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal kon ontwikkel.
........
Ek het na my aftrede aan verskeie vakwoordeboeke gewerk, oa aan terme in die politiek en regte. Dit is interessant dat die Afrikataal-terminoloë dikwels meer inligting uit die Afrikaanse voorbeeldmateriaal, verklarings en selfs die Afrikaanse terme kan ontsluit as vanuit die Engels. Baie termskeppings in die Afrikatale is ook geskoei op die Afrikaanse terme. Afrikaanse vaktaal het daartoe bygedra dat Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal kon ontwikkel. Dit sal ’n hartseer dag wees as Afrikaanse terminologie tot niet moet gaan omdat die waarde daarvan onderskat word.
Kan jy asseblief uitbrei op die vier benaderings waaroor jy in die artikel skryf, oor hoe vaktaal geskep of bygewerk word: vakgeoriënteerde terminografiese benadering, vertaalgeoriënteerde terminografiese benadering, gemeenskapsgeoriënteerde terminografiese benadering, taalbeplanningsgeoriënteerde terminografiese benadering.
- Vakgeoriënteerde terminografiese benadering: Die vakgebied is die bron van terminologie. Terme word uit handboeke, tesisse, vaktydskrifte, lesings, ens geëkserpeer en van verklarings voorsien. Dit is ook ’n itemgebaseerde benadering wat die struktuur van vaktale bestudeer en veral kyk na woordvormingsbeginsels, spelling en ortografie/skryfwyse en let op die invloed van klassieke tale soos Grieks en Latyn op termskepping (vgl Alberts 2017:177–9; 2019:60).
- Vertaalgeoriënteerde terminografiese benadering: Vertalers dokumenteer bron- en doeltaalterme terwyl hulle vertaal en bêre hierdie terme dan sodat hulle dit later weer kan benut. So raak die terme deur herhaalde gebruik gestandaardiseer – dit is dus ’n prosesgebaseerde benadering tot standaardisering (vgl Alberts 2017:179–80; 2019:60).
- Gemeenskapsgeoriënteerde terminografiese benadering: Dit is ’n sosiolinguistiese benadering waar terme uit die taalgemeenskap opgeteken word – veral nuttig om inheemse kennisstelsels te dokumenteer. Veldwerk moet egter gedoen word om die taalgemeenskappe se terme (hetsy in die platteland of in stedelike gebiede) te dokumenteer (vgl Alberts 2017:180–1; 2019:60).
- Taalbeplanningsgeoriënteerde terminografiese benadering: Dit is ’n funksionele benadering wat ’n ingryping vanuit ’n hoër gesag, byvoorbeeld die staat, behels om ’n taal/tale se status te verhef. Dit was eers vanweë die tweetalige beleid dat Afrikaans vanuit owerheidsweë bevorder moes word, en vanaf 1995 word die amptelike Afrikatale, en vanaf 2024 die Suid-Afrikaanse Gebaretaal, bevorder (Alberts 2017:181–2; 2019:60).
Tot watter mate beïnvloed die verengelsing van universiteite in Suid-Afrika die behoefte aan woordeboeke met byderwetse Afrikaanse vaktaal, indien hoegenaamd?
Al neem Engels die tersiêre onderwys oor (en waarskynlik later ook die primêre en sekondêre onderwys), is terme in die onderskeie moedertale steeds belangrik vir onderlinge begrip. Baie tersiêre instellings dokumenteer tans die terminologie van verskeie vakgebiede in die onderskeie amptelike tale – Afrikaans word nie uitgesluit nie. Ek was onlangs die eksterne eksaminator vir ’n proefskrif oor vaktaalontwikkeling by tersiêre instellings, en dit blyk dat daar geen samewerking by die onderskeie instansies is om die Afrikatale se terme vir begrippe te skep nie – met gevolglik ’n proliferasie van terme vir dieselfde begrip in dieselfde vakgebied en taal. Daarteenoor was die Afrikaanse terme wat by universiteite benut is, meestal beskikbaar en reeds gestandaardiseer.
Watter vakgebiede se woordeboeke behoort ten eerste aandag te kry om geskep óf bygewerk te word?
Dít kan slegs met behoeftebepalingstudies bepaal word. Ek het oor die Veeartsenywoordeboek geskryf omdat ek self by die saamstel van die woordeboek betrokke was en omdat ek met vakkundiges gesels het wat ’n behoefte aan ’n hersiene weergawe teenoor my genoem het.
Daar is ’n tendens dat sekere Engelse woorde oorgeneem word in die Afrikaans en dan so behou en uiteindelik Afrikaans word. Is dit dalk ’n oplossing? Is dit ’n lui voorstel? Ek bedoel nie alle woorde nie. Hier en daar ’n gespesialiseerde woord. Is dit reeds die geval?
Dis onaanvaarbaar. Terme is gespesialiseerde woorde – terminologie is maw die “woordeskat” van ’n bepaalde vakgebied. Afrikaanse termskepping is uniek. Die skeppers van Afrikaanse terme is baie kreatief en ons het deur die jare bewys dat ons kreatief kan dink. Ons translitereer wel uit Grieks en Latyn deur die klassieke stam te benut (dan lyk die terme dalk na Engelse skeppings), maar gebruik dan die Afrikaanse skryf- en spelreëls om die terme te skep (Alberts 2017:94–5, 117–9; 127–9; Alberts 2019:87–9, 129–31). As ons terme klakkeloos uit Engels wil oorneem, sal ons maak soos die Nederlanders – hulle gebruik die Engelse term en spreek dit net op Nederlands uit. Dit is beslis nie taalontwikkeling nie. Trouens, by ’n konferensie by die Lessius Universiteitskollege in Antwerpen het ’n lid van die Nederlandse Taalunie ná my referaat (in Afrikaans) opgemerk dat Afrikaanse termskepping uniek is – vir dié man was die term duikweg baie beskrywend. Na daardie konferensie het ek van ons nasionale terminologiekantoor se tweetalige vakwoordeboeke aan Lessius geskenk om hulle met hul vertaal- en tolkkursusse te help.
Die Suid-Afrikaanse landskap het verander. Daar is nou baie meer professionele mense wat nie meer Afrikaanssprekend is nie, wat dalk die noodsaak van die gebruik van Afrikaanse vaktaal in alledaagse werksomgewings verminder. Behoort daar ook aandag gegee te word aan ’n woordeboek wat dieselfde vaktaalterminologie beskikbaar stel in dalk die vyf hooftaalgroepe in die land, eerder as om net op Afrikaans te fokus? Jy verwys beslis hierna in jou artikel: “Suid-Afrika het die afgelope aantal jare geweldige verandering beleef. Daar was ’n algehele herstrukturering van die arbeidsmag en die verskillende bevolkingsgroepe het groter betrokkenheid gekry ten opsigte van eie en algemene sake. Die terreine van die wetenskap, ekonomie en die tegnologie het ook meer toeganklik geraak. Politieke en sosiale verandering het die funksionele rol van die inheemse tale grootliks verander. In die nuwe, demokratiese Suid-Afrika maak die Grondwet voorsiening vir meertaligheid en vir die ontwikkeling van die taalerfenis van die onderskeie taalgemeenskappe.”
Daar is reeds vakwoordeboeksamestellers wat meertalige vakwoordeboeke saamstel. Die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale (SRTAT) het in 2019 die drietalige regswoordeboek Strafreg, strafprosesreg en bewysreg (Eng/Xho/Afr-Xho/Eng/Afr-Afr/Xho/Eng) gepubliseer waarvoor ons ’n ATKV-Woordveertjie in 2020 ontvang het. Ons drietalige weergawe met Xitsonga lê reeds by Juta reg om gepubliseer te word. Ek is sekretaris van SRTAT.
Daar is natuurlik splinternuwe uitbreidings in die tegnologiese wêreld waarvoor daar doodgewoon nog nie woorde in enige van die landstale (behalwe dalk Engels) bestaan nie. Hoe skep mens nou ’n nuwe woord in Afrikaans wat in die sprekers se monde tuis is – en nie net grappig of verspot klink nie? Hierdie vraag handel dalk oor die komplekse proses van ’n kombinasie van vertaling (sodat die oorspronklike betekenis van die hipoteties gesproke Engelse woord bly) en nuutskepping (sodat die Afrikaans dan iets unieks en duidelik verstaanbaar is)?
Ek behandel termskepping in albei my boeke – die prosesse is te intensief om hier te verduidelik (Alberts 2017:92–414; 2019:59-119).
Jy skryf: “Elke vakgebied, hoe eenvoudig of gespesialiseerd ook al, beskik oor ’n unieke stel terme wat bepaalde begrippe uniek benoem. Vakspesialiste gebruik terme om te kommunikeer, maar hierdie terme is nie noodwendig vir die leek verstaanbaar nie. Terminologie is dus noodsaaklik vir sinvolle kommunikasie tussen vakspesialiste, maar ook tussen die vakspesialis en die leek (bv tussen die veearts en die (troetel)dier se eienaar). Mense van verskillende nasionaliteite en taalgroepe moet ook in staat wees om sinvol oor ’n wye vakgerigte spektrum te kommunikeer.” Dit is volledig waar. Tog wil mens ook vra: Is die skepping van vaktaal onderlê met ideologie? Is dit nie maar altyd die geval met alle tale nie? Dit gaan oor die naamgewing van iets omdat die sprekers van die taal die mag het of die nodige finansiële vermoë het om die woorde te kan bekostig? Maar dan kan mens sekerlik so redenaar oor elke woord in elke taal, ook woorde wat reeds bestaan en tale wat mense reeds praat. Die vraag is steeds: Behoort daar vir elke taal in die land hierdie soort vaktaalwoordeboeke te bestaan? En hoe kan so iets befonds word?
Die nasionale terminologiekantoor (Terminology Coordination Section van die Nasionale Taaldiens, Departement van Sport, Kuns en Kultuur) verskaf befondsing vir terminologieprojekte. SADiLaR (South African Centre for Digital Language Resources) is besig om verskeie aspekte van tale te dokumenteer en aanlyn beskikbaar te stel. Ook meertalige terminologie. Ou vakwoordeboeke word oa gedigitiseer en dan kan ander tale se termekwivalente bygevoeg word.
Lees ook:
Voorgestelde proses vir die hersiening en bywerking van vakwoordeboeke
Pharos se nuwe Senior tweetalige skoolwoordeboek as skatkis: ’n onderhoud met Delana Fourie
Kommentaar
Waar begin 'n mens om jou te loof en te bedank vir jou (voortgesette) bydrae tot die SA taalbedryf, Mariëtta? Jou kundige hulp aan my persoonlik en aan die Stad Tshwane MM se taaldienste oor soveel jaar. Dankie. Jy is voorwaar enig in jou soort.