Taal en tydsgees: ’n onderhoud oor al Pharos se woordeboeke

  • 0

https://www.pharosonline.co.za/

Naomi Meyer praat met Annemie Stoman en Delana Fourie oor al  Pharos se produkte in Afrikaans – en vir elke Suid-Afrikaner in hul eie moedertaal.

Beste Pharos-span, dis ’n nuwe jaar en die landstale groei soos wat die tyd aanstap. Dis ’n slordige frase! Sal Pharos my kan help om die regte woorde en uitdrukkings te kry as ek aan die einde van die dag net aan ’n anglisisme kan dink?

Ja-nee, “aan die einde van dag” sak die son, maar op die ou end kan ons altyd delf in Afrikaans se ryk spreekwoordeskat!

Wat spreekwoorde en uitdrukkings so wonderlik maak, is dat hulle ’n hele wêreld ontsluit van wie ons is, waar ons vandaan kom, waaroor ons nadink, alles wat ons spesifieke kultuur weerspieël, en nog soveel meer.

Kom ons sit nog handjie by met een van Pharos se heerlike boeke, Spreekwoorde en ander segswyses. Elke nuwe bladsy wat omgeslaan word, is as ’t ware ’n nuwe blaadjie wat omgeslaan word. Daar is vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe Afrikaans se spreekwoorde en segswyses ontstaan het, asook ’n Afrikaanse verklaring en ’n Engelse ekwivalent of verklaring vir elke uitdrukking. Hierdie skatkis bevat meer as 10 000 Afrikaanse spreekwoorde en segswyses, met honderde nuwes in die onlangs bygewerkte uitgawe – ’n handige naslaanwerk vir Afrikaanse en Engelse gebruikers.

Ons wil graag vir alle Afrikaanse sprekers sê: Moenie jou spreekwoordeskat laat verarm nie – die rykdom van Afrikaanse spreekwoorde (oues en nuwes) verdien om herontdek te word!

..........
Ons wil graag vir alle Afrikaanse sprekers sê: Moenie jou spreekwoordeskat laat verarm nie – die rykdom van Afrikaanse spreekwoorde (oues en nuwes) verdien om herontdek te word!
..............

Wie is julle ideale lesers? Of julle ideale navorsers van woorde?

Almal is ons lesers! Enigiemand wat nuuskierig en leergierig is oor taal, kan delf in die enorme woordeskatkis wat Pharos se produkte bied, hetsy ten opsigte van Afrikaans of ten opsigte van die ander tien geskrewe landstale.

Pharos se steeds groeiende versameling gedrukte en aanlyn woordeboeke is toegespits op enigiemand wat goed versorgde skryfwerk wil skep, terwyl dit ook ’n woordeskatkis is waaruit almal kan put (en ook leer) om daaglikse kommunikasie te verbeter. Sowel die algemene publiek as skrywers, joernaliste, taalpraktisyns en vakkundiges kan deur ons woordeboeke en stylgidse hul taalkennis verryk en hul algemene kennis uitbrei.

Pharos wil graag vir almal wat oor woorde lees en naslaan, van hulp wees met een van ons uitsonderlike produkte. Ons slagspreuk is nie verniet “Gesaghebbend, Gerekend, Betroubaar” nie!

’n Taal en sy woorde sê iets van die sprekers daarvan se psige. Praat Afrikaanssprekendes meer Engels, beïnvloed tegnologie die spreker se woordeskat? Lyk die sprekers van ’n taal dalk nou anders as voorheen, beïnvloed die landstale mekaar almal gaandeweg meer en meer? Wat merk julle op as julle na nuwe woorde kyk wat in jul woordeboeke opgeneem word?

Oral in die wêreld is daar al hoe meer kontak tussen verskillende tale, en Engels is die taal wat sekerlik die meeste ander tale beïnvloed weens die magdom nuwe woorde wat daagliks in Engels geskep word.

In Afrikaanse omgangstaal is dit algemeen en normaal om Engelse terme te gebruik wat binne konteks gebruik word. Sprekers verkies dikwels om eerder die Engelse terme te gebruik, omdat dit verstaanbaar is binne konteks. Dit is weliswaar so dat die gemiddelde Afrikaansspreker nie bewus sal wees van wat sekere woorde en terme in Afrikaans is nie, bloot omdat hulle dit slegs in Engels hoor. Baie taalgebruikers beskou dit as gedwonge of onnatuurlik om “suiwer Afrikaans” te praat. Dit is selfs ’n uitdaging om in vandag se Engelse omgewing heeltyd aan elke woord, vakterm en enige ander konsepte slegs in Afrikaans te dink.

...........
Sprekers verkies dikwels om eerder die Engelse terme te gebruik, omdat dit verstaanbaar is binne konteks. Dit is weliswaar so dat die gemiddelde Afrikaansspreker nie bewus sal wees van wat sekere woorde en terme in Afrikaans is nie, bloot omdat hulle dit slegs in Engels hoor. Baie taalgebruikers beskou dit as gedwonge of onnatuurlik om “suiwer Afrikaans” te praat. Dit is selfs ’n uitdaging om in vandag se Engelse omgewing heeltyd aan elke woord, vakterm en enige ander konsepte slegs in Afrikaans te dink.
................

Baie tale se uitbreiding en groei beteken gevolglik dat hul leksikons bloot meer en meer leenvertalings of sommer leenwoorde (soms net so uit Engels oorgeneem, soms met spellingverandering in die ander taal) bevat.

Onlangse leenvertalings in die internetwêreld en sosiale media is byvoorbeeld beïnvloeder, kanselleerkultuur en skarebefondsing vir influencer, cancel culture en crowd funding. In ons mees onlangse publikasie, die Pharos Senior tweetalige skoolwoordeboek, gee ons ook ander vertalings vir hierdie en ander nuwe konsepte, wat deur skrywers, joernaliste of gewone Afrikaanssprekendes geskep word of aan ons gestuur word vir opname. Een so ’n voorstel is smaakmaker vir influencer.

Taal is ’n funksie van kultuur en die omgewing waarin mense hulle bevind. Woorde en uitdrukkings is ’n weergawe van gedagtes en denkpatrone.

...............
Taal is ’n funksie van kultuur en die omgewing waarin mense hulle bevind. Woorde en uitdrukkings is ’n weergawe van gedagtes en denkpatrone.
................

In ons snel veranderende wêreld waar jongmense deesdae kitsoplossings vir alles soek, waar alles binne sekondes moet gebeur en waar tegnologie ons met enige plek in die wêreld kan verbind, is woorde en frases soos beïnvloeder, kanselleerkultuur/uitsluitkultuur of swiep links/regs beslis ’n weerspieëling van wat tans in die algemene psige van mense en kultuurgroepe aangaan.

Gepraat van ’n taal wat voortdurend groei. Taal verander, die sprekers verander, die wêreld verander. Hoe hou ’n mens by met die optekening van soveel woorde in woordeboeke? Sekere woorde raak verouderd, nuwes kom by, ander woorde bly deur die jare dieselfde. Wat van werklik negatiewe en neerhalende (of selfs aanstootlike) woorde – verskyn dit in julle woordeboeke?

’n Taal word eerstens gepraat, en alle tale word deur hul sprekers geskep. Taal word opgeteken en verskyn in gedrukte of elektroniese formaat. Skrywers pen die taal neer en professionele taalwerkers teken die taal op in normeringsbronne soos woordeboeke en taalgidse. Skeppende skrywers verewig die taal in letterkunde, niefiksie en duisende ander skryfstukke, ook op sosiale media. Woorde wat nie meer nodig is nie en ook nie opgeteken word nie, verdwyn of verval in onbruik. Daar is honderde woorde en uitdrukkings in Afrikaans wat ’n paar dekades gelede nog in die spreektaal gebruik is, maar nou vreemd klink op die hedendaagse Afrikaanse oor. Dit is natuurlik dat sekere woorde verouder en uiteindelik uitsterf. Terselfdertyd kom nuwe woorde in omgang, en sommige daarvan bly, want die sprekers hou daarvan en gebruik dit. Daar is altyd mense wat kreatief met taal is.

Ons moet onderskei tussen spreektaal/omgangstaal en versorgde geskrewe standaardtaal. ’n Geskrewe standaardtaal in enige taal ontstaan uit die behoefte om terme, konsepte en ander woorde uit die gesproke taal se betekenis so eenduidig as moontlik in die geskrewe vorm oor te dra. Dit is nodig omdat die spreker en luisteraar nie langs mekaar staan en die een kan verduidelik wat hy/sy bedoel as die ander een nie dadelik snap nie. Die konteks help dikwels om betekenis oor te dra, asook nieverbale leidrade soos visuele verwysings in die omgewing of liggaamstaal en gesigsuitdrukkings. Dit gaan verlore in geskrewe taal indien die konteks nie duidelik beskryf word nie. Om hierdie rede ontstaan daar standaardwoorde waarna almal kan verwys as die norm, en dus dieselfde deur beide standaardtaalsprekers en niestandaardtaalsprekers verstaan kan word.

Die gedrukte media is juis die plek waar daar aan gewone sprekers gewys kan word dat Afrikaans “in Afrikaans” kan groei en vernuwe en dat dit wel natuurlik kan klink. Solank Afrikaanse taalgebruikers Afrikaans na die beste van hul vermoë gebruik, is die Afrikaans lewend en organies. Die Afrikaans van 2024 klink heel anders as die Afrikaans van 1924, en die Afrikaans wat oor ’n paar dekades van nou af gepraat gaan word, sal ook heel anders daar uitsien. In geskrewe Standaardafrikaans (soos in alle geskrewe tale) bly die standaardgebruik juis behoue en opgeteken, maar daar is ook soepelheid in die standaard nodig sodat die taal nie outyds en verstok, en selfs onbruikbaar, raak nie!

Koerante, tydskrifte en boeke help om nuwe woorde en uitdrukkings in die spreektaal én geskrewe taal te skep en te vestig. Wanneer woorde genoeg in geskrewe bronne gebruik word, word dit uiteindelik weer opgeneem in normeringsbronne soos woordeboeke en taalgidse. Sprekers skep woorde, maar gebruik ook woordeboeke vir hul skryftaal.

Bronne soos die AWS, die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, Spreekwoorde en ander segswyses en Skryf Afrikaans van A tot Z (SAAZ) teken spreektaal op en help met normering van die skryftaal, en strewe daarna om woorde te laat voortleef, asook om die opsie te kan gee sou ’n leser of taalversorger dit wou naslaan en gebruik. Woordeboeke en taalgidse is juis daar om aan alle taalgebruikers wat spesifieke woorde en terme nie ken nie (of al vergeet het), leiding te gee.

Afrikaans hou tred met, en is sensitief vir, woorde, skelname, stereotiperings en uitdrukkings wat krenk en aanstoot kan gee. Dit is een van die gebiede waarop Pharos nie agterbly nie en waarop vernuwing voortdurend plaasvind.

In ons algemene en skoolwoordeboeke word taboewoorde in hersienings en nuwe uitgawes geskrap. Sommige woorde van historiese belang (omdat dit steeds in byvoorbeeld ouer geskiedenistekste voorkom) word geëtiketteer as “verouderd” of “argaïes” of “neerhalend”, terwyl sommige woorde as “verouderend” gemerk word, byvoorbeeld geslagswoorde wat aanstoot kan gee. SAAZ wys ook byvoorbeeld daarop dat ons nie meer in mediatekste woorde soos polisiemanne en ambulansmanne gebruik nie, maar eerder polisiebeamptes en ambulanspersoneel. Rassistiese, seksistiese, stereotiperende taalgebruik, sensitiewe kwessies en woorde wat aanstoot gee, word uitgewys en bespreek in SAAZ, wat wyd deur joernaliste en taalpraktisyns gebruik word om keurige geskrewe tekste te skep.

Nog iets oor uniekheid en taalkontak. Ek het ’n woord gaan naslaan wat Afrikaanssprekendes graag gebruik: mos. Ek het nogal gewonder wat die vertaling in Pharos se tweetalige woordeboeke sou wees en gesien dat julle idiomaties te werk gaan. Is daar woorde wat werklik onvertaalbaar is wat julle al teëgekom het?

Inderdaad, ja. Die vertaling vir mos word in ons omvattende Tweetalige Woordeboek A–E/E–A so goed moontlik vertaal om die bedoeling van die spreker en dus die betekenis weer te gee, en daarvoor is gebruiksfrases ook nodig:

Daar is talle woorde en frases in elke taal wat uiteraard in die volksmond ontstaan, dit wil sê die spesifieke sprekers se uitdrukking van idees, gedagtes, situasies, en so meer. Woordeboekskrywers se hooftaak is om ’n taal se woordeskat en sprekers se taalgebruik op te teken, en veral die uniekheid van ’n taal weer te gee.

...........
Woordeboekskrywers se hooftaak is om ’n taal se woordeskat en sprekers se taalgebruik op te teken, en veral die uniekheid van ’n taal weer te gee.
..............

Wanneer dit by vertaling kom, is daar dikwels nie ’n presiese vertaling vir ’n woord nie, en dit geld veral vir unieke frases en segswyses. In daardie geval word die idee of gevoel van die woord se betekenis so goed moontlik in die vertaling weergegee. Afrikaanse tussenwerpsels soos mos, sjoe, eina, ag, ai,, sommer, ja-nee, gaats, nouja en sies is goeie voorbeelde van hoe Afrikaanssprekendes hul gevoel oor iets uitdruk deur net een so ’n woord te gebruik, en hoe hierdie woorde sommer deur alle Suid-Afrikaners van verskillende taalgroepe gebruik word.

Suid-Afrikaners van verskillende taalgemeenskappe neem maklik sulke unieke woorde in hul eie taal op – dink ook aan onvertaalbare Afrikaanse woorde wat in Suid-Afrikaanse Engels opgeneem is (soms met aangepaste spelling), byvoorbeeld fynbos, veld, bakkie, biltong, snoek, springbok, bobotie, pap, kloof, skollie, voertsek, stoep en tekkie. Indien vertaling van ’n unieke woord onmoontlik is, word die woord ’n leenwoord in ander tale.

Aan die ander kant is daar natuurlik ook talle woorde uit ander tale wat onvertaalbaar is en dan weer leenwoorde in Afrikaans word, byvoorbeeld trend, establishment, issue, venue, aikôna, ubuntu, lobola, lapa, indaba, moetie, en nog vele meer uit ander plaaslike en ook wêreldtale.

Op hierdie wyse verryk tale mekaar wat woordeskat betref, terwyl elkeen steeds sy eie unieke kenmerke behou.

Waarom is dit van belang dat sprekers van ’n sekere taal ’n woordeboek moet kan gebruik? Is dit ooit nog in ’n digitale era belangrik?

Daar is veral op skoolvlak steeds ’n groot behoefte aan gedrukte woordeboeke. So het ons byvoorbeeld ’n paar jaar gelede ʼn behoefte in skole, en spesifiek die Grondslagfase, geïdentifiseer vir ʼn woordeboek wat jong leerders kan voorberei om naslaanwerke later in hul skoolloopbaan te gebruik.

Dit is regtig belangrik as ’n mens die feit in ag neem dat die oorgrote meerderheid leerders aan die einde van graad 1 nog steeds nie die alfabet ken nie en dat meer as 80% van Suid-Afrika se leerders in graad 4 steeds nie met begrip kan lees nie.

Ons Tweetalige Grondslagfasewoordeboek is ʼn volwaardige alfabetiese woordeboek met konvensionele woordeboekkenmerke, wat geweldig belangrik is om lees- en naslaanvaardighede te ontwikkel. Omdat leerders op hierdie vlak nog nie lees- en naslaanvaardighede het om digitaal navorsing oor taal en vertaling te doen nie, is dit baie belangrik om beide eerstetaal- en tweedetaalleerders geleidelik gewoond te maak aan woordeboeke en die vaardighede wat nodig is om al die inligting in woordeboeke optimaal te ontsluit. Leerders leer op hierdie manier byvoorbeeld vroeg reeds basiese vaardighede soos alfabetisering aan en bou dit op tot die ontsluiting van spesifieke inligting in enige vakgebied.

Ons gedrukte tweetalige skoolwoordeboeke vir die vier skoolfases is daarom onontbeerlik as steunmateriaal in die klaskamer en tuis. Pharos het ’n volledige tweetalige KABV-geskikte skoolwoordeboekfamilie sodat leerders in elke skoolfase ’n pasgemaakte tweetalige woordeboek tot hul beskikking het: die Pharos Grondslagfasewoordeboek (graad 1–3), die Pharos Junior tweetalige skoolwoordeboek (graad 4–6), die Pharos Tweetalige skoolwoordeboek (graad 7–9) en die Pharos Senior tweetalige skoolwoordeboek (graad 10–12).

Kan ’n mens dan sê dat spesifiek gedrukte woordeboeke dus waarde tot leerders se akademiese ontwikkeling en vordering toevoeg?

Ja, definitief. Taal maak ander wêrelde vir jou oop. Woordeboekwerk is ʼn toepassing van ander kennis en vaardighede wat ʼn gebruiker al opgedoen het. Dit ondersteun leesvaardighede, skryfvaardighede en algemene taalvaardigheid. Pharos se skoolwoordeboeke help leerders om taalpatrone en spelpatrone raak te sien en self te begin voorspel hoe onbekende woord gespel moet word.

Beide verklarende en vertalende woordeboeke gee geweldig baie inligting op betekenisvlak, maar ook oor allerhande ander tegniese aspekte van taal. Verder ontsluit woordeboeke soveel moontlikhede wanneer leerders en studente uiteindelik in enige veld denkbaar moet werk en hulself vakkundig moet kan uitdruk. ʼn Woordeboek bring al die aspekte van taalgebruik op een plek bymekaar, en word dan weer die instrument om die gebruiker se akademiese ontwikkeling te steun.

So byvoorbeeld was ons doelwit met die ontwikkeling van die Grondslagfasewoordeboek om leerders op ’n eenvoudige manier te leer hoe ’n vertalende woordeboek werk, sodat hulle vertroud kan raak met naslaanwerk in hul huistaal en addisionele taal, en later ook met selfvertroue meer ingewikkelde woordeboeke in die hoër grade sal kan gebruik. Ons glo dat wanneer leerders al in die Grondslagfase leer hoe woordeboeke werk, dit hulle ʼn groot hupstoot gee wanneer hulle later al hoe meer akademiese werk, naslaanwerk en ook navorsing moet doen.

Elkeen van Pharos se tweetalige skoolwoordeboeke bou voort op die vaardighede wat in die vorige fase aangeleer is. Sodra basiese lees-, vertaal- en navorsingsvaardighede vasgelê is, kan leerders digitale naslaanwerk ook optimaal doen.

Die hersiene Tesourus van Afrikaans het in 2021 verskyn. Wat is die kernverskille tussen ’n woordeboek en ’n tesourus?

Die woord tesourus (afgelei van ’n Griekse woord wat “skat” of “skatkis” beteken) verwys na ons taalskat of taalskatkis. Die naam “tesourus” is aanvanklik aan verskillende soorte woordeboeke toegeken, maar na die verskyning van die Thesaurus of English words and phrases in 1852 het die tesourus as besondere woordeboektipe sy plek in die woordeboekfamilie ingeneem.

Die meeste woordeboekgebruikers ken en gebruik veral twee soorte woordeboeke: eentalige (verklarende) woordeboeke en tweetalige (vertalende) woordeboeke, wat alfabeties georden is. Dit maak naslaanwerk, veral vir jong gebruikers, aanleerders van tale en “minder gesofistikeerde woordeboekgebruikers” makliker, mits hulle natuurlik die alfabet ken.

’n Taal is egter nie alfabeties georden in sprekers se koppe nie. ’n Taal se woordeskat – woorde, woordgroepe, vaste uitdrukkings, ens – hang op grond van veral hulle betekenisse of “woordfamilie” met mekaar saam. Tesourusse wys sulke betekenisverhoudinge in die woordeskat van ’n bepaalde taal uit, en daarom is tesourusse nie alfabeties georden nie. Soekwoorde in tesourusse word meestal volgens tema aangebied, en binne betekenisvelde. Daar verskyn dus grootliks sinonieme en bynasinonieme saam in die woordeboekartikels.

Die belangrikste funksie van ’n tesourus is om die regte woord vir die regte konteks voor te stel.

Die Tesourus van Afrikaans bevat meer as 140 000 woorde en uitdrukkings wat in 855 betekenisvelde gerangskik is. Daar word ook slengwoorde, woorde uit die gebruiksvariëteite van Afrikaans en nuwe woorde wat ontwikkelinge in die samelewing en tegnologie weerspieël, gegee. So byvoorbeeld is daar sinonieme en verwante woorde vir woorde soos cool, sharp, newwer, komvandaan, emotikon, kuberkraker, ekovriendelik, grendeltyd, en so meer.

Woorde kan op twee maniere opgesoek word: volgens tema in die eerste gedeelte of in die alfabetiese indeks. Inskrywings in ’n betekenisveld is volgens woordsoorte gegroepeer en word gevolg deur verwante idiomatiese uitdrukkings. Teenoorgesteldes word in opeenvolgende betekenisvelde verskaf.

Watter produkte het julle beskikbaar vir al die verskillende gebruikers? Wat is die spesifieke kenmerke van elkeen van die gedrukte bronne?

Bo en behalwe die gedrukte produkte wat reeds hier bo genoem is, het Pharos nog verskeie ander gedrukte woordeboeke en naslaanbronne.

In formele, geskrewe kommunikasie is dit noodsaaklik om grammatikanorme en spelreëls te volg. Die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) is Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron en die gesaghebbendste naslaanbron oor Afrikaanse grammatika en spelreëls. Dié bron word sedert 1917 deur taalkundiges en taalpraktisyns (die Afrikaanse Taalkommissie) in opdrag van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns opgestel en gereeld bygewerk. Die AWS gee duidelike, vaste riglyne vir spelling en skryfwyses in Standaardafrikaans.

Die norme wat die AWS stel, spruit voort uit die taalgebruik van alle sprekers en het ten doel om taalreëls vir die (minder of meer) ingeligte gebruiker toeganklik te maak. Die AWS bevat ook lyste met leiding oor woorde van vreemde herkoms, plekname in die Ooste, landname met hul geldeenhede en ISO-kodes en die periodieke tabel. Skryfhulp word ook gegee vir transliterasie, Omgangsafrikaans en die SI-stelsel.

Pharos se stylgidse en grammatikahulpbronne in Afrikaans en Engels word wyd gebruik as betroubare naslaanwerke. Skryf Afrikaans van A tot Z (SAAZ) is gemik op alle taalgebruikers, maar veral skrywers, taalversorgers en vertalers in ʼn werksomgewing, en studente vind dit ’n baie nuttige bron. Hoewel SAAZ ’n essensiële bron is vir professionele taalwerkers wat daagliks Afrikaanse teks vir publikasie moet voorberei, kan enige Afrikaanse taalgebruiker uit hierdie onontbeerlike bron put om hul skryfwerk te versorg.

Afrikaansgids is ’n praktiese gids opgestel volgens die KABV-kurrikulum en die 2017-AWS. Dit is die ideale taalhulpmiddel vir leerders in graad 7 tot 12. Algemene taalreëls word met eenvoudige definisies en voorbeelde verduidelik, en die gids bevat ook lyste van woorde wat spelprobleme oplewer.

The write stuff fokus op tipiese probleme waarmee niemoedertaalsprekers worstel wanneer hulle in Engels skryf. Riglyne word in ’n A–Z-formaat aangebied, en sluit reëls oor styl, grammatika en punktuasie in.

Plain language is ’n onontbeerlike taalgids en werkboek. Dit dek tipiese probleme in geskrewe Engels, met die fokus op die velde van bemarking, ekonomie, versekering, finansies en die regte. Taalkwessies wat gedek word, is onder andere die gebruik van woordsoorte, woorde wat dikwels verwar word en hoe om goed gestruktureerde paragrawe te skryf.

Pharos se gewilde naslaanbron vir liefhebbers van Afrikaanse blokraaisels, Blokraai-antwoorde, is onlangs volledig herbewerk, met duisende internasionale en plaaslike feite wat alfabeties volgens temas gerangskik is. Hierdie gids help blokraai-entoesiaste om vinnig daardie ontwykende antwoorde op leidrade te vind – van Beatles-sangers tot vulkane in Antarktika.

Pharos het ook ’n unieke veeltalige woordeboek, die South African Multilingual Dictionary. Dit bevat die mees frekwente woorde en vertalings in die 11 geskrewe amptelike tale en is die eerste woordeboek waarin interaktiewe vertalings vir al die amptelike tale van Suid-Afrika in een volume verskaf word. Dit beteken dat gebruikers vertalings na en van enige van die tale kan naslaan – Engels is die alfabetiese brontaal, en wanneer die Engelse woord nageslaan word, word die ander tien vertalings by dié inskrywing gegee.

Enkele jare gelede is elkeen van die nege Afrikatale naas Engels uit die South African Multilingual Dictionary in afsonderlike gedrukte sakpas woordeboekies onttrek. Die reeks is ideaal vir gebruik in skole in verskillende grade in die Intermediêre Fase, Senior Fase of VOO-fase, en selfs op tersiêre vlak vir studente wat een van die Afrikatale vir die eerste keer aanleer.

Hierdie woordeboeke kan ook in die werkplek, deur toeriste of deur enigiemand wat graag ʼn Afrikataal wil aanleer, gebruik word.

Ander immergewilde gedrukte woordeboeke uit die Pharos-stal is die Beknopte verklarende woordeboek, die Tweetalige sakwoordeboek, die Tweetalige klein woordeboek en die Tweetalige Miniwoordeboek.

Bo en behalwe al bogenoemde gedrukte woordeboeke en taalgidse kan gebruikers ook digitaal op PharosAanlyn toegang tot ons woordeboeke kry. PharosAanlyn se algemene en vakwoordeboeke, asook die AWS, SAAZ en Afrikaansgids, is gewild onder die algemene publiek, en veral onontbeerlik vir professionele vertalers, skrywers, joernaliste, taalversorgers en taalstudente.

Ek het juis ’n klompie vrae oor PharosAanlyn. Hoe kan woordeboekgebruikers daarop inteken om toegang tot julle digitale produkte te kry? 

PharosAanlyn is teen ’n jaarlikse intekenfooi beskikbaar. Daar is verskeie intekenopsies, byvoorbeeld vir ’n enkelgebruiker, spesiale pakkette vir skole en tersiêre instansies, en vir maatskappye wat hul werknemers toegang tot woordeboeke wil gee.

PharosAanlyn kan op enige plek in die wêreld gebruik word, solank die gebruiker internettoegang en ’n geldige PharosAanlyn-intekening het.

Meer inligting kan op die PharosAanlyn-webwerf verkry word by www.pharosaanlyn.co.za.

Al die PharosAanlyn-woordeboeke kan vir 14 dae gratis op die proef gestel word. Meld hiervoor aan by www.pharosaanlyn.co.za en kies die opsie boaan, “Begin gratis proefloop”.

Tot watter woordeboeke en naslaanbronne het gebruikers toegang as hulle op PharosAanlyn inteken?

Tans is daar 42 woordeboeke op PharosAanlyn beskikbaar, wat verklarende én vertalende woordeboeke insluit. Die aanlyn aanbod sluit algemene woordeboeke, skoolwoordeboeke, vakwoordeboeke en blokraaiwoordeboeke in. Benewens hierdie 42 woordeboeke kan gebruikers ook apart inteken op die drie naslaanbronne Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), Skryf Afrikaans van A tot Z (SAAZ) en Pharos Afrikaansgids.

Van die woordeboeke waarop digitaal ingeteken kan word, is die volgende:

  • Pharos se vlagskip- tweetalige woordeboek, die bekroonde Afrikaans-Engels Woordeboek / English-Afrikaans Dictionary, met meer as 120 000 trefwoorde in elke taal plus meer as 100 000 frases en spreekwoorde (uit druk, slegs aanlyn beskikbaar) – ’n onontbeerlike hulpbron vir vertalers, redigeerders en opvoedkundiges.
  • Die omvattende Verklarende Afrikaanse Woordeboek.
  • Die skolepakket, wat vir onderwysers en leerders toegang tot 14 algemene en skoolwoordeboeke in al 11 tale bied, en drie van die tweetalige skoolwoordeboeke hier bo genoem insluit – die Tesourus van Afrikaans, Spreekwoorde en ander segswyses, die Pharos Afrikaansgids (vir hoërskoolleerders), Afrikaans vir almal en English for all (vir laerskoolleerders), Sinonieme en verwante woorde, en woordeboeke vir die Afrikatale.
  • As ’n bonus aan studente van ander tale kan toegang tot die Groot Woordeboek van Afrikaans en Nederlands en die Afrikaans-Japannese Woordeboek ook as deel van die algemene pakket op PharosAanlyn verkry word.
  • Vakwoordeboeke wat uit druk geraak het, is mettertyd gedigitaliseer en aanlyn beskikbaar gestel, waaronder die Plantkundewoordeboek, die Ekonomiese en bedryfswoordeboek, Geologiese en verwante terme, die Wiskundewoordeboek, die SA Musiekwoordeboek, die Woordeboek van Regs- en Handelsterme, en die Tegniese Woordeboek. Die gesaghebbende Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe is ook deel van die aanlyn pakket.

As ek ingeteken is op al die woordeboeke, maar ek is net op soek na ’n sekere woord in die skoolwoordeboeke, hoe kan ek die soekfunksie stel om ander woordeboeke uit te skakel?

Wanneer die intekenaar aanteken op PharosAanlyn, is daar ’n opsie op die landingsbladsy om uit die beskikbare woordeboeke te kies watter vir die spesifieke soektog gebruik moet word. Daar kan die gebruiker enige seleksie maak, byvoorbeeld slegs die verklarende woordeboek. Wanneer ’n woord of frase dan in die soekkassie boaan die landingsbladsy ingetik word, sal slegs die resultate uit jou gekose woordeboeke verskyn.

Hoe soek ek ’n woord op PharosAanlyn as ek onseker is oor hoe om dit te spel?

Gebruik ? om 'n enkele onbekende karakter te vervang of * om veelvuldige onbekende karakters te vervang. As jy nie seker is van ’n woord se spelling nie, kan jy byvoorbeeld “inte*e*ant” in die soekkassie tik en dit sal vir jou interessant se resultate vertoon.

Ek het die woord kakuhle in PharosAanlyn se soekblokkie ingetik en heelwat ander landstale se ekwivalent van die woord gekry. Die woordeboeke het nou prakties vir my gedemonstreer dat ’n mens ’n verskeidenheid landstale se woorde hierin kan naslaan. Gestel daar is ’n Suid-Afrikaner wat ’n woord of ’n frase in een van die ander landstale raaklees, sal Pharos kan help vertaal en verstaan? Kortom: Kan Pharos Suid-Afrikaners wat sukkel om ’n ander landstaal te leer, in staat stel om te vorder met die aanleer van ’n nuwe taal? Of is dit nie die doel van ’n woordeboek nie?

Pharos se woordeboeke help beslis met die aanleer van ander tale, veral omdat ons woordeboeke baie gebruiksvoorbeelde en uitdrukkings se vertalings aanbied. Tale kan nie in alle gevalle woord vir woord vertaal word nie, en ons woordeboeke (gedruk of aanlyn) help met die regte idiomatiese vertalings.

Die South African Multilingual Dictionary gee vertalings vir al 11 amptelike tale. Hierdie woordeboek bied sowat 4 000 algemene Engelse woorde met ’n vertaling in elk van die ander tien tale, met ’n definisie of omskrywing in Engels gegee. Daar is ook vertalings vir algemene kommunikatiewe frases.

Wanneer ’n gebruiker die South African Multilingual Dictionary selekteer en die woord kakuhle op PharosAanlyn intik, word die volgende resultaat verkry:

Die soekresultaat bied dus nie bloot die vertaling vir kakuhle nie, maar die woord in konteks, dus wanneer gegroet word, letterlik “mooi bly”.

Indien die gebruiker al die woordeboeke vir die Afrikatale selekteer, sal nog heelwat meer gebruiksvoorbeelde as resultate gegee word, wat aansluit by die leer van grammatika in Afrikatale, asook woordorde, byvoorbeeld:

Ek sien op julle tuisblad daar is ’n blokkie onder die hofie “Taal verander voortdurend” waar ’n mens nuwe woorde kan invoer as jy dit nie in een van julle woordeboeke kan opspoor nie. Kan enige gebruiker nuwe woorde hier indien? In watter woordeboeke op PharosAanlyn kan nuwe woorde en terme die vinnigste gesoek word?

Enige taalgebruiker kan vir Pharos nuwe woorde, terme en selfs nuwe betekenisse of vertalings van bestaande woorde stuur. Ons span werk hierdie woorde dan op ons aanlyn woordeboeke by, soos van toepassing. Die meeste nuwe woorde word in die omvattende Tweetalige Woordeboek Afrikaans-Engels Woordeboek / English-Afrikaans Dictionary bygewerk.

Een van ons digitale woordeboeke op PharosAanlyn is Woordeboek van Afrikaans Vandag, met vergunning van die leksikograaf Jana Luther wat die woordeboek gereeld bywerk. Die meeste nuutskeppinge is leenvertalings uit Engels, en terme uit die politieke arena, internetomgewing of sosiale media. Van die mees onlangse nuwe woorde, frases en terme wat in Afrikaans bygewerk is, met vertalings en sinonieme, asook aanhalings uit die media waar die woorde of terme gebruik is, is die volgende:

Raak julle, die skrywers van die woordeboeke, ooit moeg vir al die baie woorde? Wat is die lekkerste deel van julle werk?

Leksikograwe is ’n unieke spesie. Ons is werklikwaar dol oor woorde en die verbande tussen woorde, die uitpluis van taalkonstruksies en betekenisse, en dan die aanbieding van al die derduisende woorde, frases en uitdrukkings op ’n manier waarop ander taalgebruikers daarby kan laat baat vind om beter te kan kommunikeer. Dit is soos ’n miljoenstuklegkaart wat gebou moet word en waarvoor jy net nooit moeg word nie!

Elkeen van ons in die span het verskillende “lekkerstes”, byvoorbeeld die etimologie van woorde, dus die naspeur van betekenisse en oorsprong van woorde tot in die Middeleeue, die naslaan van bronne om te sien hoe nuwe woorde en betekenisonderskeidings ontstaan en die optekening daarvan.

Aan watter nuwe publikasies werk julle vanjaar?

Die Pharos-span is tans besig met hersienings van verskeie woordeboeke wat oor die volgende paar jaar nuut sal verskyn. Soos jy tereg aan die begin opgemerk het: Soos die tyd aanstap, groei en ontwikkel ons tale. Dit is ons voorreg om in pas te bly met al hierdie ontwikkeling en vernuwing in ons tale en dit in ons woordeboeke, hetsy gedrukte bronne of op PharosAanlyn, weer te gee.

  • Foto’s: verskaf

Lees ook:

Hoe belangrik is ’n boek soos Pharos se KABV-geskikte Grondslagfasewoordeboek? ’n Onderhoud met Michele van der Merwe

Pharos Afrikaansgids deur Nicol Faasen: ’n resensie

"Reken op ons woord": ’n onderhoud oor Pharos-woordeboeke

Pharos Woordeboeke en alle Suid-Afrikaanse tale as nasionale bate: ’n onderhoud

An evaluation of the Pharos Junior Bilingual Dictionary according to the CAPS-requirements

Pharos se nuwe Senior tweetalige skoolwoordeboek as skatkis: ’n onderhoud met Delana Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top