
Grondslagfasewoordeboek/Foundation Phase dictionary Afrikaans-Engels/English-Afrikaans
Pharos
ISBN: 9781868902408

Prent: https://pixabay.com/vectors/block-toy-alphabet-game-a-576503/
Meervoudige keusevraag vir kinders: Google Translate of ’n woordeboek?
Michele van der Merwe, ’n navorser wat onlangs vir LitNet Akademies artikels geskryf het, beantwoord die vraag. Sy praat met Naomi Meyer oor Pharos se nuwe Grondslagfasewoordeboek.
Michele, wat is jou agtergrond en jou navorsingsgebied?
............
Tydens my DLitt-studie in Afrikaans en Nederlands aan die US het ek die gebruikersperspektief in Afrikaanse leksikografie nagevors. ’n Woordeboek moet altyd vir ’n spesifieke gebruiker opgestel word, met inagneming van daardie gebruiker se behoeftes en vaardighede.
...............
Tydens my DLitt-studie in Afrikaans en Nederlands aan die US het ek die gebruikersperspektief in Afrikaanse leksikografie nagevors. ’n Woordeboek moet altyd vir ’n spesifieke gebruiker opgestel word, met inagneming van daardie gebruiker se behoeftes en vaardighede. Leksikografie bevat ’n teoretiese komponent en ’n praktiese komponent en ek is gelukkig dat ek deur die jare met beide komponente kon werk. Aangaande die teoretiese komponent doen ek navorsing oor elektroniese leksikografie en opvoedkundige leksikografie. Opvoedkundige leksikografie is ’n ontwikkelende vakgebied wat met leesnavorsing, taalverwerwing, tweedetaalonderrig, linguistiek en leksikografie oorvleuel. Rakende die praktiese komponent van leksikografie was ek betrokke by die opstel van die aanlyn Drietalige SA Wynindustriewoordeboek en is ek tans projekbestuurder van ’n gratis, drietalige glossarium op ’n selfoon, naamlik MobiLex.
Ek wil jou graag vra oor Pharos se KABV-geskikte Grondslagfasewoordeboek. Ons leef in ’n ander tyd en ’n ander wêreld as toe ons ons self in die grondslagfase op skool bevind het. Kinders in die grondslagfase sal na alle waarskynlikheid eerder weet wat Google Translate is (en hoe om dit te gebruik) as hoe om ’n ordentlike woordeboek aan te wend. Wat is jou gedagtes hieromtrent?
Dit is een van die wanpersepsies wat Suid-Afrikaners het, want tydens die afgelope vakkongres van die African Association of Lexicography wat vanjaar op Stellenbosch aangebied is, het uitgewers dit weer eens benadruk dat die oorgrote meerderheid onderwysers en kinders in Suid-Afrika nie toegang tot elektroniese bronne het nie. Alhoewel al hoe meer woordeboeke oorsee elektronies uitgegee word, is Afrika nog nie gereed daarvoor nie. Die meeste onderwysers en ouers verkies gedrukte woordeboeke en koop dit wel nog aan. Ek het dus begrip vir waarom Pharos ’n gedrukte woordeboek uitgegee het.

Prent: https://pixabay.com/vectors/block-toy-alphabet-game-b-576505/
Ongeag jou gedagtes: Waarom wel ’n klein kindjie wat grootgeword het in ’n digitale wêreld met maskers, blootstel aan ’n papierwoordeboek? Hoe belangrik is ’n woordeboek nog vandag?
............
Woordeboeke is vandag, nog meer as ooit belangrik, gesien in die lig van die geweldige geletterdheidskrisis wat ons land in die gesig staar. Kenners is dit eens dat ons kinders se swak geletterdheidsvaardighede die afgelope twee jaar verder verswak het.
............
Woordeboeke is vandag, nog meer as ooit belangrik, gesien in die lig van die geweldige geletterdheidskrisis wat ons land in die gesig staar. Kenners is dit eens dat ons kinders se swak geletterdheidsvaardighede die afgelope twee jaar verder verswak het. Woordeboeke kan ’n ware opvoedkundige funksie vervul deur die geletterdheidsvaardighede van gebruikers, byvoorbeeld hul produktiewe vaardighede soos skryf en praat en reseptiewe vaardighede soos lees en luister, aktief te ontwikkel. Die ontwikkeling van denkvaardighede kan ook by die ontwikkeling van geletterdheidsvaardighede ingesluit word, veral waar dit na die toepassing van taalstrukture en -konvensies verwys. In die geval van woordeboeke wat op leerders in die grondslagfase, naamlik graad R tot 3, gemik is, is die teikengebruikers leerders wat oor ontluikende geletterdheidsvaardighede, veral ontwikkelende leesvaardighede, beskik.
Ek wil ’n pleidooi tot die Departement van Basiese Onderwys rig dat woordeboeke nie as aanvullende leermateriaal nie, maar wel as verpligte, voorgeskrewe leermateriaal in skole beskou word. Elke klaskamer moet oor ’n voldoende aantal woordeboeke beskik, sodat onderwysers dit daagliks in lesse kan integreer. As ander Afrika-lande dit kan doen, waarom nie ook ons nie?
Die Pharos Grondslagfasewoordeboek is geïllustreer met toepaslike prente, en dit werk goed vir kinders wat reeds op daardie brose ouderdom mooi verstaan wat ’n emoji is. Prentjies gaan sáám met woorde. Of hoe? Wat dink jy van ’n woordeboek met woorde en prente?
Prente doen meer as om net aandag te trek; dit is belangrik vir leerders in die grondslagfase dat ’n aantreklike kleurillustrasie ’n leerder se nuuskierigheid oor ’n woordeboek kan prikkel.
...........
Sig, as een van die vyf sintuie, speel ’n dominante rol in die kognitiewe en linguistiese ontwikkeling van die menslike brein. Mense is geneig om illustrasies of skematiese voorstellings te gebruik wanneer komplekse abstrakte verskynsels of feite aan die ontvangers van ’n boodskap oorgedra word.
................
Sig, as een van die vyf sintuie, speel ’n dominante rol in die kognitiewe en linguistiese ontwikkeling van die menslike brein. Mense is geneig om illustrasies of skematiese voorstellings te gebruik wanneer komplekse abstrakte verskynsels of feite aan die ontvangers van ’n boodskap oorgedra word. Illustrasies in leksikografiese werke kom ook reeds sedert die Middeleeue in sekere Franse, Spaanse, Italiaanse, Engelse en Duitse tweetalige woordelyste voor. Ook in Suid-Afrikaanse woordeboeke kom illustrasies taamlik algemeen voor.

Prent: https://pixabay.com/vectors/abc-alphabet-blocks-toy-148517/
Ek het jou gevra oor die kinders. Wat dink jy is die beste manier vir ’n onderwyser om die boek in die klas aan te wend?
Onderwysers kan ’n woordeboek doelbewus in die lesaanbieding integreer en dit as ’n teks in die klaskamer gebruik. Die Pharos Grondslagfasewoordeboek leen hom uitstekend daartoe, aangesien daar ’n klomp inligting oor ’n woord in die woordeboek verskyn en nie slegs vertaalekwivalente nie. Ek neem die onderrig van meervoude en verkleinwoorde as voorbeeld, aangesien dit een van die uitkomste van taalstrukture en -konvensies in die grondslagfase is. Die woordeboek verskaf meervoude en verkleinwoorde by selfstandige naamwoorde en die onderwyser kan die woordeboek as teks gebruik om die verskynsel aan kinders te leer. Die onderwyser leer kinders naslaanvaardighede sodat hulle weet hoe om ’n woordeboek te gebruik, en gevolglik behoort kinders spesifieke woorde (soos uitgesoekte selfstandige naamwoorde) as deel van ’n taakgebaseerde les te kan naslaan.
Dink jy dat ouers ook waarde in die boek sal vind vir alledaagse gebruik in die huis? Hoe sal mens hierdie boek nie net in die skool nie, maar ook by die huis, kan gebruik?
...........
Die aanleer van ’n woordeboekkultuur van ’n land is eerstens ouers en tweedens onderwysers se verantwoordelikheid. Kinders kan reeds van vroeg af aan woordeboeke in die ouerhuis blootgestel word (ons het pragtige prentewoordeboeke in Afrikaans), sodat hulle gewoond kan raak aan die gedagte om ’n woord in ’n woordeboek na te slaan.
.............
Die aanleer van ’n woordeboekkultuur van ’n land is eerstens ouers en tweedens onderwysers se verantwoordelikheid. Kinders kan reeds van vroeg af aan woordeboeke in die ouerhuis blootgestel word (ons het pragtige prentewoordeboeke in Afrikaans), sodat hulle gewoond kan raak aan die gedagte om ’n woord in ’n woordeboek na te slaan. Ouers kan dit spelenderwys aan kinders leer en daar kan prentewoordeboeke met pragtige volkleurillustrasies kinders se leergierigheid stimuleer.
Dié woordeboek het ook hier en daar oop bladsye, met die opskrif: My eie woorde. Hoe dink jy moet kinders hier te werk gaan?
Een van die uitkomste van taalstrukture en -konvensies in die grondslagfase is dat kinders hulle eie woordelyste moet saamstel, en die woordeboek verskaf dus geleentheid daarvoor. ’n Idee is om kinders aan te moedig om nuwe woorde wat hulle leer, daar neer te skryf. Dit gaan natuurlik van leerder tot leerder afhang hoeveel nuwe woorde daar neergeskryf word. ’n Ander idee, wat moontlik tot meer woorde in die woordelys kan volg, is dat die onderwyser woordeskat pertinent onderrig en leerders daagliks uitdaag met ’n nuwe woord, byvoorbeeld iets soos "die woord van die dag" (’n idee van Herman Beyer van die Universiteit van Namibië).

Prent: https://pixabay.com/photos/blocks-letters-alphabet-education-3629359/
In jou navorsing rondom die opvoedkunde: Dink jy jong kinders het nog ’n uitgebreide woordeskat? Anders gestel: Sal hulle noodwendig die woorde in hierdie woordeboek ken? Waarom, of waarom nie?
My aanname is dat kinders se woordeskat in Afrikaans geweldig gekrimp het die afgelope twee jaar, aangesien hulle minder en minder aan Afrikaans in die klas en in die media blootgestel word. Hulle sal dus goed kan baat vind by die woordeboeke.
Lesende kinders se woordeskat is meer uitgebreid en gevarieerd as nielesendes s’n. Kinders kan groot voordeel trek as ouers boeke aankoop en ook self boeke in die huis lees, wat ook bydra tot ’n leeskultuur.
Behalwe nuwe woorde, en vertalings, watter ander soort woorde sal kinders hier teëkom?
In hierdie woordeboek is daar ook grammatiese inligting, soos verbuigings van woord, woordsoortlike inligting en voorbeeldsinne sodat kinders kan sien hoe om die woorde prakties te gebruik en aan te wend.
Het jy enige kreatiewe woordspeletjie-idees vir die klaskamer en hoe mens die woordeboek daarvoor kan aanwend?
Woordeskatontwikkeling vind effektief plaas as onderwysers van blokraaisels en tematiese woordsoektogte (byvoorbeeld woorde oor emosies) gebruik maak. Onderwysers kan tegnologie inspan om maklike blokraaisels en woordsoektogte saam te stel.
............
’n Woordeboekresies, waar gekyk word wie eerste die woord in ’n woordeboek vind, is ook altyd gewild onder kinders.
............
’n Woordeboekresies, waar gekyk word wie eerste die woord in ’n woordeboek vind, is ook altyd gewild onder kinders.
Vir groter kinders kan speletjies waarin morfologiese afleidings gemaak word, gebruik word, byvoorbeeld "vorm ’n persoonsnaam van ’n selfstandige naamwoord”, waar "tuin" word "tuinier" ens. Dit skep woordbewustheid onder kinders.
Lees ook:
Die aap is uit die mou: Pharos se skoolwoordeboeke sal iets vir elke kind beteken

