
Prent van skatkis: OpenClipart-Vectors, Pixabay; boekomslag: NB-Uitgewers
................
Ander bykomende nuttige inligting vir gebruikers is intensiewe vorme (leiding met kruisverwysings), informele woorde, kort voorbeeldsinne en frases ter verduideliking van betekenisse, en talle algemene vaste uitdrukkings by die soekwoorde. Etikette vir vakgebiede, grammatika, gebruikstyl, figuurlike taalgebruik, herkoms van leenwoorde, versamelname, en manlike en vroulike vorme dra verder by tot die skatkis wat hierdie woordeboek bied.
..............
Senior tweetalige skoolwoordeboek
Pharos
ISBN: 9781868902149
Delana Fourie beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die nuwe Senior tweetalige skoolwoordeboek wat onlangs by Pharos verskyn het.
Pharos het onlangs nog ’n splinternuwe woordeboek uitgegee: die Senior tweetalige skoolwoordeboek. Waarom gee julle ’n woordeboek spesiaal vir leerders van graad 10 tot 12 uit?
Met hierdie woordeboek voltooi Pharos ná 12 jaar die volledige tweetalige skoolwoordeboekfamilie sodat leerders in elke skoolfase ’n pasgemaakte tweetalige woordeboek tot hul beskikking het, almal KABV-geskik: die Pharos Grondslagfasewoordeboek (graad 1–3), die Pharos Junior tweetalige skoolwoordeboek (graad 4–6), die Pharos Tweetalige skoolwoordeboek (graad 7–9) en die splinternuwe Pharos Senior tweetalige skoolwoordeboek (graad 10–12). Die voorstelle vir geskikte grade is bloot ’n aanduiding van watter woordeboek by die taalleerplanne en verskillende skoolfases vir Afrikaans en Engels pas.
Die Senior tweetalige skoolwoordeboek vir graad 10–12 bevat baie meer soekwoorde, betekenisonderskeidings, frases en gebruiksleiding as die woordeboeke vir die laer grade, aangesien daar taalgewys soveel meer van leerders in hierdie fase verwag word. Die woordeboek is geskik vir moedertaalsprekers van Afrikaans en Engels, asook vir leerders wat Afrikaans en Engels as eerste addisionele taal aanleer.
Hoe bepaal ’n mens in een bondige uitgawe watter woorde spesifiek geskik is vir hierdie ouderdom? Is dit woorde wat gereeld gebruik word, algemeen verkeerd gespel word, woorde wat leerders behoort te ken, woorde wat gereeld in skoolwerk voorkom, of wat is die kriteria in die keuse van woorde vir hierdie woordeboek? Dan ook, hoe het julle gekies watter woorde om uit te laat?
Woordeboekskrywers werk met ’n korpus, dit wil sê ’n groot databasis van tekste en woorde wat deur die teikengroep gebruik word. In die geval van skoolwoordeboeke bestaan die korpus uit die boeke wat leerders die meeste lees, dit wil sê skoolhandboeke vir die verskillende vakke, leesboeke en voorgeskrewe werke. Vir die senior woordeboek is Media24 se koerante en tydskrifte ook by die korpus gevoeg.
Die korpus word deur middel van rekenaarprogramme ontleed om te bepaal watter geskrewe woorde die meeste voorkom. Hierdie woorde word dan in ’n frekwensielys omgeskakel en van die mees tot mins gebruikte woorde georden. Om te bepaal watter woorde opgeneem gaan word, word daar na die gebruiksvoorkoms (frekwensie) van elke woord gekyk. ’n Standaardhandwoordeboek vir Afrikaans en ’n omvattende tweetalige woordeboek vir Afrikaans en Engels sou meer as 100 000 soekwoorde bevat. Skoolwoordeboeke kan op grond van frekwensietellings, asook bykomende taalinligting wat verskaf word, nie soveel soekwoorde (of elke moontlike woord in die taal) bevat nie. Omdat Pharos hoofsaaklik gedrukte woordeboeke maak, is daar ’n beperking in bladsyomvang, en ons moet dus ’n streep trek by ’n sekere gebruiksfrekwensie, dit wil sê wat in die gedrukte skoolwoordeboek gaan “inpas”.
Pharos se tweetalige woordeboek vir die Grondslagfase bevat byvoorbeeld die 2 000 mees frekwente soekwoorde in Afrikaans en Engels; die woordeboek vir die Intermediêre fase sowat 5 000 tot 6 000 soekwoorde, en ons twee hoërskoolwoordeboeke meer as 10 000 soekwoorde in albei tale.
Aangesien daar met ’n geskrewe korpus vir skoolleerders gewerk word, is daar baie woorde wat nié in skoolwoordeboeke sal verskyn nie, byvoorbeeld talle woorde wat in gesproke taal gebruik word, maar nie noodwendig in geskrewe taal frekwent is nie. Baie modewoorde, sleng, vloekwoorde en dergelike word uit skoolwoordeboeke weggelaat op grond van frekwensie in die geskrewe tekste. Baie spesifieke vaktaal en tegniese woorde sal ook nie frekwent genoeg voorkom om in skoolwoordeboeke opgeneem te word nie.
Wat maak hierdie woordeboek anders as ander skoolwoordeboeke wat toegespits is op ander lesers of naslaners?
Eerstens bevat hierdie woordeboek baie meer soekwoorde as ander tweetalige skoolwoordeboeke wat in die mark beskikbaar is – dié woordeboek, met sy meer as 50 000 soekwoorde, afleidings en samestellings in Afrikaans en Engels, is dus meer volledig en omvattend as ander skoolwoordeboeke.
Dit is ook die enigste tweetalige skoolwoordeboek wat spesifiek vir leerders in graad 10 tot 12 saamgestel is. Die woordeboek is gemik op die Suid-Afrikaanse mark, en leenwoorde uit ons plaaslike tale kan hier nageslaan word, met Suid-Afrikaanse betekenisse en gebruiksvoorbeelde. Daar word wel aangedui indien Amerikaanse spelling van dié van Suid-Afrikaanse Engelse spelling verskil.
’n Verdere kenmerk van hierdie tweetalige woordeboek is dat dit elemente van ’n eentalige (verklarende) woordeboek bevat. Die taalleiding aan hoërskoolleerders, veral wat grammatika en taalgebruik betref, is besonder uitgebreid in hierdie woordeboek – leerders kan dit daarom gebruik om inligting vir net een taal waarmee hulle werk, te verkry. Hoewel daar nie definisies soos in ’n verklarende woordeboek verskyn nie, word talle sinonieme en antonieme van die soekwoorde in dieselfde taal aangebied. Die vertalingselement van die woordeboek word sterk ondersteun deur die konteksleiding by verskillende betekenisse.
Ander bykomende nuttige inligting vir gebruikers is intensiewe vorme (leiding met kruisverwysings), informele woorde, kort voorbeeldsinne en frases ter verduideliking van betekenisse, en talle algemene vaste uitdrukkings by die soekwoorde. Etikette vir vakgebiede, grammatika, gebruikstyl, figuurlike taalgebruik, herkoms van leenwoorde, versamelname, en manlike en vroulike vorme dra verder by tot die skatkis wat hierdie woordeboek bied. Nuutskeppings van die afgelope paar jaar, byvoorbeeld rekenaar- en internetterme, asook gewilde woorde op sosiale media, alles met gepaste vertalings, is ook opgeneem.
Wat dié boek verder uniek maak, is die netwerk van kruisverwysings, wat byvoorbeeld help met begrip oor woordfamilies, dus hoe afleidings deur middel van voorvoegsels en agtervoegsels gevorm word. (Kyk verderaan vir meer inligting hieroor.)
Aan die einde van die woordeboek is daar ’n bonusbylaag met idiome en spreekwoorde, met kort verklarings en vertalings.
Hoe dink julle sal leerders die beste taalleiding kry deur die woordeboek te gebruik, en hoe kan leerders se woordeskat deur middel van hierdie woordeboek uitgebou word?
Die woordeboek is veral geskik vir leerders in die VOO-fase en dek dus hierdie fase se vereistes vir taalleer in albei tale. Die woordeboek sal ’n onontbeerlike naslaanbron wees wanneer leerders taalaktiwiteite en vertaalwerk doen. Die woordeboek bevat meer as 50 000 soekwoorde in Afrikaans en Engels (wat homonieme, afleidings en samestellings insluit), en nog duisende bykomende woorde in die vorm van intensiewe vorme, sinonieme, antonieme, akronieme en verkortings.
Soos in ’n verklarende woordeboek, kan leerders heelwat grammatikale inligting kry ten opsigte van woorde se standaardspelling, spelvariante, lettergreepverdeling (aangedui deur klein kolletjies), hoofklem (aangedui deur onderstreping) en woordsoortelike funksie. By elke soekwoord kan die gebruiker ook die toepaslike inligting oor woordverbuiging kry, dit wil sê meervoude, verkleinwoorde, trappe van vergelyking, verlede tyd en deeltjiewerkwoorde.

Woordsoorte (afgekort) word by elke soekwoord, samestelling en afleiding aangedui, en by voornaamwoorde word die subkategorieë (byvoorbeeld persoonlik, aanwysend, betreklik, vraend) ook gegee.

Etikette gee verdere leiding oor grammatika, byvoorbeeld of woorde slegs in die enkelvoud of meervoud voorkom, of oor die attributiewe en predikatiewe gebruik van byvoeglike naamwoorde. Ander etikette gee inligting oor vakgebiede, geografiese gebruik, tale van herkoms (Europese, Oosterse en Afrikatale), versamelname, manlike en vroulike vorme en gebruikstyl, byvoorbeeld formele, informele en figuurlike taalgebruik.

Die talle leenwoorde uit ander tale, woordfamilies, frases en vaste uitdrukkings dra verder by tot leerders se woordeskatuitbreiding in albei tale.
Wat die vertalende komponent betref, word die gebruiker spesifiek gelei om die beste vertaling vir die soekwoord te bepaal. Verskillende betekenisvelde en subbetekenisse is genommer en georden van die mees letterlike betekenis en vertaling tot die meer figuurlike betekenisse en vertalings, wat bydra tot woordeskatuitbreiding en groter taalbegrip. Verder kry die gebruiker ook konteksleiding tussen hakies ná die verskillende betekenisonderskeidings se vertalings, sodat die regte vertaling in spesifieke kontekste gekies kan word. Dikwels word kort gebruiksfrases of voorbeeldsinne gegee vir meer duidelikheid.

Die woordeboek bied verder ’n magdom algemene frases, kollokasies en vaste uitdrukkings wat nie direk vertaal kan word nie – so kry die leerder leiding oor hoe om frases en uitdrukkings korrek na die teikentaal te vertaal.

Woordfamilies (die basiswoord met al die afleidings) en samestellings word binne een inskrywing behandel, sodat gebruikers die verbande tussen woorde duidelik kan sien. Elkeen van hierdie afleidings en samestellings is volledig bewerk met grammatikale inligting, verdere verbuigings, woordsoort en vertaling(s).

Die woordeboek bevat ’n dig geweefde netwerk van kruisverwysings (aangedui met pyltjies) wat uitstekende verdere taalleiding bied. Daar is verskeie tipes kruisverwysings om woordeboekgebruikers met die regte vertaling te help.
Woorde in woordfamilies se spelling volg nie altyd die alfabetiese volgorde nie (byvoorbeeld deel > deler, deling; thief > theft; famous > fame) en die gebruiker kry dus leiding deur kruisverwysings.

Daar word ook na basisvorme by verlede deelwoorde met =ge=, of wat deur klinkerverandering gevorm is, kruisverwys (byvoorbeeld aangeneem/aangenome > aanneem; gesog > soek). Soms sien leerders attributiewe vorme en meervoude in leestekste waar daar spelverskille is, en by sulke woorde word hulle teruggelei na die basisvorm (byvoorbeeld droë > droog; nuwe > nuut; sake > saak; tawwe > taf). Aan die Engelse kant word onreëlmatige werkwoorde (“irregular verbs”) met spelverskille ook kruisverwys (byvoorbeeld flew, flown > fly).

Soms lees aanleerders van Afrikaans skeibare werkwoorde (deeltjiewerkwoorde) in tekste, wat verwarrend kan wees wanneer hulle nie verstaan hulle lees eintlik een werkwoord wat in twee dele in ’n sin in die leesteks geskei is nie. Wanneer die leerder dan die woord naslaan en nie die regte of ’n sinvolle vertaling vind nie, kan hulle na die kruisverwysings kyk om na die regte soekwoord gelei te word (byvoorbeeld bring > aanbring, bybring, meebring, saambring en klim > afklim, inklim, opklim, uitklim).

Nog ’n nuttige kruisverwysingstelsel is vir intensiewe vorme. Niemoedertaalsprekers (én dikwels ook moedertaalsprekers) van Afrikaans weet nie altyd wat die intensiewe vorm vir ’n woord is nie, en weet dus nie waar om dit na te slaan nie. In hierdie woordeboek kan leerders die basiswoord naslaan, en hulle word dan na die intensiewe vorm elders in die woordeboek verwys, met geskikte vertalings in Engels (byvoorbeeld wit > melkwit of spierwit). By die intensiewe vorm word ook intensiewe sinonieme en antonieme gegee indien van toepassing.

Wanneer gebruikers die woordeboek eers optimaal begin gebruik, sal hulle besef hoeveel taalleiding in beide tale op ’n baie kompakte en geïntegreerde wyse aangebied word.
Skoolwoordeboeke bevat dikwels voorbeelde om ’n woord se betekenis te verduidelik. Is julle voorbeelde in hierdie woordeboek eietyds om tot jonger lesers te spreek?
Die Senior tweetalige skoolwoordeboek bied konteksleiding tussen hakies of voorbeelde waar daar meer as een betekenisveld vir ’n woord is en daar verwarring oor die vertaling kan wees. Sover moontlik is eietydse voorbeelde gegee, op ’n vlak wat tot hierdie ouderdomsgroep (asook ouer gebruikers) sal spreek.

Die woordeboek bevat ook heelwat informele woorde wat dikwels op sosiale media gebruik word (soos cool, bra, paartie, zilch) en nuutskeppings wat as betekenisuitbreidings van bestaande woorde ontstaan.

Is hierdie ’n woordeboek vir sogenaamde standaardtaalsprekers? Wat van leerders wat ander variëteite van Afrikaans gebruik? Of is die boek juis daarop toegespits om leerders toe te rus om te weet wat die regte spelwyse van woorde is as hulle byvoorbeeld leer of vraestelle beantwoord?
Skoolwoordeboeke is spesifiek daarop gerig om leerders te help met standaardtaal (in Afrikaans én Engels), vir huistaalleerders sowel as aanleerders van Engels en Afrikaans. Pharos se Senior tweetalige skoolwoordeboek ondersteun dus die Standaardafrikaans en Standaardengels wat deel is van die Suid-Afrikaanse skoolleerplan. Leerders moet inligting oor standaardgrammatika, standaardspelling, verskeie betekenisse vir een woord, asook vertalings van verskillende betekenisvelde wat op standaardkommunikasie gerig is, kan naslaan.
Informele of niestandaardtaal, insluitend variëteite, streekstaal, woorde wat net onder sekere subkulture voorkom, informele leenwoorde en tienertaal, kom nie baie frekwent in geskrewe skooltekste voor nie, maar daar is tóg van hierdie woorde in die Pharos Senior tweetalige skoolwoordeboek as soekwoorde of vertalings opgeneem. Hierdie woorde en vertalings is met toepaslike etikette gemerk om die konteks aan te dui.

Kinders is so ervare met die internet. En daar is báie meer woorde aanlyn as in ’n woordeboek. Wat is die relevansie van hierdie woordeboek vandag?
Die internet bied ’n groot databasis wat met vrug gebruik kan word vir allerlei navrae, veral algemene kennis en inligting oor talle onderwerpe. Die internet is ’n oseaan van inligting – die gebruiker moet van webwerf na webwerf beweeg en soek om inligting te kry. In ’n versorgde naslaanteks soos ’n gedrukte woordeboek het kundiges reeds al die (taal)navorsing gedoen en op kompakte wyse byeengebring en verpak. Dit gee dus meer sekure leiding in ’n bepaalde rigting as om met ’n algemene soektog te hoop jy tref iewers die kol.
Woordeboeke weerspieël taalgebruik soos gepraat deur sprekers, op enige gegewe tydperk in die ontwikkeling van ’n taal of tale. Dit is ’n rekord, ’n optekening van taal. ’n Vertalende woordeboek is daarby ook die optekening van kontak tussen spesifieke tale, dus dien dit op sosiolinguistiese vlak ’n belangrike doel. Woordeboeke is stabiel en word beskou as formele en blywende erkenning van taalontwikkeling en taalverandering, terwyl die internet baie meer vloeiend, soms selfs verbygaande en vlietend is. Al is woordeboeke, hetsy gedruk of aanlyn, stabiel of staties, kan hulle steeds voortdurend bygewerk word om taalontwikkeling te weerspieël. Pharos se woordeboeke, as formele rekord van ons tale, is gesaghebbend, gerekend en betroubaar.
Taal is ʼn “kode”, en wanneer jy hierdie kode leer ontsluit, maak dit ander wêrelde vir jou oop, wêrelde wat jy gestruktureerd kan verken. Woordeboekwerk is ʼn toepassing van ander kennis en vaardighede wat ʼn gebruiker al opgedoen het. Dit ondersteun leesvaardighede, skryfvaardighede en algemene taalvaardigheid vir toekomstige navorsingsvaardighede. ’n Woordeboek help leerders van jongs af om stap vir stap volgens hul leesvaardigheid naslaanwerk te doen, om taalpatrone en spelpatrone raak te sien en byvoorbeeld self te begin voorspel hoe onbekende woorde gespel moet word. Deur woordeboekwerk leer leerders vroeg al basiese vaardighede soos alfabetisering aan en bou dit op tot die ontsluiting van spesifieke inligting in enige vakgebied.
Beide verklarende en vertalende woordeboeke gee geweldig baie inligting, op betekenisvlak, maar ook oor allerhande ander tegniese aspekte van taal. Verder ontsluit woordeboeke soveel moontlikhede wanneer leerders en studente uiteindelik in enige veld denkbaar moet werk en hulself vakkundig moet kan uitdruk. ʼn Woordeboek bring al die aspekte van taalgebruik op een plek bymekaar en word dan weer die instrument om die gebruiker se akademiese ontwikkeling te steun.
Is die boek ’n goeie geskenk vir ’n hoërskoolkind? Kan skole wat hul sout werd is, oorweeg om hierdie boek aan te skaf sodat dit tot hul leerders se naslaanbeskikking is?
Die Senior tweetalige skoolwoordeboek is enig in sy soort, en bied werklik ’n skatkis van taalkennis op een plek aan. Dit is nie net ’n klomp alfabeties gelyste woorde nie. Dit bied ou woorde, nuwe woorde, grammatika-inligting, taalleiding, vertaalleiding, konteksleiding, gebruiksleiding en selfs vakleiding, dus alles wat leerders in Afrikaans en Engels nodig het vir taaloefeninge, begripstoetse, vertaling, ontsluiting van leestekste, figuurlike gebruik, letterkundige begrip en meer, op skoolvlak tot matriek. Die woordeboek sal ook onontbeerlik wees vir voorgraadse studente in tale en opvoedkunde.
Wanneer dit by tweetalige leiding ten opsigte van taalgebruik kom (vir leerders en studente van Afrikaans en Engels), is die Pharos Senior tweetalige skoolwoordeboek ’n nagevorste, gestruktureerde naslaanwerk wat as standaard gebruik kan word. Hierdie woordeboek bied ’n balans tussen die skoolleerplan en taalstandaarde aan die een kant, en die bybly met en optekening van hedendaagse woorde aan die ander kant.
Is die gedrukte woordeboek geredelik beskikbaar vir skole, onderwysers, studente, ouers, tuisleerders en ander belangstellendes? Is dit ook digitaal beskikbaar?
Hierdie woordeboek is wyd in die algemene handel by goeie boekhandelaars beskikbaar. Die gedrukte boek kan ook deur ’n aanlyn portaal bestel word.
Die woordeboek sal in 2024 digitaal op PharosAanlyn beskikbaar gestel word. Skole en enkelgebruikers kan teen ’n jaarlikse intekengeld toegang tot verskeie woordeboekpakkette kry. Die skolepakket bied vir onderwysers en leerders toegang tot 14 algemene en skoolwoordeboeke, waaronder die Pharos Senior tweetalige skoolwoordeboek.
Meer inligting kan direk op die PharosAanlyn-webwerf verkry word by www.pharosaanlyn.co.za. Al die PharosAanlyn-woordeboeke kan vir 14 dae gratis op die proef gestel word.
- Alle grafika is verskaf en verskyn met toestemming

