CS Lewis is die skrywer wat bekend is vir sy boeke Surprised by joy (1955), Mere Christianity (1944) en vele ander. Hy het ook bekendheid verwerf as die skrywer van wie se boeke flieks gemaak is, soos die Narnia-reekse.
CS Lewis was getroud met Joy Davidman en sy is aan kanker oorlede. Na haar oorlye het hy ’n dagboek geskryf met die titel A grief observed. Dis in 1961 gepubliseer, en die verhaal van sy lewe met Joy, haar dood, en sy reaksies, is deur Richard Attenborough in die fliek Shadowlands voorgestel.
A grief observed is ’n intense boek, en die dagboeknotas bevat soveel wat van belang is vir mense wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het.
Ek bied hier my notas oor CS Lewis se boek aan, en die idee dat mens jou eie rou kan waarneem en daaroor kan dink. Hierdie skrywe is hopelik ’n inspirasie wat gesprekke oor die dood van ’n geliefde kan voortsit en hoe mense maniere van skryf doen om emosionele swaar te verwoord.
My vrou is op 28 Maart 2023 in ’n gru-aanval vermoor. Sedertdien is ons as familie gevul met trauma en seer, en neem ons eie rou waar op maniere wat vir ons ongekend is. Die notas is deel van my herstelpad.
Mens kan nie anders as om CS Lewis se dagboeknotas in A grief observed te bewonder nie – hulle is uitnodigend, inspirerend, uitlokkend, konfronterend, en liefdevol. Mens kan nie ophou lees nie. Die teksweergawe in my besit is vol kringe, onderstrepings, af-pyltjies wat gedeeltes merk wat my getref het, op-pyltjies by dele wat ek dink my hoogtes in neem, emojigesigte, vraagtekens, traandruppels en vatmerke.
Wat doen mens wanneer jy dagboek skryf na die dood van ’n geliefde? Waar begin jy?
In hierdie bydrae neem ek spesifieke passasies uit A grief observed, in geen uitgewerkte volgorde nie, maar gelei deur waar ek bevind het tydens die lees van die dagboek. Ek vermoed hierdie notas kan mense wie se geliefdes oorlede is, help om hulle eie ervarings van rou waar te neem, en te leer om daarmee saam te leef.
Besoek aan gunstelingplekke
Op bladsy 11 van sy dagboek vertel Lewis dat hy bang was om na sy en H, sy oorlede vrou, se gunstelingplekke toe te gaan. Hy het egter besluit om dit tog dadelik te doen, maar dit het vir hom onverwags geen verskil gemaak nie. Haar afwesigheid het hom nie meer empaties gemaak in sulke plekke as in ander nie. Haar afwesigheid was vir hom soos die lug, die hemelruim, verspreid oor alles. Hierdie besef is nie so akkuraat nie, skryf hy. Haar afwesigheid kom eerder tuis by hom, sy liggaam as die liggaam van H se minnaar wat nou soos ’n leë huis is, en weer hopelik belangrik sal word vir hom.
.........
Haar afwesigheid was vir hom soos die lug, die hemelruim, verspreid oor alles.
.........
Dis ’n vraag wat almal wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, sekerlik vra. Dit bly ’n swaar tyd, en die afwesigheid ondraaglik. Jy kan na gunstelingplekke toe gaan, en weet dit kos baie moed. Mens hoop jou verlies word draagliker. Ten minste is dit ’n troos dat afwesigheid oral is, verspreid oor alles, soos Lewis sê. Jy kan die afwesigheid ervaar as fisiese leegheid, as gebrokenheid. Dan hoop jy dat die leë huis weer belangrik sal word vir jou.
Voortgesette, verbeterde lewe?
Na die dood van ’n vriend skryf Lewis in sy boekie op bladsy 8 dat hy ’n sekerte gehad het oor sy voortgesette en verbeterde lewe. Dit het Lewis laat smeek: om een honderdste van dieselfde sekerheid oor H te kry, maar daar was geen antwoord van enigiemand nie, net die geslote deur, die ystergordyn, die vakuum; absolute zero. Hy sê hy het geleer: Hulle wat vra, ontvang nie. Lewis skryf dat hy ’n dwaas was om te vra, en al sou die versekering toe gekom het, sou hy dit nie vertrou het nie. Dit sou ’n selfhipnose wees, geïnduseer deur sy eie gebede.
Hierdie is ’n geslote-deur-gevoel. Mense wat treur ná die traumatiese dood van ’n geliefde, het sekerlik gebede om hulle geliefde weer te sien. Ten minste is daar fotoherinneringe, sosialemedia-apps, WhatsApps van kinders en van soveel mense wat die verlies saam met hulle betreur.
Maar in Lewis se geval het hy die behoefte gehad, ten minste in sy gebede, om dieselfde sekerheid wat hy oor sy vriend se voortgesette lewe gehad het, ook oor sy oorlede vrou te kry, al is dit net ’n honderdste deel van dieselfde versekering. Dit was vir hom ’n saak van gebed. Mense kan hierna smag, daaroor vra en versoek. Maar dit bly onmoontlik.
Watter beeld van jou oorlede geliefde het jy?
Op bladsy 17 het Lewis pragtige beskrywings van sy vrou: “Haar smaak vir die vreugdes van sin en intellek en gees was vars en ongerep.” Hy voel hy wil meer oor haar dink en minder oor homself. Hy sê dat hy byna deurentyd aan haar dink: die feite van haar, haar werklike woorde, voorkomste, lag, en wat sy doen. Maar hierdie is sy eie gedagtes wat hy kies en groepeer. ’n Maand na sy vrou se dood het hy reeds al hoe meer aan haar gedink as ’n verbeelde vrou. Dit laat hom vol vrae. Wat gaan word van sy konstruksies van haar, want sy en die werklikheid is nie daar om hom te kontroleer nie. Sy is nie daar om, soos in die verlede, altyd onverwags as haar eie deeglike self, hom as Lewis te kontroleer nie.
Die vrae wat Lewis hier vra, is van belang vir almal wat sonder ’n geliefde lewe. By hierdie vrae kan mens nog voeg: Wat is die mooi van jou geliefde en hoe mis jy dit? Hoe kan jy keer dat jou gedagtes nie al meer jou eie konstruksies word nie? Hoe kan jy die mooihede vind in foto’s en filmpies met beweging, klanke en stemme, en in gesprekke met mense wie se lewens jou geliefde geraak het?
Hoe gaan jy jou geliefde onthou?
Op bladsy 19 skryf Lewis dat hy wonder hoe hy sy vrou gaan onthou. Hy skryf daaroor na analogie van ’n vriend wat hy die eerste keer sien na tien jaar, en dat hy binne die eerste vyf minute die herinneringe wat hy van sy vriend gehad het, verbrysel het. Hy het vergeet waarvan sy vriend gehou het, hoe hy gedink het, sy kopbewegings en so meer. Dis nie dat hy verander het nie, maar al die herinneringe wat hy gehad het, het vervaag. Wat hierdie beeld van hom was, is alles vervang met sy teenwoordigheid in die oomblik. Die beeld wat hy vir tien jaar gedra het, was verbasend verskillend van toe.
........
Lesers wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, hoop sekerlik ook dat die beeld wat hulle het, nie ook so gaan verander nie. Dit gebeur dalk reeds? Vir Lewis is dit soos sagte sneeuvlokkies van herinneringe wat stadig plaasneem op sy beeld van sy oorlede vrou. Dit maak dat haar ware beeld teen die einde verborge is, besef hy.
........
Lesers wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, hoop sekerlik ook dat die beeld wat hulle het, nie ook so gaan verander nie. Dit gebeur dalk reeds? Vir Lewis is dit soos sagte sneeuvlokkies van herinneringe wat stadig plaasneem op sy beeld van sy oorlede vrou. Dit maak dat haar ware beeld teen die einde verborge is, besef hy.
Hieroor klink Lewis tog hoopvol, en onseker. Hy sê tien minute, tien sekondes van die ware H kan dit alles regstel. Selfs al word hy tien sekondes gegun, sal die sneeuvlokkies van sy indrukke en selektiewe herinneringe een sekonde later weer op sy beeld van haar begin val. Die growwe, skerp, reinigende persoon van haar andersheid sal dan weg wees.
Lewis se relaas oor die vraag: “Wat word van die beeld wat ’n mens oor jou oorlede geliefde het?” is skerpsinnig. Dit bly moeilik – beelde in mens se geheue vervaag. In die tye waarin ons lewe, is daar gelukkig letterlik duisende foto’s in gedrukte en elektroniese vorm wat mens beelde help onthou en bou.
Lewis is reg: Mens se beelde in jou kop vervaag, en jou selektiewe herinneringe sak neer op die beeld wat jy vorm van jou geliefde. Maar dan is dit goed om woorde te hê om oor jou geliefde te praat – sy oorlede vrou was “’n growwe, skerp, reinigende persoon in haar andersheid …”
Onverwagse gevoel van ligtheid
Mens kan Lewis se beskrywing op bladsy 44 oor sy onverwagse gevoel van ligtheid waardeer. Hy sê dat iets eendag onverwags gebeur het. Hy het so ’n gevoel gehad een vroegoggend, ’n ligter gevoel as in weke. Na ’n tyd van grys weer, ’n besige lewe, het hy die minste oor H getreur, en haar die beste onthou. Dis nie duidelik wat hy hier bedoel nie. Dit klink asof hy die ligter gevoel ervaar het as iets wat (amper) beter was as ’n herinnering; ’n oombliklike en onbeantwoordbare indruk. Dis nie asof dit soos ’n ontmoeting was nie, alhoewel hy dit so sou kon beskryf. Maar dit was vir hom asof die ligter ervaring van seer wat hy gehad het, ’n versperring gelig het.
Hierdie belewing laat my wonder: Hoe is dit dat ’n emosionele ervaring versperrings om jou seer kan lig? Seer voel dikwels oop en wyd en intens. Wat is die ligter ervarings dan?
Rou voel soos spanning
Lewis skryf op bladsy 47 dat hy begin verstaan het hoe rou soos spanning voel. Dit kom van frustrasies met impulse wat gewoontes geword het. Een gedagte na die ander, een gevoel na die ander, een aksie na die ander van hom, het sy oorlede vrou as teiken gehad, en nou is sy weg. Hy het aangegaan met sy gewoontes, met elkeen wat hy beskryf as ’n pyl in ’n boog. Hy onthou dat hy die boog moes neerlê, want daar was voorheen so baie paaie wat na H toe gelei het, en nou is daar net baie doodloopstrate.
Mens kan wonder hoe rou soos spanning voel? Veral as jy steeds in stukke voel. Die beeld van pyl en boog help, want as jy nie die boog neersit en ophou skiet nie, bring dit spanning. Soms kan mense met jou eie beelde werk wat rou minder soos spanning kan laat voel, soos om kubusklippe in rantjies bymekaar te maak. Dieselfde klippe wat rowers gebruik om iemand mee dood te maak vir ’n selfoon, kan bymekaar gesit word en ’n geheel vorm wat helende krag het. So wil jy jou rou verby doodloopstrate laat gaan, sodat jy nuwe betekenisse van dood en lewe kan maak.
Herinneringe as doodloopstrate
Op bladsy 47 sê Lewis dat van sy gedagtepaaie wat na H gelei het, doodloopstrate geword het, omdat sy nie meer daar is nie. Hy skryf dat ’n goeie vrou uit soveel vroue bestaan, soos die persoon van dogter, moeder, leerling, onderwyser; sy onderdaan en heerser wat hy bymekaar gehou het as sy vertroude kameraad, vriend, skeepsgenoot, medesoldaat en sy minnares. Hierdie is so ’n mooi getuienis van Lewis. H moes spesiaal gewees het.
Sulke herinneringe van jou oorlede geliefde wil mens vertroetel, want dit bring warmte en liefdevolle herinneringe. Elke herinnering is nie ’n doodloopstraat nie, maar ’n oop straat, ’n nuwe gesprek, en jy wil jou oorlede geliefde vashou as genoot, vertroueling, versorger en baie meer.
Passievolle rou
Op bladsy 49 skryf Lewis oor wat hy noem passievolle rou. Hy sê dat hy ontdek het dat dit ons nie verbind met die dode nie, maar ons van hulle afsny. Dit word vir hom al hoe duideliker – dis in sulke oomblikke dat hy die minste hartseer voel. Hy skryf dat dit soms gebeur het dat H tydens sy oggendbad in sy gedagtes inkom, in haar volle werklikheid, haar andersheid. Anders as in sy slegte oomblikke waartydens hy haar deur sy mistroostigheid verkleineer en pateties maak, sien hy haar hoe sy uit eie reg is. Dis goed, en vir hom ’n tonikum.
Goed vir mens om te oorweeg wat passievolle rou is – dis rou waar jy jou geliefde sien soos sy is. Dis ’n vorm van rou wat jou nie van jou geliefde afsny nie. Rou-ervarings wil mens beleef as goeie ervarings, as ’n tonikum wat jou nog nader aan jou geliefde bring. Dit kan mens regkry deur stil plekke te vind, mooi herinneringe op te roep, en die volle andersheid van jou geliefde te waardeer.
Hoe kan jy jou seer oorkom
Op bladsy 52 maak Lewis die stelling, nadat hy geskryf het oor God wat met sy geloof geëksperimenteer het, dit voel vir hom of God hom in moeilike omstandighede geplaas het as beskuldigde, getuie en regter alles tegelyk, terwyl Hy altyd weet dat sy (Lewis se) huis ’n kaarthuis is. Lewis meen dat God juis jou huis platslaan wanneer hy dink oor rou, en wat hy daarvan maak. God doen dit om die kwaliteit van sy geloof en liefde te toets.
Dan vra Lewis: Kan hy sy seer oorkom? Dit laat hom dink aan ’n pasiënt na ’n blindedermoperasie. Die pasiënt moet gesond word, anders sterf hy. Hy sal dit dan waarskynlik oorkom, maar pyn sal bly en sy daaglikse lewe van slaap, bad, opstaan en herhalende pyne sal bly. So ’n operasie verander die persoon se lewe, en al die genietinge en aktiwiteite wat hy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, skryf hy gewoon af. Sy verpligtinge ook.
........
Soos die pasiënt na sy operasie, wil Lewis graag beter voel na sy vrou se dood. Hy kan nie regtig sê hy voel beter nie, want daarmee kom ’n sekere skaamte, en ’n gevoel dat hy onder ’n sekere verpligting is om sy ongelukkigheid na sy geliefde se dood te koester en aan te wakker.
........
Soos die pasiënt na sy operasie, wil Lewis graag beter voel na sy vrou se dood. Hy kan nie regtig sê hy voel beter nie, want daarmee kom ’n sekere skaamte, en ’n gevoel dat hy onder ’n sekere verpligting is om sy ongelukkigheid na sy geliefde se dood te koester en aan te wakker. Dit staan in boeke geskrywe dat dit moontlik is, skryf Lewis, maar dis moeilik om dit self te voel. Hy het hier ’n duidelike besef dat sy H dit nie sou goedkeur dat hy sy ongelukkigheid so voortsit nie.
Mens kan hierdie gesprek tussen Lewis en sy vrou waardeer. Hy herinner homself waaroor sy sterk gevoel het, en hoe sy haar opinies sou wou uitspreek. Die punt hier is dat mens nie jou rou kan oorkom soos iemand sy blindedermoperasie oorkom nie.
Voel jy al beter?
Hierdie vraag kry mense heel dikwels in rou en seer na die dood van ’n geliefde. Beter voel, sê Lewis op bladsy 53, is nie iets wat hy wil ontken nie, alhoewel hy erken dat daarmee saam ’n soort skaamte gaan, en ’n gevoel dat ’n mens onder ’n sekere verpligting is om sy ongelukkigheid te vertroetel en te laat aanhou. In boeke skryf mense dat rou en die rouproses wel so werk, maar Lewis sê dat hy nooit gedroom het dat hy self so sou voel nie. Hy meen H sou dit nie goedkeur nie, en sou vir hom gesê het om nie ’n dwaas te wees nie. Lewis is byna seker dat God ook so sou sê.
By hierdie passasie leer mens om vrae of jy beter voel, ligtelik op te neem. Jy ervaar jou voortgesette ongelukkigheid met al die emosies wat daarmee saamgaan. En leef daarmee saam.
Wanneer die hel van jou rou opnuut verskyn
Lewis skryf op bladsy 56 dat die hel van sy jong rou een aand weer eens teruggekom het. Dit het gebeur met mal woorde, bitter verwyte, fladderings in sy maag. Dit was die onwerklike nagmerrie met ingespoelde trane. Hy sê rou “bly nie staan nie”. Dit hou aan opnuut ontstaan in fases, maar word herhaal, en gaan om en om. Hy vra: Gaan sy rou in sirkels, of is dit ’n spiraal wat iewers heen lei?
Die spiraal van rou kan op of af gaan, sê Lewis. Hy vra of dit vir altyd aanhou. En hoe dikwels sal die groot leegheid hom verbaas as ’n volledige nuwigheid? Dit laat hom sê: “Ek het nooit my verlies besef tot op hierdie oomblik nie.” Dieselfde been word keer op keer afgesny; die eerste steek van ’n mes in jou vlees voel jy oor en oor.
Mens wonder of ’n tyd van rou saamgaan met scenario’s. Of is dit inderdaad soos messteke van seer gevoel wat herhaalde kere daar is? Jou been van verlies en hartseer word oor en oor afgesny.
Kan treur iets verkeerd doen aan jou?
Op bladsy 55 skryf Lewis dat hy ballades en volksverhale hoor waarin die dooies vir mense vertel dat treur iets verkeerd doen aan hulle, en dat mense dan gevra word om dit te stop. Lewis wonder of baie hiervan nie te doen het met rituele van treur en hartseer nie, soos om grafte te besoek, herdenkings te doen, of ’n kamer te besoek waar die een wat oorlede is, gewoon het. Of om in ’n sagter stem te praat wanneer jy oor ’n afgestorwe persoon praat. Dit maak die oorledenes meer dood, sê hy, en is ’n preokkupasie wat doodheid beklemtoon. Hy verkies om nie hierdie sienings te deel nie, maar om eerder sy asem te spaar om sy eie warm pap koud te blaas. Hy wil so dikwels as moontlik na H terugkeer, en in blydskap. Hy sê: “Hoe minder ek oor haar treur, hoe nader blyk ek aan haar te wees.”
Kan treur verminder?
Bladsy 56: Die moontlikheid om terug te keer en minder oor sy vrou te treur, is prysenswaardig, maar dit kan nie gedoen word nie, sê Lewis. “Vanaand het al die helle van ’n jong rou weer oopgegaan …” Die mal woorde, bitter verwyt, fladderende maag, nagmerrie-onwerklikhede en neerslagtige trane – in rou bly niks op een plek nie. Alles word herhaal, kom terug, in sirkels …
Dagboek help keer totale ineenstorting
Die dagboek wat Lewis geskryf het – so skryf hy in die laaste hoofstuk – was sy verweer teen totale ineenstorting; ’n veiligheidsklep wat vir hom ten goede gewerk het. Dit is die werklikheid waar almal wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, gekonfronteer word met totale ondergang, agteruitgang, ontreddering. Hierdie werklikheid kan mens beskryf met sinonieme soos afstomp, in ’n zombie verander, geruïneer voel, en so meer. Lewis se skrywe van die boek was sy manier om te reageer op die werklikheid van sy ervaring van sy vrou se dood.
........
Die dagboek wat Lewis geskryf het – so skryf hy in die laaste hoofstuk – was sy verweer teen totale ineenstorting; ’n veiligheidsklep wat vir hom ten goede gewerk het. Dit is die werklikheid waar almal wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, gekonfronteer word met totale ondergang, agteruitgang, ontreddering.
........
Seer is vir hom ’n proses, nie ’n kaart nie; ’n geskiedenis wat hy nie kan ophou skryf nie. Daar is elke dag iets nuuts om tot verhaal te bring, om op te skryf, meen Lewis. Rou is soos ’n lang kronkelende vallei waar elke draai ’n geheel nuwe landskap vertoon, alhoewel nie almal dit doen nie. Soms, in sy ervaring, is daar nie nuwe landskappe nie, en dan wonder hy of die vallei nie ’n sirkelvormige sloot is waar landskappe dieselfde bly en hy by plekke kom wat hy gedink het hy nie nagelaat het nie. Maar dit is nie. In die geskiedenis van sy treur is daar gedeeltelike herhalings, maar die sekwens herhaal hom nie.
Rou is ’n geskiedenis
Ek was dadelik getref, geagte CS Lewis, deur jou stelling op bladsy 59 dat jou hele boek jou verweer is teen totale ineenstorting; ’n soort veiligheidsklep teen wegraak in rou. Jy sê jou boekie doen wel iets goeds. Jy besef die rou is nie ’n toestand of ’n plek nie, maar ’n proses. Dis nie ’n kaart nie, maar ’n geskiedenis.
........
Jy besef die rou is nie ’n toestand of ’n plek nie, maar ’n proses. Dis nie ’n kaart nie, maar ’n geskiedenis.
........
Hoe kan rou ’n geskiedenis wees? Watter een? Wie s’n?
Lewis skryf dat sy geskiedenis van hom en H elke dag iets het wat hy wil boekstaaf, elke dag. En dit is vir hom soos om in ’n lang vallei te wees, waar elke draai ’n geheel nuwe landskap kan openbaar, en om so sy en haar se geskiedenis te lewe.
Die geskiedenis van mens se eie rou is vol landskappe wat om elke draai geheel nuwe openbarings is. Om elke hoek en draai van jou lewe as oorblywende. Die geskiedenis skep mens, in al jou vierings, herinneringe in landskappe van mooi. Dis ook ’n geskiedenis wat oop is vir nuwe horisonne en landskappe.
Wat van jou weggeneem is
Op bladsy 61 vra Lewis sy geliefde H of sy geweet het hoeveel sy van hom weggeneem het toe sy hom verlaat het. Hy sê: “Jy het my gestroop, ook van my verlede, selfs van die dinge wat ons nooit gedeel het nie.” Lewis meen dit is verkeerd om te sê dat sy wond besig was om te herstel van sy amputasie van haar. Hy voel mislei, want sy amputasie van haar het soveel verskillende maniere om hom seer te maak dat hy die seer toe eers almal een vir een ontdek het.
Wanneer jou geliefde deur geweld soos ’n klipgooi vir ’n selfoon van jou af weggeneem is, word jy en almal wat geraak is, met gevoelens van seer gelaat. Dis ’n hele gemeenskap wat geamputeer voel. Die seer word telkens ontdek. Dit hou nie op nie.
Jou oorlede geliefde se teenwoordigheid
Lewis skryf op bladsy 72 dat hy gedurende een nag iets ervaar wat hy as H se teenwoordigheid sou beskryf. Maar die teenwoordigheid sou hy nie glo nie. Dit was die kwaliteit van sy ervaring wat dit vir hom die moeite werd gemaak het om dit neer te skryf. Dit was ongelooflik onemosioneel – net die indruk dat sy met haar verstand syne in ’n oomblik bekyk het. Verstand en nie siel nie. Dit was amper soos om ’n oproep te kry; ’n saaklike konneksie te maak. Daar was geen gevoel van vreugde, of hartseer, of liefde, of onliefde nie. Daar was vir hom ’n uiterse en vrolike intimiteit; ’n intimiteit wat glad nie deur die sinne en emosies is nie. Dalk uit sy onbewuste, vermoed hy.
Ek moet dankie sê, CS Lewis, vir hierdie beskrywing van jou van ’n sin van teenwoordigheid, en hoe jy daaroor dink. Mense ervaar sekerlik die teenwoordigheid van hulle oorlede geliefdes op verskillende maniere. Jy kan jou die saaklike ervaring indink, en dat dit kom uit jou sensoriese ondertaalse brein. Mens wil jouself oophou daarvoor, want dit is jou liggaam wat met jou praat, deur jou vagussenustelsel, as ek kundiges hieroor reg verstaan.
Die eindigheid van lewe
Mens wil CS Lewis se dagboek fyn bestudeer vir die wyse waarop dit sy Christelike geloof weerspieël, en die vrae wat hy vra oor waar God is, of God wreed is, hoe ’n mens God kan ken in jou treur- en rou-lewe.
Ek vind Martin Hägglund van Yale-universiteit se verwysings na hierdie vrae van Lewis sinvol. Dis verwoord deur Alexander Carpenter wat hieroor geskryf het in die tydskrif Spectrum van 28 Julie 2022.
Die titel van Hägglund se boek is This life: secular faith and spiritual freedom.
Hägglund se waarneming is dat Lewis, as treurende, in teenstelling met sy Christelike geloof in die ewigheid, ’n passievolle verbintenis het tot ’n eindige lewe. Hägglund beskryf Lewis se siening: “Liefde is nie iets wat kan plaasvind in ’n oomblik nie. Dis ’n verbintenis tot omgee en sorg van ’n ander persoon oor tyd heen. Die tydelikheid van sulke liefde is nie sonder meer ’n onvermydelike toestand nie, dis intrinsiek tot die positiewe kwaliteite van saamwees met jou geliefde. Met ’n liefde vir ’n ander vertroetel jy ’n geprojekteerde toekoms, die herhaling van aksies/handelinge van die deurlopende tyd van saamleef. Dit is die einde van so ’n tydelike lewe waaroor jy treur wanneer ’n geliefde verlore is.”
Vir CS Lewis is die hoop op ewigheid nie ’n troos nie. Selfs al word so ’n hoop verwerklik, bring dit nie jou geliefde terug nie (bladsy 56).
Erkenning
Ek gee hiermee erkenning aan Lewis, aan die wyses waarop hy hom in sy dagboek uitgespreek het, sy gedagtegange, emosies, insigte, waar hulle vandaan kom, hoe hy daaroor twyfel, en hoe hy homself korrigeer. Met die lees van A grief observed kan mens huiwerend omgaan. Lees enige gegewe bladsy in die konteks van vorige en daaropvolgende bladsye. Die skryfwerk is inderdaad outentiek, oorspronklik, en dig.
Lees ook:
Om tot verhaal te kom – Verwerk trauma en verlies deur skryfterapie deur Lizette Rabe: ’n resensie
Kommentaar
Skitterend geskryf: rou, eerlik.
Dankie Annelie
Sjoe! Die ontleding en kommentaar is eerlik en sonder enige pretensie.