Boeke – verlies en toeverlaat

  • 0
............
Vir baie is verlies sedert die koms van Die Ellende ’n getroue tafelgenoot. Dit het seker altyd sy sitplek daar gehad – dalk net minder weerbarstig, uitbundig.
.............

Vir baie is verlies sedert die koms van Die Ellende ’n getroue tafelgenoot. Dit het seker altyd sy sitplek daar gehad – dalk net minder weerbarstig, uitbundig.

Selfs in boeke en tussen woorde – wat in een sin tog ontsnapping bied – is verlies só dikwels voorop. Boeke verdwyn. Ook woorde, tongvalle, maniere van sê.

*

Foto: Jean Meiring

Saterdag, 25 Februarie 2022, vaar die Adam Smallfees vir die vyfde keer in die ongenadige strale van Pniël se son op die literêre oopsee uit.

Dis duidelik ’n gemeenskapsfees – soos ook die ewig-energieke Darryl David in sy sjarmante Afrikaans met die totsiensslag láát daardie middag van die verhoog af benadruk – waar die leeuedeel van die gehoor uit die onmiddellike omtrek kom.

Prik ’n mens ’n verbeelde passer in die grond vlakby die slaweklok buite die dorpsmuseum waar die fees gehou word, om ’n kring van ’n honderdtal meter te trek, is die meeste van die feesgangers se huise waarskynlik daarbinne.

Pniël se geskiedenis is integraal met dié van die Kaapse slawe van gister verweef. In 1834 is die slawe in die Groot Drakenstein-vallei vrygestel. Vir die boere in die gebied het hulle bly werk en hulself in wat vandag Pniël is, gevestig.

 ’n Sonderlinge Lyntjie Jaars – ek moet bieg vir my tot toe onbekend – is ’n hele reënboog van klanke en emosies. Sy vertel by herhaling sy’s ’n Nama-kjend uit die Noord-Kaap. Haar tongval is onthutsend en ver buite die normneerleggers se bakens.

Die oud-onderwyser Julian Jansen deel die verhoog met haar en moet telkens Jaars se attensies weerstaan. Hy praat oor sy nuwe boek Seuns sonder pa’s, oor die vaderlose seunskinders op die Kaapse Vlakte, wat op ’n manier moet sien kom klaar en vir ’n groot deel van hul eie grootword moet pa-staan.

..........
Jy kry jou taal tog nie net van jou ma nie.
...........

Jy kry jou taal tog nie net van jou ma nie.

*

Enkele dae ná die Adam Smallfees, op Woensdag, 2 Maart, ontvang ek twee weemoedige filmpies van vriend Eben Venter, wat wys hoe sy tuisdorp Lismore net onder Nieu-Suid-Wallis se grens met Queensland in Australië, oorstroom is.

Hy was toe nog op besoek in sy vaderland, waar hy onder meer sy ma, wat net voor die eerste inperking oorlede is, se goed kom uitsorteer het. En ook in Stilbaai onder die Talking Table-vaandel kom lesgee het in die skryfkuns – in stories vertel.

Pas toe hy kort vantevore in die land aangekom het, het hy twee aande by my oorgebly. Hy vertel tóé van sy ma se volle stel van die boeke uit sy pen – in Afrikaans en Engels. Die nuutste ene, wat tans in ventre patris is, is oorspronklik in Engels geskrywe. Hy doen op die oomblik self die vertaling in Afrikaans.

Toe hy half-retories vra wat hy daarmee moet doen, stel ek voor hy gee dit aan sy alma mater Grey Kollege se biblioteek. Vir ’n oomblik is hy verras; hy gee dan toe dis ’n blink gedagte.

Maar die filmpies wat ek drie of so dae ná die oorstromings in vroeg-Maart van hom kry, wys die binnekant van sy en Gerard se huis, meubels op hul rûe en boeke in berge onder modder.

Die geweld van ’n storm vuil, bruin water wat jou lewe oorspoel is iets verskrikliks.

Wanneer ons oor die foon gesels, is hy byna stemloos bedroef.

*

Toe Eben by my oornag het, pas aangeland en op pad eers Jeffreysbaai en daarna Kaap toe, is daar oor twee jolige aande heelwat oor Lismore – toe nog iets van ’n hippie-idille – vertel.

Dis ’n dorp net ten suide van die grens tussen Nieu-Suid-Wallis en Queensland: ’n plek, smaak dit my gou, waar mense mekaar se huise met ’n waarskuwende “koe-ie-ie” binnestap. Die huise is meesal op stelte, want die rivier dreig pal om te oorstroom. (Maar niks so erg soos wat op die punt was om te gebeur nie.)

Teen jaareinde vind die reuse-Tropical Fruits-oujaarspaartie daar plaas. Verlede jaar het ’n verkleinde weergawe gebeur, ná die vorige jaar s’n deur Covid in die ban gedoen is.

Die eerste aand kuier ’n pel van Eben, Duncan, eweneens ’n uitgeweke Suid-Afrikaner wat in Lismore woon (net om die draai van Eben en Gerard) en wat sy eie terugreis Suid-Afrika toe met Eben s’n koördineer, saam.

Ons gesels wyd, ook oor Eben se boek wat by die uitgewer lê en wag. Dit sal binne die nabye toekoms tegelyk in Engels en Afrikaans verskyn. Eben vertel van die koerasie wat dit verg om so iets te vermag.

Tans kry ek elke dan en wan berigte uit die verte oor hoe die reuse-uitmergelende projek vorder.

Die tweede aand van Eben se besoek word Duncan se plek deur die skrywer Kleinboer ingeneem. Hy het ’n bundel gedigte wat hy binnekort uitgewer toe wil stuur.

Sy tweelingbroer, wat die vordering van Kleinboer se boeke dikwels hou vir hou per WhatsApp en diesulkes gevolg het, is verlede jaar oorlede.

*

Eers die naweek ná Eben se huis oorstroom het, terwyl hy nog in die Kaap is, onthou ek om ’n boek af te haal by die gastehuis in Melville waar Duncan oorgebly het.

Foto-erkenning: Jean Meiring

Op die eerste aand by my aan huis, vertel hy hoe druk hy aan Box Hill, ’n novelle deur Adam Mars-Jones, aan’t lees is. Ek verkondig dat ek gaande oor Mars-Jones se prosa is, maar hierdie boek wat in 2019 verskyn het, het ek nog nie gelees nie.

Duncan sê hy’s byna klaar daarmee. Hy sal dit vir my by die gastehuis se ontvangs agterlaat wanneer hy Kaap toe uitwyk.

Wanneer ek dit oppik, lê ’n velletjie voorin met ’n handgeskrewe nota van Duncan.

Foto-erkenning: Jean Meiring

Op die vooraand van Eben en Duncan se vervroegde vertrek uit hul geboorteland, om die reste van hul huise die hoof te gaan bied, besluit ek, ek moet die boek klaarlees.

Die voorneme raak des te skerper wanneer ek die ex libris-teken van Eben voorin sien. Ek’t nie besef dis ’n boek uit Eben se grotendeels vergane biblioteek nie.

Foto-erkenning: Jean Meiring

Wanneer ek op Sondag, 6 Maart, op OR Tambo-lughawe vir hulle gaan afsien soos hulle deur Johannesburg hul Qantas-vlug huiswaarts haal, handig ek die donkerblou boekie plegtig aan Eben oor.

Hy voel-voel aan die boekie. Streel dit sonder om te dink.

*

Ek kry Box Hill, oor die verhouding tussen ’n dominerende biker en ’n onervare jongman, oor sy sagte plompheid begaan – die boek se ondertitel is “A Story of Low Self-esteem” – laataand klaargelees.

Die eerste klein bladsy begin met ’n pilcrow, op Afrikaans ’n paragraafteken. In 2008 het Mars-Jones juis ’n roman met die titel Pilcrow die lig laat sien.

Die storie haas, druk en hoofstukloos, die wrede, dubbelsinnige slot tegemoet.

*

Maar soms, net soms loop die storie in die ander rigting.

Foto-erkenning: Deon Pitzer

Op Maandag, 28 Februarie, kry ek van ’n skoolvriend Deon Pitzer op Facebook ’n boodskap: “Hi. Interessante storie wat jy sal geniet. Op skool was Bonga een van my gunsteling voorgeskrewe boeke. Mik al lank om weer ’n kopie te koop. Vandag op Stanford wag ek in ’n restaurant op ’n kliënt. Ek stap toe by ’n tweedehandse boekwinkel in, sien ’n kopie van Bonga. Maak dit oop. Paul Roos Gimnasium stempel in en my naam pryk daarin!!! So na meer as 30 jaar het my skoolboek die pad terug na my gevind. Hoe’s daai???!!!”

 

Ek vra: “Hoe het die boek uit jou hande gegaan? In die eerste plek?”

 “Jis, wel ek het dit na die jaar wat ons dit gelees het op PRG teruggegee aan die skool, soos al ons voorgeskrewe boeke.

“Ongelooflik waardevol nou vir my.”

Foto-erkenning: Deon Pitzer

*

By die lughawe sit ek en Eben langs mekaar en Duncan oorkant ons. So amper asof ons treinry. 

Eben vertel van sy boekery wat so te sê daarmee heen is. Benewens die hertoevoeging daartoe van Box Hill, gee ek vir hom as beskeie geskenk ’n kopie van Ruan Kemp se blink roman Wit leuen.

Weer eens streel Eben onnadenkend daaroor voor hy dit versigtig in ’n sak inskuif.

*

Die afgelope week of twee plaas Eben op sosiale media kiekies van sy eie boeke soos bakstene wat vriende vir hom versamel en aangestuur het Australië toe.

*

Op 12 Julie kry ek ’n e-pos van die Boekbedonnerdfees op Richmond, een van die pronkstukke in Darryl David se vloot boeke- en leesfeeste.

Dit sê die fees, met al sy ryk tongvalle, is weens ’n dreigende geldtekort in gedrang.

Lees ook:

Eben Venter (1954–)

Boekresensie: Hierdie huis deur Kleinboer

Fotoblad: Adam Small-fees 2022

Richmond BookBedonnerd 2019 – ’n dosyn feeste, ’n dosyn indrukke

Seuns sonder pa’s deur Julian Jansen: ’n onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top