Seuns sonder pa’s deur Julian Jansen: ’n onderhoud

  • 0

Seuns sonder pa’s
Julian Jansen
Lux Verbi
ISBN: 9780796322098

........

Wanneer mens swaar bagasie uit jou kinderdae saamdra en waarvan die soetkyste nie heeltemal uitgepak en daar van onnodige stukke ontslae geraak wou of kon word nie, speel hulle soms ’n beduidende rol in mens se verhoudings met ander.

...........

Julian Jansen praat met Naomi Meyer oor sy boek Seuns sonder pa’s.

Julian, by die lees hiervan het ek aan een woord gedink: hulpkreet. Hierdie boek is een wat mense moet lees omdat hulle daardie kreet moet hoor. Nie net pa’s nie, maar ook seuns en vroue en ma’s. Jy deel ’n persoonlike verhaal in die inleiding, oor jou eie verhouding met jou pa. Wil jy dalk vertel waarom jy die boek geskryf het?

Wanneer mens swaar bagasie uit jou kinderdae saamdra en waarvan die soetkyste nie heeltemal uitgepak en daar van onnodige stukke ontslae geraak wou of kon word nie, speel hulle soms ’n beduidende rol in mens se verhoudings met ander. Nie al ons ses sibbe (hulle is almal byna oor die 50-merk; een is in Desember oorlede) het dalk al daardie bagasie aangespreek nie.

Ek verstaan vandag beter dat my pa ook bagasie uit sy kinderdae en moeilike verhouding met sy eie pa saam hom gedra en na ’n huwelik gebring het. Baie onafgehandelde, onuitgepakte bagasie, gepak met die verlies van sy ma op 18, die impak van apartheid op hom as broodwinner en bruin man, posttraumatiese stressindroom weens die Grensoorlog, en later suiwer swak besluitneming. Hy het of kon nie al dié las verwerk nie, ongelukkig tot sy nadeel.

Toe ek genader is deur Lux Verbi om ’n boek met ’n geestelike inslag vir hulle te skryf, was my woorde: Die boek is reeds hier binne-in my.

So die skryf was baie terapeuties, en soos my broer Warren in die boek ook skryf: Dit het vele keer met tranestort gepaard gegaan.

Maar die boek gaan oor meer as bloot die uitdagende tye waarin ons ses sibbe opgegroei het, maar later ook oor die uitdagende tye waarin kinders, veral jong seuns, binne hul gesinne en gemeenskappe opgroei. My akute gewaarwordinge hiervan figureer in my laaste drie jaar by ’n amper disfunksionele Bolandse skool, waar die voederbronne arm buurte is, waar toksiese gemeenskappe gedy. Ek noem dit gedy, oor die "sirkel van armoede" wat hier kristalliseer het.

........

Die impak van armoede, maar veral by hoërisikoseuns, het my as nuwe onderwyser hier tromp-op getref. In kort, dit was vir my ’n professionele krisis. Hoe oorleef ek hier? Op ouervergaderings was dit oorwegend mammas en soms grootouers op die stoele in die saal. Pa’s het geskitter in hul afwesigheid.

.........

Die impak van armoede, maar veral by hoërisikoseuns, het my as nuwe onderwyser hier tromp-op getref. In kort, dit was vir my ’n professionele krisis. Hoe oorleef ek hier? Op ouervergaderings was dit oorwegend mammas en soms grootouers op die stoele in die saal. Pa’s het geskitter in hul afwesigheid.

So, ek sê altyd: Ek sal die "evangelie" verkondig oor hoe ek myself kon red en in die proses geestelik en sielkundig versterk het deur deel te neem aan ’n ingrypingsproses waarin ons baie van die hoërisikoseuns kon "wen". Ander het deur die sif geval, maar ons is dankbaar vir dié wat positief uitgedraai het en vandag meelewende burgers is. (Lees meer oor dit in die boek. 😊)

In ’n onlangse gesprek met Carla van der Spuy oor haar boek Gangster het die tema van vaderlose seuns ook gereeld opgeduik: https://www.litnet.co.za/gangsters-n-onderhoud-met-carla-van-der-spuy. Waarom dink jy dis belangrik vir ’n seun om ’n vaderfiguur te hê?

Daar is dinge wat ’n man vir ’n seun moet of kan sê en daardie seun is sy pa. Seun wil die pa vrae vra en die pa moet dit kan beantwoord. Die seun wil byvoorbeeld hoor dat hy ook "dapper" is, "fantasties doen", dat hy sy pa "baie trots" maak.

Ek het die boek Ongetemde hart van die Amerikaanse skrywer John Eldredge as onderwyser verslind. Hy praat daar van jong leeus met ontblote naels. Dis presies die beeld wat ek tydens my onderwysjare by die een skool gesien het: seuns met afwesige pa’s met naels wat krap dat die bloed loop. Dié seuns (ver)eis ’n pa, biologiese een of te not.

Afwesige pa’s, hetsy fisies of emosioneel, verwond die seun wanneer hy nie help om in die seun se emosionele, sielkundige en geestelike behoeftes te voorsien nie. Dié verwerping (en die kind sien dit en ervaar dit akuut) kan ’n seun verwond en tot toksiese skaamte by seun lei. Die seun soek dan plaasvervangers vir daardie steun in sy lewe wat weggeval het of ontbreek. In veral arm gebiede is so ’n leemte fataal.

Daardie bekende Afrikagesegde lui mos: "Dit verg ’n dorpie om ’n kind groot te maak." Indien ons ’n kind in dié opsig in die steek laat, glo ek daardie kind sal terugkeer en die inwoners aan die hakskeen byt. Glo my, dié byt is bitter seer en manifesteer in byvoorbeeld aansluiting by bendes en gepaardgaande geweld, dwelmmisbruik, vroeë skoolverlating, misdadigheid, tienerswangerskappe, gevangenis ...

Niemand van ons is volmaak nie – mans, vroue, pa’s en ma’s. In ’n boek waar jy die pa-figuur onder die vergrootglas beskou: Wat staan vir jou uit as kenmerke van ’n goeie pa-figuur (of die figuur dan nou ook al ’n man of ’n vrou is)?

.........

’n "Goeie" pa is teenwoordig, meer as net ’n voorsiener van die fisiese. Hy is aktief betrokke, wys liefde, waardering, gee goeie terugvoer. Hy is in ’n goeie, openlike en vrugbare verhouding met die seun se ma, hetsy biologiese of stiefma, lewensmaat.

.........

’n "Goeie" pa is teenwoordig, meer as net ’n voorsiener van die fisiese. Hy is aktief betrokke, wys liefde, waardering, gee goeie terugvoer. Hy is in ’n goeie, openlike en vrugbare verhouding met die seun se ma, hetsy biologiese of stiefma, lewensmaat. Kinders is baie goeie observeerders en nabootsers en reageer óf positief óf negatief op die aard van die ouers se verhouding. 

’n Goeie pa help sorg vir emosionele, sosiale, geestelike ankers vir die kind.

Jy vertel so baie mense se stories. Hoe het hulle jou pad gekruis?

Mens word ook geken aan die vriende wat jy maak en wat jou omring. Dis almal rolspelers, voetsoolvlakmense, wat aktief in die gemeenskap werk. As onderwyser het ek byvoorbeeld die “Hearts of men”-program betrek om met die hoërisikoseuns op die skool te werk. Die ingrepe in die seuns se lewe was dramaties en soms epies. Die rol van die Vroueaksiebeweging in die bendegeteisterde gebied van Broadlandspark, Strand, is so nodig en kritiek en die groep vroue doen baie goeie werk. So ook die pastorale werk van Colin van Wyk onder die jongmense, ook in Broadlandspark.

Die stories het almal die narratief van hoop, ja selfs tot in die gevangenis, waar oortreders wat vir parool in aanmerking kom, kan weet dat hulle selfs ná hul vrylating deur die CASE-program van Jeremy Arries vaardighede kan leer en weer ’n aktiewe rol in die gemeenskap speel. Ja, dieselfde gemeenskap wat hulle (gevangenes) vroeër so hard aan die hakskeen gebyt het.    

Party van die stories is mooi, party is seer; in party stories is die pa daar, maar hy is eerder ’n pa wat die kind nie daar wil hê nie. Watter van die stories het jou baie diep geraak? As jy dalk drie stories wil uitlig ...?

Die een is oor die kinderjare wat Broadlandspark in die Strand se berugte bendeleier, President, beleef het. Sy afwesige pa, wat ook, nes hy, in die tronk geboer het. Langs die pad raak die bendeleier ook bewus van hoe kort sy lewe kan wees. Hy vertel dan hartroerend hoe hy nie te emosioneel geheg aan sy dogtertjie wil raak nie, want hy kan enige dag deur opposisie gedood word.

Die tweede is die storie van Ma Leen wat haar kinders alleen grootmaak en haar sente amper drie keer moes omdraai – dis hartroerend. Dis die realiteit van al die arm gebiede in ons land: Vroue is die laaste vesting teen algehele ineenstorting van die gesinsbasis en die gemeenskap. Vroue dra die grootmaak van kinders. Ons moet ook nie die belangrike rol van die grootouers hierin miskyk nie.

Die derde storie is dié van my twee jongste broers wat, toe ons pa die huis verlaat, toe hulle nog verder moes studeer, in niemandsland gelaat is. Die twee het 17 jaar gelede Nieu-Seeland hul permanente tuiste gaan maak om daar vir hul gesinne ’n veilige tuiste te bou. Die derde broer (wyle Michael) het net so lank met sy gesin in Taiwan en Hongkong gaan woon. Ek is so trots op hulle en die manier waarop hulle hul huwelikmaats koester en kinders wêreldburgers kon maak, gelukkig grootmaak. Ons vier broers kon so maklik "skollies" uitgedraai het, maar was omring deur mentors en positiewe rolspelers, in sport, kultuur, skool en kerk.  

Vir wie het jy jou boek geskryf? Wie is jou ideale leser?

..........

Die boek is vir die afwesige pa wat nog huiwer om huis toe te gaan, en dié wat baie tentatief betrokke is by hul kinders se opgroei. Diegene wat dalk papgeld betaal, maar nie emosioneel betrokke is of wil wees nie. Die boek is vir diegene in alle fasette van "afwesigheid". You name it. Menere, julle is potensiële bates.

..........

Die boek is vir die afwesige pa wat nog huiwer om huis toe te gaan, en dié wat baie tentatief betrokke is by hul kinders se opgroei. Diegene wat dalk papgeld betaal, maar nie emosioneel betrokke is of wil wees nie. Die boek is vir diegene in alle fasette van "afwesigheid". You name it. Menere, julle is potensiële bates.

Die boek is egter ook vir die aktief teenwoordige pa, hetsy biologies of nie. Ons moet laasgenoemde pa’s of vaderfigure se werk ook vier, vir hulle sê: Wel gedaan, julle doen fantastiese werk. Ons moet, soos Wessel van den Berg, navorser by Sesonke Gender Justice, sê, mans as bates begin sien vir die rol wat hulle in seuns se opgroei speel. Of dit nou sy biologiese kind of niebiologiese kind is. Gemeenskappe moet hierdie groep mans vier en hul werk belig.

Die boek is ook vir vroue in enkelouerskap wat meestal beide ma en pa moet speel. Hulle is game changers wat die veerkragtigheid in gedemoraliseerde gemeenskappe bring. Hulle is slim, sterk en self veerkragtig.

Die boek is vir onderwysers en skoolbestuur, sportafrigters, lewensafrigters, kultuurorganisasies, kerkleiers, lede van gemeenskapsorganisasies. Kopieë moet in elke gemeenskapsbiblioteek wees.

Soms voel mens wanhopig as jy die agtergrond van so baie van die stories lees. Is daar hoop en raad? Wat is jou bevindinge en gedagtes teen die einde?

Die Amerikaanse skrywer Frederick Douglas het reeds in die 19de eeu gesê: "Dit is makliker om sterk kinders groot te maak as om gebroke mans te herstel."

Ons samelewing, en dus honderde gemeenskappe, betaal tans die (baie duur) prys oor ons ons kinders oor die dekades gefaal het. Ja, ’n gros redes kan ons voor die deur van die land se geskiedenis lê, gevolge wat ons steeds dra, maar nou moet ons die geskiedenis (help) herskryf. Ons gaan dalk nie die gety maklik laat swaai nie, maar ons kan élkeen ’n verskil maak deurdat een van die spreekwoordelike stervissies wat ons in die see teruggooi, uiteindelik sy pad na die oop see vind. Ek is nie besig om die herstelproses te romantiseer nie – ek moet eenvoudig praat dat ons ingewikkelde piramides van uitdagings kan begin versit.

.........

Ek het die droom dat burgers van die land, huisgesinne, veral in ons armste buurte, net kan begin om die aansig van hul huis, of die voorste grensmuur van hul huis, kan verbeter, herstel, verf.

..........

Ek het die droom dat burgers van die land, huisgesinne, veral in ons armste buurte, net kan begin om die aansig van hul huis, of die voorste grensmuur van hul huis, kan verbeter, herstel, verf. Dié gedagte word gestu deur die werk van die Kaapse "Shackbuilder", Quinton Adams, wat gesinne help om in plakkerskampe ’n beter skuiling of sinkhuis te bou, een wat waterdig is, skuins dak, goeie ventilasie deur meer vensters het. Huisies wat weer trots gee. So moet ons gesinne weer herbou, help herbou of toesien dat dit gebeur.

Meer: Ons moet die siel van gesinne help bou, sodat die vensters na buite kan blink.   

Wat wil jy vir ’n leser sê wat sonder ’n pa grootgeword het?

Kom ons gesels met die kind (as leser) oor hoekom pa so optree, kyk na die bagasie wat sy of haar pa saamgebring het na die verhouding met die ma. Kyk na die pa se skoolopvoeding en inkomste. Meer: Kyk na sy verhouding met sy eie pa. 

Leer oor vergifnis, uit kennis, hetsy akademies (boeke) of geestelik (byvoorbeeld die Bybel).

Unpack your own baggage en help jou pa met syne. In die afwesigheid van ’n pa, vind vir jou goeie plaasvervanger-pa’s (baie keer help ma mos), raak betrokke by sport en kultuur en kerkwerk en kry vir jou mentors, as hulle jou nie reeds hier vind nie.

Mans wat dit lees, baie wat soms so toe is soos ’n mossel, wat dinge wat krap uit hul jeugjare vir hul huweliksmaat of lewensmaat gerieflik wegsteek, maar die effek daarvan het ‘n negatiewe invloed op hul huidige verhouding.

Mans wat vandag nie ’n goeie verhouding met hul pa het nie, moet hopelik beweeg word om daardie eerste tree te gee. Tans mis hulle dalk uit op ’n vrugbare verhouding wat kan wees, en natuurlik ook: afsluiting op ’n hartseer verlede. Nie almal gebruik daardie kans nie.

Ook pa’s wat vir lank nie in verbinding met hul kinders was of nou is nie – die tyd stap aan en dis nooit te laat nie. Talle maak ’n comeback eers wanneer hy self die lewe "uitgeniet" het en nou op sy laaste dae by die kinders wil kom woon.

Onthou: Dis nie wat ons vir ons kinders agterlaat nie (lees: testament), dis wat ons in ons kinders agterlaat wat jou nalatenskap sal uiteindelik sal wees. 

Wat wil jy vir enige leser sê wat gelukkig genoeg was om ’n pa in haar/sy lewe te hê wat versorg het en daar was, en iemand was na wie hy of sy kon opkyk?

Om ’n kind van God te kon ontvang is ’n blessing, net so ook om ouers te kan hê. Om iemand se kind te help grootmaak, is net so ’n blessing.

Ek is so geïnspireer deur die woorde van Magé Troskie, die hoofdogter van die Hoër Meisieskool Oranje: "Lig jou ken en ken jou lig." Ek ken nie haar huislike omstandighede nie, maar ek kan sien en hoor dat sy goeie ingrepe van verskeie rolspelers in haar jong lewe gehad het en steeds het. Wie daardie rolspelers is, weet ek nie, maar ek weet absoluut: Dit was goeie, vrugbare beleggings.

Wat my by die vraag bring: Wat maak mens dan met daardie positiewe inslag van jou pa, jou ouers? Jy maak soos Magé Troskie sê: Ken jou lig. Sodat ander kan sien en leer. Betrokke raak.

Wat my nog verder bring by dié besef: dat beide manlike en vroulike mentors in ons seuns én dogters inslag moet vind. Dat die "village" hul volle deel moet doen.

.........

Die heel laaste besef: Ons wat bevoorreg is om die lig te hê, maak nie saak in watter deel van die dorp ons woon nie, moet in ons straat, buurt, omgewing uitgaan en betrokke raak, op watter wyse ook al. Nie noodwendig met geld (stuur) nie, maar in menslike kapitaal.

..........

Die heel laaste besef: Ons wat bevoorreg is om die lig te hê, maak nie saak in watter deel van die dorp ons woon nie, moet in ons straat, buurt, omgewing uitgaan en betrokke raak, op watter wyse ook al. Nie noodwendig met geld (stuur) nie, maar in menslike kapitaal. Dis enige gemeenskap se rykdom. Leer ken die organisasies in die arm buurte, die plakkerskamp. Dis ongelukkig plekke waar die meeste misdaad ontstaan, maar dis ook die plekke waar groot wonders kan en moet gebeur.

Hierdie betrokkenheid is, soos ek kan getuig, lewensverrykend en baie warmer as die beskutting van ons gerieflike huise. Onthou daai "een stervissie".

Kan jy dalk deel watter terugvoer daar op jou boek was? As ek dit lees, dink ek: Hier moet mense wees wat nou geroer is en jou persoonlik wil kontak om dankie te sê. Dat jy uitgeroep het namens hulle, dat jy geluister het, dat jy verstaan het. Kan jy reaksie op jou boek met ons lesers deel?

Ek het ’n baie vrugbare gesprek gehad met ’n man wat, nadat hy van die boek gelees het, ’n koffieafspraak gemaak en sy planne vir sy doktorstesis (en uit ’n spesifieke hoek) oor die onderwerp van vaderlose huise gedeel het.

’n Enkelma het kom raad vra oor hoe sy haar pa, wat oorsee woon, kan bereik. Hy is destyds na haar geboorte terug na sy geboorteland en het daar met ’n nuwe liefde getrou. Sy soek net erkenning van hom, dat sy wel bestaan, sê sy. Sy stel nou ’n brief op vir hom. Ons het ’n voortgaande gesprek. 

’n Leser vertel hoe die boek versteekte dinge in sy hart "losgemaak het". Hy het sy verhouding met sy pa weer in oënskou geneem, sê hy. Daar was destyds mishandeling van sy ma (nou oorlede) en hy het moeilike kinderjare beleef. Vandag het hy sy pa ingeneem, hom ’n werk in sy sakeonderneming gegee en bou hulle die afgelope paar jaar aan ’n nuwe verhouding, sê hy.

Ek word oorval deur mense op sosiale media met terugvoer oor die boek. Die boodskappe is van mans sowel as enkelma’s en kinders. Die terugvoer is hartroerend en ook opbouend. Van hulle sê dat hulle na jare  dalk weer ’n platform kan bou: om met hul pa in kontak te kom of net hul verhouding te "herbesoek". 

Ja, daar is selfs enkelma’s wat die boek gelees het om raad te kon kry vir die seun wat hulle moet grootmaak.

Ek self pos tans die boek oor die lengte van die land na mense wat nie ’n boekwinkel op hul dorp het nie, maar die boek baie graag wil lees. ’n Vrou op Leeu-Gamka in die Karoo het ’n klein biblioteek, genaamd Skilpaddop, en wou die boek doodeenvoudig op die rakke daar hê. Die boek, met nog ’n paar boekskenkings, is na Prins Albert se Pep-winkel gepaxi en daar loop haal.

Die kwessie van seuns sonder pa’s is ‘n eeue oue kwessie, ’n brandende vraagstuk. Net so ook dogters sonder pa’s. Kinders sonder pa’s, wat elke gemeenskap op voetsoolvlak kan en beter moet aanspreek.

Hoede af vir elke aktivis, gemeenskapslid, wat hulle reeds lank hiertoe verbind het en hulle daagliks daarvoor beywer om saam met ’n kind sy of haar pad te vind.

Tyd sal leer, maar tyd is ook ’n skaars kommoditeit. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top