Wat skryf aan ’n mens doen: bladsy 61 van Elsa Joubert

  • 1

Oorlede Elsa Joubert het baie bladsye geskryf wat wyd gelees word en inspireer. Haar boek Spertyd is ’n teks wat mense met bewondering laat. Daarin staan dat skryf haar rede vir lewe was, en sy verduidelik op bladsy 61 wat sy bedoel.

Sy ken haarself goed, begin sy op die bladsy. Sy voel verknies wanneer sy nie skryf nie. Sy word ongesellig, asof sy kamerkoors het. En dan moet sy skryf, want "... dit is om binne-in my aan die lewe te kom ...", en dit laat haar deel voel van die Onsienlike.

Wel, wat ’n belewing! Hoe moet dit wees vir ’n mens om deur skryf deel te voel van iets groter? En om gevoelens te beleef van aan die lewe kom wanneer jy skryf?

.......

Hoe moet dit wees vir ’n mens om deur skryf deel te voel van iets groter? En om gevoelens te beleef van aan die lewe kom wanneer jy skryf?

........

Sy het dit so verduidelik: Wanneer sy nie skrywe nie, gaan dinge soos rimpelings in die water voor haar verby; sy "mis die betekenis van hele kaboedel". Wanneer sy voel sy mis iets, wil sy inhaal en die gebeurtenis agternaloop. Inhaal is haar anker. Dis wanneer sy haar rekenaar opgesoek het.

Skryf was Elsa se behoefte om te werk, nie om net besig te wees of te produseer of om nie depressief te raak nie. "Dit is om binne-in my weer aan die lewe te kom, asof ’n droë plek weer water kry."

Behalwe dat sy gevoel het sy kry kamerkoors as sy nie skryf nie, het sy geskryf wanneer sy iets nie verstaan het nie. Die agternaloop met woorde was ’n ou kwaal van haar: Sy moes skrywe, anders het sy nie geweet wat aangaan nie.

Dis ’n goeie kwaal om te hê wanneer jy oor iets moet skrywe wat jy nie verstaan nie, sal enige berader of skrywersvriend jou vertel. Sulke skrywes is vry-skrywes – jy doen dit deur jou stroom van gedagtes neer te skrywe, en sien so wat jy dink. ’n Goeie kwaal om te hê, want dit bring jou eie nuwe antwoorde en insigte en genesing.

Skryf is vir almal.

Dit kom ’n mens agter wanneer jy ’n e-pos of op jou sosiale media skryf. Die beste manier om agter te kom watter rol skryf in jou lewe speel, is om te skryf. Enige taalonderwyser sal dit graag bevestig: Sit vir ’n paar minute pen op papier, en skryf gedagtes neer soos hulle opkom, sonder ophou, sonder om te lees of te kritiseer. Skryf net. Dan sien jy dat jy skryf, en ontmoet die skrywer in jou. Of gebruik ’n praat-tot-teks-toep, vertel in Engels op jou slimfoon wat jy byvoorbeeld gister tydens ete gedoen het, en dan sien jy wat die skrywer in jou kan doen.

Spontane skrywe is van die ankers wat mens nodig het in Covid-tye. Volg Elsa na – moenie die rimpelings laat verbygaan nie. Skryf oor die betekenis van die hele kaboedel.

.......

Spontane skrywe is van die ankers wat mens nodig het in Covid-tye. Volg Elsa na – moenie die rimpelings laat verbygaan nie. Skryf oor die betekenis van die hele kaboedel.

........

Elsa se bladsy 61 is ’n inspirasie. Mens sien by haar wat skryf doen. Dis enige mens beskore. Dit bring jou aan die lewe. ’n Mens leer dit regkry deur te skrywe en jou eie skrywes te bêre en weer te lees, en weer oor jou skrywes te skrywe. Hiervoor wil jy die pen opneem soos enige mens kan. Nie om te skryf soos vir skool of werk nie, maar soos vir jouself – ’n herinnering, ’n gebeurtenis, ’n nota om iets te onthou. Gebruik ’n draadboekie hiervoor en voor jy weet, het jy ’n stapel draadboeke van spontane en skrywes. Jou rekord van hoe jy dink, die sin wat jy maak, en nuwe idees wat jy uitgedink en oopgeskryf het.

Skryfwerk was vir Elsa Joubert deel "van die asemhalende, lewegewende, skeppende geheel om my ..." – ’n helder besef, so verduidelik sy op bladsy 61, wat sy nie tevore besef het nie, en ’n geleefde ervaring van dít wat binne-in haar is. Hierdie helderheid is soms "... ’n stryd, donker, troebel, swaar, maar dis daar, dit bestaan, dis primêr, en niks verder kom daarop aan nie". Haar besef van hierdie helderheid en donkerheid is "op ’n vreemde manier deel van die Onsienlike".

Skryf is om aan die werk te wees. "Dit spin weer. Dit gee my ’n diep, byna swaarwigtige genoegdoening."

Wow! Mens wil jouself dít verbeel – dat skrywe asemhalend kan wees!

Probeer die volgende: Skryf ’n skok-ervaring op. Soos die oomblik toe jy hoor jy is Covid-positief. Vat jou draadboek en sit vir so lank as wat jy wil, en skrywe net gedagtes neer soos dit uitkom. Moenie dink nie, skryf net. Stroom van gedagtes, skrywe sonder ophou.

Dan sien jy wat jy dink; jy voel die emosies van die oomblik.

  • Gert van der Westhuizen, afgetrede professor in Opvoedkunde

Lees ook:

"Die bestaanheid is genoeg" – ’n onderhoud met Elsa Joubert oor Spertyd

Spertyd deur Elsa Joubert: bekendstellingstoespraak

 

Spertyd deur Elsa Joubert: ’n resensie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top