Verborge heelheid

  • 1

Dis inderdaad so, meen die skrywer Parker Palmer, dat mense se lewens opgedeel, verdeeld, versnipper, en selfs aan die verbrokkel is. Dit sien mens ten tye van vieringe en feeste, en wanneer jy laagtepunte ervaar, doelloos voel, en onseker is oor die toekoms.

Dis asof daar ’n verborge heel-wees en sielsgroei is wat almal ontwyk, en ’n totale gebrek aan vertroue. Palmer noem dit "a hidden wholeness" en maak voorstelle vir ’n onverdeelde lewe.

Die werklikheid van lewe, van werk, en van menseverhoudings is verdelend en verwyder mens van wat vir jou belangrik is. Dit verbreek jou gevoel van iets werd wees; takel jou gevoel van eiewaarde en self-wees geleidelik af. Hiermee saam word enige optredes vir eiebelang ten koste van ander, versterk en beloon. Mense word aangemoedig om mee te doen aan die idee van werk as ’n kultuur van selfsug.

Dit alles word vererger in die alledaagse lewe waar mense aangemoedig word om hulle ware identiteit weg te steek uit vrees dat hulle ware self seer gaan kry; ontbloot gaan wees. Sodoende bring dit ’n volwasse lewe mee van selfsug, verdeeldheid en obsessie.

Hierdie opgedeelde, versnipperde mens lewe in ’n duistere donkerte van eensaamheid en alleenheid.

Hoe dan gemaak?

Belangrik is die strewe na integriteit, na oorspronklikheid, en na die lewe van die ware self – ’n heelheid van volledig mens wees, onverdeeld, selfstandig en standvastig.

Wat is die lewegewende energie wat jou volledig mens laat voel? Watter ervarings laat jou voel jy is jy, jou eie self? Wie help jou na jou ware self groei?

Dink oor jou eie ervarings: Waar het jy iemand se alleenreis meegemaak, byvoorbeeld iemand op sterwe? Wat het daar gebeur? Hoe het dit gevoel om alleen te wees by iemand anders? Hierdie is ervarings van saamwees, alleen met ’n ander, maar as jou eie mens.

Saamwees met ’n ander is ’n ruimte wat veilig is vir jou siel, jou groei; ruimte om na jou eie innerlike leermeester(es) te luister. Dit is in teenstelling met die gewoonte van die ego-lewe wat alles vir ’n eng eie gewin wil vat.

Lewe met ander geniet mens in ’n kring van vertroue. In so ’n kring leef mens volgens Palmer veilig en kan jy jou eie waarheid spreek – jy kan die werklikheid en krag van die siel en ’n sielvolle lewe begin ervaar – skep daar ruimte vir die siel; ervaar ’n veilige verwelkoming en keer dat die outentieke siel deur buitefaktore en eksterne agendas skaam wegraak …

Parker praat van die waarde van ’n sielvolle lewe met ander – help mens luister na jou eie siel en om jou eie sterk punte en waarhede te ontdek; ondersteun mekaar se innerlike reis.

Sit by mense in stilte, en wag vir die skaam siel om na vore te kom; deel te wees …

Dit was Rumi wat gese het: “[A] circle of lovely, quiet people becomes the ring on my finger …”

Lewe saam met sielsgenote gee die veilige ruime wat die groei van jou siel, jou innerlike reis ondersteun. Sielsgenote is mense wat jou help groei na jou ware self, wat onvoorwaardelike steun en liefde gee; en energie by jou losmaak om van binne te groei.

Rilke sien dit as ’n liefde van twee "solitudes" wat mekaar beskerm, naas mekaar, aangrensend aan mekaar staan, en mekaar eer.

Doen dit deur met aandag naas iemand te staan: by sy/haar grens van alleenheid, en vertrou dat jy innerlike bronne het wat hulle nodig het, en wat deur ons aandag/ingesteldheid uit kan kom.

So werk die kring van vertroue: dis nie “invasive” nie, maar ook nie “evasive” nie. Leef met mense wat jou erken en aanvaar as die mens wat jy is, en jou nie wil “binnedring” nie, en jou ook nie wil ontwyk nie. So is die omgewing wat die ruimte is vir die siel om veilig te voel.

So groei die siel: leer van binne af, verstaan jou ware self, dink met verstand in die hart. Beoefen ’n lewe in die teenwoordigheid van nou en met ander. Benader die siel nie met enige agenda nie – leer net om te erken, en te eer. So is jy op die innerlike reis op eie tempo, op eie wyse, met vertroue in jou eie waarheid, die waarheid wat jy nodig het en wat innerlik beskikbaar is en wat vir jou duidelik sal wees wanneer jy reg is daarvoor.

Palmer stel dié oortuigende punt: sielsgroei is altyd nodig – in die dodelike duisternis van depressie byvoorbeeld is dit altyd jou siel wat weet hoe om te oorleef – as jou intellek nutteloos is, emosies dood is, wilskrag onvrugbaar is, jou ego in stukke is, dan is daar in hierdie digte innerlike wildernis altyd jou siel teenwoordig, jou siel wat weet om lewend te bly wanneer alles in jou wil doodgaan ...

Die siel is soos ’n wilde dier: slim, lewenswys, selfonderhoudend, sterk, weerstandig, veerkragtig en bronryk, maar ook skugter en skaam; terselfdertyd van onskatbare waarde – gaan sit maar stil in die woud, wees een met die natuur, en jou siel kom uit.

Ervaar dan die heelheid van volledig menswees en vertroetel dit in jou kringe van vertroue.

Geskryf deur Gert van der Westhuizen as sy interpretasie van Parker Palmer se boek A hidden wholeness

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top