Om myself te lees

  • 0

’n Nederlandse vriend het op ’n trein tussen Utrecht en Groningen besef dat die persoon wat oorkant hom sit en lees, die digter Rutger Kopland is. Kopland is gebore as Rutger van den Hoofdakker. Jy kan die “kop” en “land” van “Kopland” in “Hoofdakker” sien. Hy was jare lank dosent in psigiatrie aan die Rijksuniversiteit van Groningen en ook ’n geliefde en gewilde Nederlandse digter. My vriend is ’n liefhebber van die digkuns en was dadelik nuuskierig oor watter boek Kopland besig was om te lees. Nadat hy sy kop effens laat sak en skuins gedraai het, was hy verbaas om te sien Rutger Kopland is besig om die Verzamelde gedichten van Rutger Kopland te lees. Toe hy sy bestemming bereik en opstaan om die trein te verlaat, het hy na Kopland gedraai en gesê: “Ik zie je lees jezelf.” Kopland het opgekyk en geantwoord: “Ja, en ik leer er veel van.”

Hierdie klein anekdote het ek soos ’n lekker skinderstorie met twee bekende Afrikaanse digters gedeel. Ek was nuuskierig om te hoor wat hulle daarvan dink dat Kopland homself lees en dat hy dit boonop as leersaam beskou. Die eerste se reaksie was: “O, pragtig, pragtig, dit is die antwoord van ’n wyse man.” Die ander digter het afkeurend gegrynslag, sy kop geskud en gesê: “Wat ’n arrogante bliksem!”

Hierdie twee uiteenlopende opmerkings het my verward gelaat. Is dit ’n wyse daad of is dit ’n arrogante daad om jouself te lees? Is dit ’n goeie praktyk om jouself te lees, of moet jy eerder, soos Karel Schoeman, op jou oudag nie eers meer ’n kopie van heelwat van jou eie romans in jou woonplek hê nie?

Of digters en romanskrywers hulleself moet lees, is een vraag, ook hoe leersaam dit is. ’n Ander vraag is of net digters en ander gepubliseerde skrywers hulleself kan lees, of kan enigeen hom- of haarself lees? Het enige mens nie ’n lewensverhaal, of iets daarvan in ink op papier vasgelê is of nie, en wat dus deur hulle self en ander gelees kan word nie? En wanneer jy jouself lees, watter insig gaan jy kry?

Die woord poësie kom van die Griekse woord wat “om te maak” beteken. En vanaf ons kinderjare tot op ons oudag is ons voortdurend besig om deur die wêreld te maak, so ook onsself te maak. Ek doen dit deur dinge te doen in my lewe – rus, werk, leer, reis, partytjie hou, mor, lag, gedigte skryf. En om dan later al daardie dinge wat ek doen ook in my kop te bedink. So word die dinge wat ek in en met my lewe doen, my eie stories, my gedigte, my poësie en uiteindelik my lewe as letterkunde. Dit word nog meer so soos wat ek (dele van) my verhaal aan ander oorvertel. In daardie proses redigeer ek subtiel aspekte uit en voeg ek stukkies by. Dit is ook hoekom outobiografieë veel nader is aan fiksie as aan feite. Die punt is, ons skryf voortdurend onsself. Dit is ’n gegewe. Die vraag is, neem ons ook die tyd om onsself te lees?

Kyk, enige skrywer wat ’n boek publiseer, stel homself oop, want al wil hy voorgee dat daar ’n groot afstand tussen sy persoonlike lewe en die teks is, het daardie teks deur geen ander lyf gefiltreer om uiteindelik op die papier te beland as sy lyf nie. Daar is daarom heelwat van homself altyd ook beskikbaar in die teks om deur ander mense gelees te word. Net soos digters deur ander gelees word, net so word ons almal wandelende “verzamelde werken” wat voortdurend gelees word deur die mense om ons, net soos wat ons hulle lees.

........
Kyk, enige skrywer wat ’n boek publiseer, stel homself oop, want al wil hy voorgee dat daar ’n groot afstand tussen sy persoonlike lewe en die teks is, het daardie teks deur geen ander lyf gefiltreer om uiteindelik op die papier te beland as sy lyf nie. Daar is daarom heelwat van homself altyd ook beskikbaar in die teks om deur ander mense gelees te word. Net soos digters deur ander gelees word, net so word ons almal wandelende “verzamelde werken” wat voortdurend gelees word deur die mense om ons, net soos wat ons hulle lees.
.........

Elke mens is ’n teks, ’n teks soos wat dit etimologies van die Latynse werkwoord texere kom wat “weef” beteken. Daarom is elke mens ’n lewende lewensverhaal wat voortdurend deur hulle steeds digter geweef word. Wanneer daar in die letterkunde gelees word, word daar ook ’n oordeel gevel; resensies volg en resensente se oordele wissel van “’n wyse mens” tot “arrogante bliksem”. In die alledaagse lewe beteken dit dat ek ook voortdurend resensent is, veral wanneer ek tekste soos “De verzamelde werken van Jacob Zuma”, “De verzamelde werken van John Steenhuisen”, of “De verzamelde werken van mijn irriterende buurman” lees. Openbare figure, bure, familie en kollegas word gelees en ons hoop heimlik dat hulle, soos Kopland, soms tyd sal inruim om hulleself te lees. Of daardie leeservaring, net soos my eie, onbevooroordeeld gaan plaasvind, is egter te betwyfel. Die groter uitdaging, voordat ek by daardie splinter uitkom, is egter om myself te lees – daardie dig geweefde verhaal van die wyse man en die arrogante bliksem.

Lees ook:

Hermeneutiek: Om met jou lyf te lees en te luister

Lui, lui, telefoon ... maar asseblief nie in die koffiewinkel nie!

’n Wonderwerk in die Wynlande

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top