’n Wonderwerk in die Wynlande

  • 0

Dit was net nog ’n doodgewone dag op ’n Bolandse dorp. Een van daardie vroeë lentedae in Augustusmaand. Van oor die luidsprekers by ’n kuierplek in die middedorp het ’n Johnny Cash playlist gespeel.

I hear the train a-comin’, it’s rolling ’round the bend
And I ain’t seen the sunshine since I don’t know when
I’m stuck in Folsom prison, and time keeps draggin’ on
But that train keeps a-rollin’ on down to San Antone

Van onder in Kerkstraat het ’n groep vroue in die rigting van die Moederkerk geloop. Weerskante van die straat was kafees en restaurante. Die plekke was stampvol. En al die mense, in die kuierplekke en daarbuite, het ’n glas wyn in die hand gehad waaruit hulle voortdurend groot slukke geneem het. ’n Student met ’n glas rooiwyn in die hand het sy linkeroog effens op ’n skreef getrek en die vrouens wat aangestap gekom het, getel. Daar was 14.

Heel voor was die leier van die groep. Sy was kort met donker krulhare. Weerskante van haar was haar ma Mirjam en haar goeie vriendin Johanna. Net agter hulle het Andrea en Simoné en Petra en Mattie en Philippa gestap met die res kort op hulle hakke. O ja, Judie het soos gewoonlik geloop en mor en wou weet of die ander besef wat al die wyn wat die mense drink, kos. By die kruising van Andringa- en Kerkstraat het die 14 vroue gaan staan. Dit was Mirjam wat eers opgekyk het in Kerkstraat, na die mense by die tafels met glase vol wyn wat net aanhou drink. Daarna het sy teruggekyk na die pad waarlangs hulle gekom het. Toe ook na links en na regs in Andringastraat. Daar was mense, dosyne en dosyne mense, en nie een sonder ’n glas wyn in die hand waaruit hulle aanhoudend nog ’n groot sluk geneem het nie.

........
“Die mense drink, maar hulle bly dors.”
........

Hulle was nou reg langs die plek vanwaar die Johnny Cash-musiek gekom het. In die plek was TV-skerms en op die skerms het Cash in sy kenmerkende swart klere in ’n groot saal vol gevangenes sy akoestiese kitaar om sy nek gehang om ’n lied te begin sing. Mirjam het na haar dogter gedraai en met ’n bedroefde uitdrukking gesê: “Die mense drink, maar hulle bly dors.” Haar dogter het half verontwaardig na haar ma gekyk en gesê: “Hoekom pla jy my nou?” Maar Mirjam het ’n bestuurder vanaf die naaste restaurant nader gewink en terwyl sy met haar voorkop in die rigting van haar dogter beduie, gesê: “Wat sy ook al vir jou sê om te doen, doen dit.”

Die bestuurder het al die kelners in sy restaurant geroep en hulle het leë bottels en glase en vaatjies en selfs emmers voor Mirjam en haar dogter neergesit. Mirjam se dogter sê toe vir hulle: “Maak die houers vol wyn.” Die kelners het al die houers binne minute met wyn gevul. Toe sê sy vir die restaurantbestuurder: “Skep en proe.” Hy het met ’n leë wynglas geskep, ’n sluk geneem en met een teug dit leeg gedrink. Stomverbaas het hy na die kelners gekyk en uitgeroep: “Dis water!” En terwyl trane oor sy wange rol, het hy weer geskep en aanhou drink.

Op die TV-skerms agter hulle het honderde gevangenes vasgenael gesit en luister na Cash wat sing:

He turned the water into wine he turned the water into wine
In the little Cana town the word went all around that he turned the water into wine
Well he walked upon the Sea of Galilee he walked upon the Sea of Galilee
Shouted far and wide he calmed the raging tide and walked upon the Sea of Galilee
He turned the water into wine
He healed the leper and the lame he healed the leper and the lame
He said go and tell no man but they shouted it through the land
That he healed the leper and the lame
He turned the water into wine
He fed the hungry multitude yes he fed the hungry multitude
With a little bit of fish and bread they said everyone was fed
He fed the hungry multitude
He turned the water into wine

En vanuit die kuierplekke en restaurante het almal na die houers vol water gestroom, geskep en gedrink.

Mirjam en haar dogter het ’n pad deur die mense gebeur en verder in die rigting van die Moederkerk gestap, met die 12 wat hulle volg. En die Johnny Cash playlist het aangeskuif:

Love is a burning thing
And it makes a fiery ring
Bound by wild desire
I fell into a ring of fire
I fell into a burning ring of fire
I went down, down, down
And the flames went higher
And it burns, burns, burns
The ring of fire
The ring of fire

Lees ook:

Grenselose genade en Die heiligheid van hier: Chris van der Merwe en Cas Wepener ruil gedagtes uit

Stil Saterdag 2020: God is ’n gat om ’n gat

Millenniërs en die kerk: Vyf vrae aan Marileen Steyn en Cas Wepener

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top