Millenniërs en die kerk: Vyf vrae aan Marileen Steyn en Cas Wepener

  • 1

..........

Millenniërs verskil in heelwat opsigte van ander generasies, maar wat van belang is vir die artikel, is hulle unieke verhouding met die kerk.

..........

Baie geluk met die verskyning van julle artikel “Gebedspraktyke en geloofsoortuigings van kerklos millenniër-Christene: ’n Ritueel-liturgiese verkenning” in LitNet Akademies. Hoe definieer julle ’n millenniër? Wat onderskei millenniërs van die generasies voor en na hulle?

Millenniër is ’n term uit die generasieteorie wat verwys na diegene wat tussen ongeveer die jare 1981 en 1996 gebore is. Afbakenings verskil en mens kan nie werklik harde lyne trek waar mense betrokke is nie. As dit by millenniërs kom, moet mens nog versigtiger wees. Nie net hou die meerderheid van hierdie generasie nie van die etiket "millenniër" nie, maar hulle is ook die mees diverse generasie wat ons op die oomblik ken.

Alhoewel hulle deur globalisasie en sosiale media baie aan mekaar verbind word, het kontekstuele faktore soos toegang tot tegnologie, vriende en familie, opvoeding en belangrike gebeurtenisse ’n groot impak, met die gevolg dat daar baie diversiteit te midde van die een generasie is. Mens sou ook kon opmerk hoe mense vandag meer vryheid gegun word om hulself op ’n verskeidenheid maniere uit te druk en uit te leef en hoe konformisme tot ’n enkele stel eienskappe nie meer aan die orde van die dag is nie.

Millenniërs verskil in heelwat opsigte van ander generasies, maar wat van belang is vir die artikel, is hulle unieke verhouding met die kerk. Die tendens in vorige generasies was dat die jongmense in die kerk grootword, as jong volwassenes die kerk verlaat, en dan as ouers weer na die kerk terugkeer. Soortgelyk het baie millenniërs (meer as die generasies na hulle) ook in die kerk grootgeword en die kerk verlaat. Hierdie keer sien mens egter nie hoe hulle as ouers na die kerk terugkeer nie. Hulle bly weg. Tog wys navorsing dat dit in die meeste gevalle nie as gevolg van die verwerping van God is nie, maar eerder van die kerk.

Julle gebruik die term kerklos in julle artikel. Wat beteken dit om kerklos te wees? Is daar ’n neiging onder millenniërs om weg te beweeg van die beoefening van tradisionele Christelike rituele en gebruike?

Kerklos is ’n relatiewe term. Iemand kan baie kerk toe gaan, maar hulleself nie tot ’n kerk wil vasbind nie en hulself dus as kerklos beskou. Of iemand kan nooit kerk toe gaan nie, maar nog steeds in ’n sekere gemeente gewortel voel.

In hierdie navorsing het ons gekies vir ’n liturgiese definisie van kerklos om te verwys na die mate waartoe iemand die kerk deel van sy of haar aanbiddingswêreld maak. In die artikel verwys kerklos na diegene wat die afgelope ses maande nie kerk bygewoon het nie. Die volgende het as uitsonderings gedien:

  • Bywoning van spesiale geleenthede soos troues, begrafnisse, dope
  • Bywoning van groot Christelike feesdae soos Paas–  en Kersfees
  • Bywoning twv iemand anders, byvoorbeeld as die hele gesin bywoon
  • Bywoning om inskakeling te oorweeg, sonder dat die erediens weer bygewoon word.

Millenniërs is dus besig om van die tradisionele kerk af weg te beweeg. Die feit dat hulle terugkom tydens groot feeste of belangrike gebeurtenisse maak ons tog versigtig om te sê dat hulle tradisionele Christelike rituele en gebruike verwerp, maar hulle is wel besig om nuwe betekenisse aan ou gebruike te heg en hierdie rituele en gebruike buite die tradisionele ruimte van die kerkgebou te beoefen.

Julle het spesifiek gekyk na die gebedsjoernale van millenniërs. Wat is van die belangrikste temas wat julle daarin kon identifiseer, en wat sê dit oor die gebedslewe of geloofslewe van millenniërs?

In ons ontleding van die gebedsjoernale het 17 hoofkategorieë na vore gekom. Op sy eenvoudigste kan hierdie kategorieë in twee groepe verdeel word, naamlik God voorsien en God met ons. God voorsien-gebede gaan oor God se voorsiening van fisieke en emosionele welstand, van hulp en bystand, van veiligheid en beskerming, ens. God word egter nie net as ’n voorsiener gesien nie, maar ook as iemand met wie mens in ’n verhouding staan. Hier sien mens hoe die millenniërs gesprek voer met God deur gebeure en emosies te deel en deur God te dank dat God luister. Hierdie gebede maak deel uit van die groep God met ons, omrede dit dui op God se immanente teenwoordigheid in mense se lewens.

Hierdie twee groepe saam dui op ’n geloof in God, die Versorger, met ons. Dit is weer eens ’n bevestiging dat “kerklos” nie met “apaties” verwar moet word nie. Kerklos millenniër-Christene is eerder geneig tot ’n beeld van God as ’n intieme, alomteenwoordige en versorgende God. Hierdie gevolgtrekking word nie net op grond van die inhoud van hul gebede gemaak nie, maar ook op grond van die gesprekstyl van die gebede en die wyse waarop daar op enige plek, te eniger tyd gebid word.

Julle sê in julle artikel dat millenniërs met tegnologie en die oorvloed van inligting wat daarmee saamgaan, gekonfronteer word. Watter unieke uitdagings bied dit, en kan tegnologie op ’n positiewe wyse deur kerke ingespan word om millenniërs te bereik?

Millenniërs beleef baie uitdagings as gevolg van tegnologie. Die wyse waarop tegnologie konstant ons aandag aftrek en inbreuk maak op denke en afsprake deur kennisgewings, is ’n uitdaging. Die wyse waarop sosiale media ’n ruimte word om jouself met ander se oënskynlik perfekte lewens te vergelyk, is ’n uitdaging. Die oorvloed van inligting wat veroorsaak dat ons breine meer data het as wat ons kan verwerk, en ons sodoende oorstimuleer, is ’n uitdaging.

Te midde hiervan is daar geleenthede. Daar is navorsing oor die manier waarop sosiale media mense deur rouprosesse kan help, hoe gemeenskap deur kuberspeletjies gebou word. Hoeveel mense kyk nie preke aanlyn nie, en daar is kerke wat by WhatsApp-terapiegroepe betrokke is. Die uitdaging is nie soseer om tegnologie se waarde te ontgin nie, maar eerder maniere waarop die kerk tegnologie op so ’n manier kan inspan dat die waarde van ’n fisiese geloofsgemeenskap nie afgemaak word nie, maar mense mekaar tog in hulle tegnologiese leefwêrelde ontmoet.

Hoe stel julle voor moet kerke te werk gaan om millenniërs weer betrokke te kry by die kerk se aktiwiteite? Is daar ’n spesifieke benadering nodig gegewe die unieke eienskappe van dié groep, en word die tradisionele verhouding tussen die kerk en sy lidmate meer vloeibaar?

Die beginpunt is om weg te beweeg van die paradigma dat die kerk millenniërs weer betrokke by die kerk moet kry. Die vraag wat gevra word in die navorsing, is eerder hoe die kerk meer betrokke by millenniërs kan wees. Hierdie vraag is gegrond in ’n missionale benadering tot kerkwees wat die kerk as ’n gestuurde in die wêreld in sien.

Die voorstel wat gemaak word, is dat kerke op drie vlakke nuut moet dink. Die eerste is ten opsigte van liturgie (wat in die navorsing as analiturgia bekend staan); die tweede ten opsigte van kerkwees (ana-ekklesia); en die laaste ten opsigte van ’n ontmoeting met God (anateïsme).

Kortliks behels dit dat gemeentes meer vloeibaar dink met betrekking tot hierdie drie gebiede. Gemeentes kan begin deur uit te kyk vir alternatiewe liturgieë en rituele onder millenniërs en dan by hulle aan te sluit om alternatiewe gemeenskappe te vorm en sodoende God in die vreemde(ling) te ontmoet. Vanuit hierdie ontmoeting kan gemeentes die werking van die Gees in hierdie gemeenskappe onderskei en dan saam kyk na wyses waarop liturgieë en rituele verryk en geskep kan word en so ’n gemeenskap word wat gegrond is in die geleefde teologie van die alledaagse.

 

Lees verder

Gebedspraktyke en geloofsoortuigings van kerklos millenniër-Christene: ’n Ritueel-liturgiese verkenning

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Weet julle wat is die kerk se probleem. Die kerk is 'n masjien. En die masjien werk met Siril se ESKOM krag. En ons lewe vandag in die era van beurtkrag. Ek is self 'n sogenaamde "millennier". Nou ja, ek kan seker nie namens andere praat nie, maar ek wil net 'n paar observasies maak.

    Julle artikel begin met die verstommende aanspraak dat bykans al hierdie "jongmense" (wat ook nie meer almal so jonk is nie), dat hulle eintlik almal steeds Christene is. Hiervoor is daar 'n verwysing na ene Kinnaman, voetnoot 1, wat mens neem na 'n ou YouTube videotjie van so 2 en 'n half minute. Nou in die betrokke videotjie word die bewering dan herhaal dat al die jongmense wat die kerk verlaat steeds Christene is. Daar word geen bewyse verskaf vir hierdie bewering nie. Geen data nie. Niks. Wie presies hierdie "Kinnaman" is, word ook nie vertel nie. Ek neem aan hy is 'n teoloog wat die dinge navors.

    Die verstommendste deel is miskien waar die video oor die kerkverlaters beweer: "they're big fans of Jesus, just not the church" - ERNSTIG?! Jy kan tog nie ernstig wees nie. Ek hou ook nogals van Jesus in sekere opsigte. Hoe Jesus nederig gelewe het. Sy omgee vir arm mense. Skynbaar opgestaan vir sosiale geregtigheid. Maak dit my 'n Christen as ek hou van Jesus?

    Maar hier na die einde van die video toe, dan word dinge wel interessant. Kinneman stel dit uiteindelik daar dat mense besig is om ernstige vrae te vra. Byvoorbeeld vrae oor die huwelik. Vrae oor seksualiteit (lees veral homoseksualiteit), en ongetwyfeld oor die gesag van die Bybel maar, se Kinneman, hierdie vrae word onder die mat ingevee deur die kerk.

    Dit is die heilige waarheid. In die kerk is dit business as usual. En dis nie NET jonger mense wat hierdie vrae vra nie. Ouer mense begin dit ook vra. Maar die kerk vee net alles onder die mat in.

    Die vraag wat ek verder wil vra is, as jy mense het wat die huwelik bevraagteken, wat heteronormatiwiteit bevraagteken, wat die gesag van die Bybel bevraagteken - is hierdie mense dan werklik nog 'Christene'? Christene soos in die tradisionele sin van die woord? Christene net omdat hulle "big fans of Jesus" is?

    Ek kan nie namens andere praat nie. Die laaste strooi vir my was die dag toe ek tydens 'n selgroep moes sit en luister na 'n letterlike interpretasie van die Genesis skepping mite. Ek het daar en dan besef dat die kerk 'n reaksionere instelling is wat nie die mensdom vorentoe neem nie. Dit was in 2012. My vermoedens oor die saak is vandag deur en deur bewys in die manier hoe die kerk die kwessie van homoseksualiteit hanteer het en dit steeds hanteer. Die kerk is nie 'n plek waar diversiteit gevier word nie. Dis 'n gevaarlike reaksionere instelling en een wat mens liefs moet vermy.

    Om die liturgie te gaan verander sal my nie weer terugkry in 'n kerk nie. Ek het opgehou glo dat slange en donkies praat. Dat maagde geboorte gee en mense op water loop. Die gesag van die Bybel is die olifant wat die kerk telkens maar weer onder die mat wil invee.

    Daar is baie Jode wat slegs "kulturele" Jode is. Hulle is eintlik ateiste. Hulle vier Joodse feeste en so aan. Ek vermoed baie sogenaamde Christene is vandag ook nog net kulturele Christene. Hulle is nie openlik ateiste nie want dit sal hulle familiebande skade doen. Hulle vriendskappe. Hulle besighede. So van hulle bely nog miskien die Christelike geloof maar hulle is eintlik gladnie meer Christene nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top