Stil Saterdag 2020: God is ’n gat om ’n gat

  • 0

Foto: Canva

Goeie Vrydag en Paassondag is die bekende dae wat met Paastyd geassosieer word. Tussen hierdie twee dae lê ’n minder bekende dag genaamd Stil Saterdag. Dis die dag na die kruisiging. Die dag van die gevulde graf. Dit is ’n noodsaaklike dag, maar belangriker nog as die feit dat die dag bestaan en wel op die kalender is, is die feit dat die dag moet oorgaan. Stil Saterdag van die vol graf is ’n leë dag, ’n dag van wag, ’n dag van afwesigheid. Sheila Cussons se Heerlike Huid voel op Stil Saterdag niks en haar Vraat en Drinkebroer, proe nie eers asyn nie. Dis die dag wat op die liturgiese kalender gewoonlik geïgnoreer word, en wat tydens ’n tyd van inperking soos ’n gat voel. En tog, tog is dit miskien hierdie jaar juis die dag op die kalender wat betekenisvol kan wees.

Stil Saterdag is ’n drumpeltyd en by uitstek die liturgiese liminale dag van tussenin wees, ’n wees dag. Liminaliteit dui op oorgang, of deurgang; dit kom van die Latyn vir drumpel en dui op ’n plek waar jy moet oor of deur, soos ’n brug waaroor jy loop indien jy die ander oewer wil bereik. Jy kan net vir só lank op ’n drumpel staan – uiteindelik wil mense ook óór die drumpel tree, na binne of na buite. Die episentrum van die liturgiese jaar is die Gallicinium, die hanekraai van Paasmôre, wat die einde van Stil Saterdag se liminaliteit aankondig.

In antropologie word gewys op die potensiaal van liminaliteit, dat dit ’n kreatiewe tyd is, ’n tyd waarin nuwe identiteite gekweek word, en dinge wat geleer word, word weer na afloop van die liminale tyd uitgeleef. Dit is die mooi kant van ’n ideale liminale fase, van die soort liminaliteit wat verbygaan. Die donker kant van liminaliteit word minder bespreek, te wete ’n liminaliteit wat vasval in liminaliteit en wat as sodanig ’n bedreiging word omdat dit stol. Dit is die graf van waarvoor geen klip weggerol word nie. Dit is die Saterdag wat nie Sondag word nie. Dit is die onvoltooide ritueel wat nie die kans kry om dit wat begin is, deur te voer nie. Dit is tyd wat vries en die mens op ’n drumpel laat en waarna geen haan kraai nie. Die onvoltooide ritueel wat in liminaliteit vasval, is in plaas van kreatief, destruktief. Dit is die Stil Saterdag sonder einde – dis die gat waaruit jy nie kan kom nie.

Inperking is vir baie ’n uitgerekte Stil Saterdag, ’n drumpeltyd wat nie wil wyk nie. Dit is soos ’n graf, ’n gevulde graf, ’n ruimte wat ’n liggaam inkerker; boonop ’n fisies geïsoleerde liggaam met min of geen kontak met ander lywe nie. Inperking is ’n tyd waarin lywe weens fisiese isolasie nog meer as ander tye die behoefte het om te vat en aangevat wil word, deur ander en deur die wêreld, die filosowe se chiasme van tas wat slegs ’n vel wat voel, kan bemiddel, mense wil beleef, maar dis taboe. Dit is ook ’n tyd van lywe wat wil opstaan, opstaan en uitgaan en ruimtes verken, vul, maar dis taboe. Die meeste taboes het te make met vat, met betree en met proe. Mense beleef die Stil Saterdag van die vel, ook die tong, tydruimtelik sekuur afgekamp – ’n lyf in ’n gat.

Wanneer ’n mens een sintuig verloor, ontwikkel die ander sintuie sterker. Dit is bekend hoe ’n blinde persoon se gehoor en ander sintuie, as gevolg van die afwesigheid van sig, dikwels sterker ontwikkel is as dié van ander. Dit is soos die blinde student in die universiteitskoshuis wat, toe die groot gebou stikdonker tydens kragonderbrekings was, die ander studente wat wel kon sien met gemak deur die gangetjies en oor trappe kon lei. Die een moontlikheid wanneer ’n sintuig ingeperk word, is dat die ander sintuie meer ontwikkel. ’n Ander opsie is dat die verlies van ’n sintuig (of eintlik nie net die verlies nie, maar selfs in gevalle waar ’n sintuig skielik onderbenut of ingeperk word) ook ’n groot klem op die "verlore" sintuig wat weg is, plaas. Dit is ’n slegte klem wat verlies inskerp. Dalk is die belewenis vergelykbaar met amputasie, waar die bewustheid van en pyn in ’n ledemaat lank voortduur, al is dit nie meer daar nie. ’n Positiewer reaksie wat kan volg op so ’n verlies, is waardering – waardering vir wat daar was, wat wel beleef kon word, ten spyte van die gemis. ’n Waardering waardeur dit wat eens wel beleef is, nou sintuiglik in herinnering geroep word. Dit is die anamnese wat liturgie en liturgiese rituele bemiddel: die verlede wat in die hede teenwoordig gestel word sodat ’n ten-spyte-van-toekoms oopbreek. ’n Soort gaatjie in die gat.

’n Vergelykbare verlies waar waardering op verlies volg, is die verlies van ruimte. Die oomblik wanneer ek my vryheid om in ruimte te beweeg verloor, word my hele lyf skielik bewus van iets wat ek as gegewe aanvaar het. Vir die eerste keer sien ek mure en heinings, waar ek voorheen deure, vensters en hekke gesien het. Opeens lyk die gat donkerder en bedreigend. En ruimte en sintuiglikheid lê lepel. Sodra ruimte ingeperk word, het dit ’n impak op dit wat ons kan sien en hoor en ruik en proe. Die grootste impak is bes moontlik op die tassintuig. Lywe soek ruimte. Vel soek spasie. Afgesien van wat ek sien, voel ek ook ruimte met my vel en deur my vel sodat dit elke greintjie van my menswees binnedring. Diegene wat al ’n MRI-skandering ondergaan het, het al iets vergelykbaar beleef. Die wit wand van daardie tonnel is nader aan die punt van ’n neus as wat enigeen ooit kon vermoed het moontlik is. In ’n skrapse blou hospitaaljassie met heelwat vel wat teen tonnelwande druk, oë styf toegeknyp, lê ’n lyf. Dus, wat nie gesien word nie, word wel gevoel. Tog is dit ook hier, in die gat van inperking, dat waardering vir ruimte ’n rol kan speel. En ook hier, in ruimte wat ingeperk is, is dit die teologiese inhoud van liturgiese rituele wat wande perforeer.

Richard Kearney en Brian Treanor lê in Carnal hermeneutics klem op die belang van tas (ook smaak) en skryf dat die mens se diepste wyse van ken deur smaak en aanraking kom. In die oggend wanneer ons wakker word, nog voor ek begin dink en besin, is my lyf, veral my vel, en deur my vel tot in my vleis, besig om die wêreld waarbinne ek wakker word, te interpreteer. My lyf weet ook dat ek die bed, die slaapkamer, die huis, later gaan verlaat. So, al is die mure van steen en sement, kan ek deur hulle beweeg en sal my lyf verskeie ruimtes beleef en my liggaam sal in ruimte die lewe interpreteer.

In dieselfde boek skryf Edward Casey ’n hoofstuk getiteld "Skin deep" wat handel oor die vel en tas binne die konteks van eensame afsondering in tronke. Deur eensame afsondering word ’n persoon se wêreld verwoes, en hy haal iemand wat dit beleef het aan: "Jy voel asof dit die einde van die wêreld was, maar op een of ander wyse het jy oorleef." Hy verken dan die vraag oor hoe dit lyflik moet voel om in eensame afsondering te wees. Volgens hom het die afsondering ’n impak op ’n persoon se verstand, maar die werklike gevangene is ’n liggaam. Dit is ’n lyf wat ly, en daardie lydende lyf spreek boekdele oor die verhouding tussen lyf en ruimte.

Pase 2020 word deur vele via elektroniese media gevier. Ek sou kon vaskyk in die oënskynlike onvoltooidheid van die Paasrituele van 2020. Ek sou kon vaskyk teen die mure van daar waar ek is en net verlang na die wande van die ruimte waar ek eintlik wil vier. Ek sou kon fokus op die velle wat nie aan my vat nie en die velle wat ek nie kan voel nie. Tog, wat jy doen in jou gat kan jou anders laat kyk na die gat, of, hoe jy kyk na die gat kan jou anders laat doen in die gat.

In die Nederlandse digter Gerrit Achterberg se "Ballade van de gasfitter" ry die man wat die gas na huise neem, in die eng ruimte van ’n hysbak. Dan, binne daardie benouende ruimte van die staalhokkie wat deur die lang gat in ’n gebou beweeg, kom die uitspraak: "God is het gat en stort / zijn diepten op mij uit ..."

Mag die ingeperkte Paasfees 2020, al voel dit soos ’n uitgerekte Stil Saterdag, die fees van die vergete sintuie word – die fees van vat en van proe en ruik. Die fees waarop ons, juis omdat vat en proe en ruik nie so maklik binne ons bereik is hierdie jaar nie, juis meer bewustelik vat, meer bewustelik proe en werk met ’n olfaktoriese logika. En dit is by uitstek die waarde van rituele tuis, die klein gewoontes, wat help om anders te kyk na die gat van Stil Saterdag, die gat van inperking, en ons die diepte van die misterie wat op ons uitgestort word, lyflik laat beleef.

Ek is in ’n gat? God is ’n gat en stort haar diepte oor my uit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top