
Boekomslag: NB-Uitgewers; kerk: Canva
Die meeste predikers se verstekposisie in die kansel is dié van die sagmoedige herder wat met ’n empaties liefdevolle aanslag probeer om mense se lewensvrae sinvol aan te spreek. En met ’n koppie tee in die een hand en die ander hand wat op my hart rus, sê ek na die diens waarderend vir ’n geliefde langs my: “Oe, Dominee het vanoggend weer met mý gepraat.” En dit is goed so; mense het dit nodig.
Soms is daar egter ’n teks en ’n konteks wat predikers noop om die herderhoedjie op die kapstok in die studeerkamer te laat en die profeethoedjie op te sit. Wat behels dit? Nee, dit beteken nie dat Dominee nou besluit het om luid en met swaaiende arms téén basies alles te preek nie – téén korrupsie, téén ongeregtigheid, téén elke liewe onding daar buite wat soos wolwe vir die skape sit en wag nie.
Nou wat beteken dit dan?
..........
Wel, die teoloog Walter Brueggemann is van mening dat die taak van profetiese bediening behels om 'n bewussyn en persepsie op te roep en te voed wat ’n alternatief vir die bewussyn en persepsie van die oorheersende kultuur rondom ons is.
............
Wel, die teoloog Walter Brueggemann is van mening dat die taak van profetiese bediening behels om 'n bewussyn en persepsie op te roep en te voed wat ’n alternatief vir die bewussyn en persepsie van die oorheersende kultuur rondom ons is. Jip, dis wanneer ek, teekoppie in die hand ná die diens, gevoelig vir die omstanders, met ’n sagte glimlag in my geliefde se oor fluister: “Dominee kan gaan bars.” Hoekom? Omdat hy gesê het ek moet my belastingvorm anders invul? Of omdat hy gesê het ek is ’n koei van Stellenbosch wat op ’n ivoorbed lê terwyl die armes in ons land vergaan van ellende? Bes moontlik nie. Hy weet goed ons sal almal dan gewoon net uitstap. Of erger, ons sal opstaan en vir hom vra om ’n bietjie sý belastingvorm vir ons te wys en hom herinner aan sy eie pastorie se adres op Stellenbosch. Of ek sal hom soos MM Walters herinner aan die beroep na Merweville wat hy nie aanvaar het nie.
So wat behels dit?
Brueggemann wys daarop dat die grootste uitdaging met ’n profetiese bediening is dat die profeet geen alternatief verkondig nie. Ja, ek maak ’n lawaai, maar dis ’n lawaai wat eintlik net mý belange dien en daarom is die God van my lawaai nie vry nie, maar in my greep. Die boodskap is dan nie Israel nie, dis Egipte. Die prediker se god is die gode van Egipte wat Farao se werklikheid van slawerny en onderdrukking dien. Die prediker se god is nie die God van Moses wat vry is en teenoor die gode van Egipte staan en ’n absoluut radikale alternatief beskryf en moontlik maak nie. Die God van die ware profetiese preek is ’n vry God, dis ’n God wat nie mak gemaak is, wat nie na die beeld van die prediker en gemeente geskep en aanbid word nie, maar wat absoluut vry is en teenoor hulle staan. Om uit te skel? Nee! Om die alternatief van vryheid te skets. Om die alternatief te wys van dit wat kan wees. Met ander woorde: Dit gaan oor verbeelding.
Maar hier is die lastigheid. Is dit enigsins moontlik om dít te doen? Tot watter mate is die gemiddelde prediker nie deel van die oorheersende kultuur en dien dus ook die “gode” van die oorheersende kultuur wat dit in stand hou nie? Adam Small het lank terug reeds gevra: “’n proefiet van Jesus djy? ’n proefiet? / djy met djou palys-hys /... en djou tears.” Tot watter mate preek ek as middelklas prediker nie net myself nie? Hou ek nie net dit wat is en wat my belange dien, in stand met my woorde nie? Skep ek werklik daardie profetiese alternatief? Kan ek die werklikheid anders verbeel? Wel, enige prediker het net drie preke (soos skrywers net twee stories het).
..........
Tot watter mate preek ek as middelklas prediker nie net myself nie? Hou ek nie net dit wat is en wat my belange dien, in stand met my woorde nie? Skep ek werklik daardie profetiese alternatief? Kan ek die werklikheid anders verbeel? Wel, enige prediker het net drie preke (soos skrywers net twee stories het).
..............
Ons het ons gunstelingtemas en -tekste en kom maar merendeels terug na daardie favourites. Maar wat ons moet byvoeg, is dat onderliggend aan daardie drie preke is daar één wêreldbeeld, of eerder en meer spesifiek, één konstruksie van hoe die wêreld, die samelewing en ons plaaslike gemeenskap daar moet uitsien wat soos ’n fondament van beton lê waarop ek week na week een van my drie preke bou. Dis ons ingemesselde social imaginary. Drie preke dus, maar net een onderliggende sosiale verbeelding. En die drie dien die een. Daardie verbeeldingfondament lê vas.
............
’n Voorbeeld: Suid-Afrika is ’n land waarin die burgers ekonomies ongelyk is. Dit is wat dit is. Dit staan vas. Ek aanvaar dit. En ek lees en interpreteer die Bybel en ons konteks met daardie Suid-Afrika in my kop en hart, en my profetiese woord gaan daardie ongelykheid as ’n gegewe neem wanneer ek een van my drie preke skryf en preek.
...............
’n Voorbeeld: Suid-Afrika is ’n land waarin die burgers ekonomies ongelyk is. Dit is wat dit is. Dit staan vas. Ek aanvaar dit. En ek lees en interpreteer die Bybel en ons konteks met daardie Suid-Afrika in my kop en hart, en my profetiese woord gaan daardie ongelykheid as ’n gegewe neem wanneer ek een van my drie preke skryf en preek.
So wat is die oplossing?
Ek weet nie. Ek weet wel dat indien daar ’n oplossing vir hierdie dilemma gaan kom, daar ook groot moeilikheid gaan volg, want dan gaan hoorders die werklikheid anders begin verbeel. Dan gaan ons land anders kan begin lyk as Farao en die gode van Egipte wat in beheer is en alles mooitjies in hulle plek hou – soos ’n soort kapitalisme wat met beleid en wetgewing en mag wat saamval met roekelose rykdom seker maak dat wanneer ons mense geleer het om self vis te vang, hulle nooit as te nimmer die kans gegun word om hulle voet by die see of ’n dam te mag sit nie. Dus opgeleide vissermanne verstrengel in die sistemies onderdrukkende net van ongelykheid wat gewoon net aanvaar word as dit is hoe dit is. Of my geografiese verbeelding waar ek net aanvaar dat sekere mense hiér en ander mense dáár in Suid-Afrika (moet) woon. Alles, maar alles kan en moet anders verbeel word in die lig van die woorde wat ’n God wat vry is dien; ’n God wat die wêreld anders verbeel as hoe ons dit verbeel, eerder as die woorde wat die gode van Egipte dien wat help om uitsluiting en onderdrukking in stand te hou.
En die oplossing?
Ek dink nog. Maar ’n deel van die antwoord is miskien opgesluit in die hermeneutiek, in interpretasie. Met ander woorde hoe ons alles – tekste, die wêreld en die lewe self – hoe ons dit interpreteer. Daar is ’n betreklik nuwe veld wat carnal hermeneutics genoem word. Kom ons noem dit ’n vleeslike of lyflike manier van interpreteer. Ons moet dus met ons lywe, veral ook met ons velle, tekste en die lewe self benader. Hoekom? Sodat ’n dikvellige prediker, soos ek self, wat merendeels die status quo dien, geraak kan word, in voeling kan kom met die opgeleide visserman sonder ’n see en die mense wat in buurte woon wat ek meestal nie eers kan of wil sien nie. Ek kyk en lees en interpreteer dus nie net met my kop en verstand nie, maar met my hele lyf, en so ook met my hart. Ek moet dus in voeling kom sodat ek anders kan begin kyk en leef. Preekmaakkunde se fancy naam is homiletiek (van die Griekse homileo, wat gewoon net “om te praat” beteken). Dis miskien tyd om te beweeg vanaf carnal hermeneutics na carnal homiletics – van lyflik luister en verstaan na lyflik praat. Of so iets.
Richard Kearney skryf in sy boek Touch: “Over time, we develop savvy, treating flesh as surface that is deep. And precisely because it mediates between a self carnally located ’here’ and other located ’there’, touch is what enables empathy. Em-pathein – feeling oneself as one with another.” Vanaf interpreteer met jou hele lyf moet ons gaan na preek en praat vanuit daardie lyf. En nee, hiermee word nie ’n soort emosionaliteit bedoel nie. Soos Danie Marais in Ek en jy bestaan nie dig: “Wit trane is net sout / in ou wonde.”
Dalk, net dalk, as ek met my hele lyf begin luister na tekste en na al die ander lywe rondom my, kan ek deur die mense aangeraak word, en deur die Een wat diep geraak is deur slawe wat uitgeroep het in ’n vreemde land, sodat ek wel iets van daardie ware alternatief kan laat deurskemer wanneer ek dan praat. Dalk kan ek so effens beter in voeling kom met die werklikheid en kan my bestaande sosiale verbeelding ten minste ’n kraak kry. Miskien kan my drie preke dan soos beiteltjies vir hoorders laat sien “die donker naat loop deur my land”.
Wat geld vir preek, geld vir praat. En wat ons kan verbeel, dit kan ook gebeur. Vra vir Moses.
Lees ook
Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay