
Foto: Alberto Bigoni op Unsplash
Ek sit half ingedagte in ’n koffiewinkel. ’n Man stap in en kom sit by drie ander mans by ’n tafel oorkant my. Hy het ’n selfoon by hom wat hy voor hom neersit, maar amper tussen die vier van hulle en nogal naby aan die ander drie by sy tafel. Interessant. My gedagtes begin roer. Die vier gesels lekker. En dan, soos ek verwag het, lui die man se selfoon. Hy wag totdat die gesprek deur die gelui verbreek is en sy drie tafelgenote se aandag, en ook dié van heelwat mense by die tafels naaste aan syne, nou op sy selfoon gerig is. Die drie by hom kyk af na sy foon en dan na hom, en by die tafels rondom hom kyk enkele mense om. Langsaam strek hy sy arm uit, antwoord hy die oproep en praat hy kliphard.
En ek dink ... wanneer hulle selfone in ’n koffiewinkel lui, sal presidente, maatskappydirekteure en rektore sonder uitsondering die telefoon neem, die klank demp, hulself verskoon en dit buite sig- en hoorafstand gaan beantwoord. Regtig? Eintlik vermoed ek dat presidente, maatskappydirekteure en rektore na alle waarskynlikheid nie soos ek en die ou daar oorkant ’n selfoon na ’n koffiewinkel sal neem nie. Die inligting waarmee hulle werk, is te sensitief en belangrik om in ’n koffiewinkel hanteer te word. Die man wat oorkant my kliphard praat, behoort dus nie tot een van dié groepe mense nie.
........
Soos wat sy telefoongesprek vorder en hy besef dat die koffiewinkel nou ’n teater is vir sy eenpersoonvertoning en sy selfgeskepte gehoor inderdaad na hom luister, so kry sy koffiewinkelopvoering ook momentum.
........
Ek sit ’n goeie ent van die man af, maar ek kan elke woord hoor. Hy praat ’n raps harder as wat nodig is. Hy sou kon fluister en steeds hoorbaar wees. Hy praat ook met die stemtoon van ’n baas; gebruik in elke sin die imperatief, bevele dus – niemand moet twyfel dat hý die een is wat sê wat gaan gebeur nie. Soos wat sy telefoongesprek vorder en hy besef dat die koffiewinkel nou ’n teater is vir sy eenpersoonvertoning en sy selfgeskepte gehoor inderdaad na hom luister, so kry sy koffiewinkelopvoering ook momentum. Wat hy nie sien nie, en nie kan of wil sien nie, is dat sy gehoor kort-kort met afkeer na hom loer, eerder as dat hulle applous vir sy produksie wil gee.
Die man se gepraat word ’n grys gedruis terwyl ek na hom kyk, en my gedagtes dwaal na die werk van die sosioloog Irving Goffman. In die voorwoord van The presentation of self in everyday life skryf Goffman. “I shall consider the way in which the individual in ordinary work situations presents himself and his activity to others, the ways in which he guides and controls the impression they form of him …” Ek hoef met ander woorde nie te hoor wat mense rondom my vir mekaar sê nie; ek kan sommer net na hulle kyk en baie oor hulle te wete kom. In die lig van Goffman se dramaturgiese teorie kan ek deur ’n persoon se optrede, gewoon die handelinge wat hy uitvoer, afleidings maak oor hoe hy homself graag aanbied in en vir die samelewing en so ook probeer om ons indruk van hom te beheer. Soos wat ek na die man met die selfoon kyk, besef ek dit geld by uitstek ook vir hoe jy ’n selfoon gebruik, al het Goffman sy boek lank voor die bestaan van selfone geskryf.
........
Die woord persoon is afgelei van die woord persona wat “masker” beteken. En die hele wêreld, ook ’n koffiewinkel, is ’n verhoog gevul met “entrances and exits”, en “one man in his time plays many parts”, soos Shakespeare in As you like it vir ons verduidelik het.
........
Die woord persoon is afgelei van die woord persona wat “masker” beteken. En die hele wêreld, ook ’n koffiewinkel, is ’n verhoog gevul met “entrances and exits”, en “one man in his time plays many parts”, soos Shakespeare in As you like it vir ons verduidelik het. Of, in die woorde van Goffman: “All the world is not, of course, a stage, but the crucial ways in which it isn’t are not easy so specify.” Almal bied hulself aan op ’n wyse waardeur hulle hoop hulle jou indruk van hulle kan manipuleer. Die wyse waarop elke individu die koffiewinkel binneloop, bevestig hierdie teorie – sommige pa’s, wat ook eggenote is, stap in as sakemanne; ’n professor wat ook dekaan is, stap in as ’n bergfiets-“buddy”; en arm getraumatiseerde vlugtelinge stap in as selfversekerde glimlaggende kelners.
Neem as eerste illustrasie van Goffman se teorie, dominees. Die meeste dominees wat ek ken, werk te hard. Maar die probleem is, niemand sien ooit wat hulle die hele week lank mee besig is nie. Die gevolg is dat wanneer jy hulle wél sien, dan moet hulle ’n besige skedule “opvoer”, vir jou dadelik sê dat hulle besig is, bykans soos iemand vir jou moet sê dat hulle in Affies was, want hoe anders gaan jy weet dat hulle van Maandag tot Saterdag wél iets doen. Met ’n soort omgekeerde opvoering word daar oor die “eintlike werk” wat deur begrafnisondernemers gedoen word, nie gepraat nie, en dit verskyn ook nie op die rekening wat die naastebestaandes van die ondernemer ontvang nie. Dit word met ander woorde deur ’n omgekeerde soort dramaturgiese “opvoering” verswyg, en daarom word die kostes by ander items soos die kis ingereken. Indrukke word dus gemanipuleer. En gepraat van die dood... Goffman gee die voorbeeld van ’n begrafnisondernemer in Amerika en hoe hy wanneer hy by die begraafplaas rook, sy sigaretstompie moet hanteer:
[A]t middle-class American funerals, a hearse driver, decorously dressed in black and tactfully located at the outskirts of the cemetery during the service, may be allowed to smoke, but he is likely to shock and anger the bereaved if he happens to flick his cigarette stub into a bush, letting it describe an elegant arc, instead of circumspectly dropping it at his feet.
In die dae voor die gebruik van TV-kameras om te help met beslissings in sportwedstryde, moes skeidsregters met groot oortuiging die beslissings wat hulle vel, as ’n opvoering aanbied. ’n Skeidsregter kon nie, wanneer hy voor sy siel weet hy kan nie doodseker wees nie, die fluitjie op ’n flouerige wyse blaas, sy skouers in onsekerheid ophaal en sy hand so kwartpad in die lug opsteek om ’n vorentoe-aangee as fout uit te wys nie. Nee, al het hy vrek goed geweet daar is maar net ’n vyftig-persent-kans dat daardie aangee vorentoe was, moes hy met erns op sy gesig ’n arm soos ’n mas in die lug en ’n fluitjieklank wat oortromme kan laat bars die fout uitwys. Skeidsregters moet ten alle koste, soos dominees en lykswabestuurders, indrukke beheer.
........
Jean-Paul Sartre beskryf studente wat só hard daaraan werk om die indruk van die oplettende student in die lesinglokaal te beliggaam dat hy nie kan dink dat daar enige energie oor kan wees om regtig ook te kan inneem wat hy sê nie.
........
Dit doen studente ook. Jean-Paul Sartre beskryf studente wat só hard daaraan werk om die indruk van die oplettende student in die lesinglokaal te beliggaam dat hy nie kan dink dat daar enige energie oor kan wees om regtig ook te kan inneem wat hy sê nie. En gepraat van filosowe – hoe hulle aantrek, hulle woordkeuse, hulle optrede – alles is daarop afgestem om die sfeer van wysheid te skep, ook ’n soort misterie wat hulle moet omring, bykans soos digters en skrywers dit ook doen. Mense moet tog net nie dink dat hulle gewone aardlinge is nie. Kyk gerus na hulle profiele op Facebook – aanhalings wat tot nadenke stem, kunswerke, en peinsende profielfoto’s is wat jy vind, nie kinderpartytjies nie.
Oor die gebruik van misterie en mistifikasie in alledaagse opvoerings kan baie gesê word. Die onderhoude met kinders wat na spogskole wil gaan, word altyd opgevoer as ’n uiters streng toelatingsvereiste om sodoende die indruk te skep dat beide kinders en ouers superspesiaal en bevoorreg is om toelating by die betrokke skool te kry en is ’n voorbeeld hiervan. Wys my een seminormale kind wie se ouers die tjek kon teken en wat weggewys is na afloop van daardie onderhoud. Hierdie mistifikasie word by uitstek in hiërargiese instelling soos die weermag en vloot gebruik, en daarom sal offisiere en troepe nimmer as te nooit saam eet nie. En dat die groot geheimenis wat saamhang met die fase van liminaliteit in oorgangsrituele die geheim is dat daar eintlik geen groot geheim is nie, is al lankal geen geheim meer nie.
........
Deur “Reply all” te kies, bied ek myself aan, gee ek dus ’n vertoning op my rekenaar en probeer ek sodoende indrukke van ander oor my beheer. Maar ’n indruk van wat? As iemand wat besig is?
........
Dit is nogal jammer dat Goffman nie geleef het om te midde van tegnologiese ontwikkelinge sy teorie in die kader van die Vierde Industriële Revolusie te toets nie. Een moderne voorbeeld wat vra vir sosiologiese navorsing, is die “Reply all”-knoppie in e-pos-programme. Waarom sal iemand wat op ’n e-pos moet antwoord, met ’n antwoord wat slegs die oorspronklike sender van die boodskap moet ontvang (of wat geen antwoord hoef te kry nie), dit bewustelik vir almal stuur? In die lig van Goffman se teorie is die antwoord voor die hand liggend: Deur “Reply all” te kies, bied ek myself aan, gee ek dus ’n vertoning op my rekenaar en probeer ek sodoende indrukke van ander oor my beheer. Maar ’n indruk van wat? As iemand wat besig is? As iemand wat die moeite gedoen het om die e-pos wel te lees? Irving Goffman sou nog ’n boek kon skryf net oor die gebruik van sosiale media – van “Reply all”-e-posse en “Out of office”-boodskappe en die inligting wat dit dikwels bevat, tot by profielfoto’s en statusse op WhatsApp, Facebook en Instagram.
Hierdie laaste voorbeeld bring my terug na die man daar oorkant met die selfoon in die koffiewinkel, want die onderliggende boodskap van “Reply all” en “Out of office” is bes moontlik “Ek is só besig.” En die opvoering van besig wees vertaal na “Ek is belangrik” (of “Ek het iets om weg te steek, naamlik dat ek eintlik nie so heel besig is nie en met tye nie so belangrik voel soos wat ek graag wil voel nie ...”). My ervaring is dat die besigste mense nie die “Reply all”-knoppie gebruik nie; ook nie die besonderhede van hulle wêreldreise in ’n “Out of office”-boodskap uitspel nie; of selfs net in die gang vir my sê hoe volgeskryf hulle dagboek vir vandag en die komende week is nie. Geen visekanselier of besturende direkteur het al ooit ’n opvoering van besig wees gedoen nie – dít geskied sonder uitsondering laer af op die hiërargie. Daarom is my voorstel aan die man met die selfoon: Beantwoord jou foon buite hoorafstand van die ander klante of kom na die koffiewinkel sonder jou selfoon. Dít sal mense mateloos beïndruk.
Lees ook:
The digital psyche: Why you should pay attention to your social media likes

