
Foto van Deborah Steinmair: https://www.litnet.co.za/deborah-steinmair-1962/
.............
Individuasie is ’n groot woord. Dit beteken om ’n stabiele persoonlikheid te vorm, ’n duidelike sin van jouself wat verwyderd is van jou familie en die res van die wêreld. Carl Jung het die term gemunt. Individuasie het min of meer op die ouderdom van 40 op my neergedaal.
...............
Individuasie is ’n groot woord. Dit beteken om ’n stabiele persoonlikheid te vorm, ’n duidelike sin van jouself wat verwyderd is van jou familie en die res van die wêreld. Carl Jung het die term gemunt. Individuasie het min of meer op die ouderdom van 40 op my neergedaal. Soos Elisabeth Eybers moes ek deur baie pyn gaan om mens te word. Dit was ook ander tye.
En ek was ’n anderster kind. Of dalk nie so anders nie. As daar op vier iets aan jou gedoen word waarvoor jy vir jare lank verkeerdelik verantwoordelik voel, verander jy in ’n stroopsoet en tjoepstil kind. Jy voel jy het al jou kanse opgebruik en moet lewenslank presteer om die vlamme van die hel vry te spring. Daardie ding waarop die kategismus so hamer, dat jy moet besef hoe diep jou sonde en ellende is, dit kom so natuurlik soos asemhaal.
Jy knyp jou oë toe en probeer die vrotkol in jou vroeë kinderjare uitblok en doodleef. Jy ervaar selfs oomblikke van uitbundigheid.
..............
Jy knyp jou oë toe en probeer die vrotkol in jou vroeë kinderjare uitblok en doodleef. Jy ervaar selfs oomblikke van uitbundigheid.
..............
Ná my eerste skooldag het ek vir my ma gevra: “Raai wie is die mooiste kind in die klas?” Dit onthou ek omdat my boeties my nooit ophou spot het daaroor nie. “Ek weet nie, seker maar jy?” het my ma geantwoord. “Nee, dis Werner.” Ek het nog ’n geheueprentjie van Werner. Hy was glad nie ’n oil painting nie. Borselkop, skreefoë, groot mond. Wat hy was, was ’n grapjas. Die klashanswors. Hy het van die eerste dag af komiese geluide en grappies gemaak. Dit het my mateloos beïndruk dat iemand so sorgvry en selfversekerd kan wees. Wie weet wat het Werner agter sy mombakkies versteek, dink ek nou.
In sub b was daar identiese tweelingseuntjies in my klas. Ek kon hulle nie uitmekaar ken nie. Hulle was skobbejakke. Onhebbelik en met ’n aura van gevaar wat hulle omgeef, soos mafiosi. Eendag was ’n klein venstertjie in die klaskamer uitgebreek. Dit het glo pas gebeur, maar niemand het iets gesien nie. Toe die juffrou vra wie dit was, merk ek die bloed aan een van die tweeling se vuis en sit twee en twee bymekaar lank voordat ek my eerste Agatha Christie gelees het. My voorbeeldige hand wil-wil opskiet, toe ek die ander boetie se oog vang: priemend, waarskuwend, dodelik. Ek het my hand laat sak, bewend. Later die dag wag die dreigende boetie my in op pad huis toe en sê sy boetie vra die kys. Ek het skaars geweet wat dit beteken, maar geïntimideerd gevoel en “ja” gesê. Niks het ooit verder gebeur nie. Nie een van ons het dit ooit verbreek nie, so ek is nou nog gekys met ’n seun wat ’n paar jaar daarna saam met sy tweelingboetie in ’n maalkolk verdrink het. Wat was dit, wonder ek? Wou hulle my stilswye koop, het hulle gehou van ’n gehoorsame vrou? Het gevaarlike mans my aangetrek?
Steeds in die laerskool was daar twee Hansies van wie al die meisies gehou het. Die een was bleek en voorbeeldig, die musiekjuffrou se seun, maar met ’n moedswillige humorsin. Toe sy ma ons dirigeer, fluister hy vir my van haar degerige boarms: “Kyk my ma se muscles.” Ons het eendag “koljander” gespeel en toe hy bo-op my val, ruik ek hy het sy broek bedinges. Einde van die aangetrokkenheid. Die ander Hansie was cool en stout, ’n dominee se seun, met goudrooi hare. Sy onverskillige selfversekerdheid het al die meisies in die klas op hol gehad. Hy het eendag hout gekap, sy maermerrie en voet met die byl bygekom en die besering stoïsyns gedra. Eendag het ek ook maar vir hom ’n briefie geskryf en hy het met groot verbasing gesê: “Jy ook?” Tog het hy vir Lettie Castelijn gekies, met haar lang, blinkswart poniesterte soos ’n poedel se ore. Ek noem haar van, want wat ’n majestueuse naam en van is dit nie, en sy het niks verkeerd gedoen nie.
In standerd vier was ek weer gekys, met ’n standerd vyf-seun wat in die skoolbus my hand vasgehou het. Hy was vir my baie mooi en baie ordentlik. Ek het eendag saam met ’n maatjie en haar ouers by sy ouerhuis gaan kuier. Dit was baie voorstedelik. Dit was al aand en hy het netjiese nagklere aangehad. Sy kamer, waar ons kinders gesit het, het sportmotor-muurpapier gehad. Hy het met ’n ligte blos gesê hy steek al my briefies weg op ’n plek wat baie na aan hom is. Maar toe is hy hoërskool toe en uit die oog, uit die hart.
In standerd vyf was ek met die hoofseun gekys, ’n lang seun met ’n gesig soos ’n gehoorsame kalf en ’n platgelekte kuif. Hy was glo baie slim. Dit het doodgeloop. Jare later het hy een keer by my kom kuier en gesê hy het dwanggedagtes begin kry en is in ’n inrigting opgeneem. Hy is later met sy versorger getroud.
In standerd ses vang ek die oog van Karkas, of so het die kinders hom genoem omdat hy so lank en maer was. In standerd nege. Hy was briljant en cool, op sy rugsak was ’n skoenlapper (uiters verbode destyds) en die woorde BE DIFFERENT, onderstebo geskryf. Hy het vir my briefies geskryf en gesê dis ’n ouderdomsverskil en ’n verskil in lengte, nie ’n hartsverskil nie. Hy het ons nommer in die hande gekry en my eendag gebel. Soos die noodlot dit wou hê, het my pa die telefoon opgetel en was geskok en briesend oor hierdie diep manstem wat vra om met my te praat. Hy het enige kontak verbied. Onthou, ek was soet. Tog het Karkas en ’n maat een vakansiedag met fietse kilometers afgelê na die plotte en by my kom kuier, onaangekondig. Gelukkig was ons nie tuis nie. Die bure het dit gerapporteer en ek is met valkoë dopgehou.
Ek is nie weer gekys nie tot in matriek, met my broers se beste vriend, ’n sterk, stil man wat op naweekpas net vir ure en ure wou soen by die inry. Dit het my om een of ander rede verveel. Daar was nog ’n paar seuns op hoërskool wat my oog gevang het: ’n lang, dromerige seun met swart hare en viooltjieblou oë by die KJV wat eendag vir my ’n blou blommetjie gegee het. ’n Seun met die bynaam Boude omdat hy… Wel, groot boude gehad het. ’n Seun wat (van stoutigheid) standerd nege moes herhaal, wat vroeër oorgewig was maar saam met sy ma op Weight Watchers verslank het – net sy heupe was nog groot. Ek het myself nie afgevra hoekom ek van sagte, effens oorgewig seuns met groot boude en heupe gehou het nie, maar nou dink ek dit was voor die hand liggend.
.............
Eers met puberteit het ek ongemaklik en senuagtig geraak in die teenwoordigheid van mooi meisies. Het ek onderwyseresse bewonder en vir ure oor hulle gedink: waar is sy nou, hoe lyk haar huis, maak sy vir haar koffie, lees sy ’n boek?
..............
Eers met puberteit het ek ongemaklik en senuagtig geraak in die teenwoordigheid van mooi meisies. Het ek onderwyseresse bewonder en vir ure oor hulle gedink: waar is sy nou, hoe lyk haar huis, maak sy vir haar koffie, lees sy ’n boek? Het ek onbetaamlik geheg geraak aan vriendinne. Tog het ek geglo ek is “normaal”, want daar was eenvoudig nie ’n ander opsie nie.
Dit was eers op 40 toe Jeanne Goosen my een kyk gee en sê: “Wanneer het jy uit die kas geval?” “Ek is straight,” het ek gesê, met net ’n effense weifeling.
Individuasie het gevolg.


Kommentaar
Manjifiek. Dankie.
Mooi geskryf. Ek kan identifiseer hiermee. Daar het niks met my gebeur toe ek vier was nie, maar ek het ook vroeg-vroeg stroopsoet en tjoepstil geword. Ek was ook 'n paar keer gekys en het briefies gekry, en later ook selfs intiem gebloos saam met een (of twee?) hardebaarde wat sag van lyf was. Maar als is doodgebore onder die streng oë van die oueres, van hulle wat dink ek lyk so goed op amper-50 omdat ek nooit 'n man gehad het nie (asof dit 'n prestasie is).