Narratief-gebaseerde geneeskunde: enkele opmerkings

  • 0

[C]linicians call it narrative knowledge or reflective practice – it is a way of knowing that recognises the known/knowable, the unknown/unknowable, the universal, the particular, the body, and the self. (Charon en Wyer 2008:296)

But what is narrative-based medicine? Is it a specific therapeutic tool, a special form of physician-patient communication, a qualitative research tool, or does it simply signify a particular attitude towards patients and doctoring? (Kalitzkus en Matthiessen 2009:80)

Die doel van narratief-gebaseerde geneeskunde (NGG) kom in hoofsaak daarop neer dat ’n gesamentlike en gepersonaliseerde behandelingsprogram vir die pasiënt saamgestel word (Fioretti, Mazzocco, Riva, Oliveri, Masiero en Pravettoni 2016).

Indien ’n pasiënt (bloot ’n fiktiewe voorbeeld wat hier ter illustrasie gebruik word) gediagnoseer word met chroniese siektetoestande soos prostaatkanker, sowel as ’n kwaadaardige niergewas op ’n spesifieke nier, kan die onderliggende beginsels van NGG ter sprake kom, hetsy as ’n intervensiestrategie en/of ’n assesseringstegniek binne of buite die spreekkamer. As ’n intervensiemetode binne die spreekkamer behoort die voor- en nadele van Brachyterapie versus prostaatverwydering volledig met die pasiënt bespreek te word, in terme van die prognose, sowel as die verreikende fisiese en sielkundige implikasies. Die dokter en pasiënt kan dan ’n ingeligte besluit neem deurdat die pasiënt se waardes, insigte en houdings erkenning ontvang. Indien die prostaatspesifieke antigeentoets (PSA) se tellings geleidelik weer ’n stygende profiel na afloop van die operatiewe prosedure sou toon, behoort die pasiënt se perspektiewe in verband met die moontlike toekomstige gebruik van bestraling en/of hormoonbehandeling deeglik in ag geneem te word. Nierverwydering kan intense en realistiese verwagtingsangs by ’n pasiënt skep oor die moontlikhede en implikasies van nieroorplanting-chirurgie, of selfs langtermyn dialise in die toekoms. Empatiese begrip deur die geneesheer vir die pasiënt se belewenisse in hierdie verband is dan van kardinale belang. Terugvoer, tydens of na afloop van die behandelingsperiode, kan deur beide die geneesheer en pasiënt gegee word oor die rol wat die NGG-benadering in doeltreffende pasiëntebestuur gespeel het. Chen, Huang en Yeh (2017) voeg verdere vrae by: Het die geneesheer die pasiënt se narratief korrek verstaan, voldoende erkenning aan die narratief gegee, dit korrek geïnterpreteer en in ooreenstemming daarmee opgetree?

.......
Sou die bestaansreg van NGG geregverdig kon word binne die alledaagse mediese praktykvoering deur algemene praktisyns en spesialiste wat gekenmerk word deur hoë werkladings en tydsdruk?
.......

Sou die bestaansreg van NGG geregverdig kon word binne die alledaagse mediese praktykvoering deur algemene praktisyns en spesialiste wat gekenmerk word deur hoë werkladings en tydsdruk?

Agtergrond

In ’n onlangse artikel wat gepubliseer is in die mediese tydskrif The Lancet, verduidelik Jens Foell en John Launer (2025), verbonde aan die Mediese Skool, Universiteitskollege, Londen, wat met NGG bedoel word. Hulle wys daarop dat NGG ten grondslag het dat die pasiënt se lewensverhaal/narratief as die teoretiese sentrum in die gesondheidsorg-proses geplaas word. Die uitgangspunt is dat pasiënte dikwels tydens kliniese konsultasies die behoefte toon om hul eie, unieke verhale te verbaliseer. Dié pasiënte verwag gevolglik dat die praktisyn met volle aandag na sy/haar verhaal sal luister. Dit skep die potensiaal daarvoor dat die pasiënt die konsultasie verlaat met ’n nuutgevonde, gerekonstrueerde, sinvolle narratief of persepsie van hul verbandhoudende gesondheidsituasie.

Een van die mees algemene besware teen dié metode, volgens Foell en Launer (2025), is dat sommige klinici die narratiewe benadering wel nuttig vind tydens konsultasies van ’n gewone, nie-direktiewe en ondersoekende aard (soos die assessering van myalgiese enkefalomiëlitis/chroniese moegheidsindroom), maar dat die metode minder toepaslik is tydens akute siektetoestande waar die dokter verplig is om professionele raad te gee, direkte aanbevelings te maak, of wanneer teen die wense van die pasiënt opgetree moet word.

Foell en Launer (2025) beklemtoon veral twee kernbeginsels in hierdie benadering: Eerstens, dat dit wel moontlik is om die narratiewe uitgangspunt te integreer met gewone normatiewe beginsels onderliggend aan veilige mediese praktykvoering, waarbinne wetenskaplike bewyslewering, streng professionele riglyne en spesifieke wetlike regulasies die alfa en omega is. Tweedens, dat goeie narratiewe praktykvoering die begrip wat die geneesheer vir die siektebeeld van die pasiënt vorm, besluitneming in verband met die diagnosering en behandeling van die siektetoestand fasiliteer.

Die skrywers (Foell en Launer 2025) verwys ook na spesifieke praktiese tegnieke en metodes, soos die gebruik van eenvoudige, basiese vrae om rapport te vestig deur toepaslike leidrade/prikkels (soos opvallende juweliersware, tatoeëermerke of kleredrag) waar te neem en as vertrekpunt te gebruik om ’n gesprek te inisieer. Sulke vrae kan die ys breek en as basis dien vir ’n natuurlike vloei in die gesprek. ’n Aanverwante metode is om vrae te stel vanuit ’n inter-waarnemerperspektief. (Byvoorbeeld: Wat sou X sê as sy/hy jou nou hoor praat?) Hierdie tipe vraagstelling bevorder meta-perspektiefvorming met betrekking tot die situasie en bied inligting oor die emosionele stabiliteit/labiliteit en kognitiewe kapasiteit van die pasiënt. Dit is ook nuttig om ’n prosesgeorïenteerde benadering te volg. Soms is dit nodig om die sielkundige klimaat te toets met vrae soos: Hoe vorder ons; hoe verloop die assessering; is ons op die regte spoor; daar moet ’n besluit geneem word oor die beste manier om hierdie moeilike situasie te hanteer: Waar bevind jy jou nou in die proses?

Die praktisyn behoort ook ’n bewustheid vir die konteks van die siektetoestand en ’n pasiënt-gesentreerde perspektief te openbaar (Kalitzkus en Matthiessen 2009). ’n Diagnose moet verkieslik binne ’n individuele konteks geformuleer word, pleks van hoofsaaklik ’n formele en sistematiese beskrywing van die simptomatologie en etiologie. Narratiewe kommunikasievaardighede, soos die bespreking van verskille en ooreenkomste, hipotese-vorming, oorweging van verskillende behandelingstrategieë, magsdeling en aktiewe luister word sterk aanbeveel.

Sadock en Sadock (2003:2) sluit aan by die opmerking deur Foell en Launer (2005) hierbo, naamlik dat sedert George Engel se publikasie oor die bio-psigososiale model die lig gesien het, vorm hierdie benadering ’n belangrike fondamentsteen in mediese opleiding, terwyl duidelike gapings bestaan tussen hierdie teorie en die wyse waarop mediese praktykvoering in die werklike lewe bedryf word. Kroniese siektetoestande kan sonder twyfel beïnvloed word deur persoonlikheids- en sosiale faktore, terwyl akute toestande (soos infeksies) nie noodwendig daardeur beïnvloed word nie. “Because the biosocial model offers no guidance on when and which psychosocial factors are important, physicians [...] often by default fall back on the biomedical model, focusing instead on physical pathology and the use of biological, physical interventions.” Sadock en Sadock (2003:2)

Die algemene praktisyn Paul Kamill (2003) stem saam dat NGG meer pasiënt-gesentreerd is in vergelyking met bewys-gebaseerde gesondheidsorg, laasgenoemde waar veral met waarskynlikhede, statistiek en siektesimptome gewerk word en gevolglik nie direk op die pasiënt as individu van toepassing is nie. Akkuraatheid in diagnose is egter absoluut noodsaaklik, omdat lewens daarvan afhang. Pasiënte verwag dat medici so akkuraat moontlik sal wees. Daarom is dit belangrik dat siektes betroubaar gekategoriseer en gediagnoseer word, waaruit doeltreffende behandeling voortvloei.

Kamill (2003) aanvaar dat NGG wel ’n regmatige plek in die spreekkamer het, maar wys terselfdertyd daarop dat dié benadering bloot ’n verdere refleksie is van ’n wye reeks postmoderne benaderings, waarin pasiënt-gesentreerdheid gepropageer word en waarvan die innoverende werk deur Michael en Enid Balint ’n voorbeeld is.

Dit blyk duidelik dat die wortels van NGG te vinde is binne die konteks van (onder andere) die fenomenologie en Rogeriaanse sielkunde. Wat sou die standpunt wees van sterk voorstanders van die klassieke biomediese model; in watter mate is daar ooreenkomste tussen NGG en die bio-psigososiale model wat onderliggend aan die psigiatrie en verpleegkunde is; watter navorsingsbevindings onderskryf die effektiwiteit van dié metode in terme van uitkomste en impak; watter rol speel die beperkte tyd wat beskikbaar is om ’n betrokke mediese konsultasie af te handel; sou dit wenslik wees om ’n pasiënt te verwys na ’n ander praktisyn/kollega binne multi-professionele spanverband om die pasiënt se persoonlike narratief verder te fasiliteer?

Die doel van hierdie artikel is om die fokus te plaas op diverse standpunte en argumente in verband met NGG, soos dit na vore kom in geselekteerde voorbeelde van navorsingsartikels wat in erkende akademiese vaktydskrifte gepubliseer is.

Teoretiese perspektiewe

Zaharias (2018) wys daarop dat alhoewel medici deeglike kennis van siektetoestande het, sommige nie noodwendig ten volle besef dat ’n bepaalde siekte ’n pasiënt se lewenswyse diepgaande en radikaal verander nie. Hy noem vier verwyderingsmeganismes (divides) wat afstand tussen dokters en pasiënte kan bewerkstellig.

  • Die verhouding van siektes tot sterflikheid: Siekte is onvoorspelbaar en wek ’n reeks emosies, veral vrees vir die dood. Pasiënte se sienings oor siekte en sterflikheid word gevorm deur hul vorige ervarings, terwyl dokters, as gevolg van hul opleiding, moontlik ’n ander persepsie mag hê.
  • Die konteks: Dokters benader ’n siektetoestand gewoonlik as ’n biologiese probleem wat mediese behandeling benodig, terwyl pasiënte die betekenis van siektes binne die breër konteks van hul totale lewe of funksionering interpreteer.
  • Oorsake van siektes: Pasiënte beskik nie (noodwendig) oor die mediese kennis van dokters nie, daarom kan pasiënte se opvattings oor die etiologie van siektes verskil van medici se kennis. Indien hierdie verskillende oortuigings in konflik kom, kan die kwaliteit van mediese sorg daardeur benadeel word.
  • Selfbewustheid, skuldgevoelens en angstigheid: Pasiënte voel soms skaam en verleë om sensitiewe, persoonlike besonderhede te deel. Selfverwyt kan presenteer, veral indien vorige gedrag die onderliggende oorsaak van die siektetoestand is. Indien die behandeling nie die verwagte uitkomste lewer nie, kan die dokter geblameer word. Terselfdertyd kan dokters ongemaklik voel om direkte en indringende, persoonlike vrae te vra, of die pasiënt blameer vir nalatigheid. Vrees vir regsgedinge mag ook ’n verbandhoudende onderliggende faktor wees. Komplekse kommunikasie kan, indien dit nie korrek en met insig hanteer word nie, onnodige afstand tussen dokters en pasiënt skep.

Dit is dus noodsaaklik om deeglik na pasiënte se narratiewe te luister en deeglik bewus te wees van die impak van verwyderingsmeganismes, dit te identifiseer en professioneel te hanteer om sodoende voldoende begrip te vorm van die rol en betekenis van die siektetoestand vir die pasiënt (Zaharias 2018).

Volgens Rita Charon (in Charon en Wyer 2008), ’n internis en Direkteur, Narratiewe Mediese Program, Colombia-Universiteit, New York, verwys die kernvraag oor die bestaansreg van NGG nie bloot daarna of geneeskunde instrumenteel of innoverend is, of empatie saam met vaardighede vereis word en of insette uit die geesteswetenskappe in die mediese leerplan ’n vereiste is nie. Die narratiewe benadering stel kritiese vrae oor die aard van gesondheid, die problematiek van pyn, die wese van lyding en die onvermydelikheid van die dood. Hierdie vrae is uiters belangrik en vereis diepgaande ontologiese en eksistensiële oorwegings, soos: Watter waarde word aan menslike lewe geheg; wat maak elke individu uniek; watter rol speel toeval, of hoe dikwels gebeur iets “per ongeluk”; wat bied vorm, struktuur en betekenis aan die lewe en identiteit?

........
Die grootste uitdaging om ’n narratiewe benadering te volg is om gesonde balans te handhaaf. Siektes, gestremdhede, trauma en die dood is nie eenvoudige “stories” nie.
........

Kalitzkus en Matthiessen (2009) noem verder dat NGG nie noodwendig ’n weg van maanskyn en rose is nie. Dit is ’n proses wat stadig met verloop van tyd en moeite ontwikkel, omdat noodsaaklike houdingsveranderinge nie oornag plaasvind nie. Aan die begin kan eksperimentering met narratiewe praktykvoering selfs aanleiding gee tot ’n fase van destabilisering of selftwyfel. Dit kan ook lei tot ’n fase waarin die praktisyn daardeur “meegesleur” word. Die grootste uitdaging om ’n narratiewe benadering te volg is om gesonde balans te handhaaf. Siektes, gestremdhede, trauma en die dood is nie eenvoudige “stories” nie. Dit is komplekse feite. Professionele medici wat in so ’n mate narratiewe konsepte vooropstel en in die proses die ongenaakbare feite van gesondheidsorg op die agtergrond skuif, tree nie in die beste belang van die pasiënt op nie. Sommige pasiënte stel ook eenvoudig net nie belang daarin om hulle verhale of emosies te deel nie. Noukeurige onderskeidingsvermoë is noodsaaklik, omdat nie alle onderwerpe wat tydens ’n konsultasie ter sprake kom, narratiewe verkenning noodsaak nie.

Geselekteerde navorsingsbevindings

Literatuurstudies

’n Italiaanse navorsingsgroep (Fioretti ea 2016) doen ’n gestruktureerde literatuurstudie in verband met NGG op grond van 325 vakkundige artikels wat deur middel van verskillende databasisse geïdentifiseer is. Hiervan is 10 artikels finaal ingesluit wat aan die navorsers se insluitingskriteria voldoen het. Die hoofbevinding dui daarop dat navorsing oor NGG nie oor ’n eiesoortige, gemeenskaplike en deeglik afgebakende metodologie beskik nie, veral omdat narratiewe in gesondheidsorg beide as uiteenlopende intervensieprotokolle, sowel as assesseringstegnieke aangewend word. Daar is byvoorbeeld geen eenstemmigheid oor die beste manier om narratiewe te kodifiseer nie. Soms word sagteware gebruik om teksanalise te doen om die voorkoms van groeperinge (clusters) te identifiseer, terwyl tematiese plot- en narratiewe analise andersins ook gewild is.

........
Inligting wat op grond van narratiewe oorgedra word, word makliker verwerk as feit-gebaseerde argumente vanweë hul boeiende en emosionele aard en is geneig om minder sielkundige weerstand te veroorsaak, omdat oorreding meer subtiel plaasvind.
........

Okuhara, Okada, Yokota en Kiuchi (2025) doen ’n sistematiese literatuuroorsig en identifiseer 20 studies waarin die effektiwiteit van NGG-intervensies ondersoek word om wanopvattings wat met gesondheidskwessies in verband staan en op fop/vals inligting gegrond is, te korrigeer. Narratiewe word gedefinieer as boodskappe waarin gebeurtenisse en karakters binne ’n gestruktureerde raamwerk voorgestel word en waardeur implisiete of eksplisiete boodskappe oor spesifieke onderwerpe gekommunikeer word. Die rasionaal is dat narratiewe oordrag ’n kognitiewe proses is, waartydens sin gemaak word uit komplekse inligting deurdat dit in ’n identifiseerbare storieformaat aangebied word. Die ervaring om “ingetrek” te word in ’n verhaal gee aanleiding daartoe dat waninligting met betroubare inligting vervang word. Inligting wat op grond van narratiewe oorgedra word, word makliker verwerk as feit-gebaseerde argumente vanweë hul boeiende en emosionele aard en is geneig om minder sielkundige weerstand te veroorsaak, omdat oorreding meer subtiel plaasvind.

Alhoewel narratiewe onder sekere omstandighede doeltreffend kan wees, is die korrigerende effek van narratiewe nie universeel in hierdie studie waargeneem nie. Verskille in die ontwerp van narratiewe, ’n gebrek aan teoretiese begronding en inkonsekwente kontrolering van moderatorveranderlikes het bygedra tot die gebrek aan eenstemmigheid (Okuhara ea 2025).

Ekspressiewe verhale

Cepeda, Chapman, Miranda, Sanchez, Rodriguez, Restrepo, Ferrer, Linares en Carr (2008) het ’n NGG-intervensiestudie uitgevoer met volwasse, Colombiaanse kankerpasiënte. Die ervaring van fisiese pyn en sielkundige welstand het as afhanklike veranderlikes gedien. 234 pasiënte is op ’n toevallige wyse in drie groepe verdeel: ’n narratiewe groep (n=79), waar die pasiënte vir minstens 20 minute, een keer per week, vir drie weke lank ’n verhaal moes skryf oor hoe kanker hul lewenskwaliteit beïnvloed; ’n vraelysgroep (n=77), waar pasiënte met tussenposes die McGill-pynervaringsvraelys moes voltooi; en ’n kontrolegroep (n=78), waar pasiënte weekliks vir mediese konsultasies moes aanmeld, waartydens hulle gewone roetine- mediese sorg ontvang het. Pasiënte het hul pynervarings geëvalueer op ’n 10-puntskaal, asook hul sielkundige welstand op ’n sewepunt-Likert-skaal. Dit is weekliks oor ’n periode van agt weke beoordeel. Twee beoordelaars het onafhanklik van mekaar die emosionele kwaliteit van die inhoud van die narratiewe beoordeel. Geen beduidende verskille in pynintensiteit en sielkundige welstand is tussen die groepe voor en na behandeling waargeneem nie. Subgroep-analises het egter daarop gedui dat pasiënte wie se narratiewe hoëkwaliteit, emosionele inhoud en openbaarmaking (disclosure) getoon het, aansienlik minder pyn en hoër sielkundige welstand gerapporteer het as dié met narratiewe gekenmerk deur laer kwaliteit emosionele inhoud en openbaarmaking.

Behçet-sindroom (BS) is ’n seldsame, chroniese en multi-sistemiese siekte wat die slymvliese, vel, kraakbeen, visie, senuweestelsel en spysverteringstelsel aantas. ’n Groep Italiaanse navorsers (Marinello, Palla, Lorenzoni, Andreozzi, Pirri, Ticciati, Cannizzo, Del Bianco, Ferretti, Santoni, Turchetti, Mosca en Talarico 2023) het die persepsies van pasiënte wat met die siekte gediagnoseer is, ondersoek met behulp van NGG-metodologie. Die verhale van 43 pasiënte oor hul belewenis van die siekte is deur middel van sentimentanalise tematies ontleed, as ’n onderafdeling van ’n meer omvattende projek. Gedurende die pre-diagnosefase het die pasiënte hul frustrasie en bekommernis uitgespreek weens die talle ondersoeke, konsultasies en hospitaliserings wat hulle moes ondergaan, voordat ’n finale diagnose gemaak is. Tydens die bekendmakingfase van die diagnose ervaar die pasiënte gemengde gevoelens wat wissel van verwarring en woede tot verligting en tevredenheid. Na afloop van die diagnose het die pasiënte veral geskryf oor die “nuwe onbekende reis” wat voorlê, waartydens hulle lewe na ’n nuwe, onbekende dimensie verplaas word, omdat hul persoonlike lewens, verhoudings en werksomgewings by die nuwe scenario moes aanpas. Met behulp van hierdie ekspressiewe verhale, met ’n sterk fokus op emosies en gevoelens, kon die kompleksiteit van die affektiewe, kognitiewe en konatiewe fasette van pasiënte wat met BS moet saamleef, verder in diepte verken word. Die kombinasie van die wyd-uiteenlopende spektrum emosies wat tydens bekendmaking van die finale diagnose aan die pasiënte ervaar is, beklemtoon die belangrikheid van ’n vroeë diagnose om die toepaslike vloei van inligting oor die siekte te verseker (Marinello ea 2023).

Praktiese waarnemings

Lampl, Sacco en Martelletti (2022), ’n Oostenrykse groep neuroloë, argumenteer dat algoritmes toenemend ’n rol speel in die besluite wat dokters neem en presisie-medisyne gesien word as die utopie van individuele mediese sorg. Daarom is dit onvermydelik dat pasiënte nie as volledige menslike wesens beskou word nie, maar as die “produk van ’n reeks numeriese veranderlikes”. Om hoofsaaklik numeriese veranderlikes in ag te neem en die belangrikheid van menslike interaksie op die agtergrond te skuif, verteenwoordig nuwe uitdagings wat die moderne geneeskunde bied.

Individue met migraine benodig medici wat hul siektetoestande deeglik verstaan en ’n presiese diagnose of verduideliking van die simptomatologie kan verskaf. Die pasiënt moet berusting vind wat die aard van hul simptomatologie betref. Die mees toepaslike behandeling moet voorgeskryf word en die pasiënt behoort verdere bystand te ontvang (Lampl ea 2022). NGG kan ’n baie nuttige hulpmiddel wees in die behandeling van migraine en primêre hoofpyne. Die pasiënt se weergawe van die ervaring van migraine is ’n belangrike aanvullende hulpmiddel om tot ’n korrekte diagnose te kom, veral in die afwesigheid van betroubare biomerkers by die voorkoms van primêre hoofpyne. Dit is belangrik dat beide die neuroloog en pasiënt toeganklik is vir narratiewe verkenning en dat die praktisyn deeglik opgelei is in kommunikasievaardighede. Indien hoofsaaklik op die biomediese model gesteun word, kan migraine-pasiënte se bekommernisse en behoeftes nie doeltreffend hanteer word nie, omdat slegs op numeriese data, soos die frekwensie van hoofpyn-dae, die inname van pynstillers en die fisiese intensiteit van die pynsensasie, gekonsentreer word.

Ko-morbiditeit neem toe en word al hoe meer algemeen, en die biomediese model blyk minder effektief te wees by die gelyktydige voorkoms van verskillende toestande soos migraine en depressie. Om goed te luister na die pasiënte se narratiewe, hou voordele in vir beide dokter en pasiënt, omdat ’n sterk vertrouensverhouding daardeur gebou word. Narratiewe kan dus die gaping oorbrug wat ontstaan tussen die gedetailleerde data wat afkomstig is uit goed-gekontroleerde empiriese navorsing en die dokters se vermoë om hierdie kennis op ’n enkele, unieke geval toe te pas. Daarom behoort bewys-gebaseerde geneeskunde en NGG aanvullend tot mekaar toegepas word (Lampl ea 2022).

Ghenimi, Govender en Moodley (2025) se vertrekpunt is gegrond op mediese etiek en hulle is van mening dat digitale tegnologie meer aanvullend is tot reduksionistiese geneeskunde as tot narratiewe geneeskunde. Kunsmatige intelligensie (KI) se sterk punte is veral geleë in kwantitatiewe data-analise, bewys-gebaseerde medisyne en voorspellende analise, eerder as op benaderings wat die kwaliteit van interpersoonlike verhoudings bevorder, soos luistervaardighede, begrip vir konteks en empatie vir pasiënte se gevoelens toon. Hierdie inherente, menslike vaardighede kan deur KI ondersteun, maar nie ten volle gedupliseer word nie, en daarin lê ’n skynbare teenstrydigheid wanneer KI met NGG vergelyk word. Die grootste potensiaal van KI lê in die bevordering van kliniese besluitneming en doeltreffendheid, eerder as dat die empatiese en kontekstuele begrip deur dokters as basis vir verbeterde pasiëntesorg deur KI vervang word. Alhoewel KI nie die emosionele kompleksiteite van menslike interaksie kan dupliseer nie, is die transformerende voordele daarvan in geneeskunde voor die hand liggend. KI-gedrewe hulpmiddels kan die doeltreffendheid van gesondheidsorg verhoog, die dokter-pasiëntdinamika hervorm en dokters toelaat om meer kwaliteittyd aan empatiese, gepersonaliseerde dienslewering te spandeer.

Empatie

’n Groep (n=142) Chinese medici, tandartse, verpleegsters en paramediese werkers het as vrywilligers deelgeneem aan ’n narratiewe opleidingsprogram, aangebied deur ’n mediese opleidingshospitaal in Taiwan (Chen ea 2017). Die deelnemers se persepsies oor NGG, asook hul empatievlakke is vooraf en na afloop van die program gemeet. Die deelnemers se persepsies oor die waarde en belangrikheid van empatie in mediese sorg het na afloop van die opleidingsprogram ’n toename van 90% getoon. Die individuele empatievlakke is gemeet met behulp van die Jefferson Empatie Skaal. Daar was ook ’n beduidende toename in die waargenome empatievlakke van die deelnemers na afloop van die program, en hierdie veranderinge was volhoubaar oor ’n periode van 18 maande.

Ma en medewerkers (Law, Sun, Yang, He, Lawson, Zheng, Wang, Li en Yuan 2025), verbonde aan die Suzhou-Instituut vir Tegnologie, China, ontwikkel die Empathic Opportunity Perception and Distinction-KI-raamwerk en op grond daarvan die Emotional Visualization- (EMVIS-) sagteware-webtoepassing. Visualisering verwys na die gebruik van interaktiewe, grafiese rekenaarbeelde om data of abstrakte konsepte voor te stel, wat dit vir gebruikers eenvoudiger maak om die konsepte te verstaan en met die visuele voorstellings te kommunikeer. Visualisering maak dit moontlik om emosionele gemoedstoestande en gesigsuitdrukkings in videodata te ontleed. Dit skep die moontlikhede om dokter-pasiëntverhoudings en empatievlakke te assesseer én kommunikasiestyle, soos aktiewe luister en emosionele verbalisering, te identifiseer. Die bevindinge van Ma ea (2025) dui daarop dat EMVIS empatiese gesprekvoering fasiliteer en bevorder, veral tot die voordeel van minder ervare junior medici. Die tegniek het in die algemeen ’n baie gunstige ontvangs deur die deelnemers ontlok en is positief aanvaar deur beide die medici (12 ginekoloë) en 24 vroulike pasiënte wat as deelnemers in hierdie studie gebruik is.

Houdings

Die studie deur Guo, Sun en Li (2022) het ten doel om Chinese dokters en verpleegkundiges se kennis, houdings en praktykvoering in verband met NGG en die faktore wat dit beïnvloed, te ondersoek. ’n Aanlyn vraelys, wat kennis, houdings en kliniese praktykvoering assesseer, is per e-pos versprei. Alle dokters en verpleegkundiges wat voltyds werksaam was en toegang tot die internet gehad het, kon aan die vrywillige opname deelneem. In totaal het 2 145 deelnemers die navorsingsvraelys voltooi. Behalwe besonderhede oor ingeligte toestemming en biografiese data, is vyfpunt-Likert-skale gebruik om die deelnemers se kennis van, houdings teenoor en praktiese ervaring van narratiewe beginsels te assesseer. Die deelnemers se gemiddelde Likert-skaaltellings vir kennis, houding en praktiese ervaring was onderskeidelik 49,62%, 47,18% en 41,43%, wat as “aanduidend van bevredigende steun vir die NGG-benadering” deur die navorsers bestempel is. Moderatorveranderlikes wat ’n beduidende invloed op die resultate gehad het, was: getal studiejare voltooi, godsdienstige oortuigings, professionele rol en getal werkjare voltooi.

Gevolgtrekkings

NGG is ’n wye konsep. Presiese definiëring en omskrywing van die konstruk blyk problematies te wees, soos Fioretti ea (2016) tereg opmerk: “To conclude, it seems very suitable to define the boundaries of the narrative medicine approach when it is used in research with patients to give it scientific independence and common protocols to implement.”

........
Persoonlike narratiewe van pasiënte vorm ’n kernbelangrike deel van doeltreffende gesondheidsorg, hetsy of dit binne die spreekkamer as ’n intervensie gefasiliteer word, of buite die spreekkamer deur middel van ekspressiewe verhaalskrywing of dramatisering verkry word.
........

Persoonlike narratiewe van pasiënte vorm ’n kernbelangrike deel van doeltreffende gesondheidsorg, hetsy of dit binne die spreekkamer as ’n intervensie gefasiliteer word, of buite die spreekkamer deur middel van ekspressiewe verhaalskrywing of dramatisering verkry word.

In beginsel word saamgestem met (Lampl ea 2022), naamlik dat bewys-gebaseerde en NGG-benaderings met betrekking tot geneeskunde mekaar nie noodwendig uitsluit nie, maar veel eerder aanvullend tot mekaar in die praktyk behoort te funksioneer.

Die aard van die verband tussen die toepassing van NGG-metodes en die effek op pasiënte is kompleks en multi-faktoriaal van aard. Faktore soos die eienskappe van die pasiënt (byvoorbeeld kronologiese ouderdom, persoonlikheidseienskappe, waardes, mediese geskiedenis); die medikus se kommunikasievaardighede en empatievlakke, asook kulturele verskille in die algemeen kan ’n betekenisvolle rol speel. ’n Spesifieke hipotese wat voortaan deur dubbelblind-kontrole-tipe navorsing getoets behoort te word, is dat dokters wat goed toegerus is met noodsaaklike vaardighede vir toepassing van die narratiewe metodologie, beter uitkomste behaal met die hantering van pasiënte as diegene wat nie behoorlik toegerus is vir dié benadering nie.

Die toenemende gebruik van sagtewaretoepassings op hierdie terrein toon goeie potensiaal en die impak daarvan behoort verder ondersoek te word.

Samevattend blyk dus dat ’n redelike sterk teoretiese onderbou vir NGG in die literatuur te vinde is en dat ’n wye spektrum navorsingstudies uitgevoer word om die teoretiese beginsels eksperimenteel te toets. Wat egter van kardinale belang is, is ’n doelbewuste strewe of determineringstendens (Du Toit en Van der Merwe 1983:531) by praktisyns wat betrokke is by gesondheidsorg-dienslewering, om die beginsels in die praktyk regmatig toe te pas.

Bibliografie

Cepeda, MS, CR Chapman, N Miranda, R Sanchez, CH Rodriguez, AE Restrepo, LM Ferrer, RA Linares en DB Carr. 2008. Emotional disclosure through patient narrative may improve pain and well-being: Results of a randomized controlled trial in patients with cancer pain. Journal of Pain and Symptom Management, 35(6):623–31. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0885392408000602.

Charon, R en P Wyer. 2008. Narrative evidence-based medicine. The Lancet, 371(9609):296–7. https://www.thelancet.com/article/S0140-6736(08)60156-7/fulltext.

Chen, PJ, CD Huang en SJ Yeh. 2017. Impact of a narrative medicine programme on healthcare providers’ empathy scores over time. BMC Medical Education, 17(108). https://doi.org/10.1186/s12909-017-0952-x.

Du Toit, JM en AB van der Merwe. 1983. Sielkunde: ’n algemene inleiding. Pretoria: HAUM.

Fioretti, C, K Mazzocco, S Riva, S Oliveri, M Masiero en G Pravettoni. 2016. Research studies on patients’ illness experience using the narrative medicine approach: A systematic review. BMJ Open, 14;6(7):e011220. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC4947803/.

Foell, J en J Launer. 2025. The art of medicine. Narrative means to normative ends: Story-centred practice in statutory contexts. The Lancet, 406(10508):1080–1. https://www.thelancet.com/journals/lancet/article/PIIS0140-6736(25)01823-9/abstract?dgcid=raven_jbs_etoc_email.

Ghenimi, N, R Govender en K Moodley. 2025. The paradox of artificial intelligence (AI) and narrative-based medicine: Challenges and potential for enhanced patient care. AI & Society, 9 Augustus. https://www.researchgate.net/publication/394418076_The_paradox_of_artificial_intelligence_AI_and_narrative-based_medicine_challenges_and_potential_for_enhanced_patient_care.

Guo, T, Y Sun en G Li. 2022. Knowledge, attitude, and practice regarding narrative medicine among Chinese medical personnel: An online cross-sectional survey. Computational and Mathematical Methods in Medicine, 12 Oktober. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC9581662/.

Kalitzkus, V en PF Matthiessen. 2009. Narrative-based medicine: Potential, pitfalls, and practice. The Permanente Journal, 13(1):80–6. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC3034473/.

Kamill, P. 2003. Narrative-based medicine. British Journal of General Practice, 326. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC1314580/.

Lampl, C, S Sacco en P Martelletti. 2022. Narrative-based medicine in headache disorders. The Journal of Headache and Pain, 23(66). https://thejournalofheadacheandpain.biomedcentral.com/articles/10.1186/s10194-022-01437-5.

Ma, H, E Law, X Sun, W Yang, X He, G Lawson, H Zheng, Q Wang, Q Li en X Yuan. 2025. Towards empathic medical conversation in narrative medicine: A visualization approach based on intelligence augmentation. International Journal of Human-Computer Studies, 199:103506. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S1071581925000631.

Marinello, D, I Palla, V Lorenzoni, G Andreozzi, S Pirri, S Ticciati, S Cannizzo, A Del Bianco, E Ferretti, S Santoni, G Turchetti, M Mosca en R Talarico. 2023. Exploring disease perception in Behçet’s syndrome: Combining a quantitative and a qualitative study based on a narrative medicine approach. Orphanet Journal of Rare Diseases, 18(1). https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/36934245/.

Okuhara, T, H Okada, R Yokota en T Kiuchi. 2025. Effectiveness and determinants of narrative-based corrections for health misinformation: A systematic review. Patient Education and Counselling, 10(139):109253. https://doi.org/10.1016/j.pec.2025.109253.

Sadock, BJ en VA Sadock. 2003. Kaplan & Sadock’s Synopsis of Psychiatry (9de uitgawe). New York: Lippincott Williams & Wilkins.

Zaharias, G. 2018. What is narrative-based medicine? Canadian Family Physician, 2064(3):176–80. https://www.cfp.ca/content/64/3/176.full.

Lees ook:

Stres en orgaanoorplantings

Fisieke oefening en demensie – enkele navorsingsbevindinge

Interpretiewe of vertolkende versorging en demensie

Misofonie

Onverdiende eiegeregtigheid

Geraasbesoedeling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top