Naam van dier dorp deur Gielie Hoffmann: ’n lesersindruk

  • 0

Foto: Dom J op Pexels. Boekomslag: Naam van dier dorp deur Gielie Hoffman (beskikbaar op www.gieliehoffmann.co.za)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Naam van dier dorp
Skrywer: Gielie Hoffmann
Uitgewer: Selfpublikasie

Lank gelede sou ek dan en wan ’n skets uit die dag se verloop op Facebook plaas. Suzette Kotzé-Myburgh, wyd gerespekteer vir haar deurgronde ervaring en aanvoeling rakende skryfkuns en publikasie, verwys ’n keer daarna. “Sulke skryfsels is kortkuns, rond hulle af, dis ’n bundel. Moenie woorde verlore laat gaan nie.”

Gielie Hoffmann bewys haar reg met Naam Van Dier Dorp se bekendstelling in November 2024. Hy verwys in die voorwoord na sosiale media as die joernale van ons tyd. Hoffmann se 66 gunsteling-kort aanlyn skrywes is opgeneem in sy debuutversameling. “Dis die mees verteenwoordigende blik van wie en wat ek is.”

Die vlugtige aard en konstante vloei van inhoud op Faceboook, Instagram, X, TikTok en nuusplatforms staan in teenstelling met snitte uit daardie virtuele milieu wat hier verewig is.

Ek volg Hoffmann se aanlyn skrywersteenwoordigheid sedert 2018. Dis verblydend om ’n varia keurvinjette uit daardie ryk bron in boekvorm te sien. Hierdie sketse en praksasies oor lukrake waarnemings soos deur Hoffmann beleef, kan in enige volgorde gelees word. Ek is pas ’n vierde keer deur die boek. Elke herlees ontgin nuwe riwwe.

Kortkunskwessie

Die aanname dat kortkuns nie verkoop nie, is een waarin menige skrywer van korter tekste sig dikwels tromp-op loop by uitgewers. Hoffmann se besluit om nie met die stroom mee te gaan nie, maar steeds deurlopende knap verkope van Naam van dier dorp ervaar, gee hierdie geykte opinie op die neus. Die boek is tans in sy derde druk.

.......
Ek voel my weer genoop om kampvegter vir kortkuns te bly.
.......

Inligting, nuus en kommunikasie wat sonder rus of duurte deur ons toestelle swalp, verswelg ons kapasiteit om te absorbeer. So heilig as die heerlikheid is van agteroor lê, tamaai roman in die hand, voel dit soms oorweldigend na ’n week se ooraanbod van spetterende skerms. Die lees en dikwels herlees van twee of drie kort skrywes is dan genoeglik en genoeg.

Ek voel my weer genoop om kampvegter vir kortkuns te bly.

Kyk/sien

Nuuskierigheid is intrinsiek deel van die wese van ons spesie. Moontlik verklaar dit ten dele my en die meeste individue in my binnekring se hebbelikheid: ons slaafskap aan ons skerms. By die lees van Naam van dier dorp kliek en blaai Hoffmann namens ons. Die skrywer as voyeur lig in sy woorde die sluier voor sy waarnemings. Hy kyk, en lesers kan sien.

“Ek was nog altyd nuuskierig oor ander mense se telefoonboekies, resepte-leêrs, dagboeke en enige manier hoe hulle iets rangskik of organiseer. Die lukrake goed wat tog met mekaar verbind kan word … om sin te maak van hierdie wêreld. En die plek waar ons die skanse laat sak.”

Buitengewone waarnemingsvermoë spreek uit taferele wat hy skep. Deurgronde mensekennis is deurslaggewend in Hoffmann se aanvoeling vir ’n oomblik, suggestie, of moontlikhede in sy blik op die arbitrêre. Vier sinne oor Oom en Tannie in hul Noordwes-bakkie voor die chemokliniek word ’n kort-kortfilm in my kop.

Nes ek nostalgies raak oor ’n Pretoria-vriendin wat ’n leeftyd oppak om na Stilbaai te trek, kraai ek oor die Boerboel-model wat toe nooit van Bultfontein kom nie.

Ek staan ontroer oor ’n oupa se gesiguitdrukking by aanskoue van sy flenters tamatieland ná ’n haelstorm. En verbluf by ’n pa se gesigsuitdrukking by die nuus van die moord op sy buurman.

........
Hoffmann slaag met hierdie boek daarin om kalm, ontdaan van trompetgeskal, menslikheid raak te skryf.
........

Sosiale kommentaar is sinvol en bedaard. Afrikanerskap word onapologeties, apolities oordink. Daar is gevoelige essays oor gaywees en die impak van “uitkom”. Gretha Wiid kry ’n flinke kneukelraps. Slotsinne wat my meermale laat opkyk, buitentoe, vir ’n wyle, kenmerk die boek. Ander, weer, laat my lelik lag.

Hoffmann slaag met hierdie boek daarin om kalm, ontdaan van trompetgeskal, menslikheid raak te skryf.

Op die baadjie takseer

Naam van dier dorp is dunner as my selfoon. Blaai dit weliswaar nie vlak nie. Die werk is dig.

Titel, voorplat en uitleg is buite die boks. Naam, van, dier, dorp is der jare ’n kinderspeletjie. Kies ’n letter, en spelers kyk wie eerste ’n naam, van, dier en dorp beginnende met einste letter kan neerskribbel. “Vandag besef ek dit [die speletjie] was ook ’n manier van inligting vasvang en orden. Ek weet nou ek skryf eintlik maar net oor mense en plekke en dit pas als mooi in daai kategorieë.”

Selfs die uitleg is eiesoortig. Die afkappingstekens van sy hinne lyk soos dit makliker tik: ‘n, nie ’n nie. Dis die web, op papier. ’n Besonder klein lettertipe is gebruik, basta aanbevelings dat dit te klein sou wees. By die tweede druk maak Hoffmann wel ’n vergunning vir ’n aangepaste lettertipe. Poets jou bril indien jy nie oor 20/20-visie beskik nie.

Want hier is woorde wat nie verlore moet gaan nie.

Lees ook:

Naam van dier dorp deur Gielie Hoffmann: ’n onderhoud

Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

Toyota Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel 2024: ’n onderhoud met Michèle Meyer

Moer: ’n onderhoud met Michèle Meyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top