
Moer
Michèle Meyer
Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1328-1
Michèle Meyer praat met Naomi Meyer oor Michèle se boek, Moer, wat onlangs by Protea verskyn het.
Michèle, die titel van jou boek, weet mens sommer dadelik, verwys nie na die koffie se droesem nie. Binne die eerste paragraaf word die titel verklaar: Hierdie storie handel oor ’n ma, en ’n ma wie se kind met ’n gestremdheid gebore word (of so word dit aanvanklik geïmpliseer). Is hierdie titel van die verhaal dalk ’n woord wat die karakter wil sê toe sy die nuus verneem? Later is daar ’n kinkel, wat ek nie gaan verklap nie. En aan die einde van die storie is daar nog ’n kinkel – dit was net die eerste storie. Die boek is vol van verskillende verhale met ’n oorkoepelende tema. Verskoon die woordspel, maar hoe is hierdie stories in jou kop gebore? Wat was die eerste een?
Op bladsy 9, in die 9de reël van onder, sê dokter De Bruyn vir Kylie dat die amniosintese wys dat die babatjie normaal is; die down-sifting se uitslag was dus negatief. Die titel is wel meerduidig. Dit beteken “ma”, “baarmoeder”, “dit waarin ’n skroef vasdraai”, en is mos maar ’n lekker skelwoord. Ma’s is dikwels in hul moer in, om verskeie redes. Al is hul kinders pragtig en “normaal” en slim en oulik. En dis normaal en oukei om in te konk. Dit het my jare geneem om te verstaan dis aanvaarbaar om (veral as ma) in jou moer te wees, en rede tot werklike viering wanneer jy weer van daar kan opstaan. Ek moes dit deel. Ander ma’s, ander mense, kinders, maatskappye, die samelewing moet dit weet en dit respekteer en empaties benader. Die eerste van die stories is seker in my kop gebore toe ek baie jonk was, in terugskoue, by wyse van herinneringe aan my eie kinderdae.
.......
Die eerste van die stories is seker in my kop gebore toe ek baie jonk was, in terugskoue, by wyse van herinneringe aan my eie kinderdae.
.........
Die eerste van die flitse van Kylie-as-ma het waarskynlik soos ’n embrio genestel iewers in my grysstof waar dit gevoed is deur ervarings, waarnemings en ander ma’s se belewenisse, oor ’n baie langsame ontwikkelingsfase van by die 29 jaar.
En toe is daar Maria. Maria wat kwaad is vir die engel, wat hierdie nuus oor die vreemde kind kom vertel. Jou verhale is vol van interessante, verskillende hoofkarakters. Uit ’n wye verskeidenheid kulturele agtergronde. Ken jy hulle? Het jy sommige van hulle ontmoet? Is sommige van hulle ook jy?
Ek dink ek ken die karakters omdat hulle by my kom aanmeld. Dan leer ek hulle ken omdat hulle geken wil wees. Van hulle het ek ontmoet in die fisiese lewe, ander bly veilig in die sfeer van storie, soos Maria. Maria het my van kleindag af gefassineer, want wie sê sy het regtig uitverkore gevoel, en nie gefnuik deur dit wat met haar gebeur het nie? Daar is ongetwyfeld karakters wat aandring daarop om iets van myself te reflekteer. Soms laat ek hulle begaan, soms handhaaf ek ’n veilige afstand van hulle.
Noemname uit die huis. Name wat jou ouers jou noem. Daar’s verhale wat so snaaks is. Die bagasie waarmee ouers – die ma! – die kind opsaal as sy ’n naam gee. Ek moet jou ook iets anders sê: Jy saal lesers daarmee op dat hulle moet nadink oor die samelewingsidee van moederskap. Die gedagte: Dis ’n snoesige kamer, of ’n veilige oase. Jou verhale wys dikwels op die teendeel. Wil jy iets oor moederskap sê? As dit moontlik is om iets te sê, gegewe die vooraf verklap van my kant af: Moederskap is toe al die tyd ’n veeldimensionele ervaring.
.........
Name is so kragtig. Dis ’n lewenslange drag wat op die draer van die naam se skouers rus. Name help koers gee, of dwarsboom die benoemde. Mens kan hoofstukke skryf oor name. Ek is bly dat jy sê die lesers word opgesaal met nadink oor die voorafbepaalde prentjie rondom moederskap wat ons samelewing daarstel. Dis presies wat ek graag wou regkry. Wat van almal en alles wat buite daardie persepsie, boksie, prentjie val?
...........
Name is so kragtig. Dis ’n lewenslange drag wat op die draer van die naam se skouers rus. Name help koers gee, of dwarsboom die benoemde. Mens kan hoofstukke skryf oor name. Ek is bly dat jy sê die lesers word opgesaal met nadink oor die voorafbepaalde prentjie rondom moederskap wat ons samelewing daarstel. Dis presies wat ek graag wou regkry. Wat van almal en alles wat buite daardie persepsie, boksie, prentjie val? Hoe moet twee merkwaardig dapper gay pa’s wat ’n biologiese kind het en grootmaak, voel oor die feit dat beide hulle en hul kind gedurig nie pas in die samelewing se persepsie nie? Of ’n ma wat swanger gemaak is deur haar verkragter? Of ’n ma in ’n oënskynlik gesonde gesin wat voel hoe haar hande die bande laat los wat die perfekte prentjie in posisie moet hou? Moederskap is nie ’n dromerige Sarah Moon-plakkaat nie. Jy stel dit goed – dis veeldimensioneel. En bloot logies dat dit nie ’n idille is nie. Wat nié die norm is nie, is die perfekte advertensiegesinnetjie met ’n onbaatsugtige, sportiewe pa wat jagertjie speel met twee laggende kinders op ’n gemanikuurde grasperk. Die silwerskoon, goedgemanierde hond blaf vrolik saam en die sjiek, versorgde ma staan glimlaggend en Butro smeer op snye brood. Daai is so seventies.
’n Kind wat wegraak uit die hospitaal. ’n Stiefma. ’n Ma wat sterf. ’n Ma wat wegloop. Ma’s doen baie dinge in jou verhale. Toe jy besig was met die skryf van hierdie stories, het jou oë oopgegaan vir al die ma’s om jou en het jy oor hulle begin nadink? Of het jy net self dieper in jouself gegrawe om meer aspekte van ma-wees te ontdek?
Moontlik het my oë eers oopgegaan vir al die baie dinge wat met ma’s en hul kindertjies gebeur en het dit aanhou hinder tot ek van die goed begin joernaal het. My waarnemings het toe, soos dit maar met dié soort ervaring die geval is, toegeneem, momentum opgetel. Die stories het later soos ’n ding wat goed spoed optel en wirrr, al meer en vinniger begin uitskiet. In die proses het ek ongetwyfeld baie diep in my eie onderbewuste gedelf. Daarvoor het drome, terugflitse en herinneringe hul bydraes kom lewer. My eie ma was formidabel, en van kleins af het ek geweet ek wil probeer om ’n tiende van haar vrouhaftigheid in my wese te dra eendag. Dan sou ek slaag in die lewe.
Mamma wat so mooi beskryf word. Soms is daar soveel teerheid en beskrywings van voorkoms en reuke en alles wat met ’n mamma uit die kleintyd geassosieer word. Is dit nie skrikwekkend om ma te wees en eendag te besef jy is deur jou kind waargeneem nie?
..........
Dis genoeg om mens verlam van vrees te laat. Ek onthou hoe ek daardie grootse besef probeer verwerk het. Iemand uit my, van my, nou buite my, neem die lewe waar deur hoe ek dit voorhou.
.........
Dis genoeg om mens verlam van vrees te laat. Ek onthou hoe ek daardie grootse besef probeer verwerk het. Iemand uit my, van my, nou buite my, neem die lewe waar deur hoe ek dit voorhou. Ek het baie dikwels verskoning gevra , snags, langs die bababed en bedags, wanneer ek in daardie onbevlekte gelate gekyk het. Sekere goed kan mens verstaan slegs wanneer jy self ’n ouer is. Dit gee mens hoop vir jou eie tekortkominge.
’n Paar keer: die jy-hoofkarakter. Is daar ’n afstand? Is dit nader?
Deborah Steinmair se briljante insig het my baie daarmee gehelp. Ek wou ten alle koste my afstand vanaf die gegewens kalibreer, soos Pieter P Fourie my eenkeer met werklike wysheid raad gegee het. Die jy-hoofkarakter skep ’n veilige ruimte om in te skryf. Dis wel soms amper nader, omdat jy haar kyk bly bekyk, soos in ’n film. Jy kan meer sien as wat jy sou kon indien jy self daardie karakter was.
Jou stories handel oor moederlike nalatenskap en vrese en vooroordele. Die storie met die glasskerf, die amper-moorde. Moeë, alleen ma’s wat gaste moet verwelkom. Hoe het jy dit geskryf – prakties? Het ’n storie jou getref en dan het jy tyd gemaak en dit dadelik gaan neerskryf?
Ek hou joernaal. Soms sien of hoor ek iets raak en stip twee of drie woorde of ’n sin neer. Ek probeer kategorieë soos drome en lukrake gedagtes en vaste herinneringe hou sodat ek later kan vind wat my in die middel van die nag bygeval het, wat ek soos ’n slaapwandelaar geen vaspen het in my boekie. Die storie word eers wanneer dit die tyd is daarvoor geskryf. Die proses is nogal organies. Maar as dit moet, dan kan ek hulle druk om uit te kom. Dis net baie meer genotvol wanneer hulle uit vrye wil kom en sê: Raait, hier’s ek. Skryf!
........
Die storie word eers wanneer dit die tyd is daarvoor geskryf. Die proses is nogal organies. Maar as dit moet, dan kan ek hulle druk om uit te kom. Dis net baie meer genotvol wanneer hulle uit vrye wil kom en sê: Raait, hier’s ek. Skryf!
..........
Jy is bekend vir jou verhale wat gereeld in die Woordfeesbundel opgeneem word en ook al die Woordfeeskortverhaalkompetisie gewen het. Skryf jy nog altyd kortverhale?
Kortverhale maak my eindeloos opgewonde – dit bly uitdaag. Die skryf daarvan voel altyd na ’n reisies teen myself. Die skryfvorm lê my baie na aan die hart. As jongmens het ek Hennie Aucamp, Jeanne Goosen, Pirow Bekker en Boerneef se kortkuns leer liefkry. Ek was verlig dat daar mense is wat wonderlike stories skryf in ’n vorm wat vir my rég voel.
Dis ’n tema: Daar is heeltyd ’n ma se storie – daar moet dus ’n kind wees, of dalk ook ’n man, of die kind se pa, maar dis ’n enkeling se verhaal. Die melankolie, die alleen-waarnemings. Aksentueer ouerskap eensaamheid?
Hierdie vraag raak aan filosofie – vra liewer vir Anton van Niekerk! Dit hang baie sterk saam met die omstandighede en ervaring, maar ook persoonlikheidstipe van die ouer, dink ek. Sommige mense deel makliker met ander dat hulle besig is om agter te raak. Ander is skigtig om te erken dat iets skort. Daar is die gevalle waar die ouer met die jong kind saam geïsoleer is – die baba het geen keuse as om met daardie ouer in die omstandighede klaar te kom nie. Die ouer is nie alleen nie, die baba is nie alleen nie, maar hulle beleef saam isolement. Ek glo dat baie babas hul versorger se emosies aanvoel, daarom juis die skuldlas van ’n versorger wat aan major depressie ly: Sy stel by implikasie daardie baba daaraan bloot, die kind kry dit in met moedersmelk saam. Daar is terselfdertyd derduisende ouers wat die grootse deel van die nuwe ervaring as absoluut vervullend beleef, en daarvoor is mens dankbaar.
........
Daar is die gevalle waar die ouer met die jong kind saam geïsoleer is – die baba het geen keuse as om met daardie ouer in die omstandighede klaar te kom nie. Die ouer is nie alleen nie, die baba is nie alleen nie, maar hulle beleef saam isolement. Ek glo dat baie babas hul versorger se emosies aanvoel, daarom juis die skuldlas van ’n versorger wat aan major depressie ly: Sy stel by implikasie daardie baba daaraan bloot, die kind kry dit in met moedersmelk saam.
..........
Dis ’n boek vol kortverhale, met een tema wat die verhale met mekaar verbind. Moer is gelyk aan moederskap, negatiewe kiekies daarvan, in woedende of hartseer swart-en-wit. Hoe lank het jy hieraan geskryf? Watter verhaal moes eerste wees? En watter een laaste?
Die verhale is oor jare geskryf en in leggers gestoor. Sommige was bloot ’n paar sinne. Die hoofstuk getiteld “Plat” se geboorte was in 2001. Die begin, getiteld “Moer”, het in een sitting in November 2020 gebeur. “Waar’s Michaela Hunter” was ’n joernaalgeskriffie van twee sinne, gedateer 1994. Toe ek die hoeveelste ma se verhaal van verlies, verlating, verskeuring, vernedering deur ’n eks, of die hof, of familie hoor, het ek geweet Moer moet gebeur. Van daai besluit, tot my skryfvriende my vriendelik verplig het om die dokumente aan te stuur na Deborah Steinmair vir ’n opinie, was so vyf maande. Maar die materiaal het in sommige gevalle jare lê en stowe. Wat die kronologie betref, moes “Moer” eenvoudig eerste wees. Deborah se onbegrenste wysheid het die res korrek laat opeenvolg tot by “Die Kloof, 2002”.
Ten slotte. Michèle, jy is al vantevore beskryf as "Roelf Meyer se vrou" in plaas daarvan om bloot te sê "Michèle Meyer". Hoe laat hierdie beskrywing jou voel? Sedert die publikasie van Moer, ondervind jy dat mense jou dalk nou duideliker raaksien – vir jou as mens, en nie net as ’n prominente man se vrou nie? (Dan moet ek natuurlik op ’n syspoor vra: wil ’n mens wel ’n boek skryf sodat mens vir jou, as die mens-skrywer agter die boek, raaksien? Of wil mens inderwaarheid ’n gesiglose skrywer bly, met die woorde wat eintlik maar die verhale vertel?)
Willemien Brümmer het in ons gesprek vir Netwerk24 iets genoem wat my diep laat dink het. Die kennis dat ek getroud is met ’n man wie se loopbaan prominent was, en dalk steeds is, is in die openbare domein. Dis nie nuwe nuus nie, dis wel ’n bestaande feit. Daarvan kan ek nie, en hoef ek ook nie, wegskram nie.
Toe ek Moer geskryf het, het die gedagte aan die aandag van die gegewens aan my twee kinders, en my huwelik met hierdie man, dikwels by my gespook. Ek kan egter heelhartig getuig van onvoorwaardelike ondersteuning en aanmoediging van al drie van hierdie nabymense van my. Al drie het geweet iets is aan die kom, het die strekking daarvan geraai, maar het my vertrou met wat ek met daardie inhoud sou doen. Nie een van hulle het op enige stadium gevra wat presies ek besig is om aan te vang nie.
In 2016 was Roelf die persoon wat my aangespreek het om op te hou broei en aan die skryf te kom toe "Langsaan" in my kop geloei het. Die aand met die kortverhaalbundelaankondiging by Woordfees 2017, was hy in trane. Tot my stomme verbasing. Ek het nie besef hoe belangrik die vervulling van my persoonlike droom om te skryf vir hom was nie.
Ek hoop wel opreg dat Moer ’n eindelike wegbeweeg sal meebring van die vrou wat met RM getroud is na die vrou wat Moer geskryf het. My menswees is los van syne, soos syne losstaande is van myne. Ek is opreg en innig dankbaar vir sy voltydse ondersteuning en aanmoediging. Niemand het my nog ooit so aanhou oplig na dit waarvoor ek hard gewerk het nie as wat hy vir my doen nie. Ek is selfs meer dankbaar vir die ruimte wat hy my gun om mens/professionele persoon in my eie reg te wees. Niemand het nog ooit vir hom gevra hoe dit voel om met MM getroud te wees nie. Hoekom moet ek met daardie vraag gekonfronteer word bloot omdat ek die vrou is?
Ons is op 27 April deser 20 jaar getroud. Enige iemand wat dit steeds as nuuswaardig beskou, het ’n Rip van Winkel-kompleks. Regtig? Kan ons vorentoe beweeg na twee dekades?
My huwelikslewe het soveel te make met my klein loopbaan as skrywer as wat Roelf se loopbaan as politikus of bemiddelaar/raadgewer in politieke konflikte, te make het met die feit dat hy toevallig met ’n taamlike gek vrou wat hou van boomklim, klippe en woorde, getroud is.


Kommentaar
'n Mens kan die teks ook as roman benader. Die verskillende afdelings as hoofstuktitels lees. Soos A.S. Byatt The Matisse stories (1993).
Vir my is Moer eerder roman.
Gaan kyk na Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan waar die dagboek en briewe afgewissel word.
Of Pirow Bekker se romoir Beurtelinge. Roman en memoir.
http://joanhambidge.blogspot.com/2022/03/resensie-michele-meyer-moer-protea.html