Sankind lees die wind (Von Wielligh se Sanstories)
Outeur: Wendy Maartens
Illustrasies: Dedré Fouquet
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637000383
Sankind lees die wind is ’n bundel kortverhale gebaseer op tradisionele Sanstories. Dit is oorspronklik neergepen deur Gideon Retief von Wielligh, broerskind van Voortrekkerleier Piet Retief en eertydse landmeter-generaal van die ZAR. Wendy Maartens, ’n skrywer met 84 ISBN’e op haar kerfstok (vertalings uitgesluit), openbare spreker en versamelaar van eg Suid-Afrikaanse volksverhale, legendes, rympies en ware stories, het dit pas vir kinders verwerk. Die boek beslaan 144 bladsye en vyf hoofstukke, getiteld “Tradisionele Sanstories”, “Tradisionele dieredanse”, “Tradisionele Sangedigte”, “Wat sê die San oor ...” en “Sangebede”.
Dedré Fouquet het vir die treffende lynsketse gesorg.
Op die agterblad staan: “Hierdie stories is nie net oor die diere nie, maar oor die erfenis en kultuur van die Sanmense wat die hart van hierdie unieke boek vorm. Kom ontdek die geheime van mitologie, volksverhale en die ou Sangeskiedenis.” Lesers word genooi om saam met diere en mense te dwaal “in ’n tyd waar elke ding ’n belewenis het, en waar die verbintenis met die natuur die grootste skat is”.
Wendy het ingestem dat ek aan haar ’n paar vrae mag stel.
Wendy, in die voorwoord skryf jy dat die San weet as hulle mooi vir Moeder Aarde sorg, sal sy mooi vir hulle sorg. Jy noem dat hulle saam met die natuur leef sonder om enige skade aan te rig. Hulle heg ook geen waardes aan besittings nie. Dit herinner my aan die hedendaagse neiging waar al meer mense wêreldwyd kies om hulle leefstyle drasties af te skaal, nader aan die natuur te leef en selfvoorsienend en selfonderhoudend te raak. Dink jy my waarneming is korrek en waaraan sou jy dié tendens toeskryf?
Louise, ek kan nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat ons mensdom oorweldig is – aan die een kant deur verskriklike armoede en nood en aan die ander kant die verslawing aan te vinnig, te veel en te hoog vlieg / wil vlieg, met ander woorde ’n lewenswyse wat deur die ego bepaal word en nie die persoon self nie.
Ek hou van die teorie dat die aarde van die mens ontslae wil raak, want ons is niks anders nie as ’n skadelike organisme wie se uitwissing eintlik ’n verlossing vir die planeet sal wees. Daarom respekteer ek mense wat werklik streef om eenvoudiger en stadiger te leef en ’n diepe behoefte het om nuut te sien, te hoor en sagter te stap.
Ons is veronderstel om die bewaarders / hoeders van die aarde te wees, maar het die spoor byster geraak en die vernietigers geword. Hierdie verlies aan die vermoë om waardige bewaarders te wees lê aan die kern van ons onvermoë om werk en plesier as ’n gesonde eenheid te beskou. Ons beleef dit meestal as twee aparte aktiwiteite, so asof ons net mag ontspan as ons werk klaar is. Dan Duvall sê so mooi: “Rest is not absence from work. It is absence of fear, worry and anxiety while you work.”
Ons staan nie los van die aarde nie. Ons ís die aarde. Ons kom uit die aarde en ons keer na die aarde terug wanneer ons sterf. Dis hierdie heilige verbintenis wat ons verloor het, terwyl dit by tradisionele San deur die eeue in plek was.
Die aanslag op vroue en kinders speel ook ’n rol. Vroue is die primêre versorgers, nie net van gesinne nie, maar ook van gemeenskappe, die aarde en alles wat leef. Ons is geskape om te wil koester. Maar sodra al ’n vrou se energie in oorlewing gestort moet word, raak daardie gawe dormant.
Die San streef waardes na soos om respek vir ouer mense te hê. “Hulle het baie streng reëls oor watter aanspreekvorme vir watter persone in die familiegroep of gemeenskap gebruik moet word en hoe om teenoor elkeen op te tree” (7). Daar is byvoorbeeld respek vir die gesinstruktuur en elke gesinslid se rol. “Wanneer Sankinders in die veld saam met hul ouers stap, stap die pa altyd voor. Die ma stap agter hom en dan volg die kinders.” Jy noem op bladsy 13 dat Sankinders baie gehoorsaam is. Ek wonder tog of Santieners nie ook tog maar deur die storm-en-drangjare worstel en teen gesag rebelleer nie. Is daar wérklik nog Sankinders wat eg tradisioneel grootgemaak word?
Die inleidende hoofstukke tot Sankind lees die wind handel oor die nalatenskap van die San. ’n Blik word gegee op die ideaal, soos hierdie jagterversamelaars duisende jare lank geleef het, wat deesdae bykans onmoontlik geraak het as gevolg van onder andere die toename in reservate en wildplase en die ontheemding wat daarmee gepaard gaan. Jong mense wil ’n moderne leefstyl ondersoek en omarm en beweeg toenemend weg van die tradisies waaraan hulle in ’n mindere of meerdere mate nog in gesinsverband blootgestel word.
Ons kan nie hierdie respek / reëls / aanspreekvorme waarna jy verwys losmaak van die groter prentjie van ’n tradisionele bestaan nie, waarvan oorlewing deur die eeue altyd nommer een was. ’n Ongehoorsame kind in die tradisionele Sanverband is ’n dooie kind. In die veld met al sy gevare, wilde en giftige diere en uiterste klimaatsomstandighede is geen ruimte vir onderhandeling of tweede kanse nie. ’n Kind moet gehoorsaam wees om te kan oorleef.
In tradisionele stamverband was dit ook nog nooit vreemd dat ouers hulle lewens gereeld in gevaar stel om hul kinders te beskerm nie. Ouers moes dapper wees ter wille van hulle kinders se oorlewing. Dit het gelei tot ’n soort wisselwerking tussen ouers en kinders wat ek danksy Von Wielligh op bladsy 13 kon opsom as: “Ouers wat so hard vir hulle kinders se lewens moet veg is baie lief vir hulle. En die kinders is baie lief vir hul dapper ouers, daarom is hulle gehoorsaam.”
Dit is ’n soort verhouding wat heeltemal vreemd aan ons hedendaagse bestaan is. As ons egter die verval van ons samelewing in ag neem waar daar toenemend minder waarde aan lewe geheg word, moet ouers al meer op die veiligheid van hul kinders gefokus wees.
Ek wil glo dat enige kind storm en drang beleef. En ek glo tradisionele San deur die eeue sou geen uitsondering wees nie. Ons samelewing beskik reeds lank nie meer oor die nodige rites wat kinders ’n groter begrip gee van wat besig is om met hulle te gebeur nie, en daarmee saam die broodnodige gevoel van behoort tot. Ons mag nie die rol van hierdie rites onderskat nie.
Tradisionele San het in teenstelling daarmee tot ’n dekade of twee gelede nog die nodige rites toegepas. Die feit dat stamstrukture bykans oral in duie gestort het omdat die San nie toegang tot groter wild het om hierdie rites toe te pas nie, spreek boekdele.
In antwoord op jou vraag of daar regtig nog Sankinders is wat tradisioneel grootgemaak word: Ek het met Michael Daiber, uitvoerende hoof van !Khwa ttu aan die Weskus, gesels, wat reeds drie dekades by die San betrokke is, en haal hom graag aan:
Dis ’n bitter, bitter moeilike vraag, ook omdat tradisionele leefwyse so ’n relatiewe begrip is. Selfs daardie waardes, norme en reëls het in die laaste 30 jaar so bitter baie verander, so baie vinnig. Wat ek jou 10 jaar gelede sou antwoord, wat ek jou nou antwoord en wat ek 30 jaar gelede sou antwoord is verskillend. Met ander woorde, ontwikkeling is besig om baie vinnig te gebeur en dis nie noodwendig altyd die positiewe nie, dis miskien veel eerder die negatiewe. Maar sonder om pessimisties te wees: Ek dink daar is nêrens meer ’n gemeenskap wat letterlik as jagters en versamelaars leef nie. Dit is maar wat die omstandighede is. Maar in die Sentraal-Kalahari in die verste dele van Boesmanland, daar in Tsumkwe in die noord-ooste van Namibië, daar gaan jy nog gemeenskappe kry wat regtigwaar arm is en die veld gebruik om nog kos in die hande te kry, maar dis nie uitsluitlik hul enigste vorm van oorlewing nie, want daar is bejaardes wat pensioen kry en ma’s wat ’n kindertoelaag kry waarmee daar ook kos gekoop word. Daar is ook ontwikkelingsprojekte wat met armoedeverligting help. Hulle woon naby aan die natuur op afgeleë plekke ver weg van mekaar en ’n mens moet ver ry om daar te kom. Hulle moet ver stap om water in die hande te kry, maar hulle sal nie water in volstruiseierdoppe bêre nie, hulle sal dit miskien in 25-liter-houers stoor. Die ou mense wat nog die kennis het, waarlik die ou geslagte van hierdie gemeenskappe, is al swak en kan nie meer alles beoefen nie. Die jonger mense breek weg. Hulle gaan skool toe en koshuis toe en keer maar moeilik terug na die ou mense se sogenaamde sukkelbestaan en probeer om in die groter dorpies ’n lewe te maak wat meebring dat hulle dikwels daar in verdere armoede verval.
So 10, 15, 20 jaar gelede sou ek gesê het daar in die diep Sentraal-Kalahari is nog ’n groepie, maar selfs daar het die mees absurde, onnatuurlike uitsettings in die hedendaagse moderne Botswana plaasgevind. Hierdie mense het in vrede in daardie massiewe Sentraal-Kalahari Natuurreservaat – CKGR – gewoon. Dis so oneindig groot, groter as Holland en België saam, maar ook daardie gemeenskap is uitgesit om nou skielik ’n nuwe lewe elders te probeer maak.
Waarom behoort die San se gebruike en stories van belang te wees vir die hedendaagse kind? Watter waarde kan kinders van vandag daaruit put om Sankind lees die wind te lees?
Dit bekommer my dat soveel kinders se selfwaarde afhang van handelsmerkklere, ’n spesifieke soort foon, die huis waarin hulle ouers bly en die motor waarin hulle ry. Dit bekommer my ook dat daar ’n gebrek aan leiding is om kinders te laat besef elke mensekind is genoeg. Ons word geskape om genoeg in onsself te wees.
Die tradisionele San se leefwyse was nog altyd vir my ’n voorbeeld van hoe volledig ons in onsself mens kan wees. Ek wens jy kan kinders se gesigte sien wanneer ek hulle vertel dat tradisionele San nog nooit ’n winkel, foon, elektrisiteit, huis of selfs ’n kraan nodig gehad het nie. Nie ’n koppie, bord, lepel of kombers nie. Alles wat hulle nodig het, het hulle deur die eeue in die veld gekry.
Dis ook vir my belangrik dat kinders besef ons materialisme is een van ons grootste struikelblokke. Vir die tradisionele San was die begrip myne deur die eeue ’n onbekende begrip. Om in die veld te oorleef moet van die eie ek afgesien word. En ek wil graag hê kinders moet besef hoe relatief die begrippe beskaafd en sogenaamd onbeskaafd is. (Hein Willemse se feesrede by vanjaar se Adam Small-fees onderstreep dit op ’n besondere manier.)
Wetenskaplikes begin nou eers verstaan hoe gesofistikeerd die kultuur en veldkennis van hierdie mense is wat heel eerste aan die suidpunt van Afrika gewoon het.
Die reëls waarvolgens die San eeue lank geleef het is heeltemal te moeilik vir jou en my om toe te pas. Ons het nie genoeg selfdissipline nie. Ons wil alles hê. Ons vat meer as wat ons nodig het. Ons sukkel om te deel. Een van ons grootste vrese is om sonder besittings te wees.
Hierdie aflê van die self het my ’n paar jaar gelede diep geraak toe ’n paar Sanpersone in Namibië die toeriste wat hulle vergesel het, tydens ’n veldbrand beskerm het deur hul liggame as skilde teen die hitte te gebruik. As ek reg onthou het die toeriste oorleef, maar een van die Sanmans is oorlede en van die ander ernstig beseer.
Ons mensekinders se gebrek aan empatie laat my dikwels sidder. (Ook die omvang van geweld en disrespek in video’s wat as sogenaamde grappies gesirkuleer word.) Dit is die produk van ’n samelewing wat besig is om homself te vernietig.
Daar word gesê die welstand van ’n nasie kan gemeet word aan die manier waarop daar na die weerloses omgesien word – kinders, bejaardes, siekes en diere.
Die tradisionele San se streng reëls oor hoe om teenoor diere op te tree steek ons in die skande. Alles gebeur op ’n baie spesifieke manier wat met groot respek uitgevoer word uit dankbaarheid teenoor die dier wat sy lewe gee ter wille van die jagter en sy gesin se oorlewing. Niemand mag byvoorbeeld ’n dier doodmaak as hy kwaad is nie. Daar word ook net genoeg gejag om te benut, nooit meer nie.
Dieselfde geld vir veldkos wat versamel word. Wanneer daar bolplante uitgegrawe word, word daar altyd net genoeg uitgehaal om te gebruik. Die res word in die grond gelos. Dit verseker dat daar volgende seisoen weer van daardie spesifieke veldkos sal wees om te eet. As dit nie gedoen word nie, is daar ’n kans dat hulle die volgende seisoen gaan honger ly as hulle weer daar verbytrek.
Ek hoop dat kinders die ryk Sankultuur beter sal leer ken deur die San se stories te lees. Deur in hulle voetspore te stap, hoop ek leer kinders die veld, diere en plante beter ken. Op hierdie manier leer ons almal, maar veral ons dorps- en stadskinders ’n stukkie van ons eie hart verstaan. En as dit gebeur, leer ons mensekinders om met sagte oë na onsself en ander te kyk.
Ek wil hê kinders moet weet daar is ’n lewe anderkant die rekenaar of foon en dit begin by die duiwe en mossies op die vensterbank, die verkleurmannetjies op die skoolterrein en hoe ek oor my medelandgenote praat.
Waarom is dit vir jou so belangrik om eg Suid-Afrikaanse volksverhale, legendes, rympies en ware stories te versamel en in sommige gevalle te verwerk of hervertel? Watter tipe bevrediging put jy uit hierdie ervaring en wat hoop jy om daardeur te bereik?
Terwyl ek skoolgehou het, het ek ’n lysie gemaak van al die volksverhale, legendes en ware stories wat ek uit my kinderdae kon onthou. Ek het daarmee begin omdat ek besef het my leerders ken dit nie. My leerders uit ander kulture het ook nie hulle eie mense se stories geken nie. Dit het my bekommerd gemaak. Hoe kan ons weet wie ons is en waar ons vandaan kom as ons nie meer daardie stories ken nie?
Ek glo hoe beter ’n mens jou komvandaan ken, hoe makliker is dit om intuïtief koers te hou om jou doelwitte te bereik.
Deur stories van jou mense in jou moedertaal te hoor, kry jy bevestiging van wie jy is en waar jy hoort. Ek pleit gereeld by ouers en versorgers vir net 20 minute storietyd aan die einde van elke dag – weg van die TV en sonder die foon wat pla. As dit reg benut word, kan dit die grondslag wees van ’n besondere vertrouensverhouding tussen jou en jou kind. Dit verg niks, behalwe toewyding en selfdissipline.
’n Kind wat weet wie hy is en waar hy vandaan kom, beleef nie iemand uit ’n ander kultuur wat anders doen as ’n bedreiging nie. Ek glo vas ons kan groter begrip, groter verdraagsaamheid en ’n vredige samelewing bewerkstellig as ons met oorgawe ons kinders oor kultuurgrense heen begin blootstel aan die stories van hul komvandaan.
Moes jy addisionele navorsing doen om hierdie verhale neer te pen of ook die ekstra inhoud (byvoorbeeld die woordeskat en ekstra feite) by te voeg?
Ja, ter wille van die groter raamwerk wat ek altyd nodig het om my skryfwerk in te plaas. Ek benut nie naastenby al die inligting nie, maar dit gee my ’n beter greep op die onderwerp. Hoe meer navorsing ek gedoen het, hoe makliker skryf ek.
Die meeste van die woordeskat het natuurlik uit Von Wielligh se teks gevloei. Ek het op ’n tydstip net besef vandag se kind gaan merkers nodig hê om behoorlik sin te kan maak van ’n leefwêreld wat vir hom heeltemal vreemd is.
My navorsing is ’n organiese proses wat dikwels, soos in Sankind se geval, oor jare strek. Ek staan nie een oggend op en besluit ek gaan oor die San navorsing doen nie. Daar is ’n aanloop, asof ’n groter hand my sagkens aankeer, sekere waterskeidingsgebeurtenisse / boeke / berigte / plekke / persone oor my pad stuur. Ek loop immer op een of ander spoor wat ek meestal nie ’n idee het waarheen dit my gaan lei nie. Ek weet net ek moet dit gehoorsaam. Amper soos ’n posduif wat rigting hou sonder om nodig te hê om te verstaan hoekom. Hy doen dit net.
Kort nadat ek aan Sankind begin skryf het, nooi ’n vriendin my om saam met haar by ander Kleinmonders te gaan kuier. Ons gasheer, ’n afgetrede historikus, sit daardie dag, sonder dat hy ’n idee het van waarmee ek besig is, twee van Gideon von Wielligh se boeke (Langs die Lebombo – JL Van Schaik Bpk, 1923 en Ghwennie Barneveld – ook JL Van Schaik Bpk, 1924) in my hande. Die hoendervleis het oor my uitgeslaan. ’n Paar dae later loop ek sy heel eerste boek in Oupa se Boekwinkel raak. Dit het vir my gevoel Gideon von Wielligh reik na my uit. Die stapeltjie boeke het dwarsdeur die skryfproses op die boekrak in my studeerkamer gelê – ’n tasbare teenwoordigheid van die man met wie se woorde en omswerwinge ek elke dag besig was.
Interessant dat ek, voordat ek nog sy Boesmanstories geken het, ’n aantekening in ’n bundel van Audrey Blignault gemaak het waar sy Von Wielligh se Ghwennie Barneveld lof toeswaai.
Ek lees baie wyd oor ’n onderwerp, baie wyer as wat nodig is. Hoe groter die geheelbeeld is wat ek in my gedagtes kan saamdra, hoe makliker skryf ek aan ’n manuskrip en hoe makliker is dit vir my om nuwe feite en gebeurtenisse “in te slot”. Teen die tyd dat ek gaan sit om te skryf het die inligting ’n versamelnes in my gedagtes begin vorm waarvan net ek die tonneltjies ken en verstaan.
Die groot uitdaging tydens navorsing is om die heeltyd daardie fyn stemmetjie in die geroesemoes van elke dag te midde van die samelewing se groot geraas te probeer hoor en volg. En die tweede grootste is om myself en my eie gedagtes uit die pad van die storie se fluistering te kry en te hou.
Ek moet by tye as’t ware buite myself tree en langs myself stap om die fyn leidrade wat ’n onderwerp vir my gee, te volg. Dan het ek alleentyd, stilte en die natuur nodig. Dit help my koers hou.
Ek verdwaal op pad wasgoeddraad toe en verlê goed omdat ek soms in twee wêrelde leef. Wanneer ’n manuskrip wat baie navorsing benodig het uiteindelik ingelewer word, is ek ’n ruk lank dwalend. Dis ’n groot verligting, maar terselfdertyd ’n vorm van verlies, asof ek ’n gedeelte van myself saam met die manuskrip ingehandig het.
Ek is intens en moes sedert my kinderdae leer om dit te bestuur, wat nie altyd maklik was nie. Maar as dit by navorsing kom, is hierdie intensiteit tot my voordeel. Navorsing is die halsband waaraan ek ’n hele paar van my hang-ups mak maak. ’n Heerlike waansin wat ek vrye teuels kan gee.
My navorsing stop nie wanneer ek begin skryf nie. Die manuskrip verander en groei op ’n organiese manier en soos dit groei en vertak, vra dit nuwe navorsing.
Karel Schoeman het gereeld verwys na die verbysterende manier waarop die regte inligting aanmeld wanneer ’n mens eers op iets begin fokus. Ek ervaar dit gereeld. Dit is vir my heilige grond en herinner my daaraan dat ek slegs ’n werktuig is.
Vir Sankind het ek lank en wyd gelees en ’n paar kernboeke behou wat op ’n manier vir my die katogies in die middel van die pad was. Ek is nie ’n groot fiksieleser nie. Ek het feite nodig. En om een of ander rede geskiedkundige feite.
Dis asof ek die toestand wat ons menswees noem, makliker begryp en beleef en ook meer empatie met my mede-aardbewoners en myself het wanneer ek geskiedenis lees. Dit gee my telkens ’n nuwe invalshoek op ons doen en late hier in die ondermaanse. Ek lees tans Dan Sleigh se Retoervloot – dit gee my oneindige plesier om die dag tot dag dinge in ’n skeepsjoernaal van 300 jaar gelede te lees. Ons mag dalk meesters van tegnologie wees, maar ons ly tot ’n groot mate nog net soveel aan onsself soos 300 of 3 000 jaar gelede.
Het jy enige raad en wenke aan opkomende skrywers wat dalk ou familie- of kontreistories wil neerpen vir die nageslag?
As jy snags wakker lê oor ’n storie wat jou nie wil uitlos nie, is jy op die regte pad. ’n Kontreistorie is soos ’n skaam diertjie. Hoe liewer jy dit het, hoe meer vrymoedigheid neem dit in jou teenwoordigheid.
Probeer soveel moontlik variasies van die verhaal in die hande kry voordat jy gaan sit om dit neer te skryf. Bepaal wat in al die weergawes min of meer ooreenstem en gebruik dit as die geraamte van jou storie.
Respekteer die feit dat jy oor ander se lewens, lief en leed gaan skryf. Dit vra dat jy jouself heeltemal uit die prentjie haal. ’n Storie is ’n lewende entiteit, gee dit kans om met jou te praat.
Moet nooit jou lesers onderskat nie, maak nie saak hoe jonk hulle is nie. Onthou dat elkeen van hulle iets weet / beleef het wat jy nog nie beleef het nie.
Leer om werklik te luister, elke mens is ’n storie.
Lees ook:
Sankind lees die wind – veel meer as stories: ’n onderhoud met Wendy Maartens