Erfenisdag 2013 en Suid-Afrikaanse helde en ikone

  • 0


Titel: Suid-Afrikaanse helde en ikone
Skrywer: Wendy Maartens
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799360042

 

Koop Suid-Afrikaanse helde en ikone by Kalahari.com.

Wendy Maartens se Suid-Afrikaanse helde en ikone het pas by LAPA verskyn. Naomi Meyer gaan hoor rondom Erfenisdag by haar hoe sy besluit het wat van iemand 'n held of 'n ikoon maak.

Hallo Wendy, dankie dat jy tyd maak om te gesels. Ek kyk met belangstelling na jou boek Suid-Afrikaanse helde en ikone. En na hierdie berig. Wat maak van iemand ’n held, in jou oë?

’n Held is vir my iemand wat aanhou om die klein dingetjies te doen wat uiteindelik ’n groot verskil maak. Daardie dingetjies waarvan mense nie noodwendig weet nie, maar wat ’n verskil in jou en ander se lewe maak. Dis gewoonlik die eerste boustene van veel groter dinge. In vandag se samelewing is iemand wat kan sê "Ek is jammer" ook in my oë ’n held.

 Is daar vir jou ’n verskil tussen ’n held en ’n ikoon?

Oor hierdie vraag kan lekker lank elmboog op die tafel oor ’n koppie koffie gekuier word. As ek vinnig moet sê: iemand wat ’n ander se lewe red, kan oornag ’n held word, maar dit verg ’n lang en dikwels uitmergelende paadjie om ikoonstatus te bereik. (Ek is huiwerig om popster- of filmsterstatus hierby aan te haak wat so dikwels met kitsroem en materiële oordaad verwar word.)

Toe ek op skool was, het ons een onderwyseres aanbeveel: Moenie ’n skooltaak aanpak oor iemand wat nog leef nie; hulle kan net teleurstel. Stem jy saam?

Ek dink jou onderwyseres het dalk iewers langs die pad seergekry. Solank as wat ons mens is, moet ons mekaar die ruimte gun om soms teleur te stel. Maar een van die wonderlike dinge van menswees is om verby mekaar se foute te kan kyk, te vergewe en elke dag nuut te begin. Die grootste helde is juis diegene wat nie bang is om hul tekortkominge te erken nie.

Van wie se stories sal mens in hierdie boek kan lees?

Persone wie se verhale kronologies volgens ons land se geskiedenis gerangskik is. Mense soos Enoch Sontonga (wat “Nkosi Sikelel’ iAfrika” geskryf het), Koos de la Rey, Hector Pieterson, Sjaka, Sara Baartman, Hendrik Bibault (die Stellenbosse klong wat die eerste aangetekende persoon was wat die woord Afrikaner gebruik het), die slavin Emilie Lehn, Dick King, Helena Lotrie (wat haar pa met haar rok teen koeëls “beskerm” het), die onbekende boerekrygers wat vir die Engelse soldate Krismispoedings met hul kanonne op Kersdag geskiet het, dr Carl Garish (wat die Hel se sterwende skooljuffrou tydens ’n stormnag te voet daar uit laat dra het), Nkosi Johnson, Klara Majola, die Westdene-busramp se helde, Malan Jacobs (die dominee van die Laingsburgvloed), Richard Simelani (’n mynwerker wat  met sy kaal hande deur 100 meter rots gegrawe het om hom en sy makkers te red), Desmond Tutu (’n onbekende 11-jarige seuntjie wat uit die Vrystaat tot in die Kaap gestap het om sy pa in die Groenpuntse konsentrasiekamp te gaan soek ... en gekry het). En Nelson Mandela. 

Maar beskik ’n held nie noodwendig oor supermagte nie, en is dit nie juis die fout wat mens maak, dat mens verwag so iemand moet iets anders wees as doodgewoon nie? Hoe word ’n gewone mens dan ’n held?

Enigiemand wat aspirasies het om ’n held te word, gaan wreed ontnugter word. Die meeste mense oor wie ek vir hierdie boek navorsing gedoen het, was doodgewoon. Ek dink sommige was selfs effens van ’n bleeksiel. Boonop was baie van hulle intens bewus van hul feilbare menslikheid. Baie het met tekortkominge en struikelblokke geworstel, maar hulle het een ding gemeen gehad: ’n heilige respek vir die waarheid. Dit was altyd, onder alle omstandighede, ononderhandelbaar.

Wat beteken Erfenisdag vir jou, in hierdie land wat verander, wat mens opgewonde en teleurgesteld maak, met helde wat kom en gaan?

Ek is sentimenteel. Ek het die stories van my grootjies en oorgrootjies nodig om te verstaan wie en wat ek is. In my studeerkamer staan ’n houtkissie wat ’n neef van my oorgrootjie as banneling op St Helena gemaak het. Daar is ook ’n yster-koeiklok wat my ander oorgrootjie, ’n Skot, saamgebring het toe hy destyds hierheen gekom het. En ek dra die gedeelde familie-“blessing” van ’n ou Russiese Jood wat in die Gamka-distrik gesmous het toe my ouma nog ’n kind was. Al hierdie mense, en dié voor hulle, was deel van ’n gemeenskap, ’n samelewing. Hulle het almal op ’n manier bygedra tot die persoon wat ek vandag is. Dié wie se name neergeskryf is, en dié wie se name destyds taboe was. Erfenisdag gaan vir my daaroor om die storie van jou verlede te eerbiedig en moeite te doen om die stories van jou medemens se verlede te leer ken. Ons kan aan die storie van ’n gesamentlike toekoms skryf net as ons leer om in mekaar se stories te leef.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top