
...
“Ek is dankbaar Hector is deel van ons land se geskiedenis. As sy dood kan help om mense te versoen, was dit nie verniet nie.”
...
Elke jaar op Jeugdag dink ek aan Hector Pieterson se ma. Dit was nie altyd so nie. Daar was ’n tyd toe ek nie geweet het wie Hector Pieterson is nie.
In graad 7, te midde van die bloedige 1976-opstande in Soweto, het ek en my maters ons nog nie veel aan koerantopskrifte en nuusberigte gesteur nie. Al wat ons geweet het, was dat ons pa’s en onderwysers skielik snags die skool moes oppas en dat ons ma’s snags bang was.
Ek onthou die ongemaklike stiltes as ek daaroor sou uitvra. En ons skoolhoof wat meteens die “dankie vir vrede in ons land” tydens die weeklikse vlaghysingseremonie uit sy gebed begin laat het.
Dit was ook min of meer die tyd toe ek met mening wou weet waarom die slaghuis twee deure het – een vir “blankes” en een vir almal wat nie wit was nie. Ek wou weet waarom Rachel, die skoonmaakster, vir haar kinders se skoolboeke moes betaal terwyl ’n opsionele fooi vir ons “wit” kinders voldoende was, Ek wou weet waarom net “wit” kinders die biblioteek mag gebruik. En ek wou weet waarom net “swart en bruin” seuns by die polisiestasie met ’n sambok pak kry en nooit die “wittes” nie.
Niemand wou my vrae behoorlik beantwoord nie.
Niemand was braaf genoeg om te sê dis verkeerd nie.
Baie jare later voer ek ’n tydskrifonderhoud met Hector Pieterson se suster, Antoinette.
“Hello my dear,” groet sy gemoedelik oor die foon. Vir ’n oomblik sukkel ek om haar stem met die tienermeisie te verbind wat ek elke jaar in die media op daardie ikoniese foto langs haar sterwende broer in die arms van Mbuyisa Makhubo sien hardloop.
“Ek het nie so ’n groot probleem met Afrikaans gehad nie,” mymer sy later. “My Afrikaans was net eenvoudig nie goed genoeg om ’n vak soos wiskunde te slaag nie. Ek het gevoel my skoolloopbaan stuur op ’n ramp af.”
Ek sukkel om by te hou. My vooropgestelde idees verstrengel my.
“Hector was ’n stil seun met ’n eiesoortige humorsin,” borduur sy voort. “Smiddae na skool het hy graag alleen in die veld oorkant ons huis tussen die perde gespeel wat die kolewa getrek het.”
Teen die einde van die gesprek gee sy die foon vir Ma Dorothy aan.
Hierdie oomblik het ek nie voorsien nie. Hoe gesels ’n mens met ’n ouer wat elke jaar opnuut met die pyn en verlies van daardie dag gekonfronteer word? Maar Ma Dorothy se stem is vol vrede. Dit klink asof sy die woorde baie ver gaan haal: “Ek is dankbaar Hector is deel van ons land se geskiedenis. As sy dood kan help om mense te versoen, was dit nie verniet nie.”
Toe bly sy lank stil.
“As ek nie my geloof gehad het nie, sou ek en my gesin nooit deur hierdie dinge gekom het nie. Aan enige Suid-Afrikaner wat deur ’n krisis gaan, sal ek sê: ‘Moenie van die probleem af probeer weghardloop nie. Moenie jouself met allerhande vrae kwel nie. God weet alles.’ Filippense 3 vers 13 sê: ‘Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.’”
Ek het vanjaar weer op Jeugdag aan jou gedink, Ma Dorothy.


Kommentaar
Aangrypend.