
Foto van André Terblanche: verskaf
André Terblanche is die nuwe bestuurder van die Breytenbach Sentrum. Hy praat met Naomi Meyer oor wie hy is en oor die pad vorentoe.
André, baie geluk met jou aanstelling as bestuurder van die Breytenbach Sentrum in April vanjaar. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.
Ek het grootgeword in die Paarl en vakansies in my oupa en ouma se musiekwinkel geboer. Na skool het ek drama studeer aan die Universiteit Stellenbosch en werk sedertdien op die verhoog en agter die skerms as kunstenaar, tegniese en produksiebestuurder en vermaaklikheidskoördineerder. Die Breytenbach-aanstelling is van so aard dat ek nog betrokke kan wees by ander projekte, soos die produksiebestuur van Joseph and his amazing technicolor dreamcoat wat ek tans vir Pieter Toerien Produksies en LAMTA behartig en my betrokkenheid as akteur in Dean Balie se verhoogstuk Een vir my Baby. Ek tree ook eersdaags op saam met die Stellenbosch Stadsimfonieorkes en deurlopend as stemkunstenaar vir RSG.
Die eerste vraag was ’n moeilike vraag, want hoe som mens iemand met so ’n uiteenlopende kuns- en kultuurbetrokkenheid se agtergrond in ’n paar sinne op? Jy het ondervinding op baie terreine van die vermaaklikheids- en kunstewêreld – TV, sang, drama, stemkuns. Watter aspekte van wie jy is word deur die Breytenbach Sentrum aangespreek of geroer?
Ek hou daarvan as ’n ding werk. Ek is reeds só vir so lank as wat ek kan onthou. Ek sou as laerskoolkind deur die nag werk om my taak se voorblad perfek te kry en as hoërskooldramaleerling nagte om in die ouditorium se dak spandeer om die stukkende verhoogligte reg te maak of die kerk se klanksisteem perfek op te stel. Vir die eerste 15 jaar van my loopbaan kon ek meestal op die verhoog en agter die mikrofoon werk – iets wat ek nog steeds doen – maar my hooffokus is nou egter op kunstefasilitering. Ons wonderlike bedryf kan gesond en voortvarend wees as ons seker maak skrywers, kunstenaars en onderwysers het ordentlike fasiliteite, sodat hulle kan fokus op dít waarin hulle goed is en waarvoor hulle lief is. So word daardie wonderlike begeerte om ’n verskil te maak nie geblus deur die beslommernis van admin, kommunikasie, bemarking en die inrigting van fasiliteite nie.
........
Ons wonderlike bedryf kan gesond en voortvarend wees as ons seker maak skrywers, kunstenaars en onderwysers het ordentlike fasiliteite, sodat hulle kan fokus op dít waarin hulle goed is en waarvoor hulle lief is. So word daardie wonderlike begeerte om ’n verskil te maak nie geblus deur die beslommernis van admin, kommunikasie, bemarking en die inrigting van fasiliteite nie.
..........
Die Breytenbach Sentrum is in wese ’n kultuursentrum. Benewens die bewaring van die Breytenbach-familie-erfenis is ons daarop gefokus om ’n sentrum van uitnemendheid te wees waar daar uitdagend geskep kan word. Ek glo in “jack of all trades, master of some”. As jy iets lank genoeg, getrou en tot die beste van jou vermoë doen, gaan jy uiteindelik goed wees daarin. Ek probeer daarom om die wonderlike werk wat my voorgangers gedoen het, te versterk, veral na Covid-19 ons almal ’n knou gegee het, en dit verder uit te bou met my ervaring en verkenningsvelde.
Wat was jou gedagtes en beskouing van die Breytenbach Sentrum en wat dit is voordat jy as bestuurder aangestel is? Hoe beleef jy dit nou?
Ek het die Breytenbach Sentrum bloot geassosieer met die jaarlikse Tuin van Digters-fees, die skryfskool en die konserte wat by die Bôrdienghuis-teater aangebied word. Die sentrum is egter soveel ryker. Projekte wat tans aangebied word, sluit in:
- 12 maande illustrasiekursus, onder leiding van Mia Oosthuizen en Elizabeth Gunter, aangebied deur die Breytenbach Galery;
- 12 maande kinder- en jeugliteratuurskryfskool, onder leiding van Mia Oosthuizen, aangebied deur die Breytenbach Galery;
- Breytenbach Boekklub, wat meer as 24x boekbesprekings en -bekendstellings per jaar aanbied, met meer as 70 aktiewe lede;
- weeklikse kunslesse vir tuisskoolleerders en spesiale kunslesse vir jeugdiges verbonde aan die Bonnytoun-sentrum, in samewerking met die Jack Meyer Kunssentrum;
- daaglikse musieklesse, aangebied vanuit die sentrum deur Curtis van Kerwel;
- dramaklasse vir kinders en volwassenes, aangebied deur Alma Nel;
- kookwater-gespreksreeks;
- gereelde professionele kunsuitstallings in die Breytenbach Galery onder die kuratorskap van Anne-Ghrett Erasmus;
- gereelde gemeenskapsuitstallings in die Cloete-gemeenskapsgalery, deur plaaslike kunstenaars vanuit die gemeenskap.
“Die plek bewe van die lewe”, om Koos Heuningbek in David Kramer se musiekblyspel Ver in die wêreld Kittie aan te haal. Ek kan nog steeds nie glo ek kan hierdie wonderlike daaglikse belewenis “werk” noem nie.
Wat is die belang van kultuurgeboue van Afrikaanse skrywers en digters in ’n land soos hierdie – wat is daar om te bewaar? En hoekom?
Dit gaan om meer as net die bewaring van ’n spesifieke skrywer se erfenis. By die Breytenbach Sentrum gaan dit wel om die bewaring van die Breytenbach-familie se nalatenskap, wat Breyten, Jan, Cloete, Rachel, Sebastiaan en hul ouers Hans en Kitty insluit, maar ook om die voortsetting van ’n ideologie of lewensbeskouing. Ek haal Breyten se woorde tydens die opening van die sentrum aan ter illustrasie:
Hier word plegtig afgespreek dat dit gaan om die sluiting van vennootskappe op absoluut deursigtige en gelyke grond – waar iedereen haar of sy bydrae sal kan lewer, uit hoofde van vaardigheid of vermoë of potensiaal. Maar veral gaan dit om uitdagende skepping, ’n ware transformasieproses. Want hierdie is nie ’n plek van opgee of afgee of weggee nie; dit gaan oor aangee. Nie om verdeel of opdeel nie, maar om deelname en deel wórd.
Die behoefte om ’n bydrae te maak is egter baie moeilik om te verwesenlik as jy nie ’n plek het om dit te besig nie. ’n Fisiese gebou wat ingerig en doelgerig gefasiliteer kan word, is die kernbestanddeel van ’n volhoubare kultuurinstelling. ’n Plek waar mense wat ’n verskil wil maak, kan aanmeld en kan deel hê in verruimende denke en die bespreking van taai onderwerpe. ’n Plek waar weldoeners en befondsers die vrug van hul arbeid kan waarneem en waardeer. Uiteindelik word die plek ’n ruimte wat verder inspireer en bereik as wat die persoon na wie dit vernoem is dalk selfs van sou droom. ’n Plek wat “aanhou beweeg en geraas maak”.
Hoe sien jy die toekoms en wat beoog jy? Kom ons verbeel ons daar is onbeperkte fondse!
Ons woeker reeds met ’n paar nuwe projekte wat binnekort die lig sal sien:
- ’n kabaretprojek wat in 2026 sal plaasvind;
- ’n klassieke musiek-konsertreeks in samewerking met CPUT;
- ’n koorprojek wat deel sal vorm van die klassieke konsertreeks en plaaslike skoolkore sal betrek;
- ’n radiodokumentêr-werkswinkel, onder leiding van Johan Rademan en Haidee Muller;
- die opgradering van die ATKV Bôrdienghuis se tegniese toerusting, met die ondersteuning van die naamborg.
Met addisionele fondse sal ons ook die volgende kan aanpak:
- Die opknap van ons ateljeemotorhuise om die herlewing van die voorheen suksesvolle naaldwerkkursusse te verseker, sowel as die aanbied van kunsterapiesessies vir kinders in ons onmiddellike gemeenskap. Ons fasiliteerders staan gereed;
- die vervaardiging van Woordkunsproduksies vir die feesteforum en ander kunstefeeste;
- ’n jaarlikse skrywers- en kunstenaarsresidensie;
- ’n gemeenskapsorkesfees.
Ek droom ook al jare van ’n plek waar ons senior burgers en jongmense bymekaar uitkom, om vaardighede uit te ruil. Lesse in houtwerk, naaldwerk, tuinbou en breiwerk te verruil vir wenke in hoe om jou selfoon beter te verstaan, hoe om die internet of ’n rekenaar te gebruik, ensovoorts. Iets-vir-iets.
As jy mense kan uitnooi na ’n geleentheid wat binnekort by die Breytenbach Sentrum aangebied word, waarop sal jy die aandag van LitNet se lesers wil vestig?
Die eerste ding wat by my opkom, is die Tuin van Digters-fees wat op die 12de en 13de September vanjaar plaasvind. Dit is ’n geleentheid om die sentrum in al haar bedrywighede eerstehands te ervaar. Die program word ook eersdaags deur die feesorganiseerder Francois Lötter bekend gemaak en beloof om weer eens propvol wonderlike aanbiedinge te wees. Die tema vanjaar is “Wanatoe” en fokus op die voortsetting van Breyten se werk en sy invloed op jong digters en denkers.
Ek wil lesers ook aanmoedig om ons Facebook-blad te volg om ingelig te bly oor aanbiedinge en sentrumbedrywighede.
Kan mense sommer net doodgewoon op ’n Saterdagoggend by die Sentrum kom koffie drink? Dalk die kunsgalery kom besoek?
Die sentrum is oop van Maandae tot Saterdae en ieder en elk is welkom. Lê gerus besoek af by ons boekwinkel The Book Traders, wat deur Esther Kotze bedryf word, of stap deur ons twee galerye wat elke vier tot ses weke ’n nuwe uitstalling huisves, of vertoef in die pragtige digterstuin. Ons koffiewinkel is tans besig om opgeknap te word en sal binnekort heropen word. Die ATKV Bôrdienghuis bied ook elke naweek vertonings aan en bied ’n heerlike knus atmosfeer in die winter en soel someraande met buiteligvertonings in die warmer maande.
Lees ook:
Die tweede illustrasiekursus by die Breytenbach Galery in Wellington: ’n onderhoud
Persverklaring: Illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington begin 21 Junie 2025
FilosofieKafee-gesprek: "Waar is ons (nou)?" deur Breyten Breytenbach

