FilosofieKafee-gesprek: "Waar is ons (nou)?" deur Breyten Breytenbach

  • 5

Foto van Breyten Breytenbach: Naomi Bruwer

Waar is ons (nou)?

’n Transkripsie

Hier volg van die notas waarvan ek gebruik gemaak het vir die FilosofieKafee se eerste “aanwesigheid” by die Breytenbach Sentrum in Wellington, die aand van 4 Maart 2022. Ek hoop die “simbiose” tussen die “Kafee” en die “Sentrum” kan voortgesit word. Die notas is uiteraard nie volledig verteenwoordigend van die gesprek van daardie aand nie – daar was heelwat improvisering en sydelingse reaksies wat nie hier weerspieël word nie. Teen die einde van my inisiële opmerkings het ek  ’n stukkie voorgelees uit  ’n vroeëre opstel, “Dog’s bone” (’n voordrag by Unisa, Februarie 1994) soos gepubliseer in Parool/Parole, en dié sal ek nie nou hier herhaal nie. Die notas is sketsmatig.

                                      ÔMMM ...

                                      AAAA …

                                      OENG …        

Ons het lootjies getrek om te sien wie van ons die sware jas van “filosoof” gaan aantrek vir die geleentheid. Mense wat my ken, sal getuig dat ek ’n eerlike ou is, maar ook dat ek maklik sal verneuk ter wille van eerbaarheid.

Johann Rossouw, hier aanwesig, is dus vanaand se filosoof. Hy weet van pye en mantels. En selfs van bo-klede. Ek het nie daardie geleerdheid of aanleg nie en is al klaar bly as ek kan deurgaan vir ’n filosot. En indien daar vanaand hier nog ’n paar filostotteraars is, is dit ook oukei: Aristoteles was ook maar ’n hakkelaar.

My eie benadering van die Onkenbare sou via ’n falsafa wees – ’n denkleer, eintlik ’n metodiek, wat teruggryp na sowel die Hellenisme as Islam en vroeëre Persiese wyses om die Ondenkbare te hanteer. Dit klink nou ligsinnig maar ek glo tog dat die wysbegeerte en die wys-begeerte (dws breedweg gesien die kunste) veel gemeen het in die beweging na vormsoeke. (Hier het ek die gelyklopendheid probeer toelig tussen die soeke na wysheid – filosofie – en die “begeerte om te wys”, om die loop van die proses te laat sien.) Die gelowige nader die Onkenbare, tree in gesprek daarmee; die falsafis probeer om nie doodgepraat te word deur die Stil Een in hom of haar nie, deur dit waarvan hy of sy (sjy) maar net ’n skadu is. Miskien om as bedelmonnik daarmee te dans. Woorde kom van Nêrens om ’n gedeelde Êrens of iets te probeer identifiseer of skep sodat ons mag kommunikeer in gewaarmaking – dalk om saam ’n begrip te ervaar en die gedagte te bewaar.

dagtaak:
om sin te maak
van die nag se sake,
die versoeking van syn
te versaak vir skyn

hoe                 waar
is die gesig
van voor die geboorte?

waar                hoe
is die gedig
voor die gewoorte?

Vir my is die falsafis ’n potjiesdenker – soos mens sou verwys na potjieslatyns. Maar ook omdat hy of sy sig laat lei en verlei deur wat uit potjies ink en verf en geheuebeelde kom. Die “denkloop” word gespieël in die syngang van máák: vermaak, be-maak, maak-maak. Tog bly soek jy instinktief na die rand of die skadu of die oorvleueling van die Ander; jy wil jou woord kan gee, in verbinding tree en dus bind om die waar-neming groter te maak, die sáám te ont-dek en, indien moontlik, ont-ek. Dit gaan nie om stellings nie, maar werkshipoteses. Ook al is jy ou-kalant genoeg om te besef dat mens ’n draad van woorde span of aan die hand van ’n gedagtedraad uit die labirint van moontlikhede wil beweeg na eenduidigheid. (En verstrengel raak …)

Voor ek verder gaan, net eers gou: Ek het my Muse plegtig belowe om nie oudergewoonte die mense te verskree en te vloek, my woede en frustrasie op hulle uit te haal, hulle aspris verkeerd te lees, vervelend of hoogdrawend te wees, of hulle behoudende goedheid te minag nie. Mag ek dan nie eers die bukkers van Sjymbos bykom nie, wou ek weet? Nee, beslis nie – hulle probeer ook hulle bes om nie te weet wat hulle doen nie – en jou moraliserende “meerderwaardigheid” is sommer net leedvermaak ...

Ek kan dan maar net my bes probeer.

Wat my herinner aan die staaltjie van die Suid-Afrikaanse oligarg wat voor skoot geneem word deur die Freedom Fighter. “Your money or your life!” skree die EFF’er ... Geen antwoord. “Your money or your life!” por hy ’n tweede keer ... Nog steeds geen reaksie. En toe hy geduld verloor en ’n derde keer vra, op die punt om te skiet, sê die oligarg verskonend: “I’m thinking ... I’m thinking ...”

Hier is wat ek gaan probeer doen. Lamé Ebersöhn (en ek wil hier ’n punt daarvan maak om haar te bedank dat sy voorgestel het om die FilosofieKafee na die Woordmakersvallei te bring; ek hoop ons is haar vertroue waardig) het my gevra om ’n paragrafie te skryf ter omraming van vanaand se diskussie. So lui dit:

Dis duidelik dat die wêreld waarin ons beweeg, waaraan ons gewoond geraak het en waarby ons aan- of inpas om te oorlewe, in ’n versnellende en akute oorgang is. Miskien is dit iets wat van tyd tot tyd gebeur (ons kan nie ver genoeg terugkyk in die alles-duisternis van oorsprong om te weet wat die heelal en ons klein planeet se ritmes is nie). Miskien is die huidige saamtrekking-en-oopgaan die gevolg van saamlopende omstandighede: die wêreldwye pandemie, die ineenstorting van ekosekerhede, die vernietiging van verwysende “waarhede” en “sisteme” en selfs wat ons ervaar het as bekendhede en verwagtings. Miskien hou ons op bestaan en/of word anders. Hoe dan ook – elke vertroude begrip en aanname het op losse skroewe te staan gekom. Insluitende “waar” ons ons sou bevind in die kosmos, maar ook in die ruimte van hierdie kontinent en bedeling en geskiedenis (die waar); “wat” die synsbegrip sou beteken en waarvan dit afhanklik is (die is); “hóé” afbakenend en insluitend en betekenend die belewenis van groepvorming is (die ons); en dan die huidigheid wat as “tyd” deur die kaleidoskoop gerefrakteer word ... of dalk nooit bestaan het nie. En wat behels dit vir “ons”, hierdie trekvolk van gemengde afkoms met ons voëlvrytaal. Met ander (powere) woorde: Waar is ons (nou)? Kan ons onsself nog droom of verbeel? En sou daardie verbeelding dan ook ’n etiese implikasie hê?

Die bedoeling is om ’n bietjie stil te staan by die groot Niet – die waar.

Die is, die ons.

Dan te kyk hoe ons ons situeer binne die verskuiwende en onsekere omgewing van hierdie vasteland en dalk, as heterogene klomp dwarstrekkers maar tog gesamentlik aanduibaar anders, in die versnellende uitmekaarval van die Groot Versoening met ons landgenote en ons skandes. Johann sal dan my skanse aan flardes skiet (terwyl ek nog protesteer: “I’m thinking ... I’m thinking”) en ons hopelik langs ander en hoër bergpaaie lei. En dan word die nagmaalbrood vir almal gegee om te herkou. Omdat ek nou al weet dat my hipoteses onaanvaarbaar gaan wees, hopeloos utopisties en onprakties, en indien julle nog ooghare oor sou hê, wil ek graag ter afsluiting enkele gedigte lees. Al is dit ook net om te betoog dat mens met minder woorde méér kan doen om die Onsêbare te benader.

“Stilstaan” is ongelukkig nie iets wat ons beskore is nie. Oë toemaak is ook nie ’n opsie nie – tensy dit is om beter te kan sien.    

daar is nie iets soos stilte nie
hiér is die ophou-klank:
luister hoe klank stilte in die klinker
kyk hoe is syn die medeklinker van stank.

Klanke lei soms na begrippe wat ons liewer wil ignoreer. Om gemoedelik met mekaar te verkeer terwyl ons die Onafwendbare negeer, is, hoop ons, om ordentlik en na meriete (en belastingwaardig) regeer te word – terwyl dié van ons wat dit kan bekostig, stagneer en die gelaat wegkeer van die oorgrote meerderheid medemensewesens wat krepeer. As oudfilosofis het mens baie waarhede verleer om weer die bobbejaanspieëltjie se nuutskepping te akkommodeer. Maar hoekom sou die geweer nie opgeneem word teen Onreg nie? Of om dit anders te stel: Hoe gaan ons verhoed dat die verband van die wonde geskeur word om die waarheid onomwonde bloot te lê?

Waar-heid kan seker ook met ’n koppelteken geskryf word.

Een van die wondere van ons voëlvrytaal is dat die konkrete nog waarneembaar is onder die abstraksie van algemeen aanvaarde

“Betéken-is”. Dink nou maar net aan “waar-neembaar”. Dis tog seker waarom ’n mooigesig mens soos Blade Nzimande wegskram van die verantwoordbaarheid van worteldenke, van inheemsheid wat groei uit hibridisering en kreolisering en saam-mekaar-andersmaak, en hoekom hy papegaaipraat verkies. En dan verkieslik in Globish.

Verskoon my, my Muse, wanneer ek sukkel om my tong in toom te hou. Maar as mens ’n inkommer is, soos ek, van tyd tot tyd hier om my te buite te gaan aan die gemeste kalwers en die vissies (en dalk die bakvissies), wanneer jy besef dat jy vir goed uit voeling is met die versigtige plasing van ’n volhoubare oorlewe hiér, die verplasing van alle drome van vervulling, gaan dit niks help om mooi broodjies te wil bak nie. Hoe het ons dan die voorreg opgesê om heeltemal verkeerd te mag wees – en wat baat dit ons? Sedert wanneer mag ’n boer, die wegtrekker, nie van koers verander nie?

(Alhoewel ... van oormekaarpraat trap mens naand op mekaar se tone.)

Alle vormgee is ’n soeke na plek. Wat ons nou, wêreldwyd, belewe is chaos en onsekerheid. Ons gebruiklike aandoenplekke het opeens onvertroubaar geword. Die pandemie, die Kroonpes, Covid, die kouevoetkonfyt het waarskynlik almal op die aardbol laat besef dat ons één is. En nêrens was daar enige begrip van wat die agent hiervan werklik is nie: Alle golflengtes is versadig met alarmistiese verslae, herhaaldelik, om ons nog dieper in die depressie te dryf. Die enigste teenvoeter was skynbaar om ons te isoleer agter ons snoetdoeke en mensekontak te vermy. Ons was alleen in die heelal. Desperaat het ons gesoek na alternatiewe haarde om hierdie oorbevolkte en besoedelde aardplaneet te verlaat. Ons het afgetuur in die Niet. En net so skielik het ons besef hoe nietig, hoe toevallig, hoe oorbodig ons is – en hoe gevaarlik vir ander lewens- en bewussynsvorme. Hierdie einde-van-alles-bestaansangs het ons menswees na vore gebring: werklike  empatie, ’n diepgaande bevraagtekening van alles (veral sedert daar nou geen “waarheid” of “onwaarheid” was om te onderskei nie) en ook ons inherente hebsug en wreedheid en versmagting na mag – so asof ons die dood sou kon systap deur onderdrukking en uitbuiting, of deur verbaster te word met verbeelde lewensuitinge wat ons self geskep het, die virtuele intelligensie en “sosiale” media. Daar was opeens geen morele leierskap waar dan ook nie, en is nog steeds nie. Die rykes het ryker geword, ook al is die rykdom virtueel en obseen, en die armes méér, en meer ellendig. 

Waar is ons in die kosmos? Wat is die omvang van syn indien nie net pyn nie? Wie is hierdie ons? Bestaan ons ooit of is ons maar net skimme in ’n kosmologiese nagmerrie? Wie of wat droom ons? Is hierdie nou wat ons deur gesamentlike konseptualisering teenwoordigheid of substansie wil gee wérklik? Of is dit ’n ewigheid wat maar net ’n oogknip lank duur?

En tog: Alle poging om vorm te gee aan die vormlose vloei van beweging, van laat gaan, is ’n soeke na plek – of dan ten minste die harmonie van deelnemende omvorming. In dié geval hierdie plek van berg en see en diephemel. ’n Staanplek, ’n sêplek, ’n lêplek wanneer die nag op ons is

(En ek weet ook ons neuk helder oordag na die naaste skaduwee om daar te gaan lê. “Ons rus,” of “ons dink,” sê ons. I’m thinking! Of ons wag op genade van iewers.)

Ek weet ek het genoeg vrees in my om in die waan te verkeer dat ek bestaan. Ek weet ook die enigste wyse om te behou is om te laat gaan. En nieteenstaande die verwaandheid van die potjiesdenker kom ek agter, nou dat die verwarring ten spyte van alles begin verwoord word, dat dit darem ’n lafenis is om mens te wees tussen ander mense.

Jy lewe voort ook al weet jy nou (en juis miskien omdat jy dit nou weet) die Niet, daardie Onkenbare Onsêbare nikswees, is jou voorland. Om die Onafwendbare te herken is dalk om meer geduld en meegevoel te hê met die wendinge van jou menswees. Leonard Cohen, broer Leonard die nogoodnik, verwoord iets soortgelyks in sy “I came down from the mountain” – dis uit The Book of Longing getoonset deur Philip Glass. Leonard se Zen-naam was Jikan.

I came down from the mountain
after many years of study
and rigorous practice.
I left my robes hanging on a peg
in the old cabin
where I had sat so long
and slept so little.
I finally understood
I had no gift
for Spiritual Matters.
“Thank You, Beloved”
I heard a heart cry out
as I entered the stream of cars
on the Santa Monica Freeway
westbound for LA
A number of people
(some of them practitioners)
have begun to ask me angry questions
about the Ultimate Reality.
I suppose it’s because
they don’t like to see
old Jikan smoking.

You can only get to where you will end up by starting from where you are now.

Ek het nog baie van hierdie diepe wys-hede (wys, koppelteken, hede) oor die jare opgegaar. Soos: Indien jy lank genoeg lewe sal jy oud word. Of: Dit maak nie saak of dit ’n nokia of ’n huawei of ’n samsung is nie – dis dieselfde bobbejaan wat uit daardie spieëltjie vir jou kyk. Of: Ek glo nie dis gesond om aanmekaar ’n blaar voor die mond te wil neem of, soos gebruiklik, mekaar van agter die hand te beskinder nie; ons is nou al so skuldig vir die verlede, die hede, die oorlede en aan die toekoms dat ons vrotmondjie kry van die swaar geknoopte tong wat nie eens in die kies is nie.

Of  ’n gedig met die titel nog?:

     vir wie?
     vir wat?
(ek) lewe (nog)
   omdat ek lewe

Of: Die teenswoordige is opdringerig. En daarvan gepraat: Nog ’n besondere enigheid van ons voëlvrytaal is dat dit weggedoen het met die verlede tyd. So asof ons in die vir altyd onafgemaakte teenwoordige deelwo(o)rd verkeer. Ons sê nie “Ik ging” soos op Hollands wanneer ons die lewe verlaat het nie, maar “Ek het gegaan”, of “Ek hét gesing” in plaas van die Engelse “I sang.” Net so vertrou ons op klankherhaling om iets te benadruk sonder dat dit ooit definitief word. “Ek kom nou-nou.” “Bietjie-bietjie maar kort-kort.” Hoe sou dit vertaal in Globish? En die mooi intimiteit van afstand/nabyheid wat ons bewerkstellig met die derde persoon-aanspreekvorm. Soos in: “Breyten, wil Breyten nou nie maar tot die punt kom nie?”

Dan sê party mense nog dis ’n Europese taal!

waarnatoe nou met die krokodil van Afrikaans?
dit was bestem om handsak te word,
en skoene
vir die loop in biblioteke van geleerdheid
vir mense met liddorings —  
en toe het dit blindelings ontsnap,
tjopstert onder die draadversperring deur gedolwe
om anderkant uit te kom
en vry nie weer gevang te kan word
selfs met die dooie hoender van versoening as aas nie 

daar’s geen pad terug na ’n niebestaande Nyl
maar tog nog ’n laaste swem
stil soos ’n skim in die Breërivier
om kinders en donkies te verskrik
en die nag vol stories te maak

voor jy van die gras gemaak 
onthou mag word as iets wat nie van hier was nie
wat lank gelede hier gelewe het.

En as dit dan so is – vir hoe lank kan hierdie “ons”, die uiteenlopende en heterogene Afrikaan-Afrikaners, nog voorgee ons is in die volle en onbevraagtekende en onvoorwaardelike aanspreeklikheid van landsburgers tuis in hierdie land waar die nou al hoe nouer trek om die nek? 

Die staat is nie “ons” s’n nie. Ons kan onsself nie daarin herken of dink dat ons dit teenoor wie ook al sal regverdig of verdedig nie. Miskien is dit ’n natuurlike evolusie. Miskien is die konsep “staat” verouderd, dien dit weinig nut. Baie van ons – dié wat dit kan bekostig of dié wat nooit gekwalifiseer het vir toelating tot die staat nie – lewe in ieder geval daaromheen. Maar na gelang hierdie staat die monopolie en legitimiteit van Bevryding verloor, gaan dié wat vasklou aan die posisies en die toiletbakke van mag, al hoe meer probeer om die scenario en die openbare diskoers te beheer. “Ons faal omdat ons nie ver genoeg gegaan het in die verkeerde rigting nie.” En skurke en skemuggels klee hulself in die magspye van die staat – want dit waarborg en beskerm hulle onbevoegdheid en die feit dat die lot van die bevolking hulle nie aangaan nie. Hoe kaler die regverdiging van hulle pretensies word hoe harder sal hulle skree dat sameswerings hulle daarvan weerhou om die revolusie te voltrek tot voordeel van die piepel.  

Die bestaande saamstaat is nie die Bolander of die Weskusmens of die patatvoete of die Nama-afstammeling langs die Oranje of die nurse in Tygerberg of die oesterdief in Kleinmond of die rooibosboer in die Bokkeveld of die Griek in sy keffie of die skaapboer in die fort van sy opstal of die hoofman onder sy praatboom of die onderwyseres in die plaasskool of die oumenseversorger of die koerantverkoper of die priester op sy knieë of die bergie of die nagvlinder in haar motgevrete Japanse japon of selfs die “revolusionêr”-wat-nou- skaamkwaad-anderkant-toe-kyk s’n nie. 

Ek praat nou nie van die ekonomie of, tot sover en grotendeels, die “grond” nie. Wie wil nou erken word as ’n aanspreeklike landsburger solank jy maar jouself en jou afhanklikes kan verryk? En hoe gaan jy dit doen as dit nie ten onkoste van die ander is nie?

Nee, die staat is die ANC s’n. (“En dis ’n treu-eurige verhaal, meneer …”) Ook seker nie die “ANC” s’n nie, want daar is baie wat met min oor die weg probeer kom (en bietjies-bietjies steel om te oorlewe), wat hulself in alle dankbaarheid sal beskryf as synde lidmate van die ANC-Partystaat. Daar is dié wat kak vreet ter wille van nog ’n dag. Nee, die staat is die ANC-kakkakaders, die African Nationalist Cadres s’n. Daar is nou wel dié daaromheen wat dink dat hulle ook ’n aandeel daarin het as consiglieri of as “sleeping partners” (en dink dit gaan hulle red) – ek verwys na die buk-intellectuals, die slimwimme van Gamorrasdorp, dié wat op die knieë kruip na die voorste rangordelinie van internasionale erkenning, dié wat soveel sondes bely het dat hulle nou glad geheueloos geword het. (“Wat? Wie? Ekke? Apartheid? Baasskap? Aaaag man, dit was sommer net ’n jeugsonde. En ek het altyd omgesien na die belange van die bediendes. Hulle was soos familie.”) Dié wat breed kan sit selfs langs die Chinese allesvreter (en hoop om raakgesien te word, en hoop om nie raakgesien te word nie), die vulsel in die kalkoen se pens, dié wat kan spog met hulle nederigheid van op die Amsterdamse aandelebeurs te boer, die “realiste”, dié wat ’n gelukkie kan slaan in Cofidia.

(“Luister, my bitterbekvriend, dit gaan om fool-uit-gang ... Moet nou nie sit en grens soos ’n sissie oor verspilde drome nie …” )

Verskoon my vir dié vergrype, Muse!

Ek probeer dit voor oë hou dat ek (miskien ons) op niks geregtig is nie. En dat die etiese verbeelding waarvoor ek pleit, ook sal insluit dat die misdade van die verlede nie vergeet word nie, nooit. Dat geen “hef” sig in die (aparte) plek van die “hef-not” kan indink nie, maar ook dat dit nie gebruik mag word om die toekoms te diskwalifiseer nie. Ons kan nie bekostig om onsself nié te verbeel as meer omvattend en verruimend en verdraagsaam en medemensliewend en bewus van die wêreld waarin ons lewe ... as wat ons tans is nie. Ek probeer die verskille tussen “gemeenskap” – dit wat eie aan ons is, soos taal – en “samelewing” as die oorkoepelende gedeeldheid (histories, geografies, in verspilde bloed en in pogings om mekaar te kén en respekteer) waarbinne ons móét besef die erkenning en die uitlewe van diversiteite is die stukrag vir die groei van saambinding – lewend en omvormend hou.

Wat sou dit kon beteken op persoonlike vlak?

Om alles (en veral wanneer daardie “alles” ’n magsfenomeen word) radikaal te bevraagteken en waar doenlik te bestry: ideologies, perseptueel, in terme van geloof en grammatika, polities, kultureel, eksistensieel en onsekstensieel, die mag van een geslag oor ’n ander, die mag van status en vernaamwaan en skyn, die dwingelandy van “kommunikasie” soos in die diktatúúr van die bobbejaanspieëltjie ... Ook die mag van konsepsie oor die woord. Want die woord sal daar wees, of dit nou uiter of nié. En te bly baklei vir ruimte waarbinne hierdie weerstand ten alle koste en onkoste oral en altyd kan gedy ... Maar daarmee saam te bly wéét dat jy ook altyd deel het aan die lewe waarvan jy onlosmaaklik déél is. Die ander is ook jy. Die dwaas wat alle voeling met sy menslikheid verloor het is, net soveel jy. Die besetene wat oor alle kommunikasiegolflengtes bly babbel en gif en vrees en disinformasie versprei, is ook jy. Die dief wat die koperdraad steel, is ook jy. Die magsvraat wat die weerloses verkrag, is ook jy. Die geparfumeerde gek in sy besoedelende kragwa is ook jy. Die gelate burger wat ma’ sjaamry is ook jy. Die vol-van-nederige-self skynheilige wat die gietertjie wierook swaai, is ook jy. President Ramapater wat met drome smous om almal ore aan te sit, is ook jy. Die mens wat ’n vuil klou uitsteek om te bedel, is ook jy. Die slimmetjie wat nou hier skryf met hand in eie skynheilige boesem, is ook jy. Ék is jy. Net soos jy/julle ek is.      

Luister, julle wat regeer en besluit oor ons lewens – wees die vertellers en vertalers van syn en van pyn genadig. Hulle is skadeloos, vreet nie julle geld nie, het ’n afkeer van julle mag, sal nooit sekerhede hê om te propageer en te kompeteer met julle onsedelikhede nie, sal julle help om die verskriklike ondermyning van ons arrogante menswees (soos alles wat mooi is altyd gaan betéken) nie te vergeet nie. Want soos met wurms in die grond sal niks kan groei en bloei as hulle/ons nie daar is nie.

“Literature cannot be a compensation for history, but it can point to an absence.” – Elias Khoury

*

die verskriklike gelaat van my land
sê jy, jy sê
selfs wanneer ek die tyd
van skaduwees en stilte binnegaan
sal die woord bly
hierdie of iets
wat die naklank is

en selfs wanneer die vlees
tot verby die stank
van ’n laaste stille nagklank
vergaan het, sê jy
en ophou stotter
sodat die eentongbaas
ongestoord in sy herehuis mag slaap
asof hoor en sien
maar net ’n waan was

ook dan sal die woord
bly lewe, hierdie
of iets wat daaraan herinner
solank die aarde
bewerk onder die maan 
die silwerhemp arbeiders toekom
sodat amandels soos klinkers
kan blink in die bome

*

“The meaning of language is dying (…) Through powerful metaphors we protest against this … (but) in the sadness of poems lies the end of meaning.” – Ampie Coetzee 

jy het gelyk, Ampie – 
dis in die hartsweer van leë verse 
dat die lyk van betekenis opgeberg word – 
nie die beduienis of mening nie – 
dié is statiese abstraksies 
met bakkies wat glim van die kak en die akkies 
en kan nie weet van die erotika van soek nie – 
nee, be-téken-is is in haar eie lyf gebaar en balse-asem 

en wat skryf ons nou? 
(wat maak oom Ampie daar …) –
sal ons haar berg-op dra 
om met leë oë na die maan te kyk 
en verder te vaar die verdoemenis in? 
sal ons haar soos ’n metafoor oor ons knieë lê –
ek wat haar onder woorde versmoor het 
en jy wat medepligtig was in die lees? 
en waarmee sal ons haar tydstaar dan besing 
soos wenende waansinnige honde?   

*

indien inneruitering dan dekking is
is her-innering tog seker die ont-dekking
van die wese aan syn gelê
deur beenholte en vlees
wat in jou plek wil gaan

want sjy het al te veel gesien
wat danksy vormgewing nie onthou kan word
om slegs in die want van papier
toegedraai na-lewend nog te moet bewe
in die vuur van vertering

*

onsevader 
wat in die hemel is 
(ag moeder tog …)
ook maar dood te vrede met Self 
onthou jy nog hoe héérlik 
dit is om méns te wees 
wanneer hierdie planeet 
kanteldraai uit die duisternis 
en nou die dag breek oor glooiing en golf 
gevang te word 
In die ekstase van verbygaan aan die kruis? 

sou jy ooit kon weet 
jy ken ons nie meer 
want ons het mekaar versaak 
hóé dit is om in die lumier van die môre 
die woord te vergesél na waar die nag kraak 
om daar gehang te word aan ’n haak 
want dit is wat ons mense aan mekaar doen 

hoe gaan ek ooit aan jou kan vertel 
van die ewige sang in stilte en lig se swaai 
van dan één keer weer te gelewe het?

Paternoster, 27.2.2022 

*

tydloosheid het ons oorval
as dansende bedelmonnike
aan die rand van die heelal

elkeen draai om ’n eie sterfvuur
elkeen stuur aan die hand
van ’n dooie ster

broers, susters
kom ons onthou die uur van genade
wat ons gedroom het

kom ons onthou die troos van druiwe
die ligversnippering van duiwe
terwyl ons blind-oog tuur na tydloosheid

se flikkerende dans al om en om
die geheue aan syn

*

(Uit “’n flentervers” vir my pa)

...

die lekkerste stuk lewe is die laaste
wanneer jy die hef teen die been tik
om desnoods met ’n bewerige vinger
die soet murg uit die holte te krap

(en wanneer niemand meer kyk nie
ook te vroetel aan die halter om die kop)

die lekkerste, pa, is om aan te hou
totdat die bloederige stomp mes van die hand tot lê kom
aan die dooie swart murg van woorde

*

Met ’n skop gooi jy jou koring skoon
jy maal dit en jy bak jou brood
smeer jerseybotter op die brood
daarby nog waboomheuningstroop
hoe proe dit nou om mens te wees
met ’n skop gooi jy jou rypad oop
laddie motor na die Krovlak loop
tot in die hart vannie vygiekleur
kyk lank kyk goed en sê vir my
hoe proe dit nou om mens te wees

(Boerneef, voorlaaste vers in sy Versamelde poësie)

Lees ook:

Hoofman onder die praatboom: Breyten in FilosofieKafee-gesprek oor die staat as "treurige verhaal"

  • 5

Kommentaar

  • Dearest Breyten. I am glad to read you did not listen to your "Muse". And you continue to speak the truth and shame the devil. There are three types of " struggle poets" I have come to realise. Those who have fallen silent and are thus complicit with the ANC. Hanging on to what you call "die toiletbakke van mag". Those who have fallen silent because they just cannot utter the treasonous thought that the ANC, hero they cherished all their lives, has turned villain. And thirdly those who struggle on. Against what you call the "kakkakaders". (Luckily Kader Asmal is not around these days:). May that flame never die. May it feed the flames of resistance against the three-letter plague. (I hope my English post does not land you in trouble with your Muse:)

  • Hélène Opperman-Lewis

    Dankie vir die deel.
    En so paradoks ons voort.
    Met die afdraende ná 70, tel mens darem bietjie spoed ook op.
    Wat ‘n genade!

  • Selwyn Milborrow

    Met skoon koring in my lunch box gaan die dag sommer lekker afdraend! Dankie, Breyten!

  • Breyten Breytenbach

    Would you be offended, dear Darryl, if I were to count you among my 'Muses'? (Perhaps, more correctly, 'Guides'?)
    Strength to you, brother, as we soldier on!

    Breyten

  • Fanie de Villiers

    "die dooie hoender van versoening as aas" was vir my net een deeltjie van meer as ’n handvol pitkos. Nou gaan ek lekker lê en herkou in die donker van ónbeurtkrag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top