Op 4 Maart 2022 het die FilosofieKafee hul bedrywighede vir die jaar by die Breytenbach Sentrum in Wellington afgeskop met ’n gesprek tussen Breyten Breytenbach en Johann Rossouw oor die onderwerp “Waar is ons (nou)”. Louis Duvenage lewer vir LitNet verslag.

Johann Rossouw en Breyten Breytenbach (Foto: Louis Duvenage)
Dis ’n windstil somersaand in Wellington. By die Breytenbach Sentrum in Burgerstraat vergader ’n goeie aantal mense vir die herlewing van die FilosofieKafee.
Dis ’n konsep wat in die laat jare negentig deur Lamé Ebersohn in Pretoria begin is. Johann Rossouw, ’n bekende akademikus en filosoof, was destyds betrokke by die vestiging daarvan. Dis daarom gepas dat Lamé nou vir Johann gevra het om as gespreksgenoot saam met Breyten Breytenbach op te tree. Die plan is om dié oopgesprekreeks nou gereeld by die Breytenbach Sentrum in die Boland aan te bied.
Die onderwerp vir die aand is “Waar is ons (nou)”. Geen vraagteken. En dan: Kan ons as trekvolk in hierdie voëlvrytaal onsself nog verbeel? En wat is die etiese implikasies daarvan?
Die formaat, so word verduidelik, is baie los. Elke spreker kry geleentheid tot ’n openingsrede en ’n kans tot repliek. Vrae vanuit die gehoor kan deurlopend gevra word.
Breytenbach bedank eerstens die Sentrum vir die toeganklike ruimte, en dat geen magspel daar betrokke is nie. Dit beteken ook baie vir die Sentrum en die dorp om die geleentheid aan te bied.
Dan vra hy die gehoor om die oerklanke saam met hom te resoneer. Hy gaan voor met ’n “ôm aaa oem”. Die meeste van die gehoor volg met ’n senuweeagtige laggie in hul “ôm aaaa oems”.
Breytenbach noem dat hy kortliks ’n aantal onderwerpe sal aanspreek. Hy skuif moeiteloos deur ingewikkelde konsepte, soos die staat en die plek vir ’n federasie, die verskil tussen ge-meen-skap (wat gemeen het) en same-lewing (tot ooreenkoms om saam te lewe), en die begrip waarheid.
Klem word daarop gelê dat ek “nog” lewe: “Ek lewe nog omdat ek lewe.” Daar is ’n duidelike dankbaarheid te bespeur. Hy noem met ’n grinnik dat hy aan die muse onderneem het dat hy nie sal skree nie, dat Rampater en Poetin se hebsug daar gelaat sal word. Hy wil egter tog weet (weer met ’n glimlag) hoekom Blade Nzimande “aanhou Papegaais praat”.
Dis bekende Breyten Breytenbach-vrae, maar hier gemaklik en vloeiend, selfs gemoedelik. Hy verstaan hoe ’n Suid-Afrikaner kan sê: “Dit kom my toe.” Dit maak dit egter nie reg nie.
Hy lees voor uit ’n toespraak wat hy in 1994 by Unisa gelewer het: “If there is no cultural variety, there will be no movement in understanding each other.”
Die mes word steeds diep ingelê vir die magsbeheptes, die sentraliseerders: “Die staat is nie ons s’n nie.”
Op ondubbelsinnige wyse word genoem dat die staat “’n treurige verhaal” is wat poog om die diskoers te beheer, maar dat hul legitimiteit verlore is. Hy maak die bewering dat die revolusie tot voordeel van die mense is, af as snert. In ’n besonderse beeld wys Breytenbach daarop dat die staat tog nie hoofman onder die praatboom is nie, nie die priester op sy knieë nie, ook nie die bergie met sy motgevrete japon nie.
Die “kakkerkades” en die “buk individuals” ken kamtig nie baasskap nie. Op kampusse is daar skielik ’n “volslae geheueverlies”. Met ’n ironiese glimlag sê Breytenbach: “Dit gaan mos oor vooruitgang.”
“Moenie grens soos ’n sissie nie.”
Wie sal tog weet of daar ’n oplossing is?
“Angs is die einde van alles.”
Hy sê ons systap bloot gedurig die dood. Hoe vermy mens die hebsug en mag? Federalisme word byna versigtig voorgehou, maar nie bloot as politieke model nie.
Breytenbach lê klem op die verantwoordelikheid van die gemeenskap. Oplossings lê binne die beleweniswêreld van die land en die gemeenskap. Weer eens noem hy dat diversiteit en verskille deel is van ’n ryke mosaïek.
Hy noem die Wes-Kaap die “mees oorspronklike inheemse plek”. Dinge kan in die skone Kaap gedy, maar alleenlik as daar politieke en morele leierskap is. Met ’n glimlag, en onder luide handeklap, sê hy dat dit maar net ’n terloopse opmerking is.
Rossouw is galant in sy optrede as gespreksgenoot. Hy’t rustig gesit en luister na Breytenbach, selfs ’n paar notas neergestip.
Hy was daar die aand in 1994 met Breytenbach se toespraak by Unisa. Hy sluit daarby aan met ’n storie uit 2018 tydens ’n akademiese besoek aan Oxford-universiteit in Engeland. Aan die etenstafel een aand hou hy die hipotese voor dat “die wêreld by die huis begin”. Drie van die sowat agt persone om die tafel sê: “We do not know where home is.”
Die gehoor knik instemmend, so asof hulle ook familie in Sydney, Leeds en Florida het.
In Suid-Afrika kry ons egter nie kans om die bose te vergeet nie. Rossouw vertel dat mens daagliks deur die media, maar ook eerstehands, daaraan herinner word, en wys byvoorbeeld op die verval van die staatsorde oral in Afrika.
Hy noem dit modernisering. Dis ’n akademiese begrip, herinner hy ons. Met die inval in Oekraïne deur Rusland beleef die mensdom moontlik die einde van die Westerse liberalisme. Dit is die stelsel waar daar meer verloorders as wenners is. Selfs in die gekultiveerde Weste “lê die boosheid steeds net onder die oppervlak”.
Volgens die skrywer Karel Schoeman is “die swart gevaar as samebindende faktor vir die wit politieke groepe tydens Uniewording van Suid-Afrika gebruik”. Rossouw haal ook die akademikus en filosoof Johan Degenaar aan, wat na Njabulo Ndebele verwys wat gesê het dat ons as mense “net wonde deel”. Daardie pyn moet uitkom, vrygelaat word. Hy noem Breyten Breytenbach se woorde “saam-mekaar-anders-maak”. Die antwoord lê by die gemeenskap.
Rossouw is gemaklik in sy aanbieding. Hy praat met die gehoor. Vertel van die konsep “aan die lig kom”.
Besluite wat die “mensdom en die planeet” kan red, moet in ’n oogwink geneem word. Hoe kan die besluit of die lugruim bokant ’n sekere breedtegraad skoon van lugverkeer gehou word, onmiddellik geneem en geïmplementeer word? Daar is “geen tyd” om besluite te neem nie. Hoe gun ons ruimte aan ’n nuwe politieke party? Want dis nodig, sê hy.
Albert Gründlingh, afgetrede professor in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, steek sy hand op: “Waarom het Van Zyl Slabbert nie die idee van federasie ernstig opgeneem nie? Hoekom is daar in die negentigs soveel ruimte gelaat vir die nuwe regeerders om ’n sogenaamde ‘heilige staat’ te vestig?”
Breytenbach bedank hom eerstens dat hy as historikus verifieerbare feite verskaf. Hy noem dat hy nog gereeld oor Van Zyl Slabbert droom.
As politikus is Slabbert deur die hele politieke spektrum vertrou omdat sy morele integriteit so ver bo verdenking was. Deur onnodige verdagmaking is later beweer dat hy ’n ANC-lid was. Dit is nie korrek nie, sê Breytenbach. Hy wat Breyten is, het nog wel sy eie oud-ANC-kaartjie, dog effe vergeel deesdae.
Op die vraag van Nico de Klerk, ’n medewerker by Hugenote Kollege se Afdeling vir Sosiale Innovasie en Entrepreneurskap, oor die relatiwiteit van waarheid, antwoord Rossouw dat ons nie ontslae sal raak van “tribalism” nie. Mense wat tuisteloos is, wil behoort. Daar waar jy behoort, dit is wat jy glo. Ironies genoeg reinig die huidige oorlog nou die onwaarhede op sosiale media.
Catherine du Toit, dosent in Frans aan die US, vra hoe mens verby skynheiligheid kom, en hoe om sogenaamde wokeness te kan afskud: “Is dit moontlik om die ‘woord’ terug te kry? Digkuns is tog ‘verdigting’. Kan ons nog ‘waar-neem’?”
Kyk na die liturgiese gebeurtenis, sê Rossouw. Wanneer Du Toit in haar universiteitsklas is, is sy die Frans-dosent. Wanneer Breytenbach praat, is hy die digter. Hierby voeg Breytenbach by dat dit steeds moeilik is om die plaaslike realiteit te omskryf, hoewel hy weet dit is daar. As digters “is ons slingerend deur die wingerde”.
“Ons is gedoem om te soek na die essensiële. Ons is geslaan met die wete dat ons onaf is.”
Is ons bereid om “anders te word”? Besit ons daardie “etiese verbeelding”?
Beide Breytenbach en Rossouw verwys na die Zen-digters wat sê dat ons self moet soek. Ons kan ons nie meer die reg toe-eien om ander dood te maak nie. Laat ons “agency” gee. Dan die woordspeling een-saam, eensaam, een, saam, een saam.
Dalk is dit nie ’n paradoks nie. Die soeke is die etiese verbeelding wat aanhou bestaan. Probeer ons om beter te wees as wat ons nie is nie?
Breytenbach begin na twee uur saam te vat. Die gehoor luister steeds aandagtig, asof die hitte van die dag vergete is.
“As ek nie kan deel nie, is ek nutteloos.”
Almal gebruik woorde wat in algemene besit is; almal maak toegewings.
“Hoe kom ek by ophou praat deur te praat?”
Hy kan nie nie-glo dat ons mekaar nie beter maak nie.
Die soeke lei na die mistieke, aldus Rossouw. Daardie versugting is ’n lewenslange proses. Anders, waarsku hy, lei dit na hebsug, mag.
Wyle Ampie Coetzee word eervol, byna bewoë deur Breytenbach aangehaal uit sy The poem is the meaning of the poem, sy Engelse vertaling van ’n aantal van Breytenbach se gedigte wat in 2019 by Naledi verskyn het. Dit is die “end of the meaning of words in poems”. Dan lees hy “Die verskriklike gelaat van my land” voor, ’n ongepubliseerde gedig.
Die laaste woord laat Breytenbach aan Boerneef, uit die voorlaaste gedig van sy Versamelde gedigte: “Hoe lekker proe dit nou om mens te wees.”
- Vir meer inligting oor FilosofieKafee-aanbiedings, hou hul Facebook-blad dop, en ook die blog blogspot.com.
Kommentaar
Dankie hiervoor.
Wonderlik dat jy kan voortgaan daar in die Kaap, Lamé. Jopie, hier uit Pretoria
Dankie dat julle dit met ons gedeel het.
Dankie dat ons kan deel in die besondere aand en in die denke van twee groot filosowe.