Die tweede illustrasiekursus by die Breytenbach Galery in Wellington: ’n onderhoud

  • 0

https://www.litnet.co.za/persverklaring-illustrasiekursus-2025-by-die-breytenbach-galery-op-wellington/

Die tweede omvattende en onafhanklike illustrasiekursus word hierdie jaar in Suid-Afrika aangebied. Die kursus begin op Saterdag 21 Junie 2025, duur vir 18 maande en bied aan kunstenaars die unieke geleentheid om aan die hand van gespesialiseerde hulp hul illustrasiedrome te bewaarheid. Die aanbieders van die kursus praat met Naomi Meyer daaroor.

Elizabeth, jy is die kunstenaar by hierdie illustrasiekursus. Op wie is hierdie kursus toegespits? Moet die mense wat inskryf, reeds ondervinding hê met kunsopleiding? 

Die illustrasiekomponent van die kursus vind oorvleuelinge tussen tegniek en idee om albei te ontwikkel. Klem is op ontwikkeling, hetsy vaardigheid in beeldskepping of inhoudskepping. Ontwikkeling kan vanaf enige vlak teweeggebring word – vanaf geensins enige tot baie ondervinding en enige vlak tussenin.  

Mia, jy is die kinderboekkenner by die geleentheid. Waarom is dit belangrik dat mense vir hierdie kursus inskryf – en wat is die waarde van illustrasies by ’n kinderboek? 

Die kursus is enig in sy soort in so verre ons die kunstenaar lei deur die beginsels van illustrasiekuns, die aard van kinder- en jeugliteratuur en die ontwikkeling van hul eie illustrasiestyl. Ons kyk ook deurgaans na die boekmaakproses en lei die kunstenaars tot wat hulle in die praktyk kan verwag. Die deelnemers kan besluit of hulle tydens die kursus hul eie boek of ’n portefeulje wil maak. Kunstenaars word ook nie beperk tot prenteboeke nie. Een van ons deelnemers het ’n digbundel gemaak met die ongelooflikste kunswerke daarby, en by ander is daar ook belangstelling in die grafiese roman. As kunstenaar kan jy kom ontdek waar jou sterk punte lê in terme van illustrasiekuns.

........
Die deelnemers kan besluit of hulle tydens die kursus hul eie boek of ’n portefeulje wil maak. Kunstenaars word ook nie beperk tot prenteboeke nie. Een van ons deelnemers het ’n digbundel gemaak met die ongelooflikste kunswerke daarby, en by ander is daar ook belangstelling in die grafiese roman. As kunstenaar kan jy kom ontdek waar jou sterk punte lê in terme van illustrasie
........

Die waarde van illustrasies by kinderboeke in onweglaatbaar groot. Dit is waar die woordstorie en die visuele storie hande vat om min woorde om te tower tot ’n groot storie wat die kind se horisonne verbreed. Die storie bereik nuwe hoogtes wat nie deur slegs woorde of slegs prente gedoen kan word nie (met die uitsondering van die woordelose prenteboek). Die illustrasies speel ook ’n enorme rol by die uitbreiding van woordeskat en begrip en die kind se algehele geletterdheidsontwikkeling. Daar is nog so baie wat ek hieroor kan sê, maar sluit af met die volgende: Die waarde en impak van illustrasies is so groot dat daar na die illustreerder verwys word as die tweede skrywer van die boek, nie net ’n medewerker nie. 

Prent: Canva

Anne-Ghrett, hoekom word hierdie kursus by die Breytenbach Galery aangebied? Waarom is dit vir jou genoeg van ’n passie dat ek jaar na jaar hoor van nog ’n kursus wat daar aangebied word?

Naomi, die skuldige een is Niki Dali. Ongeveer vier jaar gelede het hy deelgeneem aan ’n uitstalling hier en is dit opgevolg met ’n gesprek tussen hom en Mia oor kinderboeke en illustrasies. 

My liefde vir boeke het van kleins af begin, met oa Flopsy, Mopsy, Cottontail en Peter! Met die grootmaak van my kind het ons minstens drie boekies per dag gelees en dit het my van vooraf kinderboekies laat versamel. Dus, toe Niki en Mia my pad kruis, was dit voor die hand liggend. Ons gedeelde passie moes uiting kry en met Niki se entoesiasme het ons begin. Die kinder- en jeugliteratuurskryfskool was so suksesvol dat ons besluit het om die Illustrasieskool ook te begin, en dis net so suksesvol.  

Hoe bied mens in hierdie dae, terwyl kunsmatige intelligensie ons almal se werke bedreig, so ’n kursus aan – en rus werklike, vlees-en-bloed-mense toe om hulle kuns te slyp en te kan meeding teen ’n masjien? Waarom (dalk kan elkeen een sin hieroor skryf) moet iemand wat hier lees, sommer nou dadelik na ’n verfkwas of ’n pen gryp en inskryf?

Anne-Ghrett: Die mens se hand in die maak van ’n boek kan nie deur KI vervang word nie. Die hartloosheid van die masjien is so duidelik soos daglig in teenstelling met die passie van die merkmaakproses.

Mia: Eerstens is dit vir my nodig om die waarde en vaardighede van KI te erken. Dit help nie ons ignoreer dit nie. Maar, die mens se aanvoeling vir die teks, merkmaakproses, styl en fynere besonderhede wat bygevoeg word by die boek, kan nie vervang word nie. Die kunstenaar het sy eie styl wat KI dalk sal kan namaak, maar KI het nie sy eie unieke styl nie.

.........
So, moenie meeding met die masjien nie, skep iets nuut en oorspronklik en bly geïnspireerd. So skryf in, kom oorwin die masjien, verbreed jou horisonne en gee vlerke aan jou drome. In hierdie kursus bereik jy dit alles en nog baie meer. 
.........

So, moenie meeding met die masjien nie, skep iets nuut en oorspronklik en bly geïnspireerd. So skryf in, kom oorwin die masjien, verbreed jou horisonne en gee vlerke aan jou drome. In hierdie kursus bereik jy dit alles en nog baie meer. 

Praktiese vraag: Moet mense hulle eie kunstoerusting bring?

Die kursusgangers verskaf hul eie kunsmateriale soos wat die kursus vorder en hulle dit benodig.

Die kursus is ook aanlyn beskikbaar. Hier is nog besonderhede.

  • Die illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington begin 21 Junie 2025.

Lees ook:

’n Kursus vir Suid-Afrikaanse illustreerders by die Breytenbach Galery: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen

Persverklaring: Illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington begin 21 Junie 2025

Kinderboeke: Van dansdrome na dansers – na rolmodelle

Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top