
Toekoms ná Breyten by die “Tuiste van die Afrikaanse Digkuns”

Klara du Plessis by Tuin van Digters in 2023. Vanjaar is sy weer hier met haar jongste bundel Ek’t Act. (Foto: Francois Lötter)
Die Afrikaanse digkuns se pad vorentoe ná Breyten Breytenbach is gesond met die bekendstelling van digbundels deur, onder andere:
- die Suid-Afrikaans-Kanadese digter Klara du Plessis met haar nuutste tweetalige digbundel Ek’t Act,
- Marlise Joubert, wat vanjaar 80 word, se jongste bundel Atrium,
- Herman Wasserman se digdebuut Waterman,
- en Wium van Zyl se Poëme.

Johann de Lange wat Vrydagaand 12 September by die Tuin van Digters postuum gehuldig sal word. (Foto: Maryna Cotton / Avbob Poetry Project)
Voeg daarby ook die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir ’n Afrikaanse debuutbundel, die huldiging (postuum) van die digter Johann de Lange en die pryswennende digter en skrywer Gaireyah Fredericks, wat ’n huldigingsgedig aan Breyten Breytenbach gaan voordra.

Breyten Breytenbach en Gaireyah Fredericks in die Breytenbach Sentrum in 2019. Frederick het spesiaal ’n huldigingsgedig vir Breyten gestuur wat sy by vanjaar se Tuin van Digters gaan voordra. (Foto: Francois Lötter)
Dit is maar enkele van die hoogtepunte by vanjaar se 14de Tuin van Digters-digfees, die “Tuiste van die Afrikaanse digkuns”, op 12 en 13 September by die Breytenbach Sentrum in Wellington.
Vanjaar se tema is Wanatoe.
Liefhebbers van die Afrikaanse digkuns kan ook uitsien na verskeie ander digtersgesprekke, musikante wat toonsettings van gedigte sing, voorlesings deur opkomende digters van hul gedigte en praguitstallings in die twee galerye.
Volgens Francois Lötter, vir die negende jaar die programorganiseerder van Tuin van Digters, is die Breytenbach Sentrum se trust en direksie voorbereid en gereed om die nagedagtenis van Breyten, wat op 24 November 2024 in Parys, Frankryk oorlede is, en sy visie vir die Sentrum in stand te hou.

Klik hier vir die Tuin van digters se program.
“Daarom word voortgegaan om gevestigde sowel as jong digters en woord- en kunsskeppers uit alle gemeenskappe te betrek en bewus te maak van die belangrike rol wat Breytenbach deur sy werk en sy menswees gespeel het.”
Lötter sê om dit te beklemtoon bied PEN Afrikaans by vanjaar se Tuin van Digters ’n paneelgesprek “hienatoe” aan. Die digter Danie Marais sal as fasiliteerder saam met mededigters Alwyn Roux, Keith Lewis Oliver, Ryan Pedro, Klara du Plessis en Diana Ferrus die feestema “wanatoe” belig en saam gesels oor die toekoms van die Afrikaanse poësie – met spesiale aandag aan nuwe wisselwerkings, temas en stemme wat die digkuns vorentoe dra.
Ter hulding van Johann de Lange, wat op 27 Maart oorlede is, sal die digter Daniel Hugo, wat nou saam met De Lange gewerk het ’n praatjie lewer. Die akteur en stemkunstenaar Chris van Niekerk sal gedigte van De Lange voorlees.

Ilana de Vlakte van Aranos in Namibië gaan getoonsettte gedigte van haarself en van Breyten Breytenbach sing (foto: Francois Lötter), en Herman Wasserman se digdebuut. Wasserman sal met Bernard Odendaal in gesprek wees.
In die Tuin van Digters se groepuitstalling in die Breytenbach Galery, gee, aangee: nooit opgee onder leiding van die kunstenaar Louis Jansen van Rensburg skep/verbeel/herverbeel hierdie groep kunstenaars, met Breyten Breytenbach se kuns en poësie as inspirasie, kunswerke wat sy nalatenskap eer, erken en verder neem.
In die Cloete Gemeenskapsgalery inspireer Marieke Kruger, bekende kunstenaar, onderwyseres en lektor, kunstenaars van die toekoms en gee leiding aan hulle. Sy het ’n seleksie van haar top oud-studente van verskillende instansies genooi om deel te neem aan hierdie opwindende uitstalling.
Marí Borstlap, regisseur, aktrise en ontwerper, wat onder meer die regie gedoen het van Onder ’n Bloedrooi Hemel en Breyten Breytenbach se laaste drama Verwelkingslied by vanjaar se Suidoosterfees, is die openingspreker van die kunsuitstallings. Dit vind Vrydag 12 September om 18:00 plaas.

Danie Reënwolf du Toit (regs) se eerste rockorkes op skool Ysterkoei, genoem na Breyten Breytenbach se eerste bundel die ysterkoei moet sweet. Hy tree saam met sy pa Johan du Toit op. Johan gaan van sy debuutbundel se gedigte voorlees en Danie sing van sy ou en nuwe toonsettings soos net hy kan.
Musiek en die toonsetting van gedigte word ook nie agterweë gelaat nie. Buiten Danie (Reënwolf) du Toit en sy pa Danie se sang en gedigte is daar ook Vrydagaand ’n optrede deur Ilana de Vlakte van Aranos in die suide van Namibië. Sy sing toonsettings van haar eie gedigte sowel as van Breyten Breytenbach.
Saterdag is daar voorlesings en die sing van getoonsette gedigte van Breyten Breytenbach deur Laurinda Hofmeyr en ook Ilana de Vlakte, met Schalk Joubert op die baskitaar.

Andries Bezuidenhout (Foto verskaf)
Die sanger, digter, kunstenaar, akademikus en Breyten-gespreksgenoot, Andries Bezuidenhout, sing van sy eie nuwe toonsettings, ’n paar Koos du Plessis nommers van sy mees onlangse album, asook liedjies uit jare gelede van die Brixton Moord en Roof Orkes. Kapelaan Pat Plank, ook bekend as die beeldhouer Gerhard Barnard, is saam met hom op die verhoog as die akoestiese weergawe van die Brixton Moord en Roof Orkes se kitaarslaner.
Ander hoogtepunte by vanjaar se Tuin van Digters is:
- In die item ‘The Art of Finding your Voice’/ Die Kuns om jou Stem te vind’ gesels Elsibe Loubser McGuffog, skrywer en opvoeder en ook direksielid van die Breytenbach Sentrum, oor werkswinkels in die digkuns wat sy op versoek van die Suid-Afrikaanse Raad vir Engelse Opvoeders (SACEE) by Iziko Slave Lodge in Kaapstad aangebied het. Al stel SACEE belang in opleiding en sorg vir Engelse onderwysers, is die werkswinkels geskik vir dig in enige taal. Deelnemers aan die werkswinkel sal ook van hulle gedigte voorlees.
- In ’n aanbieding, die helfte is jou nie vertel nie, verken Thérèse Bartman (Hulme) saam met Quintin Goliath (Jitsvinger) die noodsaaklikheid sowel as die beperkings van die geskrewe woord en keer terug na die orale, klankryke tradisie van poësie.
- ’n Gewilde aanbieding in die digterstuin deur die Breytenbach Sentrum se jeugdireksie bestaande uit voorlesings van gedigte deur plaaslike digters en potensiële gedigskrywers.
- Digters van NB Uitgewers, Naledi, Turksvy Publikasies, Protea Boekwinkel en ander stel hulle nuwe Afrikaanse bundels bekend. Hulle sluit in die Poolse letterkundige, vertaler, akademikus en digter Jerzy Koch met sy tweede Afrikaanse digbundel (Polkadraai), Jadrick Pedro (Lostorring), Ryan Pedro (prins), Gerhard Barkhuizen (Strik), Marthé McLoud (Ontbloot), Andrea Sieberhagen (Dwaaldae) en Caren Kearley (Dawerende stiltes).
- Die digter en akademikus Alwyn Roux en Neil Cochrane, medesamestelllers van Merang, vertel oor die totstandkoming van dié besondere versamelbundel.
- Die bekendstelling van nog onontdekte Afrikaanse digters deur Diana Ferrus en haar Mengelmoesdigters.
- Die amptelike bekendstelling van Ons Klyntji, die alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en comics publiseer.
- ’n Uitstalling van digbundels en boeke sowel as verskeie digbundels en publikasies van ander Afrikaanse digters wat onlangs verskyn het.
- Digters en musikante, oud en jonk, sluit oudergewoonte Tuin van Digters af met getoonsette gedigte en musiek wat die voete laat jeuk en die koppe laat (dig)dink.

Die digter Diana Ferrus is een van die digters wat Saterdag 13 September aan ’n paneelbespreking oor die toekoms van Afrikaanse poësie ná Breyten Breytenbach gaan deelneem. (Foto: Breytenbach Sentrum)
Tuin van Digters word moontlik gemaak deur Dagbreektrust se trust vir kuns, kultuur en erfenis in samewerking met NB Uitgewers.
Kaartjies kan gekoop word by Quicket by https://www.quicket.co.za/events/289556-tuin-van-digters-2025/#/
Kaartjies kos R100 per volwassene vir Vrydag 12 September (alle programitems ingesluit), R250 per volwassene vir Saterdag 13 September (alle programitems ingesluit), R300 per volwassene vir ’n naweekkaartjie, R100 per student vir ’n naweekkaartjie en R50 per dag vir kinders onder 16. Toegang is gratis vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans.
Die volledige program en ander besonderhede oor Tuin van Digters 2025 is by https://breytenbachsentrum.co.za/wp-content/uploads/2025/08/tuin-van-digters-2025-program.pdf
Dit is ook op die Breytenbach Sentrum se webblad https://breytenbachsentrum.co.za/ en Facebook-blad. Volg die Breytenbach Sentrum op Instagram en Facebook @breytenbachsentrum en gesels saam: #TuinVanDigters #MeerDigdinkIsNodig, #altydbreyten.

