’n (Laaste) naskrif aan Jannie Marais van Coetzenburg

  • 1

Jannie Marais

Oom Jannie, aan die begin van hierdie jaar het ek aan u in die Anderwêreld, waarheen u nou al ‘n volle 100 jaar gelede verhuis het, gerapporteer dat die Universiteit Stellenbosch, waarvan u die groot grondlegger was, besig is om sy bedoelde spoor totaal byster te raak. Die eeufeesjaar van hierdie universiteit is nou verby, en ek kan terug aan u verslag doen van hoe hierdie besonderse mylpaal gevier is (en ook nie gevier is nie).

U het groot geld in harde kontant nagelaat dat ‘n Afrikaanse universiteit op Stellenbosch tot stand moes kom naas die Engelse een in Kaapstad, sommer neffens ons, hier oorkant. Soos Homerus se Odusseus van ouds (in die 11de boek van sy gelyknamige epos), besoek ek u skim vandag weer in daardie Anderwêreld, maar steeds met leë bakhande wat nog net ontvang het. Laat my asseblief toe, oom Jannie, om hier en nou ’n haas onverwoordbare verskoning daarvoor aan te bied, ook namens al die duisende ander Stellenbosse alumni, nog lewend of reeds dood, omdat u erfenis op Stellenbosch so gruwelik verdraai, verraai, misbruik, versaak, verloën en vergeet is. U sou dit seker nooit kon verwag het dat daardie testament, as u heel laaste wil, so radikaal subtiel gemanipuleer sou word deur ‘n groep hedendaagse intellektueles en geleerde lui op Stellenbosch nie. Dit is duidelik dat enige historiese visie en insig totaal by hulle ontbreek van júis daardie kritieke tyd waarbinne u destyds tot die daad oorgegaan het. Ons het nie Afrikaans as taal gekies nie, oom Jannie, hierdie taal het ons gekies. Dit is ons eerste reg, nie ons laaste voorreg nie. Dit was immers die dwingende aanleidende rede en dryfkrag waarom u op Stellenbosch ‘n eg Afrikaanse universiteit destyds tot stand wou bring. Vir daardie dag, weet almal vandag nog maar te goed, was dit in wanhoop eksklusief vir Afrikaans bedoel. Ons besef dat die tydsgees op Stellenbosch (en in ons vaderland) verander het, maar u grootse droom en ideaal vir Afrikaans op Stellenbosch was sekerlik bedoel om onsterflik te bly – in welke nuwe orde ook al.

Vir die lesers van hierdie brief wil ek hier enkele besonderhede weergee wat duidelik u doel was met u testament wat u op 20 Maart 1915 onderteken het – net meer as twee maande voor u dood.

Prof Chris Brink, die 7de rektor van die Universiteit Stellenbosch (vanaf 2002 tot 2007) het met sy kosmopolitiese ingesteldheid vanaf die buiteland uit Australië na Suid-Afrika teruggekeer en wou stormenderhand alles aan die US omver kom gooi voordat hy weer skielik na Newcastle in Engeland verhuis het. In sy Stellenbosse memoires, No lesser place, het hy geredeneer dat u, Jannie Marais van Coetzenburg, die moontlikheid oopgelaat het dat Stellenbosch ‘n dubbelmedium-universiteit met Engels naas Afrikaans kan word omdat u dit in u testament gestel het dat die geld wat u geskenk het, vir die eertydse Victoria College bedoel was om ‘n volwaardige universiteit te word, “of enige Universiteit die later op Stellenbosch moge worden gevestig”. Maar dit is nie die volle waarheid nie. U het duidelik bygevoeg: “dog meer biezonder van het onderwijs in en door middel van de hollandse taal in zijn beide vorme (dat wil zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in sodanige onderwijs de hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiele landstaal zal innemen”. Hierdie is geen Gordiaanse knoop wat Alexander die Grote weer met sy swaard vir ons moet kom oopsny nie. Dit is tog duidelik soos daglig. Afrikaans op Stellenbosch moet volledig dieselfde status as die Engels van die dag hê, met die klem van voorkeur uitdruklik op Afrikaans.

Dit was egter eers vanaf 1930 dat Nederlands, waaruit Afrikaans in tyd gebore is, die amptelike voertaal van die US geword het, hoewel Engels wel nog tot 1920, in ‘n ongewone, maar gedwonge oorgangsfase, as onderrigtaal en in Senaatsvergaderings gebruik was. Vir ‘n historiese perspektief op hierdie saak, sien Fransjohan Pretorius in sy A history of South Africa: From the distant past to the present day (Pretoria, 2014). Die US het uiteindelik ten volle verafrikaans soos u, oom Jannie, dit ook aanvanklik wou gehad het. U groot droom het helaas tóé eers werklikheid geword. Maar dit sou nie stand hou nie. In 2002 het ‘n vorige rektor van die US, Mike de Vries, dit noodsaaklik gevind om in ‘n brief sy ernstige kommer teenoor Chris Brink uit te spreek oor die verkragting van u testament wat aan die gang was, oom Jannie, en het die trustees van u Fonds dit selfs oorweeg om die voordele daarvan aan die US in te kort. Dit was ‘n jammerlike dag.

Die US onder prof HB Thom het so effens voortydig in 1966, reeds die eeufees van ‘n “Honderd Jaar Hoër Onderwys op Stellenbosch”, met ‘n briljante exposé van 600 bladsye gevier. En u was uiteindelik daarin die spil waarom alles gedraai het. Vanjaar, met die ware eeufees, het, tot dusver, slegs ‘n Matieland van 80 bladsye die lig gesien, waarvan die meeste stof, beoordeel binne die verloop én raamwerk van ‘n volle eeu, uiters skraal (en selfs efemeries) voorkom, met ‘n hoofsaaklik futuristiese inslag en rapportage van wat reeds op u universiteit bereik is. U naam word hierin, byna terloops binne die konteks, slegs drie keer genoem, en geheel sonder u beeltenis daarby. Dit laat my uiters verleë en skokkend ongeneë. ‘n Meer akkurate verslag oor u groot bydrae, hoe kort ook al, van wat u alles op Stellenbosch vir júis Afrikaans moontlik gemaak het, volgens u uitdruklike wens, was hierin waarskynlik maar stilgehou om gewaande verleentheid te voorkom. Drie jaar eerder, in 2015, het my goeie vriend wyle Pieter Kapp egter, heel apart, die verhaal van u talle nalatenskappe op Stellenbosch geboekstaaf oor 216 bladsye heen waarna hier ten minstens verwys kon gewees het. Selfs met sy Woordfees het Stellenbosch – ‘n dorp waarvoor u divers soveel goed gedoen het – u 100ste jaar in die graf vergeet.

Die publikasie van ‘n Eeufeesboek van 536 bladsye word egter (uiteindelik) wel in Matieland se “Eeufeesuitgawe” aangekondig. Ek het dit nog nie onder oë kon hê nie, maar ás u saak daarin in historiese perspektief reggestel word, sal ek u sekerlik, sekerlik, laat weet. Maar ek twyfel, oom Jannie, gesien die radikaal-gewysigde plot van u verhaal aan die teenswoordige US, ‘n plot wat hulle totaal verloor het. Vergeef my maar hierdie Sokratiese ironie byvoorbaat – dit was bereken.

Ek wonder hoeveel studente vandag, met die eeufeesviering van die US in die huidige klimaat van verandering en vervreemding, werklik weet wie “Ons Weldoener” was wie se groot grysbeeld op die Rooi Plein pryk, en presies weet wat sy oorspronklike doel met hierdie universiteit was. Oor ‘n eeu het hierdie universiteit, na ‘n beskeie begin, in die hande van sy toegewyde erfgename gegroei tot waarskynlik die mees vooraanstaande universiteit vandag in Suid-Afrika. Hierdie universiteit het nie oornag sommerso klaargemaak uit die hemel geval om oorgegee te word nie. Dit het ‘n unieke en sonderlinge herkoms én ‘n lang geskiedenis waarop ons trots is – destyds reeds gebore uit júis die verdrukking en miskenning van Afrikaans. Die feite van die verlede sal altyd feite bly. Dit kan nie verswyg of weggewens word om die winde van verandering te pas nie. U ideaal vir ‘n Afrikaanse universiteit op Stellenbosch is onvervreembaar deel van daardie werklikheid. Aanpassings kan sekerlik wel aan die status quo hiervan gemaak word in ‘n tyd van politieke ommekeer, maar daar kan tog nie verwag word dat die US sy oorspronklike roeping, haas in toto, moet loën nie. Maar oom Jannie, hulle sê mos daar is niemand so doof soos die een wat nie wil hoor nie, en ook niemand so blind soos die een wat nie wil sien nie. Dit lei altyd miopies tot verregaande skending van primêre eerste beginsels.

Die tradisies van die US, wat oor 100 jaar gevorm is, kan nie nou sommer summier saam met sy badwater en al by die agterdeur uitgesmyt word nie. Oom Jannie, die keiser staan nou hier naak. Die US se bedoelde erfgename sal egter teen hierdie koue winde bly inskree, al bly die klippe op Stellenboschberg in stilte lê en luister, soos reg van die begin af, en al hou die Eersterivier nog akkuraat die aangewese loop van sy gebonde bedding.

Die US streef vandag, heel tereg, na buitengewone uitnemendheid – in ‘n land waarin swak Engels meestal die amptelike taal van die dag geword het, terwyl Afrikaans dag na dag al meer uitgeskuif word om, wie weet, dalk eendag ‘n bedoelde akademiese stille dood te sterf. Wat ‘n paradoks! Afrikaans, daarenteen, het hom die afgelope eeu tog wel óók as “buitengewoon uitnemend” bewys met grootse prestasies, literêr én wetenskaplik. Afrikaans mag wel van Europese herkoms wees (waar Engels dit letterlik in die geheel is), maar dit het op die donker bodem van Afrika tot sy eintlike en volle wasdom gekom – vandag uniek in die wêreldorde van tale, so word ons selfs van buite vertel.

Die wonder van Afrikaans. Ek het dit aan my eie bas gevoel, oom Jannie. Laat my toe om my eie ondervinding hier te boekstaaf.

Toe ek teen die middel van die vorige eeu Oudgrieks (die taal waarin die oudste Westerse letterkunde geskep is) in ‘n Afrikaanse idioom (waarin die jongste Westerse letterkunde weer geskep is) kon aanleer in hierdie Afrikaans wat ek op moederknie geleer het, was dit ‘n grootse voorreg, danksy die baanbrekerswerk van een van ons ouer alumni op Stellenbosch, JPJ van Rensburg, met sy dubbelduidende ’n Eerste Griekse Grammatika van 1953 – vir beginners én daarby in Afrikaans! Ek en Chris Brink is beide nagraadse alumni van die Universiteit van Cambridge – “but we agree to differ (utterly and totally)”. As agterryer het ek die verloop van sake noukeurig gevolg, en kan nie langer bly swyg nie.

Oom Jannie, ek wil nie wéér hier die sonderlinge meriete van Afrikaans tabuleer en besing nie. Dit is teen dié tyd oorbekend. Maar ek weet vir seker dat u nie sommerso van u groot droom vir ‘n eie Afrikaanse universiteit sou afsien nie – selfs daar in u donker graf. Dink net daaraan: die huidige lui van intellektuele ampsdraers aan die US wat, sonder ‘n eerlike historiese insig en erkenning, u uitgesproke eerste wens so gruwelik misken, sou nou geen podium of rostrum gehad het om hulle eie evangelie vanaf te verkondig as u nie daardie eerste steen hier gelê het nie. Dit grens aan blatante blinde verraad. Op eie werf word u erfenis stelselmatig afgetakel. Trek die oorspronklike boustene uit wat u hier gelê het, oom Jannie, en alles sal, in louter beginsel, ineen moet tuimel. Dit sou ‘n tempel wees, soos die Ou Hoofgebou, vlagskip van die Universiteit Stellenbosch, waarvan die fondamentstene sonder meer stelselmatig een vir een verwyder word. Die metafoor van ‘n ondenkbare skending.

Na ‘n volle eeu in bedryf het die US sekerlik ook al sy eie onvervreembare DNS ontwikkel, die essensiële boustof wat nie ontken of misken kan word nie, sê die wetenskap van die dag. Alles word nou hier gekaap onder die naam van kleinlike politieke dienstigheid. Laat die Universiteit Stellenbosch, in die naam van geregtigheid, ten minste die kern behou van wat hom toekom, dit wat sy geboortereg is, waar Afrikaans, daardie pêrel wat reeds sedert 1875 (GRA, met sy beskeie begin) geslyp is, dan ten minste as mede-akademiese taal behou word.

‘n Eertydse professor aan u universiteit, die legendariese GCS (Con) de Villiers, het op ‘n keer die wysheid kwytgeraak dat die mens twee maal sterf. Die eerste keer is wanneer hy sy laaste lewensasem uitblaas, en die tweede keer is wanneer niemand hom meer sal onthou of aan hom sal dink nie. Dit wemel van laasgenoemdes in die wêreldgeskiedenis, maar vir Stellenbosch sal u heugenis vir altyd bly. U het mede ook geld geskenk vir die oprig van ons stadsaal en eerste ware hospitaal, en nog vele ander kosbare nalatenskappe gemaak. Maar bo alles het u ons ‘n eie Afrikaanse universiteit gegee. En waarom moet ons hoegenaamd om verskoning vra vir die “Afrikaanse” universiteit waarvoor u verantwoordelik was? Of bloot pleit vir die (voort)bestaan daarvan? Ons moet eerder gevlei voel dat hierdie “Afrikaanse” universiteit ook vir andertaliges so aantreklik geword het. Presies waarom? sal u sekerlik graag wil weet. Ek meen omdat dit op eerlike en stewige fondamente gebou is, toe piëtisme nog saak gemaak het en die behoedsame mode was. Maar nou moet die Afrikaanssprekende in die Wes-Kaap, ironies genoeg, selfs pleit vir die sonderlinge heenkome wat u vir hom help skep het. Dit grens aan die brutale hubris van ‘n nuwe era wat u kosbare erfenis vir ‘n piering lensiesop kom opeis het.

Audi et alteram partem, het die Romeinse reg ons eens geleer. Oom Jannie, ons is reeds in die pylvak. Sal ons die nuwe meesters vra om weer na die oorspronklike missie en doel van u universiteit op Stellenbosch te kyk om ten minste ‘n verdedigbare kompromie aan te gaan wat nie u eintlike droom sal ignoreer en versmaai nie? Stellenbosch verkeer nie werklik in die dogmatiese slaap waarvan dit soms beskuldig word nie. Dit het deurentyd op hoogte gebly van die wêreld waarin dit bestaan, sonder om homself te verraai. Maar u het destyds testamentêr gesorg het dat Afrikaans op Stellenbosch ‘n eie hoër heenkome gevind het. Dit was die roemryke daad van een man, gegrond op ‘n vurige roeping.

Ek sou nog verder in besonderhede kon uitwei oor hierdie eg Griekse tragedie van vondelingskap en onteiening wat besig is om hom op Stellenbosch af te speel, maar ek gun u, interim, die stille rus van die graf. Requiescat in pace, Johannes Henoch Marais. Laat almal nou weet dat Afrikaans ons gekies het en ons nie Afrikaans nie.

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

US-konvokasie 2018: Kom pad toe

Ontlaering: ’n Herverbeel van die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde

Die US draai sy rug op Afrikaans as doseertaal

US-taalbeleid: "Oor hierdie saak moet ons met mekaar reguit praat"

Studying while black. Race, education and emancipation in South African universities

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top