US-taalbeleid: "Oor hierdie saak moet ons met mekaar reguit praat"

  • 1

Foto van Jan Heunis: Naomi Bruwer

Toespraak deur JC Heunis SC, President van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch, by geleentheid van 'n saamtrek van die Afrikanerbond te Malmesbury op 4 September 2018

Oor hierdie saak moet ons met mekaar reguit praat.

Wanneer daar nie meer 'n universiteit is wat Afrikaans as 'n primêre taal van onderrig gebruik nie, sal dit die begin van die einde van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap se kulturele huis wees.

Dit het nie alleen enorme implikasies vir Afrikaans se hoër funksies nie, vir Afrikaans as wetenskapstaal nie, maar ook vir huidige en voornemende studente wat in Afrikaans wou en wil studeer; asook vir primêre en sekondêre skoolonderrig in Afrikaans wat noodwendig sal afneem namate daar nie meer 'n geleentheid vir tersiêre onderrig in daardie taal is nie. Vir Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte, noem maar op.

Omkring 13 September 2018 op u kalenders. Dit is die dag waarop die Konstitusionele Hof Gelyke Kanse se aansoek om die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch tersyde te laat stel, sal aanhoor.

Ten spyte van al die versekeringe dat dié beleid nie sou lei tot 'n noemenswaardige vermindering van die Afrikaanse aanbod nie, is dit 'n gegewe dat daar van Afrikaans in lesingslokale bitter min oorgebly het en in die administrasie van die universiteit feitlik niks nie.

So seker as wat die son in die ooste opkom, is 13 September 2018 dus D-dag vir Afrikaans. Dit is Afrikaans se quo vadis?-oomblik.

In 'n artikel in Die Burger van 29 Augustus 2018 skryf Christo van der Rheede dat gedeelde waardes die grondslag lê vir 'n gedeelde visie en dat dit 'n waardegedrewe en verenigde Afrikaanse gemeenskap is wat die toon moet aangee om die waardes en ideale soos vervat in ons Grondwet te respekteer, te beskerm en daaraan uitvoering te help gee.

Maar hy bespeur in sy daaglikse omgang met die Afrikaanse gemeenskap hoe erg verdeeld Afrikaanssprekendes is en dat dit gepaardgaan met 'n vyandigheid en aggressie wat simptomaties is van 'n groter probleem waarvan die wortels diep strek. Hiermee het die geskiedenis en hedendaagse politieke, ekonomiese, kulturele en maatskaplike uitdagings en onsekerheid waarmee die Afrikaanse gemeenskap gekonfronteer word, veel te make.

Die risiko, sê hy, is dat onderlinge konflik so 'n destruktiewe impak op die Afrikaanse gemeenskap sal hê dat dit weldra geen konstruktiewe bydrae meer tot Suid-Afrika se vooruitgang te lewer sal hê nie.

Daarby laat sommige van ons toe dat ons die mond gesnoer word, of bly ons sommer uit eie beweging stil, kwansuis asof ons nie geregtig is op 'n standpunt nie of nie daarop geregtig is om ons standpunt uit te spreek nie – so asof die Grondwet nie ook 'n dokument van versoening en 'n nuwe begin is nie.

Volgens Van der Rheede sal die faktore wat die breë Afrikaanse gemeenskap se bydrae ondermyn, geïdentifiseer moet word en 'n werkbare, regverdige oplossing daarvoor gevind moet word.

Indien hierdie faktore in stryd is met die beginsels soos in die Grondwet vervat, is daar sekerlik 'n geregverdigde stryd wat 'n nierassige Afrikaanse gemeenskap kan voer om dit uit die weg te ruim. Dit is vir so 'n stryd dat ek u oproep. Dat ek 'n beroep doen op u rede en u hart.

Min gebeurtenisse het hierdie Van der Rheede-waarhede skerper in fokus gebring as die Universiteit Stellenbosch se besluit om Engels te promoveer tot die primêre onderrigtaal en die gebruik van Afrikaans af te skaal tot so 'n mate dat dit in die praktyk noodwendig daartoe sal lei dat dit kort voor lank sy status as onderrigtaal geheel en al sal verloor.

Hierdie onreg aan die hand van ons taalgenote roep 'n nierassige Afrikaanse gemeenskap op tot 'n geregverdigde stryd in ooreenstemming met beginsels soos in die Grondwet verwoord.

Die besluit van die Universiteit Stellenbosch stapel die een skokkende feit op die ander.

  • Die mense wat die proses van verengelsing dryf, is Afrikaanssprekendes.
  • Hulle doen dit, so argumenteer hulle, ter wille van transformasie, terwyl transformasie en onderrig in Afrikaans nie vreemdelinge vir mekaar, of teenpole, of uitsluitend hoef te wees nie en die breë Afrikaanssprekende gemeenskap dit nie voorstaan of bepleit nie.
  • Hulle weier om na rede te luister, soos wat hulle weier om in 'n eerlike, oop debat te tree met diegene wat van hulle verskil.
  • In die strewe om van die universiteit 'n wêreldklas instelling van uitnemendheid te maak, het die Universiteit Stellenbosch veral in Gauteng en KwaZulu-Natal uitnemende studente gewerf wat verdien om aan so 'n uitnemende instelling te studeer, met die gevolg dat die getal wit Engelssprekende studente tot so 'n mate gegroei het dat hulle getalle gelyk is aan dié van Afrikaanssprekende studente.
  • En toe, in plaas daarvan om albei tale as gelyke tale van primêre onderrig in te stel, word die transformasieperd ingespan om die afskaling van die Afrikaanse aanbod ter wille van 'n groter Engelse aanbod te regverdig – so asof die bruin komponent van die Afrikaanse gemeenskap nie 'n transformasie-aanspraak het nie.

 

Hierdie is nie 'n saak vir draadsitters nie. Die geskiedenis gaan diegene wat niks meer gedoen het nie as om die hele proses gade te slaan en miskien meewarig die kop te skud, net so hard oordeel soos diegene in die owerheidstrukture van die Universiteit Stellenbosch wat verantwoordelik is vir die besluite wat tot die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal aan daardie instelling gelei het.

 

Hierdie is die moment waarop, soos Helen Zille na sommige van ons verwys het, die burgers van die Republiek van Stilte sal moet opstaan om getel te word. Hierdie is nie 'n saak waaroor u net in u binnekamer met u eggenoot of eggenote of langs die braaivleisvuur met u vriende fluistergesprekke kan voer nie. Hierdie is 'n “tot hiertoe en nie verder nie”-moment vir gans die Afrikaanssprekende gemeenskap.

 

Langenhoven het by geleentheid van die Senaatsdebat oor die vervanging van Nederlands as amptelike landstaal met Afrikaans gevra: “As Nederlands julle taal is, waarom praat julle dit nie? As Afrikaans julle taal is, waarom skryf julle dit nie?”

 

Wat aan die Universiteit Stellenbosch aan't gebeur is, dring die vraag aan ons op: As Afrikaans julle taal is, waarom gedoog julle hierdie onreg?

 

In sy ondersteunende beëdigde verklaring in Gelyke Kanse se aansoek wat, so voorspel ek, eendag verpligte leesstof aan die Afrikaans-Nederlandse Departement aan die Universiteit Stellenbosch sal wees, sê Breyten Breytenbach dat hy wil betoog dat die nuwe voorgestelde taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch berus op 'n aantal vals aannames:

 

  • Dat die nuwe voorstelde taalbeleid nie Afrikaans fataal sal skaad nie.
  • Dat die opkomende generasie Suid-Afrikaners slimmer en meer eenders sal wees indien Afrikaans uitgeskakel word.
  • Dat die pragmatyk 'n dwingerder paradigma sou wees as die moeilike strewe na die utopie van regverdigheid.
  • Dat verontregting “bestuur” kan word, want die paddas in die verhittende kastrol sal eenvoudig gewoond word aan hulle lot of so nie ander werk of vywers moet gaan soek.
  • Dat dit prakties en finansieel onmoontlik sou wees om Afrikaans as gelykberegtigde taal te behou? Nee, daar is net te veel voorbeelde in die wêreld wat die teendeel bewys, en daar is bronne van welwillendheid onder Afrikaanssprekendes wat gretig is om te help bou.
  • Dat regverdigheid en innoverende denke slegs gedoog kan word indien dit bekostigbaar sou wees ... wat sou meebring dat daar geredeneer word ons Grondwet en ons Menseregte-konvensies is eweneens onbekostigbaar in 'n land van uiterste verwagtinge.
  • Dat jongmense nie belang het by die taal wat hulle gebruik nie solank hulle maar toegerus word vir 'n mededingende toekoms. Wie sê so? Hoekom moet ons aanvaar die reg om nie vervreem te word nie is van minder belang vir die jonger generasie? En hoekom moet ons afleidings maak van die fait accompli waarvoor hulle gestel word?
  • Dat hierdie bemoeienis met die voortbestaan in geregtigheid van Afrikaans die Trojaanse perd sou wees van 'n groepie verbitterde en nostalgiese wit konserwatiewes. Is dit dan nie 'n belediging vir die duisendes, waaronder waarskynlik 70% van ons bruiner landgenote, wat ewe sterk voel oor die moedertaal maar dit nie noodwendig uitdruk as 'n protesverklaring soos ek nou hier doen nie?
  • Dat dit moontlik en wenslik sou wees vir die universiteit om bo die lokale, gedefinieer deur omgewing en demografie, uit te styg en te mik vir die status van 'n internasionale instelling van uitnemendheid in navorsing en kennisverwerwing. Op Frans word hierdie beleid une fuite en avant genoem, 'n weghol vooruit om te probeer ontkom aan die plaaslike vereistes. En al wat die universiteit in die proses sou bereik, is om net nog 'n “garden variety” Engelse instelling met iets van 'n Amerikaanse sousie te wees. Die universele is juis gegrond op die spesifieke.

 

Maar George Steyn, die voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch, sê dis irrelevant.

Na al die pleidooie wat op dowe ore geval het, al die debatte waartydens daar nie na rede geluister is nie en die Bestuur en die Senaat en die Raad kop omlaag voortgebeur het om Engels tot uitsluiting van Afrikaans as die US se taal van onderrig ingestel te kry, het daar net een manier oorgebly waarop hierdie dier wat op Stellenbosch los is, oorwin kan word en dit is deur 'n beroep op die howe.

Die vraag is dus nie soseer of Gelyke Kanse die saak sal wen of nie. Die vraag is of die breë Afrikaanssprekende gemeenskap kan bekostig om die saak nie te voer nie. Soos met elke goeie vraag word die kiem van die antwoord in die vraag gedra.

Kan u u voorstel watter oordeel die geskiedenis oor ons sou uitspreek indien ons sonder slag of stoot sou toelaat dat Afrikaans as onderrigtaal aan die US ten gronde gaan? Kan u u voorstel watter oordeel die geskiedenis gaan uitspreek oor diegene wat hande gevou gesit en toekyk het hoedat ons ons vingers stomp baklei vir hulle taal en hulle taalregte?

Wat soos 'n paal bo water staan, is dat indien Gelyke Kanse die saak wen, sy werk dan eers sal begin en dat Afrikaanssprekendes daardie organisasie dan sal moet uitbou om toe te sien dat 'n prinsipiële oorwinning nie wegsyfer in die sand van berekende of onverskillige niksdoen en versuim nie.

Ek het goeie moed dat daar 'n saak aan die Konstitusionele Hof voorgehou sal word wat op sterk grondwetlike pilare staan.

Die feit dat vier Suid-Afrikaanse universiteite binne die bestek van 'n jaar Afrikaans se status as primêre taal van onderrig saam met Engels beëindig het, en boonop dat nie een van daardie universiteite 'n betekenisvolle verbintenis aangegaan het tot die daadwerklike bevordering van 'n ander inheemse taal as wetenskaps- en akademiese taal nie, herinner aan die gelykenis wat Natan vir koning Dawid vertel het.

Dawid het Urija die Hetiet se vrou vir hom geneem en Urija laat vermoor. Die profeet Natan kom toe by Dawid en vertel vir hom die verhaal van 'n ryk man met baie skape en beeste wat toe hy 'n besoeker moes ontvang, sy diensknegte gestuur het om sy arm buurman se enigste ooilam te laat slag om vir sy besoeker voor te sit. Toe Natan vir Dawid vra wat met hierdie ryk man moet gebeur, het Dawid gesê dat hy die doodstraf verdien. Daarop het Natan gesê: “U is daardie man.”

Die gelykenis roep kragtige beelde van groot onreg op, soos wat die feit dat die US die laaste Afrikaanse universiteit was waar Engels tot primêre onderrigtaal ten koste van Afrikaans bevorder is, kragtige beelde oproep nie alleen van onkonstitusionaliteit nie, maar ook van groot onreg.

Die Universiteit Stellenbosch is nie 'n eiland in die see van Suid-Afrikaanse tersiêre onderrig nie, en die implementering van die Grondwet en die Ministeriële Taalbeleid aan daardie universiteit behoort ingegee en bepaal te word deur 'n groot verskeidenheid faktore. Faktore soos die volgende:

  • Volgens die 2011-bevolkingsensus is Afrikaans die huistaal van 6,8 miljoen mense of 13,5% van die totale bevolking. Dit is die derde grootste huistaal naas Zoeloe en Xhosa, met Engels, wat 4,8 miljoen huistaalsprekers het, as die vierde grootste huistaal. Afrikaans is die huistaal van 75,8% bruin mense en 60,8% wit mense.
  • In die Wes-Kaap is Afrikaans die huistaal van 49,7% van die inwoners en Engels die huistaal van slegs 20,2%.
  • Tans studeer bykans 140 000 Afrikaanssprekende studente aan 26 universiteite, waarvan nog net die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit Afrikaans as 'n gelyke taal van onderrig het.
  • In die Wes-Kaap is daar vier universiteite, waarvan drie volledig in Engels onderrig gee.
  • Skoolhoofde van bruin Afrikaanse hoërskole in die Wes- en Noord-Kaap wys daarop dat hul matrikulante met Afrikaans as huistaal baie moeilik suksesvol aan Engelse universiteite studeer en vir B-graad-studie is die uitsaksyfer van bruin studente 34% – heelwat hoër as die 24% van swart studente en 22% van wit studente.

Die voorgaande is waarskynlik een van die belangrikste redes waarom bruin mense die laagste deelnamekoers van alle bevolkingsgroepe aan hoër onderwys het, en die verengelsing van die US sal bruin studente van nog geleenthede ontneem.

Dit is 'n nasionale ramp.

Hierdie komponent van die Afrikaanssprekende gemeenskap, van wie daar reeds in die sewentigerjare geskryf is dat hulle vasgevang is in 'n armoedekultuur waaraan die meeste van hulle nie kan ontsnap sonder dat daar na hulle deurgebreek word nie, het nie net 'n universiteit nodig waaraan hulle in Afrikaans kan studeer nie, maar moet bemagtig word om in Afrikaans te kan studeer.

Alhoewel die status van Afrikaans as onderrigtaal vanselfsprekend vir ons aan hierdie instelling van besondere belang is, is Afrikaans in die praktyk ook veel meer as bloot 'n amptelike landstaal en 'n taal van onderrig en studie.

Ewe belangrik is die feit dat Afrikaans as 'n medium vir die oordrag van kulturele waardes onontbeerlik is. Dink mens na oor die gevestigde Afrikaanse letterkundeskatte en die vakkundige, sosiale, tegniese en religieuse woordeskat van Afrikaans in sy wonderlike verskeidenheid, kom jy agter dat die taal tekenend is van 'n ganse kultuur, simptomaties daarvan en onderliggend daartoe – en dat die uitsluiting van die taal terselfdertyd uitsluiting van die middel tot kultuuroordrag en -oorlewing moet beteken.

Of dit so bedoel word of nie, deur die ontkenning van gevestigde taalregte word die oordrag van kultuur self gekniehalter, en die naakte vraag wat vanaand voor ons is, is of dít die uitkoms is wat die Grondwet beoog het met sy visie vir 'n demokratiese bestel?

As vertrekpunt, bevestig, erken en beskerm artikel 30 van die Grondwet onomwonde die Suid-Afrikaners se taal- en kultuurverskeidenheid.

Natuurlik word die uitoefening van hierdie reg begrens. Natuurlik is dit nodig om daarteen te waak dat in die uitoefening van hierdie reg die fyn grens tussen kulturele eiesoortigheid en rassehaat, die saai van etniese verdeeldheid en die voer van oorlogspropaganda nie oorgesteek word nie.

Maar kan dit werklik realisties geargumenteer word dat die behoud van die bestaande reg op moedertaalonderrig aan die Universiteit Stellenbosch ten doel gehad het om rassehaat aan te blaas of dat 'n geldige aanspraak gemaak kan word dat dit die geval was?

Die bewindhebbers aan die Universiteit Stellenbosch en hulle apologete se intellektuele en prinsipiële bankrotskap het tot gevolg dat hulle ons tipeer as mense wat probeer teruggryp na 'n verlede van wit bevoorregting, na die spreekwoordelike vleispotte van die apartheids-Egipte. Die gekheid daarvan stuit teen die reputasies van mense soos Breyten Breytenbach, Hermann Giliomee, JM Coetzee, Frederik Van Zyl Slabbert, Abraham Phillips en duisende ander.

Dat die opstellers van die Grondwet die siening dat daar 'n verband bestaan tussen die beskerming van taalregte en die beskerming van 'n kultuur, ingesien en gedeel het, is ook duidelik uit artikel 31, wat uitdruklike beskerming aan die regte van kultuur-, taal- en godsdiensgemeenskappe bied.

Dit kan nie ernstig beweer word dat die afskaffing of afwatering van onderrig in 'n amptelike taal, by 'n instelling waar die reg daarop dekades lank gevestig, bestendig en bewese prakties uitvoerbaar is, hierdie opdragte bevorder nie.

Prontuit gesê, 'n mens bevorder kwalik grondwetlike waardes wat almal glo wenslik en ideaal is deur by die plekke waar dit nog in vervulling gaan, 'n einde daaraan te maak eerder as om dit as voorbeeld en inspirasie te koester.

Natuurlik word hierdie regte, soos trouens alle fundamentele regte, begrens, maar daar kan tog nie werklik 'n argument wees dat die afskaffing van die gevestigde reg op moedertaalonderrig aan 'n instelling waar dit

  • lank gevestig is
  • klaarblyklik prakties uitvoerbaar is, en
  • waarvoor daar 'n legitieme, redelike aanvraag is,

werklik in stryd met ander regte van die Grondwet is nie. En is dit werklik so dat die afskaffing daarvan op die een of ander manier gaan bydra tot die bevordering van die regte van ander soortgelyke maar nog latente ongerealiseerde regte?

Natuurlik is ek bewus van die hulpbrongebaseerde weergawe van hierdie argument ingevolge waarvan fondse kwansuis deur die instandhouding van bestaande regte van ander groepe weerhou word. U weet waarskynlik self hoe maklik dit is om hierdie argumente oortuigend te weerlê.

Laat ek my derhalwe daarby bepaal deur dit duidelik te stel: Die praktiese en logistieke werklikheid aan die US is dat daar geen eenvoudige en liniêre verhouding is tussen die ontneming van bestaande regte van die studente wat Afrikaanse onderrig verkies en die opgradering van die omvang van onderrig in Engels aan studente wat verkies om nie in Afrikaans onderrig te ontvang nie.

Inteendeel, hierdie koers sal groter ongeregtigheid en ongelykheid meebring. As daar meriete was in die aanklag dat Engelssprekende studente nie gelykwaardig behandel was nie, is daar nou meriete in die aanklag dat Afrikaanssprekende studente nie gelykwaardig behandel word nie. Nie een van die twee uitkomste behoort nodig te wees nie.

Woorde het betekenis.

Die woorde van die Grondwet wat daarop ingestel is om 'n vreedsame oorgang te verseker van 'n politieke bedeling wat die mense van hierdie land verdeel, verneder en beskaam het, na een waar die soewereiniteit van die reg en fundamentele regte die boustene van 'n ten volle demokratiese bestel is, het betekenis.

Die woorde van artikel 6(2) van die Grondwet, wat bepaal dat in die lig van die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, die staat praktiese en daadwerklike maatreëls moet tref om die status van dié tale te verhoog en hulle gebruik te bevorder, het betekenis.

Die gebiedende woorde van artikel 6(4) dat alle amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet en billik behandel moet word, het betekenis.

As ons nou, 22 jaar na die inwerkingtreding van hierdie Grondwet, na die Suid-Afrikaanse landskap kyk, dan dring die vraag homself op: Wat het van hierdie ondernemings geword?

Was hierdie ondernemings ernstig bejeën deur die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings; deur burgerlike organisasies en die burgerlike samelewing; deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad; deur die burgery?

Was daar gevolg aan gegee? Het mense erns gemaak daarmee?

Op die veronderstelling dat hierdie woorde in 1996 betekenis gehad het, het hulle dit steeds?

Beteken die realiteit van die Suid-Afrikaanse landskap, wat hierdie voornemens grootliks tot leuen maak, onteenseglik en onomwonde dat hierdie woorde dalk veronderstel was om betekenis te hê toe hulle verorden is, maar omdat niks gedoen is gedurende twee dekades om dit te implementeer nie, dit kwalik nou nog enige betekenis het?

Moet ons sê dat omdat die regering, staatsorgane soos universiteite, instellings van die burgerlike samelewing, die nasie, nie gevolg gegee het aan hierdie gebiedende bepalings nie, hulle nou onherroeplik betekenisloos geword het?

Meer nog, gaan ons toesien dat selfs 'n taal wat volwaardige akademiese en wetenskap status het, dit ontneem word soos wat toegelaat is, sodat hierdie grondwetlike bepalings feitlik betekenisloos geword het?

Goddank dat dit regtens nie 'n opsie is nie. Dat dit nie 'n weg is wat die howe kan volg nie. En dit is hoekom 'n beroep op die Konstitusionele Hof 'n opsie is wat ons nie kan laat verbygaan nie.

Die woorde van artikel 9, dat elkeen gelyk is voor die reg en die reg het op gelyke beskerming en voordeel daarvan, het betekenis. Die woorde van artikel 10, dat elkeen ingebore waardigheid het en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word, het betekenis.

Die woorde van artikel 30, dat elkeen die reg het om die taal van sy keuse te gebruik, het betekenis.

Die woorde van artikel 31, dat mense wat aan taalgemeenskappe behoort, nie die reg ontsê mag word om, saam met ander lede van daardie taalgemeenskap, hulle taal te gebruik nie, het betekenis.

Die woorde van artikel 29(2) van die Grondwet het ook betekenis. Dit is 'n bepaling in twee sinne en in twee dele.

Die eerste gee uitdrukking aan 'n fundamentele mensereg dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.

Hierdie reg het net een interne kwalifikasie: dat dit redelikerwys doenlik moet wees. Dit is al. Dit kan kwalik geloofwaardig geargumenteer word dat dit nie redelikerwys doenlik is om onderrig aan die Universiteit Stellenbosch in Afrikaans aan te bied op gelyke grondslag met Engels nie.

Die tweede sin, wat die tweede deel in sy geheel verwoord, kwalifiseer nie hierdie reg nie.

Dit maak voorsiening, in nie-uitputtende terminologie, vir wat die staat in ag moet neem om doeltreffende toegang tot, en verwesenliking van, hierdie reg te verseker.

Die woorde van artikel 29(2) het betekenis ongeag die feit dat Engels byvoorbeeld beskou word as 'n internasionale taal, 'n paspoort tot meer en beter geleenthede, tot groter rykdom, tot groter reserwes van kennis en inligting, tot 'n groter internasionale gemeenskap en meer gemeenskappe.

Dit verwoord 'n reg wat ingegee word deur fundamentele waarhede, deur feite waaroor daar geen ruimte vir twis is nie.

  • Akademiese uitnemendheid word hoofsaaklik deur moedertaalonderrig op alle vlakke van onderrig bereik.
  • Moedertaalonderrig in 'n taal anders as Engels, of enige ander sogenaamde internasionale taal, is nie 'n beletsel tot deelname aan die internasionale verkeer nie, of dit nou die akademiese verkeer, ekonomiese verkeer, politieke verkeer of sosiale verkeer is. Dit maak dit juis moontlik en beter, want dit bevorder uitnemendheid.
  • 'n Mens se vermoë om betekenisvol deel te wees van, en deel te neem aan, byvoorbeeld jou gekose beroepsveld, of dit nou betrekking het op die versameling of deel van kennis of inligting of al twee, word grootliks bepaal deur hoe goed jy dit beheers, wat op sy beurt bepaal word deur die taal waarin jy gestudeer het.

Die woorde van artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys wat universiteite gebied om hul taalbeleide te bepaal behoudens die beleid wat die Minister van Onderwys vasgestel het, het betekenis.

Dit beteken dat die taalbeleid van 'n universiteit in pas moet wees met die ministeriële beleid, wat die status van 'n wet het.

As 'n mens kyk na wat in die praktyk gebeur het, sou jy dit nie sê nie, maar die volgende bepalings van die ministeriële beleid vind dus toepassing op 'n universiteit wanneer hy sy taalbeleid formuleer:

  • Met betrekking tot tale van onderrig: "The Ministry acknowledges the current position of English and Afrikaans as the dominant languages of instruction in higher education and believes that in the light of practical and other considerations it will be necessary to work within the confines of the status quo until such time as other South African languages have been developed to a level where they may be used in higher education functions."
  • Waar dit sê: "The Ministry acknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource. It, therefore, fully supports the retention of Afrikaans as a medium of academic expression and communication in higher education and is committed to ensuring that the capacity of Afrikaans to function as such a medium is not eroded."
  • Waar dit sê: "The Ministry agrees with the Rectors of the Historically Afrikaans Universities that the sustained development of Afrikaans should not be the responsibility of only some of the universities."
  • Waar dit sê: "The Ministry is of the view that the sustainability of Afrikaans as a medium of academic expression and communication could be ensured to arrange a strategy, including the adoption of parallel and dual medium options, which would on the one hand cater for the needs of Afrikaans language speakers and, on the other, ensure that language of instruction is not a barrier to access and success. In this regard, the Ministry will, in consultation with the Historically Afrikaans medium institutions, examine the feasibility of different strategies, including the use of Afrikaans as a primary but not a sole medium of instruction."
  • En waar dit sê: "All higher education institutions are required to develop their own language policy subject to the above policy framework, which should be submitted to the Minister by 31 March 2003. The Ministry will continue to monitor the impact of language policy in higher education."

Volgens die opsomming van die ministeriële beleid is die raamwerk waaraan hierdie beginsels ontleen word ontwerp om veeltaligheid, billikheid en toegang in hoër onderrig te bevorder, onder meer deur

  • die ontwikkeling, op medium tot lang termyn, van al Suid-Afrika se tale as tale van hoër onderrig, langs Afrikaans en Engels; en
  • die behoud en uitbouing van Afrikaans as 'n taal van geleerdheid en wetenskap.

In die praktyk word die grondwetlike opdrag om inheemse tale, anders as Afrikaans, tot wetenskapstale te ontwikkel, egter roekeloos verontagsaam.

Die opdrag om Afrikaans se status as akademiese taal uit te bou, word eweneens verontagsaam.

Dit het implikasies vir meer as die tale. Dit het implikasies vir gemeenskapsontwikkeling; dit het implikasies vir die kwaliteit van onderrig; dit het implikasies vir die ekonomie; dit het implikasies vir ons geloof in die waardes wat onderliggend aan die Grondwet is; en, omdat dit so is, het dit implikasies vir ons grondwetlike en politieke stelsels.

Die taal wat mens praat het op aarde niks te doen met of mense, individueel of kollektief, inherent goed of boos is nie; of mense hul lewens inrig op so 'n wyse dat dit in pas is met die norme en standaarde wat die beskawing van vandag behoort te onderskei van die donker eeue van gister nie.

Dit het niks te doen met die politieke keuses wat hulle vir hulself maak en wat hulle dalk by magte is om aan ander op te dring nie.

Verslawing en onderdrukking is, soos bevryding en opheffing, nie die funksies van 'n taal nie; dit is die gedrag van mense – goed en sleg – ongeag die taal wat hulle praat.

Vir sover dit nog steeds dien as motivering vir wat by ons universiteite aangaan, is dit gek om wat histories verkeerd gegaan het voor die deur van 'n taal te lê en dit daarom nie te praat nie; of om ander sprekers daarvan te verbied om dit te praat; of om andere die geleentheid te ontneem om daarin onderrig te ontvang.

Dit was immers ook die taal van verset en opstand, van boetedoening en van bevryding.

Ons kon nie anders as om hierdie saak te voer nie. Daar is 'n Engelse gesegde wat sê: “Nothing succeeds like success.” Woorde wek, voorbeelde trek.

Ek hoop vir 'n suksesvolle uitkoms in hierdie saak en dat so 'n uitkoms die breëre Afrikaanse gemeenskap sal aanspoor om hulle Suid-Afrikaanse burgerskap uit te leef deur aan te dring op die beskerming van hulle regte en dié van ander en die instandhouding van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.

Res ipsa loquitur beteken “die feite spreek vanself”.

As u my vra of ons die hofsaak behoort te wen, dan is my antwoord: “Res ipsa loquitur.”

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Studying while black. Race, education and emancipation in South African universities

  • 1

Kommentaar

  • Johnnes Comestor

    In die koerante was daar 'n verkorte weergawe van die toespraak. Ek is dankbaar dat LitNet die volledige toespraak gepubliseer het. Die toespraak is 'n sinvolle mengsel van rasionaliteit en emosie. Ek hou veral van die karakterisering van die US as 'n "Engelse instelling met iets van 'n Amerikaanse sousie."
    Al wat my in die betoog hinder, is dat daar, klaarblyklik om strategiese redes, nie streng by 'n nie-rassige benadering gehou word nie. Dit is nie net bruin studente wat die reg op onderrig in Afrikaans het nie. Dit is ook die onvervreembare reg van wit studente.
    Heunis verwys na die US se Departement Afrikaans en Nederlands. Dit bly vir my onbegryplik en hoogs onaanvaarbaar dat Gelyke Kanse (skynbaar) geen daadwerklike ondersteuning uit daardie oord kry nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top