Studying while black. Race, education and emancipation in South African universities

  • 2

Studying while black. Race, education and emancipation in South African universities.
Sharlene Swartz, Alude Mahali, Relobohile Moletsane ea (redakteurs)
Uitgewer: HSRC Press
ISBN: 9780796925084

Op 1 September 2016 het ek diens aanvaar as dosent in Afrikaanse letterkunde aan die Fort Hare-universiteit se Oos-Londen-kampus. Ek het my werk as departementshoof in Afrikaans aan ’n vooraanstaande onafhanklike skool in Grahamstad opgesê om ’n loopbaan in die akademie te volg. Van my eertydse kollegas was stomgeslaan deur die feit dat ek in 2016 my heil in die akademie wou soek – en boonop by Fort Hare. Die kampusse het letterlik en figuurlik gebrand en nuwe hutsmerk-frases het amper daagliks op sosiale media opgeduik. Die studente was en is steeds kwaad en die atmosfeer op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse kan met ’n mes gesny word.

Ek is ’n wit, Afrikaanssprekende man wat hoofsaaklik in die eertydse Verwoerdburg (Centurion) grootgeword het en uit ’n bevoorregte agtergrond kom. (Ja, ek is ’n wit bevoorregte man!) My ouers was staatsamptenare met geen tersiêre opleiding nie. Beide het in ’n arm werkersklaswoonbuurt in Port Elizabeth grootgeword. My oupa aan moederskant was ’n trokdrywer en my oupa aan vaderskant was ’n fabriekswerker by General Motors se Port Elizabeth-aanleg. Ten spyte van hulle sosio-ekonomiese herkoms het beide my ouers met ’n matrieksertifikaat ’n pos in die staatsdiens bekom – hulle is immers wit en boonop Afrikaanssprekend. As kind het ek nooit honger gely nie en het altyd in ’n warm bed geslaap en in ’n gemaklike middelklashuis met ’n groot swembad gewoon. Die huiswerker is as vanselfsprekend aanvaar en was die enigste swart Suid-Afrikaner met wie ek as kind daagliks in aanraking gekom het. Ek het my studies met studielenings befonds en ook voltyds gewerk terwyl ek my nagraadse studie voortgesit het. Deur middel van my ouers se goeie kredietrekord was ek in staat om my tersiêre studie na matriek deur middel van studielenings te befonds. (Dit het my wel vyf jaar geneem om my studielening met rente aan die bank terug te betaal.) My ouers was weens hul bevoorregte posisie finansieel in staat om vir my ’n klein tweedehandse motortjie as geskenk te gee sodat ek daagliks lesings aan die plaaslike universiteit kon bywoon.

Wat egter van belang is, is dat ek nie sonder my ouers se finansiële bystand op tersiêre vlak kon studeer het nie. Daar was geen struikelblokke wat ek moes oorkom nie.

Waarom is dit relevant?

Die antwoord op hierdie vraag lê opgesluit in Studying while black. Race, education and emancipation in South African universities. Laat ek uit die staanspoor verklaar dat hierdie meer ’n bespreking as ’n resensie is en dat ek geen aktivis van enige aard is nie. Ek ’n bloot ’n akademikus met ’n passie vir sy vakgebied, naamlik Afrikaans, en meer spesifiek Afrikaans en Nederlandse letterkunde. Gedurende die afgelope twee jaar het my oë oopgegaan vir die sosiopolitiese asook sosio-ekonomiese struikelblokke in Suid-Afrika. As dosent het ek eerstehands ervaar watter struikelblokke en frustrasies hoofsaaklik arm swart studente aan ’n universiteit soos Fort Hare daagliks moet trotseer. Dit is vanuit hierdie perspektief dat ek as bevoorregte wit man (en dosent aan ’n voormalige tuislanduniversiteit) hierdie teks gaan bespreek.

Die uitgewer se keuse van ’n wit voorplat met die woord “black” wat donker daarop afgedruk is, is ’n bemarkingstegniek wat op effektiewe wyse by die inhoud aansluit. Die keuse van die helmhoed (of pith helmet soos dit in Engels bekend staan) op die voorplat is simbolies van die koloniale agtergrond en nalatenskap waarmee alle Suid-Afrikaanse universiteite worstel. Die publikasie is ’n kwalitatiewe studie gebaseer op ’n verslag wat deur die Human Sciences Research Council (HSRC) namens die Departement van Hoër Onderwys saamgestel is. Die navorsing is onder leiding van die Centre for Critical Research on Race and Identity aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) onderneem. Altesaam het 69 studente (aanvanklik 80 studente) aan die studie, wat oor ’n tydperk van vyf jaar gestrek het, deelgeneem. Universiteite wat deelgeneem het, sluit in die Durbanse Universiteit van Tegnologie, Fort Hare-universiteit, Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus), Universiteit van Johannesburg, Universiteit van Kaapstad, Universiteit van KwaZulu-Natal en die Universiteit van Limpopo.

Die doel van die studie was om studente se ervarings en uitdagings aan Suid-Afrikaanse universiteite te ondersoek. Die navorsingsvrae was daarop gerig om vas te stel watter sosiale en strukturele faktore voorheen benadeelde studente se sukses (of die gebrek daaraan) beïnvloed het. Verder het navorsers na sekere identiteitmerkers soos ras, sosiale klas, taal en gender gekyk om studente se ervarings op kampusse te boekstaaf. Deur laasgenoemde as vertrekpunt te gebruik is daar gekyk op watter wyse dié faktore studente te sukses of gebrek daaraan op tersiêre vlak beïnvloed. Studente se ervarings is deur middel van ’n jaarlikse onderhoud, maandelikse bloginskrywings en selfoonopnames gemonitor.

Studente se direkte antwoorde is in die studie opgeneem en die leser hoor dus studente se uitdagings uit die spreekwoordelike perd se bek. Die bevindinge van die studie was egter nie ’n verrassing nie. Insiggewend was dit wel. Finansiële uitdagings is een van die grootste struikelblokke wat swart studente in die gesig staar. Behalwe studiegeld is addisionele koste soos handboeke, voedsel, verblyf en vervoer bydraende faktore wat die meerderheid swart studente daarvan weerhou om hul tersiêre studies suksesvol te voltooi. Volgens statistiek voltooi slegs een uit vier Suid-Afrikaanse studente hul voorgraadse kwalifikasie binne die voorgeskrewe minimum tydperk. 50% meer wit studente as swart studente gradueer. Dit kan direk toegeskryf word aan die uitdagings wat swart studente in die gesig staar. Talle studente leef in haglike omstandighede (hetsy tuis saam met hul uitgebreide familie) of in woonstelblokke waar soms selfs ses studente ’n enkelkamer deel. Talle studente ly honger, aangesien heelwat studente hul maandelikse NFSAS-toelaes vir hul familielede in arm plattelandse gebiede stuur. By Fort Hare het ek self al studente gehad wat siek word aangesien hul dae laas iets te ete gehad het.

Die meerderheid studente het aangedui dat ’n gebrek aan tegnologie (rekenaars, drukkers en internettoegang) hul studies bemoeilik en selfs beduiwel het. Boonop het talle voormalige tuislanduniversiteite onvoldoende studiegeriewe en biblioteekfasiliteite, wat toegang tot inligting verder bemoeilik. Die haglike toestand van lesinglokale en koshuisfasiliteite dra verder by tot lae moreel onder studente en dosente aan die meeste universiteite in Suid-Afrika.

Weens swak primêre en sekondêre opleiding wat die oorgrote meerderheid leerders in Suid-Afrika ontvang, sukkel veral swart studente wat nie aan voormalige model C-skole gematrikuleer het nie om hul voorgraadse studie suksesvol te voltooi. ’n Gebrek aan moedertaalonderrig word veral beklemtoon en studente sukkel om die werkslading in hul eerste studiejaar baas te raak. Die studie toon dat studente moedeloos is met gebrekkige ondersteuning van administratiewe en finansiële departemente en dat sommige studente selfs foutiewelik vir die verkeerde kursusse geregistreer word weens administratiewe foute en ’n gebrek aan voldoende loopbaanvoorligting. Studente het ook aangedui dat hulle nie gemaklik voel om met hul dosente te kommunikeer nie, hoofsaaklik weens ’n minderwaardigheidsgevoel. Swart studente is ook huiwerig om vrae in lesings te vra aangesien hul weens hul gebrekkige taalvermoë in Engels ongemaklik voel om vrae te vra. Laasgenoemde is die direkte uitwerking van ’n gebrekkige skoolstelsel. Swart studente is ook van mening dat dosente ’n gebrek aan simpatie teenoor hul uitdagings toon en dat dosente meer geredelik hulp aan studente van hul eie rasgroep verleen.

Ook geslagskwessies het in die studie aan bod gekom. Vroulike studente voel oor die algemeen onveilig op kampusse. Die seksuele uitbuiting van vroulike studente deur tutors en dosente in ruil vir punte is skokkend, om die minste te sê. Oor die algemeen maak die meeste universiteite onvoldoende voorsiening vir die veiligheid van vroulike studente op universiteitskampusse. Verkragting van veral vroulike studente vind gereeld plaas. Selde word oortreders aan die kaak gestel. Universiteite sal daadwerklik moet optree om die tendens in die kiem te smoor en geslagsgeweld op kampusse uit te roei. Ook die ondersteuning van LGBTI-studente blyk ’n groot probleem op die meeste kampusse te wees. ’n Homofobiese kultuur heers veral in manskoshuise en LGBTI-studente word amper daagliks verbaal geteister.

Die taalkwessie geniet heelwat aandag in die studie. Alhoewel sommige dosente by Fort Hare sowel as die Universiteit van KwaZulu-Natal dele van hul lesings in onderskeidelik Xhosa en Zoeloe aanbied (en in Engels vertaal), word die oorgrote meerderheid lesings aan universiteite wat by die studie betrek is, in Engels aangebied (met uitsondering van die NWU se Potchefstroomkampus). Tydens ’n onlangse onderhoud met twee wit manlike Engelssprekende studente aan Fort Hare het beide aangedui dat hulle uitgesluit voel wanneer sommige dosente dele van die lesing in Xhosa aanbied en soms nie vertaal nie. Geen tolkdienste is aan die universiteit beskikbaar nie. Die oorgrote meerderheid swart studente het aangedui dat hul by voormalige Afrikaanse universiteite gemarginaliseer voel. Die studente is van mening dat Afrikaans as onderrigtaal rassespanning op kampusse veroorsaak en nie bevorderlik is vir integrasie tussen verskillende rasgroepe nie.

’n Interessante aspek wat in die studie voorgekom het, is die feit swart studente erken dat moedertaalonderrig bevorderlik vir akademiese sukses is. Meertaligheid aan universiteite word oor die algemeen wyd ondersteun. Aan die UKZN is dit verpligtend vir alle studente om ’n isiZulu-module te slaag om hul kwalifikasie te kan verwerf. Die meeste universiteite volg op skrif ’n meertalige taalbeleid. (Let wel dat die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding Afrikaans as ’n Afrikataal klassifiseer.) Meertaligheid word egter selde in die praktyk toegepas. In hierdie opsig is die NWU se Potchefstroomkampus die leier op die gebied van die bevordering van meertaligheid.

Die belangrike saak ten opsigte van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid wat Donderdag (13 September 2018) voor die Konstitusionele Hof dien, gaan die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal aan Suid-Afrikaanse universiteite bepaal. Myns insiens gaan Afrikaans as onderrigtaal aan Suid-Afrikaanse openbare universiteite stadig maar seker tot niet gaan. Alhoewel dit my dwars in die krop steek, is ek ’n pragmatis. Die EFF en ANC gaan nie die taalkwessie op NWU se Potchefstroomkampus daar laat nie. Met plakkate wat soos in Junie 1976 “Down with Afrikaans!” uitbasuin, gaan dit moeilik wees vir ’n minderheidsgroep om ’n taal soos Afrikaans aan ’n openbare universiteit te beskerm. Ek is ten gunste van moedertaalonderrig. Ek glo dat daar minstens een universiteit (of kampus) in Suid-Afrika moet wees waar alle studente ongeag ras in Afrikaans onderrig moet kan word. In die praktyk is dit egter moeilik uitvoerbaar, aangesien ons geskiedenis van apartheid altyd as maatstaf voorgehou sal word en gebruik sal word om dié model teen te staan. Die toekoms van spesifiek Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak lê moontlik opgesluit in ’n onafhanklike universiteit soos Akademia. Dit is verder belangrik dat ander Afrikatale aan tersiêre instansies daadwerklik bevorder word. Engels is ’n wêreldtaal en is geskik as lingua franca, maar kan nie ten koste van Afrikatale vooropgestel word nie. Indien Afrikatale aan Suid-Afrikaanse universiteite tot niet gaan, kan ons slegs onsself blameer.

Ek moet bieg dat ek as wit man nie altyd verstaan het waarom swart studente so kwaad is nie. Ek verstaan dat rassisme en sosio-ekonomiese ongelykheid swart studente daagliks negatief affekteer en talle uitdagings teweeg bring. Net soos vele Suid-Afrikaners raak ek kwaad en gefrustreerd wanneer ek die koerant lees of die televisienuus kyk en sien hoe studente universiteite se infrastruktuur beskadig, ander studente (en dosente) intimideer en op uiters onbeskofte wyse met lede van die universiteitsbestuur in gesprek tree. Die woord “demand” vorm tydens stakings die kern van die oorgrote meerderheid memoranda wat aan universiteite regoor die land oorhandig word. Die afgelope week het dit op sosiale media gegons oor die EFF se studentetak se optrede op die NWU se Potchefstroomkampus. Die neerhalende wyse waarop daar met prof Fika Janse van Rensburg gehandel is, is laakbaar, om die minste te sê. Ek het eerstehands aanskou hoe studente Fort Hare se rektor voor ’n skare verneder. Prof Bongani Mayosi se selfdood is nog ’n voorbeeld van akademici wat moedeloos is en deur studente afgeknou en verneder is. Ek self is telkemale uit my lesingsaal verwyder en gedreig. Daar is by my kantoor ingebreek en die taaldepartemente is deur stakende vakbondlede (met sterk politieke affiliasies) geplunder. Dit is die realiteit waaraan talle dosente aan universiteite daagliks blootgestel is. Akademici is te bang om openlik kritiek uit te spreek. Almal skuil onder die radar en hoop maar dat die semester sonder enige voorvalle sal verloop. Die feit is dat Suid-Afrikaanse universiteite op ’n spreekwoordelike tydbom sit. Ons het tot dusver slegs die oppervlak aangeraak. Die ergste is nog op pad.

Alhoewel hierdie boek ’n akademiese studie is, is die teks in sy geheel toeganklik vir die breër publiek. Enige leser wat die kompleksiteit van gebeure op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse beter wil verstaan, behoort hierdie boek te lees. Dit word ten sterkte aanbeveel vir dosente, studente en universiteitsbestuur. As Suid-Afrikaners sal ons saam oplossings moet vind om ongelykhede op kampusse en in die breër samelewing uit te wis. Daar moet na studente geluister word en daadwerklik opgetree word om, waar prakties moontlik, aandag aan hul griewe te gee. Terselfdertyd moet studente ook besef dat verantwoordelikheid met regte gepaard gaan. Studente moet besef dat geweld nie die oplossing is nie. Reeds karige infrastruktuur kan nie beskadig word om hul frustrasie te uit te druk nie. Gesprekvoering moet op ’n respekvolle wyse tussen studente en universiteitsbestuur gevoer word om gesamentlik oplossings vir die talle uitdagings wat Suid-Afrikaanse universiteite in die gesig staar te vind.

US-taalbeleid: "Oor hierdie saak moet ons met mekaar reguit praat"

  • 2

Kommentaar

  • Tracy Lötter

    Ek stem saam met moedertaal-onderrig, ook op tersiêre vlak.
    As Afrikaanssprekende het ek baie daarmee te doen gehad op universiteit, waar Engels koning gekraai het as vaktaal in die meeste kursusse. My probleem is wanneer daar van "sosio-ekonomiese" agterstande begin praat word, witmense word noodwendig sondebokke wanneer swart studente kla oor "sosio-ekonomiese" agterstande. Die idee dat frustrasie as gevolg van armoede my 'n boksie vuurhoutjies en houertjie brandstof laat nadertrek is vir my absurd. Of is dit bloot volksvreemd? Ek het empatie vir mense se onderskeie probleme, maar ek het baie arm blanke kinders geken, wat nooit aggressie sou gebruik uit moedelose frustrasie nie. Met die uitsondering van een, wat wel met 'n beurs gaan studeer het, het hierdie mense tog hulself verbeter deur harde werk en deursettingsvermoë. Ja, van hulle het honger gaan slaap. Een se pa was 'n boemelaar nadat 'n ongeluk sy vrou se lewe geëis het. Ja hulle was moedeloos. Ja hulle was kwaad en teleurgesteld. My eie ouma het vir bruin mense gestryk vir sakgeld as jong meisie, sy was wees gelaat as kind. Sy het my baie van die lewe geleer maar veral dat die lewe nie altyd regverdig is nie. Vandag help ek minderbevoorregte kinders met leerprobleme, ek doen dit verniet.

  • Ek is onder andere 'n gekwalifiseerde beroepsvoorligter, maar selfs sonder so 'n kwalifikasie sal by verre die meeste mense weet dat daar voor die einde van 'n skoolloopbaan noukeurige beplanning vir 'n toekomstige loopbaan gedoen moet word. Vanselfsprekend is beroepspesifieke opleiding deel van die beplanning en dit sluit die koste daarvan in. Die skrywer verwys na sy eie beplanning in hierdie verband.
    Wanneer 'n jongeling advies vra vir beroepskeuse, is en was die koste van opleiding altyd deel van die beplanning. Ek het baie selde met leerlinge te doen gehad wat genoeg geld beskikbaar gehad het om universiteit toe te gaan. Verder is dit die minderheid van leerlinge wat akademiese studies behoort aan te pak - ons het altyd die norm van 7% van die bevolking as riglyn gebruik.
    Statisties gesproke is die grootste aanvraag vir werkers by handvaardige beroepe. Tans is die tekort aan opgeleide vakmanne (of vroue in 'n politiek korrekte wêreld) 'n ernstige probleem in ons ekonomie.
    Ek stel voor daar moet 'n effektiewe sifting plaasvind om seker te maak dat universiteite op 'n sinvolle wyse gebruik word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top