US-konvokasie 2018: Kom pad toe

  • 4

Jeremy Vearey
Foto: Barry Lamprecht, Prince Albert Leesfees 2018

 

Kom pad toe

Goeienaand, molweni en, ter ere aan Adam Small na wie hierdie teater genoem gaan word, awê my ma se kinnes.

Toe ek versoek word om hierdie Konvokasie toe te spreek oor ’n oop onderwerp, was ek huiwerig om dit te aanvaar. Dit juis omdat ek voor 1994 twee skermutselings met Universiteit Stellenbosch-studente gehad het wat my persepsies van hierdie plek aangrypend beïnvloed het.

Die eerste was in 1983, toe ek as deel van die UWK se drinkspan teen US in ’n ondergrondse suipolimpiade gewedywer het. Ek het hulle nooit vergewe dat ek in die eerste ronde van die uitdunne gesneuwel het nie.

Die tweede skermutseling was in 1993, toe ek as leier van wyle oudpresident Nelson Mandela se lyfwagspan ’n poging van regse aktiviste om sy toespraak hier te ontwrig moes neutraliseer. Dit het ons effektief met die hulp van ’n paar slaggereed Afrikaner-studente onder die bevel van ’n reusekameraad genaamd Klein Piet vermag.

Wat my veral van hierdie voorval opvallend was, was die waagmoed van een studentleier wat aanhoudend deur al die chaos gepleit het vir die gees van die oop gesprek. Ek het wel heelwat later, toe ek NP Van Wyk Louw se opstel Die oop gesprek lees, begryp wat daarmee bedoel word. Veral met sy klem op die verskil “tussen twis en stoei met gedagtes”.

Van Wyk Louw lewer soos volg kommentaar daarop in sy opstel:

Waar twee mense twis, daar gaan dit om te wen; elkeen wil die ander klop, maar laat sy eie mening on-ondersoek … aanvaar dit as ewig-waar, vanselfsprekend, en probeer dit op die ander oordra. In die soort gesprek waaraan ek dink, was die eie standpunt altyd net soseer die onderwerp van analise en kritiek as die ander s’n.

Dis in hierdie gees van die oop gesprek wat ek vanaand wil stoei met ’n paar gedagtes oor US en die taaldebat wat my knaend pla. Maar meer daaroor later.

As ’n stem van die Kaapse Vlakte is dit vir my dus ’n katartiese belewenis om vanaand juis hier in die voorneme Adam Small-teater op Universiteit Stellenbosch ook my taalburgerskap van historiese vervreemding te bevry.

Soe hierie stuk wat ek vidag gat sny, sal oek in Kaaps wies, en gemattedjale wôd met sy meer onlangse newevariëteite soos Standaardafrikaans, UWkaans, Strydafrikaans, en my ouma se Kerkafrikaans. Soe maak jou kop oepe virre onverwagte warme Kaapse tongklap vannie bepaalde lidwoord voor plekname, soos met “vannie Elsies” en “innie Stellenbosch”, besitlike voornaamwoorde in die attributiewe posisie soos in “onse mense”, en byvoeging van ’n vergelykingsuffiks soos in “bietere”. 

Ek staan ook hier as oudterroris en vryheidsvegter, oudstandaardtaalonderwyser nou Kaapsprater, oud-Robbeneilander nou generaal-majoor in die SAPD, en oudstatutêrgebrandmerkte kleurling nou Afrikaan. ’n Afbeeldsel van afkeer vir sommiges, of vryheidsavatar vir ander? Ek is geen teenpolige karikatuur nie.

So ek is terdeë bewus dat my toespraak, moedswillig getitel “Kom pad toe”, in ’n tyd van hernude broedertwis oor US se taalbeleid, beide laertrekkers en kampvegters mag ontstel. Maar die dialektiek van ewige wording is soms ’n ironiese leermeester wat jou soms onvoorspelbaar buite jou djaart of kamp beproef.

Vir my juis hier omdat DF Malan, A Moorees en JG van der Hoorst se 1913-memorandum aan die regering se pleidooi vir ’n volksuniversiteit vir Afrikaners steeds lewensgroot verbeeld om my troon. Miskien nie meer so lotsverbondend en kleindorps soos daar in 1913 met hul stelling “Stellenbosch stands for an idea”eintlik bedoel was nie, maar sulke kleingeestigheid begin weer spook in wat deesdae as die “taaldebat” of sogenaamde taalstryd misvat word.

En vandag, vir watter idee?

Die idee van Universiteit Stellenbosch as redder van Afrikaans?

Vir wie se variëteit van Afrikaans?

As van die reaksie teen my opinie oor Breyten Breytenbach se “Die koei in die bos”-konvokasietoespraak op 26 Januarie 2016 enigsins aanduidend is van hoe daar oor hierdie sake besin word, dan is van ons nog nie heeltemal van apartheid se kleinburgerlikheid verlos nie. In sy reaksie op my skrywe op LitNet en in Die Burger, toe ook moedswillig getitel Die Nag van die Boenks”, vra een: “Nou sê my nou, wat pla jou van ’n pleidooi vir die behoud van Afrikaans, Jeremy?” Seker maar defensief soos verwag.

Die tweede reaksie was meer aanvallend:

Jeremy Vearey se kommentaar dui blykbaar daarop dat hy Kaaps bo Standaardafrikaans verkies. In vandag se koerant het hy dit blykbaar teen Breyten Breytenbach, wat ’n lansie vir Afrikaans aan die US gebreek het. As hy ten gunste van Engels as die primêre of enigste US-onderrigtaal is, kan hy dit gerus onomwonde stel.

Na my mening, ’n geval van binêre vervlakking van my standpunt na ’n oorvereenvoudigde “Engels vs sogenaamde Standaardafrikaans”- of “Kaaps vs Standaardafrikaans”-tweestryd.

Wat ek wel gesê het is:

Ek lees in Die Burger van 27 Januarie 2016 dat daar ’n groot sametrek van boenks by US was. Ek was nie daar nie want my tipe Afrikaans word mos as diglossie afgeskryf en al was ek daar sou hulle my nie gehoor het nie. Want jy sien die boenks se ore is “bedek met hare wat dien as skokbrekers of klankkussings” wat hulle teen die “geluide van die wêreld” beskerm.

Maar hierdie keer was dit nie soos altyd nie. Hulle het verenig “af oor die rande van wolke” geloer en gegrom. Hulle het woorde van vrot “fascistiese pampoene” eenparig geslinger ... Maar moet jou nie te veel aan hulle steur nie. Want die van ons wat regtig diep en ver kan sien weet dat – “Hulle sou graag groter geluide wou maak, maar omdat hulle bril dra vir hulle swak knippende oë is hulle beperk tot die klank wat die mins moontlike wasem op die brilglase sal blaas.” 

Moet ook nie jammer voel vir die van hulle wat steeds hulle kop vas hou en kreun “my pampoen my pampoen wat sal ek nou hê om aan te smul”. Hulle is nog nie van die beeld verlos nie.

Ek hoor die “busbestuurder” was ook daar en hy het gepreek oor “Die Koei in die Bosch”. Hy het die boenks vermaan dat “US móét Afrikaans beskerm” en hulle het almal eenstemmig gegrom. Maar moenie jou hieroor bekommer nie want iets goed gaan van al hierdie “geluide” kom. As die “ysterkoei” eendag uiteindelik uitgesweet is, dan sal hulle “geluide” ons “vele aardlinge” nie meer “ontstel” nie. Vir nou sal ons hulle “geluide” maar moet verdra omdat hulle die “glas” oopgemaak het en hulle tyd hardloop deurmekaar.

By voorbaat verskoning aan die “busbestuurder” dat ek so liberaal van sy die “boenk”, “selfmoord 2”, “fascistiese pampoen”, “Die verlossing van die beeld”, en “Die ysterkoei moet sweet” aanhaal. As ek jou toespraak by die konvokasie verkeerd verstaan het, kan jy altyd jouself berus met die wanpersepsie dat my Afrikaans, volgens die boenks, ’n diglossie is.

Soos seker net in Kaaps gesê kan word – hiesa pis hulle die pot mis. Albei praat van Afrikaans asof net hulle standaardvariëteit as norm geld. Die feit dat ek juis Breytenbach se werk uit die apartheidsjare naas mekaar in kontras met sy “US móét Afrikaans beskerm”-standpunt plaas, blyk ook misgepis te wees.

Maar terug na Breytenbach en hoe sy werk my UWkaans-jare in die vroeë tagtigs begeester het. Dit was ’n bloeityd vir Strydafrikaans toe sy insette my waardering vir Kaaps as ’n organiese werkersklastaalvariëteit hernu het.

Hy pleit toe:

Ai, hoe verpes ek daardie deftige Mercedes- of Fakulteits- of Burokratiese of Germaanserige Aferikaans met sy korsette en Tanglippe en Akkademies en Hoofkantore! Gee my die lekker bokkem-en-biltong bruin taal, proletèr en mens!

Proletêr en mens?

So hoe dan nou? 

US móét watter variëteit van Afrikaans en wie s’n beskerm? 

Wat het geword van die Breytenbach wat in die eerste vers van sy tronkgedig “Taalstryd” teen hierdie soort stoere kleinburgerlikhed waarsku:

Ons is oud 
Ons taal is ’n grys reserwis van meer as ’n honderd jaar
met die vingers styf om die snellers.

Myns insiens is dit daardie selfde ontslape grys reservis in sy motballerige korset met aweregse vingers op snellers wat nou deur sogenaamde taalstryders opgewek word. “US móét Afrikaans beskerm,” roep die ritusmeester, en dié mantra eggo weer in die akademies en hoofkantore van Stellenbosch.

Maar ek hoor vanaand ook die dreunsang van ’n teeneggo, liewe broers en susters. Daai taalskaam student van Mitchells Plain na wie professor Russel Botman in sy 2011-Konvokasietoespraak verwys het. Hy wat liewers in Engels ’n vraag in Afrikaans beantwoord het met die verskoning: “Professor, ek kry skaam vir my Afrikaans.” Sy vervreemding spook nog hier en móét besweer word.

Proletêr en mens?

“Kaaps is die bakermatvorm van Afrikaans,” so beweer Michael le Cordeur wel in sy opstel “Die aktualiteit van Krismis van Map Jacobs”. Maar wat maak dit nou eintlik hier saak as studente van die Kaapse Vlakte nie hul taalburgerskap in Kaaps kan uitleef nie? En dieselfde geld vir ander tale en variëteite wat slagoffers van apartheid-vervreemding was. Word lektuur vanuit hul komvandaan wat hulle lewensruimtes verwoord en verbeeld, in die taal en variëteit soos hulle dit daar besig, hier as literêrwaardig geag?

So gepraat van komvandaan: ek is oorspronklik vannie Elsies, een van vele werkersklasbuurte op die Kaapse Vlakte wat nog volwaardig oopgeskryf moet word. Ek het gepoog om dit in my boek Jeremy vannie Elsies te doen met vier taalregisters in drie stemme, losweg in bildungsromanformaat. En daarmee ’n outobiografie, biografie en sosiografie in een wat poog om hermetiese begrensing van literêre genres te ondermyn.
Soos julle al seker nou besef, ek is nie ’n strukturalis behep met vorm voor funksie nie, nog minder ’n normatiewe pampoen wat taalgebruik betref. Ek is ook verlos van daardie beeld.

Dit het my eerste resensent, wat onder die skuilnaam Leon Lemmer vir Praag se aanlyn nuusbrief skryf, so ontsenu dat hy op 26 Mei 2018 onder die titel “In verkeerde geselskap” lesers waarsku dat “Die verkeerde geselskap waarin die lesers van hierdie boek hulle bevind, blyk van die begin af uit die onkiese taal wat gebruik word ...”

Maar na vele resensies van die boek wat ook kru onder Lemmer se kritiek deurloop, kom hy uiteindelik by sy punt: “Bruin mense is ’n tussengroep, nóg blank nóg swart. Op ’n soortgelyke manier is Kaaps ’n tussentaal, ’n mengeltaal, wat nóg Afrikaans nóg Engels is.”

En daar het julle dit, en nie soos die ander wat by verstek wegskram van wat hulle eintlik bedoel nie. So hierdie sogenaamde taaldebat of taalstryd gaan eintlik net oor die red van ’n sekere soort Afrikaans: die sogenaamde standaard-een wat hier as norm bo ander inheemse tale en variëteite verhef word as dié een met hoër intellektuele, kulturele en literêre funksies. So gesalf deur die akademiese adelstand. Of durf ek waag, die middelklas, vir wie hierdie reddingstog, van die akademie en Breyten Breytenbach se koei-in-die-bos-hagiograwe tot Leon Lemmer se Praag, eintlik by verstek deur parogiale eiebelang gestu word.

So daardie gesogte plattelandse kind of werkersklasstudent net anderkant ons taalhorison is eintlik nog net ’n hersenskim. Stemlose abstraksies in steriele beleid en teoretiese diskoers. Oor hulle en vir hulle, maar gans te eieregtig namens hulle.

Proletêr en mens?

Soe waa is hulle?

Hoeko hoo ôs hulle nie? 

Want ôs issie daa waa hulle regtag gehoo kan wôdtie. Daa waa hulle vry whieties vi hulleself en oo hulleself. Daa waa hulle oorie toekoms in hulle eie soot Afrikaans droem. Maa oek daa waa hulle ma’s en pa’s vi hulle sê Ingels issie tiekit na ’n mirrelklas jerusalem. 

En dan wil ôs nog oppie selfde tieket ôs mirrelklas Afrikaans aan húlle vekoep? G’n wonne hulle voel soe klein soes daai Mitchells Plain-student wat uit banggeid Ingels met professor Botman gedowwel het ommat hy skaam is vi sy Kaaps?

En dáá lêrie ding. Afrikaans leef werklik in al sy bokkem-en-biltong-variëteite volwaardig daar in die werkersklaslewensruimtes van onse platteland- en agterstraatkind. Wat ook al sy taal of omgangsvariëteit, dis daar waar sy moedertaalstem op skool as voertaal moet geld. Teen sy ouers se wanpersepsies oor Engels se meerderwaardigheid. En veral teen ons middelklas meerderwaardige drogredenasies oor sogenaamde Standaardafrikaans.

So hoe nou hier by Universiteit Stellenbosch, wat reeds vanaf 1 Januarie 2017 ’n meertalige beleid volg wat Afrikaans, Engels en Xhosa akkommodeer? 

Die Universiteit van Ottawa se tweetalige opsie? 

Aparte enkeltalige universiteite soos in Leuven, Vlaandere? 

Of wat ook al oplossing daar gewoonlik buite Afrika as maatstaf na gesoek word? 

Enkelmedium, parallelmedium of dubbelmedium? Jirre, dit klink omtrent soos die arsenaal van ’n gewapende taalstryd. Litigasiedwepers, konvokasie-onmin, teoretiese papierstorms? Dit laat my dink aan professor Erwin Schwella se stelling oor die soms onwrikbaarheid van akademiese twis: “We fight so hard because so little is at stake.”

Inderdaad, wat ’n bietere toekoms vir Afrikaans in al sy variëteite en meertaligheid betref, much more is at stake out there than in here, my taalgazi’s. Soes ôs soms oppie vlaktes sê as ôs jou uitdaag: “Kom pad toe.” 

Soos my ma en anties in Elsiesrivier en Tiervlei in die tyd van sinkkrale en stofstrate daarmee bedoel het, was dit ’n uitnodiging om buite jou djaart of kamp te beweeg na die middelgrond om ’n probleem aan te spreek. En nie verskans van binne kampe nie.

In hierdie konteks anders gestel: Kom uit jou parogiale Universiteit Stellenbosch-djaart van die kleiner ons, en sluit aan by die groter ons op die breër pad.

Tyd om te mobiliseer daar waar dit saak maak, onder die werkersklas in die stad en platteland met al hul tale en variëteite. Ons durf nie deur taalerosie hulle laat ontstem nie. Kom pad toe.

Kom pad toe vir mevrou Nontrose Konile van Indwe, wie se pyn oor haar seun Zabonke se moord deur die veiligheidspolisie in die Gugulethu 7-insident van 3 Maart 1986, na 20 jaar in November 1996 by die Waarheid-en-versoeningskommissie nie soos sy dit verwoord en verbeeld, sinvol vertaal kon word nie. Kom pad toe.

Kom pad toe vir Brad Steyn, ’n Afrikaner wie se skoonbroer John Bosman in ’n plaasaanval op 2 Oktober 2018 in Mpumalanga vermoor was. Hy het geweier om sy pyn in kleingeestige haatspraak te verwoord en het dié wat dit gedoen het, sterk aangespreek.

Kom pad toe vir die dapper Lovelyn Nwadeyi, die eerste swart vrou wat hierdie Konvokasie in 2016 toegespreek het, en nie doekies omgedraai het nie toe sy verklaar:

Dat ons nie vir ander mense die respek gee wat ons eie taal vir ons leer om te doen nie, wys vir my dat waar ons die geleentheid het, sal ons taal gebruik om mag oor ander uit te oefen.

Kom pad toe teen dié wat taal so misbruik.

Kom pad toe vir die skooltasdraers van Lutzville, waar taal wel so misbruik word. Waar ek eendag gesien het hoe sommige leerders van die plaaslike hoërskool hul oppasters wie oud genoeg is om hulle oumas te wees, op voornaam hiet en gebied sonder ’n asseblief of dankie. Kom pad toe, want sy ís uiteraard die ouma van ons gesogte plattelandkind sonder wie die taal nie sal voortleef nie.

Kom pad toe en stry teen die dweepsug van kleinburgerlike taalpolitiek oor die toekoms van alle inheemse tale.

Kom pad toe, my ma se kinnes.

Maar waar is hierdie pad? wonder jy seker.

Wel, jy moet dit maar self gaan soek, want dis beslis nie op Google Maps nie.

En as jy dit nie vind nie, bou een.

 

Lees ook

US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos

US-konvokasie 2016: Courage, Compassion and Complexity - Reflections on the new Matieland and South Africa

'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

 

  • 4

Kommentaar

  • Lekker deurmekaar geskrywery, maar bietjie rigtingloos. Wonder of Klein Piet van destyds Piet Croucamp was😀

  • Kaaps is een van vele skeppende Afrikaanse "dialekte" in ons land, en elkeen verdien ons respek. Dit raak die praters se menswaardigheid en is ook deel van ’n skeppende proses: die insigte en humor wat dit dikwels onderlê maak Afrikaans lewendig en opwindend. Afrikaans as `n kennistaal kan egter nie altyd so bokspring in `n lesingsaal nie want dit sal kennisoordrag bemoeilik, en selfs verwarrend maak. Stellenbosch se "idee" was nie net Afrikaans nie, maar die ontwikkeling van sy diensgemeenskap: Afrikaans was hier `n middel tot `n doel omdat opvoeding wat karakter-bou (anders as opleiding) kultureel-gedrewe is ... Taal is die siel van `n kultuur. Dit is jammer dat my Alma Mater nou die kluts so kwyt geraak het. Daar is groot ontwikkelingswerk te doen by die oorgrote meerderheid van US se eintlike diensgemeenskap van Afrikaansprekendes wat vandag vasgevang is in `n erge bestaanskrisis. Ek het Jeremy se voordrag geniet. Onderliggend het hy `n sterk boodskap gehad - dws, as jy net die gevoelente kon kry!

  • Leopold Scholtz
    Leopold Scholtz

    Jeremy, ek is seker maar baie dom, want ek kon nie agterkom presies wat jy probeer sê nie. Wil jy nie maar weer probeer vir ons gewone mense nie? Seblief, man.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top