Die US draai sy rug op Afrikaans as doseertaal

  • 17

Hermann Giliomee

Op 13 September is dit D-dag vir Afrikaans as onderrigtaal op universiteitsvlak. Op die hierdie dag dien die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US), waarin Engels die oorheersende plek beklee, voor die Konstitusionele Hof. Gaan die uitspraak teen Afrikaans, dan bly van die 37 kampusse in die land net die NWU (Potchefstroomkampus) oor waar ’n student sy of haar voorgraadse studie in Afrikaans kan doen.

Dit is in hierdie bewoë tye dat Matieland se Eeufeesuitgawe US-alumni bereik het. Voorin is daar ’n boodskap van die rektor, Wim de Villiers, onder die opskrif “Saam vorentoe”. ’n Mens sou verwag het dat hy ’n ewewigtige besinning sou bied van wat die US in sy eerste eeu tot stand gebring het. Daar is egter net enkele kursoriese opmerkings, waarvan die strekking hoofsaaklik negatief is.

De Villiers skryf: “Maties het as ’n ‘volksuniversiteit’ begin. Dit was die ‘idee’ waarvoor Stellenbosch destyds gestaan het – opheffing deur hoër onderwys, maar net vir sommiges, nie vir almal nie. Hierdie idee was duidelik te eng. Dit beteken egter nie ons is teen Afrikaans nie. Afrikaans is een van ons onderrigtale – maar om grondige pedagogiese redes, nie aangevuur deur ideologie of etniese identiteit nie.”

Die rektor trap hier kwaai klei. Hy verkrag die belangrikste beginsel van omgaan met die geskiedenis, naamlik om elke handeling binne die raamwerk van die tyd waarin dit plaasgevind het, te beoordeel.

Die Unie-grondwet van 1909 het voorsiening gemaak vir die effektiewe gelykheid van die twee amptelike tale. Aanvanklik was dit egter net regte op papier. By die ekonomies dominante Engelse gemeenskap was daar die sterk verwagting dat Engels gou Hollands of Afrikaans as openbare taal sou verdring. Soos ’n waarnemer dit destyds gestel het: “English methods and the English language are bound increasingly to win their way and permeate the whole structure of society.”

Na Uniewording in 1910 was die staat se finansiële vermoë so gebrekkig dat dit slegs een selfstandige universiteit sou kon oprig, en selfs dan het dit nog ruim steun van die private sektor benodig. Die Botha-regering het begin met ’n plan om die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad te omvorm tot die Universiteit van Kaapstad (UK).

In die gees van die Grondwet se bepalings dat twee amptelike tale gelyke status op verskeie gebiede moes geniet, wou FS Malan, die minister van onderwys, hê dat sowel Engels as Hollands as voertale by die te stigte UK gebruik word. Die mynmagnate wat bereid was om ’n groot borgskap te gee, wou niks daarvan weet dat Hollands ook as voertaal gebruik word nie. Hulle wou hê dat die nuwe instelling hoëgehalte Engelstalige akademici veral van die buiteland moes kan trek. Klink vandag nogal bekend.

’n Mens wonder wat die rektor bedoel as hy skryf dat die besluit van die US na sy totstandkoming in 1918 om nie Engels as voertaal te gebruik nie, “te eng” was. Teen 1915 het slegs 15% van die Afrikaanse kinders verder as standerd 5 gevorder en net 4% was vlot in Engels.

Dit is tog heeltemal naïef om te dink dat Engels aan die US as een van die voertale ingevoer kon word sonder dat Hollands en Afrikaans verdring sou word.

In 1915 het CJ Langenhoven hierdie satiriese gedig geskryf oor Afrikaners wat ’n “vreedsame saambestaan” van Hollands met Engels bepleit:

Vriende, laat ons vrede maak en vrede hou
laat die leo [leeu] en die lam saam wei
die lam op die gras en die leo op die lam
julle kan die leo wees en ik sal die lam wees
dan sal ik weldra ook deel van die leo uitmaak
dit sal die lam tot eer strek en die leo tot genot.

Die rektor verseker oud-Maties dat hy of die US nie teen Afrikaans is nie en vervolg dan: “Afrikaans is een van ons onderrigtale – maar om grondige pedagogiese redes, nie aangevuur deur ideologie en etniese identiteit nie.”

Dit lyk of die rektor onbewus is van die konsensus in die literatuur oor taalverplasing dat ’n kleiner taal hom nie kan handhaaf teen ’n wêreldtaal soos Engels sonder dat sprekers van die kleiner taal dit as deel van hul sosiale identiteit beskou nie.

In Language endangerment and language maintenance (Routledge 2002) verwoord Stephen Wurm die ysterwet van taalbehoud soos volg: “One of the most important factors for the maintenance and reinvigoration of a threatened language is the attitude of speakers towards their own language and the importance they attach to it as a major symbol of their identity.”

Ek weet ook nie wat die rektor bedoel met die woorde dat die US nie “aangevuur” moet wees deur “ideologie” nie. (Ek dink onwillekeurig aan die gesegde: “Jou ideologie is soos jou asem; jy kan dit nie ruik nie.”)

Hoe lyk ’n universiteit sonder ’n ideologie? Wil die rektor daarmee sê dat ’n buur-universiteit soos die UK nie ook aangevuur is deur ’n ideologie nie? In die US se Eeufees-gedenkboek skryf Bill Nasson, ’n gevierde historikus wat aan sowel die US as die UK verbonde was, dat die UK nooit werklik gedrewe was deur ’n aandrang op rasse-integrasie nie, maar eerder deur ’n “anti-Nationalist feeling” wat hom in staat gestel het om hom by die sogenaamde “besieged anti-apartheid front” te posisioneer.

Wat my die meeste verbaas van die rektor se oorsig van die US se eerste eeu, is dat daar geen enkele woord is oor wat beskou kan word as die US se grootste prestasie in sy eerste eeu nie, naamlik sy teenstand teen die Britse imperiale ideologie deur die opbou van ’n eie, inheemse intellektuele tradisie.

In 1918 het JFW Grosskopf in die Gedenkboek van Victoria Kollege geskryf dat die US op hoogte moet bly van die gemeenskaplike intellektuele erfenis van die mensdom. Terselfdertyd moet hy egter daarteen waak dat hy dit wat internasionaal is, tot die hoogste goed verhef ten koste van dit ten opsigte waarvan Suid-Afrika uniek is.

Een van die US se mees besondere bydraes is sy samewerking aan die ontwikkeling van Afrikaans as literêre en universiteitstaal. Die Duitse geleerde Heinz Kloss het hierdie ontwikkeling so verwoord: “In die hele wêreld is Afrikaans die enigste nie-Europese/nie-Asiatiese taal wat volle universiteitstatus verwerf het en gebruik word in al die vertakkinge van die lewe en die wêreld van geleerdheid.”

Dit was nie net universele kennis wat deur middel van Afrikaans verinheems is nie; daar is ook spesifieke aspekte wat uit die kontinent van Europa ontleen is wat in Afrikaanse universiteite opgeneem en uitgebou is. Ek dink hier veral aan die Romeins-Hollandse reg en die Hollandse/Duitse tradisie van geskiedskrywing gebaseer op primêre bronne en die strewe daarna om uit te vind “wie es eigenlich gewesen [war]”.

In 2017 het Mahmood Mamdani, een van Afrika se mees gerekende intellektuele, gesê dat die universiteite elders in Afrika geen spesifieke akademiese tradisie verteenwoordig nie. Die enigste uitsondering is die Afrikaanse universiteite wat Afrikaans tot die draer van ’n eie intellektuele tradisie omvorm het.

Die rektor praat daarvan die US “wil bly voorsien in die groot behoefte aan Afrikaans”, maar hy noem betekenisvol geen enkele syfer om die Afrikaanse aanbod te omskryf nie. My inligting is dat daar in die Fakulteit Lettere geen Afrikaans in departemente soos Geskiedenis, Sosiologie, Politieke wetenskap en Sosiale antropologie gebruik word nie. In die Fakulteit Regte is Afrikaans feitlik afwesig.

Eerder as om ’n “volksuniversiteit” te wees wat kultuuroordrag as ’n belangrike funksie beskou, wil die rektor, in sy eie woorde, van die US ’n “wêreldklas-universiteit” maak. Die dolle strewe om op die wêreldranglyste te klim is een van die belangrikste redes waarom die US so vinnig verengels het. Dosente is by hul aanstelling onder geen verpligting geplaas om in Afrikaans vaardig te word nie.

Die poging om op die ranglyste te styg het futiel geblyk te wees. Die internasionale Sentrum vir Wêrelduniversiteitsrangordes, wat rangordes vir 1 000 universiteite aandui, toon dat die US van 330ste (derde in Suid-Afrika) in 2017 na 448ste (vyfde in Suid-Afrika) in 2018 gedaal het.

Philip Altbach en Ellen Hazelkorn, twee kenners van die Westerse universiteitswese, rig hierdie waarskuwing: “Die rangordestelsel verdraai die ware funksie van die universiteit: naamlik om daardie kennis en vaardighede aan gegradueerdes oor te dra wat hulle in die gemeenskappe gaan benodig wat hulle eendag sal dien.”

Die Afrikaanssprekende gemeenskap in die Wes-Kaap, wat meer as die helfte van die mense in die provinsie vorm, benodig ’n universiteit waarin studente opgelei word in die taal waarin hulle eendag hierdie gemeenskap kan bedien. Dit geld veral vir die opleiding van onderwysers en regspraktisyns.

Toe die US in 2017 sy taalbeleid hersien het, het die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, wat saam met die Suid-Afrikaanse Onderwysunie die mees verteenwoordigende liggaam in Afrikaanse onderwys is, ’n memorandum ingedien. Dit verklaar: “Ons lede is eenparig ten gunste van die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal aan die US. Dit beteken dat die gebruik van Afrikaans nie op enige wyse aan die US verskraal moet word nie. Die US behoort tersiêre onderrig in Afrikaans voortdurend te bevorder en te ontwikkel.”

Die US se Bestuur en Raad het hierdie beroep geïgnoreer en verbreek daarmee eensydig ’n kontrak van ’n eeu oud om ’n bepaalde diens te lewer.

Dit was veral die bruin Afrikaanse gemeenskap vir wie die US in die steek laat deur nie onderrig in Afrikaans te gee nie. In 2013 het die Raad op Hoër Onderwys ʼn studie van stapel gestuur om die suksessyfer van die verskillende bevolkingsgroepe wat gedurende 1970 tot 2010 vir B-grade ingeskryf was, te bepaal. Die persentasie wit en Indiërstudente aan wie B-grade toegeken is, het van 18% tot 29% gestyg. Die syfer vir swartes het van 11% tot 9% gedaal, en dié vir bruin studente het van 10% in 1970 tot 6% in 2010 gedaal.

Daar is aanduidings dat die prestasie van laasgenoemde groep besig is om verder te daal. Hierdie syfers onderskryf die belangrikheid van moedertaalonderrig. Desperate remediërende maatreëls word benodig, en dit begin by die medium van onderrig.

Die oplossing is dat die US ʼn vaste Afrikaansmedium- en ʼn vaste Engelsmediumstroom instel en die fasiliteite vir 10 of 12 uur elke weeksdag gebruik. Daar is bereken dat dit 4% van die begroting sal kos. Of die Bestuur en Raad hierdie weg sal volg, is twyfelagtig. Die US het 15 jaar lank bloot die maklikste uitweg gevolg.

Daar is ook ’n ander woord vir die US se optrede waarmee ek my volkome vereenselwig. Dit is die woord van Koos Bekker, nou voorsitter van Naspers, wat op 26 Oktober 2005 in Die Burger geskryf het: “As Stellenbosch sou verengels, kies die universiteit die pad van papbroekigheid.”

 

  • Hermann Giliomee is ’n geskiedskrywer wat aan die US opgelei is.

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

  • 17

Kommentaar

  • So what as dit verengels? Hoekom stig ons nie ons eie private volksuniversiteite nie? Laat Maties dan maar verengels.

  • . Riana de Beer

    Baie dankie vir 'n oorwoë, gekontekstualiseerde meningsartikel. 'n Mens sou regtig verwag dat akademici wat beleidsbesluite moet neem, hul sou vergewis van die groot aanbod oor die belang van moedertaalonderrig en die positiewe opvoedkundige resultate daarvan wat to die doel is van uitkomsgebaseerde onderrig. Wat 'n tragedie dat dit nie gebeur nie.

  • Gerrie Heydenrych

    The sin of apartheid that is all that needs to be answered. But the English emperialistic stand is in an even worse condition. So stop crying over spilt milk. It’s over. Now try your best to live as peaceable minorities.

  • Dr D P van Velden

    Ons kan dit nie bekostig dat Afrikaans as kultuurskat en onderrigmedium verlore gaan nie!

  • Johnnes Comestor

    Die US, eintlik die US-bestuur, is deesdae glo nie teen Afrikaans nie. Dit is darem 'n uiters pap formulering. Is hierdie bestuur "aangevuur" om Afrikaans te bevorder? Is die US "te eng" om, soos voorheen, Afrikanerbelange te bevorder? Daar moet nie bloot 'n "vaste Afrikaansmedium en 'n vaste Engelsmediumstroom" wees nie. Ingevolge Jan Marais se stigtingsvoorwaarde mag die Afrikaansstroom, voor- en nagraads, nie kleiner of swakker as die Engelsstroom wees nie.

  • Nicholas Kruger

    Afrikanernasionaliste het self die graf gegrawe, daar kan nie nou verwag word dat dit ongevul gelaat gaan word nie. Die toekoms was lankal reeds ingeboet.

  • Ek verwonder myself aan prof Gilliomee se skrywe oor die US se pragmatiese taalbeleid. Met globalisering en toenemende verengelsing van ons gemeenskappe is dit net 'n logiese uitvloeisel dat US moet verengels! Hou by moedertaalonderrig op skoolvlak en hou by Engels op tersiêre vlak? Afrikaans sal nooit uitsterf nie, maar onthou, dit is nie die besitting van SG Afrikaners alleen nie! Hou op kerm asseblief?

  • Dis ondenkbaar dat die Wes-Kaap geen universiteit kan hê met Afrikaans as betekenisvolle onderrigtaal nie terwyl Afrikaans een van die amptelike tale van die provinsiale regering is.

  • Exactly right. Many Afrikaners are struggling to behave like a minority. Decades of power have made them reluctant to adjust to a lesser role.

  • francois verster

    Ons behoort tussen taal en politiek te kan onderskei. Duidelik kan meeste mense nie. Latyn, Duits, Engels, Chinees, Japanees, ens behoort ook uitgewis te word as politieke albatrosse daaroor sou hang. En dan word Afrikaners gereeld van Schadefreude beskuldig! ... Maar hier is die kern van die beskuitjie: die Afrikaner sterf demografies gesproke uit, sodat verwag word dat daar baie min sal oorbly oor 50 jaar. So wie gaan dan nog Afrikaans praat?

  • 'n Mens moet dit in gedagte hou dat 'n universiteit sy spesifieke gemeenskap ten beste sal bedien.

    Ek is nie 'n demograaf nie, maar ek glo die oorgrote meerderheid wit en bruin gemeenskappe van die WK se bevolking se huistaal is Afrikaans.

  • Ek stem saam met jou Felix, daar slaan jy die spyker op sy kop, dankie!
    Baie van die Kaapse Afrikaners ("The Queens loyal Afrikaners") wat so luidrugtig, TROTS en vurig die saak vir Afrikaans gedra het onder die NP bewind en daarna is nou blykbaar op 'n dweperige en apatiese (geklee in vals-verwarde, verwronge en naïewe idealisme en selfverwyting - waarvoor?-) wyse; te skaam en self-kastydend om hul koppe op te tel vir hul taal en te sê: genoeg is genoeg; nou maak ons 'n plan!
    En dit terwyl die Afrikaners in die binneland via Solidariteit se wêreldklas privaat Afrikaanse universiteit, Akademia, en andere instellings soos Aros en die APA en hopelik nog meer, die fakkel hoog laat vlam vir ons dierbare taal se toekoms as uitmuntende taal van instruksie!
    Tot tyd en wyl die Kaapse Afrikaanses wakker skrik en hul EIE privaat Afrikaanse universiteit(e) van wêreldgehalte stig soos die binnelandse Afrikaners; kan hul regtig nie kla nie!
    Wanneer gaan hulle ophou soog aan die onderduimse sog wat staatsinstellings nou geword het, wat geen geduld daarmee het dat hulle beide Afrikaans en Suid-Afrikaans op staatskampusse kan wees nie, en met 'n uiters afkeurende en vyandige blik hul teësinnig gedoog? Naïwiteit sal nie deug nie maar om die feite in die gesig te staar en iets te doen daaraan vereis 'n ruggraat!
    Afrikaans is op die wenpad, en volg die duidelike wegbeweging van staatsinstellings, en beweging na privaat universiteitswese, met ons geliefde Privaat Afrikaanse universiteit Akademia.
    Die vraag is; wanneer o wanneer gaan die Kapenaars wakker skrik en dieselfde doen?
    Om 'n minderheid te wees, beteken nie jy moet omval en sê: loop maar oor my nie! Inteendeel, jy moet veg en die wat op apatiese en ongeërgde wyse ons wonderlike pogings sleg maak om ons GELIEFDE TAAL uit te bou en te ontwikkel, moet eerder iets positiefs probeer bydra.
    Een ding is gewis, ons en ons taal gaan nêrens heen nie, ons sal veg daarvoor saam met ons bruin broers en susters wat ook so voel oor hul taal, en nie net tevrede is dat hul taal, wat 'n wonderwerk in werking is, soos soveel vloerlappe weg gewerp en verwaarloos word nie!
    Ek Lief my Taal Afrikaans en in 2030 gaan Afrikaans net gegroei het, hoe dan anders met sulke passievolle mense!
    My taal Afrikaans het niemand nog ooit skade aangedoen nie en ek weier soos soveel andere om my te onderwerp aan vyandigheid teenoor my kultuur en taal; geklee in die versinsel (wapen) dat Afrikaans iemand ooit enige iets aan gedoen het!

  • Die wat beweer Afrikaners sterf demografies gesproke uit het duidelik nie Afriforum se verslag jeens die Afrikaners se groei en demografiese toekoms onder hande gehad nie. Jammer, maar indien jy nie bereid is om te baklei nie moet jy eerder nie verskonings daarvoor soek wat nie opgaan nie.

    Proporsioneel verstadig ons groei teenoor ander elemente van die bevolking en kan daar nie eers vergelykings getref word nie; maar dit beteken geensins die Afrikaner sal nie vasstaan oor 10, of 30 jaar nie.

    Afrikaans bo!

  • Wag en kyk, Afrikaans is op sy HEEL STERKSTE as hy onder druk verkeer.
    So saam-saam hand om die skouer met ons coloured familie en ons stamgenote in Europa - waar die passie vir Afrikaans aansteeklik is! - gaan ons sorg dat Afrikaans ’n goue tydperk betree!
    Daar is nie meer, soos tydens die kulturele boikotte ’n afstandelikheid, vervreemdheid en nukkerigheid te bespeur tussen ons Afrikaanses en VERAL die Vlaminge nie ( bv.- Daniël Hugo vertaal boeke (meesterstukke - " Oorlog en terpentyn was die pragtigste, aangrypendste en nostalgiese - vervul met leedwese en die prag en hartseer van die lewe - roman wat ek al ooit gelees het) deur Vaamse skrywers dat die ink spat!) maar word ons tans, en wat die toekoms betref , GEBIND deur ’n gesamentlike toekomsvisie betreffende geleenthede, groei, wedersydse respek en die besef dat ons soveel het om bymekaar te leer en dat daar soveel maniere is waarop beide die "Nederlands " wat in België (Vlaandere), Nederland, Suid-Afrika en Suriname gepraat word, kan baat! Die besef glo ek het nou stelselmatig ( in ’n groter mate hier en meer indringend agv vyandigheid vanaf owerheidsweë af) by ons almal begin posvat dat ons gebind is deur ’n gemeenskaplike en onbreekbare band! Om een voorbeeld te noem: dit neem glad nie ’n groot poging om Vlaamse ( en ook Nederlandse) artikels op die web te lees nie , en is dit "tweede natuur ". Ek postuleer dat daar nog ’n ontwikkelings- en volhoubaarheidsbaan vir Afrikaans (en gaan dinge fantasties begin raak wanneer ons Afrikaanse kinders eers op groot skaal via uitgewerkte en volhoubare programme by wêreldklas universiteite soos Gent en andere begin studeer) via ons stamlande gaan ontstaan en dat dit uiters suksesvol sal wees. Dit sal ’n wen-wen situasie vir almal en veral die Nederlandse taalfamilie wees! In dieselfde asem, sal Dit niks minder as skandalig wees- dat ons as't ware gedwing word daartoe- maar nou ja...
    Kom ons neem hierdie oënskynlike kopseer en draai dit om in ’n hengse geleentheid.

  • Johnnes Comestor

    Ek het nie beswaar as daar private universiteite naas openbare universiteite bestaan nie, omdat hulle vryer van staatsinmenging kan wees. Wat my grief, is dat ons as Afrikaanssprekende belastingbetalers die openbare universiteite subsidieer maar ons daar al hoe minder die voordeel van onderrig deur die medium van Afrikaans geniet. Wat erger is, is dat die vernietiging van Afrikaans aan die eens Afrikaanse universiteite in groot mate weens die misplaaste ywer van Afrikaanssprekendes plaasgevind het. Daarom ondersteun ek bv Gelyke Kanse se poging om die onverkwiklike situasie aan die Universiteit Stellenbosch om te keer. Dit is darem ook verregaande as Afrikaanssprekende studente hulle tot buitelandse universiteite, bv in die Lae Lande, moet wend om onderrig in Nederlands of Vlaams pleks van Afrikaans te ontvang. Bitter min Suid-Afrikaners sal dit kan bekostig. Voorheen was hoogs bekostigbare onderrig van hoë akademiese gehalte in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) beskikbaar. Tans is daardie onderrig nóg danig bekostigbaar, nóg in Afrikaans en dikwels nie meer van hoë akademiese gehalte nie. Grootskaalse administratiewe ondoeltreffendheid het ook ingetree. 'n Radikaal hergetransvormeerde, nie-geresidensialiseerde Unisa is noodsaaklik. Dit kan die druk op die residensiële universiteite verlig en weer op 'n uiters praktiese manier tersiêre onderrig vir almal met matriekulasievrystelling moontlik maak.

  • Hoe het ons (dit sluit die universiteite, skole, hospitale, munisipaliteite in maar VERAL wat betref die universiteite) in hierdie gemors beland? Daar MOES 'n vyfde kolonne gewees het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top