My jaar van vrees en vryheid: ’n onderhoud met Marita van der Vyver

  • 1

Titel: My jaar van vrees en vryheid
Skrywer: Marita van der Vyver
Uitgewer: Tafelberg (Augustus, 2025)
ISBN: 9780624095682
Epub ISBN: 9780624095699

Marita van der Vyver het aanvanklik rubrieke op LitNet oor haar en haar man se reisjaar geskryf en dit het ’n paar jaar gelede verskyn. Haar "’n Swerfjaar vir seniors"-rubrieke op LitNet was die wegspringpunt vir die boek My jaar van vrees en vryheid. Die foto’s wat tussendeur hierdie onderhoudsvrae en -antwoorde verskyn, is oorspronklik in hierdie LitNet-rubrieke gepubliseer.

Marita van der Vyver praat met Naomi Meyer oor Marita se jongste boek, My jaar van vrees en vryheid

Ons twee huislose swerwers (foto verskaf deur Marita van der Vyver)

Marita, baie geluk met My jaar van vrees en vryheid. Daar is dalk jare wat mens so sou kon verpak, maar ek glo nie die verhaal van baie mense wat hulle jaar as sodanig beskryf se jare sal heeltemal ooreenstem met jou unieke storie nie. Jou boek handel oor die jaar wat jy en jou man noodgedwonge op reis was omdat julle huis in Frankryk verkoop moes word. Ek is vertroud met die inhoud van hierdie boek omdat ek die rubrieke op LitNet gelees het wat jy daaroor geskryf het, maar kom ek verklap aan jou: Daar was aspekte van jou boek wat my verbaas en verras het. Ek begin met die aspek van reis op ’n ouer ouderdom. Lekker om af te tree, lekker om te kan rondreis op al die plekke waar mens nog nie orals was nie. Of hoe? Vertel asseblief van jou eie ervaring om as ouer reisiger die pad aan te durf. Begin dus by ouderdom.

So bly jy was verras en verbaas, want ek wou nie ’n boek skep wat bloot ’n sameflansing van reeds geskrewe rubrieke is nie. Ek het hierdie reisrubrieke vir LitNet (asook stories vir Daily Maverick, Vrye Weekblad en Sarie) gebruik as hoekstene waarop ek die res van die boek kon bou. En terwyl ek aan die boek gewerk het, kon ek terugkyk op die reis, eerder as om net blitsige bewegende kommentaar te lewer. Ek hoop dus die boek het albei hierdie elemente wat ’n reisstorie in my oë begeerlik maak: die aksie van onmiddellikheid én die betragtende wyer blik.

Wat ouderdom betref: Dit kom ongelukkig saam met vrees. Almal is dapper op 18, en dis hoekom dit die ideale ouderdom is vir soldate wat slagveld toe gestuur word, maar hoe ouer ons word, hoe banger word ons. Die uitdaging is om hierdie vrees te leer hanteer en by ’n mate van vryheid uit te kom.

Die groot huis met die fontein waar ek langer as in enige ander huis in my lewe gewoon het (foto: Marita van der Vyver)

Kom ons praat oor ruimte en verlies van ’n huis. Dis vreesaanjaend! Wat het jy die meeste gemis van om ’n huis te hê waar julle kon bly? Wat van praktiese kwessies: slaapplek, plek om kos te maak, ’n persoonlike badkamer. Wat was die ergste om te verloor?

Ek het ’n hele hoofstuk geskryf oor hoe moeilik dit is om afskeid te neem van ’n skeef-en-krom vyeboom wat jy self geplant het. Daardie drie pers vye wat ek as padkos ingepak het, is seker ook ’n metafoor vir al die vrugtebome en struike wat ek op ’n dor en klipperige stuk grond aan die groei gekry het. Vir die eerste keer in my lewe het ek ’n tuin uit niks geskep (daar was net klippe en teer en onkruid toe ons die groot en vervalle huis gekoop het) en om daardie tuin ná 12 jaar te groet, het amper my hart gebreek.

Terwyl ons gereis het, was dit my ruim kombuis met die Frida Kahlo-blou mure wat ek bly mis het. Weer eens die eerste keer in my lewe dat ek ’n kombuis uit niks kon skep om my eie behoeftes te pas. (Daar was slegs ’n wasbak en ’n klompie wit teëls teen een muur toe ons die huis gekoop het.) Ek het geweet ek sou nooit weer so ’n groot en goed toegeruste kombuis kry nie.

Die oorlaaide Kangoo op die oggend van ons vertrek (foto: Marita van der Vyver)

Jy het op RSG met Ilse Salzwedel gepraat oor wat ’n droom so ’n reis vir jou was. ’n Onmoontlike droom. En toe julle die huis verloor? Was dit ’n droom of ’n nagmerrie, die eerste gedagtes oor die reis wat moes wees? Vertel gou van die eerste rukkie reis.

Dit was ’n droom wat baie maklik in ’n nagmerrie kon verander – soos enige droom? Daardie eerste weke het amper onwerklik gevoel. Alles kon so verskriklik skeefloop. My man se depressie wat kon terugkeer, ons verhouding wat kon sink vanweë die gedwonge samesyn 24 uur per dag, al die skete en kwale van ouderdom wat ons kon tref, ons kinders en geliefdes wat iets kon oorkom terwyl ons onbereikbaar ver was ...

Waar ons die eerste oggend ná ons vertrek wakker geword het – die dorpie St Roman de Malegarde in die Vaucluse-streek, waar ek 25 jaar gelede gedurende ’n vorige swerfjaar vir Alain ontmoet het (foto: Marita van der Vyver)

Jou verhouding met jou man. En sy depressie en verslawing en die agtergrond daarvan: Jy verduidelik dat jy sy toestemming gevra het. Dis wonderlik. Dit sê ook iets van julle verhouding. Dat julle openhartig daaroor kon praat en dat jy nie namens hom sy storie skryf nie. Hoe beïnvloed so ’n lang reis ’n mens se verhouding – is dit ooit moontlik om die vraag te beantwoord?

Ek het nog nooit voorheen oor my man se verslawing geskryf nie, want ja, dis sý storie om te vertel. Maar ek kon nie óns storie in hierdie boek vertel sonder om ook oor die impak van sy verslawing te bieg nie. Ek hét probeer – in die eerste weergawe het ek oor sy depressie geskryf, maar die verslawing uitgelaat, en dit het oneerlik gevoel. Daar het iets makeer wat ’n slim leser sou aanvoel. Dis toe ek my uitgewer laat weet het ek gaan so eerlik as moontlik skryf, op voorwaarde dat Alain die Engelse vertaling vóór publikasie kan lees – en as enige sin of frase hom pla, wil ek dit verwyder. Dis hoe ons dit gedoen het, en tot my verligting het hy nie gevra dat ek ’n enkele woord verander nie. Ná hierdie 15 maande van adresloos swerf is ons verhouding waarskynlik sterk genoeg om ’n kernoorlog te oorleef. Of so spot ons graag.

Op een van ons verdwaalpaaie langs ’n veld met Limousinbeeste tussen nêrens en êrens (foto: Marita van der Vyver)

Skryf as mens gewoond is aan alleen skryftyd hê. Kyk of julle van die krans af spring en in water land – kan jy glo julle het dit reggekry? Hoe voel julle albei terugskouend daaroor?

Lucky, dis hoe ons voel. Getref deur genade. Hoewel ons ook die woorde van daardie Amerikaanse sportafrigter onthou wat ek in die boek aanhaal: “Things turn out best for the people who make the best of the way things turn out.”

Lapalisse met die adelheer La Palice se kasteel (foto: Marita van der Vyver)

Interessant dat jy begín met vrees en dán eers uitkom by vryheid. Watter ander emosies beleef mens op so ’n lang reis, as dit moontlik is om te grawe en te onthou wat uitstaan: oorweldig wees, verrassings, negatiewe emosies, ontnugtering?

Elke emosie wat mens moontlik in 15 maande kan ervaar, het ons ervaar – maar meer intens, soos sweefstokkunstenaars sonder ’n veiligheidsnet. Die oomblikke van geluk voel ekstaties, die oomblikke van wanhoop voel rêrig wanhopig. Gelukkig was daar baie meer hoop as wanhoop gedurende die swerftog.

Lac Léman, Lausanne, waar ek op ’n lieflike herfsdag kon swem (foto: Marita van der Vyver)

Hoogtepunte van wat julle gesien en beleef het – dis mos ook anders as om iets die eerste keer te sien. Net so opwindend? Waaraan meet mens dit – hoe iets jou affekteer? En ja, baie anders om te moet praat oor hoogtepunte van ’n 15 dae lange reis teen oor ’n 15 maande lange reis. Noem vyf hoogte- óf laagtepunte.

Soos ek in vorige onderhoude gesê het, as jy my môre vra, gaan ek ander hoogte- of laagtepunte noem. Dit verander elke keer as ek terugdink. Vandag, kort ná Kersfees, onthou ek die kortste Kersdag met die slegste Kerskos van my lewe as laagtepunt, toe ons op Kersdag van San Francisco dwarsoor vier tydsones tot in North Carolina gevlieg het. Want Kersdag is die goedkoopste dag om te vlieg – almal wil eerder by geliefdes wees as om te reis, en ons was in elk geval te ver van ons geliefdes om saam met hulle te wees. 

Ons reise in Greyhound-busse deur die suide van Amerika kon maklik in laagtepunte ontaard het, maar dit was telkens vir ons ’n fassinerende, soms absurde, soms werklik snaakse ervaring wat ons vir niks sou wou misgeloop het nie.

En vandag se hoogtepunt is daardie Oukersaand-singery in San Francisco se Grace Cathedral wat my weer laat besef het wat “grace” of “genade” beteken.

Italienesch Landschaft an de Lateren (foto: Marita van der Vyver)

Hoe reis mens in verskillende lande – hoe verskil dit? Waar werk dinge die beste? Waar eet mens die goedkoopste? Hoe weet mens wat om te besoek as mens in ’n totaal ander soort plek is waar jy eintlik nie wil wees nie, want eintlik wil mens net vannag in jou eie bed slaap?

Dis ’n onmoontlike vraag om in ’n paragraaf of twee te beantwoord! Hopelik is sommige van die antwoorde in die boek opgesluit? Ek kan wel benadruk dat ’n gelukkige reisiger ’n soort kinderlike ontvanklikheid en gawe vir vreugde moet hê. En die goeie nuus is jy kan dit kweek terwyl jy reis. Dit word makliker met oefening, soos omtrent alles in die lewe.

Bagdad Café (ja, die een in die fliek) langs Route 66 in Kalifornië (foto: Marita van der Vyver)

Jy reis met vrese oor jouself én oor jou volwasse kinders én oor jou ouers. Wat kan verkeerd gaan? Omdat jy heeltyd so benoud is, voel elke dag waar niks verkeerd gaan nie, soos ’n klein wonderwerk. Dit maak jou dankbaar. Ek haal jou direk aan. Dis wonderlik om op daardie manier daaroor te kan dink. Maar soms, as mens ’n nuwe ding aanpak, wil mens weet wat die eindbestemming is. Of hoe? Gaan die pad net voor jou oop as jy daarop begin stap – is dit in die algemeen jou lewensfilosofie?

Natuurlik wil ons almal weet wat ons eindbestemming is, en hoe ons storie eendag gaan eindig, maar dis deel van daardie beheervraatding wat ek ook met hierdie swerftog probeer afsweer het. As fiksieskrywer het ek dalk ’n voordeel bo ander – ek skryf my stories sonder om te weet hoe hulle gaan eindig. Al skrywende leer ek die einde ken. Nou kan ek seker ook sê: Al lewende leer ek my lewenslot ken? Jy moet bereid wees om te verdwaal, soos die slim Rebecca Solnit skryf in A field guide to getting lost, een van die baie boeke waaruit ek in my boek aanhaal. En ja, as jy in ’n klein vliegtuigie by ’n massa wolke invlieg, “verdwyn” die wolke om jou, om ’n ander skrywer aan te haal wat ek langs ons roete ontdek het.

Die ongerepte Big Sur-kuslyn in Kalifornië (foto: Marita van der Vyver)

Het jy elke dag dagboek gehou? En indien wel, het jy dit ook gedoen toe jy jonk was? En lees mense nog reisboeke? Jy skryf sulke slim dinge en besin oor alles: om te reis en die ekovoetspore wat mens laat, of mense nog Lonely planet lees, soos toe ons jonger was. Jy verpak dit boonop in dagboekformaat. Soveel om oor na te dink. Hoe doen mens dit sonder om oorweldig te voel deur die volume van wat jy skryf?

Ek het lankal te lui geword om dagboek te hou, maar ek mis tog daardie soort besinning op papier. Of op ’n skerm, deesdae. Dis deel van die rede waarom ek onlangs op Substack begin skryf het (Marita’s Substack). Voorlopig in Engels, hoewel ek mik om nou en dan ook in Afrikaans te skryf, afhangende van hoeveel subscribers/followers Afrikaans kan lees. Dit kan ook beskou word as vingeroefeninge vir langer skryfwerk. En as dit by langer skryfwerk kom, pak ek dit ook maar een sin op ’n slag aan. Na duisende sinne wat duisende kere oorgeskryf is, kom ek uiteindelik by ’n publiseerbare teks uit.

Le Bon Marché in Parys, versier deur ’n Suid-Afrikaanse ontwerper, in Mia se Parys (foto: Marita van der Vyver)

Hoe is dit anders om te skryf oor ’n eerlike en persoonlike reis as om te skryf as jy fiksie skryf? Ís dit so verskillend?

Fiksie is “makliker” omdat jy die waarheid kan wegsteek agter verbeelding, en dus minder weerloos voel. Met ’n memoir maak jy jouself en jou familie weerloos, en dit bly bitter moeilik om te doen. Aan die ander kant is fiksie weer moeiliker juis omdat jy so geheel en al oorgelaat is aan jou verbeelding. Met ’n memoir begin jy met basiese feite en bou bietjie vir bietjie daarop voort.

Sonsondergang in die Vallei van Verlatenheid

Die feit dat jy sê daar’s nog reise wat voorlê, laat my weet jou jaar van vrees en vryheid het sowaar ook genoeg vreugde bevat! Dis ’n inspirasie. Wat is julle volgende beplande bestemming (of reis)?

Ons het pas kruis en dwars oor Frankryk gery vir ’n beplande Kersviering naby die Alpe saam met twee van ons volwasse kinders, en ’n onbeplande reis na Lille in die noorde vir ’n familiebegrafnis. Dit het my net weer herinner dat die lewe – en die dood – is wat gebeur terwyl jy ander planne maak. Ek wil dus nie te ver vooruit beplan nie, maar ek bied van 15 tot 25 Mei vir die derde keer ’n Blou van Onthou-toer in Portugal aan vir ’n klein groepie. (Daar is nog twee plekke beskikbaar, so as enigeen lus voel om ‘n bietjie saam met my te reis, kan hulle vir Kitty Snyman kontak by kitty@rufaro.co.za vir besonderhede.)

Agter Die Uilhuis (foto: Marita van der Vyver)

Die reis na buite en die reis na binne. Letterkundige temas wat mens hier raaklees. En tog ook ’n boek wat mens met ’n ander oog lees as mens ouer is. Wie was jou ideale leser? Ek dink beslis tydgenote en ouer lesers sal die heel meeste die agtergrond verstaan van die vreesaspek. Wat is jou gedagtes hieroor – vir wie skryf jy? En hoekom?

Ek skryf altyd vir myself – of liewers, ek probeer ’n boek skryf wat ek self graag sou wou lees. Ek voldoen gewoonlik nie aan my eie hoë standaarde nie en daarom is ek elke keer verstom en verheug as genoeg ander mense van enige ouderdom ook wil lees wat ek skryf.

Richmond se wonderlike woorde teen ’n muur. (Foto: verskaf deur Marita van der Vyver.)

Jou boek is ’n sinvolle boek om reg aan die begin van ’n nuwe jaar te lees. Dit laat die leser bestekopname van hul eie jaar neem. En dalk is dit nie ’n slegte ding om saam met Janus in die rigting van die ou jaar en die nuwe jaar te kyk, op die drumpel te staan en te vra: Waarheen nou, nie? Het jy iets soos Nuwejaarsvoornemens? Of gedagtes oor die toekoms?

Hoe ouer ek word, hoe minder glo ek in Nuwejaarsvoornemens. Dis nie sinisme nie, dis ervaring. En ek was lanklaas so mismoedig oor wêreldpolitiek soos nou. Wat in die VSA gebeur, spoel ongelukkig oor na die res van die wêreld. Dit voel dus noodsaakliker as ooit om aan hoop vas te klou. Om nóú hoop te verloor, sou die lafhartige uitweg wees.

’n Program soos Stranger things maak retro weer cool, is dit nie? Tog: Watter aspekte van in die ou dae reis het jy gemis en wat wil jy nooit terughê nie?

Wat ek gemis het, is om nét op outydse padkaarte staat te maak om nie te verdwaal nie. Terselfdertyd is ek só dankbaar vir GPS en internet wat ons twee rigtinglose swerwers gehelp het om nie áánmekaar te verdwaal nie. Sonder GPS sou ons moontlik 15 maande lank in sirkels in Frankryk rondgery het.

Lees ook:

Swerfjaar vir seniors: Op soek na ’n holte vir swerwersvoete

Swerfjaar vir seniors: Dinge van die kind wat ek was

Swerfjaar vir seniors: ’n Vreemde, bekende wonderland

Swerfjaar: Leef om die storie te vertel

My jaar van vrees en vryheid deur Marita van der Vyver: ’n resensie

  • 1

Kommentaar

  • Julio Agrella

    'n Gawe onderhoud om 'n inspirerende boek aan te vul. Een van my leeshoogtepunte van 2025.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top