Mites, foppery en feite: Hoekom verwerp mense waarhede?

  • 5

Daar is waarlik ’n groot klomp mense wat onwrikbaar glo ons bly op ’n plat skyf met ’n potdeksel oor ons koppe. Dit nadat Giordano Bruno in 1600 op die brandstapel dood is omdat hy, soos Galileo – wat sy woorde moes sluk – gesê het die (ronde) aarde draai om die son. Maar dít is nie enigste verstommende liegstorie wat soos kakiebos kleef nie.

Aanvanklik het ek gedink die storie dat daar ’n koepel (firmament) bo-oor ’n plat aarde is, van mense kom wat bloot die gek skeer. Maar dié firmament kom glo uit wat genoem word “Bybelse kosmologie”. “Bybelse kosmologie” ... dit klink so wetenskaplik en logies soos palmlees en astrologie.

Dié firmament skei glo die hemel en aarde van ’n groter heelal – wat so ondenkbaar groot is dat dit jou met soveel eksistensiële vrae laat. Ons ganse sonnestelsel is bloot ’n sandkorrel in dit wat vandag die sigbare deel van die deursnee van die heelal se 93 miljard ligjaar is – dit wat nog te sien is. Die res het al so ver weg van ons uitgedy dat dit nie meer sigbaar is nie.

Dat mense duisende jare gelede met die skryf van die Bybel én ander antieke tekste vreemde dinge kon glo, is te verstane. Vandag is dit vreemd, veral omdat honderde sendings al die ruimte in is, en dwarsdeur die sogenaamde koepel is, gedurende 60 jaar se ruimtevlugte.

Daar is boeke wat oor die onsin geskryf is, podsendings, webblaaie, FB-groepe, YouTubers en TikTokkers wat wyshede verkondig wat bloot ontken dat die aarde rond is en ons en al die ander planete om die son wentel. Inteendeel, al die eksoplanete wentel ook om ’n son of sonne.

Volgens die aanhangers van die stories bestaan swaartekrag bloot nie, en is daar ’n hoë ysmuur so al om die plat skyf – want Antarktika bestaan ook nie.

Ja ek weet, die aanhangers van ’n plat aarde kom al baie jare, maar hulle het nou ’n nuwe liga van verworwe kennis betree:

Al die miljoene vliegtuie wat jaarliks opstyg en land en dermiljoene passasiers vervoer, is blote oëverblindery. Dit gebeur nie. Jip, elke keer wat jy op ’n vliegtuig klim, is dit die werk van demoniese magte – want dit is bloot onmoontlik dat so ’n sware ding kan opstyg en in die lug kan bly.

Die arme Wright-broers sit seker en dink: Nou laat hulle maar fietsry.

Wag, voor jy dink hierdie is alles nonsens en dat mense wat aan sulke bog glo, dalk net 1% van die mensdom is.

’n Peiling onder Amerikaners wat in 2021 gedoen is, het die volgende antwoorde op die betrokke stellings ontvang:

The Earth is billions of years old. Ja 75%, Nee 8%, Onseker 17%.
The Earth is flat, not round. Ja 10%, Nee 80%, Onseker 9%.
Humans evolved from earlier forms of life, over millions of years. Ja 58%
Climate change is happening now, caused mainly by human activities. Ja = 64%
Vaccines have mostly been a benefit to human health. Ja = 69%
Vaccinations for COVID-19 implant microchips to track people. Ja 9%, Nee 73%, Onseker 19%.
The earth revolves around the sun. Ja = 83%

Nou mag die opvatting wees dat dit bloot Amerikaners se opinie is, maar die tendens is wêreldwyd. Jy kan jouself gaan oortuig, daar is “real images to show the earth is flat”, veral omdat Nasa altyd onder skoot kom. Enige iets kan bevestig word aanlyn en in ’n groep waar bevestigingsvooroordeel versterk word.

........
In Suid-Afrika het talle navorsingstukke wat in die South African Journal of Science gepubliseer is, gewys die manier waarop evolusie in Suid-Afrikaanse skole geleer word, is nie op standaard nie.
........

In Suid-Afrika het talle navorsingstukke wat in die South African Journal of Science gepubliseer is, gewys die manier waarop evolusie in Suid-Afrikaanse skole geleer word, is nie op standaard nie. Dit verewig wanopvattings en onwetenskaplike idees oor evolusie deur verkeerde en misleidende terminologie. En persoonlike vooroordele word versterk. Die valshede van “sosiale Darwinisme” sukkel ook om uitgeroei te word.

Onlangs het video’s wêreldwyd ’n pop van mense gemaak deur te beweer die aarde sal tydens die sonsverduistering op 8 April vir ’n ganse drie dae lank in totale duisternis gehul wees, want daar is een of ander profesie. Nog iemand het beweer dit is omdat ons deur ’n “fotongordel” gaan beweeg.

Iemand sit in sy voorhuis, of in sy ma se voorhuis, met ’n T-hemp en tekkies aan en praat “in tale”, of gorrel ’n klomp bedenklike sinne uit nadat hy, of sy, waarskynlik tik gerook het. En mense glo dit?

TikTok, waar baie van die foppery ontstaan, is een van die plekke wat ek meestal besoek bloot om vir snaakse dinge te lag. ’n Goeie bron van inligting en feite sal dit nooit wees nie.

Dit is nou nie asof die een wat die video oor kosmologie gemaak het, die statuur van wyle Stephen Hawking het nie. Sou jy hoor “drie dae van totale duisternis!” reken ek dink jy darem seker: Kan dit wees?

Want ’n mens leer seker al in graad 4 dat geen sonsverduistering ooit langer as ’n paar minute duur nie, en selfs dan net oor een, redelik klein, area. Wat kan dit veroorsaak, voordat jy Spar toe jaag om blikkieskos te koop?

Bid jou aan: Die absolute chaos wat sou heers. Nou dáár is vir jou ’n lang nagmerrie van legendariese proporsies. En daar bestaan nie iets soos ’n “fotongordel” nie.

Máár, waar is al die profete en histeriemakers ná die tyd, byvoorbeeld op 9 April wanneer die aarde soos elke dag om sy eie as draai? Hoekom sê hulle na die tyd nooit ’n woord nie?

Jennifer Beckett, van die Skool vir Kultuur en Kommunikasie aan die Universiteit van Melbourne, sê die toenemende geloof in ’n plat aarde en dergelike dinge kry meer traksie en dit is weens ’n algemene skuif na populisme en die wantroue in kenners se opinie en die media.

........
Hierdie ontluikende beweging het veroorsaak dat sogenaamde beïnvloeders op sosiale media nou meer gesag het as ’n kenner op sy of haar betrokke gebied. Dit is omdat hulle daarin slaag om beter stories te vertel.
........

“Dit is werklik oor die mag van kennis en die toename in wantroue in wat ons eens beskou het as die hekwagters van kennis. Soos akademici, wetenskaplike agentskappe of die regering. In dié tipe omgewing word dit baie maklik vir opinies wat eens aan die rand was, om traksie te kry. Jy kry dan ’n klomp mense wat aanhoudend dit wat jy glo, herbevestig.”

Hierdie ontluikende beweging het veroorsaak dat sogenaamde beïnvloeders op sosiale media nou meer gesag het as ’n kenner op sy of haar betrokke gebied. Dit is omdat hulle daarin slaag om beter stories te vertel.

“Daar is ’n element van egtheid daar; op ’n naïewe manier dink mense: Oe, dié is ’n regte mens, so wat hulle vertel moet waar wees,” sê Beckett.

Dit is waar dat akademici en wetenskaplikes nie van die beste kommunikeerders en storievertellers is nie, maar hulle kan seker nie verantwoordelik gehou word vir die wêreld se onkunde nie.

Onetiese mediese beloftes

In ’n peiling wat pas deur die Orlando Health Cancer Institute voltooi is, is bevind dat 32% van Amerikaners glo dat ’n sonbruin ’n mens beter en gesonder laat lyk, terwyl daar in werklikheid nie iets soos ’n gesonde sonbruin bestaan nie. Boonop dink een uit elke sewe dat om daagliks sonbrandroom te gebruik, méér skadelik vir jou vel is as direkte sonlig.

Mediese mites en bygelowe is seker van die mees hardnekkige en gevaarlike dinge, en dit is haas onmoontlik om dié wat standvastig aan pseudowetenskap glo, te oortuig. Die oortuigende en aggressiewe bemarking wat veral vir produkte en behandelings gedoen word, is een van die knelpunte, asook die halwe waarhede en verdraaide wetenskaplike inligting wat oorgedra word.

Van die produkte of rate is skadeloos, soos om met ’n aartappel in die bed te slaap omdat jy glo dit help vir rustelose bene of artritis. Of om ’n bietjie koeksoda vir naarheid – of enige kwaal - te drink.

Die gevaar kom in indien jy regtig siek is en jou wend na dinge soos homeopatie (molekules wat nie bestaan nie in afgewaterde water) of iridology (iemand loer in jou iris en diagnoseer jou so). Of dié foefie: lewende-bloedsel-analise – dit klink slim met die groot woorde om bloed in vivo te bestudeer, maar dis duur whoe-whoe wat bedryf word deur mense wat jou baie geld mors.

........
Indien jy ’n chroniese siekte het, gaan jy swaarkry sonder bewese geneeskunde, en indien dit iets baie ernstig is, gaan jy waarskynlik doodgaan as jy jou lewe in die hande van kwakke vertrou.
........

En die effek van die placebo (wat bloot sielkundig is en nie fisiologies nie) gaan jou net só ver bring. Indien jy ’n chroniese siekte het, gaan jy swaarkry sonder bewese geneeskunde, en indien dit iets baie ernstig is, gaan jy waarskynlik doodgaan as jy jou lewe in die hande van kwakke vertrou.

Die vraag is altyd: Maar dit kan seker nie skade doen om alles te probeer nie? Die antwoord is: Ja, dit kan. Dit gee vals hoop, wat hoogs oneties is; dit kan fisieke en beslis emosionele skade doen, en dit kos geld.

Die meervoud van anekdotes is ook nie wetenskaplike data nie.

Maar kritiek op pseudowetenskap word meestal gesien as kritiek op mense se selfwaarde, eerder as ’n logiese debat oor wat bewese wetenskap is, en juis oor wat dit nie is nie. Régte geneeskunde het baie keer nié ’n kuur nie, net ’n verligting of ’n bestuursplan. En soms kan dit niks bied nie.

Dié tipe kwakkery verwerk enige empiriese metodologie en dra nie die verbruiker of pasiënt se belange op die hart nie – en ja, daar is ook gekwalifiseerde dokters en spesialiste wat ongelukkig deel is hiervan.

Daar is ’n magdom van dié tipes “behandelings” wat onbewese is en nooit gesteun word deur kliniese studies nie. Daar word gebruik gemaak van allerhande armbande, enemas, masjientjies, kristalle, “natuurlike produkte”, magnete, energie en wat nog.

Wat byna almal gemeen het, is ’n “akkurate en presiese diagnose en ’n besliste kuur” – sommer vir alles – ook dit wat ongelukkig nie behandelbaar is nie, soos sommige genetiese toestande.

Waar geneeskunde nié antwoorde en diagnoses kan gee nie, spring pseudowetenskap in om validasie te gee en jou “100% te belowe”. Hulle rek lyding uit en soms mis hulle daardie kosbare tyd waarin iemand wel nog behandel kan word. Dit gee selfvertroue waar geneeskunde soms nie kan nie en lei mense in tye van vrees en lyding om swak besluite te neem.

........
Dit alles is oneties, en skelm, en gooi mense terug in die Middeleeue en daarna, toe miljoene dood is aan pokke. ’n Siekte wat iets van die verlede is, juis danksy ’n entstof.
........

Hulle sal leuens vertel oor entstowwe – die enigste voorkomende middels wat ons teen die dodelikste van siektes het. Of lieg dat ’n kuur vir kanker weggesteek word deur die wetenskap verdag te maak.

Dit alles is oneties, en skelm, en gooi mense terug in die Middeleeue en daarna, toe miljoene dood is aan pokke. ’n Siekte wat iets van die verlede is, juis danksy ’n entstof.

Galileo het ná jare waarin hy moes ligloop, in 1632 ’n boek gepubliseer waarin hy Nikolaus Kopernikus se idees steun en verder belig. Die aarde en al die planete draai om die son. Dié was in stryd met die kerk se idees en hy is van kettery aangekla. Hy is skuldig bevind, huisarres opgelê vir die res van sy lewe en sy boeke is verbied en hy moes sy opinie terugtrek.

Waak teen dié wat kennis skuldig wil bevind en verdag wil maak. Of beloftes maak wat nie vervul kan word nie.

Lees ook:

Persoonlikheidseienskappe en vatbaarheid vir samesweringsteorieë

Die sielkunde agter samesweringsteorieë

Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman

5G, die platte aarde en ander eienaardighede

  • 5

Kommentaar

  • Fantasties, Elsabe, en dankie. Oor hierdie dinge moet sinvol gepraat word. Dit is belangrik.

  • Op 3Body Problem praat hulle van "breaking Science". Weereens kry Wetenskapsfiksie dit reg om die 'n aardse denkprobleem in die kollig te plaas sonder om name te noem. Hehehe! Fundamentalisme was nog altyd daar: Dit kry net nou meer lugtyd, die dat 'n mens so omsingel voel deur die leë blikke. Al die tekens is daar dat mense maar oor die algemeen dom is en selfs dommer word. Elke keer wat iemand Ex on the Beach aansit, verloor die konglommeraat nog IK en EK-punte. Dis g'n wonder dat jy nou as 'n teesiffie kan identifiseer nie. Sosiale media het al hierdie voorstedelike kranksinniges se verwronge denkpatrone 'n platform gegee om hulle beste self te wees. Sterkte aan diegene met enige vorm van onderskeidingsvermoë. Daar is niks nuut onder die son nie, julle. They are still killing our prophets...

  • Mense glo verskeie onsinnige dinge. Maar dit beteken nie dat aansprake op wetenskaplik nie onsin of finansiële gierigheid wegsteek nie.

    Veral die Freudiaanse psigoloë wat meen hulle kan oor 'n afstand mense se persoonlikhede groepeer en dan opkom met "samesweringsteorieneigings" het nogal groot skade veroorsaak. Die meeste van die sogenaamde samesweringstoerieë rondom Covid is in 'n groot mate korrek getoon, maar die mites van "die wetenskap" word volgehou.
    Om alles te aanvaar wat as "wetenskaplik" voorgehou word, is om te beweer dat wetenskap nie 'n sosio-ekonomiese konteks het en aan daardie konteks gebonde is nie.

  • What are the requirements for homeopathy at UJ?
    Entry Requirements:
    The minimum admission requirement is one of the following: Master of Health Science in Complementary Medicine (Homeopathy or Phytotherapy) Master of Technology: Homoeopathy. An Equivalent qualification in a relevant field at an NQF level 9, generating a minimum of 180 credits.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top