Persoonlikheidseienskappe en vatbaarheid vir samesweringsteorieë

  • 2

“In the last decade, the number of investigations of the beliefs in conspiracy theories has begun to increase in the fields of social, differential, and experimental psychology. A considerable number of variables have been suggested as predictors of conspiracy beliefs, amongst them personality factors …  (Goreis en Voracek, 2019)”¹ 

Die blootstelling van die algemene publiek aan samesweringsteorieë (conspiracy theories) is beslis nie ’n nuwe proses nie. Inteendeel, die verskynsel opsigself is spreekwoordelik bykans so oud soos die berge.

Reeds gedurende die laat veertigerjare het samesweringspekulasies oor die Rooi Gevaar begin kop uitsteek. Verdere voorbeelde is die moord op JF Kennedy, pogings tot antisemitiese propaganda, die Watergate-skandaal, opvattings oor vreemde vlieënde voorwerpe asook legendes gewortel in samesweringsteorieë oor MIV/Vigs as ’n biologiese wapen wat deur wetenskaplikes ontwikkel is. Die scenario’s het internasionaal en plaaslik intense debatvoering ontlok en wydlopende meningsverskille tot gevolg gehad (Nattrass, 2012: 114).

Strombeck (2005) gaan sover as om ’n openbare verskynsel te beskryf wat hy “kulturele paranoia” noem, waarvan die vatbaarheid vir samesweringsteorieë ’n belangrike kenmerk (it’s number one star) of uitvloeisel is.

Daar is ooreenkomste tussen die algemene definisies vir die konstruk, “samesweringsteorie”, wat deur verskillende aanlyn woordeboeke gegee word. Volgens  Merriam Webster is ’n samesweringsteorie die verklaring van ’n gebeurtenis of ’n situasie in terme van ’n geheime plan wat in die mou gevoer word deur ’n anonieme magsgroep. Die Oxford Lexico fokus op ’n opvatting dat ’n koverte en invloedryke organisasie verantwoordelik sou wees vir ’n bepaalde gebeurtenis of omstandighede. Die American Heritage Woordeboek beklemtoon dat die proses ’n hipotese is op grond waarvan pogings aangewend word om situasies waaroor meningsverskille bestaan te verklaar aan die hand van ’n geknoeiery deur ’n geheime groepering, eerder as deur ’n individu of ’n geïsoleerde handeling.  

Deur middel van ’n samesweringshipotese word die heersende hoofstroomverklaring vir ’n bepaalde historiese of huidige gebeurtenis bevraagteken. Omdat dit ’n teorie is oor ’n moontlike sameswering, is dit meestal vals, maar kan dit ook elemente van die waarheid bevat.

Die navorsers, Sunstein en Vermeule (2009) verwys na ’n samesweringsteorie as ’n poging om ’n bepaalde gebeurtenis of handeling te verduidelik as ’n gekonkel deur magsfigure wat hul rol versluier totdat hul doelstellings bereik is. Hou egter in gedagte dat samesweringsteorieë ook persone kan betrek wat nie noodwendig magsfigure is nie (soos vriende, bure, kollegas en familie).  

Yablokov (2015) verwys na Mark Fenster wat tot die gevolgtrekking kom dat ’n samesweringsteorie ’n populistiese teorie oor mag is. Dit het die belangrike kommunikasiefunksie dat die “gehoor” verenig word teen die denkbeeldige “ander”, laasgenoemde wat ’n geheime magsblok verteenwoordig.

Samevattend kom ’n samesweringsteorie dus neer op alternatiewe verklarings vir bepaalde gebeurtenisse wat op vals aannames gebaseer is.

Doel

Die hoofdoel van hierdie verkennende artikel is om te bepaal of persone wat sekere persoonlikheidseienskappe openbaar, meer of minder vatbaar is vir inligting en idees wat as ’n samesweringsteorie bestempel kan word. Tweedens, om te bepaal watter navorsingsmetodes op hierdie terrein van toepassing is, en laastens word kortliks gekyk na enkele afleidings wat uit die ontleding gemaak kan word.

Behoeftebepaling

’n E-posboodskap met die vraag: Hoe belangrik is die kwessie van persoonlikheideienskappe wat met die vatbaarheid vir samesweringsteorieë beskou word? is aan ’n toevallige geselekteerde groep bestaande uit 27 moontlike respondente gestuur. Die respondente het beide geslagte; ’n wye spektrum ouderdomme; verskillende taal- en kultuurgroepe ingesluit asook verskillende werks- en professionele belangegroepe verteenwoordig. ’n Bykomende versoek is gerig dat die respondent sy keuse (Ja/Nee/Onseker) moet motiveer. Drie-en-twintig reaksies is teruggestuur (maw ’n responskoers van 85%). Die terugvoer het twintig “Ja”- en drie “Onseker”-antwoorde ingesluit. 

Die afleiding is gemaak dat die navorsingsvraag oor die algemeen as ’n besonder relevante kwessie deur die meeste respondente beskou is, terwyl enkele respondente volgens hulle eie mening nie genoeg agtergrondkennis oor die verskynsel gehad het om hul mening behoorlik te motiveer nie.

Metodologie

Die elektroniese databasis EBSCO HOST is gebruik om toegang tot die verbandhoudende literatuur te kry, met “conspiracy theory and personality” as die soekterme.

Die volgende insluitingkriteria was van toepassing: Die studies moes óf in 2020 óf in 2019 gepubliseer gewees het; die artikels moes in erkende vakkundige tydskrifte verskyn het; portuur-evaluering moes uitgevoer gewees het en steekproewe asook statistiese analise van die data moes in die metodologie ingesluit wees.

In totaal is 14 artikels geïdentifiseer wat aan die insluitingskriteria voldoen het. Om die omvang van die ontleding realisties te beperk, is finaal besluit om slegs daardie vyf artikels wat tot dusver in 2020 gepubliseer is, vir verdere ontleding te gebruik.

Prosedures, veranderlikes en bevindings

Die vyf geselekteerde studies (die verwysings verskyn in die bibliografie) het van deelnemers uit ’n wye spektrum lande en landstreke gebruik gemaak insluitende Oseanië, Italië, Spanje, VK, VSA, Kanada, Pole, Serwië, Latyns-Amerika en Australië. In totaal is 12 steekproewe in die vyf studies gebruik. Die metodes om steekproewe saam te stel het gewissel van internetopnames, werwing van deelnemers op Amazon se Mechanical Turk-platform, ’n geleentheidsteekproef, sowel as op-kampus steekproewe van voor- en nagraadse studente.

Die verspreidingsomvang van die steekproefgrootte het gewissel van N=120 tot N=812. Daar was drie steekproewe in die kategorie N=100 tot 150; twee in N=151 tot 200; een in N=201 tot 250 en ses steekproewe met N>251. Die gemiddelde steekproefgrootte was N= 294.

Die statistiese prosesdures wat in die vyf studies gebruik is, het korrelasieanalise, regressieanalise, enkelvoudige- en meervoudige variansieontleding en Bonferroni post hoc-ontleding ingesluit. In die verdere bespreking word slegs aandag gegee aan resultate wat verkry is met behulp van korrelasieanalise en/of regressieanalise.

Die volgende reeks veranderlikes het die voorspellers en die kriterium verteenwoordig en is met behulp van verskillende navorsings- en psigometriese vraelyste objektief gemeet (kyk Tabel 1).

Tabel 1: Veranderlikes wat in die vyf geselekteerde studies gebruik is

 

Veranderlikes wat in die vyf studies gebruik is

Verwysings

Die veranderlikes wat as voorspellers van persoonlikheideienskappe gebruik is verskyn in donkerdruk. Verduideliking van die terminologie volg later in die teks.

Georgiou, Delfabbro en Balzan (2020)

Demografiese inligting

Blootstelling aan COVID-19

Assessering van lewensstres

Geloofwaardigheid van spesifieke samesweringsteorieë

Algemene perspektief van samesweringsteorieë

Perspektief van COVID-19-samesweringsteorieë

Houding teenoor regering(s) se hantering van COVID-19-pandemie

Kofta, Soral en Bilewicz (2020)

Outoritêre geneigheid

Narsisme

Verlies van beheer op politieke sowel as persoonlike domein

Onsekerheid op politieke domein

Geloofwaardigheid van antisemitiese samesweringsteorieë

Diskriminerende houding teenoor Joodse kultuur

Jovančević en Milićević (2020)

Optimisme/pessimisme

Vertroue teenoor mensdom

COVID-19-pandemie gekoppelde vrese

Vertroue in inligtingsbronne

Geneigdheid tot opgaar (hoarding) van voorrade

Voorkomende gedragspatrone

Geloofwaardigheid van samesweringsteorieë in die algemeen

Poon, Chen en Wong (2020)

Ervaring van uitsluiting (ostracism)

Gevoelens van kwesbaarheid

Vatbaarheid vir die beginsels van samesweringsteorieë mbt 14 politieke gebeurtenisse

March en Springer (2020)

Machiavellianisme

Skisotipiese trekke

Narsisme

Psigopatie

Vatbaarheid vir generiese aannames ivm samesweringsteorieë

 

Die ordegrootte van die korrelasies tussen die sielkundige faktore (die voorspellers) en vatbaarheid vir samesweringsteorieë (die kriterium) wat in die vyf studies opgelewer is, wissel van 0,03 tot 0,10 (Studie 1); 0,24 tot 0.33 (Studie 2); -0,06 tot -0,14 (Studie 3); 0,19 tot 0,34 (Studie 4) en 0,49 tot 0,67 (Studie 5).

Dit blyk dus dat:

  • Die volgende voorspellers, naamlik Machiavellianisme, skisotipiese trekke, narsisme en psigopatie die hoogste korrelasies met die kriterium oplewer. Indien die koëffisiënt van determinasie (r²) vir hierdie vier veranderlikes bereken word, blyk dat slegs tussen 24% en 45% van die variansie in terme van die verband tussen persoonlikheidseienskappe en die vatbaarheid vir samesweringsteorieë verklaar word.
  • Wat die kwaliteit van metodologie en die diversiteit van die deelnemers wat aan die navorsing deelgeneem het betref, het die vyf studies wat geraadpleeg is uitstekend gevaar.
  • Die steekproefgrootte was voldoende. Die gebruik van internetsteekproewe is tans baie gewild en ook kostebesparend. Deelnemers kan selfs deur middel van ’n aanlyn platform vir navorsingsdoeleindes gewerf word. ’n Aanvullende vraag oor die wyse waarop hierdie tipe steekproewe op ’n goedgekontroleerde gestratifiseerde wyse saamgestel word, kan moontlik gevra word.
  • Dié navorsing is hoofsaaklik met behulp van vraelyste uitgevoer en die data-ontleding is hoofsaaklik op korrelasie-, variansie- en regressieanalise gebaseer. Dit sou interessant wees om te sien watter toekomstige resultate opgelewer word indien praktiese eksperimentele studies en direkte waarnemings deur byvoorbeeld gestruktureerde onderhoudsvoering op hierdie terrein gedoen word.
  • Volgens hierdie beperkte ontleding lyk dit asof sekere psigopatologiese persoonlikheidseienskappe soos skisotipiese gedrag (maw irrasionele en magiese denkpatrone), ’n onrealistiese selfbeeld (narsisme), eksploitasie en manipulasie (Machiavellianisme) en gewetenloosheid (psigopatie) ’n groter persentasie variansie as die res van die voorspellers verklaar. Met volgehoue en deeglik gekontrolleerde navorsing met betroubare en geldige meetinstrumente behoort selfs na ’n vlak van 60% verklaarde variansie gestreef te word.

’n Basiese tekortkoming van hierdie ontleding is die beperkte getal artikels wat geraadpleeg is. Die doel was egter om verkennend te werk te gaan en om tendense uit te lig. Meer omvattende kwalitatiewe- en of kwantitatiewe meta-analises behoort in die toekoms onderneem te word.

Samevatting

Vyf resente navorsingsartikels wat in erkende aanlyn akademiese vaktydskrifte verskyn het en handel oor die verband tussen persoonlikheidseienskappe en vatbaarheid vir samesweringteorieë, is in terme van die metodologie en bevindings ontleed. Sekere psigopatologiese eienskappe het die beste resultate opgelewer in terme van die persentasie variansie wat verklaar word op grond van die verband tussen ’n reeks voorspellers en die vatbaarheid vir samesweringsteorieë as die kriterium. Hoewel daar beslis ’n sielkundige faktor is wat ’n kritiese rol in die konstruk samesweringsteorie-vatbaarheid speel, is Strombeck (2005) se verwysing na kulturele paranoia dalk ietwat oordrewe.

Eindnotas 

¹Goreis, A en M Voracek. 2019. A systematic review and meta-analysis of psychological research on conspiracy beliefs: Field characteristics, measurement instruments, and associations with personality traits. Frontiers in Psychology, 11 Februarie. http://journal.frontiersin.org.ez.sun.ac.za/journal/psychology

²Henry Steel (voorheen verbonde aan Universiteit Stellenbosch as ’n dosent in sielkunde), word bedank vir sy bereidwilligheid om die statistiese terminologie wat in die artikel voorkom te kontroleer vir korrektheid. Etienne Britz word bedank vir sy kommentaar oor samesweringsteorieë as ’n maatskaplike verskynsel.

Bibliografie

Georgiou, N, P Delfabbro en R Balzan. 2020. COVID-19-related conspiracy beliefs and their relationship with perceived stress and pre-existing conspiracy beliefs. Personality and Individual Differences, 166: 110201.

Jovančević, A en N Milićević. 2020. Optimism-pessimism, conspiracy theories and general trust as factors contributing to COVID-19 related behaviour – A cross-cultural study. Personality and Individual Differences, 167: 110216.

Kofta, M, W Soral, en M Bilewicz. 2020. What Breeds Conspiracy Antisemitism? The Role of Political

Uncontrollability and Uncertainty in the Belief in Jewish Conspiracy. Journal of Personality and Social Psychology, 118(5): 900 –18.

March, E en J Springer. 2020.  Belief in conspiracy theories: The predictive role of schizotypy, Machiavellianism, and primary psychopathy. Plos One, 14(12): e0225964.

Poon, T-K,  Z Chen en W-Y Wong. 2020. Beliefs in Conspiracy Theories Following Ostracism.

Personality and Social Psychology Bulletin, 46(8): 1234–46.

  • 2

Kommentaar

  • Charl Cilliers

    Baie sinvol en interessant, veral die gevolgtrekking dat dit kan tog “ook elemente van waarheid bevat”!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top