Die 2026-Adam Small-fees het 20–22 Februarie in Pniël plaasgevind.
Hein Willemse het ’n lesing op Vrydag 20 Februarie gelewer.
Hy het die teksweergawe van sy lesing aan LitNet verskaf.

Hein Willemse (foto: Ian Landsberg)
Met ’n diepe verlange – herinneringe aan ’n vervloë lewe
I
Ek staan hier omdat Darryl David dit in sy kop gekry het om my te nooi om oor Met ’n diepe verlange, my ma Catherine Willemse se outobiografie (2000) wat meer as ’n kwarteeu gelede gepubliseer is, te kom praat.1
Ek bied die praatjie met huiwering aan. Dié onwennigheid spruit daaruit dat ek vandag hoogstens as ’n surrogaat kan optree en slegs by benadering kan praat. Ek praat ook oor ’n boek wat aanvanklik nie bedoel was om buite die grense van ’n familiekring te sirkuleer nie.
Die boek het ontstaan aan die einde van my ma se lewe met ’n aanvanklike oplaag van 50 eksemplare wat aan die gesin en die uitgebreide familie versprei is. In my nawoord tot die hersiene uitgawe van haar boek vertel ek hoe my vrou haar, ná die soveelste vertelsessie oor haar jeugjare, dié keer op Oukersaand 1999, aangepor het: “Ma moet hierdie stories opskryf voor dit te laat is.” Dit was ’n herhaling van talle vorige versoeke wat dié keer op vrugbare grond geval het. Voorheen was daar altyd verskonings: “Ek het nie tyd nie”; of “Ek is nie ’n skryfster nie.” Dié keer was dit anders. Byna vyf jaar ná die dood van haar man was sy bewus dat ook sy in haar eindtyd leef.
In ’n swart hardebandboek het sy vir die volgende paar maande dag vir dag, ’n uur op ’n slag, haar storie neergeskryf. Sy het dit bedoel as ’n persoonlike geskrif vir haar kinders en kleinkinders: “Om vir my en my man ... se nageslag ’n bietjie meer sekerheid oor hulle afkoms te gee.” Haar boek is haar geskenk aan haar nageslag, want uit eie ervaring het sy geweet: “Die verlede is geslote in die hopies grond van [die] begraafplaas. Die ou mense is weg sonder om al hul geheime bekend te maak.” So eenvoudig was dit. Hier en daar moes ons wat die stories al telkemale gehoor het, van ons laat hoor: “Ma moet sommer ook skryf van ...” Soms het sy gehoor gegee, soms nie. Haar plan was nie om mense te na te kom nie. In die stories wat sy oor die jare vertel het, was daar genoeg getuienis van die ongemaklike verborgenhede van klein dorpies. Vir haar was haar boek nie die plek om ou koeie op te grawe of byltjies te slyp nie.
Ek is oortuig dat sy dit nooit as ’n openbare geskrif beplan het nie. Dit is die intiemheid van die aanvanklike geskrif wat ons as kinders wou beskerm toe vriende en kennisse gevra het dat die boek wyer versprei moes word. Een van dié vriende was Jeanette Ferreira. Van ons kinders wou aanvanklik nie herpublikasie toelaat nie. Soos een dit gestel het: “Ek het nie lus dat familie uitgeryg word nie.”
Na my ma se dood in Augustus 2005 het Jeanette weer voorgestel dat sy die boek publiseer. Dit “verdien om breër gelees te word,” was haar woorde. Dié keer was die gesin meer inskiklik. Human & Rousseau, waar Jeanette ’n redakteur was, het Met ’n diepe verlange in Augustus 2006 in ’n hersiene formaat uitgegee, met al die ou foto’s wat Tienie du Plessis so merkwaardig kon restoureer.
Die boek is van historiese belang. In die totale Afrikaanse literatuurgeskiedenis van nagenoeg 150 jaar was daar met die draai van die eeu, in 2000, minder as 30 vroue-outobiografieë gepubliseer. Trouens, Met ’n diepe verlange is die eerste outobiografie deur ’n swart Afrikaanse vrou, die eerste van ’n vrou wat haar geskiedenis van hibriditeit, inheemse mense, slaafgemaaktes en setlaars met trots vertel. Inderdaad ’n verhaal van die stemloses.
Dit is die verhaal van identiteitsvorming: Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Hoe pas ek in? Wat is dit wat betekenis aan my lewe gee? Sy stel dit self só: “Die agtergrond tot jou menswees is belangrik, want dit maak saak wie jy is, waar jy vandaan kom en waarom jy sekere trekke het wat jou van ander mense onderskei. Wanneer jy weet wie jy is, bring dit ’n mate van berusting, omdat jy ’n geborgene is, iemand met ’n identiteit.”
II
Vandag is die boek uit druk en nie maklik in die hande te kry nie, vandaar my kort opsomming.
Met ’n diepe verlange val in drie dele uiteen. In die eerste deel vertel my ma van haar jeug op Raithby, ’n Wesleyaanse sendingstasie buitekant Somerset-Wes aan die voet van die Helderberg. Sy vertel van ’n plattelandse jeug, maar veral van die geskiedenis van haar gesin en familie en die figure wat op haar ’n indruk gemaak het. Die lewe van hul gesin se bestaan as kleinboere en smouse en die verbouing van veral aarbeie wat hul aan die mense van Stellenbosch verkoop het. ’n Hele bestaan wat gebou is op hul lewens as plaasarbeiders wat na aan die grond gelewe het. Sy vertel van dié lewe met ’n feitelikheid wat die ontberings slegs laat deurskemer, maar ook van die vreugde wat haar bybly. Dié deel van die boek het Luna Paige geïnspireer om haar liedjie “Dagbreek toe!” te skryf.
Die tweede deel van haar storie van die Bet-el Bybelskool bied ’n blik op die beginjare van die Afrika Evangeliese Bond (AEB). Hierdie inrigting het evangeliste, wat hulle “pelgrims” genoem het, opgelei wat vanuit Kaapstad regoor die destydse breë Kaapprovinsie uitgereik het.
Ek dink nie ’n mens kan die belang van die AEB in my ma se lewe oorskat nie. Die AEB het haar die breër wêreld en ervaring gegee wat sy andersins nie sou gehad het nie. Mense met haar agtergrond – plaaswerkers en kleinboere – se lewens is aan die grond gekoppel. Die AEB het haar ’n uitkoms gegee wat geen ander instelling destyds kon nie. Die diepgang en belang van haar pa se woorde toe sy na die Bybelskool vertrek het, kan kwalik oorskat word: “My kind, die Here het iets groots aan jou gedoen. Mag jy nooit terugkom nie.”
In die 1940’s het sulke geleenthede vir die meisies op Raithby nie bestaan nie. Hier kon sy slegs laerskool voltooi; dit was al wat die gehuggie kon bied. Daar was geen werklike vooruitsig van ’n lewe daarbuite nie. Vir ’n vrou om onafhanklik van vaderlike toesig of die toesig van ’n man ’n bestaan te voer, was ongekend en ongehoord. Net soos daar nie geredelik geleenthede vir hoërskool- of naskoolse opleiding vir meisies was nie. (Die enkele seuns van Raithby wat wel destyds hoërskool toe is, moes daagliks die tog vanaf Firgrovestasie na Kaapstad en die enigste beskikbare skool, Trafalgar Hoër in Distrik 6, aanpak.) Die meisies van Raithby met dieselfde agtergrond het dikwels bediendes in ryk mense se huise geword. Later sou hulle by uitsondering winkelassistente, en by nog groter uitsondering heelwat later, verpleegsters en onderwysers kon word.
Die AEB het benewens geestelike bewapening, haar ’n aanvoeling vir haar intellektuele vermoë gegee. Sy was ’n ywerige boekleser wie se Engelse Bybelse konkordansies ’n belangrike plek op die boekrak in ons huis ingeneem het. En naas haar voorliefde vir biografieë het sy ook tyd vir nalees oor die geskiedenis en die eskapades van die Britse koninklikes gemaak.
Haar lewe as pelgrim was een van opoffering, geestelike toewyding en maatskaplike opheffing. Sy kon met geur en kleur vertel van die omstandighede op die plekke waar sy gevalle mense tot bekering gebring het. Sy het veral wyd in die breë Kaapland gereis deur die Klein Karoo, die Karoo en plekke langs die Oranjerivier. Haar verbintenis met die AEB sou haar hele lewe lank duur. Hier het sy ’n mate van selfaktualisering bereik wat min van haar geslag beskore was.
Die derde deel van haar storie is dié van haar ontmoeting met haar man, die posman Stephen Willemse, hul trekke vanaf Ladismith na Mosselbaai en uiteindelik Worcester, hul kinders en hul betrokkenheid by die verskillende gemeenskappe.
III
Laat ek die kwessie van geskiedenis, en meer bepaald familiegeskiedenis, van nader beskou.
In ons gesin, soos in talle ander gesinne, was ons ma die storieverteller. Dit is sulke storievertellers wat ons help om bestaansvrae oor geskiedenis en herkoms te verwoord. In die geval van ons gesin en familie was dit ook nie anders nie. My ma het in haar vertellings sin gegee aan vrae soos “Waar kom ons vandaan?”, Wie is ons voorouers?”, en selfs meer oorkoepelend: “Hoe lyk ons geskiedenis?”
Op die keper beskou, is sulke geskiedenis egter nie net persoonlik nie, maar ten diepste ook maatskaplik. Van die diepgaande gevolge van ons maatskaplike omgewing is dat unieke individuele geskiedenisse dikwels onderdruk is. Alvorens mense as individue beskou is, is hulle in ons land allereers beskou as verteenwoordigers van “bevolkingsgroepe”. Kolonialisme en apartheid het dit by ons ingeprent dat ons individualiteit ondergeskik is aan dié oorkoepelende kategorieë. Mense in ons land is nie as individue beskou nie, maar (om die ou kategorieë te gebruik) as Asiate, Bantoes, Naturelle, Indiërs, Kleurlinge, Blankes. Individue in ons samelewing se plek is dikwels bepaal in verhouding tot wit koloniale mag.
Ons weet onder meer dat grade van vermeende beskawing en rassuiwerheid mense se plek in ons samelewing bepaal het. Hoe “beskaaf” of “suiwer” jy was, het jou plek in verhouding tot die sosiale sentrum bepaal. Hierdie vermeende “lidmaatskap” van sulke groepe sou dus die grootste bydraende faktor van ’n individu se identiteit wees. Daardie ingesteldheid het verreikende gevolge gehad op ons land se mense se selfbeeld. Vir sommige (lees wit Suid-Afrikaners) was dit ’n bewys van hul gewaande intellektuele en biologiese meerderwaardigheid. Vir andere (lees swart Suid-Afrikaners) is aangedui dat hul slegs vir fisieke arbeid onder wit beheer geskik is.
Veral vir mense wat wetlik as “Kleurling” omskryf is, is hul geskiedenisse van hibriditeit afwysend as “rasvermenging” beskou: ’n tekortkoming. Dié mense sou dan te kort skiet aan die vermeende waardes wat mens volwaardige mens maak. In die politiek en praktyk van klassisme en kleurisme het hierdie mense dikwels uit noodsaak en skaamte hul familiegeskiedenisse onderbeklemtoon. Liewer die portret van hul Ierse, Skotse of Duitse voorouers, terwyl die storie van die inheemse voorouers agter die hand gefluister is. Dié soort verswyging is nie ongewoon in koloniale geskiedenisse wêreldwyd nie, want hoe jy lyk, wat jou geskiedenis is, bepaal jou sosiale plek in verhouding tot die sentrale mag.
Van die lesers van my ma se boek het waardering gehad dat sy “as ’n vrou van haar tyd” so noukeurig met haar persoonlike geskiedenis omgaan en dit met deernis en sonder vooroordeel vertel. Dit was nie vir ons vreemd nie. Op skool het ons as kinders reeds besef dat haar vertellings uitsonderlik was. Ons maats het dikwels min van hulle eie geskiedenisse geweet. Op skool het ons byvoorbeeld min van slawerny gehoor, soms net terloops, soms selfs minder as niks. Inheemse mense is voorgestel as veragtelik. Behalwe een of twee figure was hulle meesal mense sonder naam, sonder geskiedenis, toevallighede in die geskiedenis van die Europese setlaar.
My ma se vertellings oor ons familie se slawegeskiedenis het by my as ’n kind geresoneer. Van my voorouers aan my ma se kant, maar ook dié van my pa, was mense wat uit Indië, Suidoos-Asië, Mosambiek en Madagaskar as slawe ingevoer is. Haar stories oor dié mense is met soveel passie en deernis vertel dat ek as jong kind my een van my voorouers van die Ooskus van Indië as ’n sorgelose avonturier eerder as ’n gebonde slaaf voorgestel het. Die harde werklikheid was natuurlik heeltemal anders. By nabaat, in ’n tyd van ontkenning, het my ma dit vir ons moontlik gemaak om iets van ons geskiedenis met ongekende erkentlikheid te beleef.
Dit is eers in later jare dat ek met gerigte lees sou agterkom dat aan die Kaap met die sensus van 1834 daar 35 745 tot slaaf gemaakte mense was. In die Stellenbosch-distrik waaronder Raithby geval het, was agt uit elke tien inwoners slawe. Van die 8 595 slawe wat in 1838 in dié distrik vrygestel is, was minstens vier my direkte voorsate.
IV
Wat het die resensente van Met ’n diepe verlange gedink? Steward van Wyk beskryf die boek in Tydskrif vir Letterkunde as “’n boeiende vertelling wat ’n persoonlike perspektief gee op die vormingstye van [’n bepaalde] gemeenskap en ’n belangrike aanvulling tot die werk wat onder meer RE van der Ross in Up from slavery (2005) en in sy ander werke gedoen het.”
Albé Grobbelaar beskryf die boek in Volksblad van Februarie 2007 as “die verhaal van ’n sterk vrou, ’n rotsvaste anker vir haar familie en vriende. Dit is ’n wonderlike nalatenskap vir die skryfster se kinders en diegene wat haar geken het.” Tog is hy nie positief oor die boek nie, want “die inhoud, samestelling en skryfstyl is [syns] insiens bloot nie sterk genoeg nie”.
Andries Bezuidenhout, destyds van die Universiteit van die Witwatersrand, skryf in Beeld in Februarie 2007 dat met “die lees van dié boek kom ’n mens onder die indruk van hoe jy ten spyte van verdrukking en onderdrukking aan jou menswaardigheid kan vashou. Dis wat van die boek ’n storie vir almal maak, nie net die familie Willemse nie.”
Chris van der Merwe van die Universiteit van Kaapstad skryf in Augustus 2007 in Die Burger dat die verhaal wat in “’n eenvoudige, helder styl vertel [word], [...] pas by hierdie vrou sonder aanstellerigheid of vernaamdoenery. Dis ’n pragtige boek, een wat ek van harte aanbeveel.”
Ons was verbaas oor die reaksie wat die boek by talle lesers ontlok het. In boodskappe uit verskeie oorde het ons heelwat ondersteunende reaksies gekry. My ma sou haar verkneukel het aan die gedagte dat mense buite haar familiekring belang sou stel in haar storie of dat die boek tydens ’n episode van die sepie 7de Laan sy verskyning gemaak het.
Die impak van Met ’n diepe verlange het verder as die familie gestrek. Met die 180ste herdenking van die Metodistekerk op Raithby bied haar boek aan daardie gemeente ’n stukkie geskiedenis, net soos haar vertellings van die Bet-el Bybelskool ’n blik bied op die beginjare van pelgrims van die Afrika Evangeliese Bond.
In onlangse gesprekke oor die buurtopknapping van Raithby en naasliggende plekke soos Kylemore en Jamestown naby Stellenbosch is haar boek gebruik om iets van die ou kultuur te begryp. “Buurtopknapping” is die Afrikaanse woord vir gentrification, maar die woord skiet te kort. Wat opknapping is, word uiteindelik marginalisering en ’n nuwe vorm van verswyging. Die gesprek oor gentrification en die uitwerking daarvan op dié voormalige sendinggehuggies is ’n saak vir ’n ander dag.
Ten slotte: Ten spyte van ons kinders se selfsugtige voorbehoude moet ons toegee dat ons ma verdien om in haar eie stem te praat.
Eindnota
1 Hierdie praatjie is op uitnodiging van die organiseerders van die Adam Small-fees op Vrydag 20 Februarie 2026 op Pniël aangebied. My dank aan Janine Myburgh en Darryl David vir die uitnodiging en hul gul ontvangs.
Lees en kyk ook:
Adam Small en die jeug: "(Hulle) praat oor afstande, jare, drome en die dood heen."


Kommentaar
Baie bly dat ek destyds die boek aangeskaf het. Gaan dit nou weer lees. Sulke "klein geskiedenisse" is kosbaar.