Adam Small Fees vier verskeie ander hoogtepunte

  • 2

Janine Myburgh, programorganiseerder, Darryl David, programleier van die fees, Gaireyah Fredericks, skrywer, en Eerwaarde Leon Klate.

Die negende Adam Small Fees is die afgelope naweek weer by die Pniël Museumtuin, Congregational Kerk en in die kerksaal deur die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) gehou, met Het Jan Marais Nationale Fonds as hoofborg. Small sou vanjaar 90 jaar oud gewees het en is 10 jaar gelede oorlede. Die vierdagfees het Saterdag ’n hoogtepunt bereik, met Internasionale Moedertaaldag wat ook gevier is.

Vandeesmaand is ook die 60ste herdenking van die Proklamasie 43 van 1966 wat op 11 Februarie 1966 Distrik Ses as “blanke” (wit) groepsgebied verklaar het.

Darryl Earl David, wat al verskeie literêre feeste georganiseer het en bekend staan as “Mr Bookfest” in die volksmond, was die programleier en stigter van die eerste fees wat in Februarie 2017 aangebied is as Darryl se “present vir Small se 80ste verjaardag”. Darryl is steeds die programleier. Die fees is vir een jaar tydens Covid nie gehou nie.

Hy het destyds in ’n onderhoud met Naomi Meyer gesê hy wou lankal ’n fees vir Adam Small gereël het, maar omdat Small ’n seun is van Wellington, net soos Breyten Breytenbach, was hy “bang dat ’n fees vir Adam Small op Wellington altyd in die skaduwee van Breyten sal wees. Dus het ek die skadu’s van die Simonsberge en Groot Drakenstein van Pniël gekies – ’n gebied ryk aan slawegeskiedenis. (As so ’n geskiedenis in die eerste plek as ‘ryk’ bestempel kan word!)”

Darryl David met Doggone days

Vanjaar het hy sy nuwe boek Doggone days bekend gestel. Hy het ’n boek geskryf oor sy reise saam met sy geliefde honde en verskeie roerende stukke uit die boek voorgelees en ook foto’s gewys. Darryl het gesê dat die boekfeeste op afgeleë en buitengewone plekke hom toegang gee tot unieke geleenthede saam met sy honde. Hy reis die afgelope paar jaar met vier of vyf honde, waarvan twee Saint Bernards.

Een van sy mooi beskrywings in die boek: “The dog smelt of dust and desperation, but there was the first flickering of hope in her eye” oor ’n goue optel spanjoel, wat Lady gedoop is, en ’n gedig oor sy geliefde Droopy, het vele oë vol trane gehad.

Ferrus se foto

Die hele naweek deur het ’n kers vir die pas afgestorwe Diana Ferrus op ’n tafeltjie voor in die kerk langs ’n foto van haar gebrand.

Die naweek het op Donderdag afgeskop met sertifikaatoorhandigings by skole; ’n skrywersgesprek met Shireen Crotz van die Vriende van Afrikaans (VVA), wat in gesprek was met Cliffordene Norton; en ’n VVA-leeskonferensie.

Die PEKT en ATKV bied twee maal per jaar skrywerswerkswinkels deur die bekroonde skrywer, Anzil Kulsen, aan leerders van vier skole in die vallei; drie laerskole en een hoërskool. Leerders kry dan ’n titel om ’n gedig of storie oor te skryf en elke leerder wat ’n skryfstuk inhandig, kry in Februarie ’n sertifikaat. Die wenners lees op die fees-Vrydag hul werk voor en Anzil voer onderhoude met hulle oor hul skryfwerk en oorhandig dan hul pryse.

Die VVA-leeskonferensie vir onderwysers fokus gewoonlik op ’n spesifieke vlak van onderwys. Vanjaar het gefokus op graad R-onderwysers van 22 skole in die Stellenbosch- munisipale area.

Vrydag het ’n vol program gehad met insette van onder meer Michael le Cordeur, wat oor “Davy Samaai: the people’s champion” gepraat het. Michael Weeder se lesing was oor Diana Ferrus en haar bydrae tot die volgehoue vorming van ’n Camissa-Afrikaan-identiteit. Eugene Keet het oor die rol van vaders in die Dwarsriviervallei gesels. Ralph en Cynthia Jacobs het ’n historiese oorsig oor Kylemore gegee het.

Popina Khumanda, wat vir vyf jaar deur rebelle in die Kongo aangehou is en toe ontsnap het en tot in Suid-Afrika gestap het, het ’n roerende sessie gebied.

Gaireyah Fredericks

Die bekroonde digter en skrywer, Gaireyah Fredericks, wat onder meer die Eugène Marais- en die UJ-prys vir literatuur 2025 ontvang het, het oor “Lêngwiech is ydêntitie” gesels.

Sy woon elke jaar die Adam Small Fees by en sê haar reis om haar eie identiteit in haar taal te vind het 10 jaar geduur. Adam Small het haar as’t ware toestemming gegee om in Kaaps te skryf en haar laat verstaan daar is iets soos Kaaps.

“Die woord djy was die begin van my language identiteit. Dit was my eerste ontmoeting met die taal waarin ek gebore is en wat ek my hele lewe lank praat.

“Ek het nie geweet dat dit wat ek praat, net ’n oral language is, behalwe vir ’n paar digters en skrywers nie. Ek was 35 en het begin ondersoek instel na wie ek is, waar ek vandaan kom en wat ek praat.

“Ek het nooit dit wat ek gepraat het, gehoor nie. Ek was so ge-indoctrinate dat as ek praat, ek my Afrikaanse juffrou in die klas gehoor.

“Dit was die begin van my language en identity journey. Ek het begin om my oral language neer te skryf en noem dit nou die Kaap-Moslem vernacular.

“Dit was nie maklik om die regte skryfwyse te vind nie, maar het algaande besef dat mense wat nie Kaaps praat nie, kan ook verstaan wat ek skryf.”

Gaireyah het gesê sy is opgewonde oor die nuwe drietalige woordeboek wat binnekort verskyn en sê sy probeer om mense te herprogrammeer dat “moedertong” dit is wat jy op jou moeder se skoot hoor.

“Dis belangrik dat ons swart skrywers aan swart skryfwerk blootstel; dat ons hulle help om hul selfvertroue te bou; hul eie stem te vind – nie jou stem na te praat nie. Dis ’n gesprek wat moet begin.

“Dis belangrik om vir swart skrywers te sê: ‘Jy mag jou storie vertel; jy mag skryf.’”

Sy het verskeie van haar gedigte voorgelees.

Tussen vlugte deur Miandra Hayward

Gaste is daarna na die kerksaal waar vier kort toneelstukke opgevoer is: Waar oekal djy belong deur Hein Poole, Tussen vlugte deur Miandra Hayward, Ongekarteerde drome deur Chester Miggels en Langs die pad uitsak deur Miché van Wyk.

Die span van Waar oekal djy belong

Die agt akteurs uit agt skole uit die Wes-, Oos- en Noord-Kaap het saam met die regisseurs Rafiek Mammon, Dean Smith, Martie Jordaan en Adri-Jo Waterboer gewerk.

Die span van die SBA

Temas soos die kwaad wat die jeug voel; die woede omdat hul ouers en grootouers vir ryk mense moes werk en hul eie gesinne in die arm woonbuurte afskeep; werkloosheid en geen hoop vir werk nie, al slaag hulle matriek of gradueer; armoede en versplinterde drome is in die toneelstukke uitgelig.

Die treffende woorde van twee karakters wat deur Amelie Bestbier van Hoër Meisieskool Paarl en Jayden Pekeur van Hoër Jongenskool Paarl uitgebeeld is: “Ek kan myself nie sien oudword in ’n ander land nie. Ek kan myself nie sien jonk wees in Suid-Afrika nie” het diep getref.

Ook die woorde van Jeswaan Bonaparte van Hoërskool Carel du Toit op Steytlerville se karakter, Liam: “Ek het lank ander se drome soos ’n mooi pak klere gedra. Maar dis nie my drome nie.” En Jana wat sê sy is bang, waarop Liam antwoord: “Dis hoe jy weet dat jy leef.”

Voor: Niel le Roux (SBA), Janine Myburgh (PEKT), Karen Meiring (Woordfees), Isabel Verwey (HJM), Hendrik Theys (SBA), Theo Kemp (Jakes Gerwel Stigting), Steward van Wyk (SBA), Michael le Cordeur (SBA). Agter: Die span van die SBA-opvoering: studente, dramaturge, regisseurs en direkteure.

Michael le Cordeur van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) het verduidelik dat die toneelstukke geskryf is nadat ’n uitnodiging aan jongmense gerig is om te kyk wie die volgende Adam Small is wat iewers in ’n woonbuurt skuil.

Werke van Adam Small moes as inspirasie gebruik word en elke dramaturg moes aandui watter werk of gedeelte uit ’n werk hy of sy as vertrekpunt gebruik het.

“Ons het met die inskrywings gesien dat die kwessies waaroor Adam Small meer as 60 jaar gelede geskryf het, nog net so relevant is vandag. Jongmense het drome, maar sien nie dat dit kan waar word nie. Small se werke het ses dekades gelede gepraat oor die bendeprobleme, die armoede en die hopeloosheid wat mense voel wat agtergelaat is deur die samelewing.”

Die groepsgesprek

In ’n groepsgesprek met van die toneelspelers, regisseurs en dramaturge het die jongmense beaam dat al die temas uit Small se werk nog steeds relevant is, maar net in ’n ander sosiale konteks. Ook dat elke jongmens se droom bestaansreg het, maar dat jongmense dit nie altyd verstaan nie en dikwels ook nie die hulpmiddels het om dit te bewaarheid nie; ook dat mense nie ’n gevoel van behoort het nie, dat hulle identiteitloos voel.

Hul insigte oor wat die toneelstukke in hul eie lewens beteken het, was ook interessant. Hulle het besef dat toneel die karakter in hul lywe gebring het; dat hulle in die karakters kon glo, anders as die onrealistiese karakters van sosiale media. Dat dit hulle geleer het om in hul eie waarde te glo.

Jeswaan het gesê hy het net soos sy karakter besef dat ander se drome op hom afgedwing word. Maar dat jy moet vergewe en nie toelaat dat die bitterheid verdere bitter saai nie.

En die besef dat “TikTok jou leer dans; dit leer jou nie wat in die lewe aangaan nie”.

Hulle het almal gesê daar is steeds plek vir teater, ten spyte van jongmense se sosiale media-verslawing, waarop die gesoute aktrise, Sandra Prinsloo, gesê het dat die verskil tussen sosiale media en teater eenvoudig is: Eersgenoemde versprei leuens en illusies. Teater werk met die waarheid en met mense wat die waarheid probeer vind.

Steward van Wyk (voor) en Michael le Cordeur

Die gedenklesing deur Steward van Wyk het Le Cordeur se opinie beaam en gesê die dramaturge en regisseurs van hierdie toneelstukke is nie veel ouer as wat Small was toe hy begin toneelstukke skryf het nie.

Die Ommietafelgesprek

Die Ommietafelgesprek, “Hoe gaan dit by die Afrikaanse huis van radiostasies, plaaslik en internasionaal”, onder leiding van Frazer Barry met die bekende radio-omroeper, Martelize Brink, Lynden Jafta, die eienaar van Paarl FM en Crystal Orderson, joernalis en radionuuspersoonlikheid, het gewys dat Afrikaanse inhoud belangrik en gesog is. Dat handelsmerke dit ook begin besef: As hulle hul ware wil verkoop, moet hulle dit toeganklik vir Afrikaanssprekendes ook maak. Navorsing toon dat 70% van Suid-Afrikaners radio luister, maar die paneel het gesê dat radiostasies moet aanpas en bybly. Orderson het gesê joernalistiek is ’n bloedbad en KI dra daartoe by. “Wat beteken dit om die Suid-Afrikaanse storie te vertel, 30 jaar na demokrasie, sodat Generasie Z en Generasie Alfa daarby aanklank vind?”

Sy het gesê jy moet jou eie storie vertel en besef wie jy is en uit watter oogpunt jy dit vertel. “Ons moet die Suid-Afrikaanse storie vertel in al sy malligheid.”

Jafta het bygevoeg dat mense se aandagspan al korter word en jy jou boodskap al hoe vinniger moet oordra. “Die uitdaging lê daarin om die gehore in die verskillende ouderdomsgroepe, elk met hul eie behoeftes, byeen te kry en steeds interessant en relevant te bly.”

Brink het gesê by RSG het hulle besef dat radio nie minder gewild geword het nie, maar jy moet ander opsies ook gee. “Jy kan nie net op FM of AM staat maak nie. Ons doen potgooie, Bek Basaar en indiepte gesprekke wat mense kan stroom of aflaai.

“Jongmense word groot in ’n nie-eksklusief-Afrikaanse wêreld. Ons moet daarby aanpas en ook meer inhoud op sosiale media beskikbaar stel.”

Orderson het daarby aangesluit en gesê ons moet uit die boks begin dink as ons Afrikaans nog oor 100 jaar wil hoor.

Jafta het gesê hy gee nie om watter Afrikaans jy praat nie, solank ons mekaar verstaan, sal Afrikaans voortleef.

Julian Jansen

Die joernalis, Julian Jansen, het oor sy boek Die moord op Deveney Nel gesels. Hy het aan die gehoor gevra: “Wie moet die kwitansie kry wanneer kinders die hoogste prys betaal. Wanneer ’n kind ’n ander kind vermoor?”

Hy het onder meer gesê sosiale media is ’n smetnes. “Jongmense is die nuwe geslag ‘verslaggewers’. Die likes en reposts gee betekenis aan ons lewens.”

Hy sê hy het die boek geskryf as nie net “nog ’n bloed-en-derms-storie nie”, maar dit opvoedkundig gebou, sodat dit van waarde kan wees. “Dis erg as die stelsel ’n kind faal, maar die ergste is wanneer ouers hul kinders faal.”

Hy werk nou aan die boek Op die spoor van die stasiemoordenaar wat in April 2026 sal verskyn.

Darryl David en Adrian Enthoven

Die filantroop Adrian Enthoven het gesels oor Suid-Afrika wat ’n ekonomiese ommekeer gemaak het die afgelope paar jaar. Hy het onder meer die ophef van beurtkrag, die hervorming van die kragstelsel, nuwe inspuiting in spoorwegvervoer en waterverskaffing, laer rentekoerse en die verbetering van hawens se wagtyd uitgelig. Ook die feit dat ons van die gryslys af is en teen 2031 hopelik terug op die beleggingslys sal wees.

“Die land het van 1994 tot 2012, 2014 ongekende groei ervaar. Maar van 2012 tot 2023 ’n algehele laagtepunt bereik. Maar nou kan ons sê dat 2024 beter as 2023 was; 2025 beter as 2024; en dat 2026 goed wegspring.

“Wanneer jy in voorspoed en positiwiteit glo, dink jy anders, jy belê in jou toekoms, jy bring verbeteringe aan jou huis aan. Positiwiteit bring ’n ander denkpatroon in ’n land,” het hy gesê.

Heindrich Wyngaard

Heindrich Wyngaard het gesels oor “Adam en Jakes: Wie is hul Afrikaanse gespreksgenote vandag?”

Die middag se program is afgesluit met ’n “Diana Ferrus Tribute” deur digters en skrywers wat sy beïnvloed of geleer het; lede van die Mengelmoes-skryfgroep waarvan Diana lid was; en lede van die Pniël Skryfskool.

Die dag se verrigtinge is afgesluit met ’n skemerkonsert deur Trible Echo, met Earl Witbooi, Frazer en Deniel Berry wat saam met plaaslike talent Purdon Simpson, Jade Lackay, Winston Lackay en Justin Jefthas opgetree het.

Sondag is die Adam Small Feesdiens gehou en Elias Nel het Psalms in Gariep-Afrikaans voorgedra met gepaardgaande musiek en sang.

  • Foto’s: Maryke Roberts
Lees ook:

Video-oorsig: Adam Small-fees 2026 (Pniël, Wes-Kaap)

'n Onderhoud oor die Adam Small-fees in Pniël

  • 2

Kommentaar

  • Maryke Roberts

    Baie dankie vir die gul ontvangs by die fees en al die hulp. Was 'n literêre lekkerte!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top