Die 2026-Adam Small-fees het 20–22 Februarie in Pniël plaasgevind. Vanjaar was dit ’n spesiale viering, aangesien 2026 die jaar is waarin Adam Small 90 jaar oud sou geword het en hy 10 jaar gelede oorlede is.
Steward van Wyk het die gedenklesing op Saterdag 21 Februarie gelewer.
Hy het die teksweergawe van sy lesing aan LitNet verskaf.

Adam Small (foto: Naomi Bruwer)
Inleiding
Dit is ironies om in die jaar dat Adam Small 90 sou geword het, oor ’n onderwerp soos Adam Small en die jeug te praat. Hy het wel gesê: “As an artist I often work with irony”.i Small is op 21 Desember 1936 gebore en sou vanjaar 90 jaar oud geword het. Hy is egter op 6 Junie 2016, 10 jaar gelede, oorlede. Op die jong ouderdom van 21 jaar publiseer hy sy eerste digbundel, Verse van die liefde, in 1957, en ’n jaar later Klein simbool. Sy bekendste werk, die digbundel Kitaar my kruis, verskyn in 1962 toe hy 26 jaar oud was, en die drama Kanna hy kô hystoe in 1966 op 29-jarige ouderdom.
Die dramaturge, regisseurs en akteurs van die vier dramas wat ons so pas gesien het, is nie veel jonger as Small toe hy bogenoemde werk gepubliseer het nie en noop die vraag: Wat is die raakvlakke, alhoewel dit in uiteenlopende tydvakke geskryf is met ’n tydsverskil van ongeveer 60 jaar? Kan dit wees dat die temas en problematiek dieselfde is?
Small se voorstelling van die jeug
Kinders en jongmense is die sentrale figure in Small se werk. Die hoofkarakters in sy dramas, Kanna, Map Jacobs, Joanie Galant, Johnie Adams, Joanie en Johnie, Martin en Diana is jong volwassenes wat gekonfronteer word met die uitdagings van hul tyd: beter geleenthede oorsee, werkreservering, bendegeweld en dwelms, alles ingebed in ’n omgewing en samelewing wat deur apartheidswette bepaal word: die Groepsgebiedewet, die Ontugwet, die Bevolkingsregistrasiewet, die Wet op Aparte Geriewe, en ’n magdom ander wette wat bepaal waar jy mag woon, werk, ontspan, wie jy mag liefhê. Die individu het min geleenthede om hieraan te ontkom.
Die randkarakters in sy dramas beleef soortgelyke indien nie erger omstandighede nie: Toefie en Skoen, Ysie en Jiena in Kanna is vasgevang in armoede, alhoewel blymoedig en ondernemend; Blanchie Cavernelis in Map Jacobs is die slagoffer van seksuele uitbuiting en die onmoontlike eise van haar pa, en Davey Goliath kyk magteloos toe hoe sy suster weens hul omstandighede agteruit gaan en geestelik versteurd raak.
Small se jeug
Hierdie toestande kontrasteer met Small se opgroeijare. Hy onthou die gelukkige gesinslewe waarin hy opgegroei het op Goree en later Retreat op die Kaapse Vlakte. Sy susterskind, Francois Cleophas, haal Small aan waar hy sy grootwordjare op Goree beskryf as die “gelukkigste huislike lewe as kind”.ii In die gedig “Trap der bruin jeugd” besin hy jare later oor die omstandighede wat hom gevorm het en die keuses wat hy moes uitoefen:
As ’n klein kind nog, wis ek
ek was Afrikaans in my hele wese,
of soos ons padlangs sê,
in murg en been.
Ek het reeds besef ek is
vir hierdie taal geleen
en sou myself beskikbaar maak.
Tóé al het ek besluit ek sou
die hoogste sport
in hierdie taal bereik, en nou,
in my ouderdom kan ek tevrede voel
versoen deur die gedagte:
ek het daardie belofte aan myself
gestand gedoen.
Ek was deurgaans bewus
dat alles gruwelik moeilik sou wees
om, as bruin,
op die kruin bo uit te kom.
...
Ek het Apartheid gehaat
omdat dit my wou keer
om óp te klim, alles vir jou
met bose gemeenheid bemoeilik.
Daar was vir my tye
toe ek, deur bitterheid verswelg,
alles wou laat vaar.
Maar as telg van haar,
sy wat my gebaar het,
sou ek in bitterheid my lot
nie sommerso aanvaar.
Nou, ná jare en jare, veertig jaar,
eintlik ’n halwe eeu, het ek
vir myself die Lig gevind, en daardie
klein bruin kind se Wil vervul:
hom ingebind in Afrikaans vir altyd.
Ons hoor in die gedig hoe die digter-spreker se vorming ingebed is in Afrikaans, gevorm deur ontsag en respek vir sy moeder en sy belofte aan homself en haar om in hierdie moedertaal die hoogste sport te bereik en sy beste self te verwesenlik. Ons lees ook oor die wig wat apartheid in hierdie lewensideaal wou slaan, maar hoe hy onwrikbaar getrou gebly het, ondanks bitterheid, aan Afrikaans (kyk ook Pakendorf).iii
Uitbeelding van kinders en jongmense
Dit is dus begryplik dat Small se wrewel en verset teen apartheid ontspruit uit sy waarneming van die onskuld en geluk wat dit kinders en jongmense ontneem. ’n Foto wat baie sprekend is, is die een van Small wat laggende, spelende kinders op straat waarneem, waarskynlik in Distrik Ses. Dit toon ’n groep kinders wat uitbundig, vrolik, al spelende in die straat afhardloop, vermoedelik in die rigting van The Seven Steps.
Eenkant teen die lamppaal staan ’n jong Small, peinsend, denkend, afgesonder in sy eie gedagtes (kyk ook Pakendorf). Dit is asof Small hierdie onskuldige, kinderlike geluk afweeg teen die ongenaakbare wêreld daaromheen en in klaarblyklike daadloosheid net kan toekyk. In sy digbundel Oos wes tuis bes Distrik Ses is daar pragtige beelde van laggende en onskuldige kinders wat speel-speel hul kindwees in die ou Distrik Ses uitleef, onbewus van die dreigende gevaar van die sloping.iv
Toefie Temoor vannie Tennan’straat,
hy’t pêllies wyd en syd
Sy ma skel hom ma altyd oor sy snotnies yt
ma nevermind, sê hy nevermind!
Djulle dink, dink djulle hy’s unkind
moet haa?
Djulle dink, dink djulle, hy praat skief
moet haa?
Dan wiet djulle glad nie hoe ‘t is nie
Kôs actually het hy haa baie lief.
Hierdie maand herdenk ons die uitsettingsbevel uit Distrik 6 op 11 Februarie 1966, 60 jaar gelede, en die verskriklike vernietiging van geboue, gesinne en die gevolge daarvan wat vandag steeds verwoesting saai in gemeenskappe op die Vlakte en oral in die land. Small bepeins in die voorwoord tot die fotoboek District 6 wat hy en Jansje Wissema gepubliseer het,v hoe kinders dit moes beleef het:
Ultimately and always my concern relates to ... children ... The children witnessed the coming of the bulldozers. As the machines moved in on the District ... they registered the noise and the threat of it all ... The apocalyptic sound was complete when the first buildings toppled. They fell down, the façades, and the inside walls, in clouds of dust that in the end were just a single cloud ... of resentment.
In Oos wes tuis bes Distrik Ses is daar ook hierdie ode aan die kommerlose verliefdheid van jongmense te midde van die destruktiewe magte wat dit bykans onmoontlik maak:
Oraait young lovers, nevermind
young lovers, nevermind
love net young lovers
moenie care nie,
Kôs alles kô tog op ’n end
Life?
’Is ’n sinkplaat ma, ’it word ytgepluk
easy
deurie bulldozers of assie wind ruk
So love young lovers
love ma net
love ma net en moernie care nie
love ma net en nevermind
love hy is mos blind.
Hierby sluit aan die gedigte “What about de lô”, “O oppas, oppas” waarin die hartseer van die Ontugwet, die Wet op Verbod op Gemengde Huwelike, uitgebeeld word. Ook die tragiese verloop van Map en Blanchie se jong liefde.
Nie net in sy skryfwerk nie, maar ook as regisseur en maatskaplike werker het Small ’n noue betrokkenheid by kinders en jongmense gehad. As regisseur van die heel eerste opvoerings van Kanna het Small met jongmense gewerk, spelleiding gegee en rolverdeling gedoen vir die UWK se dramavereniging Dramsoc. Peter Braaf onthou hierdie laatnag repetisies in Small se garage van sy Lansdowne-huis.vi
Hy het ’n besondere oog gehad om die talent van ’n jong akteur raak te sien, byvoorbeeld die vurige jong aktivis Johny Issel wat as Jacob sy strydlustige preke voortreflik voorgedra het. Charlyn Wessels noem dat hy waargeneem het dat sy beter in die rol van Makiet pas as in dié van Roeslyn, die rol waarin sy lowende kommentaar tot vandag kry. En hy kon sien dat Jonathan Sam of Paul Cookson baie goeie ghitaarspelers naas akteurs was – iets wat hy meer in die drama geïnkorporeer het. Charlyn beskryf sy behandeling van hulle jong akteurs as sag, dog ferm.vii By geleentheid het hy ook sy waardering vir die werksetiek van hierdie jong akteurs met hulle rou talent uitgespreek.
Hein Willemse dokumenteer die geskiedenis van Adam Small en Dramsoc, wat later oorgegaan het in die Cape Flats Players, en wys ook op die vormende invloed van Swart Bewussyn-idees op hierdie groep jong studente wat hulle waarskynlik via Small gekry het. Hy haal Braaf aan wat die volgende opmerk oor die lesse wat hy geleer het: “Selftrots, om staat te maak op jou inherente vermoë, om om te gee, om deur te druk, en om die beste van jou akteurs te verwag”viii (Willemse 2017).
Maatskaplike werk
Liberaal-humanistiese waardes bly regdeur sy lewe die onderbou van Small se skryfwerk. In die eerste rubriek van die reeks “Counterpoint” wat hy vir die Cape Times skryf in 2015, slegs ’n jaar voor sy afsterwe, besin Small oor sy skryfwerk en stel dit dat “One’s writing ... is probably better for not being a tepid post-script to people’s being, but designed to bring tribute to their humanity; people like our everyday selves.”ix Hy beklemtoon hier sy strewe om die volle menswees van sy medemens uit te lig. Hierdie sentimente kom ook na vore in die missiestelling wat hy vir die Departement Maatskaplike Werk geskryf het. Hy sê:
We serve a constituency of students in pursuit of liberation from the oppressive impact of … realities in our society, including sheer economic repression, and – of course – the whole gamut of apartheid as a specific instance of colonialism.
In the process we are committed to the liberatory aims and actions of the communities from which our students come ... This includes attention to self-development … we view all our thinking and activity as devoted to an ever-deepening understanding and respect for the integrity of persons.x
Small se eertydse kollegas in die Departement Maatskaplike Werk by UWK, Frans Kotze en Marie Minnaar-Mcdonald, onthou sy visionêre leiding in die ontwikkeling van ’n sterk teoretiese en filosofiese begronding vir die departement wat op ’n holistiese benadering tot mense, veral kinders en jongmense, gerig was. Voordat hy in die departement aangestel is, het hy as direkteur van die Foundation for Community Work (FCW) baanbrekerswerk in vroeë kindontwikkeling en Educare gedoen waarin hy sy tyd ver vooruit was.
In sy professorale intreerede ontwikkel hy die begrip philosophy and ethics of care wat die nadruk lê op diensbaarheid, hulp, versorging en omgee, en waarin menslikheid en geregtigheid (“humanity and justice”) rigtende waardes moet wees. Kotze wys op begrippe soos the drama of social work en elkeen van Small se karakters as maatskaplike gevallestudies uit sy perspektief as skrywer en maatskaplike werker.xi Oor sy verhouding met studente merk Minnaar-Mcdonald op: “His openness and warmth … allowed for a ‘caring’ and ‘democratic’ approach to listen and dialogue with students.”xii
Nuwe stemme
Adam Small se werk resoneer steeds met jongmense en hul uitdagings. As deel van die 90-jarige herdenking is vier jong dramaturge uitgenooi om ’n verhoogproduksie te skep wat inspirasie uit die lewe en werk van Small put. Die eindresultaat bied stof tot nadenke.
Miché van Wyk skryf in haar motivering: “Dit was ’n donker tyd waarin Adam Small geleef het en hy het kommentaar gelewer oor hierdie tye. Daar is tog temas in Small se werk wat ook vandag relevant is, net met ander sosiale konteks. Die swaarkry. Die politiek. Die bewyse dat die “dice” verkeerd geval het.
Almal is iewers heen op pad, maar dis omstandighede wat soms maak dat ons nie by ons eindbestemming of doelwit kan uitkom nie. In ons gemeenskappe is dit ’n groot prestasie om matriek te maak. Die trots op ouers en gemeenskappe se gesigte wanneer die leerder in matriek is en slaag, word hoog geag. Om goeie onderrig te kry word gesien as ’n voorreg. Langs die pad uitsak poog om ’n vergrootglas te plaas op leerders en hulle skoolloopbaan. Hoekom is onderrig belangrik? Wat verhoed ’n leerder om ’n skoolloopbaan te voltooi?
Sy voer verder aan dat in vandag se tyd daar egter al hoe meer gevalle is van leerders wat die skool te vroeg verlaat. “Want ek het mos net graad 9 nodig om iets van my lewe te maak.” Of: “Ek het gedruip so ek los die skool.” Volgens haar is ’n faktor ouers wat nie traak nie en nie aandag gee nie, leerders wat dom voel oor hulle sukkel om te leer maar nie die kennis het dat iets soos ADHD bestaan nie en dat daar hulp is nie. Of dis finansies, of die skool is te ver. Soms moet jy studietyd opoffer om by die huis te help. Dit is die realiteit van skoolverlaters wat werkloos raak en selfs later moed opgee om werk te soek.
Die stuk resoneer met die gedig “Evangeliesasieverslag” uit Kitaar my kruis. Die titel herhaal ’n versreël uit die gedig: “... en so het hulle uitgesak langs die pad”. Small se herdigting van die Amerikaanse rympie “Ten little Nigger boys” en die gebruik van raspejoratiewe is ’n onderwerp vir ’n ander dag. Sy slim herskrywing en bytende satire val op.
Nog ’n kwessie wat aangeraak word, is die drome van die jeug wat teen die verwagtinge van volwassenes bots. Chester Miggels se stuk, Ongekarteerde drome, speel hierop in deur ’n aanhaling van Makiet se woorde in Kanna: “Dis hoekom ek dit nie kan geverstaan het nie.” Makiet uiter haar onbegrip oor Kanna wat nie terugkeer nie ten spyte van sy verklaarde liefde vir sy mense. Chester se stuk wentel rondom twee jongmense wie se drome stuit teen ouers en die gemeenskap se verwagtinge.
Die karakter Kayla sê: “My ma het gister weer gesê musiek betaal nie rekeninge nie. Volgens haar kan ek musiek maak op my eie tyd. Na ure, wanneer niemand kyk nie. Hoekom moet my droom eers ’n receipt het voor dit as geldig gesien word?” Hierop antwoord Liam: “Miskien is ’n droom nie veronderstel om verstaan te word nie. Net om geleef te word. Miskien hoef ’n mens nie alles te verstaan nie. Net aanhou beweeg.”
Albei karakters verwoord die behoefte aan wat hulle in die oggend wakker maak, wat “jou laat asemhaal soos iemand wat pas ’n marathon gehardloop het”. Liam som hul situasie so op: “Maar eintlik soek ons al twee dieselfde ding. Iets wat sin maak. Vir ons.”
Marisa Hayward se drama, Tussen vlugte, raak ’n soortgelyke tema aan. Sy sê: “In Adam Small se drama, Kanna hy kô hystoe, sien ons die nagevolge van Kanna se afwesigheid uit die perspektief van sy familie en gemeenskap. In dié herinterpretasie sit Liam en Jana in die lughawe terwyl hulle wag vir hul vlug.” Vanuit beide karakters se perspektief word die tweestryd duidelik: Die opwinding vir die moontlikhede stry teen die gevoel dat hulle die bekende en hulle geliefdes agterlaat. Nes Kanna, kan Liam die skuldgevoel dat hy sy gesin aan hul eie lot oorlaat, nie afskud nie, en Jana sukkel om te identifiseer met haar herkoms terwyl sy ’n “ander ek” oorsee geword het.
Die verdubbeling van karakterrolle werk goed om die ouma en oupa en hulle besorgdhede op die voorgrond te plaas en die generasiegaping te belig.
Die treffende deel van die teks is die volgende stukkie dialoog. Liam sê: “Ek kan myself nie sien oudword in ’n ander land nie”, waarop Jana antwoord: “Ek kan myself nie sien jonk wees in Suid-Afrika nie.”
Hierdie stuk resoneer met Small se werk en laat mens dink aan Kanna wat oorsee gaan om as ingenieur te werk, Map wie se drome verydel word deur die stelsel, en die Anthony’s wat uit Woodstock verskuif word na ’n plek waar hulle aan geweld uitgelewer word.
Waar oekal djy belong deur Hein Poole het ’n interessante toespeling op die verlede toe mense sonder die vryheid van keuse hulself in sekere ruimtes bevind en die uitwerking wat dit op gesinne gehad het. Dit sinspeel op Map Jacobs se woorde in Die Krismis van Map Jacobs: “To belong. That’s the secret of living. To belong man. Believe me. To belong!” Hy sê die volgende: “Adam Small het baie oor die Groepsgebiedewet geskryf waar verskillende rasse in verskillende gebiede gewoon het. Vandag is daar nog steeds hierdie verskillende woongebiede, maar nou meer tussen ryk en arm. In hierdie drama ondersoek ek die konflik tussen twee jongmense wat uit verskillende woongebiede kom, asook die ouers wat by die ryk buurt werk en ook daar bly. Die kinders bly dan agter in die arm buurt en het min kontak met hulle ouers.”.
Poole betrek voorts die eietydse ontgogeling wat mense het oor hoe min hulle situasie verander het in demokratiese Suid-Afrika. Die karakter Blanchie merk op: “En my ouma was deel van die boikot. Vandag kyk ek rond dan besef ek dat armoede steeds met ons is. Service delivery, social omstandighede, corruption, crime, you name it. Dertig jaar democracy en ons weet nie of ons gaan werk kan kry nie.”
Slot
In al vier kort dramas weerklink die stem van Small: as ’n reël uit Kanna of Map Jacobs of ’n versreël uit ’n gedig of ’n teaterelement. Small se gebruik van die epiese teater en gestroopte verhoogstel is voorts opmerklik. Die gesprek met Small oor generasies, afstande en na sy dood is aaneenlopend en dien as stimulus vir vernuwende kreatiewe stemme, soos wat hy self in sy tyd was.
Eindnotas
i Adam Small declines, Argus, 2 November 1974.
ii Cleophas, F. 2017. Adam Small: Familiegeskiedenisse, aanlope en vroeër invloede, Tydskrif vir Letterkunde, 49(1). https://dx.doi.org/10.4314/tvl.v49i1.3.
iii Pakendorf, Gunther. 2014. Die Small weg: Gedagtes rondom Adam Small, Klawerjas. LitNet Akademies-resensie-essay. https://www.litnet.co.za/die-small-weg-gedagtes-rondom-adam-small-klawerjas.
iv Adam Small en Chris Jansen. 1973. Oos wes tuis bes Distrik Ses. Kaapstad: Human en Rousseau.
v Small, Adam en Jantje Wissema. 1986. District Six. Kaapstad: Fontein Boeke.
vi Onderhoud, Leliestraat, Bellville-Suid, 12 Februarie 2026.
vii Dyers (Wessels), Charlyn. Telefoniese gesprek, 18 Februarie 2026.
viii Willemse, Hein. 2017. In jarelange verbondenheid: Adam Small en die Cape Flats Players. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(4). DOI.10.17159/2224-7912/2017/v57n4a2.
ix Small, Adam. 2015. “Those days of old, those days of gold …” Counterpoint, Cape Times, 9 Januarie.
x E-pos van Vivian Bozalek, 10 Februarie 2026.
xi Onderhoud, VGK Kerkkantoor, Bellville-Suid, 17 Februarie 2026.
xii Minnaar-Mcdonald, Marie. 2016. Adam Small: Promoting the dignity of the marginalised. Ongepubliseerde voordrag.

