
Marlene van Niekerk: Die tempteerbare oog, ’n huldiging saamgestel deur Marius Crous. Beskikbaar: Naledi
Marlene van Niekerk: Die tempteerbare oog, ’n huldiging
Redakteur: Marius Crous
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256126
- ’n Wysiging is sedert die oorspronklike publikasie van die resensie aangebring.
Daar het pas nog ’n bundel in die SA Akademie se reeks huldigings van Hertzogpryswenners verskyn. Dit is getitel Marlene van Niekerk: Die tempteerbare oog, ’n huldiging, en die redakteur is Marius Crous. Die newetitel is gehaal uit ’n stelling van Van Niekerk wat op die agterplat gedruk is: “Uitgestal lê al die dinge daar as ’n uitdaging aan al die maniere waarop ons die wêreld kan ken: die ondersoekende hand en die estetiese oordeel en die praktiese rede en die tempteerbare oog en die vertederde herinnering en proelustige tong en die nuuskierige verhemelte.” Uit dié aanhaling kry die leser alreeds ’n aanduiding van die veelsydigheid van die skrywer wat in hierdie bundel gedenk word. Crous noem in sy voorwoord dat hy veral jonger akademici uitgenooi het om vir die bundel te skryf – mense wat al oor Van Niekerk geskryf of met haar as studieleier gepromoveer het. Dit lei daartoe dat boeiende eietydse kwessies en teoretiese raamwerke in die bundel ter sprake kom.
Erika Terblanche skryf, soos in verskeie van die ander huldigingsbundels, oor die lewe van die skrywer en oor reaksies op haar werk. Van Niekerk is altyd prikkelend in die stellings wat sy maak, en die aangehaalde stellings van haar is geen uitsondering nie. Reaksies van lesers op haar werk word weergegee, plaaslik en ook internasionaal. Ek mis dit wel dat artikels in joernale en tydskrifte nie betrek word nie; en oor die digbundel Groenstaar word feitlik niks geskryf nie, hoewel dit uit Dewald Koen se hoofstuk in die boek blyk dat daar wel meer as een resensie oor die digbundel verskyn het.
.....
Deurlopend in die huldigingsbundel is die tema Van Niekerk as skrywer en ook as denker – die omvattendheid en kompleksiteit van haar denke, haar sterk sosiale bewussyn en haar strewe na die versoening van etiese aansprake met ’n estetiese ideaal word telkens bespreek.
.....
Deurlopend in die huldigingsbundel is die tema Van Niekerk as skrywer en ook as denker – die omvattendheid en kompleksiteit van haar denke, haar sterk sosiale bewussyn en haar strewe na die versoening van etiese aansprake met ’n estetiese ideaal word telkens bespreek. Dewald Koen skryf oor die ontwikkelingsgang van die ekologiese bewussyn in haar poësie, van Sprokkelster tot Kaar. ’n Deeglike oorsig word oor hierdie tema in haar digkuns gegee, en dan fokus Koen op die gedig uit Kaar met die uitgebreide titel “Teorie en praktyk van die digkuns in ’n era van aardgas (Vir die meester van Shell, ’n boodskap uit Suid-Afrika)”. Uit die titel kan reeds afgelei word dat die gedig handel oor Shell se plan om skaliegas in die Karoo te ontgin. Poësie word hier as wapen gebruik om onder andere twee mans met die voornaam Jan by te kom – vanaf Jan van Riebeeck tot by Jan Willem Eggink, die hoof van Shell in Suid-Afrika, spel Hollanders moeilikheid vir Suid-Afrika. Verbeel jou, sê die gedig, hoe die Nederlanders sou reageer as skaliegas in die Vinkeveense Plassen ontgin sou word! In teenstelling met die ontginning van gas om geld te maak staan die digter se ontginning van die taal ter wille van bewaring.
Luan Staphorst se bydrae sluit aan by die genre van die universiteitsletterkunde, waarin die interaksie tussen letterkunde en universiteit betrek word. Hy verkies om hierdie tipe letterkunde te ondersoek deur die lens van kritiese universiteitstudies (KUS). So ’n benadering idealiseer nie die verlede nie, maar kyk krities na die universiteitswese van die hede sowel as die verlede en soek na ’n radikaal nuwe visie as ideaal vir die toekoms. Staphorst ontleed enkele geskrifte van Van Niekerk met die universiteitwese as tema: “Kanonbaai” uit Die vrou wat haar verkyker vergeet het; “Die swanefluisteraar” uit Die sneeuslaper; ’n ope brief wat op LitNet verskyn het en ’n essay oor die Afrika-filosofie. Uit “Kanonbaai” blyk die dilemma van die wit akademikus wat nie uit sy verbondenheid met die ongelykhede van die verlede en die hede kan ontsnap nie. Die verhaal as geheel eggo die siening van die karakter Loewie Kiewiet oor die huidige sisteem:
‘Djy kan niks met hom makie. Djy kannie náby hom kommie. Djy moet eenvourag lat spoek tot lat hy kla’ is; tot lat allie stoppe en joints to hell ’n gone in hulle se moer in is. Dan kan ô’s wee kyk, van vóó af.’ (Aangehaal op p 259)
Daar is wel ’n ontwikkeling te bespeur as die tekste saam gelees word. In “Die swanefluisteraar” kom daar ’n wending as professor Van Niekerk leer om haar student Olwagen te bewonder vir sy opvatting dat die universiteit wesentlik moet verander om meer ruimte te bied vir menslikheid. In die essays van Van Niekerk wat ontleed word, die ope brief op LitNet en ’n essay oor die Afrika-filosofie, kom ’n radikale, uiters prikkelende toekomsvisie vir die universiteit na vore: ’n universiteit wat nie alleen op die intellek toegespits is nie, maar wat streef na die ontwikkeling van ’n algemeen Suid-Afrikaanse menslikheid, na kennis wat grensoorskrydend is, waar Hermes die model is – die triekster wat tussen die mense en die gode bemiddel – eerder as Prometheus die magsfiguur. Transnasionale studie moet steeds in die nasionale veranker wees, skryf Van Niekerk; daar moet ook ’n waardering wees vir lokale tale en kulture. Dis ’n boeiende artikel oor ’n stimulerende denker.
.....
In die essays van Van Niekerk wat ontleed word, [...] kom ’n radikale, uiters prikkelende toekomsvisie vir die universiteit na vore: ’n universiteit wat nie alleen op die intellek toegespits is nie, maar wat streef na die ontwikkeling van ’n algemeen Suid-Afrikaanse menslikheid, na kennis wat grensoorskrydend is
.....
Meer as een artikel handel oor Van Niekerk se metafiksionele tekste; tekste wat nadenke bevat oor die aard en die sin van haar kreatiewe werk. Twee boeiende hoofstukke wat oor hierdie tema handel en by mekaar aansluit, word vervolgens bespreek. Janien Linde skryf oor die spanning in Van Niekerk se werk tussen die strewe om “skoonheid” te gedenk en “om ’n rekord na te laat”. Sy onderskei drie fases in Van Niekerk se metatekstuele narratief: eerstens die fase van jeugdigheid en potensiaal; dan die Suid-Afrikaanse fase waarin magstrukture ondermyn word, verteenwoordig deur Triomf en Agaat; en ten slotte ’n transnasionale fase. ’n Wending tussen die tweede en derde fase kom tot stand in die verhoogstuk Die kortstondige raklewe van Anastasia W. Twee kontrasterende karakters met name uit ’n ou leesboekie vir kinders, Sus en Daan, kom daarin voor. Sus versamel koerantknipsels oor allerlei verskriklikhede, terwyl Daan hom besig hou met onsinverse. Hiermee word die etiese openbaring van onreg teenoor die estetiese spel met woorde gestel. In die derde, transnasionale fase ontwikkel sommige van Van Niekerk se tipiese buitestaanderfigure tot sjamaankarakters wat ’n ruimte skep vir die misterieuse en die mistieke. Hiermee, skryf Linde, word ’n “poëtikale argument” gevoer dat die estetiese element wel ’n etiese dimensie kan hê, maar dat dit nooit ’n simplistiese etiek is nie. Dit is tekste wat weerstandig teen interpretasie en onvoorspelbaar is; dit is “letterkunde wat dink” (154).
Linde se artikel stem ooreen met wat Jean Rossmann, in haar Engelse bydrae, skryf oor die spiritueel-etiese en estetiese soeke by Van Niekerk “towards a greater openness to alterity, to the world, and toward cosmic interconnectedness” (134). In haar artikel brei Rossmann uit op hierdie “endless quest of meaning-making” (189). Sy fokus op drie embleme aan die einde van drie van Van Niekerk se romans: die Orion-konstellasie in Triomf; die ramshoring in Agaat; en die labirint in Memorandum, en kom tot die volgende slotsom:
Van Niekerk dismantles and gathers local and global histories, myths, philosophies, and literature in an endless quest of re-creation. The open dialectic of Van Niekerk’s writing calls the reader-writer to participate in this quest, which carries a moral burden to think and live in contradictions. (201)
By Van Niekerk is daar nooit ’n simplistiese oplossing van teenstrydighede nie, skryf Rossmann:
Van Niekerk’s work keeps the reader shifting between poles of mordant self-criticism and passionate hope for self-transformation; of irrevocable antagonism between self and the other, on the one hand, and reconciliation between the races, on the other; of austerity in the face of death and suffering, and of death as the ultimate possibility. (197)
Ook Alwyn Roux skryf oor die lewe op die drumpel tussen kontrasterende werklikhede, soos dit voorkom in Memorandum: ’n Verhaal met skilderye, ’n werk wat “op ’n besondere wyse gemoeid [is] met liminale toestande en transformasies” (205). Roux gee ’n uiteensetting van drie teoretici wat oor liminaliteit geskryf het. Hy verduidelik die drieledige struktuur van oorgangsrites soos deur Van Gennep onderskei in sy Rites du passage: die preliminale skeiding, die liminale oorgangsfase en die postliminale inlywing by die gemeenskap. Victor Turner brei uit op die derde fase van Van Gennep – hy maak ’n onderskeid tussen die vloeibare gemeenskaplikheid van communitas en die vaste, normbeheerde sosiale struktuur. Derdens verduidelik Roux die poststrukturele benadering van De Pina-Cabral, wat by Turner aansluit. Pina-Cabral onderskei tussen die “dag-aspekte” en die “nagtelike aspekte”, dws die aanvaarbare teenoor die onderdrukte elemente in die sosiale struktuur, en kom tot die slotsom dat teenstrydigheid ’n wesentlike bestanddeel van die sosiale lewe is en ’n noodsaaklike dinamiek daaraan verskaf. Vervolgens toon Roux in sy ontleding van Memorandum aan hoe ál drie benaderings geldig is en mekaar aanvul, en hoe hulle saam meer fasette van die teks dek as wat ’n enkele benadering kan doen.
Twee artikels sluit aan by Van Niekerk se kulinêre belangstelling, hoewel uit heeltemal verskillende gesigshoeke. Sonja Loots skryf insiggewend oor Triomf en Memorandum binne die tradisie van die ensiklopediese roman, waarvan François Rabelais en Robert Burton die pioniers was. Die ensiklopediese kennis wat versprei is ná die ontdekking van die drukpers in 1450 het ambivalente reaksies ontlok. Sowel Rabelais as Burton het die belangrikheid van kennis-inname besef, maar ook die noodsaak van ’n kreatiewe omgang daarmee ingesien. Beide gebruik eet en drink as metafore vir kennisinname, en ekskresie as ’n simbool van die kreatiewe verwerking daarvan. Dieselfde metafore vind ons ook in Triomf en Memorandum. Loots wys op die spanning tussen kennisbewaring en kreatiwiteit by Treppie Benade. Treppie verbind kuns met uitwerpsels, en hardlywigheid is soos ’n blok in die kreatiewe proses. Die gemorskos in Triomf is simbolies van die karakters se geestelike armoede, skryf Loots. By Wiid in Memorandum is daar ’n verbetering in sy dieet wat gepaard gaan met die ontwikkeling van sy skrywerskap. Aanvanklik kan hy nie eet of ontlas nie, en sy dieet is saai. Die eerste belowende teken is dat hy lus raak vir muskadel. Dan lok sy vriend Joop hom uit die hospitaal met kos sowel as boeke; hy ontvang ’n boek van Bachelard en eet aan die rosyne. Wanneer hy wyn begin drink, ontluik hy as skrywer. Daar word egter ’n waarskuwing ingesluit by die metafore van eet en drink en ontlasting – nie net hardlywigheid nie, maar ook diarree is ’n gevaar. Hardlywigheid verteenwoordig ’n skrywersblok; diarree simboliseer die ongefilterde, onkreatiewe deurvloei van idees. Die ideaal is inname, belemmering en uiteindelik defekasie.
Van Niekerk is in goeie geselskap met die gebruik van hierdie metafore vir die kreatiewe proses. Loots se artikel het my met plesier laat dink aan die gedig wat Van Wyk Louw geskryf en agter sy toiletdeur gehang het:
Opskrif vir gaste in ’n klooster
Wees in jou eensaam oomblik nog
van hierdie gasvry wens bewus:
vir elke kramp – sy leniging;
vir alle bose winde – rus;
vir dié wat traag en langsaam is:
die snelheid van die storm;
en vir die gans-oorhaastiges:
meer vastigheid en vorm.
Metha-Maré Viljoen se artikel handel oor Marlene van Niekerk se skryfwerk oor kos. Hierdie geskrifte van Van Niekerk, skryf Viljoen tereg, gaan altyd oor meer as kos; dit gaan ook oor magsverhoudinge, identiteit, herinnering en nostalgie. Viljoen bespreek twee van Van Niekerk se akademiese artikels oor voedsel, “Die etende Afrikaner” en “Oor draketande”, saam met 36 resepte wat eintlik “resepstories” is – resepte gekombineer met kultuurkritiek.
.....
Metha-Maré Viljoen bespreek twee van Van Niekerk se akademiese artikels oor voedsel, “Die etende Afrikaner” en “Oor draketande”, saam met 36 resepte wat eintlik “resepstories” is – resepte gekombineer met kultuurkritiek.
.....
Van Niekerk onderskei drie tipes eters: “patriarg van die rondebord”, “hoogdorpse fynproewer” en “nuwe Afrikaner”. Sy verbind ál drie tipes met sosiale kritiek. Die patriarg van die rondebord is ’n verorberaar van kos; hy is manlik en bevestig die patriargale stelsel met die vrou in die kombuis, die man wat nie kook nie, en vleis as die sentrale gereg. Die hoogdorpse fynproewer word deur snobisme gekenmerk. Hy/sy behoort aan ’n eksklusiewe gilde en bevestig die groot klasseverskil tussen die connoisseurs en die armes. By die nuwe Afrikaner is herinnering dominant – die voedsel is ’n teken van die hunkering na die verlede. “Die kombuis waarin ’n mens sy verstand kry, is die model vir alles wat verder met jou gebeur voor die kospotte,” skryf Van Niekerk (341). Viljoen se artikel toon aan hoe die mens se eetgewoontes oneindige stof vir interpretasie bied.
Van Niekerk se romans is in vele tale vertaal, daarom is dit goed dat twee artikels in die bundel oor die vertaling van haar werk handel. In sy Engelse artikel spreek Reinhardt Fourie waardering uit vir Leon de Kock se vertaling van Triomf en Michiel Heyns s’n van Agaat, maar hy is krities oor die taalpolitiek wat dit in die hand werk. Hy skryf:
“While we can (and should) celebrate good translations of literary texts, we cannot do so without qualification [...]. Even celebrated translations are not a bridge that we should assume necessarily overcomes the problem of the growing language inequities in South Africa” (54).
’n Kwalitatiewe verskil word dikwels gemaak tussen “major languages” en “minor languages”, en die gevaar bestaan dat Afrikaans veral beskou word as “minor language” wat ’n voedingsbron vir Engels is en nie in eie reg waardeer word nie. Fourie bespreek die spanning tussen “domesticating” en “foreignising” by vertaling – om iets van die “vreemdheid” van die bronteks in die vertaling te behou of om die vreemdheid heeltemal weg te laat. Hy beklemtoon die waarde van “foreignising”, sodat die bronteks nie heeltemal in die vertaling verdwyn nie. Dit is iets waarmee De Kock en Heyns in hulle vertalings wel rekening gehou het.
.....
Marius Swart skryf oor die uitdagings by sy Engelse vertaling, aanvanklik van “Die swanefluisteraar” uit Die sneeuslaper, en later van die hele verhalebundel. Die vertalings het wesentlike uitdagings in die veld van vertaalkunde betrek.
.....
Marius Swart skryf oor die uitdagings by sy Engelse vertaling, aanvanklik van “Die swanefluisteraar” uit Die sneeuslaper, en later van die hele verhalebundel. Die vertalings het wesentlike uitdagings in die veld van vertaalkunde betrek, en hy gebruik Nord se tipologie van die vier hooftipes om oor sy probleme te skryf: die pragmatiese, talige, kulturele en teksspesifieke uitdagings. Wat vertaling in sy geval moeilik gemaak het, was onder andere die parallelle én die verskille tussen Afrikaans en Nederlands (die verhale speel grotendeels in Nederland af); die verskillende registers van Afrikaans wat Van Niekerk gebruik; haar vernuftige ontginning van Afrikaanse woorde; en die belangrikheid van klank in die verhale. As voorbeeld van ’n probleemgeval noem hy die vertaling van “alleenloper” in Engels. “Unattached” en “loner” is oorweeg, maar geeneen het die draagwydte van die Afrikaanse woord nie. Dis ’n interessante artikel.
’n Slordigheid wat regdeur die bundel pla, is die feit dat koppeltekens wat in die manuskrip aan die einde van ’n reël voorgekom het, in die boek ook in die middel van ’n reël voorkom. Daarom kom spellings soos die volgende voor: “oog-punt” (94), “redak-sionele” (287), “gen-der” (315), en nog vele ander foute van dieselfde aard. Wat ook pla, is dat twee afdelings in Marius Swart se artikel omgeruil is. Dit is ’n ongelukkige drukkersfout.
’n Ander punt van kritiek is die bibliografie – dit lyk vir my baie onvolledig. Daar is byvoorbeeld geen verwysings na opstelle en resensies in Stilet, Literator, Tydskrif vir Geesteswetenskappe of Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans nie. As hierdie bibliografie byvoorbeeld vergelyk word met die bibliografie in die huldigingsbundel vir Breytenbach, dan steek dit sleg af.
Maar in die geheel gesien, is die huldigingsbundel ’n waardevolle bydrae tot die reeks huldigings wat die SA Akademie geïnisieer het. Uit die bostaande bespreking kan daar afgelei word watter prikkelende perspektiewe die opstelle op die werk van Marlene van Niekerk bied, en hoe goed hulle mekaar aanvul. Saam gelees bevestig hulle watter fenomenale denker en skrywer die persoon is wat in die bundel gehuldig word.
Lees ook:
Video: Bekendstelling van Marlene van Niekerk se beeldgedigte
Uit die argief, US-taaldebat: Marlene van Niekerk on the Stellenbosch University language debate
Petra Müller onder die woord: Karen de Wet gesels oor Die skerpgevylde oomblik
Reza de Wet: Die dramaturg as dromer, Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris (redakteurs)
Resensie: Pieter Fourie: Teatermaker – ’n huldiging deur Fanie Olivier (redakteur)
Tuin van Digters 2019 – video: Bekendstelling van breyten breytenbach, woordenaar woordnar
Kommentaar
Chris, dankie vir jou resensie. Groot was my verbystering toe ek nou in die papierkopie gaan kyk en sien dat my hoofstuk se slot en voorlaaste afdeling inderdaad omgeruil is. Ek belowe dit was nie ek nie! Blameer maar die drukkersduiwel.
Dankie, Chris, vir die deeglike lees en die resensie. Inderdaad is die voorlaaste afdeling en die slot by Marius se artikel omgeruil ná proef en voor druk. Is dit drukkersduiwel? Die "slordig" is nie voor die deur van Marius en sy goeie en interessante hoofstuk te lê nie. Hopelik lees almal wat die resensie lees, ook die kommentaar!