Van der Merwe, Chris N (red) 2021. Anna M Louw. Fassinerende, veelkantige skrywer. ’n Huldiging. Arcadia: SAAWK.
........
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se projek om hierdie reeks huldigingsbundels uit te gee, is lofwaardig.
.........
Anna M Louw. Fassinerende, veelkantige skrywer. ’n Huldiging is die agtste huldigingsbundel in ’n reeks boeke oor Hertzogpryswenners.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se projek om hierdie reeks huldigingsbundels uit te gee, is lofwaardig. Maar ek haas my om dié stelling te kwalifiseer.
Vir ’n lang tydperk, vanaf die 1980’s tot enkele jare gelede, het daar eintlik baie min akademiese studies in boekvorm oor Afrikaanse skrywers verskyn. Tot die 1980’s het dit meer geredelik gebeur dat Afrikaanse literatuurkritiek in boekvorm verskyn het. Monografieë oor sekere outeurs, en essaybundels gewy aan aspekte van die Afrikaanse kritiek, het tot op daardie stadium, toe kruissubsidiëring in die uitgewersbedryf nog nie ’n vloekwoord was nie, en toe daar ook ’n groter mark was (die voorgraadse klasse in Afrikaans en in Afrikaans en Nederlands het toe nog maklik in die honderde getel), daartoe bygedra het dat studies van boeklengte oor die Afrikaanse literatuur nogal dikwels verskyn het. Dit was natuurlik ook ’n tyd waarin die boek as sodanig veel meer sentraal in die breër kultuurlewe gestaan het.
Intussen het baie dinge verander. Die uitgewers kon nie meer reken op kruissubsidiëring van die skoolvoorskryfmark nie. Die sentrale plek van die boek en die letterkunde in die breër kultuuraanbod het verklein – die Gutenbergkoppe van ’n vorige generasie het plek gemaak vir die Netwerkkoppe van ’n jonger generasie. Al meer studente het hulle heil in die ekonomiese en bestuurswetenskappe gaan soek en taalklasse het gekrimp (nie slegs die Afrikaans-klasse nie), terwyl taaldepartemente aan verskeie universiteite gesluit is.
Die akademie het ook verander. Die “publish or perish”-kultuur het vanaf die 1990’s toenemend gelei tot ’n klem op joernaalartikels as die hoogste maatstaf waaraan die waarde van ’n akademikus gemeet word. Hierdie situasie is ook versterk deur die Departement van Hoër Onderwys se subsidiestelsel vir navorsingsuitsette. Universiteite het vir artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte vaste bedrae ontvang, terwyl boekpublikasies nie sonder meer met sekerheid vir subsidie voorgelê kon word nie. (Hierdie gety het weliswaar nou weer begin draai.)
Boonop het die elektroniese beskikbaarheid van artikels – ongeag waar hulle gepubliseer is – ook begin bydra tot die vraag of boekpublikasies dan nog werklik waardevol is. (As ’n artikel nie googlebaar is nie, en ook nie sommer maklik aflaaibaar in pdf-formaat nie, kan dit vir ’n jonger generasie studente net sowel nie bestaan nie.) Die gevolg is dat die bestendiging van Afrikaanse literatuurkritiek in boekvorm tot ’n groot mate agterweë gebly het. En dalk onnodig geraak het? ’n Mens sou kon redeneer dat hierdie soort boek nie nou meer nodig is in ons 21ste-eeuse akademiese wêreld nie. (En indien hierdie reeks boeke oor Hertzogpryswenners nie ook elektronies en googlebaar gemaak word nie, kan hulle ook maklik in die vergetelheid verdwyn in ’n tyd waarin Netwerkdenke oorheersend geword het.)
Dit begin nou lyk of ek my eerste sin hier bo weerspreek. Waarom sou ek die Akademie se projek om hierdie boeke oor Hertzogpryswenners uit te gee, as lofwaardig beskryf?
........
Dit is die vraag waarmee ek die huldigingsbundel oor Anna M Louw opgetel het. Waarom ’n boek oor háár werk? Waarom nou? En hoekom sal ek dit lees? Wie gaan dit lees? Is dit maar bloot ’n nostalgiese verlange na ’n tyd toe daar nog boeke oor boeke verskyn het wat veroorsaak dat ek die projek waardeer?
.........
Dit is die vraag waarmee ek die huldigingsbundel oor Anna M Louw opgetel het. Waarom ’n boek oor háár werk? Waarom nou? En hoekom sal ek dit lees? Wie gaan dit lees? Is dit maar bloot ’n nostalgiese verlange na ’n tyd toe daar nog boeke oor boeke verskyn het wat veroorsaak dat ek die projek waardeer?
Maar met die lees van hierdie bundel het ek die waarde daarvan en van die boekereeks besef. Ons het so gewoond daaraan geraak om los artikels oor outeurs te lees, en dan meestal net op die besondere tema waarop ons navorsing gefokus is af, dat ons selde breed en toegewyd ons leeswerk op een outeur toespits. Soos die kommunikasiewetenskaplikes en mediakenners al herhaaldelik aangedui het, is ons geneig om die boodskappe uit te soek wat vir ons by voorbaat aanneemlik lyk – inligting wat ons standpunte ondersteun, eerder as inligting wat dit uitdaag. As jy nou ’n boek soos hierdie een deurlees, is daar dele wat jou vervreem, ander wat jou irriteer, en ook dele wat by jou eie denke aansluit. En dit is goed, want om een boek deur te lees bied juis ’n veelkantigheid aan – soos die ietwat verbeeldinglose titel van die boek suggereer. As mens nou ’n boek soos hierdie optel, met uiteenlopende artikels – van die persoonlike herinneringe van kinders aan hul ma, tot artikels uit verskillende invalshoeke en teoretiese vertrekpunte – en jy lees alles saam, kom daar nie alleen ’n beeld van ’n bepaalde skrywer na vore nie, dit bied ook ’n interessante insig in die manier waarop oor literatuur gedink word in die (Afrikaanse) gemeenskap.
Die probleem met ’n reeks soos hierdie, waarin die boeke oor skrywers mekaar snel opvolg, in ’n betreklik klein literêre veld, is dat daar eintlik ’n beperkte aantal navorsers in die Afrikaanse literatuurveld is, en dat dieselfde mense oor en oor gevra word om bydraes te lewer. Deeglike navorsing neem tyd en gevolglik sien mens nie in elke bundel die name van die belangrikste kenners nie. In ’n sekere opsig is dit natuurlik ’n gesonde situasie, omdat dit vir ’n wyer verskeidenheid deelnemers sorg, maar aan die ander kant kan dit daartoe lei dat die oes aan besonder insiggewende, vars artikels in sommige bundels maar skraal is.
Vergete skrywer
........
Anna M Louw tel waarskynlik onder die meer vergete Hertzogpryswenners.
.........
Anna M Louw tel waarskynlik onder die meer vergete Hertzogpryswenners. Haar naam is nie een van die eerstes wat by die meeste mense opkom as hulle die name van Hertzogpryswenners opnoem nie. Telkens maak bydraers tot hierdie bundel melding daarvan dat Anna M Louw meer aandag behoort te kry. Verskeie bydraers wys daarop dat sy eintlik vinnig “vergete” geraak het – dat haar werk selde voorgeskryf word, en die vermoede dat haar werk dalk vinniger verouderd geraak het as van haar tydgenote se werk, word genoem.
Een van die redes wat aangevoer word vir die feit dat sy betreklik vinnig vergete raak, is dat sy nogal sterk by Christelike tradisies aangesluit het en ook gemoeid was met godsdiens as tema – dat sy iewers selfs die beeld van ’n Christelike skrywer gekry het en dat dit teen haar sou tel.
Oënskynlik is daar by sommige bydraers die gevoel dat hulle lewe moet blaas in belangstelling vir Louw se werk, asof hulle haar relevansie wil probeer bewys (veral Gevers en Viljoen).
Nou moet ek erken dat ek nooit ’n groot aanhanger van Louw se werk was nie. Kroniek van Perdepoort was nie vir my indertyd ’n boeiende boek nie – dit het my te veel herinner aan Jan Lion Cachet se sewe duiwels, en die allegoriese inslag het nie in my persoonlike smaak geval nie. Op die rug van die tier het my koud gelaat, maar Wolftyd en Die donker kind het ’n sterk emosionele appèl op my gemaak. Na aanleiding van Philip John se artikel het ek destyds Vos gelees, maar die vergelyking tussen Faustus en Vos was nie vir my besonder interessant nie. Natuurlik is hierdie alles hoogs subjektiewe leeservarings – soos wat lees maar dikwels is – en vir my sou Anna M Louw ook maar net stadig in die vergetelheid verdwyn het.
Toe lees ek hierdie boek.
Aanvanklik het ek met weerstand gelees, met die verwagting dat dit my nie gaan boei nie, soos ek voorheen ook nie deur Louw se romans geboei is nie. Die inleiding is nie baie opwindend nie en het nie te veel belofte ingehou vir die res van die boek nie. Ek het aanvanklik langtand aan die biografiese besonderhede begin lees, maar spoedig is ek met groot deernis gevul, en het ek al hoe meer geïnteresseerd geraak in die skrywer, met haar Afrikaner-agtergrond, wat uit keuse in ’n Duitssprekende en Engelssprekende wêreld in die Kaap geleef het. Ek kon met iets van haar worsteling teen die ouer Afrikanerpatriargie en eng Protestantisme identifiseer. Die manier waarop sy die spanning tussen ’n noue verbintenis met die taal en sy mense aan die een kant, en aan die ander kant ’n aversie teenoor die harde nasionalistiese en godsdienstige, uitsluitende beskouings van Afrikaners ervaar het, het my al meer begin boei.
Die feit dat twee bydraes deur teoloë gelewer is, het my vae vermoede bevestig dat ek dalk nie van Louw se christelike inslag gehou het nie. Johan Celliers se hoofstuk maak boonop toe ’n indruk van “outydse” literatuurkritiek, omslagtige, woordryke formulering van eenvoudige sake, talle clichés en verskeie aanvegbare stellings (onder meer byvoorbeeld oor “outeursintensie” en “algemeen menslikheid” – die soort sake waaroor ’n mens darem nie meer in ons tyd sonder kritiese refleksie kan skryf nie).
........
Maar Cas Wepener se ondersoek van mistiek in Kroniek van Perdepoort het werklik ’n interessante perspektief op die roman oopgemaak.
.........
Maar Cas Wepener se ondersoek van mistiek in Kroniek van Perdepoort het werklik ’n interessante perspektief op die roman oopgemaak. Alhoewel dit sterk gefokus is op ’n analise van die enkele roman, bied die hoofstuk heelwat oor die belewing van mistiek en ’n interessante “reddende” beskouing van die waarde van sonde en die bose, wat uiteindelik belangrike filosofiese implikasies inhou.
Die meeste van die bydraes tot die boek fokus op ’n enkelpublikasie en volg ’n sterk teksgerigte benadering – soms met meer “teorie” oor byvoorbeeld tyd (Celliers en Du Plooy), mistiek (Wepener), die komiese (Viljoen), ruimte en retoriek (Van Schalkwyk), ouderdom/“gerontologie” (Lourens), feminisme (Lourens, Van der Merwe) en kultuuroordrag (Loots) – en soms gewoon op ’n meer impressionistiese lees van tekste af (Gevers, Ester).
.........
Veral twee hoofstukke staan bo die ander uit en maak die lees van die hele boek die moeite werd. Chris van der Merwe wyk met sy bydrae, “Die verhaal van drie skippers”, af van die patroon deur telkens ’n enkele roman van Louw te analiseer, en hy slaag daarin om Louw se werk binne ’n ruimer historiese konteks te plaas.
..........
Veral twee hoofstukke staan bo die ander uit en maak die lees van die hele boek die moeite werd. Chris van der Merwe wyk met sy bydrae, “Die verhaal van drie skippers”, af van die patroon deur telkens ’n enkele roman van Louw te analiseer, en hy slaag daarin om Louw se werk binne ’n ruimer historiese konteks te plaas. Hy lees haar roman Die donker kind saam met DF Malherbe se Hans-die-skipper en Elise Muller se verhaal “Die vrou op die skuit”. Hy toon aan hoedat die drie werke (wat hy elk as verteenwoordigend van ’n generasie lees) ’n ontwikkeling van sentrale temas in die Afrikaanse prosa uitbeeld. Die vervlegtheid van die patriargie, rassisme, nasionalisme en godsdiens in Afrikaanse literatuur (en die wit Afrikaanse leefwêreld) word oor byna 70 jaar van die 20ste eeu gevolg – vanaf die verskyning van Hans-die-skipper in 1926, deur Elise Muller se Die vrou op die skuit in 1956 tot Die donker kind in 1996. Die motivering om juis hierdie drie werke saam te lees is oortuigend: In al drie staan ’n “skipper” van ’n vissersboot aan die Weskus sentraal en al drie verhaallyne word “met mekaar verbind deur ’n ondertoon van weemoed en pyn”.
Belangriker is egter die duidelike verskuiwing in die onderdrukkende patriargie: skaars bevraagteken in Hans-die-skipper, uitgedaag in “Die vrou op die skuit”, met vryheid vir ’n vrou as ’n droom wat nagestreef kan word – al is dit nie vir almal beskore nie – en wanneer Louw in 1996 weer hierdie tema sentraal plaas, wys dit nog meer krities op die patriargie en rassisme in die samelewing en die uitsluiting van ’n vrou wat daarteen in opstand kom. Sonder om swaar teoretiese verduidelikings voorop te stel, en met ’n helder deurlopende argument, bring Van der Merwe met hierdie hoofstuk insig in en waardering vir Louw se bydrae as skrywer, as skrywer wat ’n vroulike perspektief benut het, en terselfdertyd bied hy insig in die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur en Louw se plek daarin.
.........
’n Ander hoogtepunt in die bundel is Sonja Loots se bespreking van Vos: “’Vol spooksels uit ’n verlore verlede’: die versmelting van uiteenlopende tradisies in Vos”. Ook Loots beweeg in haar bespreking van die enkelroman, Vos, wyer as die betrokke teks onder bespreking en slaag daarin om ’n vars bydrae tot die Afrikaanse literatuurkritiek en die breër Afrikaanse literatuurgeskiedenis te lewer.
............
’n Ander hoogtepunt in die bundel is Sonja Loots se bespreking van Vos: “’Vol spooksels uit ’n verlore verlede’: die versmelting van uiteenlopende tradisies in Vos”. Ook Loots beweeg in haar bespreking van die enkelroman, Vos, wyer as die betrokke teks onder bespreking en slaag daarin om ’n vars bydrae tot die Afrikaanse literatuurkritiek en die breër Afrikaanse literatuurgeskiedenis te lewer. Sy benut nie die teorie as blote invalshoek en ingewikkelde nuwe woordeskat wat op die teks afgedruk word nie. Sy slaag daarin om by te dra tot nadenke oor teoretiese besinning en oor die gebruik van “leengoed” uit die Suid-Afrikaanse mondelinge tradisie (van spesifiek Boesmans). Dit is ’n kontensieuse saak hierdie, en Loots loop ’n fyn roete tussen kritiese beskouings van kulturele toe-eiening aan die een kant en ’n ontkenning (en selfs verdoeseling) van die belangrikheid van “inheemse mondelinge tradisies” aan die ander kant. Op hierdie manier word Loots se ontleding meer as ’n analise van die enkelteks en lewer dit ’n bydrae tot die besinning oor Afrikaanse literatuur as ’n kontakletterkunde, ’n literatuur wat in ’n netwerk verhoudings met ander tekste, tale en kulture staan (in aansluiting by die siening van Glissant). Sy bespreek die roman ook nie slegs in verhouding tot die bekende “Westerse” tradisie (en die voor die hand liggende aansluiting by die Faustus-mite) soos wat al tevore gedoen is nie, maar juis die aansluiting by die Boesman-tradisie. Loots ondersoek ook hierdie aansluiting met ’n kritiese oog en verdoesel nie die blatante rassisme wat nieteenstaande die waarderende opneem van materiaal uit die Suid-Afrikaanse bodem tog ook in Louw se werk voorkom nie.
Benewens hierdie twee hoogtepunte in die bundel is ook die bydrae van Cas Wepener boeiend; dit bied ’n genuanseerde perspektief op ’n andersins dalk té oppervlakkige lees van Kroniek van Perdepoort binne die allegoriese tradisie. Hy plaas die klem veral op die sonde van “wellus” en lê verbande met die mistiek, met die beliggaamde belewing van godsdiens waarin die liggaamlike kennis van sonde kan lei tot insig in die goddelike. Dit is ’n deeglik nagevorste hoofstuk met ’n helder argument, veral vir diegene wat belangstel in die integrering van die erotiese in die christelike mistiek.
Heilna du Plooy se bespreking van “estetiese vormgewing en tyd in Kroniek van Perdepoort” dra swaar aan teorie, wat hierdie hoofstuk minder toeganklik vir baie lesers sal maak. En dit is nie noodwendig kritiek nie – die balans tussen persoonlike herinneringe aan Louw en hierdie soort “swaarder” bydraes bied afwisseling vir die leser wat die boek van voor tot agter deurlees.
Du Plooy fokus op die strukturering van die roman waarvoor Louw die Hertzogprys ontvang het. Ook ander bydraes oor Kroniek van Perdepoort lê klem op die besondere vertelwyse van die roman en spesifiek die rol van tyd (Wepener, Van Schalkwyk). Du Plooy lê ’n verband tussen die estetiese vormgewing en die historiese konteks van die roman en juis daarin lê die waarde van hierdie hoofstuk. Anders as die kritiese benadering van iemand soos Lukaçs trek sy egter nie hierdie verband deur tot ’n ondersoek na die spesifieke estetiese vorm en die Suid-Afrikaanse historiese situasie van die 1970’s nie, maar haar beskouing van die “historiese” word eerder gekoppel aan ’n wyer allegoriese beskouing van die verhaalgebeure as allegoriese verwysing na die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die ondersoek van die liminale posisie kan volgens Du Plooy beskou word as ’n wyse waarop die liminale figuur uiteindelik die ruimte van die “Ander” kan betree – ’n aanvegbare standpunt, aangesien die ruimte van die Ander nooit regtig betree kan word nie, omdat dit immers dan dadelik die eie word en die andersheid sou verloor.
Phil van Schalkwyk se bespreking van die “retoriese ruimte van Kroniek van Perdepoort” dra eweneens swaar aan teorie en soms onnodig ingewikkelde formulering. Dit is jammer, want die hoofstuk bied ’n perspektief wat die roman vanuit ons huidige situasie benader en terselfdertyd plaas in die historiese konteks van die interregnum. Hierdie soort bydrae is waardevol, omdat Louw se werk op hierdie manier werklik terugskouend oorweeg word – en nie as ’n tydlose, waardevolle kunswerk volgens ’n ouer humanistiese beskouing wat in sommige van die ander bydraes deurskemer nie.
As mens wonder oor die belang van Anna M Louw se posisie in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis, bied die bydraes van Chris van der Merwe en Sonja Loots, soos hier bo genoem, boeiende antwoorde. Sonder om te probeer om die leser van die “inherente waarde” van haar tekste te probeer oortuig, word aspekte van haar werk wat belangrik is vir ’n beskouing van die Afrikaanse literatuur aangebied. Hein Viljoen se ondersoek van Op die rug van die tier, en sy spesifieke fokus op die “komiese visie” daarin, is hierteenoor ’n doelbewuste poging om die roman as belangrik te probeer voorhou en dat dit ’n herlees werd is. Die slotsom, dat die tema steeds relevant is, is maar effens vaag, want die tema van lewensin is seker maar voortdurend belangrik. Die probleem met besprekings van die komiese is dat dit ’n bietjie is soos om ’n grap te verduidelik. Mens kry die gevoel dat Op die rug van die tier al destyds nie as besonder snaaks ervaar is nie, en dit is nog moeiliker om dit nou as ’n komiese roman aan te bied. Die vae bewering dat die roman se niekanonisering moontlik aan twee negatiewe resensies toegeskryf kan word, is nie oortuigend nie, maar heelwat van die opmerkings wat Viljoen oor die komiese maak, is insiggewend.
Amanda Lourens se ondersoek van Wolftyd is die enigste hoofstuk wat op hierdie roman fokus, en dit is slim deur die redakteur geplaas, net na die kort essay deur Wieland Gevers oor Die loop van die rivier. Gevers se essay is geen akademiese studie nie, maar die belangrike temas wat hy in die vier kort novelles aandui en die verbande wat hy tussen hierdie novelles en die skrywer se persoonlike lewe lê, bied ’n verhelderende agtergrond vir die besprekings van Wolftyd, Die vrou op die skuit en Vos wat hierop volg.
In “Die disrupsie van ouderdomsnorme in Wolftyd: ’n Literêr-gerontologiese beskouing” beskryf Lourens Wolftyd as ’n “rypingsroman” – die soort roman waarin ’n karakter “groei” ervaar wanneer hy of sy op ’n ryper ouderdom terugkyk na die verlede en nuwe betekenis in die huidige ervaring as “ouer” persoon vind. Soos Van der Merwe se bespreking van Die donker kind sluit hierdie bespreking ook aan by ’n feministiese perspektief.
Hans Ester se beskouing van die reisboeke deur Anna M Louw bied weinig meer as leesindrukke van hierdie bykans vergete reisboeke, maar hy dui aan hoedat sekere vooroordele haar reisindrukke reeds vooraf bepaal het. Ongelukkig gee hy nie aandag aan haar reisverslae binne die breër historiese konteks van talle reisboeke wat baie vooraanstaande skrywers (soos Elsa Joubert en André Brink) gedurende die 1960’s en 1970’s geskryf het nie. Die besef van die leemte vir so ’n ondersoek ten einde beskouings op die Afrikaanse kultuurlewe van die 1950’s tot 1970’s moontlik te maak, word egter deur hierdie hoofstuk gestimuleer.
Terwyl sommige hoofstukke swaartillend aan teorie is wat nie noodwendig deurgaans verhelderend aangewend word nie, is Fransjohan Pretorius se hoofstuk weer sonder verwysings na teorie (wat uiteraard ’n versweë teoretiese posisie-inname is) en berus dit eintlik op ’n paar onbevraagtekende aannames oor “romanskrywers” en “geskiedskrywers”. Gemaklike vermoedens word aangebied sonder om werklik die historiese tekste na te vors, soos: “Ek het ’n vermoede Afrikaanse lesers van vyftig jaar gelede het dalk nie die kritiese opmerkings van die ou man in Clarens na waarde geskat nie” – sonder enige poging om die werklike resepsie van destyds na te gaan (soos van ’n historikus verwag sou word), met slegs verwysings na Kannemeyer en Antonissen (laasgenoemde boonop in aangehaalde vorm en nie in die bronnelys opgeneem nie). ’n Betoog word gelewer dat die weergawe van Paul Kruger in Die groot gryse nie manipulerend is nie, maar die leser die geleentheid bied om self krities oor Kruger te oordeel, maar die argument word ondermyn deur die lof wat die roman toegeswaai word vir die “groot empatie” wat Louw met Kruger toon – wat eintlik ’n kritiese blik ondermyn.
Erika Terblanche se beskrywing van Louw se lewe en werk is deeglik en word baie goed aangevul deur die “Familieherinneringe” deur Editha Wilson ( Louw se dogter), Nicholas Hurst (haar enigste seun) en Wieland Gevers (skoonseun).

Foto van die SA Akademie se logo: http://www.akademie.co.za/; foto van die tikmasjien: Pixabay
Perspektief op Louw, maar ook op Afrikaanse literêre landskap
........
En dit bring my by ’n slotsom: Al is ek krities oor sommige bydraes, en al bevraagteken ek die teoretiese uitgangspunte van party bydraers, was die lees van die boek in sy geheel vir my besonder insiggewend.
...........
En dit bring my by ’n slotsom: Al is ek krities oor sommige bydraes, en al bevraagteken ek die teoretiese uitgangspunte van party bydraers, was die lees van die boek in sy geheel vir my besonder insiggewend. En as hierdie klompie bydraes nie in so ’n boek byeengebring was nie, sou hierdie insigte my verbygegaan het. Daarom beskryf ek die projek as lofwaardig.
Die boek dwing mens in die eerste plek om weer na Louw te kyk – ’n skrywer wat inderdaad vinniger vergete raak as baie ander, en wie se werk oor die algemeen dalk nie al die aandag ontvang het wat dit verdien nie, want hierdie bydraes maak mens tog nuuskierig, prikkel belangstelling.
In die tweede plek gee die boek ook ’n interessante perspektief op die Afrikaanse literêre landskap. Die invalshoeke en teoretiese benaderings van die verskillende bydraers bied immers ’n soort deusnitvisie op hoe die literatuurstudie in Afrikaans bedryf word (veral as mens dit saam met die vorige sewe boeke in die reeks sou beskou). In ’n sekere opsig is hierdie boek die versameling van ouer, humanisties-geïnspireerde literatuurbeskouings en teksgerigte leesbenaderings terwyl daar reste van strukturalistiese analises (en bespiegelings oor resepsie) deurskemer, maar ook beskouings wat dra aan die 1990’s-teorie-inval, asook breër beskouings waarvolgens die enkelwerk in ’n groter konteks en in verhouding tot ander werke en tot die wyer wêreld geplaas word.
Gevolglik is dit ’n boeiende boek om in sy geheel te lees, nie slegs as ’n huldiging aan Anna M Louw nie, maar as ’n verteenwoordiging van die die huidige situasie in die Afrikaanse literatuurkritiek – met sy min arbeiders, die neiging om die groot skrywers te eer, om op enkelwerke se struktuur te fokus, op die wysheid en openbarings wat die tekste moontlik sou maak, op die persoonlike, maar ja ook, op die groter kontekstuele lees van die letterkunde.
Lees ook: