Marlene van Niekerk (1954– )

  • 1
Marlene van Niekerk

Foto: Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Marlene van Niekerk is op 10 November 1954 op die plaas Tygerhoek naby Caledon in die Wes-Kaap gebore. Haar pa het die proefplaas Tygerhoek uit niks opgebou. Sy het grootgeword met ploeë en saaikaste en die hele romantiek daarvan, soos sy dit later aan Sonja Loots (Rapport, 28 November 2004) beskryf: “[V]an Juniemaand ploeg, vroeg in die oggend, dis nog donker dan moet daai ploeg loop. Daar is allerhande dinge wat kleintyd al in my kop gekom het: van reguit hou met die eerste voor, die ploegskotteltjies se wieletjies wat sleep want die klippe haak daaraan vas, of die grond is nie nat genoeg nie, of die sterretjies is nie reggestel in die saaikas nie en dan val die koring en die kunsmis nie op die regte dikte uit nie.”

Marlene het, nes haar karakter Agaat in haar latere roman, grootgeword met rympies, vertel sy verder aan Loots: “My ma het vir my Engelse kleuterrympies geleer en my pa het vir my Boere-rympies geleer, wat hy self halfpad opgemaak het. Ek het grootgeword in ’n huis waar my pa, as hy voor ’n groot probleem staan, byvoorbeeld as die myle van staatsvoertuie opraak volgens die begroting van die departement van landboutegniese dienste, ’n drie pagina lange brief aan hoofkantoor skryf in die vorm van rymende koeplette. Dan kom staan hy met ’n groot smile in die kombuis en lees dit vir ons. Met hierdie soort spel het hy baie van die frustrasies wat ’n mens nou maar eenmaal het, beantwoord. Ek dink dit het dalk by my ook ingeslaan. Ek kan nou nog nie ’n notule vir die Departement Afrikaans en Nederlands doen sonder om iewers ’n rympie of ’n grap in te werk nie.”

Dit was nie net die rympies en snaakse sêgoed van haar ouers wat ’n invloed op Marlene gehad het nie, maar dit was ook iets wat haar ma haar vertel het wat die eerste aanloop was tot die skryf van Agaat. Aan Sonja Loots: "Sy het vertel dat iemand wat ons familie lank gelede geken het, weer kontak met haar opgeneem het en dat die persoon by haar kom sit het met ’n borduurkussing.”

Tuinmaak het Marlene ook by haar ma geleer. “Sy het die werf van Tygerhoek binne bestek van drie jaar omgetower in ’n blomtuin sonder weerga. As kind het ek haar opwinding meegemaak as die boksies met bolle van Starke Ayres aangekom het, as die droë roosstokkies aankom, as die priële opgesit word vir die bougainvillea, as die bome geplant word, as dit alles vat en groei en begin blom, en as die mense van die dorp op Sondae so stádig verbygery kom en na haar tuin kyk.”

Sy vertel aan Murray la Vita (Beeld, 14 April 2007) dat sy onthou haar pa het vir haar sulke sinnetjies geleer soos: “Die voëltjies kwinkelier vroeg in die daglumier.” So was daar daardie soort invloed van ’n pa wat "verkneukeld was oor woorde. Sy word dus groot aan die voete van storievertellers met haar pa wat lang stories uit die koerant voorlees."

Teenoor La Vita beskryf sy haar kinderdae as "geordend, versorg, liefdevol, ryk aan sintuiglike ervaringe, stewig op die grond. In alle opsigte geborge en bevoorreg."

Sy vertel verder: "As kind het ek bygestaan toe msy pa en ’n span draadspanners die hele proefplaas Tygerhoek en al sy kampe binne ’n paar maande moes omhein. Ek sien hom nou nog korrel oor die hangpaaltjies, want alles moes presies reguit en haaks wees en al die hoekpale netjies en presies eenders geanker en twee lae silwer geverf. En my ma het geweet mens moet in hart en hande fyn gekalibreer wees vir die maak van groenvyekonfyt.”

Marlene gaan skool op Riviersonderend en Stellenbosch en matrikuleer aan die Hoërskool Bloemhof in Stellenbosch.

Verdere studie en werk

Na skool studeer Marlene tale en filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1978 haar MA in filosofie verwerf met ’n tesis oor “Die aard en belang van die literêre vormgewing in Also sprach Zarathustra”. Gedurende haar studentejare skryf Marlene drie dramas vir amateurteater. In 1978 word die kanseliersmedalje van die universiteit aan haar toegeken vir ’n gemiddeld van 84 persent oor vyf jaar.
Nadat sy haar studie voltooi, reis sy na Duitsland, waar sy vanaf 1979 in teaters in Stuttgart en Mainz as leerlingregisseur werk. Sy sit in 1980 haar studies voort deur filosofie in Nederland te studeer en voltooi in 1985 haar doktorale tesis oor die werk van Claude Lévi-Strauss en Paul Ricoeur: “Taal en mythe: een strukturalistische en een hermeneutische benadering”.

Met haar terugkeer na Suid-Afrika doseer sy eers filosofie aan die Universiteit van Zoeloeland en Unisa en daarna, vanaf 1989, Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy is tans betrokke by die Universiteit Stellenbosch, waar sy aan die hoof van die MA-kursus in kreatiewe skryfwerk staan.

Marlene lewer gereeld bydraes tot koerante en tydskrifte in die vorm van rubrieke en bied ook klasse in skeppende skryfwerk aan.
Sy debuteer in 1977 met Sprokkelster, waaraan die Eugène Marais- en Ingrid Jonker-pryse in 1978 toegeken word. In Sprokkelster skryf Marlene volgens JC Kannemeyer (Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, Deel II) ’n soort gedig "wat deur sy sterk sintuiglikheid en ontvanklikheid vir die aarde nie in belydenis of ekkerigheid vassteek nie. Die woordgebruik en die moeitelose beeldende vermoë gee ’n sekere frisheid en naïewe jeugdigheid aan haar poësie. Die gevaar van dié sondere soort singende vers is dat die beeld- en klankverdowing die leser kan laat insluimer en dat die charm of words hom van die betekenis en struktuur kan wegvoer, al slaag Van Niekerk meestal daarin om ’n vers behoorlik deur te komponeer en beeld en woord in die geheel te laat funksioneer.”

Marlene se volgende digbundel, Groenstaar, word in 1983 gepubliseer terwyl sy in Nederland studeer. Toe, na ’n “skryf-stilswye” van nege jaar, verskyn haar kortverhaalbundel Die vrou wat haar verkyker vergeet het in 1992. Dit is ook in Nederlands vertaal.

Die vrou wat haar verkyker vergeet het is vol fassinerende verhale: "’n vrou vergeet haar verkyker, met noodlottige gevolge; ’n papegaai vlieg weg met ’n rektor (van Pretoria), ook noodlottig dus; ’n aktivis droom van ’n engel; ’n waarsêer sukkel met ’n heldersiende donkie; ’n tronkbewaarder plant ’n paradys; ’n minister kan nie sy draai kry nie (’n nasionale aandoening); ’n burgemeester val in ’n visdam (ook taamlik algemeen); en ’n trapsuutjies beduiwel ’n dorpsfees (want nie alle diere is troeteldiere nie). Daarbenewens breek daar ’n waterpyp op Kanonbaai en ’n vuurgees bars los in die Overberg" – aldus die agterste flapteks.

Marlene vertel aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 5 November 1992): “Baie van die stories in Die vrou wat haar verkyker vergeet het is satiries, ondersoekend en betogend. Over the top. As ek dit soms terugsien, wens ek ek kon my bek hou, minder raserig wees. Dis rumoerige stories. Die stories probeer waarsku, hulle ondermyn, hulle is spelbederwers. Hulle probeer altyd die pogings tot sisteme, tot volledigheid, tot finaliteit teregwys, probeer altyd herinner aan toeval, aan oormoed, aan eindigheid, aan die absurde weerstand van die materie, aan die onagterhaalbare wonder van die bestaan, die onverklaarbare misterie van die dinge soos hulle is, die onvoorspelbaarheid van mense.

“In Die vrou wat haar verkyker vergeet het het ek baie plesier daaruit geput om die karakters te help om oortredings te begaan – dis alles oortredings van die verbeelding, en verbeelding is ’n oortreding van die ego. Ambisieuse ego’s se skemas lyk almal dieselfde, maar hulle het net verskillende name. Dis nou skemas soos die perfekte revolusie, die perfekte beesplaas, die perfekte gedenkingsmonument, ensovoorts.

“Dan put ek groot plesier daaruit om hierdie ambisieuse skemas te help bedink en dan span ek vir die karakters ’n geweldige strik. Dis kinderlik en primitief, en gebore uit magteloosheid en woede om te lewe in ’n land waar daar so baie fout is, en ’n mens wil iets daaromtrent doen, maar jy weet nie hoe nie.

“Dis waaroor die satire in my stories gaan: jy blaas iemand se ballon op, en prik dit dan met ’n klein speldjie. Maar ek vra my af of ek daarmee saamstem, want ek weet nie of dit sal help nie. (...)

“Maar nou, en dis waar die trick inkom: ten einde ’n spelbederwer te wees, ’n kritikus van sisteme en gehele, en ’n ondermyner van mag en gesag, het jy daardie oormoedige spel van iemand nodig, daardie arrogante sisteem, daardie instelling van mag. Jy het dit nódig dat daar afstandonderrig-universiteite is wat soos ’n outonome dermstelsel werk (soos in die verhaal ‘Die papegaaiplanter’), dat daar ministers van polisie is wat oor perfekte beesplase droom, dat daar goudstedelike burgemeesters is wat monumentbedonderd is.”

Joan Hambidge (Die Burger, 3 November 1991) meen dat die verhale soos ’n "gedig gekomponeer is: beelde word uitgewerk en simbolies helder omskryf”. Vir haar gevoel is die verhale soms te lank, “so asof die skrywer die leser se vermoë om die subtiele skakelinge te sien, onderskat. Lanklaas was my kieliebakke só gekielie. Marlene van Niekerk het die gawe om die absurde in gewone situasies raak te sien. Om die opgepoftes te prik. (...) Die vrou wat haar verkyker vergeet het is ’n noemenswaardige debuut, ofskoon ’n mens tog by ’n herlees ’n hinderlike eenselwigheid in die struktuur van die verhale sien. Maar dit ontken nie die kreatiewe taalgebruik en die fyn waarnemingsvermoë nie.”

In 1995 tref Marlene die Afrikaanse romanwêreld met mening met die publikasie van Triomf. Vir hierdie roman het sy 18 maande lank in haar ervaringstrommel gaan ronddelf, vertel sy aan Màri-Anne Swartz (Die Burger, 9 Augustus 1994). "Wat ek uit die bodem opgediep het, was nie ’n blik sagte gouestroop wat ek oor die wêreld sou uitgiet as vrolike vertroosting vir al die ellende nie. Ek het die naakte mens met al sy illusies en swaarkry uitgegrawe en staangemaak. En in Triomf dwing ek die leser om na dié gestroopte mens te kyk."

Swartz skryf: “Enersyds is Triomf ’n deernisvolle, humoristiese én ontstellende verhaal oor die lief en leed van ’n armblanke Afrikaner gesin in die Johannesburgse voorstad Triomf en hul stryd om te bestaan. Andersyds is dit skreiende kommentaar op sosiale oortredings. ‘Toe die boek klaar was, wou ek net in ’n erdvarkgat wegkruip, want ek het nie geweet wat die reaksie daarop sou wees nie.’ Hoewel resensente en letterkundiges dit as een van die opwindendste romans in jare besing, het dit gemengde reaksie van die leserspubliek ontlok vanweë haar uitbeelding van onder meer geweld en bloedskande.

“Maar Triomf was al ’n topverkoper voordat dit op die rakke verskyn het. Voor die publikasie daarvan aan die einde van Junie was die eerste oplaag van 6 000 eksemplare reeds uitverkoop en is ’n herdruk bestel. Die hele lewe beïnvloed haar as skrywer, sê Marlene. ‘Ek voel uitgedaag deur wat ek sien en ervaar, dus móét ek dit interpreteer, anders is die aanslag op my sintuie dalk te hewig.’

“Jare ná haar sorgelose kinderjare op Caledon het Marlene haarself in die stad bevind en met ’n nuwe kultuur van armoede en geweld kennis gemaak. Met die skryf van Triomf wou sy die stadsomgewing interpreteer om daarmee te kan saamleef. Marlene, wat self ’n ruk lank in dié voorstad gewoon het, het haar karakters as ’t ware op straat gaan haal en ’n storie ontwerp wat by hulle pas.

“‘Die inwoners van Martha Straat 127 is ’n kombinasie van dié wat ek elke dag op straat sien. Dié mense en armoede is oral in ons groot stede. Jy hoef net op ’n Saterdag by ’n drankwinkel in ’n minder gegoede buurt in te stap om mense te sien wat sukkel en swaarkry.’

“Die boodskap wat sy in haar boek wil oordra, is dat ryk en arm mense dieselfde emosies ervaar en dat hul worsteling daarmee ewe intens is. ‘’n Mens se hart bly dieselfde, ongeag sy omstandighede. Selfs die versukkeldes kan liefhê, sensueel wees, ontroer en vergewe, eienskappe wat die hoër middelklasse dikwels vir hulself toe-eien.’

“Sommige lesers voel dat die geweld, kru taalgebruik en bloedskande in Triomf hul Afrikanerskap aantas. Ander aanvaar die boek as ’n onwelkome familielid.

“‘Maar my motief was nie om lesers te skok nie,’ sê Marlene. ‘Mense wat meen hul Afrikanerskap word bedreig, kan gerus in ’n kroeg in die onderdorp (en dikwels ook in die bodorp) gaan sit en hul ore oopmaak vir wat Afrikaners sê. Maar die boek gaan oor veel meer as Afrikanerdom. Dit handel oor die uitsigloosheid en slytasie van die mens se bestaan waaruit daar geen uitkoms is nie.’

“Die intieme uitbeeldings dwing die leser as ’t ware om ’n afloerder te wees. Afloerdery is ’n soort hooftema in die boek, sê Marlene. ‘Almal in die boek loer vir mekaar. Die mense in die wêreld kyk ook almal vir mekaar, maar distansieer hulle van mekaar se probleme. Só kyk mense na die openbare wêreld op televisie. Hulle lees van seksuele gruwels in Sondagkoerante en dink: ‘Haai sies, hoe kan mense so erg wees?’ en ‘Dankie tog ek is nie so nie.’ Daardeur is hulle selfverskonend en stel hulle hulself vry van die verkeerde optrede van mense.’

“Dis hier waar haar eie bottomline in die lewe ter sprake kom. ‘Goeiste, dis nie maklik om mens te wees nie. Jy moet jouself rek en strek om soveel moontlik simpatie en deernis te hê met jou medemens. Dit verg morele inspanning. Ek praat nie van ’n politieke of maatskaplike houding nie, maar van ’n insig wat ons in staat stel om na ander se foute te kyk sonder om hulle te veroordeel.’ Sy glo in die Boeddhistiese spreuk wat sê dat die mens vrede moet maak met sy eie monsters. ‘Want hoe meer jy daarteen veg en hulle as “anders” afmaak, hoe groter is die bedreiging. As jy vrede gemaak het met jou eie demone en dié van die wêreld, is dit makliker om te lewe.’

“En die persoonlike monsters waarmee sy self worstel? ‘Ek is te krities teenoor onregverdigheid. Deur té krities te wees verdraai ’n mens jou uitsig op die situasie. Daarby voel ek te skuldig dat ek nie genoeg doen vir ander nie.’”

Marlene erken teenoor Swartz dat die skryf van Triomf "geestelik en fisiek uitmergelend (was). Ek moes my tyd verdeel tussen huis skoonmaak, katte na die veearts neem, dosent wees en skryf. Maar dit was lekker. Ek het baie vir myself gelag en nóg meer gewonder oor ons almal. Die ideaal, natuurlik, is om in ’n klooster te gaan skuil waar ek my tyd net aan skryf kan wy.”

Aan ’n opvolgboek het sy kort na die verskyning van Triomf nog nie gedink nie. “Sedert ek Triomf in Mei (1994) voltooi het, het ek nog nie die krag gehad om ’n volgende een aan te pak nie. Ek het gedink dat wanneer ek gereed is om 'n opvolger aan te pak, dit waarskynlik ’n boek oor kos maak sou wees. Kritiek op die manier waarop restaurante iets aan jou opdis wat net mooi lyk, maar ‘leeg’ is. Rolprente soos Babette’s Feast en Like Water for Chocolate het my dié idee gegee.”

Marlene, wat sedert 1993 in Westdene in Johannesburg gewoon het, is self handig in die kombuis en met haar een gunsteling, rooi Russiese beetsop met baie suurroom en aartappels, het sy vrede gemaak. Sy sou graag net baie gelukkig wou wees en genoeg liefde kan uitdeel. Goeie vriende en klassieke musiek, lekker kos wat met liefde voorgesit word en rus en vrede is Marlene se resep vir geluk, vertel sy aan Swartz. “Maar geluk moenie hiervan afhang nie. Dit moet afhang van selfaanvaarding en aanvaarding van ander. Dís die hoogste deug.”

Fanie Olivier vertel destyds in Beeld (4 Julie 1994): “Dis die vooraand van die geboorte van die legendariese Nuwe Suid-Afrika ’n triomfdaad waardeur die verlede soos deur stootskrapers platgevee word. En waar wit Suid-Afrika, soos die inwoners van die destydse Sophiatown, deur die werklikhede van mag uitgeskuif word. Teen hierdie agtergrond verduidelik Treppie in Marlene van Niekerk se Triomf aan sy suster Mol wat swaartekrag is: ‘Dis die krag wat ons hier vashou in Triomf, in Marthastraat, óp ons voete, in ons velle, bymekaar, met ’n dak oor ons koppe. Anders het ons almal al fokken een-een weggedryf en uitmekaargeval (bl 119).’

“Maar Treppie is nie net Mol se broer en huisgenoot nie. Hy het ook aanspraak op haar lyf (gehad); dalk is hy verantwoordelik vir die ‘dywel’ wat in haar seun Lambert skuil. Maar wie sal weet, want die bloedskandelike lyn loop verder: Pop, wat deur Lambert as sy pa beskou word, is die oudste broer. Op hierdie amperse laaste bene is Pop nie juis meer seksueel vir Mol ’n bedreiging nie, maar daarenteen moet sy by tye haar house coat en haar lyf oopmaak om Lambert, haar seun, te vertroos as hy die fits kry. So leef hierdie vier mense saam in ’n huis vol ou yskaste en geverfde mure, stukkende spieëls en gate in die deure: ‘die stem van die Ampie van die nineties en sy mense wat in Triomf woon,’ verklaar Treppie dit self op bl 289. En dis hierdie huis, die mure teen die suidewind, wat met verstommende vernuf in dié roman gestalte kry, aanmekaar getimmer word en vernuwe word vir Lambert se 40ste verjaardag: ‘Die bietjie baggage van die Groot Trek van die Benades, vuil gevat, swart gebrand, gekoek, taai, blink gesit, gekraak, uitgetorring. Mot en roes met hondehare oor alles (bl 306).’

“Vir haar uitbeelding van hierdie huishouding laat die skryfster die personale vertelperspektief telkens skuif, in afsonderlike hoofstukke en soms binne ’n hoofstuk. Al vier kom by wyse van spreke aan die woord, hoewel nie met werklik ingrypende verskille in die vertelstyl nie. Oorheersend is die stem van Mol, ’n Mutter Courage wat probeer om huis en haard (en haar honde) bymekaar te hou bewus van die verskrikking en die verlies waarmee sy saamleef. Dit is telkens sy wat moet bemiddel wanneer die spanning tussen die ander dreig om in ’n ramp te eindig: sy huil oor die gelukkige dae van vroeër, bestendig die mites, koop, draai toe en verkoop die rose wat as bindende motief deur dié lywige roman van 450 bladsye loop. Dis ’n tragedie wat hom hier afspeel, weet ons gou, en sidder by die gedagte oor wat gaan gebeur as Lambert uitvind wie hy werklik is en waarmee hy hier saamleef.

“Deur die heerlike hantering van die groteske alledaagse, en die deernis waarmee Van Niekerk die verskriklike teken, word die lewe self egter hier ’n triomf. Sy laat ons lag op die donkerste oomblikke en skep in Treppie se kennis, insig en spitsvondigheid (en sy berekende wreedheid) een van die boeiendste figure wat ons die laaste ruk in ons prosa teëgekom het. Dit is Treppie wat sien dat die huis self (en dit sluit die metamorferende posbus in!) hul bestaan is, en dat die aanslag daarop ’n aanslag op hul eie voortbestaan is. (...)

“Daar is miskien plek-plek oomblikke wat uitrafel, anekdotiese muurpapier, en ek vind die afgelope verkiesing in die slot nie naastenby geïntegreerd genoeg nie (too close for comfort?). Dis egter kleiner bedenkinge binne ’n omvangryke teks waarin ’n deel van ons gemeenskap op ’n besondere wyse in taal (ook hul taal) gestalte kry. Dis ’n reddingsdaad-aksie om te verseker dat hul lewens, soos Sophiatown van destyds, nie net weggevee word deur ’n nuwe bedeling nie. Die laaste paar jaar het daar in die Afrikaanse prosa ’n klompie sleuteltekste verskyn waarin die psige van Suid-Afrika verken is. ’n Mens dink aan Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, Mark Behr se Die reuk van appels en Kroniek uit die doofpot van John Miles. Tussen hulle kom staan hierdie debuutroman van Marlene van Niekerk as ’n indrukwekkende gespreksgenoot en ’n ongemaklike familielid. As digter en later met haar kortverhaalbundel Die vrou wat haar verkyker vergeet het, het sy reeds ’n belangrike plek in die Afrikaanse letterkunde ingeneem. Nou trek sy ook in in die Marthastraatse huis van ons roman. En ek dink die poppe gaan dans!”

Gawie Botma (Die Burger, 17 Augustus 1994) was nie só positief oor Triomf nie. “Die jammerte van Triomf is dat so baie positiewe elemente nie tot hul reg kom nie. Marlene van Niekerk is ’n talentvolle kunstenaar wat soms vir puik poëtiese beskrywings en treffende beelde sorg. Daar is tonele wat ’n dramatiese filmiese kwaliteit het, en uitstekend slaag, terwyl die taalgebruik oor die algemeen meedoënloos bevrydend is.

Ongelukkig kon die skrywer nie die versoeking van ‘mooiskrywery’ weerstaan nie, en verval sy vir bladsye in gemeenplase. Die politieke inhoud is net so vlak en toeganklik soos die ironie van die naam ‘Triomf’ in die lig van die geskiedenis. Tot op bladsy 370 word die spanningslyn nog, met voorbehoud, goed styfgetrek. Maar vanaf die afdeling ‘Lambertus en Cleopatra’ het Van Niekerk so begin kleitrap dat die einde na ’n afgejaagde bymekaarvat van 'n paar drade lyk. Dit, terwyl talle sterk temas wat sy met soveel klipharde dink- en skryfwerk van die begin af ontwikkel het, los bly rond swaai.

“Selfs die verhaalwêreld val ook plat, omdat die karakterisering van die patetiese goedgeaarde Mol, haar kamtag sensitiewe broer-man Pop, haar briljante broer-verkragter Treppie en vader-weet-wie se wangeskape maniakseun Lambert glad nie oortuig nie. Dit is ook verbasend dat die verhaalwêreld, ondanks al die gewelddadige aksie, leeg en staties voordoen. Groot dele daarvan herinner die leser baie aan ’n toneelstuk waarin vier hoofkarakters oneindig debatteer. Treppie is tans die irriterendste karakter in die Afrikaanse literatuur. Op grond van Van Niekerk se ‘getuienis’ hoort Lambert dalk tog net in ’n inrigting, nadat hy en Treppie uit die tronk vrygelaat is. Die tyd, soos sommige geleerdes nou al, mag moontlik leer dat Triomf wel ’n meesterstuk is. Solank ek dit net nie weer hoef te lees nie.”

Frederik de Jager van Queillerie wat die boek gepubliseer het, was die redakteur van Triomf. Hy vertel (Die Burger, 17 November 1999) dat seker die twee swaarste posstukke wat hy ooit ontvang het, in Januarie 1994 albei van Pretoria af by hom aangekom het: ’n pak Queillerie-briefhoofde vir sy nuwe tuiskantoortjie in Observatory, en ’n manuskrip van 800 bladsye met die titel Triomf en die skrywer Marlene van Niekerk voorop geskryf. Nadat dit gelees is, het hy en sy baas by Queillerie, Hettie Scholtz, besluit: "Publish and be damned."

“My ‘kantoor’ was nog nie klaar ingerig nie. Die boekrakke halfpad, die faksmasjien radeloos langs sy instruksieboekie, maar ons was in besigheid en die Van Niekerk-manuskrip, deur Hettie met tedere toewyding na Queillerie gelei, het in my skoot beland.

“Nou lees ek. Op die vloer, oor die kombuiswasbak, soggens op die troon, snags in die bed. My kop werk, en my senuwees ook. In my slaap keer die karakters Treppie, Mol, Lambert en Pa, hierdie ‘gôtsverskriklike’, bloedskandelike, allerheilige Benade-gesin, terug om my die lyne te wys wat ondergronds tussen my en hulle loop, tussen hulle en al ons mense, en tussen ons en alle mense.

“Die boek word ’n nagmerrie en ’n monster. Hy wil nie klaar nie, en ons kort omset. Kontinuïteit: watter ‘sigrets’ rook wie van die karakters nou weer? Watter soort taal is tipies van wie? Wanneer het wat nou weer met wie gebeur in hul voorstedelike doolhofbestaan? ‘Ag,’ roep die skrywer een dag oor die telefoon uit, ‘watter hél het ek nie vir myself geskep nie!’

“Ek en Marlene faks byna daagliks A-viere vol bladsyverwysings heen en weer met veranderings, regstellings en voorstelle. Afronding word ’n lopende projek. Die hoofstuk ‘’n Kwessie van perspektief’ is Marlene se antwoord op my geknaag oor een netelige gesigspuntprobleem. En wanneer Treppie iewers opmerk dat hulle almal met ’n ‘whimper’ gaan eindig en nie met ’n ‘bang’ nie, is dit eintlik my straf omdat ek gesê het al die swanger onheil in die storie baar geen apokalips soos te verwagte nie.

“Marlene, wat saam met ’n vrou wou werk aan Triomf, en veral saam met die vrou der vroue in ons bedryf, het moedig deurgedruk saam met die onbekende man wat sy toe erf omdat Hettie groothartig gereken het dit sou vir my ’n goeie intrede wees om hierdie boek der boeke vir my rekening te neem. En tussen Wits en Observatory ver in die Kaap was dit ook nie altyd maklik om die juiste woord te kommunikeer nie.

“Maar eindelik kom die boek klaar. Ons vergader met die CNA oor ’n reklameveldtog, en hulle wil weet of ons gemaklik is met ’n begroting van R40 000. Met verveelde minagting antwoord Hettie: ‘Maar natuurlik’. Ek dag ek word flou. Dis meer geld as wat die hele Queillerie werd is.
“Toe gaan druk ons sesduisend eksemplare, wat meer as dubbeld kos wat Queillerie werd is. Die senuwees vreet my op. En die boek kom. En die bestellings ook. Ria Barnard staan bont in ons motorhuis-magasyn. Die tweede oplaag word bestel nog voordat die boek in Johannesburg bekend gestel is.
“Die volgende golf is die resensies, die briewe in die koerante, en die haatpos. Die boek kry lof van resensente, maar in die Kaap word hy verneder. Skrywers reageer, en dit word omstrede, want die suggestie ontstaan Nasionale Pers straf hierdie klein opposisie-uitgewery. Ander reageer weer dáárop. Oral in die media is die boek nuus. Mense kou hul morele tande stomp daaraan. Marlene ontvang ’n eksemplaar oor die pos, aan flarde geskeur, met ’n nota: ‘Ons is nie so nie.’ Geteken: ‘Die Benades’.

“En toe kom die pryse. Die Hertzog-prys gaan aan Elsa Joubert. Die ATKV sou Triomf beslis nie kry nie. Maar wel die M-Net-Boekprys en die laaste CNA Letterkundetoekenning, saam met Nelson Mandela in die Engelse kategorie. En ’n klompie maande later kom die faks een aand terwyl ek sit en werk. Triomf wen die Noma Toekenning. Die beste boek uit Afrika in 1994 gepubliseer. Die grootste internasionale prys wat ’n boek in Afrikaans nog ooit ontvang het.

“Toe ek nóg Hettie, nóg Marlene op die telefoon kry, raak die kantoortjie te klein vir sulke groot nuus. Ek het in my kar met Kaapstad se snelweë afgejaag en hoera uitgeroep. Wat agter daardie faks uit Oxford gesit het, was byna uitsluitlik risiko. Elke skrywer neem risiko op sy tyd en reputasie, maar besonder hoë literêre en wysgerige ambisie het hierdie roman gedryf. Daar was die risiko wat Marlene op ’n klein, jong uitgewery en boonop ’n jong, nuwe redakteur geloop het. Om nie te praat van die risiko wat daardie uitgewery op sy eie bestaan geloop het nie.

“Die prys is vroeg in 1996 by die Universiteit van Wes-Kaapland oorhandig. Twee buigende Japannese menere het gekom om die borge van die prys, die groot uitgewery Kodansha, te verteenwoordig. Verteenwoordigers van die organiseerders in Oxford was daar, asook die voorsitter van die beoordelaarspaneel van Dar-es-Salaam. Parlementêre swaargewigte van die nuwe orde in Suid-Afrika was nie afwesig nie. En juis dáár, het ek gevoel, word gedemonstreer hoe jy ’n beter saak vir Afrikaans kan maak as hoeveel vlugskrifte, drukgroepe, deputasies en versetaksies. Skep kultuurprodukte wat om hul suiwere gehalte onignoreerbaar is.

“Die beoordelaars het bevind dis ’n boek met iets te sê vir Afrika, wat aan die versmoorde vrou ’n stem gee, en wat ’n blik op die selfversmorende afsondering van die Afrikaner gee wat begrip moontlik maak.

“Daardie begrip kan nou wyer trek. Die boek is onder dieselfde titel in Engels uitgegee in 'n vertaling deur Leon de Kock. In Suid-Afrika deur Queillerie en Jonathan Ball gesamentlik, en in die Verenigde Koninkryk verskyn dit in November 1999 by Little, Brown in ’n uitgawe waarin die Suid-Afrikaanse taal en verwysings vir die buitelandse leser aangepas is. En met ’n Engelse uitgawe beskikbaar, het ek min twyfel oor belangstelling uit ander oorde.

“Vir Marlene van Niekerk het die boek nuwe deure oopgemaak. Little, Brown het haar ’n blanko kontrak aangebied vir ’n volgende roman, en in Nederlands het ’n verhalebundel onder die titel De vrouw die haar verrekijker had vergeten by Arena verskyn om die skrywer aan ’n Nederlandse gehoor bekend te stel. Aanstaande jaar verskyn Triomf in Deens.

“Vir Queillerie was Triomf lewensbloed en ’n vlag hoog aan ons mas. Het dit van die ander uitsonderlike boeke aangetrek wat ons bevoorreg was om uit te gee? Ek glo graag so. Maar van so ’n boek kom daar maar een in ’n dekade verby: groots in omvang, intellektuele veelduidigheid en artistieke prestasie. ’n Werk wat definisie aan ’n tydgreep gee.”
Triomf is in 1997 deur Elzabe Kritzinger en Natania Kleynhans vir die verhoog verwerk en deur ’n semiprofessionele geselskap in Port Elizabeth opgevoer. Volgens Herman Wasserman (Die Burger, 8 Julie 1997) het dit moed geverg om die bekroonde en omstrede roman as ’n verhoogstuk te verwerk. Daar was leemtes in die uitbeelding van die stuk, maar ten spyte daarvan bied dit ’n ander blik op Van Niekerk se teks.

Triomf was een van daardie boeke wat onverwags suksesvol was. Kritiek was daar baie, maar ook lofsange en toekennings, ook buite Suid-Afrika.

Tien jaar na die verskyning daarvan in Suid-Afrika word die roman baie positief in Amerika ontvang. Die gesaghebbende New York Times (11 Julie 2007) se resensent het geskryf dat dit Suid-Afrika se enigste tragikomiese roman van wêreldgehalte is, “die soort roman wat jou hart deurboor terwyl dit jou op die grond laat rondrol”. Rob Nixon, professor in Engels aan die Universiteit van Wisconsin, se resensie waarin hy die boek beskryf as “’n oproerige uitbeelding van ’n familie agtertangse Afrikaners wat lukraak by die nuwe Suid-Afrika probeer aanpas”, het onder die opskrif “Triomf: the white-trash bin of history” verskyn.

Nixon motiveer sy hoë waardering vir Van Niekerk se roman onder meer deur ’n verwysing na van Suid-Afrika se mees gevierde skrywers – JM Coetzee, Nadine Gordimer, André P Brink en Zakes Mda – en verklaar dat nie een van hulle sterk komiese instinkte openbaar nie. Hy illustreer dan ook ten minste ’n basiese kennis van ’n Suid-Afrikaanse aktualiteit deur enkele kodewoorde: Desmond Tutu, Zackie Achmat, Soweto en shebeen. In teenstelling met hierdie troosteloosheid, voer hy aan, is Triomf “genadeloos snaaks”.

Volgens Nixon is die roman egter ook méér as snaaks: dit is deurtrek met erns, “’n komplekse verskeidenheid van toonaarde manjifiek oorgedra deur die Suid-Afrikaanse digter Leon de Kock se dikwels opwindende vertaling”.

Nixon sluit sy resensie van Triomf dan ook af met ’n beskrywing van die uiterstes wat net in romans van werklike gehalte verenig word: “Van Niekerk stroop al die klere van haar kaalvoet-Afrikaners, maar vergoed hulle daarvoor met die waardigheid van ’n literêre bestaan, ’n plek in die lae menslike rommel van Sophiatown. Die Benades is die geskiedenis se uitgediendes, maar hulle is ook een van die mees vermaaklike families in die hedendaagse letterkunde. Hulle mag vinnig sink, maar hulle sorg steeds vir ’n helse gespook.”

By nabetragting sê Van Niekerk aan Stephanie Nieuwoudt in Die Burger van 5 Mei 1999 sy sou die boek met ’n derde gesny het as sy dit kon oordoen. Vir die Engelse weergawes is groot stukke in samewerking met die vertaler, Leon de Kock, weggelaat. “Triomf is ’n onderwerp wat afgehandel is. Omdat ek daar gewoon het, was daar ’n aandrang van binne myself om oor die gebied te skryf. Ek moes in die reine kom met die plek. Tot by hoofstuk vyftien het ek getwyfel of ek reg is om die boek te skryf. Dit was ’n rare eksperiment omdat die styl so dramaties anders is as dié waarin ek my kortverhale skryf.”

Marlene was ook nie seker of die Engelse weergawe so gewild sou wees as die oorspronklike nie: “Die onderwerp is die historiese lotgevalle van die Afrikaner. Dit lê Afrikaners na aan die hart. Ek weet nie hoeveel belangstelling Engelssprekendes by dié gebeure het nie.” Sy beskryf Triomf as ’n allegorie van mense se poging om sin te maak van hul lewe, al is hul omstandighede hoe erg, en van die geskiedenis van die Afrikaner.

Die sukses van Triomf het nie met die vertalings geëindig nie. In 2007 word die filmweergawe onder regie van die Zimbabwiese rolprentmaker Michael Raeburn vrygestel nadat Raeburn sewe jaar daaraan gewerk het. ’n Vriend van hom het aan hom gesê: “Dit is jou volgende rolprent. Dit handel oor armblankes en daar is nie veel van ’n storie nie.” Met dié woorde het Triomf in Raeburn se lewe beland (Die Burger, 24 Ferbuarie 2009).

“Om ’n roman vir die doek te verwerk moet jy ’n soort geestelike band daarmee hê. Jy moet hartstogtelik daarin glo, want jy gaan lánk daarmee besig wees.”

Wat vir hom opvallend was van Triomf toe hy dit uiteindelik onder oë gekry het, was die karakters en die emosie: “Hier was nie die terughoudendheid van die middelklas nie; hier was verstommende karakters wat op die rand van die samelewing luier. Onder dié gemarginaliseerdes kon enigiets gebeur. Dit is mense wat jy wêreldwyd aantref.”

Ook die benoudheid wat oor die Benade-familie gehang het, het hom opgeval: “Dit sorg vir geweld en intense, uitdagende donker komedie wat vir my die karakter Treppie Benade (vertolk deur Lionel Newton) se manier is om sy toenemende isolasie te verwerk.”

Die verhaal speel af in Suid-Afrika net voor die 1994-verkiesing, maar dit beteken nie dat dit polities gegrond is nie. “Die politiek is op die agtergrond op televisie of in die verkiesingsveldtogte in die strate.”

Raeburn het sonder sukses vir drie jaar rpobeer om Tim Roth, Sissy Spacek en ook Jessica Lange te kry om in die prent te speel. Daarna het die borge Meryl Streep voorgestel en dit was toe dat hy besluit het om dit in Suid-Afrika te maak, "met Piet van der Merwe, sy suster en hul hond en in Afrikaans”. Die prent is met Eduan van Jaarsveldt, Paul Luckhoff, Newton en Vanessa Cooke verfilm in Jan Hofmeyr, ’n arm buurt onder die Brixton-toring in Johannesburg, want “Triomf het net té middelklas geword met hoë mure en elektriese hekke; daar is niks meer daar om te verfilm nie.”

In 2008 is diefilmweergawe aangewys as die beste Suid-Afrikaanse fliek op die Durbanse Internasionale Fliekfees (DIFF). Dit is in Junie 2008 op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad bekendgestel.

Oor die nasleep van Triomf in haar lewe sê Marlene (13 April 2007): “Daar was ’n jare lange stilte ná die publikasie in 1994, en toe word dit jare later in Engels vertaal, en die uitwerking daarvan is nou nog nie verby nie, die ding presenteer homself soos die Spook van Verlatenfontein – net as jy dink hy het nou gaan lê, dan kom daar tog nog weer ’n aanbod vir ’n vertaling, en dan weet jy, okay, nog ’n ronde lê voor, en jy gaan nou weer moet dink oor arme Mol as die vertalers vir jou vra wat is ’n house coat”.

Marlene vertel in 1999 aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 5 Mei 1999) dat sy nie op ’n filosofiese manier skryf nie: “Ek skryf eenvoudig. Op 'n vlak wat vir almal toeganklik is. Die probleem in Suid-Afrika is dat die politiek sleg is vir digters. Daar is te veel feite, soos geweld, politieke verskynsels en verskynsels van deprivasie en te min interpretasie van waar ons is. Die land is in ’n krisis van selfbeskrywing waar ’n klomp mense probeer om nuwe ideologieë, soos die Reënboognasie en Afrika-Renaissance, te skep. Al waarop ons mag hoop, is konsensus. Maar die idees oor ’n gemeenskaplike nasiedom werk nie vir my nie. Daarvoor is die gapings tussen inkomste en tale net te groot.”

’n Bundel erotiese kortverhale met die vreemde titel Die verleiding van Margarethe van Vliet deur die misbruik van die poësie en ander verhale deur Marlene het in 1999 in Nederlands verskyn. “Dit was my poging om weg te kom van die politiek. Maar skrywers in Suid-Afrika het ook nou nodig om skerp satiries te raak. Al is dit dan ook net om die beginsels van vryheid van spraak te toets.” Margarethe van Vliet het “niks te doen met Triomf nie,” vertel Marlene aan Die Burger van 5 Mei 1999. “Dit is in dieselfde styl as die verhale in Die vrou wat haar verkyker vergeet het geskryf. Hopelik is die styl ryper as toe.”

Stephanie Niewoudt wou ook weet of die titelverhaal in Verkyker, wat gaan oor die ongelukkigheid van die enkeling met sy beperkings, nie "onteenseglik getuig van ’n ryp styl” nie.

Marlene se reaksie: “’n Mens skryf net een keer in jou lewe so ’n storie en dit dien as model vir alle verdere verhale. Jy probeer deur die grense van kreatuurlikheid breek. Die vrou wat haar verkyker vergeet het gaan oor obsessie. Die onbehae met die eie en persoonlike beperkinge. JC Bloem praat van digterlike verlange. Dis die verlange wat tipies is van mense wat vasgevang is in een vorm van bestaan terwyl daar duisend ander vorme van bestaan is. Dit gaan ook oor die mistieke verlange na die eenheid van alle dinge. Dis ’n verlange na onskuld. En wanneer Lambert in Triomf besig is om te skilder, is hy in effek besig om te probeer om die volmaakte ryk te skep,” sê Marlene.

Sy gaan voort: “Ag, ek weet nie waaroor die boek (Triomf) gaan nie. Soms voel ek dis belangrik vir bemarkingsdoeleindes om oor die boek te praat. Maar ek sou liefs nie ’n woord wou sê nie. Ek bewonder skrywers soos Karel Schoeman en JD Salinger wat nooit iets oor hul werk sê nie. Schoeman lewer monumente af wat vir ewig oop is vir interpretasie. Die eerste interpretasie wat ’n skrywer aan sy werk gee, is deur dit te skryf. Maar ek doen bemarking, want ek wil geld maak omdat my ou Volkswagen besig is om onder my uitmekaar te val.”

Met ingang Januarie 2000 is Marlene aangestel as medeprofessor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Die aand toe sy haar intreerede in ’n stampvol Jannasch-saal op Stellenbosch gelewer het, het sy ’n minute lange applous ontvang. Haar toespraak was getiteld “Die intreerede” en sy het daarin die frase inougurele rede etimologies uitgelê as “waarsêery op grond van voorbodes”.

Weer moes die Afrikaanse letterkunde nege jaar wag vir Marlene se volgende werk – en weer was die wag meer as die moeite werd. Agaat, wat deur sommiges as die Groot Afrikaanse Roman beskryf is, is in 2004 deur Tafelberg gepubliseer.

Voordat sy Agaat begin skryf het, was Marlene besig met twee romans, waarvan so 200 bladsye geskryf was: “een oor ’n proktoloog (arts van die ‘suidelike pool’) en een oor die moderne gimnasium en die kultus van die fikse, langslewende liggaam”. Maar in Augustus 2001 het die eerste "impulse" wat later Agaat sou word, by haar opgekom, vertel sy aan Francois Smith (Beeld, 9 September 2004). "Die een impuls was ’n transkripsie van ’n onderhoud wat ’n vriendin met vroue uit ’n lae-inkomste-groep gevoer het; die ander was ’n vertelling van my ma oor iemand wat hulle as kind geken het. Ek het begin om die deeg aan te maak deur net alles wat na aanleiding van die impulse in my kop gekom het, neer te skryf. En toe begin ek tyd maak om te skryf, om by die universiteit verlof te kry om te kan skryf.”

Die roman is ook gebore uit Van Niekerk se “hang na simmetrie”, oftewel om ’n teenhanger vir Triomf te skryf  (aan Smith). “Ná die stadsroman wou ek familie-onheil in die landelike gebiede en onder opgevoede mense ondersoek. Maar hierdie simmetrie sal eers afgerond word deur ’n volgende roman waaraan ek op daardie oomblik gedink het. Oral waar mense en plekke oormatig en sigbaar geïnteresseerd is in hul eie oppervlakte, raak ek pervers geïnteresseerd in waarom die dressuur so freneties volgehou word.”
"Met 'n stadsroman en 'n plaasroman agter die rug," sê sy teenoor Sonja Loots (Rapport, 28 November 2004), "waag ek dalk nou my hand aan ’n satiriese 'dorpsroman', Ritselrivier, oor my tuiste, Stellenbosch. Daarmee sal die patroon stad-plaas-dorp dan voltooi word," sê sy met die tong in die kies.

Sy vertel aan Francois Smith dat haar volgende werk beslis iets "ligter" as Agaat sal wees. Die hele proses om Agaat klaar te kry, was só veeleisend dat sy in die laaste deel van die proses twee maal per dag ’n fisioterapeut moes gaan sien om deur dit alles te kom. "Ja, Van Niekerk, sê my studente vir my. Jy is die een wat vir ons sê as jy sewe woorde geskryf het, moet jy ses skrap. En kyk wat het ons nou. Nee, as ek nou my grootste skrywersonde kan bely, dan is dit veelwoordigheid, ongebreidelde veelwoordigheid.”
Marlene vertel aan Sonja Loots in Rapport (28 November 2004) dat ’n mens jouself genoeg tyd moet gun om asem te skep en afskeid te neem van die emosies van ’n werk soos Agaat. “Ek is nog geweldig in die kielsog van Agaat. My hele huis is nog bespook daarvan. As ’n mens drie jaar met ’n teks saamgeleef het, is hy in jou yskas en onder jou bed.

“In die laaste skryfskof het ek agttien uur per dag aan die manuskrip gewerk. Dan is jy later so gaar en moeg dat jy elke dag na die fisioterapeut moet gaan. Die gloeilampies in jou huis blaas en jy maak hulle nie reg nie, sodat jy later in ’n grot van kerslig werk. Dan vrek ’n rot in die oorvloeipyp van die warmwatertenk en begin die hele huis na dooie rot ruik. Álles ly onder jou skryfwerk: jou tuin, jou kat, jou lewe.”

Maar dit was darem nie net alles sleg nie. “Daar is ook momente van bevrediging en die onderskraging van jou intieme eerste leser, jou vriende en kollegas, jou redakteur. Maar behalwe die verwaarlosing van huis en tuin en self het Agaat my emosioneel gegryp op maniere waaroor ek nie beheer gehad het nie.”

Sy verduidelik aan Loots dat die skryf van Agaat baie anders was as die skryf van Triomf: “Terwyl ek Triomf geskryf het, het ek baie gelag. Met Agaat het ek minder gelag en baie gehuil.”

Daar was eerstens die karakter van Milla Redelinghuys. “Ek het probeer om te laat sien hoe iemand in haar idealistiese en naïewe geloof verneder kan raak deur siekte en ontnugter kan raak deur haar lewenservarings, sodat sy op haar sterfbed meer simpatiek oorkom as daarvoor. Die sterfbed is haar laaste kans op selfwording, op sielsverwerwing.

“Dit was egter die karakter Agaat wat my die naaste aan die hart gelê het. Haar ervarings en vorme van verweer het my gegryp. Sy het my erg ontroer as sy aan die slaap raak op Milla se voete en dit vashou; as sy haar nuwe gewoonte aankweek om met stywe treetjies te loop, as sy sê sy sóék die koffer.”
Marlene glo dit is dan ook reg so. Die karakters van die skrywers bring haar in aanraking met haar eie sielkundige gevoelens en daarvoor kán en mág ’n skrywer nie terugdeins nie.

“Die ou mistici het altyd gesê hulle voel as die gebed droog is. Met skryf is die kuns om jouself aan jouself beskikbaar te hou, op taamlik riskante wyse. Jy moet op vreeslose wyse in kontak wees met jou gevoelighede, jou vrese, jou verlangens. Daarom is die sielkundige se stoel vir my as skrywer noodsaaklik.

“Daar was geniaal begaafdes soos Hölderlin en Artaud wat miskien sou spoeg op die terapeut se stoel. Hulle sou sê: ‘Vat jou stoel, I don't need it.’ Maar vir my, wat ’n taamlik gereelde lewe lei in ’n taamlik gereelde dorp, wat hier moet rondstap en sê ‘ek’s ’n dapper muis’, en wat myself moet handhaaf in ’n omgewing soos hierdie, vir my is dit noodsaaklik om my skurwe jakkalse by die terapeut aan die hardloop te maak, sodat ek in my skryfstoel hul sterte aan mekaar kan knoop.”
Marlene skryf meestal snags. “Ek kan nie sien hoe dit anders kon gebeur het nie.”

In 2002 was Marlene se werksdrukte so hoog dat sy eers die skryfwerk eenkant toe moes skuif "toe dit net mooi warm gespook was”. Dit het ’n harde poging gekos om weer aan die skryf te kom, “maar ek het net geweet om verdere skryfverlof te kry, móét dit klaarkom en sál dit klaarkom”.

Sonja Loots het die gevolg van al Marlene se harde werk as "magistraal" beskryf: "onder meer ’n bestekopname van die plaasroman-genre en ’n afrekening met wat Van Niekerk spottend beskryf as 'purple prose vol arbeid, adel-terminologie, oorliries, swewerig en gelaai met die boerdery-is-swaar-topos'."

Oor hoe allegories ’n mens moet lees aan die verhaal van ’n plaas wat uit blanke-besit oorgaan in nieblanke-besit, kan sy nie uitsluitsel gee nie. “Dit was vir my ’n heel intieme geskiedenis wat hom op Grootmoedersdrift afgespeel het. Ek het nie in die eerste instansie gedink aan die groter politieke landskap nie, hoewel ek natuurlik bewus was van sekere allegoriese impulse.

"Dit ís ’n roman oor verlies, ’n soort treurlied, ’n werk van oorgang en ’n afskeid van ’n verbygaande orde – maar dan nie op ’n reaktiewe manier nie.
“As ek so rondom my kyk, voel ek aan dat nogal ’n reaktiewe pose ingeslaan word deur party kommentators en kultuurfilosowe. Hulle is verdedigend aan die een kant en bevrees aan die ander kant, aanvallend aan die een kant en paranoïes aan die ander kant. Dit is ’n houding wat jy kan aanneem as jy ontmagtig voel. ’n Ander houding is om mooi te kyk wat jy verloor en op ’n volwasse manier daaroor te rou.”

Om “mooi te kyk na wat jy verloor” het tydens die skryf van Agaat beteken dat sy “doelbewus probeer het om ’n sekere soort kultuur of erfenis te dokumenteer. Ek vra my deesdae af wat ’n mens doen as jy in hierdie land skryf, waar jy wil uitkom. Op die ou end moet jy jouself heel beskeie opstel as dokumenteerder en in godsnaam alle wilde fantasieë daarby probeer uitlaat.

“Met Agaat wou ek ’n omgewing dokumenteer wat aan die verdwyn en verander is, maar wat ek baie goed geken het. Dit is ’n geesteswêreld, maar ook ’n materiële wêreld van sekere boerderypraktyke en -instrumente; daarom dat ek die drie hulpboeke betrek het. Natuurlik word die kultuur of erfenis bevraagteken, maar ek dink nie ’n mens haal iets aan soos ‘uit dieptes gans verlore’ as jy nie 'n sekere nostalgie daarby ervaar nie.”

Haar gemoeidheid was ook met Afrikaanse sêgoed en uitdrukkings wat in onbruik begin raak. “Die boek wil die Afrikaanse taal opskryf, die taal argiveer, stukke daarvan wat nie meer gehoor word nie. Ek het baie gesit met psalms en gesange waarvan ek die woorde al vergeet het, ure lank. Soos ’n hert in dorre streke. Bly by my Heer terwyl die skadu’s daal. Ek het ook feitlik die hele FAK deurgesing. En ek het die kinderrympies uit Pieter W Grobbelaar se boeke gesit en opsê.”

Oor Agaat skryf LS Venter (Beeld, 22 November 2004): “Van die baie boeke wat ’n mens in jou lewe lees, is daar net enkele briljantes wat jou met ’n gevoel van duur laat. James Joyce se Ulysses is een daarvan, Couperus se Van oude mensen, de dingen die voorbijgaan ’n ander. Ander boeke wil vandag môre laat word, gebeure tot ’n slotsom voer, dinge laat omkeer of verbeter of versleg.

“Marlene van Niekerk se Agaat is soos die eerstes hierbo ’n dúúr-boek. Dit nie vanweë die duur van die herinnerde episodes nie (ongeveer 50 jaar in die lewe van die boervrou Milla de Wet), maar vanweë die tydsaamheid van die vertelproses.

“‘Hoeveel ure gelede? Miskien kan ook sy (Agaat) my ure nie meer skoon aftel nie. Miskien reken sy hulle nou op die skerp van messe, op grasspriete, op die blomme van die bougainvillea wat met die ligste van ritselinge val op die stoep’ (p 600). Die verteltrant hier is so ongehaas soos liriese poësie, dit spruit uit ’n bewussyn wat boordensvol is van indrukke en idees. En daar is tyd genoeg om alles te vertel.

“Die paradoks van Agaat is dat tyd vir die vertellende hooffiguur juis nie onbeperk is nie. Milla de Wet is in die storiehede totaal verlam en lê op sterwe. Sy word versorg deur die bejaarde Agaat Lourier, ’n vrou wat as weggooikind deur Milla grootgemaak is. Kommunikasie tussen hulle is self ’n tydsame proses, want al spierfunksie wat Milla nog het, is oogbewegings. Hiermee moet sy haar behoeftes en gedagtes sein (soms so kompleks dat ’n mens aan die realisme van die situasie twyfel).

“Agaat op haar beurt verstaan dadelik, of halfpad of baie meer as wat Milla bedoel. Sy kan help, maar ook treiter en stilswyend aankla. Dit word ’n verhouding wat komplementeer en opponeer. In die versorging van Milla se liggaamlike behoeftes kry die begrip lyfbediende ’n letterlike en benouende betekenis.

“Agaat se kinderjare by Milla is ’n voorspel tot hul latere lewe. Milla leer die skaam kind om oogseine te ontvang en te stuur (waardeur die latere realismeprobleem enigsins ondervang word); sy voel ’n moederskap vir Agaat, ’n moederskap wat sy later aan Agaat prysgee met die grootmaak van Jakkie; sy soek ’n naam vir die kind en vind dit in Agaat, die goeie, ’n voorspelling van die goedheid waarmee Agaat haar tot haar dood toe sou versorg. Sy leer Agaat met tonteldoos en vergrootglas vuur maak; iets wat die vele brande op Grootmoedersdrift in die vooruitsig stel.

“Rondom hierdie twee sterk vrouefigure vervaag die ander karakters tot rolspelers en karikature. Jakkie is ’n katalisator wat twiste meebring, maar self nie daaraan deelneem nie. Ook as hy later woedend vir die Afrikaner word en buiteland toe vlug, breek hy nie deur die grense van die tipiese nie. Milla se man, Jak, is ’n karikatuur: tennisbaan- en bergklimboer, vroueslaner, drinker. Vir hom is die verhaal van Agaat, wat Milla in haar dagboeke opteken, ’n ‘meidestorie’ (p 619). Dit keer Poppie Nongena om, sê hy, strukturele geweld is in Agaat se geval strukturele bevoorregting. In alles wat hy doen, is hy gedoem om die ou Afrikanerorde te verteenwoordig. Vir die diepgang van die boek is dit jammer dat dit so moet wees.

“Agaat se vele enumerasies, lyste en inventarisse is funksioneel, want dit getuig van Milla se verbetenheid om met hierdie ‘aanwesigheidlyste’ (p 292) volledig te onthou en vir oulaas te registreer. Dit bring egter ook mee dat duur op die ou end oorversadiging word. Te veel word vertel: die inhoud van ’n spens bottel vir bottel; die uitleg van ’n tuin blom vir blom; die deftige servies op die tafel porseleinbak vir porseleinbak. ’n Mens kry die indruk dat dinge genoem word net omdat hulle daar is.

“Dis eers as die lyste gestroop en noodwendig word dat dit seggingskrag kry. So dink Milla aan die fases van ’n vrou se lewe in rokterme: eers dooprok, dan aanneemrok, bruidsrok, doodsrok (p 583; vergelyk ook die omslagontwerp). Meer van hierdie essensiële herhalings kom in Agaat voor, maar ook van die teendeel.

“Duur kan ook uitwaaiering word. Agaat en die bandiete wat die doodsbeendere van diere op die plaas optel, bring ‘Uit dieptes gans verlore’, die profete van die Ou Testament en die val van Jerigo ter sprake (p 243). As Milla jeuk, laat haar ongemak haar by Job draai en by Johannes: ‘In die begin was die Vel en die Vel was God en die Vel het gejeuk in die buitenste duisternis’ (p 314). Op ’n ander plek dink sy aan God as ’n vrou. Maar maak dit op jou sterfbed saak of God ’n man of ’n vrou is? Hoe eerlik is die vertelling op momente soos dié of wil Van Niekerk bloot Bybelse en feministiese skokgolfies deur die leser stuur?

Agaat is ’n roman soos wat Milla haar tuin wil uitlê, ’n ‘geurige bewandelbare boek vol besonderhede waarvan mens eers na ’n ruk agterkom dat hulle deel is van ’n subtiele patroon (...,) 'n komposisie, 'n sonate met temas en ontwikkelings en herhalings in wisselende toonaarde" (p 475). So ’n boek het dúúr, verrassende skuilplekke, flitse van betekenis.

“Een so ’n flits is as ’n mens agter die name van toevallige karakters verwysings na ander Afrikaanse plaasromans bespeur: Lotriet (Kroniek van Perdepoort), Van der Lught (Toorberg), Leroux (Sewe dae by die Silbersteins). So word Agaat nie net op sigself ’n plaasroman nie, maar ook die afrekening met ’n genre.

“Hierdie afrekening neem twee regstellende vorme aan. Grootmoedersdrift gaan uit wit besit oor na Agaat. En ná ’n hele boek vertel uit die perspektief van Milla word Agaat se perspektief ten slotte gegee. So kry die slavin ’n stem, al is dit maar net in die gedaante van ’n sprokie. Die ware swart perspektief kan nie deur ’n wit skrywer verwoord word nie.

Agaat is ’n virtuose boek, wat soms die prooi van sy eie virtuositeit word. Dit stel hoë eise, maar op die leser wat kan verduur, wag ’n unieke leeservaring.”

Vir Joan Hambidge (Volksblad, 13 September 2004) is die roman besonder ambisieus in opset: "Karel Schoeman se Hierdie lewe word ’n opsetlike of opvallende interteks en die verskillende dimensies van vertel word spieëls van een opset na 'n ander. ’n Meta-gegewe dus, maar meer nog: ’n Weefwerk soos die motto’s uit ou kultuurtekste ons wil rig. ’n Vroueskrywer wat inbeweeg in die ruimte van die oermanlike domein, te wete die plaasroman.

“Dit is in die eerste en laaste instansie ’n roman oor identiteit, ras en klas. Iemand wat praat deur ’n ander: herinnering, dagboeke met die bekende gegewe van die stemlose, bruin Agaat, wat interpreteer namens die bedlêende sterwende matriarg wat ook in die tweedepersoonvorm na haarself verwys.

“Patriargie of androsentriese outoriteit word ondermyn deur vroulike bewussyn of interpretasie. Ook die ‘bediende’, of Ander, wat konvensioneel stemloos is, word nou stem gegee. In sy wydopgesette aanbod is hierdie roman indrukwekkend. Dit is ’n ‘wye en droewe land’ wat geskilder word, maar met ’n intiem-vroulike aanbod as gegewe. Die leser word deurgaans herinner dat sy besig is om ’n letterkundige roman te lees en dit is ’n grootse opset wat voor ons ontvou. Met al die drade wat so ’n imposante weefwerk impliseer.

“Om te praat namens ander of die aanwending van die alter ego of buikspreker is bekende tegnieke van die belydenisroman. Verskillende ‘ekke’: die seun, die moeder (toe en nou), die bediende. Agter dit alles staan die ouktoriale instansie wat kommentaar lewer op menslike verhoudings in 'n gekwelde land waar (eiendoms)besit enorme implikasies het. Ons leef en lees téén die agtergrond van verdrukking, hersonering en ’n nuwe grypsug. Ingebed teen die geskiedenis kry die roman ook ’n groter reikwydte. (...)

“Agaat die goeie se slotmonoloog vra vir ’n saamlees met Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves: ’n primordiale verkenning van vrouwees in beduidende argetipes.

“Die beskrywing van hoe Milla vir die jong Agaat ontdek, is waarskynlik een van die menslikste en ontroerendste passasies wat ek ken. Emosionele en psigiese pyn word meedoënloos onthul: Hoe MooiJak sy vrou afknou, hoe sy op haar beurt hierop reageer.

“Die boek is in ’n sirkelgang geskryf met ’n aanhoudende terugbeweeg na die kern van alle verhoudings waarin manipulasie en wreedheid die dinamika word. Hierom die verwysing na spieëls met Agaat en (Ka)Milla wat mekaar se psiges voortdurend opvang en hul ellende en insigte na die leser terugkaats. CM van den Heever se Laat vrugte word ook geresoneer in die verhouding tussen vader en seun. En die beskrywing van ’n lugmag-okkasie word oortuigend gedoen, met die vader wat telkemale sy teleurstelling oor sy seun uithaal op sy vrou en haar huishulp. (...)

“Die hulde rondom Triomf het hierdie leser nie gedeel nie, maar Agaat is ’n belangrike bydrae tot en grensverskuiwing binne die Afrikaanse prosa. Veral om die deeglike ontginning van die plaasroman, boonop deur ’n vrou.”

Annemarié van Niekerk (Die Burger, 30 Augustus 2004) vind Agaat verstommend anders as Triomf, maar nie minder ontstellend nie. “Wat my veral in hierdie roman weer sterk onder die aandag gebring is, is hoe ’n oënskynlik minuskule ingekrimpte wêreldjie, gemerk deur kwyning en verlies, ’n swaar en gewigtige impak kan maak – die gewig van afwesigheid. Soos wat Triomf ons tien jaar gelede ’n oorverdowende taai klap gegee het, doen Agaat dit ook, maar met die onhoorbare prik van ’n naaldpunt – vlymskerp en presies.

“Dit is ’n roman wat die leser laat nuut dink oor die implikasies van lewe en dood, oor bestaanslot, oor verantwoordelikheid, oor skuld en vergiffenis. Nie net op ’n persoonlike vlak nie, maar ook binne groter historiese verband. Die leser staan as ’t ware saam met die karakter Milla op die afgrond voor die dood. Saam word teruggekyk na Milla se lewe (ook die Afrikaner se geskiedenis, al word dit nooit so uitgespel nie) deur middel van die interpretasie van Agaat – Milla se ‘ander’ wat haar ‘eie’ geword het. En ek kon nie help om aan die Engelse spreekwoord te dink nie: What comes around goes around. Milla moes inderdaad maai wat sy gesaai het – die goeie maar ook die slegte.

“Die roman vertel die storie van plaasmense in die mooi Overberg-streek waar Marlene van Niekerk grootgeword het. Die verhaal speel hom af op die plaas met die veelseggende naam Grootmoedersdrift. Hier lê Milla nou op sterwe met ’n motorneuronsiekte wat haar totaal verlam het, en met behulp van die bruin vrou Agaat, haar versorger, word haar verlede, maar ook hul verlede saam, in heroënskou geneem. Milla het baie jare gelede die verwaarloosde bruin meisietjie soos ’n kind in haar huis geneem. Toe Milla se seun gebore is (met Agaat se hulp), is sy uitgeskuif en het sy as ’t ware bediende geword. Uiteindelik het Milla se eie kind, Jakkie, grootgeword en die huis verlaat. Ook haar man het sy nou nie meer nie. Die geïsoleerde Milla kan nie meer beweeg of praat nie, mense vermy haar, sy’s afgesluit, haar liggaamsfunksies is ontoereikend en Agaat word oppasser, versorger en intiemste vertroueling. Milla kan nog net kommunikeer deur middel van die knip van ’n oog, geïnterpreteer en vertaal deur Agaat.

“Nie net versorg Agaat haar fisiek nie, maar Agaat is ook die een wat Milla se ou dagboeke uithaal en een vir een, volgens Agaat se chronologiese voorkeur, ritme en nadruk, herlees. Milla is uitgelewer aan haar eie woorde van vroeër, haar verlede, wat nou selektief geartikuleer word deur haar mees intieme metgesel, haar ‘alter-ego’, haar ‘ander’ wat sy self help vorm het – dus ook haar ‘eie’. Waar Milla altyd in beheer was, is Agaat nou in beheer. Agaat se fyn spel tussen genadelose mag en magtige genade word in tango-ritme en snaargespanne beheersdheid tree vir tree uitgedans. Agaat heers deur streng te weerhou, maar ook deur bietjie-bietjie te gee. Die woordedans wat lewe gee aan die verlede, word uiteindelik ook dodedans.

“Maar omgekeerd is dit ook Milla se oë wat Agaat dophou, interpreteer, en deur haar eie rol as stomverteller, representeer. So vertaal die een die ander. Maar in ’n interessante spel van vertellers, is dit nie net Milla en Agaat wat praat en onthou nie, maar ook Milla se volwasse seun, Jakkie, nou reeds 12 jaar woonagtig in Kanada, wat die roman open met ’n stroom onkeerbare kinderherinneringe. Die begin (hier die begin van die roman) wys heen na die einde (Milla se doodsberig), en die einde (die doodsberig waarmee die roman open) voer Jakkie terug na die begin (sy kinderjare). (...)

“Van Niekerk lewer ook fyn kommentaar op tradisionele geslagsverhoudings deur die interaksie tussen Milla en Jak, haar man, as parallel-verhouding met dié van Milla en Agaat uit te speel. Alhoewel dit tussen die spel van man en vrou ook gaan om mag en interafhanklikheid, is daar binne hierdie verwantskap min sprake van genade. Milla manipuleer Jak om te kry wat sy wil hê deur hom te laat voel dat hy 'n ‘ware man’ is. Die vals spel kan egter nie volgehou word nie en eindig in ’n tragedie.

“’n Mens staan ná die lees van hierdie roman verstom dat een skrywer so ’n wye repertoire met soveel sukses kan hanteer. Nie net ken ons Van Niekerk as digter, kortverhaalskrywer en romanskrywer nie, maar nou ook as die skrywer van twee romans wat, as hulle mense sou wees, die een nie die ander sou kon gedoog nie. Indien jy as leser dus reeds jou opinie oor Van Niekerk vasgestel het, sou ek jou aanraai om aan te hou lees.”

Oor die invloed van Agaat op haar lewe laat Marlene haar in Die Burger van 13 Oktober 2007 as volg uit: “Ek dink die invloed van die skryf van Agaat op my lewe was maar soos die invloed op enige mens se lewe van enige groot projek wat binne ’n bepaalde tydsraamwerk en op standaard voltooi moet word. Ek het nooit iemand geken wat bruidskoeke gebak en versier het met nooienshaarvaring gemaak van versiersuiker nie. Dit ontroer my diep as ek sulke obsessiewe inspanning waarneem, veral as die projek ietwat pervers is. (...)

“Ek het baie by my ouers geleer oor opofferinge maak ter wille van ’n produk waarby jy jou naam wil sit. Die helfte daarvan is miskien ’n vorm van ydelheid. As mens nie oppas nie kan dit selfs ’n soort innerlike tirannie word. Die kuns is natuurlik om ’n balans te hou, kontak met die daglig, met ander mense, geliefdes, met jou omgewing. Op een stadium met die skryf van Agaat was al die gloeilampe in my huis geblaas, behalwe my werktafel s’n wat ek vervang het. En my yskas was vol groen wolwe. Drome het ek nie daarvan oorgehou nie, ’n rug wel.”

Agaat en die Engelse vertaling deur Michiel Heyns het met feitlik al wat literêre prys is, weggeloop. In 2005 is dit bekroon met die Universiteit van Johannesburg-prys en die WA Hofmeyr-prys. In 2007 word die Hertzog-prys, die CL Engelbrecht-prys vir Letterkunde en die Sunday Times Literary Award vir die Engelse vertaling deur toegeken. In 2008 ontvang dit ook die Helgaardt Steyn-prys (saam met Hermann Giliomee), en in 2009 Savi se toekenning vir voortreflike vertaling vir fiksie vir die Engelse vertaling. Heyns het ook die Sol Plaatje-toekenning vir Vertaling in 2008 gekry.

Die Engelse vertaling in Engeland, onder die titel The way of the women, was ook op die voorlopige lys van die Independent Booksellers’ Choice Award vir 2011. Hierdie toekenning, wat geborg word deur Melville House en die e-nuusbrief “Shelf Awareness”, word toegeken aan die beste boek van 2010 van ’n onafhanklike uitgewer soos gekies deur die personeel van die onafhanklike boekwinkels in Amerika. Dit is ook gelys as die beste boek van 2010 deur die Publisher’s Weekly en Booklist en was ook ’n finalis vir die beste vertaalde werk in Amerika – ’n toekenning wat deur amazon.com ondersteun word.

Vertaalregte vir Agaat is verkoop aan Gallimard in Frankryk, Neri Pozza in Italië, Querido in Nederland en Svante Weyler in Swede. Die filmregte is ook verkoop, aan Mutz-Media.

Die Amerikaanse vertaling is onder die Afrikaanse titel Agaat uitgegee. Marlene het in Amerika deelgeneem aan PEN se World Voices Festival of International Literature in New York City, waar sy die verhoog met die baie bekende Amerikaanse skrywer Toni Morrison gedeel het. Morrison se reaksie op Agaat was: “I was immediately mesmerised ... Its beauty matches its depth and her achievement is as brilliant as it is haunting.”

Marlene het haar bedankingswoord met die ontvangs van die Universiteit van Johannesburg-prys vir Agaat afgesluit met vrae wat meestal by leeskringe “in die Kolonie” aan haar oor die roman gestel word (Beeld, 20 Mei 2005). “Dis vir my makliker om op vrae te reageer as om self iets te begin sê oor die werk – en in ieder geval, as 'n mens 700 bladsye geskryf het, is dit seker alleen maar goeie maniere om verder te swyg. (...)

“Die eerste vraag is: Is dit waar? Man, Carike, ja en nee.

“Die tweede vraag: Hoe doen mens dit? Jy sit. Maar ernstig nou, hoe doen jy dit? Maklik, jy gaan sit en jy maak ’n aar oop.

“Die derde vraag: Hoe lank het dit jou gevat? Altesaam drie jaar, dag en nag.

“Die vierde vraag, effens agterdogtig: Wie is hierdie Milla nou eintlik? Antwoord: Moenie so vir my kyk nie.

“Die vyfde vraag kom meestal in ’n stortvloed: Het jy al ’n vark se tong met ’n tang uitgetrek om te sien of hy masels het, ’n tafeldoek geborduur, ’n baba of ’n man of die blou keiserskoenlapper gevang, ’n perd deur die pis gery, self doodgegaan? Nee. Nie een van bogenoemde nie, maar ek was wel op Grootvadersbos.

“Sesde vraag - ek twyfel of dit vir enigiemand hier sal sin maak. (Dit kom met ’n magtige dreuning, oor die veld kom dit wyd gesweef.) Dit kom van Dainfern se kant af bo-oor die plakkerskamp Diepsloot, en die mense wat daarvan weet en op hol is daaroor, is almal in die Wes-Kaap, en dit sê: Bepleit jy sistematies en onaflatend die selfopheffing, nee, meer nog, die selfvernietiging van die Afrikaner? Antwoord: Nee, ek klop veel eerder eierwitte vir meringue.

“Sewende vraag: Hoekom is Jack en Milla se kar-registrasienommer CAM? Dié van die Heidelberg-Swellendam-streek is CEG. Dis ’n fout.

“Agtste vraag – dis ’n dubbeldoorvraag, en dis dringend: Eerstens: Dink jy vroueboere, resolute postpost-feministe soos Agaat, kan die kontinent Afrika red? En tweedens: Bied Agaat ’n program vir verantwoordelike grondhervorming wat anders gaan wees as in Zimbabwe, waar onopgeleide mense die grond vat en die boerderye verinneweer? Eerstens: Nee, en ek wil glad nie ’n lid wees van Agaat se toekomstige kibboets op Grootmoedersdrift nie. Sy sal daar met ’n veel harder hand as haar eertydse meesters regeer, en sy sal sonder om twee keer te dink die hele lotjie gedienstig hou met vaaljapie, Bybelverse en karwats (en as dit haar pas, later met omkopery, die nasionalistiese leerstellinge van die Suid-Afrikarenaissance en gewapende magte). En dit sal ’n ramp van 'n roman wees om te skryf, asseblief. Wie moet dit vertel in elk geval? Agaat se maker is begrawe. Tweedens: Nee, Agaat is nie ’n program vir enigiets nie, dis ’n poging tot gestruktureerde dubbelsinnigheid. Moenie aanhou met my sukkel nie, meneer. U probleem is dat u die status van verwysing in fiksie verwar met die status van verwysing in die toesprake van politici. Of miskien is dit die uitsprake van die politici wat die verwarring veroorsaak.

“Negende vraag: So, is jy dalk Jakkie? Antwoord. Nee, ek dink nie ek is so ’n pyn in die gat nie. En, Stellenbosch, waar ek nog altyd woon, is ’n baie warmer plek as Toronto, en dáár luister die mense na Beethoven, nie na etniese musiek nie.

“Tiende vraag: Wat is die naam nou weer van daardie ding wat jy net onder die kortrib van ’n opgeblaasde bees insteek om die giftige luserngasse uit te laat? My pa het altyd gesê, as hy teruggekom het van ’n politieke vergadering in die kerksaal van Riviersonderend: ‘Ag, waar was my trokar, en waar was my kanule dat ek dié man van sy warm lug kon verlos.’ So die instrument is nie net vir opgeblaasde beeste nie, maar ook vir nasionaliste.

“Elfde vraag: Wat volgende ná Agaat? Miskien kortverhale onder die titel Die Verleiding van die Onskuldige Margarethe van Vliet deur die Misbruik van die Poësie en Ander Verhale.”

In die loop van 2005 het Adriaan van Zyl aan Marlene voorgestel dat hy en sy saam ’n boek moet maak: sy moet die teks ontwikkel wat sy reeks hospitaalskilderye kon vergesel. Die resultaat was Memorandum: roman met prente, in 2006 deur Human & Rousseau gepubliseer. “Ons het van die begin af vir mekaar gesê dat die effek van die geheel nie een van wedersydse illustrasie van teks en beelde moes wees nie,” vertel Marlene aan Gerrit Brand (Die Burger, 20 Desember 2006). “Teks by musiek het ek al ’n keer probeer, gedigte wat ek saam met my studente geskryf het op bestaande romantiese liedmelodieë, ’n oefening om ’n vers in ’n vaste vorm te skryf, en om binne die emosionele fokus van die musiek te bly.

“In die beste gevalle is die klavier­begeleiding by ’n lied selfstandig, dis nie net bypassende akkoorde nie, dis ’n belemmering sowel as ’n bemiddeling van die melodie, dit voed, verhul, ‘bestry’, eggo, en ‘verlang na’ die lied. Ideaal ­gesproke sou die Memorandum-teks só ’n soort begeleiding moes wees by die ‘lied’ van Adriaan se skilderye. Of dit op dié manier geslaag het, kan ek nie beoordeel nie, maar dit was vir my ’n organiserende idee.

“Die eerste aanset was om ’n hoofkarakter so op te stel dat hy een nag ’n gesprek oor ruimte en die etiek van argitektuur tussen twee ander karakters kan afluister in die hospitaal. Dis ’n cop-out, natuurlik, te eenvoudig, maar dikwels begin dit so eenvoudig. Toe begin ek te lees, want ek het nie al die kennis gehad wat X en Y moes hê ten einde meneer Wiid te verbyster nie. Die uitdaging was dus om uiteen­lopende dinge te integreer: om inligting oor te dra, om Wiid se navorsings- en skryfproses te laat sien, om die ontstaan van ’n vriendskap te wys, en almal se gevoelens rondom die dood te suggereer. My vriendin wat altyd weet waaroor ek skryf voor ek dit self weet, het gesê dit is ’n liefdesverhaal.”

Adriaan was deurentyd betrokke by die "maak"-proses van die boek en dit was vir Marlene ’n groot aanspraak. “Hy het veel meer vertroue gehad as ek dat ek die stuk opgelos sou kry, hy het alle weer­gawes gelees, elke keer terugvoer gegee. Ek kon nog die bladsyproewe met die skilderye vir hom deurblaai in die hospitaal. Hy het een keer toe hy reeds baie siek was iets ­belangriks vir my gesê: naamlik dat hy die soort skilder wil wees wat onthou wil word vir helder en ­volkome deursigtige oppervlaktes, en dat hy vertrou dat ek dieselfde soort skrywer wil wees.”

Adriaan was bekend om sy Namibiese landskappe, skryf Johan Myburg (Beeld, 28 November 2006). “Onbewoond, maar met die spore van mense. Of spore van lewe, minstens. Een of ander tyd was daar mense. Hulle het geboue, of murasies agtergelaat. Die werke wat in Memorandum gebruik is, het hierdie einste vreemde afwesigheid wat jou aan Antoine de Saint-Exupéry se Die klein prinsie laat dink. (...)

“Hospitaal as instelling met die oog op genesing is een van die aspekte waaraan Van Niekerk aandag gee in hierdie teks-en-skildery-boek. As boek laat Memorandum die leser ietwat oorbluf. Die formaat is anders as dié van ’n roman. Die Van Zyl-afdrukke – bra greinerig – sê dis nie ’n koffietafelboek nie.

“Maar slaan jou tande in die teks, en jy proe beleë Marlene van Niekerk. Johannes Frederikus Wiid maak notas van sy laaste besoek aan die Tygerberg-hospitaal. ’n Memorandum eerder, want die oogmerk is onthou. Puntenerig soos wat hy was as direkteur: stadsverfraaiing, -reiniging en -instandhouding van die Parow-munisipaliteit, is hy ook as pasiënt. Sy memorandum bestaan grootliks uit herinnerings – hy het immers ’n besondere onthouvermoë – van gesprekke van twee medepasiënte in die intensiewe sorgeenheid. (...)

“As ’n mens Van Niekerk se Agaat as ryklik geborduurde teks sou reken, sou jy Memorandum kon vergelyk met die vlegwerk van ’n wewersnes. Vernuftig vleg sy keurige taal, filosofiese konsepte, Bach se Passacaglia en oënskynlik geringe waarnemings. Vervlakking (soos in ‘landelike nostalgie’) is een van die sentrale motiewe in die boek; dat alles aljimmers eenvoudig en verteerbaar en boonop fraai moet wees. Maar sterker as die aanduiding van hierdie sieldodende vervlakking is die ontginning van die verwikkelde. (...)

“Vir die leser wat sy of haar termyn wil verleng, is daar ’n Memorandum om te lees en te herlees. Patryspoorte om deur te staar na ’n eindelose see van skilderye. Sinne om te lees en oor na te dink. ’n Sin soos: ‘Die dood word deur vandag se dokter gesien as ’n vorm van verbruikersweerstand.’

“Adriaan van Zyl is einde September dood ná weerstand van tien jaar.”

Hennie Aucamp (Die Burger, 13 November 2006) begin sy resensie deur ’n oorsig oor Adriaan van Zyl se skilderwerk te gee: “Die hospitaalstudies van Van Zyl vorm oënskynlik ’n onderafdeling van sy ­oeuvre, maar in werklikheid voer dit die stillewe-tema in sy werk tot die uiterste konsekwensie toe. Van sy vroegste ­‘stillewes’ is naby-opnames van ­begraafplaas-momente: ’n verroeste kruis wat ­omgeval het en in die sand lê, ’n melkerige stolp, die begraafplaas self, wit ­ommuur. Die stillewe is soms daadwerklik ’n nature morte in die skilderkuns, veral in die 17de eeu, met onder meer ’n skedel, die Bybel en ’n half uitgebrande kers, wat die kyker dan aan sy sterflikheid moet her­inner. In later eeue het die didaktiese komponent afgeskaal geraak, maar die stillewe op sy beste blý ’n metafisiese ­essay. Dis onmoontlik om oor Van Zyl se kuns te praat sonder om woorde soos ‘siel’ en ‘metafisies’ te gebruik.

“Die see word ’n weerkerende motief in sy kuns, opvallend in die volgende hospitaalstudies: Hospitaaltriptiek II, Hospitaaldiptiek I en Hospitaaldiptiek III. (...)
“Van Zyl se kuns is al ‘magies realisties’ genoem, ’n term uit die vorige eeu, en ook ‘superrealisties’, maar dié vlae dek nie die lading nie. Want Van Zyl se kuns werk dikwels bevreemdend in op die kyker, selfs beangstigend. Hy hou ons bewus van die Beduidende Ander, wat met God, pyn, siekte, die kosmos en verwante sake kan skakel.
“Hoe om die wêreld van Van Zyl in woorde op te roep ­sonder om prekerig te raak? Die geniale skryfster en kultuur­filosoof Van Niekerk het ’n oerou oplossing gekry, deur­aar van -ismes wat strek van die surrealisme tot die postmodernisme. Sy vertel ’n storie, en dié ­storie illustreer, nee, nee, nie illustreer nie, maar illumineer Van Zyl se skilderye, soos die hospitaal-studies van Van Zyl weer háár veelkantige en ­veelstemmige narratief illumineer.

“Van Niekerk bied ’n subjektiewe korrelaat vir die Van Zyl-skilderye in Memo­randum, met haar opvang van Van Zyl-temas en motiewe, soos begraafplase, stolpe, kruise en so meer, maar waar afwesigheid ’n durende ­teenwoordigheid is in Van Zyl se werk in Memorandum, word dood ’n lewende werklikheid by Van Niekerk, hoe paradoksaal hierdie stelling ook al kan klink.

“Van Niekerk se hoofkarakter is ’n stadsbeplanner wat aan kolonkanker sterf, en soveel lewe moontlik – nuwe kennis­terreine, nuwe gedagtes, nuwe drome – wil inpers in sy laaste dae. Soos ’n skilder kyk hy dinge in hul dinglikheid aan, en skryf in sy memorandum: ‘Is dit waarvan die digters praat as hulle sê dat betekenis in dinge huis?’ Maar Wiid – dis nou die ­stadsbeplanner – grawe hom nog verder in die wêreld van die skilderkuns in. Hy praat van die oog wat vatbaar is vir illusie, en sien passie as ’n sug na vergetelheid. (...)

Memorandum teer op debat en gesprek. Naas die vanselfsprekende spanning ­tussen Van Niekerk en Van Zyl se ‘tekste’ – en dié van Van Zyl moet net so ­presies gelees word as dié van Van Niekerk – is daar die spanning tussen hoofteks en voetnote. Lesers wat die voetnote wil oorslaan, gaan ’n hele dinamika ­prysgee. Eweneens moet ‘Addendum I’ toegewyd gelees word, want ook hiermee word ’n verhaal aangebied, met die ­volgende kolomme: Plek, Handeling, Agent, Uitkoms Positief, Uitkoms Negatief. (...)

“Van Niekerk is ’n improviseerder sonder weerga in die Afrikaanse letterkunde, en sy gebruik, om Wiid aan te haal, ­’naslaanwerke soos sy ma resepteboeke gebruik het, net vir idees ... ” Sy is by uitstek die soort skrywer van wie ­Anthony Mertens sê: ‘De moderne schrijver is een operateur geworden die, wat hij gelezen heeft, opnieuw arrangeert in zijn eigen werk.’

“Nou is dit juis Van Niekerk se spel met idees wat sorg dat Memorandum nie ’n swaartillende boek word nie. Daar is ­humor, sy dit galgehumor, soos waar ’n verpleegster die twee terminaalpasiënte, X en Y, ‘stand up comedians’ noem. (En staan kan hulle nie staan nie.) Memorandum is sterwensbegeleiding op die allerhoogste poëtiese plan. Dit sal, in watter taal of kultuur ook, onmiddellik as ’n literêre klassiek geëien word. Die publikasie van Memorandum is ’n triomf vir Human & Rousseau. Uiteindelik weer ’n Afrikaanse boek sonder setfoute.”

Hoe kies sy die plekke waar haar verhale gesitueer is? wou Gerrit Brand van Marlene weet.

“Dis maar hoe die dobbeltjie val. Die plekke rol agter die karakters en die issues aan, of andersom.”

Brand wou verder weet of sy aan hom kan verduidelik hoekom haar romans nie net in Suid-Afrika nie, maar ook oor landsgrense heen so gewild is, terwyl dit so onlosmaaklik aan plaaslike bodem verbind is. “Sommige lesers sê dit is juis die veelheid plaaslike detail wat hulle interesseer. Ander sê weer dit is die psigologie van die karakters wat hulle boei. ’n Buitelandse leser verklaar dat sy my boeke lees omdat hulle so weird is. Ek hou dáárvan. Die dag as ek ’n unweird boek skryf, is ek in die moeilikheid. My werk behoort volgens my nog veel weirder en queer-der te wees as wat dit is.”

Marlene se volgende werk, Die sneeuslaper, het ontstaan nadat sy deur die Universiteit van Utrecht genader is om ’n reeks essays oor die romankuns te skryf. Vir haar het dit baie eentonig geklink en sy het voorgestel dat sy eerder met fiksie die probleme van die "narratiewe vorm" sou uitbeeld. Die produk was die vier verhale “Die swanefluisteraar – ’n intreerede”, “Die slagwerker – ’n grafrede”, “Die sneeuslaper – ’n veldwerkverslag” en “Die vriend – ’n lesing”, waarin skryfkuns en die rol van die skrywer ondersoek word.
In gesprek met Gerrit Olivier by die bekendstelling van Die sneeuslaper het Marlene vertel dat die universiteitskomitee egter laat weet het dat hulle nie die verband sien tussen dit wat sy geskryf het en die opdrag nie. En dit is hoe dit gebeur het dat dit in Suid-Afrika deur NB-uitgewers uitgegee is.

Marlene het verder aan Olivier vertel: "In elk van die verhale staan ’n vertelsituasie sentraal: ’n lesing, ’n grafrede, ’n antropologiese verslag en nog ’n lesing. Die motivering van die persoon wat die stories vertel, kom telkens ter sprake. Hoekom, vir wie en hoe word die storie vertel? Met hierdie verhale wil ek vra: 'Watter rol is daar nog vir die skrywer? Is dit om as argivaris van sosiale probleme en die nasionale lot op te tree? Of is dit bloot ’n narsissistiese strewe om ’n verskeidenheid lewens deur karakters te leef?

"Die skrywer word in al die verhale as ’n voyeur voorgestel. Om ’n skrywer te wees is om gedurig te loer,” het van Niekerk gesê. “Dis ’n verskriklike siekte om aan te ly. Dit is letterlik van loer deur ’n gat in ’n hek dat ek baie materiaal gekry het om in Triomf te gebruik."

Olivier wou weet hoe maak ’n skrywer nog oorspronklike fiksie. "’n Mens moet ’n gat oopsteek na die onderbewuste, want dit is gewoonlik toe onder kamstige wyshede en kategorieë. Improvisasie is ’n manier waarop hierdie onderbewuste ontgin word. Dit gebeur as mense die vryheid het om saam met mekaar te speel en mekaar te vind. Dit skep die moontlikheid om ontdekkend te skep sonder bande.

In die vier stories is daar verwysings na dakloses, verdwaaldes en haweloses. Olivier het Marlene hierna uitgevra. "Dit dui in ’n mate op die terugkeer na die naakte mens, sonder die bemoeienis van ’n selfoon, glanstydskrifte en dies meer. Dit is waar die oorsprong van oorspronklike verhale te vinde is.

"Dit is waarom ek my deesdae al hoe meer tot poësie wend. Gedigte is in staat om konsepte af te breek,” het sy gesê, en: “Dit (konsepte) is eintlik onsin. Ek weet nie waarom ons dit gekry het nie. Wanneer ek gedigte skryf, kan ek gesellig blind wees en net agter die klank aan skryf.”

Marlene het gemeen Die sneeuslaper kan moontlik haar laaste prosawerk wees, maar met daardie stelling het Olivier nie saamgestem nie.

Nadat Marius Crous (Beeld, 22 November 2010) Die sneeuslaper gelees het, kon hy verstaan waarom Marlene soveel bewondering afdwing. "Nie net is haar karakters enigmaties en buite die norm nie, maar sy bied haar tekste aan in ’n meevoerende, digterlike Afrikaans wat na aan sy Nederlandse oerwortels geleë is. Nes Stockenström skryf Van Niekerk genuanseerde, poëtiese prosa.

Die sneeuslaper is Van Niekerk, professor in kreatiewe skryfkunde, se kunsteoretiese besinning. Dit is haar ars poetica. Dit vertel hoe die skrywer sy onderwerp moet benader; hoe hy gierig alles moet waarneem en inneem – en opteken. Hoe die skrywer moet wegkom van ’n selfbehepte obsessie en hom moet indink in die lyf van die tassevrou of die sneeuslaper of die man wat met die swane praat.

“Skryf is ook vertolking van die onvervulde. So hou Willem in ‘Die slagwerker’ die blonde jonge van oorkant soos ’n wetenskaplike navorser dop en wanneer die afloerdery ten einde loop, troos hy homself deur ’n verhaal te versin.

“Die skeppende gees is egter ook uitgelewer aan sy karakters. Hulle neem ’n lewe van hul eie aan en manipuleer die arme skrywer. Die vraag wat deurentyd gevra kan word, is: Wie manipuleer die lokglas? Is dit die skrywer of die karakters wie se beelde gekaats word in die glas?

“Die viertal verhale speel in op mekaar en net soos by JM Coetzee, vir wie Van Niekerk al etlike keer haar bewondering uitgespreek het, het ons hier ’n besinnende filosoof aan die vertel. Die volgehoue spel met feit en fiksie is vernuftig sodat die leser later selfs die universiteit wil bel en sê: Bestaan Kasper regtig? Of gaan google vir die fotograaf of die klokmaker. Want hier is Van Niekerk ’n meester. Terug by die lewerikspieël – sy draai en kaats daai spieëltjies so dat die leser later nie weet wat hy kan glo nie.

“Hierdie bundel speel ook in op Van Niekerk se oeuvre. Daar is die fyn waarneming van die voëls soos in Die vrou wat haar verkyker vergeet het (terloops, hoekom word dié boek nie herdruk nie?). Daar is die saaklike memorandumstyl van Memorandum en daar is die skerp kritiek op die eietydse, Suid-Afrikaanse, politieke chaos soos in haar onlangse verse, want soos die verteller in ‘Die vriend’ opmerk: ‘Politiek is muurpapier’ (bl 167). Die muurpapiergegewe vat ons weer terug na die agterstraatfilosoof Treppie in Triomf. (...)

“Deurlopend word in die vier verhale nagedink oor die vraag: Wat is die nut van die letterkunde, die waarde daarvan op die groot doek van menslike inspanninge? (bl 9). Die verhale word briewe aan ’n jong skrywer: dit dokumenteer, getuig, wees die gewete van wat om jou aangaan, maar doen dit op so ’n wyse dat dit nie ontaard in gebruiksaanwysings nie.”

Cilliers van den Berg, Volksblad (23 November 2010) se resensent van Die sneeuslaper, het geskryf: “Die sneeuslaper is ’n bundel van vier verhale, oftewel (soos wat dit die leser aangebied word) ’n intreerede, ’n grafrede, ’n veldwerkverslag en ’n lesing, wat telkens weer op kreatiewe, speelse en soms komplekse wyse op mekaar inspeel. Die verskillende generiese aanduidings ten spyt, is die belangrikste onderliggende motief en gemeenskaplike tema van die verhale die vraag na wat dit beteken om te skryf, wat die rol van stories is. (...)

“Wat poëtiese beskrywings soos hierdie egter kwalifiseer, is die wyse hoe die skeppingsproses soms op byna ironiese wyse ontluister word: In ‘Die slagwerker’ blyk die skrywer se verhaal eerder die kreatiewe reaksie op ’n verbeelde verlies of afwesigheid te wees, soos wat ook die verloopte student in ‘Die swanefluisteraar’ betekenis projekteer op ’n boemelaar wat in ’n latere verhaal glad nie inpas by die skrywer se inskatting van sy persoon nie. Maar in plaas daarvan dat Van Niekerk deur hierdie tegniek die betekenis en waarde van kuns en die skeppingsproses relativeer, dra dit myns insiens juis by om die volle spektrum daarvan te vier: van die terapeutiese waarde van kunsskepping tot by die denkbeeldige eksistensiële probleme waarmee dit dikwels gepaardgaan. Laasgenoemde word nie ’n poging om eersgenoemde belaglik te maak nie, maar eerder die dinamiese waarde vir die skeppingsproses te verwoord.

“Verwoord is hier belangrik, omdat ’n ander belangrike motief wat in die verhale betrek word, juis te make het met die ‘materialiteit’ van woorde. Wat hiermee bedoel word, is die haas sintuiglike ervaring van taal, anderkant net die semantiese betekenis van die woorde. En dit is juis hier waar die letterkunde natuurlik ’n belangrike rol speel, want dit is hier waar die impak van woorde nie beperk word tot die betekenis daarvan nie, maar dit eerder ’n byna tasbare medium vir belewenis word. Die eerste verhaal in die bundel word opgedra aan ’n student: ‘die een van wie ek alles geleer het wat ’n skrywer moet wéés, wat, let wel, iets anders is as wat ’n skrywer moet skrýf’ (p 42).

Die sneeuslaper in geheel word ook ’n appèl vir die waarde van taal wat strek verby net die mededeling van feite. Taal is kommunikasie, maar tog ook meer as dit: Dit kan ook die mediëring van belewenis wees.

“Maar nie net is die fokus op die aard van taal nie, daar word in die teks ook gereflekteer oor die aard van stories – dus ’n self-refleksie wat sy spieëlbeeld verder vind in hoe die einste verhale van Die sneeuslaper gekonstrueer is, maar veral hoe die dele van die geheel mekaar wederkerend weerspieël, herhaal, relativeer en as geheel na mekaar verwys. (...)
“Tog kry Van Niekerk dit reg om nooit die balans tussen die onderhoudende vertellings, wat dikwels gewoon pragtige prosa-passasies bevat, te versteur met besinnings oor verteltegniese aspekte nie. Want sy kan roerend skryf – en die vernuf waarmee sy hierdie vermoë kombineer met skerpsinnige insig in die intrigerende mag van woorde en die wonder van die skeppingsproses is bewonderenswaardig.

“Om terug te keer na die vraag: Wie en wat is ’n sneeuslaper? Ek gaan my nie verstout om die antwoord weg te gee nie: Gaan lees hierdie teks en vind self uit. Dit is ’n pragtige Afrikaanse boek.”

In 2007 is Marlene benoem tot hoogleraar van die Afrika-leerstoel aan die Fakulteit van Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Utrecht in Nederland. (Die leerstoel word tussen gesaghebbende akademici of literatore van die universiteite van Kaapstad, Stellenbosch, Wes-Kaapland, Pretoria en Rhodes geroteer.) Marlene se leeropdrag was die posisie van die roman en die romanskrywer in postapartheid Suid-Afrika. Haar intreerede was getiteld “The fellow traveller (a true story)”. Daarnaas het sy ’n openbare lesing aangebied vir die Fakulteit Geesteswetenskappe en ’n meestersklas van vier middae vir nagraadse studente aan die plaaslike Onderzoekinstituut voor Geschiedenis en Cultuur. Sy het die leerstoel vanaf 1 November 2007 tot Maart 2008 beklee.

In 2009 is Marlene genooi om van begin September tot einde November as gasskrywer aan die Universiteit van Leiden vir 2009 tot 2010 op te tree. Sy sou lesings aanbied in kreatiewe skryfwerk en ook die jaarlikse Albert Verwey-lesing in Leiden se Groot Ouditorium lewer waarin sy haar mening sou gee oor ’n bepaalde aspek van of stroming in die literatuur. Ná Etienne van Heerden was Marlene die tweede Suid-Afrikaner wat hierdie uitnodiging aanvaar het.

’n Ander Nederlandse universiteit, die Universiteit van Tilburg, het in 2009 ’n eredoktorsgraad aan Marlene toegeken en ’n kongres oor haar werk aangebied. Dié eregraad is vir haar hele oeuvre toegeken en die kongres se tema was De klank van het fragiele. Onder die sprekers was Geert Buelens, Jaap Goedegebuure en Luc Reynders. Daar was ook ’n tweegesprek tussen Marlene en Odile Heynders.

Marlene het ook begin met vertalings van gedigte uit ander tale. So het sy al Seamus Heaney se “The Harvest Bow” vertaal en van Osip Mandelstam se gedigte vertaal/verwerk.
In 2010 wend sy haar vir die eerste keer sedert haar studentejare weer na die skryf van ’n drama. Die kortstondige raklewe van Anastasia W is in 2010 onder die vaandel van TEATERteater by Aardklop op die planke gebring en daarna, in 2011, by die KKNK en die HB Thom-teater op Stellenbosch.

Die regie van hierdie vlymskerp satire van Marlene is deur Marthinus Basson gedoen en is vir tien Fiësta-toekennings benoem. Die hoofrolle is gespeel deur Nicol Holm, Eben Genis, Dean Balie en Marlo Minnaar. Mr Cat and the Jackal (met Gertjie Besselsen en Jacques du Plessis) en die komponis Braam du Toit was verantwoordelik vir die musiek, met animasie deur die kunstenaar Colijn Strydom. Tydens Aardklop is die stuk bekroon met die gesogte Aardvarkprys vir musiekregie en die AngloGold Ashanti Smeltkroes-toekenning vir ’n nuwe teks.

Op die Universiteit Stellenbosch se blog beskryf Marlene die drama as "musiekteater met ’n tikkie van die absurde, ’n dwarsklap swart humor en ’n gesonde porsie sosiale kommentaar". Die vervaardigers beskryf dit as ’n “kabaret-opera gedoente wat die heilige koeie van politieke korrektheid slag en wat op die tone van die onaantasbare polities bemagtigdes trap. Dit neem die geweld en misdaad in Suid-Afrika onder die loep, en ondersoek terselfdertyd ook die weerloosheid van die mens. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 18 vir seks, taal, diviniteit en geweld. Ouerbegeleiding word aanbeveel."

Deborah Steinmair (Die Burger, 1 Oktober 2010) beskryf die stuk as volg: “Die kortstondige raklewe van Anastasia W gaan jou helder oordag omvergooi. Marlene van Niekerk se stuk is ’n natuurwonder, dit stoom sonder wankeling voort, laat geen steen of heilige koei onaangeraak nie. Die diggeweefde teks het eggo’s van Paul Celan, Breyten Breytenbach, Pieter-Dirk Uys, Reza de Wet, Ingrid Jonker, WB Yeats, Karel Schoeman – om maar ’n paar te noem.

“Sus (Nicole Holm) en Daan ( Eben Genis) is Afrikaner-argetipes. Sy is tegelyk sterk, dominerend en pateties met haar babelas en opinies, hy sing hoog en suiwer soos die dorpsidioot, besig vaag-Germaanse Dada-taal soos in Breyten se mooiste verse, ween oor die vernielde kutte en siele van vermoorde kinders, strek sy arms wyd soos Christus en lê gebroke in sy suster se skoot soos ’n Piëta. Hulle is dinosouriërs, koloniste wat nie padgegee het terwyl hulle kon nie. Hulle is begrafnisondernemers wat die land fynkam vir vernielde lyke, soos die lykie van Anastasia W wat deur haar ma se minnaar verkrag, vermoor en op die plafon weggegooi is. Die name van verkragte en vermoorde kinders word deurgaans soos gebedekrale afgetel.

“In diens van Sus en Daan is Savage en Lovemore, ’n nuwer, taaier spesie wat geleer oorleef het tussen die naatlose oorgang van een onderdrukker na ’n ander wat demokrasie genoem word (kollektiewe narsisme). Hulle het ’n oog op die bal, sien ’n plan, pluk die dag, konkel en lewer kommentaar. Marlo Minnaar en Dean Balie skitter as dié opportunistiese duo.

Anastasia is musiekteater. Die galgehumor, bloedskandelike erotiek en verset word gedra deur die komponis Braam du Toit se skrynende, madrigaal-agtige lamente en die woedende rock-klanke van Mr Cat and the Jackal. Dis teater wat die vinger in die wond steek. Dit laat ’n afgestompte samelewing ineenkrimp en warm trane drup. Daan eggo Celan se Schwarze Milch wanneer hy treur: ‘’n Man woon in die huis hy speel met ’n bal hy wys hy wys as dit demmert in Afrika, jou heerlike dye Lerato jou kinderdosie klein An, grube ’n kindergrufte daar lê mens hundert boven mekaar.’

“’n Hoogtepunt is Holm se voorlees van Sus se brief aan Suid-Afrika. Tussendeur straf sy Daan se passiewe agterstewe ritmies met ’n peits: ‘Suid-Afrika, ek wil jou renaissance’e en jou ontwakings, jou simpel mannetjiesmites en monumente, inruil vir albasters, traanhelder ghoens op jou verwaarloosde skoolgrond: weerloosheid, dankbaarheid, sorgsaamheid, vrede, ’n soewereiniteit gesetel in die vinding en maak van skone dinge.’

“Dis ’n wipwaentjierit deur ’n lykhuis, deur die hartkamers van regisseur Marthinus Basson en die skrywer Van Niekerk. Moenie wegbly nie.”

In Rapport van 12 April 2011 skryf Jan-Jan Joubert dat Marlene in hierdie drama weer eens haar ongelooflike gebruik van die taal tentoonstel tot voordeel van die drama. “In Die kortstondige raklewe van Anastasia W gaan haal sy die Afrikaanse literêre tradisie by sy wortels. Sy koppel dit aan die Duitse, Engelse, Nederlandse en Afrikaanse letterkundige erfenis met ’n inspanninglose en speelse, gemaklike noodwendigheid wat jou telkens dankbaar stem dat hierdie groot kunstenaar in ons midde kies om in Afrikaans te werk.

“Haar verwysingsraamwerk is ontsaglik en sy kanaliseer dit tot iets universeel, vermaaklik en hartverskeurend – die wese van verhoogkuns.

“Een van die groot plesiere van hierdie swart komedie is trouens die soms ontroerende, skalkse en selfs skurwe wyse waarop met ’n veelheid uiteenlopende ander tekste geskakel word. Neem byvoorbeeld net die naam van die twee hoofkarakters – Sus en Daan – wat onmiddellik beelde oproep van ’n onskuldige kindertyd met ’n leesboek in die hand. Teenoor Sus en Daan staan Savage en Lovemore wat met hul gevatte ‘Kaapse Afrikaans’ die gehoor dwing om ernstig na te dink oor die vooropgestelde idees wat ons het oor die soms so snaakse straattaal van die Kaapse Vlakte en dit te stel teenoor die liederlike geweld wat dikwels daarmee saamgaan.”

Joubert skryf ook dat Marlene dit in hierdie drama regkry om ’n totale kultuurerfenis te gebruik om protes aan te teken teen die "aanslae van die brutaliteit". “Maar dan doen die produksie soveel meer as wat protesteater gewoonlik gedoen het om die veelheid protesmoontlikhede wat teater bied verder te ontgin. Mense wat geskok word deur (baie sterk) gekruide Straatafrikaans moet miskien maar wegbly van die stuk, maar ’n mens kan nie daaraan ontsnap dat die taalgebruik in die drama juis ’n manier word om téén brutaliteit te protesteer nie.

“As die taalgebruik jou affronteer, is dit uiteindelik net ’n teregwysing: Dit kan slegs beteken dat jy totaal uit voeling is met die alledaagse vergrype waarteen die drama dit het. Daar is ook ’n mening dat daar niks verlossend of hoopgewend aan die stuk is nie. Daarvan verskil ek. Die hoop lê juis in die gehalte van die kulturele protes. As ’n mens teen die grusame barbaarsheid van geweld teen kinders wil protesteer, is dit nodig om reguit te praat, hoe moeilik dit ook is.

“Die verskil tussen Van Niekerk se protes en die ou, sat protesteater van weleer is egter dat sy al die kartetse in die teaterarsenaal in haar aanval gebruik. Kom ons kyk na net twee hiervan: oordaad en musiek.

“Die regisseur Marthinus Basson slaag uitmuntend daarin om oordaad te gebruik om by tye universeel herkenbare karikature te maak van karakters, soms ter versagting van die brutale gegewens. Sus stap byvoorbeeld met ’n lawwe eendstappie, ’n silly walk wat al hoe patetieser word hoe meer pateties en uitsigloos haar lewe word.

“Dan die musiek: Dis deurgaans ’n belewenis, met Savage en Lovemore se politieke protes-kletsrym ’n vroeë hoogtepunt. Maar die hoogtepunt is die wyse waarop musiek – en veral Afrikaanse metal – teen die einde van die stuk aangewend word om aan die stuk ’n verdere protesdimensie te verleen op ’n manier wat sterk herinner aan die Voëlvrybeweging van die laat 1980’s. Voor in dié koor sing die gatskop-groep Mr Cat and the Jackal. Dit is die suiwerste, helderste, kwaadste politieke protesmusiek in Afrikaans die afgelope 20 jaar. Dis anargisties. Dis rou. Dis eerlik. Dit laat jou bloed bruis; dan stol. Dis hoekom mense musiek maak.

“Elke nou en dan gebeur iets op ’n verhoog of in ’n taal wat grondverskuiwend is en ’n mens werklik opgewonde maak: wanneer taal, teater, boodskap en musiek saamvloei tot iets wat ’n lewe van sy eie kry. Hierdie is so ’n geval. Span in die donkiekar, bedel geld vir ’n treinkaartjie, klim in die motor of stap na die teater. Hierdie stuk sal jou nog bitter lank bybly.”

Tydens die opvoerings by die KKNK het van die gehoor binne vyf minute na die aanvang van die stuk uitgeloop. Die resensent L Pople (Die Burger, 6 April 2011) het geskryf dat die teatergangers se "avontuurlus hulle begewe het. Die mense het uitgestroom en in die eindtonele het een van die akteurs hulle goedig by die deur uitgewuif. Vir dié wat volhard het," sê Pople, "was daar net die belofte van iets werklikwaar groot.” Die stuk was volgens haar ’n halfuur te lank en tekenend van ’n regisseur wat nie ankers kon gooi nie.

“Daar was talle suiwer ­oomblikke waarin Ingrid Jonker se ­gedig ‘Die kind’ met ’n eietydse inspeling vertolk deur Mr Cat and the Jackal, die oorblywende gehoor grafstil gelaat het. Die lied is ’n loeiende wekroep aan Suid-Afrikaners. Genis se vertolking sal nog lank by my tier. Anastasia W herinner aan Piekniek by Dingaan en die rou protesteater van die jare 80 in die Markteater.

“Dit is ’n siedende en soms geluidlose versetkreet oor die geweld in ons land. Kinders wat vermoor, gemartel en afgemaai word, se naam, ouderdom en oorsaak van hul dood word uitgeroep soos ’n makabere koortjie. Alles speel teen die euforiese opbou na die Wêreldbeker-sokkertoernooi en Suid-Afrika se afgly na magsmisbruik en korrupsie. Die vrae wat hier opkom, is hoekom die gewone burgers van Suid-Afrika nie elke dag woedend opstaan nie? Hoekom is ons, met al ons mense­regte nou in plek, dan so papsakkig?”

Marlene se jongste gedigte is op Versindaba se webwerf te sien. Melt Myburgh (Volksblad, 11 Januarie 2011) meen dat haar "bliksemstraaltalent deur hierdie gedigte bevestig word. Benewens haar fenomenale beeldingsvermoë word lesers meegevoer deur ’n eerlike digterskap waarin sy nie doekies omdraai oor ontnugtering met maatskaplike kwessies nie; waar die banale vervleg word met die heilige; nostalgie met filosofie."

Myburgh eindig: “Mag sy hier dieselfde waardering ontvang as in die res van die wêreld wanneer haar derde digbundel die lig sien.”
Murray la Vita wou in ’n onderhoud (Die Burger, 17 Julie 2007) by Marlene weet of ’n mens iemand kan leer skryf. Marlene antwoord: “Vir die skryf van ’n roman word intensiewe navorsing oor vreemde onderwerpe verwag, vermoëns tot abstraksie en integrasie, tot konkretisering en dramatisering moet ontwikkel word. Maar selfs as jy al die verteltegnieke geleer het, is daar tog nog etlike faktore X, noem dit ‘oorspronklikheid’, ’n uitdagende visie, ’n eie stem, ’n onverskrokkenheid met taal, ’n vereenselwiging met jou karakters, en ek weet nie of mens dít vir mense kan leer nie.”

Oor hoe sy haar skryfwerk kombineer met haar werk aan die Universiteit Stellenbosch kan sy nie die universiteit se rol in haar sukses genoeg beklemtoon nie: “Van die hele Agaat en ook van Memorandum sou heeltemal niks tereggekom het as dit nie was vir die ruime ondersteuning van die Universiteit Stellenbosch nie. Hulle het my lang periodes van die kantoor verskoon sodat ek tuis kon skryf; hulle het vir my ’n slim assistent en mededosent, die skrywer en dramaturg Willem Anker, gegee om my te help met die MA-kursus in skeppende skryfkunde, hulle het my grotendeels vrygestel van voorgraadse doseerwerk.

“As ’n departement en ’n fakulteit en ’n universiteitsbestuur ’n mens op so ’n gulle wyse ondersteun, dan is dit ’n kwessie van eer om hulle investering vir hulle die moeite werd te probeer maak. Ek hoop dat ek in ’n mate daarin kon slaag. Ek hoop dat ek dit weer sal kan regkry. Die universiteit het onlangs ’n baanbrekende inisiatief van stapel gestuur, en dit is om skeppende kunstenaars te ondersteun met subsidie, ten einde die kunste se pariteit met gewone akademiese navorsing te verhoog. Vir ’n gewone navorsingsartikel in ’n geakkrediteerde tydskrif kry die universiteit naamlik R80 000 subsidie van die departement van onderwys, waarvan die outeur R8 000 kry vir verdere navorsing.

“Vir kunste-uitsette kry die universiteit niks. Die volgende stap is om die onderwysdepartement te oortuig dat kunste-uitsette subsidie werd is. Mens hoop nie dit sal wees soos om ’n kat van saffraan te probeer vertel nie. Mens sal vir hulle moet aanneemlik maak dat akademici baie navorsingsartikels kan skryf oor komposisies of skilderye. En wel omdat laasgenoemde self navorsing en teorie bevat.”

La Vita wou ook weet of sy ’n aktivis is. Marlene se reaksie: “Ek droom oor hoe ek daardie sektariese bende gaan terugkry wat glo onlangs voor die kantoordeur van ’n dosent op Stellenbosch gaan sit het om vir hom te bid omdat hy gay is. Miskien sou mens moet terugbid in rymende koeplette, met die begeleiding van veertig kazo’s plus ’n keteltrom. Godsdienstige fundamentalisme het baie te doen met ’n waarneembare soort dumb­ing down van studente op ons kampus. Wat interessant sou wees, is om uit te vind hoeveel van hierdie sektelede ook De la Rey-singers is.”

Sy vertel verder dat sy haar vererg vir “die stemtoon, die retoriek, die liggaamshouding (veral van die nek in die hempskraag), die oorsprongsmites, die leierverering, die volgsaamheid, die hand op die hart, die vreemdelinghaat, die gebrek aan ironie, die burokratiese stompsin wat gepaard gaan met alle etnies eksklusiewe en rassistiese nasionalisme, wit of swart, of met enige totalitêre tipe bestel.

“Is daar iets soos ’n aantreklike nasionalisme? Miskien, waar ’n groep se soewereiniteitsgevoel nie uitsluitlik afhang van oorheersing oor ander of die besit van territorium nie, maar van die versigtige instandhouding van ’n ingeligte, verantwoordelike en kritiese openbare domein, van wetenskaplike en artistieke verworwenhede, van groot altruïstiese dade, ’n kultuur van verdraagsaamheid, selfondersoek, speelsheid, selfrelativering en humor, ’n sterk ekologiese bewussyn en praktyke, ’n onverskrokke, queer intellektualiteit, ’n afkeer van vertoon, snobisme en verbruik, ’n respek vir prosesse van hibridisering en die musiek van kreolisering, ’n vermyding van essensialismes, ’n sagte kommunikatiewe universalisme op die markplein. Die ander ding waarvoor ek my vererg, is die verpakking van tandeflos, ek kry dit nie oop nie.”

’n Mens kry die indruk, sê La Vita aan Marlene, dat you do not suffer fools gladly.

“As ’n mens daarin kan slaag om jou eerste geïrriteerde reaksie op ’n fool om te buig in aandagtige waarneming, is daar geen beter materiaal vir fiksie nie. Maar om goeie fiksie te skryf en seker ook om ordentlik te lewe, sou mens veral nuuskierige ironiese medelye moet aankweek met jou eie dwaasheid. Elisabeth Eybers en Wilma Stockenström kry daardie lugtige afstandelike maar meewarig medelydende en selfspottende toon veel beter reg in hulle werk as die meeste van die groot manlike digters in Afrikaans.

“Ingrid Gouws (Winterbach) is nog ’n voorbeeld van wat ek bedoel met daardie soort humoristiese sofistikasie van die siel; sy verwek ’n komplekse soort chuckle by die leser, ’n tere verkneukeling, wat uniek is in ons letterkunde; onthou maar daardie konstabel met die ronde dye, daardie nefie wat so minsaam op sy ‘s’ val in die begrafnisstoet ... Hierdie soort stemme is ons toeverlaat.”

room sy dalk van 'n plasie iewers?

“Natuurlik het ’n mens so ’n droompie in jou kop, maar dit is maar ’n droompie. Huisje, boompje, beestje. Dan eerder ’n seilbootjie en ’n woonstel in Kalkbaai – en natuurlik die kans om voltyds te skryf. In Afrikaans, want nadat ek ’n boek wat ek in Engels probeer skryf het, halfpad laat vaar het, weet ek taal sit veel meer ín jou as wat jy jou kan verbeel."

“As ’n mens dít eers agtergekom het, hoef jy nie ’n heilige respek daarvoor te hê nie, dan kan jy in die taal gaan ról en dit met vrymoedigheid aan die woedende storms van die tye blootstel. Ek lees nou die dagboek van Simon van der Stel en ’n mens kan daar al sien hoe die nuwe bossies en plante en riete en diere en voëls wat beskryf moet word, die tong aan die wankel bring. Ek sou sê ag, asseblief, as jy ’n tong het, hoekom sal jy hom nie laat wankel nie? Mense wat bang is daarvoor, of allerhande brullende geluide wil maak met ystertonge, ysterklépels, kyk nie goed na hulself in die spieël nie.”

In 2011 ontvang Marlene die Orde van Ikhamanga (silwer) vir haar besondere intellektuele bydrae tot die literêre kuns en poësie. Ook het Pansalb haar in 2011 vereer deur die toekenning van die Pansalb Veeltaligheidstoekenning vir Afrikaanse letterkunde en vir die bevordering van Afrikaans.

Dertig jaar ná die publikasie van Groenstaar in 1983 word Marlene se volgende bundel, Kaar, in 2013 gepubliseer. En dit is ’n onmiddellike treffer. Dit word met drie pryse bekroon: die Hertzogprys vir poësie in 2014, die eerste Elisabeth Eybers-prys vir digkuns in Engels of Afrikaans 2014 en die UJ-prys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans 2014.

Oor die lang digterlike stilswye van haar kant af verduidelik Marlene aan Louis Esterhuizen (Rapport, 7 April 2014) dat daar etlike faktore was wat ’n rol daarin gespeel het. "Ek was lank beset deur die probleme van die roman, maar het opgelet dat die prosa wat ek geskryf het steeds meer gekonsentreerd begin raak het, en ek het weer gedigte begin skryf. En toe het ’n 'toestandverandering' as ’t ware vanself opgetree. Maar na my gevoel was dit nie ’n verskynsel uit die bloute nie. Daar was vanaf Die vrou wat haar verkyker vergeet het kleiner en groter stukke poësie ingeneem in die prosa wat nie formeel as poësie aangebied is nie, maar wel oorspronklik in versreëls geskryf is en weer teruggeplaas is in prosavorm, en daar was omgekeerd etlike prosagedigte in Kaar wat ek tydens die laaste en voorlaaste redigering van die manuskrip uitgegooi het toe ek omtrent 40 gedigte, meer as 20 000 woorde, uitgesny het. Ná elke redigering het ek gewag en gewerk en weer gewag, en talle en talle hersienings en herseleksies en herrangskikkings gedoen voordat die manuskrip van Kaar na my gevoel min of meer ’n ekwilibrium bereik het. In totaal het dit ses jaar geduur voordat ek die moed gehad het om weer ’n worp te waag."

Oor die buitengewoon goeie ontvangs van Kaar wat betref die pryse en die goeie resensies van kritici en mededigters was Marlene se reaksie teenoor Esterhuizen: "Daar was in die laaste dekades ’n ware opbloei in die Afrikaanse poësie en die veld het digbevolk geraak met ’n hele spektrum van bekwame en uiteenlopende digters wat met indrukwekkende reëlmaat uitstekende en interessante werk aflewer. Op dié manier raak die veld eweseer gekarteer deur allerhande interessante posisies, polariteite en circuits in die kritiek. As mens in so ’n reeds deeglik bespeelde arena opdaag met jou harlekynhoedjie, jou ratelaar en jou aspris poepe het jy ’n goeie kans dat die leeu en die beer jou opvreet waar jy bystaan, of anders maak asof hulle jou grappe nie sien nie; ’n ware sirkus kan dit wees! Nou is ek natuurlik bly dat die temmers en menners vind dat my piesangs maar getel mag word. Ek vind dit heel aanmoedigend en bevestigend en ’n voorreg en ’n eer om die prys te ontvang. Ek is bly verras deur die ontvangs in die media. En veral aangedaan deur die ruimhartigheid van die kritici en mededigters wat die werk so deeglik gelees het en met opgaaf van redes so positief geresenseer het. Dit beteken regtig vir my soveel."

En oor die ontvangs van die Hertzogprys vir poësie was sy eweseer dankbaar: "Soos strome van seën voel dit, natuurlik! Ek is ook bly dat ek op dié manier ’n kleine teenprestasie kan probeer lewer aan die Universiteit Stellenbosch en aan my departement – sonder die volgehoue en ruime toeseggings van skryftyd wat hulle aan my doen, sou niks van my werk die laaste jare ooit die lig gesien het nie. Ek lees baie, en ek skryf heelwat, maar dit neem my toenemend langer om idees helder te kry, tekste te selekteer en te slyp om te sien of hulle standhou. Ek is ook dankbaar dat my bejaarde ouers en peetmoeder in die Karoo dit kan meemaak, en dis ’n goeie kans om met liewe vriende en my geliefde (al is dit voorlopig op Skype!) te vier en te geniet en herinneringe te versamel. En dit is tog waaroor alles uiteindelik gaan. My broer vra: Het daardie koekie genoeg jam en klapper? En my sus gee my ’n bos rooi gladioli. Dis tog alte lekker."

Met die ontvangs van die UJ-prys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans het Marlene in haar toespraak gesê: "My gebruik van argaïese Afrikaanse en Nederlandse woorde in Kaar moet gesien word as ’n speletjie. Indien Afrikaans in die toekoms sy veerkrag gaan behou deur middel van Engelse import – import waaroor vandag niemand en allermins die literatore kla – moet die toediening van ’n klein hoeveelheid poëtiese farmakon uit die infrekwent-Afrikaanse, die argaïese woordeskat van ons taal, of die Dietse taalomgewings gewoon gesien word vir wat dit is: speletjies.

"Dit klink vir my of die pryskomitee met die toekenning my wil aanmoedig om by die eerste beste kans uit te breek en te ontsnap uit veilige en bekende oorde. Wat op die spel is, is die taak om die grootste moontlike straling te verwerf vir ons ou wilde, ruwe skeepstaal, en dit kan mens net doen deur hom van ’n kant af op te bliksem” (Beeld, 4 Maart 2014).

Kaar se uitgewer, Human & Rousseau, skryf in ’n mediaverklaring dat daar gedigte in die bundel is wat "wissel van pragtig liries en aangrypend menslik tot sterk satiriese protes- en politieke gedigte. ’n Groot aantal temas word dikwels in fyn besonderhede aangebied – die natuur, voëls, diere, die liefde, die vader, sosiale vraagstukke – en getuig van hierdie digter se veelsydige inslag. Afrikaans word in al sy fasette ingespan en die spel met taal en woorde is telkens verbluffend.

“Sowel die inhoud as die gebruik van taal getuig van ’n meesterlike skrywerskap. Ondersoekende denke, sensitiewe waarneming en uitsonderlike uitdrukkingsvermoë bied die leser van Kaar ’n avontuurlike ontdekkingsreis deur die wêrelde van mense en diere.”

Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) verwys kaar na ’n “deur glasiale erosie gevormde nis in ’n rotshelling”. Volgens die webwerf encyclo.nl het dié woord in Nederlands verskeie betekenisse. Dit kan, soos in Afrikaans, verwys na ’n depressie in ’n bergwand wat veroorsaak word deur verwering, oftewel ’n skeur, maar ook na ’n kompartement in ’n skip wat met water gevul is en waarin gevangde vis vars gehou word. Dan kan die woord ook verwys na ’n fuikagtige houer wat in water hang en waarin vis lewend bewaar word. Kaar is ook die benaming vir die tregtervormige opening in ’n meul waarin graan opgevang word.

In Rapport van 18 Desember 2013 beskryf Marius Crous Kaar as die "poëtiese hoogtepunt van 2013". Volgens hom kan Marlene met hierdie bundel saampraat met groot Afrikaanse digterstemme soos TT Cloete en is sy saam met Cloete en Breyten Breytenbach een van die min digters wat "so op die etimologie van ’n woord met al sy Germaanse wortels kan ingaan".

Crous gaan voort: "Dit is beslis ’n bundel vir diegene wat bereid is om die woordeboeke en die internet-soekenjins nader te trek en op ’n opwindende speurtog te gaan. Kaar is egter nie net ’n intellektuele bundel nie. Daar is ook heelwat liriese verse oor die liefde, die natuur en die broos verhouding tussen ouer en kind. (...)

"Kaar is die poëtiese hoogtepunt van 2013 met sy uitdagende verse; met sy tegnies vaardige strukturering; met sy liriese kwaliteit; én met sy worp van aktualiteite wat gedek word. Dis ’n bundel wat oor en oor gelees kan word."

Zandra Bezuidenhout skryf: "Kaar oorrompel jou van die eerste tot die laaste gedig in die bundel. Dis soos om in ’n nuwe taal gebore te word; deels herkenbaar, maar met ’n pittige andersheid wat net genoeg is om jou te 'ontregelen' – die Nederlandse manier om te sê dat iets jou skoon van jou wysie af bring.

"Van Niekerk se poëtiese toerusting is van die skerpste, sodat jy ’n gedig nie net lees of selfs beleef nie; jy transformeer. Jy word ’n voël, ’n boom, ’n geliefde; jy word ’n kind en jy word oud binne die bestek van 101 gedigte. Saam met die digter baljaar die leser in die moontlikhede van bestaan, want Kaar is die ene spel en die ene verbeelding.

"Enersyds staan Kaar stewig op die klassieke pilare wat ’n literêre werk formidabel maak: oorspronklik in aanbod, tegnies briljant, tematies ryk. Mens sou na hartelus literêre jargon hieroor kon uitryg, maar dit bring jou nog nie by die asem en binnegoed van die bundel nie.

"Hiervoor moet jy die brug tussen jouself, die teks en die kunstenaar vertrou. Kaar maak dit nie altyd maklik nie, maar wel moontlik om langs die web van geluid en betekenis te gly en jou daaraan vas te knoop. Dat die digter jou hiermee vertrou, is formidabel.

"Dit sou onbillik wees om Van Niekerk se bundel as model voor te hou, want elkeen se dinamiet ontplof anders en elders. Maar wys my nog so ’n sterrereën, en jou doopnaam is Formidabele Digter" (Beeld, 20 Februarie 2014).

Helize van Vuuren beskryf Kaar as "vreemd-nuut, raaiselagtig en meerstemmig. En bowenal is Kaar stimulerend en opwindend om te lees. Daar is liefdesverse, tuin-, dier-, voël- en natuurverse en gedigte vir die kwynende vader. In die vuurwerk-vers, 'Oujaar Amsterdam 2007' kom Van Niekerk se 'postmoderne piromanekuns' duidelik na vore.

"Nie dat haar styl ooit eenselwig is nie. Tiperend van Kaar is ’n wye spektrum van wisselende style, onderwerpe en tegnieke. Daar is satire, donker elegieë en meevoerende ontheemding. Dis nie toevallig dat twee sentrale postmodernistiese tegnieke – selfweerkaatsing en selftentoonstelling, teenoor verhulling – uit die studie van dieregedrag kom nie (die pronkery van paringsgedag teenoor die kamoeflering eiesoortig aan baie diere, soos die verkleurmannetjie).

"In Kaar is die digterlike vereenselwiging van meet af aan met voëls (waterfiskaal), diere (verkleurmannetjie), bome (kroonden) en plante (krismisrose), om maar ’n paar voorbeelde te noem. Dit is deur en deur ’n nie-antroposentriese bundel. Dit is ’n posthumanistiese bundel, met die mens as net nog ’n dier, ’n 'mensdier'. Die verse vra dus om teen die agtergrond van evolusie (en devolusie) gelees te word.

"Telkens kom bedreigde of uitgestorwe soorte ter sprake, soos die kwagga (bl 13), brulpadda (bl 68) en die seeperdjie (bl 99). Geleidelik begin die leser ook die vermoede kry dat die herhaalde verwysings na 'wit' dui op ’n siening van die wit mens in Afrika as een van die 'bedreigde’ soorte. Die verskillende woordeskatte, registers, instellings en versmiddele bring drastiese vernuwing en verskuiwing aan die grense van die Afrikaanse poësie. En daar is heelwat vuurwerk!" (Beeld, 20 Februarie 2014)

Die verklaring van die titel Kaar kom in die gedig "Woordverklaring" na vore:

Woordverklaring

Kaar. ’n Mooi ou Dietse woord
vir iets waarin mens kan vergaar
heuning, vis, yswater; in ’n skuit
’n bak vir lewendige paling
of ’n byekorf gevleg van spaanse riet,
stingels brem en langstrooirog;
’n nis deur sneeu uit ’n splits geslyt
aan die bopunt van ’n gletsergeut
met onderaan ’n keteldal
waar, op ’n vloer van swerfsteen,
’n dorp kan aanslib teen ’n meer.
’n Tregter sonder voet
waardeur die koring
op die meulsteen stroom;
ook die mond van Sint Ambrosius
as kind waar die bye in- en uitravot
soos stille aforismes –
de bono mortis, de fuga saeculi.
’n Vers, dink ek, waarvan mens deur
die vlegwerk loer, deur deksel,
wolke, dooie neerslag –
om vóór die wyn, die brood,
die droë vis, die kiem,
die gis, die suur te kry; die gevaar
van vinne, ander spore, vars verskrik
soos van Gervasius en Protasius
of van ’n klank soos minne, orewoet,
doupunt en furore. In ’n kaar
wil ek begrawe word,
geen vuur, geen kis.

In 2015 is Marlene op die kortlys van die Internasionale Man Booker-prys op grond van Triomf, Agaat en Memorandum. Die beoordelaars se motivering vir die insluiting van Marlene op die kortlys lui: "Marlene van Niekerk is the author of two immense masterpieces, Triomf and Agaat, which chart in evocative, sometimes disturbing detail the aches and aggravations of political transition in SA for those who saw themselves as on the losing side, in particular impoverished Afrikaners. Van Niekerk’s vision is ambitious, uncompromising and irrefutable. The bold experimentalism of her Afrikaans takes the reader deep inside the contortions of the apartheid psyche and asks whether some historical hurts and hatreds can ever be entirely erased."

Marlene se reaksie op hierdie groot eer was: "Dit is ’n algehele verrassing. So iets was glad nie op my horison nie. Dit is ’n bevestiging van wat ’n mens doen en dit is wonderlik om ingesluit te word in so ’n lys wat so prominensie verleen aan die globale suide" (Business Day Live, 25 Maart 2015).

Marlene voel baie sterk oor Afrikaans as onderrigtaal en het aan Nelia Richter (Rapport, 29 Maart 2015) enkele idees voorgestel oor hoe om dit te verbeter: "Nog ’n plan: Afrikaanse moedertaalsprekers wat in hul eerste jaar op universiteit Afrikaans as vak kies, moet in Afrikaansdepartemente behandel word soos vreemdetaalverwerwers. Hulle moet gewoon die hele jaar lank die grammatika, die idioom en die woordeskat van Afrikaans geleer word asof dit Frans is. So groot is naamlik die taalverlies in Afrikaans dat slegs hierdie soort radikale maatreëls iets aan die saak sal kan verander. Ek pleit al langer as tien jaar vir so ’n soort aanpak. Is dit wensdenkery?

“’n Ander stukkie wensdenkery is dat die jong Afrikaanse akademici hulself in rat kry en die institusies en verenigings van die Afrikaanse letterkunde aan ’n opgradering onderwerp. ’n Mens moet kan voel dat jy iemand soos Pamuk met trots en selfvertroue kan uitnooi om die inleidende referaat te kom lewer by die Akademie se prysuitdeling of by die ALV se kongres. Ek dink dit is uiteindelik twee soorte fascisme.”

In Die Burger van 24 April 2015 berig Rudolf Stehle dat ’n kortverhaal van Marlene, "Die swanefluisteraar – ’n intreerede" wat in Die sneeuslaper opgeneem is, in sy vertaalde vorm met die titel "The swan whisperer – an inaugural lecture" in Junie 2015 verskyn met sketse deur William Kentridge deur die Britse uitgewers Sylph Editions. Die vertaler is Marius Swart en dit word in samewerking met die American University of Paris as deel van The Cahiers Series uitgereik. Tien swart-en-wit sketse deur Kentridge word ook in die boek afgedruk.

Publikasies:

Publikasie

Sprokkelster

Publikasiedatum

1977

ISBN

079810774X / 9780798107747 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Eugène Maraisprys (1977)
  • Ingrid Jonkerprys (1978)

Vertalings

  • Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen tans beskikbaar

 

Publikasie

Groenstaar

Publikasiedatum

1983

ISBN

9780798115995 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Geen tans beskikbaar

 

Publikasie

Die vrou wat haar verkyker vergeet het

Publikasiedatum

1992

ISBN

1798632977 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Triomf

Publikasiedatum

1995

ISBN

9781874901167 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • M-Net prys
  • CNA-prys
  • Nomaprys vir Publikasies in Afrika (1995)
  • Savi-Via Afrika-prys vir Uitmuntende ­Vertaling aan Leon de Kock vir die Engelse vertaling (2006)

Vertalings

  • Engels – Leon de Kock (1999)
  • Nederlands – Riet de Jong-Goossens en Robert Dorsman
  • Frans – Donald Moerdijk

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agaat

Publikasiedatum

2004

ISBN

9780624042068 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Universiteit van Johannesburg-prys (2005)
  • WA Hofmeyr-prys 2005
  • Hertzog-prys (2007)
  • CL Engelbrecht-prys vir Letterkunde (2007)
  • Sunday Times Literary Award (2007) vir Engelse vertaling deur Michiel Heyns
  • Helgaardt Steyn-prys 2008 (saam met Hermann Giliomee)
  • Savi se toekenning vir voortreflike vertaling vir fiksie 2009 vir Engelse vertaling van Michiel Heyns
  • Sol Plaatje-toekenning vir die Engelse vertaling deur Michiel Heyns

Vertalings

  • Engels – Michiel Heyns (Jonathan Ball Publishers 2007)
  • Nederlands – Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Memorandum

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780798147293 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman met visuele kuns deur Adriaan van Zyl

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels
  • Nederlands – Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die sneeuslaper

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151818 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Vier verhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands – Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kaar

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798163040 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Hertzogprys vir poësie 2014
  • Elisabeth-Eybers-prys vir digkuns en Engels of Afrikaans 2014
  • UJ-prys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans 2014

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Artikels oor Marlene van Niekerk beskikbaar op die internet:

 Artikels deur Marlene van Niekerk beskikbaar op die internet:

 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-06-18
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

 

  • 1

Kommentaar

  • Dagseg. Het die boek Triomf geweldig geniet,soveel so DAT sy by my name baie jare steeds neffens my op die bedtafel lê! Die film is gemaak en ek soek my so byna BOS na die DVD!! Waar sal ek die DVD kan kry asseblief!? Volgens my was Triomf naas Agaat een van die bests skrywes ooit ... asseblief laat hoor waar ek DVD kan kry! Gesonde groete, Verné

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top