Week van de Afrikaanse Roman 2016: Nacht van de Poëzie

  • 0

Bron: https://www.youtube.com/watch?v=PMFMVxemq4Q

As deel van my deelname aan die Week van de Afrikaanse Roman die afgelope September in die Lae Lande woon ek die jaarlikse Nederlandse poësiefees Nacht van de Poëzie by. Dit is die 34ste van hierdie nagbyeenkomste, dié keer gehou in die Vredenburg-skouburg in Utrecht, ’n reusagtige ouditorium wat in die vorm van ’n omgekeerde piramide wegsink in die grond - met die verhoog heel onder en die sitplekke wat uittregter na bo. Rondom die ouditorium, de Grote Zaal, lê op twee verdiepings die uitstalruimtes, die sogenaamde Rondgangen, wat vir dié geleentheid gevul is met die uitstallings van byna dertig uitgewerye en tientalle kroegies en restaurantjies.

Ek en my begeleier, Jente Rhebergen, medewerker van die Week van die Afrikaanse Roman, swenk deur die mense wat in die Rondgangen rondstaan en -maal en skouer die naaste klapdeur na die ouditorium oop, want ons is laat. Sê nou maar ons het Marlene van Niekerk gemis? Dit is waarvoor ons van Leuven deurgejaag het, waar ek die middag nog saam met Lien Botha en Tom Lanoye moes optree, en dis nou al goed donkernag.

Dis skemerdonker in die Grote Zaal en ’n mens se blik val outomaties saam met die rokerige bane van kolligte na benede waar ’n digter – wie? – by ’n kateder staan en met ’n smal stem die lig trotseer. Kort daarna kom die applous en dan eers kry ons ’n idee van hoeveel mens daar is. Meer as tweeduisend, verneem ons later.

Tweeduisend?!

Is daar regtig soveel mense wat ’n ganske nag deur, tot ná drie die oggend, kom luister na digters wat hul verse voordra? Goed, dis nie nét poësie nie, ná elke vierde digter is daar ’n musikale interlude deur kunstenaars wat na my beskeie (en ietwat oningeligte) oordeel op hul terrein die ekwivalent is van Nederland se poëtiese toptwintig. (Dis eintlik die Lae Lande se bestes plus Marlene van Niekerk, maar laat ek nie die storie vooruitloop nie ...)

Eers gaan ons glasies volmaak en ’n bietjie deur die boekwinkels loop, want die groot kanonne kom eers ná een die oggend aan die woord. Ons het wel die versekering dat die program soos klokslag loop, met ’n streng meneer wat sy horlosie dophou. Jy sien soms hoe van die digters met die asemskep tussen die laaste twee strofes van gedig nommer vier angstig kyk na waar die tydhouer staan en maak asof hy nie naastenby so onverbiddelik is as wat almal sê nie.

Dis verstommend. Hier kry jy Anna Enquist, Eva Gerlach en Anne Vegter in ’n ry. Nederland se poëtiese kruin word oënskynlik deur vroue volgestaan. Voor die verhoog sitlê ’n klomp jonges wat lyk of hulle elke woord saam met die digters prewel en in vervoering die arms om mekaar slaan.

Die aand bring vir my twee enorme ontdekkings, die een poëties die ander musikaal. Eersgenoemde is Tjitske Janse van wie se debuutbundel, Het moest maar eens gaan sneeuwen, glo 10 000 verkoop is. Na dese weet ek hoekom: Sy knoop jou derms met haar oënskynlik naïewe verhaaltjies oor grootword en pas groot geword het. Die ander is die Israeliese folkrocker Asaf Avidan, wat met sy tatoeërings lyk soos daardie ou van Die Antwoord, maar klink soos dié van ’n dogtertjie in Poltergeist. Moenie vrae vra nie, gaan lúister net. En oor Tjitske Jansen kan ek ook maar net ’n gedig aanhaal wat gepubliseer is in ’n bloemlesing wat jy saam met jou kaartjie vir die Nacht van de Poëzie gekry het (Die agtergrond hiervan is ’n katkisasieklas):

"Jezelf zijn, ik heb gehoord dat dat belangrijk is, maar ik heb geen idee wat het is.
Hoe doe je dat?" vroeg ik de dominee. "Als je een kraan vol opendraait en je bent
met al je aandacht bij het opendraaien van die kraan, dan ben je jezelf," zei hij.

Ik begreep het niet. Wat had het opendraaien van een kraan met mij te maken?
Ik rende naar huis en ging het uitproberen. Vol ovegawe draaide ik een kraan vol open.
En weer dicht. Het was de eerste keer in mijn leven dat ik een kraan opendraaide en weer dicht, met het doel mezelf te zijn. Ik vroeg me af of je verschil kon zien
tussen iemand die de kraan opendraait om haar handen te wassen en iemand
die dat doet om te weten wie ze is.

En toe kom Marlene van Niekerk. Dis asof sy regstreeks van die vliegtuig uit Suid-Afrika op die verhoog uitstap. En te oordeel aan die applous het almal vir hierdie oomblik gewag. Is sy dan só bekend in Nederland? Sy praat Nederlands en vertel inleidend en met ’n ironiese glimlaggie dat haar eerste gedig "’n klankgedig is wat syself nie verstaan nie". Dit is die openingsgedig van Kaar, "Oggend van ’n waterfiskaal", en anders as met die ander digters word die teks agter op ’n skerm geprojekteer (weer met die hulp van Jente Rhebergen agter die skerms). Die jonges voor se bekke hang oop. Voor haar volgende gedig, ’n huldiging vir Nelson Mandela getiteld "Hamba kakuhle, Madiba", gee sy uitvoerige woordverklarings en skilder die trieste Suid-Afrikaanse konteks van die gedig en lees ’n hele stukkie voor uit Long Walk to Freedom om onder meer haar gebruik van die woord "swart pimpernel" toe te lig. Sy lees. Lang applous. Toe nog ’n gedig uit Kaar, "Bejaarde met mobiel". Die gehoor lag op al die regte plekke, die applous weer uiters waarderend. Sy maak reg vir die volgende gedig, maar ...

Maar almal het vergeet van die tydhouer wat intussen agter sy skerm begin het om met sy groot plat skoensool te tik, tik, tik ... En toe die applous wegsterf, stap hy vanuit die skadu tot in die lig, daardie donker figuur, en hy beduie: Af. Al wat Marlene van Niekerk kon doen, was om wekerig te sê dat daar nog ’n gedig was, maar ... en die pad te vat.

En die skare boe. Ongelooflik, hulle boe! Die video’tjie is op Youtube te sien vir diegene wat my nie glo nie.

Soos ’n Nuwelandse rugbyskare boe as ’n ander span se skopper pale toe mik, so boe daardie Nederlanders toe Marlene van Niekerk kortgeknip word. Ek kon nie van bo af sien nie, maar ek is seker sy het tot in haar klinkende kleintoontjie lekker gekry.

Van die digters se voorlesings het geklink soos van die gebede wat ek van die Pinksterbyeenkomste van my kinderdae onthou, dor en droomloos; van hulle was héél geanimeerd, met klapwiekende arms performers in die ware sin van die woord. Of die poësie op dié manier tot sy reg kom, is sekerlik bysaak, die essensie van ’n aand soos die is stellig om jou gunstelingdigter in lewende lywe te sien en te hoor.

En toe kom Marlene van Niekerk en sy steel so wragtie die kollig!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top