Die simbiose van kuns: Madri Victor gesels met Marlene van Niekerk

  • 0

I
Vroeër vanjaar, by die ALV-kongres op Stellenbosch, het Marlene van Niekerk voorgelees uit haar nuwe boek, Memorandum. Dit het die karakter van Wiid aan die begin van sy skryfproses aan die toehoorders bekend gestel, en ook sy dilemma met die gesprek tussen X en Y gekaart. Die voorlesing was egter net een been van die aanbieding. Onder begeleiding van die Passacaglia en Fuga in C mineur van Bach, ’n stuk musiek wat ’n beduidende rol speel in die teks, het Van Niekerk voorts Adriaan van Zyl se skilderye vertoon. Dit was ’n ervaring wat steeds ’n sekere nawerking het in my lees van die teks en die waardering van die meegaande skilderye.

Wagkamer deur Adriaan van Zyl

II
Hennie Aucamp vertel in ’n resensie (Die Burger, 13 November 2006) dat jy jou studente opdrag gegee het om te gaan skryf soos Adriaan van Zyl geskilder het. Wat was die uiteinde van hierdie studenteprojek en hoe het dit jou gemotiveer om self die oefening op so ’n intense vlak uit te voer?

As ek reg onthou, was dit ’n algemene oproep en nie ’n spesifieke opdrag nie – ek het bedoel hulle werk in die algemeen moet gedetailleerd, ontdaan van sentimentaliteit, skoon en strak van ontwerp en dig gepak met presiese historiese inligting wees en die onderwerpe wat hulle selekteer moet te denke gee. Van Zyl se werk is vir my ’n beliggaming van al hierdie kwaliteite.

In Memorandum raak die leser vinnig bewus van die wisselwerking tussen die drie groot bene van die kuns: die beeldende kunste, die uitvoerende kunste en die letterkunde. Hoe sien jy die simbiose tussen die visuele kuns en die geskrewe teks?

Ek is nogal “suggestible”, soos die Engelse sê: enige “prentjies” maak my verbeelding los. In die geval van Van Zyl se skilderye was dit die potente afwesigheid van mense in die skilderye wat my verbeelding aan die gang gesit het. Daarmee suggereer ek vir geen oomblik dat van Zyl figure in sy hospitaalbeddens moes geskilder het nie – hy had veels te veel goeie smaak en gesonde verstand om ooit so iets te oorweeg. En daarmee is ook nie gesê dat die afwesigheid van mensefigure die werk onmenslik maak nie. Die skilderye spreek van ’n skrynende lading menslikheid. Ek wou met my verhaal “antwoord” op die skilderye op ’n manier wat die skilderye volledig in hulle eiesinnige waarde sou laat en wat verder op geen manier hulle vreemdheid en verskriklikheid vir die leser sou wou “domestiseer” nie. Of ek daarin geslaag het, is vir my die vraag. Een van die belangrikste uitdagings was om ook kommentaar in te werk oor hospitaalruimtes, en die kommentaar moes geanker wees in ’n tipe wysgerige besinning oor die ontluisterde wyse waarop daar teen ruimte aangekyk word, waarop ruimtes (veral ruimtes van versorging, opvoeding, hulpverlening) ingerig word in ons tyd. Hierdie armoede sien ’n mens die beste in institusionele argitektuur waarin ’n sekere orde en mag geïnstalleer is. (Kom ons ontwerp byvoorbeeld ’n godsalige alternatiewe ouetehuis, met setels in koel alkowe spesiaal ingerig sodat jong mense kan kom om te luister na die ou mense, met ’n voëlbad onder ’n okkerneutboom voor elke slaapkamervenster, met etlike liefderike katte en honde en hase, met ’n reuse-vrugteversapper in die portaal tussen groot varingbome en ’n strykorkes en ’n fontein met vyftien tuite waaruit jy vir jou ’n beker vrugtesap kan meng en lesings en films en skaakborde en alle verpleegsters met engelevlerke en aspersies en artisjokke vir groente, sampioene vir vleis en omgedopte peerterte vir nagereg. En kaste vol slaappille en sjampanje vir as jy besluit nou was dit genoeg gewees. Kom ons ontwerp voorts die geboue van die Universiteit van Hemel en Aarde …)

In watter mate beïnvloed die musiek wat jy luister jou skryfproses? Sou die leser wat saam met die teks na bv Bach se toccatas en fugas luister, volgens jou Adriaan se skilderye anders interpreteer en ’n ander leeservaring hê?

Ek luister altyd na musiek as ek skryf – of luister is dalk die verkeerde woord – ek “groove” by elke stuk skryfwerk op die spesifieke stuk musiek wat my emosioneel voed en inlig ten opsigte van wat ek geskryf probeer kry. Ek soek deur al my CD’s tot ek iets kry wat my in ’n sekere rigting inlig. Dikwels luister ek “namens” die karakter na musiek ten einde uit te vind wat emosioneel in hom of haar gaande is. Watter musiek watter effek op ’n karakter het, is vir my ’n lakmoestoets om vas te stel of en hoe die karakter werk. Miskien is dit ook nie die hele waarheid nie. miskien is die musiekluistery maar my manier om my in ’n soort trance van vereenselwiging te bring. Soms is mens se siel droog. Musiek is vir my besproeiing. Bach is ruisende oggendreën en Nina Simone die Missisippi.

Die teks in Memorandum is nie ’n verduideliking van die skilderye nie, net soos die skilderye ook nie as “illustrasie” van die teks gesien moet word nie. Tog is daar ’n energie in albei aanwesig wat hulle met mekaar laat resoneer. Die bibliotekaris, Joop Buytendagh, verduidelik dit mooi wanneer hy aan Wiid sê dat daar ’n “groot pols” van patrone en proporsies is wat deur die wese van alle dinge gaan. Hierdie “pols” is volgens hom die bron van die kunstenaar se verwondering. In hoe ’n mate was daar ’n wisselwerking tussen jou en Adriaan van Zyl ten opsigte van jou teks en sy skilderye? Het julle insprake in die ontstaan en ontwikkeling van mekaar se kuns gehad?

Adriaan se hospitaalskilderyereeks was so te sê voltooi toe ek die storie begin skryf het. Dit was dan ook sy voorstel om saam ’n boek te maak. Toe ek die eerste roersele van ’n idee gekry het oor hoe om dit aan te pak, het ek hom die hele ding vertel en hy was dadelik daarvoor te vinde. Hy het elke weergawe van die verhaal reg van die begin af gelees en waardevolle terugvoer gegee. Sy goeie oordeel en aanvoeling was ook van toepassing in tekste. Hy het baie wyd gelees, dikwels na bandopnames van romans geluister terwyl hy gewerk het, dikwels van sy skilderye gesê dat hulle “’n storie vertel”.

Soos in Agaat kry die leser in Memorandum weer met aflegging en verlies as temas te doen. Dit kring egter veel wyer uit as slegs persoonlike verlies: hier word die verlies van oa eeue oue tradisies en waardes, en ’n verlies aan die waardering van ruimte en plek betrek. Dit is temas en kwessies wat algaande duidelik word soos Wiid se navorsing (en die memorandum wat hy skryf) vorder. “Bewoon” ’n hoofkarakter jou huis gedurende die skryf van ’n roman en hoe beïnvloed sy/haar struwelinge, verliese, afleggings en ontdekkings jou?

Dis maar altyd ’n gestoei as mens met jou karakter in die weer gaan, ’n soort onderhandeling met blokkasies en vraagstukke en verdriete in jouself, jou nuuskierighede ook, jou vermoë om verras te word. Wiid was nie ’n maklike karakter nie, maar dit was my eie skuld – ek het die stadsverfraaier oorlaai; hy moes ’n hele nag wakker bly en sy memoirs skryf met latex-handskoene en soetwyn, en hy moes ’n klomp nuwe navorsing in ’n baie kort tyd sy eie maak. Ek was ’n klein bietjie getroos deur sy deurbraak aan die einde, as hy besluit boggher die hospitaal, en as hy sy groot gedig (die “passacaglia” aan die einde) skryf vir sy vriend die bibliotekaris. Memorandum was ’n besonder uitdagende skryfproses – ek was myself aan die troos; ek wou Wiid troos, en ander mense troos … die heeltyd geweet mens kan niemand eintlik troos nie – die lewe is ’n ontroosbare verbystering van verliese … Maar as jy nie probeer troos nie, as jy jou nie in dié rigting inspan nie, wat is dan die sin van jou bestaan? Alle skrywery, alle skilderwerk, alle komponeerdery is maar seker maniere van troos, ’n vorm van bestendiging in hierdie slopende vloed van tyd waarin ’n menselewe gelewe word. Broodbakkery, tuinmakery, borduurdery ook – alles wat noodsaak dat mens ’n oormatige hoeveelheid aandag gee aan die tot stand bring van iets nietig en weerloos.

 

III
Tydens Wiid se navorsing kom hy af op die volgende aanhaling van Friedrich Nietzsche:

When I picture a perfect reader, I always picture a monster of courage and curiosity, also something supple, cunning, cautious, a born adventurer and discoverer. (Ecco Homo. How One Becomes What One Is)

Wiid herken homself daarin. Ek herken Marlene van Niekerk daarin: dikwels gefassineer deur obskure inligting, meestal besig om die leser ’n rat voor oë te draai. Dikwels hanteer sy temas wat die leser effens ongemaklik laat. Van Niekerk tree met Memorandum as ’n tipe Joop Buytendagh vir die leser op: sy lei die leser na verborge tekste, sit die leser op die spoor van verskuilde temas, dra die spreekwoordelike Allesverloren-port aan en laat die leser toe om self die verbande te trek. Sodat mens aan die einde voel dat die wêreld vir jou nuut geword het, en dat jy saam met Wiid kan sê:

En elke oggend wat my nog gegee is, sal ek stadig deur my stad se strate stap en soos ek stap op alles let wat leef, en alles raai wat dalk in heinings neste het, of in bome sit en planne maak om so ’n ding van voor af te begin of ’n ander s’n ter wille van oorlewing te betrek. En ek sal alles op my pad kan wiggel, die eerste geel op blare, want dit word herfs, die sagte lugte van April, blink papiertjies weggegooi op hoeke sal ek lees, skerfies glas wat op die asfalt skitter, skaduwees wat om baksteenhoeke hang, die voorkoppe van kettingwinkels. My broers, as ek dit oor kon doen, sal ek dan sê, sou ek vir jul ’n ander boumeester gevind het, vergewe my” (p 124).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top