
Clinton V du Plessis (Foto: Hendrik Mentz)
Drie dae tussen bladsye en boeksusters en -broers
.......
’n Jaar of wat gelede was daar die sterk moontlikheid dat hierdie fees uitgeboul sou word vir ’n nulletjie [...] Maar met die formidabele paar openingskolwers Darryl David en Peter Baker en die begeesterde bystand van Angie Butler en boekliefhebbers en boekkopers lyk dit asof “Rumors of my demise have been greatly exaggerated” in hierdie geval ’n gepaste aanhaling sal wees om vanjaar se fees saam te vat.
.......
Going nowhere slowly
Ek het nie rekening gehou met die aantal ertstrokke of die padwerke tussen die afdraai buite Middelburg en Hanover nie. Rooi en geel – Stop and Go – met gemiddeld 20 minute se wag.
Vrydagmiddag kom ek eers na die laaste sessie in Richmond aan. Twee dae se Bookbedonnerd het by my verbygegaan. Ek sou graag wou swets oor hierdie gatslag, maar bly eerder neurie aan die deuntjie wat op die USB-stokkie gelaai is en deurentyd die kilometers moes laat krimp het: The Beatles se “Let it be”.
Saterdagoggend is ek vroeg uit die vere vir die laaste dag. Vinnige ontbyt by die Vetmuis. Die program is vol.
The unbearable weight of being invisible
Die eerste twee sessies is via Zoom.
Anna Funder oor Wifedom: Mrs Orwell’s invisible life. Dié storie oor die sterk, maar onsigbare vrou agter George Orwell, naamlik Eileen O’Shaughnessy. Funder wys op die mag van die patriargale pen en blik deur die bril wat “die heerskap van die vader” bestendig het oor ses biografieë heen oor George Orwell. Soveel helde met voete van klei en die vroue, meestal, agter weggesteek en hul rol beperk tot bloot die skaduwees of kantaantekeninge.
Daarna volg Anthony Akerman se gesprek met Andre Hattingh oor Lucky bastard, ’n outobiografie oor sy lewe as aangenome kind, sy soeke na sy wortels. Weer hierdie kyk vanuit ’n plek waar jy onsigbaar is, waar jy twyfel oor soveel leuens wat vertel is rondom jou bestaan.
Michael Cawood Green, gebore in Pinetown en om sy studies te betaal stoker op die spoorweë, kom vanuit die VK gesels oor die agtergrond en navorsing vir sy historiese roman The ghosting of Anne Armstrong. Die geweldadige tydperk toe vroue gehang of verbrand kon word weens vals beskuldigings van heksery.
“High tea”
Pouse vir tee, koffie, toebroodjies, muffins en koek en vinnige geselsies – dit is warm soos dit net in die Karoo kan word. Ek wyk na koelte op die stoep.
Die program word hervat. Margaretha Deysel Stemmet (South African envoys of opera), ’n eertydse operasanger, speel ’n duet voor saam met Mimi Coertse. Die res van Stemmet se insetsel bestaan oorwegend uit videovertoning van operaliedjies: Pretty Yende (in geel uitrusting) by die kroning van koning Charles, en vele ander stemme. Stemmet ontvang ’n staande toejuiging aan die einde van haar 30 minute. Darryl David is sigbaar aangedaan.
“In the future, everyone will be world famous for 15 minutes.” – Andy Warhol
Die uwe lees voor uit Kaartjies, asseblief en Joernaal. Ek sê dat ’n skrywer oor drie eienskappe moet beskik: Wees vertroud met dit waaroor jy wil skryf; ontwikkel ’n dik vel (vir resensente); en ontwikkel ’n ooraktiewe middelvinger.
Vrae en opmerkings uit die gehoor vanaf Gareiyah Fredericks oor die maak van gedigte, en Jaco Alant – hy onthou my as rubriekskrywer (eendag lank, lank gelede, op LitNet) en vertel hoe kwaad hy vir my was oor my skrywe getiteld “’n Bad trip”, ’n siniese skuinskyk na Durban wat intussen, moet Jaco beken, grootliks werklikheid geword het. My slotparagraaf lees: “As die vliegtuig traag van die aanloopbaan losskeur, en die liggies al verder en vinniger uitdoof, besef ek ook hierdie stad het niks meer drome oor om aan my te verkoop nie.”
Buite die saal verneem ek daar was ’n traan of twee van aandoening en meelewing by die voorlees van die gedigte (soos “Behoorlik daartoe gelas”, oor die oppak en verkoop voor die verhuising na ’n ouetehuis). Die boeke verkoop flink onder andere aan Zelda Nel Bezuidenhout, Julio Agrella sr, Gareiyah Fredericks, Jaco Alant … ook aan die lojale kopers oor jare heen, die paartjie uit Beaufort-Wes, Charmain en Olivier.
Stertkantkolwers en wipballe
Gewoonlik loop die biblioteeksaal na middagete op ’n Saterdag effe leeg. Gaste begin om die terugtog aan te pak, maar vanjaar is dit nie die geval nie. Die saal bly volgepak en sommiges moet deur die sessies staan.
Karina M Szczurek gesels oor die laaste boek van die ontslape CJ (Jonty) Driver, Dayspring, gevolg deur Gail Gilbride – haar memoires, Cat therapy, vertel van haar stryd met borskanker en die rol van haar kat in die heelwordproses, daarna weer ’n Zoom-sessie met Jonathan Slaght (Owls of the Eastern ice.)
Dan:
Die groot vangs van vanjaar se fees: die 2022-Bookerpryswenner, Shehan Karuntilaka, vir sy boek, The seven moons of Maali Almeida. Darryl voer ’n heerlike gesprek met hom oor een van sy ander publikasies: Chinaman: the legend of Pradeep Mathew.
Min wydlopers, knap boulwerk, vernuftige vangskote – die gesprek is insiggewend, pikant, sny onderwerpe aan soos ou mans en sport, politieke korrektheid, rassisme in sport en die romanskrywer met sy waarhede oortuigend gelieg, of sy leuens geloofwaardig verpak, of iets dergeliks. Ons hoor ook die skrywer se seuntjie ken van rugby: Eben Etzebeth.
Shehan hanteer teen die einde van die sessie, met die seepgladde semantiek van die bekroonde skrywer, die opslagbalvraag van Olivier oor die onortodokse boulaksies van (Latish) Malinga.
Butler, Baker en David
’n Jaar of wat gelede was daar die sterk moontlikheid dat hierdie fees uitgeboul sou word vir ’n nulletjie. Die reuk van ’n naderende sterwe het in Loopstraat gehang. Die brutaliteit van die burokrasie.
Maar met die formidabele paar openingskolwers Darryl David en Peter Baker en die begeesterde bystand van Angie Butler en boekliefhebbers en boekkopers lyk dit asof “Rumors of my demise have been greatly exaggerated” in hierdie geval ’n gepaste aanhaling sal wees om vanjaar se fees saam te vat.
Lank lewe die saliges, dié wat lees, die Bookbedonnerd-familie, want aan hulle behoort die biblioteeksaal op Richmond en die verbeelde Melkweg besaai met verse en stories.
Tot weersiens.
Lees ook:
A personal letter about Madibaland @ Bookbedonnerd Literary Festival 2024: Kia ora, Karoosters
Madibaland @ Bookbedonnerd Literary Festival 2024: an interview with Darryl David
BookBedonnerd!: The road to elsewhere by Darryl David: an inter-review
Madibaland@Bookbedonnerd 2023: ’n Dagreis ver is naby genoeg


Kommentaar
Wat 'n aangename artikel was dit om te lees! 'n Wêreld van skrywers van wie ek geen kennis dra nie, maar dit was nou 'n "eye opener". Baie sterkte met ALLES wat julle doen en nog beplan!
Wat 'n heerlike ervaring om in my moedertaal so vermaak te word! Knap gedaan. Doe so voort