Carina Stander het dit in ’n onlangse Facebook-plasing betreur dat daar, aldus haar, meer Afrikaanse skrywers as lesers is. Miskien is dit ’n aweregse manier om erkenning te gee aan die feit dat ’n menigte nuwe skrywers in al wat genre is, die afgelope dekade of wat op die toneel verskyn het.
In aansluiting hierby kan jy seker ook sê daar is vandag meer boekefeeste of boekafdelings van kunstefeeste as wat daar feesgangers is – ’n aweregse manier om erkenning te gee aan die feit dat ’n menigte nuwe feeste die afgelope dekade of wat op die toneel verskyn het.
Wat die meeste van hierdie nuwer feeste onderskei, is dat hulle klein, niekommersieel en plaaslik is – anders as die (Afrikaanse) Groot Vyf: die KKNK, die Woordfees, Innibos, die Vrystaatse Kunstefees en Aardklop. En die argetipe van hierdie kleiner gemeenskapsfeeste is ongetwyfel Darryl David en Peter Baker se unieke Bookbedonnerd-fees wat jaarliks rondom die einde van Oktober op Richmond, Noord-Kaap plaasvind.
..........
Darryl is die geliefde gesig van die fees wat dit jaar ná jaar meer met idees, improvisasie en liefde as met geld deurvoer. Enigiemand wat al ’n Bookbedonnerd meegemaak het, weet alles verloop nie altyd volgens plan nie, maar jy word altyd verras en verhef. Vanjaar se 16de Bookbedonnerd van 1 tot 4 November was geen uitsondering nie.
............
Darryl is die geliefde gesig van die fees wat dit jaar ná jaar meer met idees, improvisasie en liefde as met geld deurvoer. Enigiemand wat al ’n Bookbedonnerd meegemaak het, weet alles verloop nie altyd volgens plan nie, maar jy word altyd verras en verhef. Vanjaar se 16de Bookbedonnerd van 1 tot 4 November was geen uitsondering nie.
Oudergewoonte het die boekgesprekke mekaar al om die halfuur in die dorpsbiblioteek opgevolg, sommige aanlyn, die meeste gelukkig in persoon. Oudergewoonte het ek skrywers en boeke ontdek van wie en waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Twee wat ek wil uitsonder, tydens die laaste sessie op die Vrydagmiddag, was die jongerige Oekraïense vrouedigters Yuliya Masakovska (God of freedom, 2021 en Iron, 2022) en Lyubia Yakimchuk (Apricots of Donbas, 2021). Die gedigte wat hulle afwisselend in Oekraïens en Engels voorgelees het, handel uiteraard oor verlies, verlore plekke en die afgryse van oorlog. Wat my die meeste van hul voorlesings bybly, is die ingehoue woede waarmee dit gedoen is – en die onmiskenbare staccato-ritmes van die gedigte wat Masakovska geskryf het ná die aanvang van die oorlog met Rusland op 24 Februarie 2022.
Die ander uitstaande hoogtepunt was die gesoute omroeper en onderhoudvoerder Tracy Going se gesprek met Darryl oor sy selfgepubliseerde memoir, Book Bedonnerd! The road to elsewhere. Deurspek van Darryl se kenmerkende droë humor, vreeslose najaag van sy boekdrome, en kleurryke vertellings van ’n man wat eenvoudig te midde van al die verval, geweld en teenstand wat hy steeds moet oorkom, ’n lewe wy aan samekomste rondom boeke, hul skrywers en hul lesers.
Ander hoogtepunte was Fanie Olivier se gesprek met Tom Dreyer en dié se voorlesings uit sy wonderlike bundel, Nou in infrarooi (tans in sy derde druk, soos sy trotse vrou en vakgenoot in die filosofie, Vasti Roodt, aan tafel te vertelle had) en sy lieflike spookstories, en die ingetoë Justin Fox wat met soveel nederigheid en hartstog gesels het oor sy nuwe boek oor Suid-Afrikaanse skrywers en hul plekke, Place.
Mag Bookbedonnerd nog baie jare voortleef.
Lees ook:
Madibaland@Bookbedonnerd 2023: ’n Dagreis ver is naby genoeg
Madibaland @ Bookbedonnerd 2023: an interview with Darryl David