Madibaland@Bookbedonnerd 2023: ’n Dagreis ver is naby genoeg

  • 0
  • Boekomslae wat gebruik is, bied ’n blik op sommige van die skrywers by hierdie fees se werk.

Geko Publishing

Die Groot Kultuurgoeters vind altyd naby plaas: naby Gauteng, naby Kaapstad, naby Mbombela, naby Bloemfontein, naby Gqeberha. Die KKNK is effens anders: deel van ’n toer van elders; ’n oggend- of middagrit van Kaapstad.

Maar Darryl David se Boekbedonnerd in Richmond is iets anders. Agt uur uit Gauteng op die N1 en 640 km van Kaapstad af. Geen ghrênd lokale of sale nie, geen naarstigte beplanning rondom parallelle sessies nie, geen kaartjies om te koop nie. Onopgesmuk, want daar is geen TV-kameras waarvoor jy moet paradeer nie.

Naledi

Dis ’n loop-fees, want dié Karoodorp is klein en die klomp gastehuise ’n klipgooi uitmekaar. Buitendien vind alles in Loopstraat plaas, oorkant die pragtige NG-kerk. Die Richmond Supper Klub herinner aan ’n fênsie koloniale saamkomplek; by die Vet Muis sit ’n mens in die agtertuin onder die grootste appelkoosboom wat jy ooit sal sien. Karoolam domineer die spyskaart, hoe anders? Daar’s ’n High Tea op straat iewers tussen sessies, en wynproe-kans, en vyfuur span ons uit om ordentlik te kuier. Een dag loop die dorp oor as dit reën in die Groot Karoo.

NB-Uitgewers

Die boekefees vind in die klein biblioteek plaas. In een hoek sit die tegniese span van UWK, wat moet sorg dat ’n hele wêreld se interessante skrywers via Zoom kan saampraat en vertel; aan die ander kant is Gqeberha se voortreflike Fogarty’s met al die boeke op die literêre spyskaart. En dan nog ander boeke van die skrywers wat optree.

NB-Uitgewers

Die dag is vol, want die sessies is net 30 minute. Elkeen oor of rondom ’n boek en die skrywer. Dis nie ’n Engelse fees of ’n Afrikaanse een nie. Darryl gaan haal hulle van orals af en hulle praat net met ons wat daar sit, antwoord vrae. As die Oekraïniese digters hartseer lees oor hulle land, hoor ons ook die gedigte in Engels.

Protea Boekhuis

En dit is ’n allegaartjie. Fiksie, nie-fiksie, verbeelde waarhede, vir kinders en vir groteres. En Louis Botha se tweede Karoo-fotoboek. Jy leer nuwe name ken, nuwe plekke, nuwe boeke: vensters en deure gaan oop; verrassend, onthutsend, soms ongemaklik. Ek loop ou vriende raak: Johann Rossouw, Annemarie van Niekerk, Charl-Pierre Naudé, Naomi Meyer. Ontmoet Tom Dreyer. Etienne van Heerden en Eben Venter duik plesierig op in twee Zoom-sessies.

NB-Uitgewers

Maak ’n plan; reël ’n bussie. Richmond lê doer ver in die Haai Karoo, maar ’n dagreis ver is naby genoeg as mens Boekbedonnerd is. Of wil word.

Protea Boekhuis

Lees ook:

Lank lewe Madibaland@Bookbedonnerd!

Madibaland @ Bookbedonnerd 2023: an interview with Darryl David

Richmond’s BookBedonnerd XIV: An interview with Darryl David

Gee jou hart vir Richmond

Richmond BookBedonnerd 2019 – ’n dosyn feeste, ’n dosyn indrukke

Richmond: Wat’s die telling?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top