Richmond: Wat’s die telling?

  • 2

Speler(s) van die wedstryd

Darryl David en Peter Baker kan vir Heyneke Meyer iets – nee, baie – leer.

Hierdie flambojante en vernuwende skakelpaar aan die stuur van die jaarlikse BookBedonnerdfees op Richmond (vanjaar ook, om ooglopende redes, die Bokbedonnerdfees gedoop), weet net hoe om ‘n wenspan te kies.

Die afgelope agt jaar het hulle elke keer verras met die wonderlike versameling van skrywers wat hulle oor drie dae op die dorpie kon laat vergader. Tesame daarmee het hulle ‘n lojale groep boekliefhebbers van ‘n tuiste voorsien om na hulle gunsteling- en ook minder bekende, maar baie interessante, skrywers te kom luister.

Hulle het die kuns vervolmaak om ‘n uiters gebalanseerde blik binne-in die wêreld van boeke en skrywers te gee.   

Voorskou

Nog altyd was daar twee dinge wat ek wou afmerk op my lysie. Die eerste: om Bruce Springsteen te sien optree, wat toe wel gebeur het – in 2014 in Bellville van alle plekke. Die tweede: om na Breyten Breytenbach te luister. Nie op radio nie, maar in ‘n gehoor te sit en na hom te luister – hom te hoor voorlees en formuleer. En indien ek ‘n boek of twee deur hom geteken sou kry, wel, dan sou dit die absolute hoogtepunt wees.

Oktober, kameraad, dit is Oktober

C Louis Leipoldt: “Dit is die maand Oktober!/ Die mooiste, mooiste maand.”

Maar Oktober is ook die rooiste, rooiste maand – ‘n revolusierooi maand. Die fees skop af in dieselfde week waarin baie van ons op televisie en koerantvoorblaaie gekonfronteer word met beelde wat herinner aan die onstuimige jare wat 27 April 1994 moontlik gemaak het.

Die #feesmustfall verskaf nou die impetus vir ‘n beweging wat die mag vir die eerste keer uit ‘n nuwe oord uitdaag, die magshebbers effe bleek om die kiewe laat.

Hier teen die einde van die week het die Leier net-net vir die kantlyn geskop. Bietjie blaaskans …

richmond1

Richmond – foto deur Lien Botha

Engage!

Harry Kalmer, wat oor sy boek 1 000 Stories oor Johannesburg kom gesels,  noem dat sy seun in die week onder traangas deurgeloop het. Hy lees ook ‘n ouer verhaal, maar wat gepas is in die huidige tydsgewrig.

Dan gesels hy oor hoe die boek ontstaan het, dat hy sedert 2012 al meer in Engels begin skryf, dat sy volgende drie projekte in Engels is, dat die Afrikaanse boeke van hom daar is, maar die lesers skaars. Later stap ek saam met hom na sy gastehuis toe, koop ‘n eksemplaar van X-ray Visagie en die Vingers van God. Hy teken dit vir my – linkerhand.

Jonty Driver, skrywer van The man with the suitcase: The life, execution and rehabilitation of a liberal terrorist (John Harris), merk op dat sy vrou hom aangepor het om te meld dat hy benewens “slim volumes” ook “thicker books” skryf! Hy merk dan in die verbygaan op dat hy een van sy komende werke, op aanbeveling van sy uitgewer, moes  afskaal na iets in die 80 000 woorde. In sy boek vra hy of die polisie vooraf kon geweet het van Harris se bom op die Johannesburgse stasie, maar verkies het om niks te doen nie? Op ‘n vraag uit die gehoor of Harris ‘n “hero” was, antwoord Driver dat hy eerder dink John Harris “fits the notion of a tragic hero”.

Tydens Herman Lategan se sessie skop hy die bal hoog die lug in op en loop die gehoor soos ‘n voorspeler met ‘n stywe voorarm. Hy maak verskoning omdat hy sonder enige eksemplare van Binnekring van spookasems, wat gloeiende resensies ontvang het, opdaag. Dan vertel hy net hoeveel bloedsweet en dae daar in ‘n rubriek van 500 woorde ingaan. Hy doen dit aan die hand van sy skrywe oor die sinnelose en brutale moord op die “nagblom en ontkleedanseres van die Kaapse skemerwêreld”,  ene Anneza, of dan uiteindelik (na sy intensiewe navorsing), Aneesa Adams.

Hy “cut” die Engelse rubriekskrywers “down to size” en swaai lof toe aan hulle Afrikaanse eweknieë – noem ook die ruimte wat Rapport in dié verband bied, met sy eie rubriek (waar hy ‘n storie rondom een woord bou), asook dié van byvoorbeeld iemand soos Nathan Trantraal, met sy eiesoortige taalgebruik.

Lategan systap nie – eerlik, onbevange, sonder skyn en hoogs vermaaklik is sy lesing. Van sy kwinkslae: “Magic realism doesn’t work, bitching doesn’t work in Afrikaans”; “There is too much useless opinion.”

Selfs toe Lategan die gewraakte, bekendste vierwoordkombinasie van die Kaapse Vlakte gebruik, kry hy nie ‘n geel- of rooikaart nie ...

Sonja Loots het pas doktorale studies afgehandel oor die digte, dikwels ontoeganklike  werk van Marlene van Niekerk. Sy brei uit oor die band tussen hardlywigheid en kuns, die boek as ekskresie, beskrywings van stoelgange, donkies en drolle. ‘n Omstrede sessie, maar self by die kras en kordate dele van haar voorlegging sien ek nie dat enigiemand verontwaardig opstaan en uitloop nie. (Ek wonder wat sou in ‘n plek soos Oudtshoorn gebeur het?)

Anthea Garman met haar skrywe oor Antjie Krog lig die sluier op die Engelse pers waaraan sy toe verbonde was se “onwilligheid” om wye dekking te verskaf aan die WVK se werksaamhede, dat hulle liewer wou fokus op sake wat net in die Natalse afsetgebied en omgewing plaasgevind het. Sy het nooit werklik van Krog se werk as digter kennis geneem nie, en het van haar bewus geword eers toe Krog as deel van die SAUK-verslagspan die WVK oor die land gevolg het.

Hans Beukes, eertydse studenteaktivis, met sy Namibia’s long road to liberation en Gabrielle Lubowski, The death of Anton Lubowski, bied perspektiewe op ‘n land waarin hulle nie meer woon nie. Ongemaklike vrae word gestel, maar die antwoorde bly uit. Wie het werklik die sneller getrek? Die foto van Lubowski se bebloede lyk skok.

Later lees ek die slot van X-Ray Visagie: “Op 14 November 1989, presies sewe jaar na die dood van Daan Fourie in Burgersdorp, is X-Ray deur ‘n onbekende persoon voor sy huis in Brixton doodgeskiet. Die bure het ‘n wit man in ‘n wit Nissan Sentra van die toneel sien wegjaag. Niemand is ooit vir die moord gearresteer nie.”

Vernon Head, birdwatcher, waarsku teen die tyd van “a palm tree in the fynbos” – dat ons tekens in die natuur moet lees wat die veranderende landskap voortydig voorspel. Roerende gedigte uit The laughing dove and other poems volg waarin hy dit het teen die gejaagdheid, die opgaar. Die volgende dag praat hy oor sy ander boek, The search for the rarest bird in the world.

Ek het die heel eerste sessies van die fees met Susan Coetzer, Oros vir die siel, en Lindie Koorts, DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, ongelukkig misgeloop. Lien Botha, Wonderboom, was ook daar met ‘n uitstalling in een van die kunsgalerye.

Maar die fokus was nie net literêr nie. Daar was ook boeke rondom die kunste en kunstenaars, argitektuur, kerke, pragboeke oor passe en poorte, wilde perde van Kaapsehoop, keramiekwerke, en vele meer. Die veearts-skrywer Tod Collins het sy eerste roman bekendgestel. En daar was Jan van der Merwe, met Noord-Kaapse dorpe, met die herkoms van name, geskiedenisse wat nie aangeteken is nie, uitsetting en gulsige onteiening om besit van dit wat onder die grond was om te delf.

Francois Smith, skrywer van Kamphoer, het tweetalig grootgeword – nie Afrikaans en Engels nie, maar Afrikaans en Sotho.  

Chris Marais lees onder andere ‘n tragikomiese verhaal oor dagga en dinamiet en gekruiste lyne tydens ‘n beleg van die toentertydse Carlton Hotel – dit uit sy nuwe boek, The journey man.

Chanette Paul, met ‘n kursus in kreatiewe skryfwerk onder Etienne van Heerden en meer as 40 publikasie op haar kerfstok, kom praat oor haar nuutste, lywige boek, Offerlam (die eerste in ‘n tweeluik), met België en dié se geskiedenis met die Kongo ook daarin vervleg. Engelse en Nederlandse vertalings is in die pyplyn. ‘n Logistieke blaps laat haar boeke in Richmond (Natal) beland.  

richmond3

Richmond – foto deur Lien Botha

Die troebadoer en die treine

Ek sien toevallig ek deel ‘n geboortejaar en die steenkoolroet in die aar met Gert Vlok Nel. Vrydagaand tree hy op – intieme klein venue. Breyten is daar en Gert erken sy teenwoordigheid. Hy neem almal op reis na daardie leegtes tussen woorde wat net hy so beautiful kan verwoord, gaan draai by sy besoeke aan Nederland, vertel hoe hy die Playboy van Julie 1976 met Kris Kristofferson en Sarah Miles eers vyf jaar gelede (in Amsterdam) onder oë kon kry. Gert roep hees en sielvol na al die Kose, doen Kristofferson se “The last thing to go” en laat ons gaan … die nag in.

Ek kyk op na die donker hemel en hoop om iewers daar ‘n tent te kan sien.

Dames en Here,  vergun my om u voor te stel aan Breyten Breytenbach*

Vir die laaste sessie Vrydagmiddag, en weer op Saterdagoggend, is die biblioteeksaal stampvol. Dominique Botha is in gesprek met Breyten Breytenbach.

En was dit die moeite werd! Breyten lees en antwoord en formuleer, deel sy insigte oor kultuur, oor literatuur, oor bestaan, oor ouderdom en skryf – alles gebore uit ‘n kyk so wyd en omvattend. Ek hou op aantekeninge maak en luister net. Die graf vir die onbekende digter in Rotterdam, sy vlymskerp Moermikland, en meer.

Darryl David noem hoedat Afrikaans “boring” was totdat hy met die werk van Breytenbach kennis gemaak het na dié se besoek aan ‘n destydse swart universiteit.

Later teken Breyten my 12 bundels (ek het hom die vorige aand by Gert Vlok Nel se konsert gevra of hy dit sou doen), ons neem ‘n foto saam met Darryl.  

Wat ‘n woordvirtuoos, wat ‘n gentleman, wat ‘n mensch.

richmond2

Richmond – foto deur Lien Botha

Beseringstyd, voor die eindfluitjie blaas

In die kortverhaalskrywer Henk Wybenga se bundel Kortsluitings kom die verhaal “Haak Vrystaat” voor. Die verhaal gaan oor ‘n rugbywedstryd wat op televisie onderbreek word deur die minister van polisie.

Ek kyk die eerste keer sedert my aankoms hier televisie in die kroeg van ‘n eetplek wat “tussen eienaars is”. ‘n Lekker gemoedelike klomp daar – ‘n Duitse dame wat erken sy weet nie veel van rugby nie, ‘n Nederlandse vriendin van haar, ‘n bekroonde Afrikaanse skrywer, twee kroegmanne uit die township, albei met Springboktruie, maar die een ondersteun die All Blacks, ‘n paartjie uit Boksburg, en die meisie met die sangstem herinner my aan die karakter John in Billy Joel se “Piano man”: "Well, I'm sure that I could be a movie star/ If I could get out of this place."

Gelukkig is die uitsending nie deur die Minister van Polisie onderbreek nie.

Die fees sukkel met befondsing vanaf provinsialeregeringskringe en miskien was vanjaar die laaste.

Sou dit gebeur, wens ek ek kon iewers op Richmond ‘n telbord oprig met die volgende inskripsie:

              BookBedonnerdfees 20

              Departement Kuns en Kultuur (Noord-Kaap) 0.

 

___________________________________

* Uit die gedig “bedreiging van die siekes”

 


BookBedonnerdfees 2015

Fotoblad deur Darryl David

Darryl David
Boeke en skrywers

Fotoblad deur Chanette Paul

Chanette Paul
Boeke en skrywers


 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Clinton
    Dankie vir my “kuier” in Richmond en my geselskap met skrywers, digters en fotograwe ... My ore suis van te veel te vinnig probeer inkry. Die boodskapper munt uit in sy verslaggewing en ek deel in sieninge oor diegene soos Breyten, Gert Vlok Nel en dink Lien Botha is talentvol op talle vlakke. Die “skindernuus” oor ’n gebeurtenis tussen nêrens en niks bring nuwe lewe in mens se binneste ...
    Talent is so welig soos blommetyd in Namakwaland en ek hoop net nie Richmond se blom gaan dood omdat die “reën” dalk gaan wegbly nie. Soos Coenie sing “... ruik jy katbos en kambro as dit reën in die Klein-Karoo ...” kry Richmond nuwe betekenis in ’n tyd waar plattelandse dorpies kwyn in die skadu van ons stede se flitsende liggies en reuke van rook en sweet.
    Sou die groot droogte dalk kom is die grootste verloorder ’n "mense nich" waar woord, klank en beeld deur elektroniese ordonnanse literêre boodskappe (in "Breaking News" geskenk-formaat) aan ’n vuisvoos kubermens bring. Ek vrees nie die toekoms nie; dinge sal wees soos dit moet wees en die boekefees sal soos die hartklop van die mens aanhou tik totdat hy oud, afgeleef of terminaal siek word en homself om die lewe bring …
    Dankie vir die mooi rapport (cum Laude) wat jy vir ons “huis” toe bring Clinton. Dit is suurstof vir ’n soms bedompige gemoed. Die hoop beskaam nooit ...
    Voorspoed en vrede vir jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top