LitNet Akademies-resensie-essay: Wonderboom deur Lien Botha

  • 0

vosWonderboom en Vos

Dit is 'n literêre gewoonte om altyd by 'n eerste boek te verwys na die debuutroman. Dit het sin, maar ook skep dit die persepsie dat 'n debuutroman of debuutbundel in 'n bepaalde paradigma pas en as sodanig gelees moet word. Dit kan beteken dat daar sekere toegewings gemaak moet word om leë spasies te akkommodeer. In hierdie "debuutroman" is sodanige neerbuigendheid nie ter sake nie. Ek lees dit dus as 'n roman, schluss.

Die skrywer bring Anna M Louw se roman Vos in die teks in deur die collage op bl 10, wat daarna telkens voorkom. Aangesien Wonderboom 'n roman is van vele fasette en konstante relativering, kan die leser in Vos ook 'n meeloper vind vir Magriet Vos, die hoofkarakter in Wonderboom. Ook Hendrik Vos wandel tussen werklikheid en waansin soos Magriet, maar sy (hoofsaaklik interne) reis eindig met die volkome terugtrek in die dood, in 'n primordiale fetus, wanneer hy deur die natuur oorweldig word en verkluim. As kind op sy oupa se plaaswerf “het hy 'n boor waarmee hy dwarsdeur die aardbol boor. Hy klouter deur rotsriwwe en swem met lang onvermoeide hale deur wat gesmelte rots moet wees, tot daar weer rots is en hy opklim na 'n groot lig." Soos hy beweeg in hierdie land vol helder lig, "sien hy die oomblik van sy ontvangenis – 'n swerm klein vissies wat afstorm op die eier om te penetreer" (Vos bl 248).

Struktuur

Ook in Wonderboom beweeg Magriet Vos terug in haar herkoms tot by die begin, klim sy in 'n land wat besig is om te verval, en onderneem 'n reis, eerder 'n tog, om haarself en haar begin te verken. Sy reis deur verskeie wêrelde – in hierdie land, in ander lande, uiteindelik tot by die begin daar in Wonderboom. Die struktuur van haar omvattende reis suggereer outobiografiese elemente, gewoon biografiese elemente en 'n soektog na die bekende. Die pad is van Bettysbaai en Atlantis, deur die Karoo tot by Beaufort-Wes, daarna Kimberley en Bloemhof, en dan tot in Johannesburg en Pretoria tot by Wonderboom. By Hendrik Vos eindig die pad in die sneeu naby Calvinia, maar Hendrik glo “daar is 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe. En 'n tyd om weer gebore te word en weer te sterwe ...” (Vos bl 249). Vir Magriet hou alles op, “want die sandsteen in haar brein het elke herinnering opgesuig en verorber” (Vos bl 218). By Magriet word 'n proses van ontbinding voltooi.

Alhoewel Vos geensins as 'n parallel gelees kan word saam met Wonderboom nie, bied dit 'n besonder ryk leeservaring om albei hierdie hoogs oorspronklike romans in tandem te lees. Albei romans verteenwoordig 'n reis, eerder 'n soektog, na die self en die punt van begin wat in albei gevalle ook 'n eindpunt verteenwoordig. Magriet Vos en Hendrik Vos gee gestalte aan uiterstes, maar binne uiterstes lê die gemiddelde en die werklikheid. Hiermee bedoel ek geensins dat hierdie twee romans clichés word van die wet op gemiddeldes nie, ook nie dat hulle op 'n "middel-matige" vlak beweeg nie.

Wonderboom is 'n roman van verskuiwende vlakke. In 'n sekere sin lees hierdie roman soos 'n stel foto's. Soos die skrywer self opmerk in die notas agterin die boek, word die collages wat as inleiding tot elke hoofstuk dien, hier as ontbindende beeldsekwensie toegepas. Die verskuiwende vlakke bring mee dat die verhaal op verskillende maniere gelees en ervaar kan word. Aan die kern is egter steeds die proses van ontbinding – by die mens en by die land, dalk selfs ook wat die roman as medium betref. Die verhaal word telkemale as 't ware onderbreek met gedeeltes in kursief. Hierdie gedeeltes bring aanvullende inligting of kommentaar, maar op 'n ander vlak verstoor dit bewustelik die orde en roetine van die roman. Op hierdie manier raak dit ook die aard van die roman aan in sy goed-gekonstrueerde vertellingsmilieu. Aanvanklik het ek gevoel dat die roman hibridies word, maar tog is die onderbou en bindingsfaktore sterk genoeg om dit te kan dra.

Die verarmde Magriet, violis van beroep, woon in haar eertydse huis in Bettysbaai, nou verrinneweer en eintlik net 'n nes om in te woon. Sy het weinig kos en is verplig om selfs 'n spreeu te eet, of uitgespoelde robbe. Enigiets word opgeraap om te probeer oorleef. Uit die staanspoor is daar dus hierdie verskuiwende vlakke: die eertydse violis teenoor die verflenterde en honger vrou wat gereduseer word tot die absolute essensie van menswees. Die see is haar bad, die veld en die plante haar geselskap, die stilte totaal ongerep: geen hond wat blaf nie, geen kat wat iets vang nie, geen lig wat brand nie. Weer is die vlakke van die verhaal verskuiwend; nie net die persoon van Magriet nie, maar ook die verval van die land. Hierdie vertelstyl loop dwarsdeur die roman en maak dit moontlik dat 'n groot verskeidenheid van fasette ingebou word. Ook is dit belangrik dat hierdie styl vinnig kan verwissel van direkte werklikheid na die absurde of selfs die waansin. Die vertelling is egter so onderhoudend, die taal so fyn gemeet en gepas, en die sentrale karakter so 'n konstante fokuspunt dat die vertelling nooit verloop nie. Die verval, in alle opsigte, word gemotiveer en is deurgaans sigbaar. Om hierdie rede word die collages by elke hoofstuk ook "kaler", meer gestroop. Noukeurige waarneming gee ook vir die leser sleutels aan waarom die collage yler word.

wonderboom_se_boom

Wonderboom, Pretoria, 2013 (foto: Lien Botha)

Bome staan sentraal in die titels van elke hoofstuk. Wonderboom is die titel van die boek, die voor-begin, én die titel van die slothoofstuk, ongedefinieerde einde. Geografies verwys dit na 'n deel van Pretoria waar die outobiografie begin en eindig, maar dit verwys ook na die wonderboom, die wonder van die begin in mooi kleure, asook na die boom wat sy wonder verloor en al hoe meer sy littekens en verval wys. Die doeltreffende omslag vat dit alles koherent saam. Die titels van die hoofstukke is óf samestellings met die stam -boom en 'n toepaslike premorfeem, óf kwalifikasies by die stam, byvoorbeeld "Papierboom" wat verwys na die hond se naam, Pampier; of "Die klank van kersiebome”. Elke titel speel beduidend in op die inhoud van die betrokke hoofstuk. Aangesien die woord boom onder meer die simboliese betekenis inhou van lewe, sluit dit aan by die verhaal van die lewe van Magriet. Boom dui ook op die familiestamboom en op kennis (die boom van kennis in die paradys). Ook hierdie simboliese waardes vind neerslag in die roman. In outobiografiese konteks dui dit op familie, maar ook is die verhaal van Magriet Vos die soeke na selfkennis. In die algemeen is bome aanwysings na die kosmiese bestaan en verbind dit die drie wêrelde: die wortels is in die onderwêreld (oerbestaan en die onderbewuste), die stam in hierdie wêreld (aardse) en die takke en die blare in die hemel (boaardse of anderwêreldse). Die boom speel 'n bindende rol in die ontwikkeling en uitbou van die roman. In 'n sekere sin baken dit die ontwikkelingspatroon af en word dit 'n blad vir elke nuwe foto. Elke hoofstuk is 'n nuwe foto, in woord en in prent. Saam met die boom kan ook ander aardse en hemelse elemente afgelees word: plante, diere, sterre, see en die Karoo.

'n Groot verskeidenheid karakters (soms alter ego's en dan weer argetipes) speel saam in Magriet se reis. Haar primêre teenspeler is Albino X, wat "uit die bloedlose ewolusie van digitale DNA ... soos 'n silwer vis die regte stroom op presies die regte tyd geklief" het. Hierdie bleek man met nie genoeg pigment in sy vel nie, lenig en met ysblou oë, het die instinktiewe vermoë om mense vinnig en akkuraat op te som. Albino X is die volslae heerser oor die wêreld van kuns en kultuur, sonder insig daarin; ook heers hy oor die natuur en die mens. Albino X is 'n Etienne Leroux-agtige argetipe wat mense tot sy minderes reduseer. Terselfdertyd is Albino X die diktator, die meedoënlose magswellusteling wat deur almal gevrees word. Magriet ook is in sy mag, en vier keer per jaar moet sy optree as een van die musikante by sy groot onthale. Die musikante bly die hele tyd op die agtergrond, en is nietig voor die demoon van land en kultuur. Die leser kan ('n) Albino X opspoor in die verlede en die hede – oral was en is daar sulke figure of so 'n figuur – ook in die Suid-Afrikaanse verlede en hede.

Magriet moet op ander mense en op haar eie voete staatmaak om in die Kaap te kom by Vergelegen, nou die eiendom van Albino X. Ook speel sy vir partytjies by die ryk Heydenrichs, waar sy geld verdien en kos kry. Die Magriet-violis en die Magriet-verwesene loop hier oor mekaar. Sy wil wegkom van hierdie bestaan en koers kry na die Noorde, na Wonderboom. Sy moet ook van Albino X ontvlug, en vanaf Beaufort-Wes sal die hoefyster waarmee hy haar tot daar gevange hou, sy krag verloor en sal sy begin vry voel. Saam met 'n groep van vyf kunstenaars sal sy ry tot by Beaufort-Wes en dan met die hulp van ander verder tot by haar bestemming. Die rit verloop nie sonder tragedie nie, en sy maak verskeie ander karakters mee.

Die een karakter wat altyd by haar is, is Wim. Wim is verhaalmatig haar oorlede man, maar ook haar medereisiger in die domein van die verbeelding en veral herinnering. Wim word 'n stem van die rasionele enersyds, maar andersyds die stem wat haar verlede met haar huidige toestand korreleer. Wanneer sy haar bestemming (amper) bereik, verdwyn Wim en is sy slegs Magriet, skaars nog bewus van wie sy is. Wim is eintlik die enigste ander werklike karakter, maar ook hy is 'n skim. Alles staan in die teken en proses van verval.

Karoo

king_james_bibleWaar is die grense van die primordiale en waar die grense van waansin? Hulle het 'n sentrale beginpunt in die proses van skepping, ook in die diepste lae van die menslike gees. "In the beginning God created the heaven and the earth. And the earth was without form, and void; and darkness was upon the face of the deep. And the Spirit of God moved upon the face of the waters" (Genesis 1:1–2; Die Bybel, King's James Version.)

Dít is die primordiale. Dit is die oerchaos. Dit is die wanorde waaruit die orde geskep word. Hierdie wanorde is ook die waansin voordat sin (=orde) kan bestaan. Dit is die leegheid wat vorm moet kry. Oor hierdie leegheid en duisternis waai die wind van die Gees. "And God said: 'Let there be light.'"

Magriet se reis is in 'n kombi met die naam Kwagga, nie meer in sy fleur nie. Die passasiers is die musiekgroep Joe Bloom, wat bestaan uit Jimi Jacobs, die tamboerspeler wat hulle in Atlantis oplaai, die kitaartweeling Hendrik en Floris Vermaak, die sanger Louise Wildenboer, Senzi Tshezi, Hendrik se nooi, en Magriet. Die toneel in die kombi op pad na die Karoo herinner effens aan die kombi in Etienne Leroux se Onse Hymie wat ook sy einde in Beaufort-Wes teenkom. Die toneel in Kwagga is ewe surrealisties. So ver hulle vorder, sal die groep uitvoerings gee om sodoende brandstof te bekom. By 'n hoteleienaar op Hermon kry hulle klandestien brandstof te koop. Die hele rit met die groepie musikante verloop rustig "met hulle instrumente van verlore klanke, op pad na nêrens in hierdie papie". 'n Ontstellende toneeltjie volg as hulle deur die polisie voorgekeer word. Magriet is die verstekeling, maar wat in die slag bly, is Floris se papegaai. Uiteindelik is die volgende stilhouplek Ceres. Hier gaan hulle op die plaas van Mortimer Ehrenreich vir die kersiebome speel. "Die vertakte figure met hulle verwronge ledemate gaan teen skemer begin loskom uit die grond en dan gaan hulle dans op maat van ‘Mephistorium’. Die bestuurder van die plaas sê dat Ehrenreich eers die volgende dag sal aankom. Hy kom inderdaad aan in die helikopter van Albino X waar 'n bondel agtergelaat word: die lyk van Ehrenreich met sy mond toegeplak. Nou behoort die plaas volkome aan Albino X. Reeds hier in die buitewyke van die Ceres-Karoo kom die wêrelde van waansin en die primêre (primitiewe) bymekaar.

onse_hymieHulle kom aan by Sadawa, tussen Ceres en Sutherland. Hier kan hulle weer brandstof bekom en gaan hulle musiek maak. Toe die drie vroue gaan stap, lê onderkant hulle 'n see van soetdoringbome, die mees tipiese Karooboom, die Acacia karroo. Acacia is afgelei van die Griekse woord akis, wat onder meer "stekel" beteken. Hierdie dorings is feitlik primitief van aard, en kan lewensgevaarlik wees. Vir Magriet is Karoo 'n woord uit die grysheid. Met die aankoms by Sadawa gaan hulle steeds nader aan die primordiale wêreld van die Karoo: droog, halfwoestyn, bar, essensieel, fundamenteel en eg, tog ook onaards. Maar met 'n wonderlike panorama van vlakte en berg, van bossie en doringboom, 'n nag vol sterre. Volgens legendes vorm spoke 'n wisselende reliëf teen die silhoeët van vlakte en heuwel as dit aand word.

Hemingway, die resensent in wie Magriet 'n ewige hekel het, is die aand by die dans op Sadawa, en bring die angs terug vir Magriet. Hy is 'n walglike mens en simboliseer vir Magriet die domein van Albino X van wie sy moet wegkom. Sy onwelvoeglike gepraat walg haar. Floris is beskermend; hy is "diervel" en daarin wil sy klim en bly.

Op pad verder na hulle stilhouplek by Venus Sisters, 'n B&B op 'n Karooplaas, kom hulle 'n spektakel van gekleurde ballonne teë. Daardie aand besoek hulle die sterrewag: "Magriet kan haar oë nie oophou nie en gaan sit buite in die koue waar die sterre skuins voor middernag ál nader begin kantel. Gelukkig is die sterre veilig." Onder by die ingang na SALT luier die rooi Torino besluiteloos. Die eienaar is Hemingway. Uit hierdie sitaat word tegelyk die bekoring van die Karoo en die bedreiging van die mens deur die mens aangevoel. Magriet bly weerloos, en sy kom al nader aan primitiewe emosies.

Nader aan Beaufort-Wes ry hulle verby verwaarlooste geboue en plaasopstalle en geleidelik word dit donker. Weer sukkel hulle om die regte pad te kry. By 'n plaashuis waar 'n liggie brand, het hulle die rigting gekry en 'n waarskuwing: teen Karooslagters, hulle wat te veel gifwater gedrink het. Hulle is die Lemmers, hulle wat hulle menslike prooi se hart uitslag terwyl die slagoffer nog leef. Bloed is mos suiwerend. Die bussie breek en hulle staan vasgevang en hulpeloos op 'n eensame Karoopad tussen die klowe in Moltenopas. En dan volg 'n intens primordiale toneel. Die Lemmers beweeg geluidloos, en word eers sigbaar wanneer hulle vlak by jou is. Die toneel wat hier beskryf word, is ru, volkome primitief. Dit gaan terug tot in die diepste ervaring van oerwreedheid, van fundamentele geweld. Dit word 'n ritueel uit die oudste denkbare primitiwiteit. Die leweloses is Hendrik, Senzi en Jimi. Die ander word gered deur karretjiemense, daardie Karoowesens wat leef op hulle donkiekarretjie, en die hond wat saamdraf – 'n lewende legende uit eie reg. Die leier van die familie, Mensink, se sweep was genoeg om die bloeddorstige Lemmers te verdryf. Die karretjiemense kan die drie lewendes saamneem, maar nie die lyke nie en ook nie die musiekinstrumente nie.

Hierdie toneel, wat terugwys op die verre verlede van die Karoo, bring die waansin van Magriet se reis en die belewenis van die primordiale tot 'n sintese. In 'n hoë mate is dit die draaipunt van die reis. Magriet het met hierdie ervaring die diepste punt van haar eie onderbewuste primitiwiteit bereik. Sy het afgedaal tot die absolute fundamentaliteit in haar psige. Sy het die wese van geweld leer ken, die donker magte van chaos. Nou is sy bevry van Albino X, en kan haar reis van die Bloedboom (titel van die hoofstuk) vorder na die Apteekboom (titel van die volgende hoofstuk). Saam met Mensink bereik hulle Beaufort-Wes en Louise kan haar familie kontak. Reinier Wildenboer, Louise se oom, bring die rasionele terug. Hy is 'n geordende boer, en sy vrou, Sahaar, van Indiese afkoms, neem alles in haar hande.

Hier, op die wydsheid van die Karoo, maak Magriet kennis met Fleur en oom Silwer, en met Fleur se dosyn windhonde. Hier, soos ook op etlike ander plekke in hierdie roman, beweeg die skrywer baie na aan die werklikheid. Fleur en oom Silwer ken die veld, hulle weet van plante en die wonderwerke wat plante teweegbring. Hierdie Karooplante is die apteekboom van die hoofstuk se titel. Hierdie twee mense bring geleidelik genesing en kalmte vir Magriet. Haar enigste konkrete vrees is Hemingway, die aaklige resensent. Maar hier, tussen die helende plante, bossies en klippe van die Karoo, vind sy 'n ruspunt. Net soos die primordiale wêreld volkome geweld gebring het, so bring dit ook rus. Magriet is nou op haar eie, want Louise en Floris keer terug Kaap toe.

wonderboom460

Kartering

Reinier Wildenboer neem haar na Britstown, waar hy 'n landbouskou bywoon en vee verkoop. Die doel van die reis, om terug te keer tot Magriet se wortels, kom nader. By die skou word sy voorgestel aan 'n boer, Saai Naudé, wat haar sal saamneem tot in Kimberley. Maar ook hier is die resensent teenwoordig soos hy haar volg, en bied haar 'n geleentheid aan. Sy ry egter verder saam met Naudé. Sy word afgelaai by die McGregor-museum, waar sy weer kontakte kan aantref. Alles is toe, behalwe dat die Torino indraai by die museum se werf. Magriet stap heel gerus na die motor, en skielik merk sy dat Hemingway haar inwag. Hy nooi haar om saam met hom na die flaminke te gaan kyk. Hulle ry tot by die Kamfersdam. Hemingway kry haar buite die motor en terwyl sy noodgedwonge oor sy geslag streel, kry sy een van die soetdorings wat sy uit die Karoo saamgebring het, los waar Fleur hulle vir haar vasgesteek het, en sy steek die wit punt loodreg deur sy nek en slagaar. Nou vind Magriet haar eie primitiwiteit en ritueel van bloed. Magriet ry met die Torino na Warrenton.

Die Jansens na wie sy gaan soek, woon nie meer daar nie. Hulle is nou op Bloemhof, waar hulle die gastehuis Nessum Dorma besit. Die ironie van die naam is nie mis te kyk nie. Dit is reeds aand en sy parkeer by die kerk op Warrenton. Op pad na Bloemhof toe die volgende oggend raak die brandstof op, maar sy kry 'n geleentheid in 'n wit lykswa met 'n swart bestuurder. Magriet kom aan by die Jansens se huis. Die dogter van die huis kom tussen die bome uit "met haar androgene onvergeetlikheid". Die weersiens is gul, Magriet oornag in luuksheid, en kry 'n geleentheid Johannesburg toe met Hildagonda se vriend, Jens Aveling. Magriet word nou al hoe meer bewus van haar familie, en haar lewensbesonderhede oor haar ma en pa se dood kom in duidelike perspektief. "Magriet kom al nader aan haar ontstaan en die geografie is saam met haar op haar siel gekarteer." Sy ry per bus en taxi verder tot in Flowerstraat in Pretoria, haar vioolrugsakkie by haar. Sy staan op die sypaadjie; sy het onteenseglik alles vergeet. Wonderboom is, soos wat ‘n voël vlieg, sewe kilometer weg.

Magriet bereik haar bestemming, maar soos met Hendrik Vos in Vos, is dit geen werklike einde nie.

Die roman handel oor verval, oor die soeke na wortels, en oor ontnugtering. Dit bevat heerlike waansinnigheid, maar is goed gestruktureer en vertel 'n tegelyk ontstellende, weemoedige verhaal, asook 'n brutale verhaal van die primordiale en chaos in die menslike psige. Maar die wrede humor en die aardsheid van die vertelling is deurgaans 'n reddingsboei vir skrywer en leser. In die geheel 'n merkwaardige toevoeging tot ons opbloeiende romanliteratuur in Afrikaans.

Lees ook 'n onderhoud met Lien Botha.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top