Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Langtafel vol kunstelike feestelikheid

  • 0

Nina Swart was die seremoniemeester vir die aand.

Die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees is soos gebruiklik met die Langtafel in Ryneveldstraat onder die akkerboomlaning afgeskop. Met historiese geboue soos Erfurthuis en die US Museum aan weerskante van die watervoortjies, was die soel lenteaand ’n behoorlike viering van die kunste in al sy vorms.

Vanjaar se tema is “Dis hoog tyd” en verskeie mense het gedurende die aand in hul toesprake daarna verwys.

Saartjie Botha, Direkteur: Toyota Stellenbosch Woordfees

Saartjie Botha, Direkteur: Toyota Stellenbosch Woordfees, se woorde: “Hoe smag ons nie almal na meer tyd nie! Ná dae wat uit meer as 24 uur bestaan, weke wat nie soos ’n oogwink voel nie, maande wat nie verbysnel nie, ná jare teen ’n gemaklike pas. Ons droom oor wat ons sal doen met die dae, die weke, die maande. Tyd om te doen, te leer, te lewe, te ervaar – vry van roetine.

“Tyd, daardie skaars kommoditeit. Daar is tyd, altyd te min. En dan is daar hoog tyd. Wanneer die tyd ryp is en geen verdere uitstel meer moontlik is nie. Die beste tyd vir iets om te gebeur. Só ’n hoog tyd is die Toyota Stellenbosch Woordfees van 3 tot 11 Oktober. Dis ’n geleentheid om in die kunste te belê, maar veral in jouself.

“Sorg dus dat jy hier is. En bly langer as wat jy beplan het. Talm by kunsuitstallings, bly vir die toegif-gesprekke, sit in die stilte ná ’n kragtige vertoning. Daardie stilte is nie leeg nie; dit is ’n kosbare plek waar gedeelde ervaring saamkom en nuwe groei ontkiem.”

Danie Fölscher

Danie Fölscher, voorsitter van die Woordfees-adviesraad (direksie), het in sy verwelkoming gesê dis wonderlik om te sien hoe die fees die afgelope paar jaar gegroei het en was bly om te kan berig dat “dit goed gaan met die Woordfees”.

Pippa en Mike Ratcliffe

Mike Ratcliffe, stigtersvoorsitter van Visit Stellenbosch en voorsitter van Stellenbosch Wynroetes, het gesê hy heet almal by die Langtafel welkom in “ons pragtige dorpie, namens elke wynmaker van Stellenbosch Wynroetes se bykans 150 lede.

“Stellenbosch is ’n wyndorp, maar dis ook ’n dorp van stories, taal, musiek, mense en kuns.

“Stellenbosch Wynroetes is ’n silwer borg én produkborg van die fees. Al die wynplase-lede het hul wyne vir die aand se feestelikheid geskenk. Geniet dit en kuier lekker!”

Tamryn Kumm staan by die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch Jeremy Fasser en sy vrou Merciamy

Die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch Jeremy Fasser het in sy toespraak gesê dat wat in 2000 as woordkunsprogram ontstaan het, het nou gegroei na een groot verhoog. “Dis meer as ’n fees; dis ’n plek waar nuwe idees ontstaan, waar stories gedeel word en mense mekaar leer vind.”

Irene en Leon Theron

Leon Theron, Toyota se senior vise-president van verkope en bemarking, het gesê dis Toyota se sewende jaar saam met die Woordfees en hy glo dis ’n vennootskap wat net langer kan groei.

Sjef Mynhardt Joubert en Tanya Blokdyk

Meer as 500 gaste het onder die liggies uit die bome om tafels gekuier, wat gekreun het onder die heerlike Mediterreense kos van sjef Mynhardt Joubert. Mynhardt het vertel dis hoog tyd vir somer en dat hy nie kon glo hoe borge hul harte en spense vir die kunste geopen het nie. Daar is soveel kos vir die Langtafel geskenk.

Hy het almal genoop om sy vrugtekoeke as Kersgeskenke te koop. Hy bak die afgelope paar jaar honderde vrugtekoeke, waarvan die opbrengs na ’n verdienstelike liefdadigheidsorganisasie gaan.

Dean Balie het saam met lede van die US-blaasorkes, onder leiding van Ramon Alexander, uittreksels uit Prima! gelewer, ’n musikale ontploffing oor die een en enigste koning van swing – Louis Prima. Die vertoning bring hulde aan Prima se Siciliaanse en Italiaanse erfenis. Dean het in sy kort toespraak gesê dis hoog tyd dat hulle deel van die Toyota Musiekfees is!

Strauss & Co het ’n prettige veiling waargeneem. Saartjie het haar parkeerplek geskenk vir die veiling en konsertkaartjies en ’n kunswerk van die feeskunstenaar Daniel Naudé is ook opgeveil. Al die geld gaan vir die ontwikkeling van die kunste.

Daar is tot laataand om die tafels gekuier, na musiek geluister en net soos Saartjie tereg gesê het: Dit was ’n kosbare plek waar gedeelde ervaring saamgekom het.

  • Foto’s: Clifford Roberts Canon R6
Lees ook:

Boekevat met Deborah: EasyEquities Skrywersfees 2026

Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: ’n Baie kort Woord(fees)-oorsig

Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: ’n onderhoud met Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck oor Eerste vir alles

Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Ons is nog hier, ’n sielkundige toutrek tussen lig en donker

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top